Die troue Verbondsgod neem stappe om sy volk te bewaar

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-09-11
Teks: 
Ester 2 : 8-23
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 11 September 2016 AD,
10:15

Votum

Seën

Ps 115:1,2

Wet

Ps 69:7,8

Gebed

Skriflesing:
Ester 2

Ps
78:20,22,23

Teks: Ester
2:8-23

Preek

Ps 110:6,7,8

Gebed

Kollekte

Ps 34:4,7

Seën

Preek: Ester 2:8-23

Verlede week
het ons aandag geskenk aan die bittere afloop van die sprokiesagtige fees wat
Ahasveros georganiseer het.

Die tema was
verlede week: Die hopeloosheid van die heidendom.

In hoofstuk
1 het die skrywer ons aandag gevestig op die korrupte regstelsel van die
heidendom, asook die absolute onderdrukking van die vrou, en dat sy verander
tot ‘n lusobjek.

Vandag kyk
ons in hierdie serie oor Ester verder, en ek mag u God se Woord verkondig met
hierdie tema:

Die troue Verbondsgod neem stappe om sy volk
te bewaar

  • Die heidense skoonheidskompetisie

  • Ester se kritieklose deelname

  • Mordegai se eiebelang

  • Die HERE se hand in dit alles

  • Die heidense skoonheidskompetisie

    Ahasveros
    het oorlogsplanne gehad teen Griekeland. Dit het hy met sy vorste en generaals waarskynlik
    beplan tydens die sprokiesagtige fees waarvan ons in hoofstuk 1 gelees het. So
    word ook begryplik hoekom Ahasveros in sy derde regeringsjaar koningin Vasti
    verstoot het, en eers in sy sewende regeringsjaar Ester tot Vasti se opvolgster
    aangewys het (Ester 2:16).  Tydens die
    vier tussenliggende jare (483-479 vC) is sy aandag opgeëis deur die oorlog teen
    die Grieke, waarin hy ‘n groot nederlaag sou ly.  Die oorlog het die geskiedenis ingegaan as
    die groot veldslag en nederlaag van die Perse by Thermopulae. Tydens hierdie
    oorlogsjare, toe Ahasveros weg was uit Susan, het die proses al begin, die
    seleksieprosedure van skoonheidstalente.

    Die
    jongmanne wat aan die koning voorgestel het om solank op soek te gaan na
    jongmeisies wat mooi van aansien is. Let op die absolute mag van die koning,
    die feit dat die jongmanne die koning nie direk aangespreek het nie, maar slegs
    in die sogenaamde derde persoon: Laat die koning;

    Dit was net
    sy naaste en hoogste onderdane wat hom direk mog aanspreek met ‘u’, slegs
    persone soos die koningin of die belangrikste minister.

    En so het
    die proses begin om in al die provinsies van sy koninkryk op soek te gaan na
    vroulike talent, en om hulle saam te bring onder toesig van die hofdienaar
    oftewel eunug, Hege, die bewaker van die vroue.

    So het dit
    gegaan in heidense koninkryke. En wat het die koning eintlik gekeer? Hy kon
    maak en breek in sy land soos wat hy wou. Sy koninklike mag is nie ingeperk
    deur God se wet nie. Dink aan Deuteronium 17, wat ‘n koning verbied het om vir
    hom baie vroue en byvroue in ‘n harem te versamel. In sy koninkryk was daar ook
    nie profete  wat die konings herinner het
    aan die feit dat hulle slegs diensknegte van God was nie.

    Dink aan hoe
    Dawid in die bek geruk is deur die profeet Natan en Agab en deur die profeet
    Elia (1 Sam 12:1vv; 1 Kon 21:17vv).

    Die heidense
    maghebbers het die teuel van God se wet en profete gemis.

    As
    oud-Oosterse diktator het Ahasveros absolute beskikkingsmag gehad oor al sy
    eiendomme. En oor al sy onderdane en hy kon vat net wat hy wou, die dogters van
    die volk ingesluit. Die koninklike beamptes het dit as die gewoonste saak
    beskou om die mooiste meisies vir die koning op te eis, of enige vrou wat hom
    geval het. So het destyds koning Farao ook gemaak, toe Abraham en sy mooi vrou
    Sara hulle in Egipte gaan vestig het.

