Leer ons om ons dae so te tel dat ons ‘n wyse hart mag bekom!

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-12-31
Teks: 
Psalms 90 : 12
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
31 Desember 2016 AD, 18:30

Votum

Seën

Ps 90:1,2

Gebed

Skriflesing: Numeri 13:25-14:4

Ps 90:3-6

Skriflesing: Psalm 90

Ps 90:7-9

Teks: Psalm 90:12

Preek

Ps 78:6-8

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Sb 23:1-4

Seën

Preek: Psalm
90:12

Aan die einde van die jaar is dit normaal om
bestek op te neem. Aan die einde van die jaar, as mens terugkyk, word dit
moontlik om te bespeur of daar bepaalde tendense is. As jy ‘n besigheid het,
dan kyk jy hoe die inkomstes met die uitgawes vergelyk het gedurende die
afgelope jaar. Bepaalde inkomstes was dalk minder as wat jy verwag het. Bepaalde
uitgawes meer as wat jy verwag het. So probeer mens om die syfers te
interpreteer, om sodoende ‘n verantwoordelike begroting vir die nuwe jaar te
kan opstel. Vanaand buig ons ons ook oor ‘n jaarrekening. Maar ons gaan ons nie
in die eerste plek met syfers besighou nie. Ons gaan kyk na die eintlike werk
wat gedoen word deur hierdie instelling waartoe ons behoort. Hierdie
instelling, wat nie ‘n besigheid is nie, ook nie eers ‘n nie-winsgewende
organisasie nie, maar wat haarself die kerk van die Here Jesus Christus mag
noem. ‘n Groep mense, deur die hoogste Heer byeengebring uit die menslike
geslag. Ons gaan terugkyk op wat Hy in ons midde gedoen het, al werkende deur
sy Gees en Woord. Ons gaan kyk hoe ons as mense daarop gereageer het. Ek bring u
vanaand die Woord van die HERE, met Psalm 90, onder hierdie tema:

Tema: Leer
ons om ons dae so te tel dat ons ‘n wyse hart mag bekom!
(Ps 90:12)

Voordat ons Psalm 90 gaan bestudeer, eers ‘n
kort oorsig van die afgelope jaar in ons gemeentes. Ons begin by die postiewe
dinge. In beide gemeentes, Pretoria en Maranata, is daar die afgelope jaar ‘n
klomp baba’s gebore. Met groot dankbaarheid mag ons daaraan terugdink.

In beide gemeentes was daar die afgelope jaar
ook broers en susters wat gesterf het. Dit was aan die een kant slegte nuus. Maar
aan die ander kant mog ons hierdie bejaarde broeders en susters begrawe met die
wete dat hulle oorgegaan het na die hemelse heerlikheid. Ons mog van hulle
afskeid neem met hoop, die hoop op ‘n toekomstige weersien, die hoop op die
opstanding uit die dood. Afgelope jaar was daar ook gemeentelede wat vertrek
het met attestasie na susterkerke. Sommiges het verhuis hier plaaslik in
Suid-Afrika, ander het oorsee vertrek. Ons mog van hulle afskeid neem met die
wete dat ons verlies vir ons susterkerk wins is. Ongelukkig was daar egter ook
gemeentelede wat die afgelope jaar onttrek het.

Onttrek beteken dat hulle hulleself losgemaak
het van die opsig en tug van die kerkraad. Hulle het in die verlede met hulle
openbare geloofsbelydenis belowe dat hulle hulle aan die opsig en tug van die
kerk sal onderwerp, ook in tye van vermaning. Hierdie belofte het hulle met
onttrekking verbreek.

Dit is verdrietig. As mens nou aan die einde
van die jaar probeer om bepaalde tendense raak te sien, sal ons moet aandag
skenk aan hierdie tendens. Dat die gewoonte in die samelewing, naamlik dat jy
vir jouself ‘n kerk kies wat by jou behoeftes pas, dat hierdie gewoonte steeds
meer in ons kerklike gemeenskap begin binnedring. Mense kies daardie kerk wat
by hulle lewenstyl pas, of by hulle menings, pleks van hulle lojaal te gedra
teenoor die gemeente waar God hulle geplaas het, deur dik en dun, in voor- en
teëspoed.

