Die verlossende God verbied sy volk om onreine vleis te eet

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Deuteronómium 14
Preek Inhoud: 

Ps 92: 1, 2
Ps 92: 3, 4
S.B. 14: 1, 2
Ps 40: 1, 2, 8
S.B. 2: 1, 2, 3
S.B. 2: 4, 5
Lees: Deut. 14: 1 - 21a & Hand. 11: 1 - 18
Teks: Deut. 14: 3, 21a

Broeders en susters,

Onlangs op 'n huisbesoek toe vra ek 'n broeder hoe dit op sy werk gaan. Hy antwoord toe, hy voel 'as happy as 'n pig in Palestine'.

Alhoewel ek daardie uitdrukking nie geken het nie, het ek onmiddellik verstaan wat die broeder daarmee bedoel het. Jou te voel soos 'n vark in Palestina, dit is om jou op jou plek te voel. Jy voel veilig.

Immers, 'n vark in Palestina, 'n vark in Israel loop geen gevaar om by 'n slagtery gedood te word nie. Hy is n. l. 'n religieus onreine dier wat in Israel nie geeet mag word nie. Dus as vark is jy nêrens so veilig as in Israel nie. Niemand stel belang in jou tjops nie.

Ongetwyfeld gaan die gebruik dat 'n Jood nie varkvleis eet nie, terug op die verbod van Deut. 14, waar die vark ingedeel word by die onreine diere waar die Israeliete nie mag eet nie.

Ons sal verstaan dat so 'n gebod 'n sterk beslag op die daaglikse lewe gelê het. Nou is dit so lank as Israel 'n min of meer geslote kultuur is nie so 'n probleem nie. As niemand varkvleis eet nie, sal daar waarskynlik ook skaars varke as huisdiere aangehou word. Op die ou end kom daar waarskynlik glad nie meer varke in Palestina voor nie, hoe happy hulle daar dalk ook sou gevoel het.

Maar so gou die kultuur meer oopraak en Jode met buitelanders in aanraking kom, des te meer val so 'n godsdienstige gebruik op.

Dan is vir die Jode steeds 'n aparte menu nodig.

Dink b. v. aan Daniel en sy drie vriende wat geweier het om van die koninklike tafel mee te eet. Hulle het toe verkies om slegs groente te eet en water te drink. Hoe diep die verskil tussen rein en onrein vleis by die Jode ervaar is, kan ook blyk uit die voortdurende probleme rond kos en drank by die eerste christelike gemeentes.

Daar ontstaan b. v. 'n groot konflik tussen Paulus en Petrus omdat Petrus hom daartoe laat verlei het om terwille van die gevoelens van die Jode te weier om saam met christene afkomstig uit ander volke aan een tafel te sit en eet. En dit terwyl die Here juis vir Petrus d. m. v. 'n visioen so duidelik gemaak het, dat die verskil tussen rein en onrein opgehef is.

Dus as ons vir vanoggend as teks Deut. 14 gekies het dan het ons al 'n hele paar vrae om te vra: Hoekom het die Here tussen die diere wat almal sy skepsels is so 'n verskil gemaak? En veral ook: Wat het hierdie spyswette te make met die koms van Christus sodat in die Nuwe Testament die verskil tussen rein en onrein opgehef kan word.

DIE VERLOSSENDE GOD VERBIED SY VOLK OM ONREINE VLEIS TE EET.

Ons sien

  1. hoe Hy 'n Ou-testamentiese verwagting gewerk het
  2. hoe Hy 'n Nuwe-testamentiese vervulling gebring het

Vanuit die eerste verse van Deut 14 waarin die Here sekere rougebruike verbied het het wel duidelik geword dat die Here nie sommer 'n aantal willekeurige gebooie vir sy volk gee nie.

As Hy iets verbied dan het Hy daarvoor altyd 'n goeie rede. Op een of ander wyse het al die gebooie iets te doen met die lewenstyl van 'n deur God verloste volk. Hul verlossing deur die Here moet sigbaar gemaak word in al die verskillende fasette van die lewe.

