Vir die God wat hemel en aarde in sy hand het, bestaan daar geen toeval nie

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2017-01-01
Teks: 
Lukas 2 :1-7
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
1 Januarie 2017 AD, 17:30

Votum (Ps 121:1)

Seën

Ps 121:2-4

Gebed

Skriflesing: Mattheüs 2:1-12

Sb 3:1,2

Teks: Lukas 2:1-7

Preek

Sb 2:1,2,3

Gebed

Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Sb 2:4,5

Seën

Preek: Lukas
2:1-7

Het jou ouers al vir jou bietjie meer vertel
oor die omstandighede toe jy gebore is? Weet jy waar jy gebore is?  Was dit in ‘n hospitaal, of was dit by die
huis? Was jou pa aanwesig by jou geboorte? Is jy met ‘n keisersnit gebore, of
langs die natuurlike weg? Is jy hier in Pretoria gebore? Of was jou ouers dalk nog
in die buiteland toe jy gebore is?

En hoe was die historiese omstandighede toe
jy gebore is?

Ek het ‘n keer van iemand gehoor wat kort na
die Tweede Wêreldoorlog gebore is. Hy is ver van huis gebore, want as gevolg
van die oorlogsomstandighede was dit vir sy ouers nog nie moontlik om terug te
keer huis toe nie. Hulle eerste kind is dus ver van huis gebore.

So is daar historiese omstandighede wat baie
dinge in jou lewe bepaal.

En ons sien dat dit ook die geval was by die
gesin waarbinne die Here Jesus gebore is. ‘n Sameloop van omstandighede het
skynbaar tot gevolg gehad dat Jesus ver van Nasaret gebore is, in Betlehem. Dit
lyk op eerste gesig toevallig. Die evangelis Lukas wys ons egter daarop dat
daar meer aan die hand was. In hierdie preek is dit die bedoeling dat ons vol
verwondering word. Vol verwondering oor die begin van Christus se lewe op
aarde.

Tema: Vir
die God wat hemel en aarde in sy hand het, bestaan daar geen toeval nie

  • die historiese omstandighede van
    Jesus se geboorte tydens ‘n volkstelling

  • die bomenslike beplanning van die
    plek en datum van Jesus se geboorte

  • die historiese omstandighede van
    Jesus se geboorte tydens ‘n volkstelling

    Ons gaan na hierdie geskiedenis van twee
    kante kyk. Die kant van net nog ‘n geboorte van ‘n baba in Israel. Maar ook die
    kant van ‘n wêreldbepalende gebeurtenis, wat baie sorgvuldig eeuelank al
    voorberei is.

    Die evangelis Lukas het alles noukeurig
    ondersoek. So begin hy met sy boek. Hy het goeie historiese navorsing gedoen. In
    die preek waarna ons op Kersdag geluister het, het ons dit gesien met
    betrekking tot die lofsang van Maria. Hoe hy met die Here Jesus se ma
    deurgepraat het, om ‘n goeie en betroubare beeld te kry van die begin van Jesus
    se lewe op aarde. In die teks vir vandag sien ons nog ‘n voorbeeld van Lukas se
    deeglike ondersoek.

    In ons teks gee Lukas naamlik ‘n datering. Hy
    vertel ook meer oor die historiese omstandighede rondom die geboorte. Hy skenk
    aandag aan die oorsaak wat aanleiding gegee het, hoekom die jong ouers so
    ineens na Betlehem moes vertrek. Lukas skenk uitvoerige aandag aan die
    aanleiding vir hierdie reis.

