Deur die toepassing van die sewende gebod laat die HERE sy seën rus op huwelike, gesinne, kerk en samelewing

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2017-03-05
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 41
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 4 Maart 2017 AD, 17:30

Votum

Seën

Sb 26:1,7,8

Gebed

Skriflesing:
Esra 10

Ps 101:1,5,6

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 41

Preek

Ps 127:1-4

Gebed

Geloofsbelydenis
(sing)

Kollekte

Ps 128:1-4

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 41

 Ons lewe in ‘n tyd waarin egskeiding vir die
samelewing ‘n aanvaarbare norm geword het. ‘n Tyd waarin uitgaan ongemerk kan
oorgaan in saamwoon. ‘n Tyd waarin by die huweliksdag veral gedink word aan ‘n
duur en stylvolle fees, meer as aan die feit dat dit ‘n verbondsluiting is
tussen twee mense voor God se aangesig. ‘n Tyd waarin seksuele perversiteit
orals op ons afkom, in allerlei vorme aan ons opgedring word.

‘n Tyd
waarin ook die kerk begin te wankel, as dit gaan oor trou aan hierdie gebod. Die
hoeveelheid egskeidings bly net toeneem. En ook die trend om daarna weer te
trou, desnoods met ‘n ander geskeide persoon. Seksuele verslawings,
pornografiese verslawings het binnegedring tot in Gereformeerde huisgesinne,
tot onder ampsdraers toe. Die geloofwaardigheid van die kerk staan op die spel.
En nie minder die voortbestaan van die kerk nie.

Gemeente,
met die 7de gebod beskerm ons goeie God nie net die huwelik nie, nie net die
verhouding tussen een man en een vrou nie. Hy beskerm ook die kinders. Hy
beskerm ook die kerk.

Ja Hy beskerm
met hierdie gebod die hele samelewing.

Tema: Deur die toepassing van die sewende
gebod laat die HERE sy seën rus op huwelike, gesinne, kerk en samelewing

Die sewende
gebod, en alle verwante gebooie in die HERE se wet, gee een duidelike boodskap.
In voor- en teëspoed moet ons die huwelik hoog hou, totdat die dood ons skei. Dit
is die breë lyn dwars deur die Bybel. Ons vind dit baie duidelik in Maleagi 2:14-16.
Die HERE is getuie tussen jou en die vrou van jou jeug aan wie jy ontrou geword
het, terwyl sy tog jou metgesel is en die vrou van jou verbond, wees nie ontrou
aan die vrou van jou jeug nie. Want Ek haat egskeiding, sê die HERE.

Hierdie is
die uitgangspunt van die 7de gebod: bly trou. Selfs die ontrou van iemand
anders mag jou trou nie ophef nie. Ons goeie God soek die welsyn van man en
vrou, van kinders, van die kerk, en die samelewing.

Die welsyn
van al hierdie is slegs gewaarborg as huwelike heel bly. Selfs as daar owerspel
gepleeg is, gee die Skrif nie ‘n outomatiese instruksie tot egskeiding nie. Maar
dat die sondaar homself bekeer en die band weer herstel word. Dit is makliker
gesê as gedaan. Daarom dat ons Heiland, wat weet dat die huweliksband deur
owerspel verbreek is, en in hierdie aardse gebrokenheid, soms onherstelbaar
verbreek is, daarom dat Hy die moontlikheid gee tot ontbinding van die huwelik
by owerspel.

Mattheüs
19:9: “Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery,
en ‘n ander een trou, pleeg egbreuk”. Hierdie is ‘n uitsondering, dis nie die
reël nie. Dit was nie God se primêre bedoeling nie.

In hierdie
verband kan die gedeelte wat ons uit die Bybel gelees het, dalk vreemd klink. As
die breë lyn in die Bybel is dat die huwelik onverbreekbaar is, hoekom het Esra
dan tientalle huwelike laat ontbind?

Ons het
gelees dat dit oor gemengde huwelike gegaan het. Joodse manne het heidense
meisies as vrou gevat. Die Joodse gemeenskap wat teruggekeer het uit
ballingskap, is van alle kante bedreig. Nie net fisies nie, maar ook deur die
heidense leefgewoontes van die mense wat rondom hulle gewoon het. Moontlik was
dit ook so dat in die pioniersgemeenskap daar te min vroue was, en dat dit die
mans aangemoedig het om vir hulle ongelowige vroue te vat. Hulle het nou
eenmaal iemand gesoek wat vir hulle kos kon maak. Verder het die vat van ‘n
heidense vrou nog meer voordele gehad. In die onseker omstandighede vir die
teruggekeerde Jode het dit vir ‘n sosiale vangnet gesorg. Met die neem van ‘n
heidense vrou, het hulle naamlik ook ‘n band gesluit met die heidense familie. In
geval van nood, ongeluk of siekte was daar dus meer mense wat jou kon help.