Dus ons kan maar aanvaar dat dit ook die agtergrond is van die verskillende gebooie van Deut 14.

Ons teks is: Jy mag niks eet wat 'n gruwel is nie. Hierdie algemene verbod word dan nader uitgewerk in die volgende verse. 'n Hele opsomming. 'n Dieretuin vol.

Nou sê vir ons die woord 'gruwel' nie so baie nie. Dit beteken iets afskuweliks, iets waarvan jy gril, iets weersinwekkends. Maar die probleem is: so 'n gruwel is nogal subjektief bepaal. Wat vir die een 'n gruwel is, is vir die ander iets heerliks.

Ek vir my het nooit in 'n varktjop iets gruweliks kon vind nie. En 'n hasebout wek definitief my weersien nie op nie.

En tog behoort sowel die vark sowel as die haas tot die diergroep waarvan gesê word dat die eet daarvan 'n gruwel is.

Dus as ons die lys van diere, waarvan die eet as 'n gruwel beskou word deurlees, dan is die rede van die verbod vir ons nie onmiddellik duidelik nie. En tog, as ons iets van hierdie wette wil verstaan, sal ons moet probeer om die motief op te spoor, hoekom die een dier as rein en die ander as onrein gekwalifiseer kan word.

Heel wat bybelverklaarders het daaroor nagedink. By mekaar kan ons wel kies uit so 'n 15 oplossings. Ek sal hulle nie almal opnoem nie, maar van 'n paar wil ons tog kennis neem:

  1. Daar is mense wat meen: Hierdie onrein verklaarde diere is deur die volk in verband gebring met demone. Bepaalde diere soos uile of ander roofvoels kan so naargeestige geluide voortbring dat dit vir ons spookagtig, grieselrig klink. Dat demone 'n voorkeur vir varke het, blyk ook uit die feit dat die legioen demone wat deur die Here Jesus verjaag word uit die besetene van Gadara hul intrek neem in 'n kudde swyne. Wel, van sodanige diere moet die volk van God wegbly.
  2. Jy kry ook mense wat 'n higieniese maatreel sien in die verbooie. Dan is dit 'n maatreel van volksgesondheid. Dis ongesond om van sekere diere te eet.
  3. Weer ander wil dit in verband bring met beskerming van sekere diersoorte. As alle mense roofvoels jag sterf hulle vinnig uit.
  4. Nog ander meen dat al die genoemde onrein diere 'n rol speel in heidense offerdienste. Dit sou hulle ongeskik maak vir konsumpsie deur Israel.
  5. 'n Laaste een: Daar is beweer dat deur so 'n lys van verbode voedsel die volk Israel bewustelik van hul omgewing geisoleer word. 'n Soort gedagte van: in die isolement lê ons krag. Juis deur anders te eet as almal, kan hulle met ander mense nie sosiaal vermeng nie en bly hulle 'n aparte volk.

Hoewel al die genoemde motiewe iets aannemeliks het, kan ons tog ook wel weer sekere besware opnoem. En daarom bevredig hulle vir ons nie. Veral eintlik omdat aan al die motiewe ontbreek die element wat ons vir al die wette van God in die O.T. as sentraal beskou n. l. die verlossingsmotief.

Daarmee bedoel ons dit: Bo al die gebooie en verordenings van God staan daar geskryf: Ek is die Here jul God, wat julle uit Egipte verlos het. En daarom moet julle by die verlossing bly deur die gebooie op te volg.

God gee sy wet altyd ter bewaring van die evangelie. Daardie motivering lees ons ook in vs. 21: want jy is 'n heilige volk aan die Here jou God.

Dit beteken die Here het vir hulle saamgeneem op 'n besondere weg. Op God se weg, die weg na die lewe. Dit is mos die kern van die evangelie van God. Hy gee lewe vir 'n volk wat anders in die dood sou bly.

Daarom begin Deut. 14 ook met die bepalings oor die rougebruike. Israel is die volk van die lewende God. Ja, hulle is die volk van die lewe omdat hulle eiendom is van die God van die lewe.