    Keiser Augustus het naamlik ‘n bevel
    uitgevaardig. Wie was keiser Augustus?  Augustus
    is nie ‘n naam nie, maar ‘n titel, en dit beteken: die verhewene, die
    goddelike. Die eintlike naam van hierdie man was Octavianus. En hierdie titel,
    Augustus, het hy aangeneem nadat hy die hele wêreld rondom die Middellandse See
    in 27vC oorwin het. Octavianus, oftewel Augustus, was heerser oor die Romeinse
    Ryk. En dit was hy wat ‘n volkstelling uitgeskryf het, ‘n soort sensus. Iets
    wat nie ongebruiklik was vir die mense in daardie tyd nie. Ook vandag word daar
    van tyd tot tyd ‘n groot sensus gehou. In vers 2 vind ons nog ‘n naam. Cirenius

    Wie was Cirenius?

    Cirenius het bewind gevoer oor Sirië, die
    land wat aan Palestina grens.

    Hoekom word Cirenius hier genoem? As mens
    vers 2 lees, dan lees ons oor ‘n eerste inskrywing. Dit het dus meer dikwels
    voorgekom. Maar of dit werklik die eerste keer onder Cirenius was, daarna gaan
    ons nog nader kyk.

    As ons ook bietjie na buite-Bybelse bronne
    kyk, lees ons by die  geskiedskrywer
    Josefus dat die goewerneur van Sirië, Cirenius, in die jaar 6 van ons
    jaartelling ‘n registrasie deurgevoer het in Judea, Samaria en Idumea. Dit het
    saamgehang met die feit dat hierdie gebied op daardie oomblik onder regstreekse
    Romeinse bewind geplaas is. Voor daardie tyd het Judea relatief baie vryheid
    geniet binne die Romeinse Ryk. Maar omdat Judea altyd so ‘n oproerige provinsie
    was, wou die Romeine hulle beheer in hierdie provinsie opskerp. So het hulle
    onder direkte kontrole gekom van Cirenius, heerser namens keiser Augustus. Dis
    nie moeilik om jou in te dink dat die Jode nie hiermee bly was nie. Deur
    hierdie besluit moes hulle baie vryheid inboet. Logies dat daar daarom verset
    gekom het teen hierdie registrasie. Josefus vermeld dat Cirenius toe met geweld
    ‘n opstand onder leiding van Judas die Galileër moes neerslaan. Dink verder ook
    aan die Selote, ‘n opstandige party onder die Jode, en aan Theudas, ‘n
    rewolusionêr, oor wie mens in Handelinge 5 kan lees. Daar sê Gamaliël oor hom:
    “nie lank gelede
    nie het Theudas opgestaan en gesê dat hy iets besonders was. By hom het 'n
    aantal mense--omtrent vier honderd--aangesluit. Hy is gedood, en almal wat na
    hom geluister het, is uitmekaargejaag en het tot niet geword.” (Hand 5:36)

    In feite kan mens hierdie opstandige ontwikkelinge,
    wat begin het toe die Romeinse bewind opgeskerp is onder Cirenius, in feite kan
    mens dit die begin van die latere Joodse oorlog noem, wat uiteindelik sou lei
    tot die val van Jerusalem in 70nC. Palestina is van ’n staat met relatiewe
    vryhede gedegradeer tot ’n ingelyfde gebied. In Handelinge 5:37 verwys Gamaliël
    ook na hierdie inskrywing oftewel sensus. Maar, en dit is belangrik vir ons
    teks. Hierdie inskrywing was ’n ander een waarvoor Josef na Betlehem moes trek.
    Hierdie inskrywing het eers plaasgevind in die jaar 6nC. Hierdie inskrywing was
    ook nie wêreldwyd nie, oftewel dit het nie vir die hele Romeinse Ryk gegeld
    nie. Hierdie inskrywing was slegs beperk tot een gebied binne Palestina. Ook
    weet ons dat by hierdie volkstelling dit nie nodig was vir die burgers van
    Galilea om na Judea te reis nie.

    Maar die inskrywing oftewel volkstelling waarvan
    ons in ons teks lees, daarby was dit wel die geval. Die geboorte van Jesus het
    ongeveer 11 jaar voor hierdie telling plaasgevind, waaroor ons in Handelinge
    5:37 lees.