    Net so het
    Abimeleg ook gedoen, en Abraham was ‘n papbroek om daarteen in verset te kom
    (Gen 12:11-20; 20:2; 26:7)

    In vandag se
    tyd sien ons hierdie tendense nog steeds. Dink aan ons eie president wat vir
    hom die een na die ander vrou vat. Dink aan die koning van Swaziland, wat elke
    jaar vir hom ‘n meisie uit die volk uitsoek.

    Uit alle
    hoeke van sy koninkryk kom daar dan meisies vir die geleentheid, hopende dat
    die koning hulle sal uitkies.

    Uit hoofstuk
    2 van Ester blyk dat die talent, waarop die koninklike beamptes moes let, juis
    die uiterlik van die meisies was. Oor hulle karaktereienskappe word geen woord
    gerep, laat staan hulle godsdienstige instelling. Soos ons in verlede week se
    preek gehoor het, daar waar die Woord van die HERE nie die rigsnoer in die lewe
    is nie, verander die vrou tot ‘n lusobjek. Terwyl die Bybel ons juis oproep om
    ander prioriteite te hê.

    “Die
    bevalligheid is bedrog, en die skoonheid is nietigheid; ‘n vrou wat die HERE
    vrees, sy moet geprys word.” (Spreuke 31:30)

    Laat ons
    Christen jongmanne wyser wees as die heidene en hulle nie blind staar op die
    uiterlik nie.

     

    Hierdie
    meisies wat deur die koninklike beamptes saamgevat is, was betreurenswaardig. Vir
    almal van hulle behalwe een het ‘n uitsiglose bestaan in ‘n harem gewink. Maar
    wie weet, tien teen een was daar meisies, en ook hulle ouers, wat trots was op
    die feit dat hulle dogter geïdentifiseer is as ‘n talent. So verblind raak
    mense deur die heidendom.

    So verblind
    raak mense nog steeds vandag deur die afgodery van ons tyd.

  • Ester se kritieklose deelname

    Is Ester
    teen haar wil geforseer in die harem in?  Moes sy teen haar wil en met teensin al die
    skoonheidsterapieë ondergaan? Die boek Ester gee hieroor geen finale
    uitsluitsel nie. Was dit moontlik dat sy heeltemal teen haar sin in hierdie
    ding ingedwing is. Die beskrywing dui eerder daarop dat sy, wat afkomstig was
    uit ‘n Joodse gesin wat reeds wêrelds geleef het, uit eie keuse deelgeneem het
    aan hierdie skoonheidskompetisie, met die ideaal om moontlik mejuffrou Persië
    te kan word. Die skoonheidsbehandeling het sy ondergaan vir 12 maande. Die
    voorgeskrewe dieet het sy gevolg, in teenstelling tot iemand soos Daniël en sy
    vriende, wat geprotesteer het teen die onrein voedsel wat hulle aan die hof
    gekry het (Dan 1:8-16).

    Net vir die
    duidelikheid, die eet van onrein voedsel was een van die redes hoekom die HERE
    sy volk in ballingskap gestuur het! Dit was ‘n teken van verbondsverlating van
    God se volk. Ons lees in Esegiël 4:13: “Toe sê die HERE: So sal die kinders van
    Israel hulle brood onrein eet onder die nasies waarheen Ek hulle sal verdrywe.”
    As sy volk in hulle eie land al nie trou wou bly nie, sou die HERE tot hulle
    beproewing en straf dit vir hulle net nog moeiliker maak in die ballingskap.

    Die een ding
    lei natuurlik tot die ander. Ester het naamlik, in opdrag van haar oom, haar
    Joodse afkoms verswyg. En nou kon sy nie ewe skielik, as die kos opgedien word,
    beswaar maak teen voedsel wat volgens die Torah onrein was nie. Dus die eerste
    beslissing om haar afkoms te verswyg, het alle daaropvolgende prinsipiële
    keuses net soveel moeiliker gemaak.

    Vandag is
    dit nog net so. As jy nie van die begin af, as jy by ‘n nuwe werk begin werk,
    vir jou baas verduidelik dat jy as Christen nie op Sondag wil werk of reis nie,
    dan gaan dit later net soveel moeiliker wees, as jy voor ‘n voldonge feit
    geplaas word.

    Ons lees
    verder dat Ester presies volgens Hegai se instruksies opgetree het.

