Jesus Christus alleen

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-09-11
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 24
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 11 September 2016 AD,
17:30

Votum

Seën

Ps 25:1,2

Gebed

Skriflesing:
Mattheüs 20:1-16

Ps 25:4

Skriflesing:
Galasiërs 2:11-3:14

Ps 34:6

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 24

Preek

Ps 101:1,4

Gebed

Geloofsbelydenis
(sing)

Kollekte

Sb 21:1,2,3

Seën

Preek: Sondag 24

Baie meer
kerkmense het al in die loop van die eeue verlore gegaan, nie omdat die kerk
vervolg is nie, dink maar aan Farao wat die klein seuntjies in die Nylrivier laat
verdrink het, of dink aan Christene wat deur sommige Romeinse keisers voor die
leeue gegooi is, maar baie kerkmense het verlore gegaan omdat die duiwel hulle
‘n skynvroomheid aangepraat het.

In die trant
van: Die HERE het dit eintlik vir ons veels te maklik gemaak.

Eintlik moet
jy self ook presteer.

Aan die hand
van Sondag 24 is die tema:

Tema: Jesus Christus alleen

1 Pasop vir die suurdeeg van die Fariseërs

2 Stel Jesus Christus sentraal

1 Pasop vir die suurdeeg van die Fariseërs

Dit is die
mees effektiewe wapen van die duiwel: jy moet self ook iets bydra. Dink aan die
godsdienstigheid van die Fariseërs. Johannes die Doper het hulle tot bekering
opgeroep, bekering van hulle eie wetswerke. En Jesus het vir die suurdeeg van
die Fariseërs gewaarsku. Die Kategismus waarsku vandag ook vir hierdie
suurdeeg. Want helaas het die kerk die suurdeeg van die Fariseërs nie begrawe
nie. Tot en met vandag, tot in ons gemeente toe, woeker hierdie kettery voort.

Vandaar dat
u vanaand die verlossing deur Jesus Christus gepreek word, sonder reserwes
vanaf hierdie kansel. Wie in sy hart dan ‘n bepaalde reserwe, ‘n bepaalde
weerstand, voel opkom,  iets soos: ja
maar, mens moet nie te veel vryheid preek nie, want dan is die gevaar dat mense
onverskillig raak. Wie hierdie weerstand in sy hart voel opkom, het las van die
suurdeeg van die Fariseërs.

Toe Paulus
die Evangelie verkondig het op sy sendingsreise, het Christus voorop gestaan. Mense
is opgeroep om in Christus alleen te
glo. Na Paulus was daar egter ook predikers wat ‘n ander boodskap gebring het. Dink
aan die brief aan die Galasiërs. Ander predikers het die Christene in Galasië
geleer om hulle saligheid te bou op ‘n optelsom van Christus se middelaarswerk
en die onderhouding van Joodse godsdienstige reëls en gebruike. Hierdie
boodskap het Paulus vervloek, het ons gelees. Die sprekers van hierdie boodskap
het hy ook vervloek. As jy so ‘n gelowige is, wat ‘n optelsommetjie maak, dan
sê Christus jou nog niks nie.

Ek dink dat
die meeste mense die situasie in Galasië nie so ernstig sou ingeskat het nie. Daar
was ChristenJode, wat vir God al hulle lewe lank gedien het. Die diens aan God
het by hulle in vaste bane geloop. Maar toe het daar ‘n hele groep Christene
uit die heidene bygekom. Paulus het egter bly preek dat dit slegs oor Christus
gaan. Die Joodse Christene het egter die gevoel gehad, die opinie, dat Paulus meer moes sê in sy preke. Want wat het
nou gebeur.  Die heidene het tot geloof
gekom in Christus, maar desnieteenstaande het hulle tog anders gebly as die
Joodse Christene. En daarvan het laasgenoemdes nie eintlik gehou nie. Hulle het
geredeneer: kyk, ons doen baie moeite om nie varkvleis te eet nie. Ons hou ons
aan die reinigingsvoorskrifte. Ons besny ons kinders. Ons doen baie dinge. Maar
die eks-heidene nou? Hulle leef veels te maklik. Dit mag nie. Ons doen so baie
moeite, het hulle doen omtrent niks nie. Dit is nie eerlik nie.

Paulus, in
sy prediking, suggereer asof daar hoegenaamd geen verskil is tussen ons en
hulle nie. Maar besef Paulus dan nie dat ons God al vir jare lank dien nie? Gemeente,
proe u in hierdie redeneertrant die suurdeeg van die Fariseërs?