Aan die einde van die jaar probeer mens om
bepaalde tendense te noem. Is daar sprake van groei, syfermatig, in aantalle? Is
daar ook sprake van groei – geestelik? Of is daar sprake van agteruitgang. In
getalle? Maar veral ook geestelik? Laat die afgelope 365 dae vir die twee
gemeentes ‘n wins sien, of is daar sprake van verlies? Was daar sprake van
geloofsgroei, of was daar geloofsverarming? Het ons toegeneem in kennis, en in
wysheid? Of het ons verder verstrik geraak in die dwaasheid van die hedendaagse
samelewing?

‘n Samelewing wat met al sy geld en goed, as
God dit nie verhoed, op pad is na die ewige dood. Was ons as gemeentes ‘n lig
op ‘n berg?

Of het die lig se intensiteit drasties
afgeneem?

Ons het vanaand Psalm 90 gelees.

Hierdie Psalm word tradisioneel by uitstek as
die oujaarspsalm beskou.

Die stemming wat baie mense op die laaste dag
van die jaar het, sou hierin verwoord word. Om te dink aan die kortstondigheid
van die lewe en die verganklikheid van die mens. Ure, dae, maande, jare, vlieg
soos ‘n skaduwee verby. Maar, gemeente, is dit werklik die stemming van Psalm
90?

Eintlik nie. Psalm 90 is nie geskryf as ‘n
oujaarslied nie. Die eerste sin verraai dit al,  Psalm 90 is ‘n gebed van Moses, wat hy onder
heel ander omstandighede gebid het.

Dus, voordat ons die verbinding met oujaar
maak, is dit tog belangrik dat ons eers probeer insae kry in die oorspronklike
historiese agtergrond van hierdie lied.

Moses was die man wat destyds deur God geroep
is, sodat hy die God van die verbond aan die volk moes gaan voorstel. God wie
se Naam was HERE, Jahweh. Dit was Hy wat die volk vir ‘n gewisse volksmoord in
Egipte bewaar het. Daar waar die Israeliete gebuk het onder ‘n slawebestaan.

Die HERE, Jahweh, was dit wat aan hulle die
vryheid gegee het. Hy het hulle uitsig gegee op ‘n land wat oorloop van melk en
heuning. ‘n Plek waar hulle eindelik rus sou kry. Moses is opgedra om die volk
uit Egipte te lei, met hierdie groot beloftes in die vooruitsig. En so het
Moses ‘n pad met die volk begin stap. ‘n Pad wat aanvanklik hoopvol was. Maar
hoe langer en hoe dieper hulle die woestyn ingetrek het, hoe meer het die
gemoedere gesak.

Blye en hoopvolle gesigte het verander in
bedrukte gesigte, gemurmureer.

Eindelose gekla. Dit het al kort na die
deurtog deur die Rooisee begin.

Drie dae later het die volk al begin kla. Moses!!
Wat moet ons drink hier in die woestyn?? Moses!! Wat moes ons eet hier in die
woestyn?? En dit was nie lank of die volk het selfs na Egipte begin
terugverlang, na die vleispotte in Egipte. Het ons maar gesterf by die vleispotte
van Egipte!

Die HERE het lankmoedig hierdie gemurmureer
vir ‘n hele tyd verdra.

Maar daar het ‘n oomblik aangebreek, toe Hy
hierdie brutale ondermyning van Moses se gesag, en die simpelweg ignoreer van
sy wonders, nie meer kon verdra nie. En dan laat die HERE die woord ‘terg’ val.

Stadig maar seker sien mens hoe die HERE se
geduld opraak, en hoe die strawwe swaarder word. Na die sonde met die goue kalf
wou die HERE die volk selfs uitwis, om dan opnuut met Moses te begin! Maar
danksy Moses se vurige pleidooi besluit God om nog een keer geduld te betoon.  Maar nie lank daarna was sy geduld weer op.

By die plek Tabera lê die HERE ‘n deel van
die kamp in as (Numeri 11:1-3).

By Kibrot-Hattaäwa, waar die volk gekla het
vir vleis, het Hy vleis gegee, maar soveel dat sommiges hulle dood geëet het
(Numeri 11:4-35).