    Maar as dit so is, beteken dit dat die
    geboorte van Jesus nie kon gebeur het onder Cirenius nie, maar onder Herodes. Cirenius
    sou eers ongeveer 10 jaar na die geboorte van Jesus aan bewind kom. Nou vra u
    uself dalk af.

    Ja maar dit klop moes nie met wat daar in
    vers 2 staan nie.

    Daar staan tog duidelik dat hierdie
    inskrywing, en dus ook die geboorte, plaasgevind het toe Cirenius goewerneur
    van Sirië was. Dit bring ons by ‘n vertalingskwessie. Daar staan in vers 2:
    “Hierdie eerste inskrywing het
    plaasgevind toe Cirenius goewerneur van Sirië was.”

    Hierdie vers kan egter ook soos volg vertaal
    word: Hierdie inskrywing het plaasgevind voordat
    Cirenius goewerneur van Sirië was. Die Griekse woord word dus nou nie met eerste vertaal nie, maar met voordat. As mens dit doen, maak dit meer
    sin. Ons lees dan: hierdie inskrywing het plaasgevind voordat Cirenius goewerneur van Sirië was.

    Nou moet ons onsself afvra wat eintlik die
    doel van vers 2 is. Ons sien dat in vers 1 ‘n datering gegee word. Die geboorte
    van Jesus het plaasgevind in die dae toe keiser Augustus ‘n volkstelling
    uitgeskryf het. Maar hoekom is daar in vers 2 dan nog ‘n tweede datering? Gemeente,
    die evangelis Lukas het hiervoor sy redes. Sy doel is naamlik om met vers 2
    duidelikheid te skep vir sy lesers. En dan moet u onthou wie die eerste lesers
    was van Lukas se evangelie. Dit was die hooggeagte Theofilus (Luk 1:3). En
    verder kan ons sê: dit was mense wat geleef het in die tweede helfte van die
    eerste eeu.

    Om vers 2 goed te kan plaas, moet ons onsself
    vir ‘n oomblik verplaas in die skoene van hierdie eerste lesers in die tweede
    helfte van die eerste eeu.

    Want dit was naamlik so, ‘n aantal dekades
    later, soos ek genoem het, in die tweede helfte van die eerste eeu, dat die
    volkstelling oftewel volksregistrasie onder Cirenius nog goed in die geheue was.
    Dit was ‘n sensus wat, soos ek genoem het, eers plaasgevind het 6 jaar na die
    geboorte van Christus. Dit was dus vir die mense van die tweede helfte van die
    eerste eeu, ongeveer ‘n halwe eeu gelede. Vir die mense wat toe oud was, was
    dit ‘n gebeurtenis wat in hulle kinderdae plaasgevind het. Maar soos ek
    verduidelik het, Jesus is gebore tydens ‘n ander volksinskrywing. ‘n Inskrywing
    wat plaasgevind het nog voordat
    Cirenius aan bewind gekom het.

    En dit is dan ook die doel hoekom Lukas in
    vers 2 so sorgvuldig dit verduidelik. Om sy lesers daarop attent te maak dat
    dit hier gaan oor ‘n ander volkstelling, as die bekende telling wat later onder
    Cirenius plaasgevind het. Die groot volkstelling onder  Cirenius was nog goed in die Jode se geheue
    gegrif. En die rede was dat daar juis tydens daardie volkstelling ‘n opstand
    plaasgevind het, gelei deur Judas die Galileër.

    Soos ek genoem het, ons lees daaroor in
    Handelinge. Mens kan ook daaroor by die geskiedskrywer Josefus lees. Lukas
    probeer dus te verduidelik: die geboorte van Jesus het plaasgevind voor hierdie opstand. Die volkstelling
    wat plaasgevind het toe Jesus gebore is, was vir die mense jare later baie
    minder bekend, waarskynlik al lankal vergeet. Hierdie telling waartydens Jesus
    gebore is, het die gemoedere skynbaar baie minder in beweging gebring as die
    latere een onder Cirenius.

