Vir God se verloste volk kan elke dag 'n fees wees

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Deuteronómium 14
Preek Inhoud: 

PREEK OOR DEUTERONOMIUM 14: 21B-23

LITURGIE:
Ps. 65: 3, 4, 6, 9
Gebed
L. Deut. 16: 9-17 & Nehemia 8: 9-19
Prediking
Ps. 4: 4
Geloofsbelydenis
Ps. 36: 2
Gebed
Kollekte
SB.17: 1, 5, 6

Broeders en susters,

Die padwysers en straatnaamborde wat ons orals in ons land het, is wonderlike hulpmiddels. Daarsonder sou ons geweldig sukkel om ons pad te vind.

Maar wee jou as iemand 'n padwyser so gedraai het dat dit heeltemal die verkeerde kant toe wys. Jy raak vir seker aan die dwaal.

Ons Bybel het ook padwysers. Byvoorbeeld die indeling in hoofstukke en verse. Die oorspronklike skrywers het so'n indeling nie gemaak nie. Hulle het maar net hul boek, of brief geskrywe. Later is daardie indeling aangebring sodat ons maklik ons pad deur die Skrif kan vind en vir mekaar 'n gedeelte kan wys.

Ons vertaling het boonop telkens opskrifte bo die verskillende gedeeltes, sodat ons nog makliker kan oriënteer.

Maar ook by hierdie padwysers kan dit gebeur dat die bord so gedraai is, dat dit na die verkeerde kant toe wys.

Dis ook die geval in ons teksverse.

In ons versindeling is die bepaling dat die Israeliete nie 'n bokkie mog kook in sy moeder se melk nie, as vers 21 B aangeplak aan die gedeelte wat handel oor die eet van slegs reine diere. En met vs. 22 begin dan 'n nuwe gedeelte wat bepalings gee m. b. t. die tiendes. Ons Bybelvertalers het selfs deur 'n nuwe opskrif bo vs. 22 die skeiding tussen vs. 21B en die vervolg nog groter gemaak.

Blykbaar het hulle geen enkel verband gesien tussen daardie snaakse wet oor die kook van 'n bokkie in die melk van sy moeder en die vervolg nie.

Maar daardie snaakse wet staan nie net hier in die Bybel nie, gemeente. Ons lees dit nog twee maal, in die boek Exodus. En daar word dit direk aan die oesfees vasgeknoop. Ons lees albei die kere: "Die beste van die eerstelinge van jou grond moet jy in die huis van die HERE jou God bring. Jy mag die bokkie nie kook in sy moeder se melk nie".

Die eienaardige gebod moet dus wel op die een of ander manier iets met die viering van die fees van die eerstelinge te make hê. En daaroor gaan dit juis in vs. 23 en volgende.

Dis blykbaar ook 'n belángrike bepaling, want die HERE het dit noodsaaklik geag om dit maar liefs drie maal sy volk in te skerp.

Ek wil vanaand met u na daardie wetsbepaling luister. Ek mag u God se Woord soos volg saamgevat verkondig

VIR GOD SE VERLOSTE VOLK KAN ELKE DAG 'N FEES WEES

WANT ONS MAG LEWE

  1. SONDER VREES VIR DIE MAG VAN DIE DOOD
  2. IN DIE VREES VIR DIE GOD VAN DIE LEWE

1. In ons teks klink 'n oproep om fees te vier. Elke jaar moes Israel in die oestyd voor die aangesig van die HERE verskyn om daar fees te vier.

Dit word nie met soveel woorde genoem nie, maar ons sal hier aan die Loofhutte- fees moet dink. Die derde groot fees in Israel wat in die herfs gevier is. Ons mag die afleiding maak gesien dit wat ons in Deut. 16 gelees het: "Die Huttefees moet jy sewe dae lank hou as jy van jou dorsvloer en jou wynpers insameling hou. " Die Huttefees word op 'n ander plek in die Skrif ook wel "die fees van die insameling" genoem.

Hierdie fees was allereers 'n herinnering aan God se goeie sorge vir sy volk na die bevryding uit die land Egipte, veertig jare in die woestyn. Een week lank het die Israeliete weer in hutte gewoon wat hulle van takke van loofbome opgebou het. Sulke hutte was vreeslik armoedig in vergelyking met die mooi plaashuise wat hulle inmiddels in Kanaän mog bewoon. Maar dit was 'n herinnering vir die latere geslagte dat God se volk eendag werklik in so'n armoedige situasie geleef het, in die tyd na die verlossing uit Egipte. Veertig jaar lank, gedurende die reis deur die woestyn, moes hulle in tente en eenvoudige hutte woon.