Te Haserot het God se toorn selfs Moses se
eie suster, Mirjam, getref (Numeri 12). En die dieptepunt word bereik as tien
van die twaalf verspieders Israel aftrek om hulle te laat twyfel aan God se
almag. Dit was toe dat die maat vir die HERE vol was. Dat tien van die twaalf,
hulle was vorste van die volk, dus leiers, ampsdraers, dat hulle ‘n  meerderheidsrapport uitgebring het, waarin
hulle die volk AFGERAAI het om die BELOOFDE LAND in te gaan! En oor God en sy
beloftes het hulle in hulle rapport NIE ‘N WOORD gerep nie. Alles het hulle net
uit menslike oogpunt bekyk. Pure veragting van God se Woord. Pure veragting van
God se beloftes. Toe was God se geduld uitgeput. Toe prakties die hele
toenmalige kerk geloof geheg het aan die woorde van tien twyfelsaaiers.

Hoekom bring die HERE ons na hierdie land,
waar ons gewis deur swaarkry gaan omkom? Is dit nie maar beter dat ons gewoon
terugkeer na Egipte toe nie? Gemeente, dit was toe dat die HERE gereageer het
op hulle geterg met die woorde: Wil hulle Kanaän nie binnegaan nie?

Is DIT hulle vertoue in My? Nou maar goed,
dan MAG hulle ook nie meer nie. Hulle SAL in die woestyn sterf. Almal wat
meerderjarig was, twintig jaar en daarbo. En toe, gemeente, het hulle begin
sterf, massaal, in die woestyn. Veertig jaar het hulle rondgeswerf. Die een na
die ander is begrawe.

Nou gemeente, broers en susters, hierdie is
die agtergrond van Psalm 90, die gebed van Moses. ‘n Kerkgemeenskap, wat vanweë
veragting van die belofte, wegsterf onder die toorn van God. Psalm 90 kla dus
nie in die eerste plek oor die kortstondigheid van die lewe nie. Oor die feit
dat alle mense vroeër of later moet sterf nie. Maar Psalm 90 kla oor kleingeloof
en ontrou binne die kerk, met alle gevolge van dien. Psalm 90 kla oor die feit
dat God se volk so ‘n toestand bereik het!

Moses begin sy gebed met ‘n pragtige
geloofsbelydenis. Here, U was vir ons ‘n toevlug van geslag tot geslag. Nog
voordat die berge gebore was, nog voordat u die aarde voortgebring het, was U
daar. Nou gemeente, toe Moses hierdie gebedslied geskryf het, was hy al om en
by die honderd jaar!

Hy was ‘n man wat al geslagte sien kom en
gaan het. En hoewel hy in Egipte opgegroei het, ‘n Deltaland waar daar geen
berge is nie, die woestyn met sy berglandskappe het ook vir hom die gevoel van
ewigheid gegee. Dis wat berge uitstraal, ‘n gevoel van ewigheid. Veertig jaar
het Moses in die berglandskappe van Midian gewoon. En tydens die woestynreis het
die pad ook langs hoë berge gegaan, hoë berge wat hy soms ook moes uitklim. En
dit is hiermee waarmee hy nou die HERE vergelyk. O HERE, sê hy, ten spyte van
die ontrou van mense, van ons voorgeslagte, vanaf die tyd van  Abraham af, tog was U vir ons ‘n toevlug
gewees.

Van geslag tot geslag. By U kon ons altyd
skuil. Onder ons is u ewige arms (Deut 33:27). Hierdie ewigheid van God
kontrasteer Moses met die kortstondigheid van mense. Hoeveel mense, al was
hulle hoe sterk, moes Moses nie in die woestyn begrawe nie? Hulle wat as eerste
begrawe is tydens die reis, het inmiddels al lank tot stof vergaan. In u oë, o
HERE, is ‘n menselewe maar ‘n flits. Duisend jaar is in u oë soos die dag van
gister, soos ‘n nagwaak. ‘n Nagwaak, dit is ‘n derde of ‘n kwart van ‘n nag. En
as mens slaap, is dit in ‘n oogwink verby. Hoeveel te meer vir die ewige God!

Gemeente, hoekom noem Moses dit eintlik hier
in vers 4? Die rede hoekom hy dit doen is nie om net in die algemeen iets oor
God se ewigheid te sê nie.

Maar juis om die volk daarop te wys: Moenie
dink dat God julle gekla en gemurmureer na drie dae weer vergeet het nie. So
werk dit by God nie.

Hoe julle Hom gekwets het met die goue kalf,
ook al is dit al twintig jaar gelede, vir die HERE is dit nog soos die dag van
gister. Twintig jaar gelede is vir ons lank. 1996, wie onthou nog wat toe in sy
lewe gebeur het?