    Dis maar, tussen hakies, soos dit vandag ook
    dikwels gaan. As mens ‘n volkstelling vir ‘n oomblik met ‘n verkiesing sou vergelyk.
    Daar is verkiesings wat amper ongemerk verbygaan. Maar daar is ander
    verkiesings wat lank in die geheue gegrif sal bly. Die verkiesing van afgelope
    jaar, toe die munisipaliteit van Pretoria, Tshwane, onder DA-bewind gekom het,
    sal ons waarskynlik nog lank onthou. Die sogenaamde Brexit-verkiesing sal ook
    lank in die geheue bly. En dieselfde sal ook waarskynlik geld vir die
    Amerikaanse verkiesings van verelde jaar, waardeur Donald Trump aan bewind
    gekom het.

    Hoewel hierdie volkstelling, waartydens Jesus
    gebore is, redelik geruisloos verloop het, het dit vir die Romeinse Ryk wel sy
    doel gedien. Die resultate is benut deur die Romeinse bewind en opgeslaan in
    hulle keiserlike argiewe in Rome. Die regeerders het van die inligting gebruik
    gemaak om sake soos die invordering van belasting te reël. Dit is opvallend dat
    die Christene uit vroeg-Christelike kerk by herhaling na hierdie sensus verwys
    het, en die feit dat dit nog steeds in die argiewe van die staat in Rome
    geraadpleeg kon word.

    Die vroeg-Christelike skrywer Justinus, wat
    ongeveer een en ‘n halwe eeu na Christus geleef het, skryf byvoorbeeld aan die
    keiser van sy dae, Antoninus Pius, en hy wys die keiser daarop dat die keiser
    welkom is om in die verslae van hierdie volkstelling na te gaan dat Jesus in
    Betlehem gebore is. Die kerkvader Chrysostomos, wat nog later geleef het,
    verwys vir die datum van Christus se geboorte na die argief in Rome. En die
    kerkvader Tertullianus, wat self ‘n juris was, en dus nie onbekend met die
    argiewe in Rome nie, sê in een van sy boeke dat die Romeinse argiewe die telling
    van Augustus bewaar as die mees betroubare getuie vir die geboorte van die Here
    Jesus (Adv. Marcionem IV 7,7).

    Bietjie later in sy boek kom hy nog op
    hierdie opmerking terug, as hy skryf: Maar
    dit staan ook vas dat daar toe onder Augustus tellinge gehou is in Judea door
    Sentius Saturninus: in hierdie tellinge kan mens die menselikheid van die Here
    Jesus nagaan.

    Gemeente, hoekom noem ek al hierdie
    besonderhede? Ek vertel al hierdie details om reg te doen aan die bedoeling van
    die evangelis Lukas. Hy het alles noukeurig ondersoek, die betroubaarheid van
    al die berigte oor die Here Jesus. En dit is ook die doel van hierdie preek. Om
    u te wys op die betroubaarheid van die kersevangelie. En daarom is dit vir u
    ook nodig dat u moet weet hoe om vers 2 van ons teks te verstaan. Want dit is
    naamlik nie korrek dat Christus gebore is tydens die bewind van Cirenius nie. Dan
    sou die gegewens uit die Bybel nie ooreenstem met gegewens uit ander bronne
    nie. Daarom dat ek aan u verduidelik het dat vers 2 op ‘n ander wyse vertaal
    moet word. Jesus is naamlik gebore voordat
    Cirenius aan bewind gekom het. Dit is jammer dat die nuwe Direkte Vertaling
    van die Bybel in Afrikaans vers 2 nog steeds op die ou manier vertaal het,
    altans in hulle eerste proefuitgawe van die Nuwe Testament. Dit sal mooi wees
    as ons Deputate Bybelvertaling die Bybelgenootskap hiervan bewus kan maak, dat
    vers 2 anders vertaal behoort te word.