Die ander
kant van die muntstuk was egter dat die vrou haar eie gode bly vereer het. Dat
sy die heidense gewoontes wat behoort het by die gemeenskap waaruit sy gekom
het, saamgevat het die huwelik in. Op hierdie wyse het daar dus al hoe meer ‘n
geperforeerde grens begin ontstaan tussen God se volk en die heidene. Die grens
was nie meer duidelik nie, maar grys. En toe Esra uit Babel aankom, het hierdie
gewoonte al sodanig deurgedring, dat die bestaan van God se volk en die
suiwerheid van die godsdiens wesenlik op die spel gestaan het. Ons vind in Esra
10 ‘n lys name oor wie dit gegaan het. Daar was meer as 100 persone betrokke,
ongeveer 110. Hierdie mense het uit alle lae van die klein Joodse gemeenskap
gekom, die groep wat teruggekeer het uit die ballingskap.

83 manne uit
die volk, 3 poortwagters, 1 sanger, 6 Leviete en 17 priesters.

Daar was dus
ook by wat selfs voorgangers was – die priesters en Leviete.

Hulle wat
juis die taak gehad het om die volk in God se wet te onderrig.

Heelwat van
hulle het dus ook ‘n huwelik met ‘n heidense vrou gesluit.

Terwyl God
se wet juis hoë eise gestel het vir hulle huwelike. Dink byvoorbeeld aan
Levitikus 21.

‘n Priester
mog nie eers met ‘n weduwee trou nie, laat staan met ‘n heiden.

Nie minder
as 17 priesters word in Esra 10 egter by name genoem.

Nou kan die
gedagte dalk by u opkom dat Esra ‘n geweldige fundamentalis was, ‘n godsdienstige
fanatikus. Tog was dit allermins die geval. Lees ‘n bietjie hoofstuk 9 vanaand,
dan sal u agterkom dat hy dit beslis nie was nie.

Hy was ‘n
ootmoedige mens. Hy het homself solidêr gedra.

Esra
9:10-12, daar sluit hy homself in, as hy vir die HERE sê: “wat sal ons nou na
hierdie dinge sê, onse God? Want ons het u gebooie verlaat wat U deur u knegte,
die profete, beveel het deur te sê: Die land waar julle inkom om dit in besit
te neem, is ‘n onrein land vanweë die onreinheid van die volke van die lande,
deur hulle gruwels waarmee hulle dit van die een end tot die ander vervul het
in hulle onreinheid. Gee dan nou julle dogters nie aan hulle seuns en neem
hulle dogters nie vir julle seuns nie”.

Esra verwys
hier terug na Deuteronomium 7:3-4: “Jy mag jou ook nie met hulle verswaer nie –
jy mag jou dogter nie gee aan sy seun, en sy dogter nie neem vir jou seun nie;
want hy sal jou seun van My afvallig maak, sodat hulle ander gode dien en die
toorn van die HERE teen julle ontvlam en Hy jou gou verdelg.”

Met Esra se
aankoms uit Babel het hy dus hierdie situasie aangetref.

Onthou, Esra
was onderdeel van die tweede terugkeer uit ballingskap.

Die eerste
groep het al dekades vroeër teruggekeer. Maar Esra het homself dus solidêr
opgestel. Saam het hulle hulle voor die HERE verootmoedig. Na sy aankoms uit
Babel het hy die eerste drie maande die stand van sake eers goed op homself
laat inwerk.  Die stand van sake was
inderdaad skokkend.

Esra was
verbysterd en beskaamd. En toe Esra vervolgens oorgaan tot tugmaatreëls, was
dit nie ‘n indiwiduele aksie van hom nie. Tug is nie iets van een persoon nie,
maar van die gemeente. So het Esra die ordelike weg bewandel, al het daar ‘n
erge noodsituasie bestaan.

Ons het
gelees dat daar ‘n kommissie van ondersoek ingestel is.

Hulle het na
drie maande verslag uitgebring. Die bevindinge was inderdaad baie somber. Die
kwaad het deurgedring selfs tot in die hoëpriesterlike familie.

Vervolgens
sien ons hoe die tugmaatreëls in werking gestel is. Alle tuggevalle is nie op
een hoop gegooi nie. Elke geval is afsonderlik ondersoek. En die uitkoms was
dat in ongeveer 110 gevalle daar tot die slotsom gekom is dat die mans hulle
van hulle heidense vroue moes afskei.

Nou lyk
hierdie tugmaatreël vir ons dalk in stryd met die breë lyn in die Bybel. Naamlik
dat huwelikstrou altyd beter is.