Maar in daardie simpele hutte mog 'n ryklik gevulde tafel staan met allerhande heerlike kos en drinke. En dít was vir die nageslag 'n herinnering daaraan dat die HERE sy volk in daardie jare in die woestyn rêrig nie van honger en dors laat verkommer het nie. Inteendeel, selfs in die woestyn was daar daagliks volop kos, al moes dit ook uit die hemel sneeu, en daar was altyd drinke, al moes God dit ook uit die steenrots tevoorskyn roep.

Ja, dis dié dat die HERE in die land Kanaän die Huttefees met die insameling van die oes verbind het. Die woestyntyd was maar net 'n oorgangstyd. Die reisdoel was die beloofde land van melk en heuning. Die verlossing uit Egipte het inmiddels 'n wonderlike vervolg gekry. Jaar na jaar mag God se volk nou geniet van die oorvloed van die land Kanaän.

Telkens as ons in die Skrif van die Huttefees lees, val dit dan ook op dat juis by hierdie fees die volk opgeroep word om vrolik te wees. God se kinders kan elke jaar weer aan die einde van die oestyd regtig vrolik wees en uitbundig fees vier. Want jaar vir jaar is daar die oorvloedige blyke van God se goeie sorg vir sy volk. Israel moet dit maar voor die oog van die heidevolkere demonstreer: God se volk vier fees by die oes omdat hulle 'n goeie God het wat die lewe uit die greep van die dood verlos het en nou daagliks die lewe tot 'n fees maak.

Maar wat het die eienaardige verbod van vs. 21b hiermee uit te waai? !

"Jy mag die bokkie nie kook in sy moeder se melk nie".

Die feit dat die vertalers hierdie vers van die bepalings m. b. t. die Loofhuttefees losgemaak het, bewys wel dat hulle nie mooi geweet het watter bedoeling hierdie bepaling het nie. Hulle het dit as 'n min of meer los aanhangsel by die voorskrifte m. b. t. die rein en onreine diere beskou.

As ons die verskillende verklarings lees, is daar party uitleggers wat meen dat die HERE hier slegs 'n teen-natuurlike gewoonte afkeur. Dit sou indruis teen die natuur om 'n bokkie in die melk van sy eie moeder te kook. So'n ding moet God se kinders teen die bors stuit.

Calvyn het in 'n ander rigting gegaan en gedink dat hier bedoel is dat jy 'n bokkie nie mag slag solank dit nog by sy moeder drink nie.

Die latere Joodse uitleg het baie ver gegaan, want hulle het uit hierdie wetsbepaling die afleiding gemaak dat die HERE verbied om terselfdertyd vleis en melk te gebruik. Tussen die eet van vleis en die gebruik van 'n melkproduk sou minstens 'n paar uur moet verloop.

Gelukkig het opgrawings in die Midde-Ooste ons inmiddels verder gehelp om hierdie duistere teks te verstaan. Daar is naamlik ontdek dat die Kanaäniete hoogswaarskynlik by húl oesfees 'n vrugbaarheidsritueel toegepas het, waarby hulle 'n bokkie in die melk van sy eie moeder gekook het. Ons kan ons maar moeilik meer verplaas in hul heidense gedagtegang, maar dit was vir hulle 'n tipe van godsdienstige kunsmis. Die bedoeling daarvan was ongeveer soos volg: melk bevat lewenskrag, groeikrag. Wanneer jy nou ook nog 'n klein bokkie wat nog melk by sy moeder drink, in daardie melk doen en dit saam kook, verdubbel jy daarmee die lewenskrag. En as sulke melk vervolgens orals op jou akkers, op jou vrugtebome en wingerdstokke gesprinkel word, gee jy daarmee weer nuwe lewenskrag daaraan om ook vir die volgende jaar jouself van 'n goeie opbrings te verseker.

Voel u, broeders en susters, hoedat hierdie eienaardige heidense ritueel deur angs en onsekerheid gekenmerk is? So leef mense sonder God. As die een oes ingesamel is, is hulle alweer bekommerd oor die volgende een. Hoe word dit die volgende jaar? ! Sal die land dan voldoende oplewer? Sal daar genoeg reën val? Sal daar geen siektes kom wat die gewasse aantas nie? Sal die sprinkane en ander gogga's die gewasse nie wegvreet nie?