    Dit het al meer as een keer gebeur dat
    Skrifkritiese teoloë in die verlede hierin aanleiding gevind het om te beweer
    dat die Bybel nie histories betroubaar is nie. Dat dit wat in die evangelies
    oor Jesus opgeskryf is, nie werklik die toets van geskiedskrywing kan deurstaan
    nie. Met sulke opmerkings beledig hulle Lukas, wat juis noem dat hy alles
    noukeurig ondersoek het. Met sulke opmerkings beledig hulle die Heilige Gees,
    wat met groot sorg daaroor gewaak het dat die Bybel tot stand gekom het, en dat
    alles wat daarin staan ook betroubaar is.

    Maar, geliefde gemeente, die evangelie wat
    deur die eeue verkondig is, is ‘n betroubare evangelie. Die kersevangelie
    waaroor ons ons verheug in hierdie dae, het soliede wortels in die geskiedenis.
    Daar is goeie rede om bly te wees. Soos die apostel Petrus skryf: “Want ons het nie kunstig verdigte fabels
    nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend
    gemaak het nie” (1 Petr
    1:16).

    Dit bring ons by die tweede deel van die
    preek, waarin ons na nog ‘n dimensie dieper gaan kyk. Ons gaan sien hoe hierdie
    op eerste gesig toevallige sameloop van omstandighede eintlik geensins
    toevallig was nie, maar dat dit al eeue lank voorberei is. Want vir die God van
    hemel en aarde bestaan daar geen toeval nie.

    (Tema: Vir die God wat hemel en aarde in sy
    hand het, bestaan daar geen toeval nie

  • die historiese omstandighede van Jesus se geboorte tydens ‘n
    volkstelling)

  • die bomenslike beplanning van die
    plek en datum van Jesus se geboorte

    In ons teks fokus Lukas op die groot mag van
    die keiser. Dat een mens die hele bewoonde wêreld in beweging kon bring. Mens
    kom onder die indruk van so ‘n man. Net soos mens onder die indruk kan kom van
    hoeveel mag en invloed die president van Amerika in die wêreld het. Geen wonder
    dat daar so fel gestry word om hierdie titel te bemagtig nie. Maar gemeente,
    agter die grotes van hierdie wêreld sien Lukas nog Iemand veel groter.

    En juis oor Hom gaan dit in ons teks. Dat die
    magtige keiser maar slegs ‘n instrument is in die hand van God, wat hemel en
    aarde in beweging kan bring. En dan kan mens dink aan die pragtige spreuk van
    Salomo:

    “Die koning se hart is in die hand van die
    HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.” (Spreuke 21:1)

    Hy lei dit oral heen, waar dit Hom behaag. Skitterend
    hoe God die wêreldgeskiedenis lei. Christus is gebore as onderdaan van die
    keiser. Judea was ‘n provinsie van sy groot ryk. Ook Jesus is ingeskryf in die
    registers. Hy sou om en by 33 jaar later ook in naam van hierdie ryk veroordeel
    word tot die kruisdood. Hy is veroordeel deur Pilatus, ‘n wettige heerser namens
    die keiser in die provinsie Judea.

    Dit alles bring ons tot verwondering oor die
    egtheid van alles wat daar gebeur het. Hoe God se Seun in ons menslike
    geskiedenis ingekom het, hoe Hy ‘n mens geword het soos ons. Hoe Hy deelgeneem
    het aan die gewone burgerlike lewe. Ook sy naam kan teruggevind word in
    sensusse en registrasielyste. Maar tog was Hy ook weer so ontsettend anders.

    God se Seun, een in wese met die Persoon wat
    alles om ons heen geskape het. Die Skepper kom binne in sy eie skepping, die
    Kunstenaar openbaar Hom in sy eie kunswerk. Asemrowend blyk dit uit die verloop
    van die omstandighede. Hy is gebore in Betlehem, as verteenwoordigr van die
    koningshuis van Dawid. Hy is daar in die registers opgeskryf. Die koningshuis
    van Dawid was vergane glorie.