Leer die
Skrif nie juis dat egskeiding in alle omstandighede verbode is nie?

Tog kan ons
geneig wees, gemeente, om op hierdie punt ‘n dinkfout te maak, en daarom dat
Esra se tugmaatreël vir ons so vreemd voorkom.

Die Skrif
leer ons ook dat die huwelik nie net iets is wat ‘n man en ‘n vrou onder mekaar
kan sluit nie. Die huwelik is iets wat God instel. En God maak gebruik van
aardse owerhede, aardse gesagstrukture, om die huwelik in te stel. By owerhede
moet ons dan nie net dink aan wat ons vandag ken as die regering, die hof en
binnelandse sake nie. Ons kan ook dink aan die familiehoofde, wat in die
Bybelse tyd ‘n belangrike rol gespeel het met die voltrekking van ‘n huwelik. Aardse
gesagsdraers het die bevoegdheid ontvang om ‘n huwelik te bind en te ontbind. Wanneer
‘n huwelik gesluit word, dan vra die persoon wat die bevoegdheid namens die
owerheid het om ‘n huwelik te sluit, nie net aan die bruidspaar maar ook aan
alle aanwesiges of daar enige wettige verhindering is om die huwelik te sluit.

Mog dit die
geval wees dat byvoorbeeld een van die twee alreeds getroud is, maar dit geheim
gehou het, dan kan die huweliksluiting nie voortgaan nie. Mog die
huweliksluiting wel deurgaan, omdat niemand daarvan bewus is nie, en dit kom
eers later uit, dan sit die owerheid met ‘n probleem.

Dan sou mens
moet konkludeer dat die gesagsdraer sy huiswerk nie gedoen het, naamlik om
vantevore na te gaan of geen van beide reeds getroud was nie. Indien dit wel
die geval blyk te gewees het, sou dit beteken dat die nuwe huwelik weer
ongeldig verklaar moet word.

Nou wat dit
betref lê daar ‘n raakvlak met Esra 10.

Want Esra,
met sy aankoms by die Joodse gemeenskap in Juda en Jerusalem, het ‘n situasie
aangetref van ‘n owerheid wat nie gedoen het wat hulle veronderstel was om te
doen nie. Dit wat die Here duidelik in sy wette opgedra het ten aansien van die
huwelik, is nie nagekom nie. En noudat Esra uit Babel aankom en hierdie skewe
situasie aantref, sien hy homself voor God verplig om sake op orde te stel. Want
God se wet het uitdruklik verbied om nie ‘n huwelik met ‘n heiden aan te gaan
nie.

Het dit
beteken dat heidene nie welkom was in God se volk nie? Allermins, hulle was
welkom, en daar is ook baie voorbeelde.  Dink
aan’n vrou soos Rut. Sy het as vrou van Moabitiese afkoms desondanks ‘n ereplek
gekry in God se volk! Maar die vroue waaroor dit in Esra 10 gaan, was uit ander
hout gesny as Rut. Hulle wou nie van hulle afgode afstand doen nie. Hulle het
nie bely: u God is my God en u volk is my volk, nie. En dit was die probleem. Daardie
huwelike mog nie gesluit gewees het nie. Dit was ‘n klad op die gesagsdraers se
naam, wat of die Here se wet nie goed geken het nie, of hulle nie daaraan
gesteur het nie. Hierdie situasie was ook lewensgevaarlik vir God se uitverkore
volk, juis op hierdie stadium. Die brose begin na die terugkeer uit die
ballingskap.

Dus staan
hierdie hoofstuk, gemeente, nie op gespanne voet met die breë lyn in die Skrif
wat betref die 7de gebod nie. Hierdie hoofstuk onderstreep juis hierdie gebod. Wie
wil trou, moet besef dat dit oor ‘n lewenslange band gaan. Daarvoor moet daar
‘n baie stewige fondament wees, om ‘n lewenslange band te kan waarborg. Dit is
die gesagsdraers se taak om daarop toe te sien, dat die fondament aanwesig is,
voordat die huwelik gesluit word. En as die fondament nie aanwesig is nie, as
man en vrou nie een is in geloof nie, dat het die gesagsdraers die bevoegdheid,
selfs die plig, om die huweliksluiting nie toe te staan nie.

Vandag, in
‘n gesekulariseerde samelewing, ervaar ons op hierdie punt geen steun van die
owerheid nie. Die burgerlike owerheid ondermyn selfs die fondament van ‘n
gesonde huwelik, deur alternatiewe samelewingsvorme ook goed te keur. Daarom
dat die las nog swaarder rus op die geestelike owerheid, byvoorbeeld die
kerkraad. Dat mense wat wil trou daarop gewys word hoe belangrik dit is dat
daar ‘n gemeenskaplike fondament vir ‘n huwelik moet wees. In hierdie opsig is
voorkoming beter as genesing.