Dit laat my
dink aan ‘n gelykenis van Jesus. Na afloop van die werkdag deel die heer aan
alle slawe dieselfde loon uit. Die slawe wat slegs een uur gewerk het, het net
soveel gekry as hulle wat die hele dag in die warm son gewerk het. En die heer
het vir die slawe gesê wat hieroor gekla het:

Staan dit my
nie vry om met dit wat myne is te doen, wat ek wil nie?

Of is jou
oog boos, omdat ek goed is? So sal die laastes eerste wees en die eerstes
laaste.

Broers en
suster, pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs. Hier by ons in Maranata sou
dit ook wel waar kon wees. Die laastes eerste en die eerstes laaste. Is jou oog
ook boos, omdat hulle wat nog maar pas lid van die kerk is, nog nie alle
tradisies nakom wat jy wel doen nie? Wil jy vir hulle sê: besef net dat as jy
by ons kerk aansluit, dat moet jy baie doen. Vrye Gereformeerd, dit is ‘n
streng geloof. By ons moet jy baie doen vir jou geloof. Jy kry moeilikheid met
die kerkraad as jy nie twee keer kerk toe kom nie. Jy kry moeilikheid as jy nie
katkisasie toe gaan nie, en nie jou Kategismus ken nie. Ja selfs dit doen ons
nog, ons leer die Kategismus uit ons koppe. Jy kry moeilikheid as jy nie aan ‘n
Bybelstudievereniging behoort nie. As jy trou, moet jy in die kerk trou. En so
kan ons aangaan.

‘n Streng
geloof, wat baie vereis. Jy moet presteer. Maar as jy dit doen, kry jy ook die
sekerheid dat jy gered sal word. In elk geval meer sekerheid as in ander kerke.
Ja by ons kerk moet baie gebeur. En sommiges kla dat bepaalde gemeentelede
nooit tevrede is nie. Alles sou nog strenger moet wees. Reël is reël. Die
standaard moet steeds gelig word.

Nie net
kerkbywoning nie, ook katkisasie, ook Bybelstudie, ook Gereformeerde skool, ook
besoeke bring aan bejaardes. Nooit genoeg, altyd meer en meer. As jy alles
gedoen het wat die kerkraad van jou verwag, hou jy dan nog ooit bietjie tyd vir
jouself oor? Geliefde gemeente, soms vra mens jouself af: Waarmee is ons
eintlik besig? Sondag 24 waarsku ons:

Pas op vir
die suurdeeg van die Fariseërs. Die satan lag. Hy is tevrede as hy Christene in
sy strik vang. Ook hier in Maranata.

Die kerklike
lewe koel dan af tot ‘n klomp starre reëls.

(Tema: Jesus
Christus alleen

1 Pasop vir
die suurdeeg van die Fariseërs)

2 Stel Jesus Christus sentraal

Die mense
praat nie meer oor Christus, oor sy verlossing, oor die lewensgeluk in Hom nie.
Die mense praat oor die reëls.

En as iets
verkeerd gedoen of gesê word, dan word dit uitgebreid bespreek.

En so
verdwyn Christus, wat die Lig is vir die wêreld, op die agtergrond.

En die satan
lag. Ons, oudgediendes in die kerk van die HERE, kan iets leer van die
arbeiders van die laaste uur. Hulle kan ons leer om die diens aan die HERE op
die regte wyse te benader. Ons kry nie ons beloning omdat ons so baie vir die
kerk doen nie. Ons kan van hulle leer hoe Christus weer ‘n groot plek moet kry
in jou lewe.

Paulus, in
sy brief aan die Galasiërs, het die rolle omgekeer. Paulus het korte mette
gemaak met die Fariseëragtige hiërargie onder die Galasiërs.

Geen sprake
daarvan dat die heidenchristene nog ‘n lang pad moes gaan voordat hulle die
vlak van die JodeChristene gehaal het nie. Geen sprake daarvan dat iemand wat
van buite ons kerk kom, nooit werklik Vrye Gereformeerd sal word nie. Dat
hulle, soos soms gesê word, ‘n agterstand het by die oudgediendes. Geen sprake
van, dat ‘n pasbekeerde sake nie skerp kan onderskei nie. Inteendeel, juis
hulle, wat menslik gesproke minder het om hulle op te beroem, juis hulle kan
ons beter leer hoe om slegs in Christus te roem. As u uself nou afvra: Staan
Christus in my lewe sentraal? Hoe weet ek of Christus in my lewe in die
middelpunt staan?

Hoe weet ek
of ek nie dalk ook besmet is met die suurdeeg van die Fariseërs nie?

Hoe weet ek
of die duiwel nie my ook dalk reeds in sy kloue van Fariseïsme gekry het nie? Gemeente,
hierdie vrae is nie moeilik om te beantwoord nie.