Want heidene voel aanhoudend die mag van die dood rondom hulle, gemeente! Juis die herfstyd as daar so veel afsterf, was vir die Kanaäniete 'n sigbare blyk van die mag van die dood. En hulle was bang daarvoor. Hulle moes hulself daarteen beskerm. Hulle moes maatreëls daarteen tref. Hulle moes probeer om op die een of ander manier die mag van die dood te deurbreek en te oorwin.

Maar so'n vrees vir die dood mag daar by God se volk nie wees nie. So mag God se kinders nie in die oestyd al dadelik weer krampagtig met die volgende oes besiggaan nie. In Kanaän sou Israel daardie snaakse heidense gewoonte orals raakloop, maar hulle moes hulself ver hou van sulke bygelowige praktyke.

Hulle is mos deur die HERE uit die mag van die dood uitgehaal!

Ons het in eerdere preke alreeds gesien dat hierdie hele hoofstuk God se volk wil leer om te lewe vanuit die oorwinning op die dood. Die verse 1 en 2: Israel mag bepaalde heidense rougebruike nie oorneem nie, want God se kinders mag die bedroef wees soos die heidene wat geen hoop het nie. Die verse 3 en volgende: God se kinders mag geen dier eet wat op die een of ander manier iets met die dood te make het nie. Want hulle moet selfs aan tafel getuig van hul geloof in die lewe. Want hulle glo in die Gód van die lewe!

Van dié geloof moet hulle ook getuig so dikwels hulle hul oes ingesamel het. Hulle vier die fees van die oes anderste as die Kanaäniete. Dié is al dadelik na die oes vol onsekerheid en probeer om deur middel van 'n magiese ritueel alreeds vir die komende jaar die mag van die dood te oorwin. Dié kook bokkies in die melk van sy eie moeder en sprinkel dit vervolgens oor hul landerye.

Die Kanaäniete is bang vir die dood.

Israel glo in die lewe, omdat hulle leef in 'n verbond met die God wat aan almal lewe, asem en alles gee. Ja, wat die lewe uit die dood teruggewin het. Hul Verbondsgod gee ruimskoots sy seën oor die akker en die vrugteboord, oor die groentetuin en die wingerd, oor die werk van hoof en hande. Hy het dit belowe en ook klaar bewys.

So mag ons lewe, broeders en susters. Vandag nog. Vandag nog des te meer noudat ons na Pase mag lewe. Sonder vrees en onrus.

Ons kyk nie aanhoudend bekommerd vorentoe nie: wat van volgende jaar?

Ons kyk eerste dankbaar boontoe: wat het ons Vader ook hierdie keer weer beskamend goed vir ons gesorg! Ons wat niks verdien het nie, het weer volop van Hom ontvang.

Talle mense wat sonder God leef of wat die HERE nie meer in die middelpunt van hul lewe plaas nie, leef aanhoudend in onrus en kommer. Hulle reken en tel, maak planne en prognoses, maar hulle voel daar bly kragte wat hulle nooit onder beheer kry nie.

U weet van hierdie onrus, broeders en susters. U weet waaroor die mense onder mekaar gesels, waaroor die koerante en blaaie telkens maar weer skryf, waaraan die radio en televisie voortdurend aandag gee. Die rampsalige droogte in party gedeeltes van ons land, die groot probleme wat ons boere ondervind, die ekonomiese neergang waardeur die pryse aanhoudend styg.......

Die onrus kan ook ons in sy greep kry. Ook ons kan so kortsigtig raak dat ons ons vaskyk teen die skynbaar uitsiglose situasie vandag in Suid-Afrika.

Maar juis óns moet in al die verwarring en duisternis by die lig van God se Verbondswoord bly lewe.

Ons weet dat hierdie wêreld vir God se volk nie meer 'n land wat oorloop van melk en heuning is nie, maar dat God ook honger, armoede, oorloë, rampe en so meer oor die aarde sal stuur.

Christus self het daaroor gepraat en dit vir sy dissipels genoem: "Julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. En daar sal hongersnode wees..... ".

Ons weet dit ook uit die boek Openbaring.

Maar ons weet ook by dit alles: ons troue hemelse Vader laat in dit alles vir sy kinders alles ten goede meewerk. Niks sal ons kan skei van die liefde van God in Jesus Christus nie.