Esra 10 laat
dit veral sien. Gelowiges kan nie in die huweliksbootjie klim met ‘n
ongelowige, of ‘n sogenaamd andersgelowige nie. Dit is vra vir probleme. Dit is
die taak van ampsdraers en van ouers om reëlmatig hieroor met die jeug te praat.
Om die jeug met liefde maar tog met ferme hand in die regte rigting te lei.

Hieruit
vloei ook die beleid dat die huwelik tussen ‘n gelowige en ‘n ongelowige nie
kerklik bevestig kan word nie. By voorbaat kan mens al sê dat God se seën nie
daarop kan rus nie. Dit is natuurlik iets heel anders as ‘n ongelowige self tot
inkeer kom, sy of haar lewenskoers verander.

Mense soos
Rut was deur die eeue van onskatbare waarde vir die kerk gewees. Ook in ons
gemeente is daar mense soos Rut, en ons dank die Here vir hulle. Maar tussen
Rut en die heidense vroue van Esra 10 is ‘n wêreld se verskil. In hierdie opsig
stem Ou en Nuwe Testament ook heeltemal ooreen.

Ons lees in
2 Korinthiërs 6:14: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie,
want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en
watter gemeenskap het die lig met die duisternis?”

En in 1
Korinthiërs 5:13 skryf Paulus vir die kerk in Korinthe: “Verwyder tog die
slegte mens onder julle uit.”

‘n
Huweliksluiting is nie net ‘n private aangeleentheid nie. Dit is ‘n daad met konsekwensies
vir die hele gemeente, vir die breë gemeenskap.

Laat ons
saam waak oor die gesondheid van ons huwelike. Laat ons die jeug betyds waarsku
dat hulle hulle lewe weggooi as hulle ‘n liefdesband aanknoop met ‘n
ongelowige. Nou is dit so dat hier in Suid-Afrika niemand sommer sal sê dat hy
of sy ongelowig is nie. Dit is meestal ‘n uitsondering.

Maar in ons
land is daar wel so baie wat in naam Christen is, maar wie se lewenswyse dit
hoegenaamd nie weerspieël nie. Die ou advies bly daarom aktueel, selfs nog meer
as vroeër.

Jongmense,
moenie ‘n lewensmaat buite die kerk soek nie. Dan sal jongmense natuurlik
dadelik vra: wat is die kerk? Waarop dit my plig is om te antwoord: nie alles
wat die naam kerk dra, is kerk nie. Moenie begin uitgaan met iemand, as julle
nie eers saamstem oor die kerk nie. Moenie daardie saak uitstel tot vlak voor
die huwelik nie. Kry daaroor duidelikheid voor jy begin uitgaan. En as jy nie
daaroor duidelikheid kan kry nie, moenie uitgaan nie.

Verliefdheid
is nie ‘n fondament wat sal hou nie. Huwelikstrou het nie met verliefdheid te
make nie, maar met geloof. Ons lewe in ‘n tyd waarin mense in die eerste plek
aan hulleself dink, hulle selfontplooiing, hulle gevoel.

Die houding
dat mens die dag moet pluk. Christus het egter na die wêreld gekom om te dien. Om
die wil van sy Vader te doen, elke jota en tittel.

Die
verkeerde huweliksmaat kan jou duur te staan kom.  Dan bedoel ek nie net dat dit moontlik op ‘n
egskeiding sal uitloop nie. Maar nog veel duurder.

Die
verkeerde huweliksmaat kan veroorsaak dat jy die ewige vreugde  misloop, jy en moontlik ook jou kinders.

Geliefde
gemeente, laat ons die rykdom van God se Woord nie weggooi nie.

Christus gee
ons in die nuwe bedeling ook die sewende gebod. Christus se Gees wil ons lewe
ook met hierdie gebod transformeer. Laat ons nie wêreldgelykvormig raak in ons
huwelike, in die keuse van ons huweliksmaat nie. Laat ons die huwelik
buitengewoon kosbaar bly ag.

‘n
Een-ouer-maatskappy is soos iemand wat slegs een been het, wat op krukke loop. Hy
bly nie by, by die wat twee bene het nie. ‘n Een-ouer-volk het geen toekoms
nie. Net so min ‘n een-ouer-kerk.

Maar
welgeluksalig is elkeen wat in God se weë gaan.

Ryke
seëninge sal jou bedou.

Jy sal die
goeie dinge aanskou.

Jy sal op
jou bede ‘n nakroosseën verkry.

En God van
alle vrede, sal jou vrede bly.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)