Na my oordeel moet ons in die gedeelte van Deut. 14 wat spreek oor rein en onrein diere in dieselfde rigting dink.

God is die God van die lewe en Israel is die volk van die lewe. En dit is wat hulle ook in hul ete en drinke moet wys.

Dit is baie duidelik by die onrein voels. Dit is almal roofvoels: voels wat dood en verderf saai. Of dit is aasvoels, voels wat hulle voed met dooie diere. Al daardie voels het 'n regstreekse verbinding met die dood. En daarom kan hulle nie geeet word nie.

Met betrekking tot die visse: rein is visse met vinne en skubbe. Maar 'n skublose vis soos 'n paling mag jy nie eet nie, want 'n paling voed hom verkieslik met kadawers. Ook insekte wat hulle verkieslik rond mishope en diere in ontbinding ophou, plekke van bederf en ontbinding is onrein.

Dieselfde geld vir die viervoeters: Eetbaar is die herkouers, die vreedsame graseters. Maar onrein is: roofdiere en viervoeters met ongesplitste kloue. Met ongesplitste kloue kan jy dodelike klappe uitdeel. Op daardie punt is dus kloue van soogdiere vergelykbaar met kloue van roofvoels. Dodelike instrumente.

Ook die vark wat blykens sy gesplitste kloue 'n vreedsame dier is, is tog onrein, want 'n vark skraap sy voedsel bymekaar deur wroetende en snuiwende in die vuiligheid sy kos by mekaar te maak. As ons alles in rekening bring kan ons sê dat ons die verdeling tussen rein en onrein veral daar raaksien waar verbinding is met die lewe en die dood.

Die volk van Israel moet wegbly van alle voedsel wat op watter wyse ook al in verbinding staan met die dood en die ryk van die dood, waarby ons dan moet dink aan bederf en ontbinding.

Alles wat jy daarvan sou eet is 'n gruwel.

Dit alles word nog bevestig deur vs. 21: Julle mag geen aas eet nie. Aas is vleis van 'n dooie dier. 'n Dier wat deur 'n verskeurende dier gegryp is of wat op een of ander wyse sommer dood is.

Dan gaan dit dus oor die aas van 'n rein dier. Dus die dood wat nie deur 'n opsetlike slagting veroorsaak is maak die vleis van 'n rein dier onrein. Die aas van 'n onrein dier mag jy selfs nie aanraak nie.

Maar die aas, die vleis van 'n rein dier kan jy weggee, b. v. aan 'n vreemdeling. As die vleis tenminste nog eetbaar is. 'n Vreemdeling is iemand van buitelandse afkoms maar wat as 'n behoeftige, 'n arme temidde van die Israeliete gewoon het. So 'n arme moet jy altyd help.

'n Uitlander is iemand wat nie in Israel woon nie. Dit is mense wat b. v. as koopmanne op deurreis in Kanaan is. Hulle kan wel betaal vir 'n goeie stuk vleis. Verkoop dit vir hulle sê die Here.

Maar Israel mag dit nie eet nie! Hoekom nie: Omdat hulle 'n heilige volk aan die Here is. Hulle het van die dood oorgegaan na die lewe! En daardie evangelie wil die Here sigbaar maak in hul lewe.

En so, broeders en susters, is die Here hier in Deut. 14 besig om die evangelie van die Christus wat kom af te skadu. Deut. 14 is adventsvoorbereiding! Ons noem die woord afskadu. U weet wat 'n skaduwee is. Dit gee 'n sekere beeld van iets. As jy jou hand voor 'n flits hou en jy skyn op die muur dan sien jy 'n skaduwee daar. Dan sien jy 'n vae beeld van die werklikheid. Maar nie te presies nie.

Wel so is hier die wet 'n skaduwee, 'n voorafskaduwing van die werk wat God in Jesus Christus sal doen.

Vir Israel was so 'n seremonie nodig. Kyk, die Here het al 'n begin gemaak met sy volk deur hulle uit Egipte uit te lei, maar die eintlike uitleiding, die totale verlossing lê nog vorentoe.