    Keiser Augustus was nou oppermagtig. Maar die
    God van hemel en aarde troon bo hom uit. Hy lei Josef en die swanger Maria na
    Betlehem.

    Wie Lukas 1 goed gelees het, weet dat die
    swangerskap van Maria sal lei tot die geboorte van ‘n ander, ‘n blywende Heerser
    oor die wêreld.

    Christus is gebore binne ‘n paartjie wat
    volgens die wet al met mekaar getroud was. Wat volgens die Joodse wetgewing nie
    meer van mekaar mog skei nie. Ons verwonder ons oor die feit dat Josef juis op
    die oomblik van geboorte in Betlehem moes wees. Hulle het in Nasaret gewoon,
    ongeveer 100km na die noorde. Dit was ‘n behoorlike reis om te voet af te lê.

    Onder normale omstandighede het Josef
    waarskynlik nooit in Betlehem gekom nie. Maar vir die God wat hemel en aarde in
    sy hand het, bestaan daar geen toeval nie. En saam met die evangelis Lukas, het
    ons die profesie uit Miga 5:1 in ons agterkop. Na die mens gesproke sou ons
    Heiland, as daar geen sameloop van omstandighede was nie, gewoon in Nasaret in
    Galilea gebore geword het. Maar God het self ingegryp. God het Homself van
    niemand minder nie as keiser Augustus bedien. So het Hy daarvoor gesorg dat nie
    net Josef, maar ook Maria na Betlehem gereis het. Ten spyte van die feit dat sy
    hoogswanger was. Hiervan het Augustus natuurlik niks geweet nie. Augustus het
    eenvoudig ‘n maatreël ingestel om daardeur die staatsinkomste te vermeerder.

    Maar so lei God die geskiedenis. Vir die God
    wat hemel en aarde in sy hand het, bestaan daar geen toeval nie. Dit was sy wil
    dat die opvolger van Dawid in Betlehem gebore moes word. En so het dit gebeur. Maria
    het haar eersgebore seun in doeke gewikkel. Dit was heel gebruiklik, dit is
    gedoen met elke kind na geboorte. Die beentjies reguit en die armpies styf
    langs die lyfie. Daarna is die hele liggaampie behalwe die kop styf toegedraai
    met lang katoen of linne doeke. Maar die feit dat Maria haar kind in ‘n krip,
    in ‘n voerbak, gelê het, dit was nie gebruiklik nie. So het die vernedering van
    Jesus al vanaf die eerste nag begin. Koning Jesus is gebore in ‘n plek waar
    selfs ‘n gewone Joodse baba nie eers die eerste lewenslig sou aanskou nie.

    Tog was ook dit geen toeval nie. Dit was
    alles onderdeel van die Vader se plan, vir die lydensweg van sy Seun. Eers sou
    Hy verneder word, om daarna oneindig verhoog te word.

    En so luister ons vandag nog steeds na die
    Kersevangelie. Ons ken nog steeds vir keiser Augustus, keiser Octavianus. Maar
    die rede hoekom ons hom ken, is danksy hierdie Kind gebore in Betlehem. Want
    hierdie Kind was veel magtiger as die keisers ooit sal wees.

    Hierdie Kind sou die res van die
    wêreldgeskiedenis bepaal.

    Hierdie Kind wie se koms voorberei is gedurende
    alle voorafgaande eeue. Jesus van Nasaret, gebore te Betlehem.

    Hom prys ons, ook in ons tyd.

     

    Hy het sy mag en reg versaak.

    Hy het ‘n stal verkies.

    Hy het die gedaante aangeneem van ‘n kneg.

    Hy, die Skepper van die heelal.

    Hy ruil met ons op vreemde wyse.

    Hy neem ons vlees en bloed,

    maar gee ons sy Vader se huis.

    Ja sy oorvloed.    Amen 

Liturgie: 

(kyk in preek)