Maar as daar ‘n konflik uit 1996 nog
onopgelos is, is dit vir God soos die dag van gister. Dit verjaar nie. Dit is
nie iets wat die HERE ongestraf sal laat verbygaan nie.

Ja sondige mense vergaan deur sy toorn. Ons
vergaan deur u toorn – vers 7.

Deur u grimmigheid word ons verskrik. Ook
hierdie vers moet mens in sy historiese konteks lees. Ons vergaan deur u toorn,
dis nie net ‘n algemene waarheid nie. God se optrede met sy kinders is
dinamies. Dit sien mens in die geskiedenis van sy kinders. Soms spaar Hy vir
geruime tyd die toorn.

Dink aan die eerste maande in die woestyn. Toe
het Hy die gemurmureer van die volk lankmoedig verdra. Maar Psalm 90 is
gedateer na Horeb, na die tyd van geduld. As Moses hierdie gebed bid, doen hy
dit vanuit die verskriklike omstandigheid, dat Israel vlak voor die poort na
die beloofde land, weer terug die woestyn ingejaag is. Terug die woestyn in, om
daar teen ‘n versnelde tempo te sterf. Nou is God se lankmoedigheid op.

“U stel ons ongeregtighede voor U, ons
verborge sondes in die lig van u aangesig.” (vers 8) Ons kom om onder u slaande
hand. Ons lewe kom voortydig ten einde. Dis waaroor Moses jammer is, dat hulle
in die woestyn soos bossies sterf. Moses jammer ook oor om homself, dat hy die
beloofde land nie mog binnegaan nie. Die volk uit Egipte uitgelei, maar hy mag
hulle Kanaän nie binnelei.  En so het die
afvallige volk doelloos rondgedwaal in die woestyn. Daar was nie meer rigting
in hulle lewe nie. Dit is iets wat ook vandag met God se kinders kan gebeur. As
daar geen rigting meer is in jou geloofslewe, en in die kerklike lewe nie. As
daar geen geesdrif meer is nie.

Tereurstellende, vrugtelose tye, waarin daar
maar net in ‘n kringetjie rondgedraai word. Geen toekomsperspektief meer nie. Geen
begeesterdheid om meer uit te brei nie.

Sending en Evangelisasie maak ons nie meer
opgewonde nie. En so gaan ons aan, tot ons tot ons skrik agterkom, dat ook ons
lewe al weer verby is.

Sewentig jaar, indien ons sterk is, tagtig
jaar. Moses sê dit vanuit die perspektief van ‘n man wat self honderd jaar of
meer was. ‘n Man wat terugdink aan vroeër, toe mense selfs nóg ouer geword het.
Terugdink aan die paradys, toe die mens geskape is met die bedoeling om glad
nie te sterwe nie. Sewentig, tagtig jaar, dit is nie ‘n bewys van menselike
krag nie, dit is nie ‘n bewys van ‘n lang lewe nie. Inteendeel, in die konteks
hier is dit ‘n bewys juis van kortstondigheid.  ‘n Bewys van menslike mislukking, ongeloof,
sondigheid. ‘n Bewys van God se toorn – vers 11.

God se toorn wat tot gevolg het dat die volk
in die woestyn soos bossies sterf. Wat ‘n antiklimaks!

Enkele dekades gelede het die doodsengel die
Israeliete se huise verbygegaan in Egipte. Maar nou, nou sien Moses hoe God se
volk dieselfde straf moet ondergaan. Hoekom? Omdat hulle, God se eie volk, geen
ontsag meer vir Hom gehad het nie, niks meer as die Egiptenare nie.

Omdat hulle van mening was dat die God, wat
hulle deur die Rooisee gelei het, nie in staat sou wees om hulle teen die
Kanaäniete te beskerm nie.

Genoeg het Ek van hierdie geslag gehad, sê
die HERE.

Genoeg is genoeg, hulle lewe is verby.

Wie ken die sterkte van u toorn? – vers 11. Moses
bedoel om te sê: die HERE se volk het DIT nie verwag nie. Hulle het nie verwag
dat die HERE hulle DIT sou aandoen nie. Hulle het nie besef dat die HERE SO
swaar kan straf nie. Maar, het die HERE dit dan nie self voorspel nie? Wie My
halfslagtig dien, wie nie met onverdeelde hart op My vertrou nie, sal, vroeër
of later, oog in oog staan met My straf.