Vra uself
net af:  Hoekom gaan ek kerk toe? Hoekom
moet ek alles doen wat hulle in die kerk van my verwag? Hoekom moet ek kollekte
en VVB betaal?

Doen ek dit
omdat dit moet? Of doen ek dit van harte? Voel ek my verontreg as ander dit nie
doen nie? As ander vir my gevoel op ‘n makliker manier kerklid kan wees?

Laat ons
elkeen onsself weer ernstig afvra: Staan Jesus Christus nog in die middelpunt
van my lewe? Of leef ek uiteindelik tog maar net vir myself?

Doen ek alle
dinge wat die kerk van my verwag net omdat dit moet?

En gemeente,
die ander kant van die muntstuk is natuurlik net so waar.

Laat ons ons
ook ernstig afvra: Hang ons kerkgemeenskap maar net aan ‘n klomp reëls? Lê ons
identiteit daarin dat ons dinge doen wat tipies Vrye Gereformeerd is? Voel ons
ongemaklik, as dinge anders is as wat dit altyd was? Of is ons gemeente en
hoort ons bymekaar, omdat Christus sentraal staan? Die onderhouding van alle
reëls en tradisies hou die kerk nie in stand nie. Of om dit in die taal van die
Kategismus te stel: Goeie werke het nie verdienste nie. Die feit dat die kerk
bestaan, die feit dat daar vir u redding is, is uit genade. U ken moontlik die
uitsptraak van die kerkvader Cyprianus: buite die kerk is daar geen saligheid
nie.

Maar daar is
ook nog ‘n ander uitspraak: deur die kerk is daar ook geen saligheid nie. Deur
die nakom van al die eise wat die kerk stel, word jou behoud nie gewaarborg
nie. Deur die reëls van die kerk te volg, waarborg nog nie dat jou kinders in
die geloof sal volg nie. Slegs deur Christus.

Ons hoef nie
bang te wees nie.

Die angs van
die Fariseërs, die angs van die JodeChristene in Galasië, is dieselfde angs wat
die Roomse kerk teen die leer van Luther gehad het.

Dit is
dieselfde angs van u vandag, as u probeer standhou deur vas te hou aan reëls. Moenie
bang wees nie. Stel Christus sentraal in jou lewe, dan kom die res goed. Dit is
presies wat die Kategismus sê in vraag enantwoord 64:

Dit is
onmoontlik dat ‘n mens wat deur ‘n ware geloof in Christus ingeplant is, nie
vrugte van dankbaarheid sal voortbring nie.

Dit is
uiteindelik die enigste doel van die prediking. Ek staan hier op die preekstoel
om u by die Here Jesus te bring. As Hy jou lewe beheers, dan kom die res ook
goed. Ek staan nie hier op die preekstoel om maar net al die reëls uit te
stippel nie.

Hierdie
beginsel is ook so ontsettend belangrik by geloofsoordrag van ouers op kinders.
Geloofsopvoeding beteken nie dat jy die kinders die reëls van die kerk leer
nie. Geloofsopvoeding is primêr dat jy jou kind na die Here Jesus toe bring. Ons
kerk het nie behoefte aan kinders wat kopieë van hulle ouers is nie. Tye
verander, gebruike en tradisies kan ook verander.

Ons kerk het
behoefte aan kinders wat opgroei, wat selfstandig ‘n verhouding kry met die
Here. Wat vrywillig die Here begin dien, omdat hulle hart deur Christus
verander is. Omdat God deur die opvoeding van die ouers, deur die katkisasie,
deur die Gereformeerde onderwys, die hart van steen uit die kind verwyder het
en die kind ‘n hart van vlees gegee het.

Ons kerk het
behoefte aan mense, ook jongmense, wat vrywillig nie net kerk toe kom nie, maar
ook die gemeentevergaderings bywoon, die verenigings besoek, jongmense wat uit
hulleself die bejaardes besoek, wat uit hulleself uitreik na die ander
jongmense wat nie deel van hulle groepie is nie.

Dus
nogmaals, gemeente, in Naam van God roep ek u op: Stel Christus sentraal in u
lewe. As jy dit doen, dan gaan jy al die ander dinge ook doen – vrywillig. As
jy nie lus is vir al die ander dinge nie, is daar ‘n goeie kans dat Christus
nog nie in die middelpunt staan in jou lewe nie. Dat jou geloof nie geloof is nie, maar ‘n klomp reëls. Wie
vir Christus leef, wie deur Christus leef, kan nooit sorgeloos en goddeloos
word nie. Wie vir Hom leef, doen goeie werke. Wie vir Hom leef, sal ook
agterkom dat jy dubbel terug ontvang.  Soos
die spreekwoord lui: wie gee, ontvang dubbel.