Die dood as die laaste vyand van die lewe van God se volk moet nog teniet gedoen word, deur die Seun van God. Deur Jesus Christus wat in die vlees sou kom om as mens te sterwe aan 'n kruis.

Dit was vir Israel nog 'n ver toekoms. Maar tog wil die Here daarvan reeds iets wys om by hulle die verlange lewend te hou na die voltooiing van die uitleiding. Hy wil hulle leer om die dood nie as 'n vanselfsprekendheid in die lewe te aanvaar nie, maar as 'n vyand, 'n Godvyandige vyand te beskou.

En daarom wil God die verwagting van die koms van die Oorwinnaar van die dood in die hart van die volk te lê. Hy soek op aarde 'n volk wat 'n lewende verwagting koester van 'n nuwe aarde. 'n Nuwe wêreld wat nie meer gebonde is in die mag van sonde en dood nie.

God wil nie 'n volkwat slegs leef in die hier en nou van hierdie wêreld nie, maar 'n oop hart het vir dit wat nog sal kom. Hulle moet besef dat die beloofde land Kanaan op sy beurt weer die voorsmaak is van 'n nog groter belofte.

Ons kan dit ook so sê: God wil dat daar reeds iets van die Paaslig sal val oor die volk waarmee Hy die begin van die verlossing gemaak het. En daarmee sluit ons teks nou aan by die eerste verse van Deut. 14. Ook daardie wette is reeds bedoel om 'n afskaduwing te wees van die ware Paasfees. Maar daar is 'n verskil.

In vs 1 en 2 het dit daarom gegaan om die Paasgeloof lewendig te hou by 'n sterfgeval. God se volk mag nie treur asof daar geen hoop is nie. Hier gaan dit om dieselfde Paasgeloof in die daaglikse lewe. Ofwel: God se volk mag nie eet soos hulle wat geen hoop in hierdie wêreld het nie.

Ons daaglikse brood kan ons nie van die graf verlos nie.

Maar tog mag ons eet en ons sterflike liggame onderhou in die verwagting dat eenmaal die dood teniet gedoen sal word.

En so val vanuit hierdie gebod oor die vleiskomsumpsie in Israel, die lig van die nuwe lewe oor ons daaglikse lewensonderhoud. En daarmee het God van die daaglikse lewensonderhoud 'n teken gemaak, 'n teken van die Lewensonderhoud met 'n groot letter. Vir die volk van God is daar lewe, ewig lewe by die lewende God.

2. HOE GOD 'N N.T. VERVULLING GEBRING HET

In Hand. 11 het ons gelees hoe doe apostel Petrus aan die broeders in Jerusalem die gesig beskryf wat hy gesien het. Vir ons teks van vandag is dit nogal belangrik want die Here leer vir Petrus in hierdie visioen baie duidelik dat die spyswette verouder is. Vir hom wat in Jesus Christus glo mag daar geen onderskeid in rein en onrein diere meer wees nie.

Immers Jesus Christus het gekom. Die skaduwee moet daarmee plek maak vir die werklikheid en die skaduwette is daarmee verouder. Verouder en verjaar dus is hulle toe aan verdwyning.

Dit is vergelykbaar met 'n boutekening van 'n huis. So 'n tekening is interessant so lank as wat die huis nog nie daar is nie. Iemand wat beplan om 'n huis te gaan bou wys vir sy vriende en bekendes die tekening. Kyk so sal alles lyk.

Maar so gou die huis klaar is, stel niemand meer belang in die tekening nie. Dan gaan jy die huis self bekyk.

En dit beteken dat ons noudat Christus gekom het en op die Paasdag die dood oorwin het, die boutekening nie meer nodig het nie. Deur Sy opstanding het die plan van God in sy volle glorie tot werklikheid gekom.

As ons nou wil weet wat God vir sy volk gedoen het en wat Hy nog sal doen, dan moet ons op Christus let. Met Hom staan ons op uit die dood. Met Hom is daar ook vir ons 'n opstanding van die liggaam.