Die spanning gaan nie aan ons verby nie, broeders en susters. Ek weet. Ek weet ook dat dit 'n groot geloof vra om eenvoudig op God se beloftes te bly vertrou. Maar dit is die enigste sekerheid wat rus in die lewe bring. Ons het hierdie een groot sekerheid, dat God ons in Jesus Christus vir die lewe vrygekoop het en ons dag vir dag versorg met alles wat ons vir liggaam en siel benodig.

Ons mag daarom nie saamdoen in die groot koor van klaers nie. As ons aan ons bekommernis en onrus wil uiting gee, moet dit wees omdat al hoe minder mense nog die HERE God wil erken en dank en dien. En ons sal dit aan die ander mense, wat so onrustig is, moet voorhou dat hulle nooit die werklike rus sal vind nie so lang hulle dit nie alleen by die HERE en sy verbond soek nie. Ons kan vir hulle maar laat weet hulle sal nooit die regtige vrede en voorspoed vind so lank hulle vertrou op aardse maghebbers en hulleself uitlewer aan menslike raadgewers nie.

Ons mag selfs wel vir hulle sê dat onrus, spanning, stryd en narigheid in hierdie wêreld geen wonder is nie, omdat God die HERE daarin vir ons almal telkens weer laat voel hoe magteloos ons in onsself feitlik maar is, sodat ons al hoe meer gaan verlang na die voorspoed en vrede wat van bo kom. Slegs God kan vir ons lewe gee, danksy die oorwinning van sy Seun op die dood. Slegs die wat met Hom saamgaan het toekoms. Want hulle is op pad na die ewige lewe in die beloofde hemelse Kanaän.

2. Kom ons kyk nog na die vervolg van ons teks. Want nadat in vs. 21B geleer is hoedat God se kinders nié die oestyd mag belewe nie: nie in vrees vir die mag van die dood nie, leer die volgende verse hoedat dit wél moet: naamlik in die vrees vir die God van die lewe.

En dit beteken konkreet: hulle moet 'n uitbundige fees daarvan maak, waarin hulle geniet van die oorvloed wat God geskenk het.

Tien persent van die totale opbrings van die land moes die Israeliete apart sit (en dan het die HERE nie net aan die koring gedink nie, maar ook aan die oes van die wingerd en die vrugteboord), om daarvan 'n fees te hou by God se heiligdom.

Ons weet uit ander wetsvoorskrifte, dat die 10% van die oes vir die Leviete bestem was, wat geen eie grondbesit in Israel gehad het nie. Maar ons teks maak dus duidelik dat die HERE wou voorkom dat sy volk sou meen hulle moet iets van húl besittings aan die HERE en sy priesters afstaan. In der waarheid gee ons niks van onsself aan die HERE nie, maar die HERE gee alles aan sy volk. En om dit duidelik te maak, het die HERE Israel opgeroep vir 'n fees waar hulle allereers sélf uitbundig van sy goeie gawes mog geniet. Hulle mag 'n week lank eet en drink in oorvloed. Sommer 10% van die hele opbrings mag hulle daarvoor gebruik. En eers nadat hulle gate uit geniet het, word dit wat oorbly (en dit is nog altyd baie!) aan die Leviete gegee.

En daardie 10% moes rojaal bereken word. Hulle mog nie beknibbel nie. Want die HERE wou hê dat hulle van daardie 10% 'n feesmaal sou hou in hul loofhutte voor sy aangesig.

Na hul geswoeg om die oes binne te haal, mog hulle die huisdeur agter hulle toetrek en in die pad val na God se huis toe om daar, by die heiligdom hule hutte te bou en dankbaar te geniet van alles wat die HERE in sy liefde dié jaar weer gegee het. Nie suinig doen nie, nie net 'n klein bietjie afsonder vir hierdie fees nie, maar sommer 10% van die hele opbrings en daarby ook die eerstelinge van die vee saamneem na die heiligdom toe met die oog op die fees.

En die armes, die vreemdelinge, die weduwees en die wese wat nie meer hul eie grondbesit, en dus ook nie 'n oes gehad het nie, moes vrygewig in die fees betrek word.

Alhoewel die tafels in die loofhutte oorvloedig vol mog staan en die wyn ryklik mog vloei, mog die fees darem nie 'n ordinêre brasparty word nie.