Gemeente,
durf u uself toe te vertrou aan Christus alleen? Durf u u kinders toe te
vertrou aan Hom alleen? Of sê u – nee, dit is te min. Daardie boodskap is te
maer. Want jy is bang dat dit dan met die kerk afdraendepad gaan. Vind u
hierdie boodskap te maer? Dit is presies waaroor Sondag 24 gaan. Dit is presies
dieselfde waarvoor Paulus die mense in Galasië gewaarsku het. Jesus Christus
ALLEEN. Alle ander dinge is met sonde bevlek. Ook alle reëls en gewoontes in
ons Vrye Gereformeerde Kerke.

Buite Hom om
is dit met sonde bevlek. Plaas Christus in die middelpunt.

Dit is ‘n
kwessie van vertroue. Besef dat jy die jongmense nie by die kerk hou deur die
reëls uit die verlede in hulle in te dril nie. Dit sal tot gevolg hê, of dat
hulle radikaal met alles breek, of dat hulle self ook aangesteek word deur die suurdeeg
van die Fariseërs. Dat hulle self ook so begin dink, naamlik om te glo, dat dit
is om jou aan die reëltjies te hou wat die kerk oplê. Jy hou jou aan die
reëltjies, maar uiteindelik leef jy tog primêr vir jouself. Jy hou die reëls in
soverre dat jy nie moeilikheid kry nie. Jy gaan kerk toe, maar nie van harte
nie. Jy sit in die kerk, maar jy luister nie werklik nie. Jy sing, maar nie van
harte nie. Jy gaan katkisasie toe, of Bybelstudie, maar nie van harte nie. Dit
is reëltjiesgeloof.

‘n Geloof
wat dood is. Sulke mense is nie die toekoms vir die kerk nie.

Daarom, voed
u kinders op dat hulle ‘n geloofsband kry met Christus.

Lê klem daarop in die opvoeding, nie in die
eerste plek op die reëltjies nie.

Is dit nie
gevaarlik nie? Hou mens die jeug so vas? Geliefde gemeente, met reëltjies hou
mens die jeug nie vas nie. Vertrou hulle toe aan Christus.

Vertrou
uself eers toe aan Christus.

As Christus
die middelpunt is van u eie lewe, as Christus die middelpunt is van u
opvoeding, dat doen Christus die res wel. Dit is die troos van v/a 64:

Dit is
gewoon onmoontlik, dat iemand wat in
Christus ingeplant is, verkeerd sal uitdraai. ‘n Goeie boom kan nie slegte
vrugte dra nie, of ‘n slegte boom goeie vrugte nie. Dit is Jesus wat ons self
hiervan verseker in Mattheüs 7:18. Ek is die wynstok, julle is die lote. Wie in
My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie
(Joh 15:5).

Dit is
gewoon onmoontlik, as u as ouer generasie in die kerk die jeug geleer het om op
Christus te vertrou, dat die kerk op ‘n afdraende pad tereg sal kom. Dit wil
nie sê dat die Vrye Gereformeerde Kerke oor x aantal jare presies dieselfde sal
lyk as hoe dit nou lyk nie. Maar as u die jeug geleer het om op Christus te
vertrou, op Hom alleen te bou, sal daar in die toekoms ‘n goed funksionerende
gesonde liggaam van Christus wees. Maar wie vandag die jeug slegs bind aan die
reëls van die voorgeslag, sal oor x aantal jare nie veel terugvind nie. Mag God
dit verhoed.

Vyf eeue
gelede, toe Luther gepreek het wat nou in v/a 64 van die Kategismus staan, het
die Roomse kerk sy hart vasgehou. Met so ‘n leer, dat jy slegs op Christus hoef
te vertrou, met so ‘n leer kry jy chaos in die kerk.

Met so ‘n
leer kweek jy sorgelose en goddelose mense. Maar dit het geblyk dat dit nie
waar was nie. Uit die Reformasie het ‘n kerk te voorskyn gekom, gemotiveerd en
volledig aan God toegewy. Sorgloosheid en goddeloosheid het nie ingetree nie. Dit
het uitgekom dat die Protestante nog veel heiliger geleef het as watter heilige
in die Roomse kerk ook al.

Miskien hou
u ook u hart vas? Laat ons, net soos toe, teruggaan na die bron.

Die bron is
Christus. Moenie jou vastigheid probeer soek in reëls, in vertroude gebruike
nie. Daarmee bou jy nie die kerk nie. Stel Christus sentraal in jou lewe. Wie
Christus liefhet, het geen moeite met al die gebooie nie, ja kom al die gebooie
vrywillig na. En kla nie steeds, dat hy soveel vir die kerk moet doen nie. Maar
sing eerder: neem my lewe, laat dit Heer, u gewy wees meer en meer.

Amen.

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)