Maar met hierdie verouderd-verklaring van die O.T. spyswette is die betekenis van Hand. 11 nog nie heeltemaal uitgeput nie. Want hoekom ontvang Petrus hierdie visioen? Wel, hy kry dit omdat God wil, hy moet na die heiden Cornelius gaan en daar met hom eet.

Die visioen van Petrus is n. l. 'n sentrale oomblik in die boek Handelinge. Dit het alles te make met die voortgang van die evangelie onder die heidene. Immers die muur wat tot nou skeiding gemaak het tussen die volk van God en die heidene is nou opgehef.

Daardie muur wat God self rondom sy volk opgetrek het. Immers Hy het Israel onder meer deur hierdie spyswette afgesonder van die volke. Want hulle was 'n volk heilig aan die Here. Hulle was die volk wat deel ontvang het aan die lewe met God.

Maar nou word die muur afgebreek. God self forseer die afbraak van die muur deur die visioen van Petrus. Die lewe wat God self eers alleen binnekant die muur gegee het, mag nou na buite uitgedeel word.

En dit is wat die broeders in Jerusalem na Petrus se verhaal goed verstaan het. Lees maar Hand. 11: 18: En toe hulle dit hoor het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot lewe geskenk.

Let op: eers word gesê: hulle het geswyg, dit beteken hulle aanvanklike proteste het hulle teruggeneem. Want dit was vir 'n Jood maar moeilik verteerbaar om op wet van gelykheid met mense van ander volke en rasse om te gaan. Seker om met hulle saam te eet.

Maar as hulle die openbaring van die Here verstaan het, dan oorwin hul geloof hul menslike gevoel daarteen. Dan moet hulle swyg, maar nie vir lank nie want dan maak hulle hul mond oop om God te verheerlik.

So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.

Verstaan u: die lewe is nou ook bestem vir die heidene.

Eers het God sy genade uitsluitlik aan Israel bewys. Dit was slegs vir hulle wat Hy uit Egipte verlos het. En daarom het die spyswette slegs vir hulle gegeld. Alleen vir hulle is d. m. v. hierdie wette die evangelie van die lewe betuig en verseel.

Maar as Christus kom, dan mag die heil uitgaan tot alle volke. Voor die koms van Christus was daar maar een volk vir wie die lewe bestem is. Die heidene het in die dood bly lê.

Maar noudat Christus verheerlik is, nou word ook die heidene geeroep tot die lewe in Hom. Die koms van Christus beteken nie dat daar nou glad nie meer 'n wet of reel geld nie. Die roeping om te lewe as 'n volk heilig aan die Here lê nog steeds daar.

Ook vir vandag kan 'n mens maar rustig stel dat daar nog baie sake 'n gruwel vir die Here is, dit is n. l. orals waar mense met die boodsakp van die verlossing geen erns maak nie.

Daar word deur talle mense gelewe asof daar geen God is nie en geen gebod geld nie, asof daar nie 'n Christus was wat sy lewe vir ons sondes gegee het nie. Kortom die hele skynwêreld soos dit vir ons voorgetower word in flieks en swak T.V.-programme.

Pas daarvoor op gemeente dat julle nie daardie skynwêreld met die egte lewe deurmekaar haal nie. Want dan verwissel jy die waarheid vir die leuen.

Gemeente, lewe tog veral uit die rykdom wat julle as volk van God ontvang het. By Hom ontvang ons lewe en vryheid.

En daarom moet ons van daaruit nee leer sê teen alles wat daardie lewe en daardie vryheid bedreig. Tenslotte is die lewe buite God maar 'n armsalige, ongelukkige lewe.

En so praat ons teks, wat 'n aaneenskakeling is van wette en gebooie, juis daardeur van die rykdom van die Verbond.

Die rykdom van die volk wat besef dat hulle kinders is van die God van die lewe.

En daardie rykdom het onder die Nuwe Verbond maar net groter geword. Dus het die kloof tussen die gelowiges en ongelowiges nog dieper geword. Want dit is die kloof wat die dood skei van die lewe. Die lewe wat daar is in Jesus Christus ons Saligmaker.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)