Ons teks praat mos van 'n maaltyd "voor die aangesig van die HERE, daar waar Hy sy Naam laat woon het". Die HERE self was die Gasheer by hierdie fees. Hy was die Vader wat sy kinders na 'n jaar van harde werk op 'n feesmaal wou trakteer. Hulle moes tydens die hele feesweek bewus bly daarvan. Maar voor die aangesig van die HERE hoef daar nie net gebid en Bybelgelees te word nie. Voor God se aangesig mag daar ook vrolik feesgevier word. Die HERE self geniet dit as sy kinders met dit wat Hy vir hulle gegee het, by Hom terugkom om by sy heiligdom saam te vier hoe goed die lewe in die verbond met Hom is.

Hierdie fees van die tiendes was dus presies die teenoorgestelde van die heidense vrugbaarheidsritueel met daardie bokmelk, gemeente. Pleks van om al dadelik weer bekommerd te wees oor die volgende oes, moes God se volk dankbaar geniet van die oes wat nou ingesamel is. Nie dadelik weer bekommerd vooruitkyk nie, maar dankbaar terugkyk en dan omhoogkyk.

Want dit was natuurlik 'n hele ding om sommer in een week 10% van jou inkomste deur te bring in 'n uitbundige fees en die res aan die Leviete weg te gee. Dis mos nie verstandig nie! Wie weet hoe jy net-nou daardie 10% nog nodig gaan kry! Tien persent in een week se tyd weg! Is dit nie roekelose verkwisting nie?

Maar hulle moes op hierdie uitbundige fees leer om die HERE hul God altyd te vrees, soos ons teks sê. Hulle moes leer besef dat ons toekoms nie afhanklik is van voldoende kos en drinke, van geld en klere nie, maar van God se genadige verbondstrou. God se kinders moet leer om te leef in kinderlike vertroue dat hul lewe van dag tot dag deur die HERE gedra sal word en dat Hy wel sal voorsien alles wat ons benodig. Een fees elke jaar wil vir hulle leer om van elke dag 'n feesdag te maak.

So'n fees van 'n hele week ken ons vandag nie meer nie, broeders en susters. Maar so'n houding verwag ons hemelse Vader vandag steeds van ons. 'n Houding van vrolike dankbaarheid vir sy goeie sorge en die durf om vrymoedig van sy gawes te geniet. Vir ons kan die lewe elke dag 'n fees wees.

Kinders van die HERE mag nie so krampagtig suinig wees dat hulle hulself of hul kinders nooit 'n partytjie of 'n presentjie gun nie. God se kinders mag nie so met die sorge vir môre besig wees dat hulle van vandag se gawes feitlik nie kan geniet nie. Kinders van die HERE mag inteendeel rojaal van die lewe geniet.

En die HERE géé vandag nog volop om te geniet! Ek het gepraat van die spanning wat ook ons partymaal bekruip. Maar u sien tog ook die ander kant: ons kan nog daagliks genoeg eet en drink, reëlmatige ons partytjies hou, vakansiereise maak... Daar is volop redes vir 'n feestlike dankbaarheid, elke dag opnuut.

God se kinders moet ook rojaal die armeres sáám laat geniet. En nie bang wees om 'n rojale bydrae te gee vir die instandhouding van die erediens en alles wat daarmee saamhang (: skool, sending, evangelisasie, barmhartigheidswerk) nie.

Ons gee daarmee regtig niks van onssélf weg nie. Ons gee maar net iets weg van dit wat ons van ons hemelse Vader gekry het. Vol vertroue dat ons daarvan beslis nie armer sal word nie.

Ek weet, broeders en susters, so'n gulle onbekrompe houding is nie altyd maklik nie. Veral nie as jy in 'n finansiële situasie is waarin jy genoodsaak is om elke dubbeltjie om te keer. Ek weet hoedat 'n ma kan pieker weens al die onvoorsiene uitgawes terwyl dit tog al so moeilik is om jou gesin ordentelik van kos en klere te voorsien. Ek weet hoe 'n huishouding kan swaarkry as pa sy werk verloor of as sy besigheid bankrot speel. Maar ook dan, ja juís dan roep die HERE ons nog steeds op tot so'n vrolike ruimhartige lewenswyse. Juis dan moet daar die rustige vertroue wees dat God ook nou sal sorg.

Maar dit kan u alleen as u weet dat u nie self van die lewe 'n fees hoef te máák nie. Ons glo mos dat die lewe deur Jesus Christus klaar 'n fees gewórd het.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)