Geliefde gemeente, is u blind vir die hand
van die HERE? Sou Moses dit dalk ook nodig geag het om dit oor ons, oor ons
gemeentes, te konstateer:

Deuteronomium 32:28-29: “daar is geen
verstand in hulle nie. Was hulle wys, hulle sou dit insien, hulle sou op hulle
einde let.” Gemeente, besef u die sterkte van God se toorn? Leef jy onder die
besef dat jou ellende jou doemwaardig maak? Het die gevoel van dankbaarheid
teenoor die HERE by jou uitgeslyt geraak? Besef jy nog dat elke nuwe jaar
genadetyd is?

Elke nuwe dag bedoel is dat ons ‘n wyser hart
mag bekom?

Dat God ‘n nuwe jaar aan jou lewe toevoeg met
‘n doel?

Soos vers 12 sê:

“Leer ons om ons dae so te tel dat ons ‘n
wyse hart mag bekom!”

Die HERE sien die hart aan. Is jou hart vol
dankbaarheid vanaand? Wat kom die maklikste uit u hart uit? Gekla, verwyt,
twyfel, kleingeloof? Of kom daar uit u hart ‘n danklied. Dank u HEER, vir die
jaar van u ontvang. Dank u vir alles wat U my gegee het. Dank u vir die krag om
te dra, as my lewe anders draai as wat ek wou gehad het.

Geliefde gemeente, aan die begin van die
preek het ons kortliks aandag geskenk aan hoe dit kerklike lewe hierdie jaar
gelyk het. Wat betref publieke gebeurtenisse soos geboorte, doop, begrafnisse,
onttrekkings.

Is daar geestelike groei of geestelike
agteruitgang? Hoe lyk dit by uself?

Hoe lyk dit by al die ander gemeentelede? Ons
kan nie in harte kyk nie.

God kan in die harte kyk. Maar ons weet wel,
waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

Miskien moet ons vanaand eerlik erken dat
daar ook ooreenkomste is tussen ons gemeentes tans en God se verbondsvolk
destyds in die woestyn.

Hoor ons nie ook stemme van gekla,
gemurmureer nie? Hoor ons nie ook stemme van kleingeloof, van onsekerheid oor
die toekoms nie? Het ons bang geword om nog positief te wees? Skouer aan die
wiel te sit, in die gemeentelike lewe, in gesamentlike Bybelstudie, in Sending,
in Evangelisasie, in die kerkverband? Dit is maklik om gespesialiseerd te wees
in die lewer van kritiek. Maar pak ons ook nog iets aan? Miskien sal dit goed
wees, net soos in die dae van Nehemia, dat die HERE ons die troffel en die
swaard in die hand stop, ons beveel om ons mond te hou en net aan die werk te
gaan. Aanpak, bou aan die kerk.

En vir die res nie steeds op die ander let
nie.

Gemeente, sal ons vir die jaar 2017 ‘n verbod
plaas op kla, op pessimisme, op kleingeloof? Sal ons elkeen net vorentoe kyk,
en gelowig weer aan die werk gaan? Geen woorde, maar dade. Ouers, sal julle
julle kinders hierin voorgaan? Wys vir julle kinders dat die HERE, die diens
aan die HERE, op nommer 1 staan in jou lewe. Wys dit op Sondag. Wys dit deur
die week.

Wys dit in die vakansie. Tussen hakies,
prakties beteken dit dat jy môre-oggend, op die eerste Sondag van die nuwe
jaar, weer hier sit. Dat jy die nuwe jaar op die regte manier begin.  En Maranata, julle in julle eie gebou.

Geen woorde nie, maar dade!

Keer terug, o HERE!

Ontferm u oor u gemeente!

Laat u werk in u gemeente sigbaar word.

En bevestig U dan ook die werk van ons hande.

As ons ons voorneem om in 2017 ons hande in u
diens uit die moue te steek. Ja, die werk van ons hande, bevestig dit! En leer
ons om elke dag te tel, elke dag op sy waarde te skat,  elke dag van die nuwe jaar nie te mors met
dinge wat vir die ewigheid nie waarde het nie.

Ja HERE, gee elkeen van ons ‘n wyse hart.

Dat ‘n wyse hart ons lewenspad sal aanstuur,
in die jaar 2017.

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)