    Hegai was
    die ekspert as dit oor mode en styl gegaan het. Die skoonheidsbehandeling het
    onder meer behels dat die meisies ingesmeer is met verskillende middeltjies,
    mirreolie en balsem byvoorbeeld.

    Die doel
    hiervan was onder andere om vlekkies op die vel weg te werk en ook om die
    velkleur ligter te maak. Waar ‘n bruingebrande vel deesdae vir ons mode is, was
    in die midde-ooste juis ‘n ligter vel mode, net soos die geval is by die
    swartmense. Geld het geen rol gespeel nie.

    Die meisies
    kon kies uit klere en sierade net soos hulle wou, vir die aand as hulle na die
    koning sou gaan. Die koning het hulle dan ‘n nag lank gebruik, waarna hulle
    oorgeplaas is na ‘n ander afdeling van die harem.

    Hulle het
    slagoffer geword van die koning se ongebreidelde seksuele begeerte en hebsug.

    Boonop was
    Hegai meer as enigiemand op die hoogte van die koning se persoonlike smaak en
    voorkeure. Ons lees in vers 15: Toe die beurt van Ester kom om in te gaan na
    die koning, het sy niks verlang nie, behalwe wat Hegai, die hofdienaar van die
    koning gesê het. Daarin het haar sukses dan ook geskuil, dat sy strik die raad
    van die mode ekspert gevolg het. Dit alles wys in ‘n rigting. Die rigting van
    ‘n Joodse meisie wat ingesuig is in ‘n wêreldse lewenstyl en heeltemal sonder
    onderskeiding daaraan deelgeneem het. Dit val op in ons teks, die passiewe
    houding van Ester.

    As sy dit
    teen haar wil sou gedoen het, sou sy nooit so voor Hegai, en uiteindelik so
    voor die koning kon skitter nie. Die gegewens in die boek Ester wys almal
    eintlik in die rigting dat sy en haar oom Mordegai nie ernstig was oor hulle
    geloof nie. Is dit nie die geval by baie kinders van God se volk, deur die eeue
    heen gewees nie? Is dit vandag nie ook nog die geval nie? Is daar nie ook in
    ons dae Christenmeisies wat ywerig aan skoonheidskompetisies deelneem nie? Mejuffrou
    Oos Moot. Mejuffrou Affies . Mnr Oos Moot selfs deesdae.

    Dalk dink
    sommiges selfs dat daar niks mee fout is, want ons lees mos in die Bybel, in
    Ester, ook oor ‘n skoonheidskompetisie. Dit wys jou hoe die Bybel voor die mens
    en sy tydsgees se karretjie gespan kan word.

    En susters,
    toe ons die teks vanoggend gelees het, het u in u hart dalk ‘n bietjie verlang
    na so ‘n skoonheidsbehandeling, vir ‘n hele jaar lank?

    Ja ook in
    ons tyd is dit so, net soos in Ester se tyd, dat uiterlike skoonheid skynbaar
    status gee. Dit staan haaks op wat ons byvoorbeeld in die huweliksformulier
    lees, waar die bruid opgeroep word:

    “U moet aan
    u gesin en huishouding die regte aandag gee. Verder moet u ingetoë, eerbaar en
    heilig in liefde lewe.”

    Maar ja,
    deesdae word daar in baie ‘kerke’ amper geen formulier meer gelees as ‘n
    paartjie in die huwelik tree nie. Die bruid word nie meer gewys op die feit dat
    haar aandag en tyd primêr moet uitgaan na innerlike, en nie na uiterlike
    skoonheid nie. Daar word nie meer verwys na die voorbeeld van die heilige vroue
    in Skrif, wat sy moet navolg nie. Ja die huweliksdag self het ook een groot uiterlike
    vertoon geword. Christenmeisies volg eweneens die wêreldse trends met hulle
    trourokke, en soos ons weet is kuisheid in die wêreld nou nie juis ‘n
    prioriteit nie. ‘n Wêreldse lewensstyl, deelneem sonder onderskeidingsvermoë
    aan alles wat die samelewing bied, dit was die styl van Ester, en dit is die
    styl van baie Christenmeisies vandag ook.

    Die outeur
    van Ester beskryf dit, en wie wys is en God se goeie wette ken, merk dit op. Hier
    gaan dinge nie reg nie. Hier is verbondsafval. Hier sluip die verrotting van
    die wêreld die kerk binne. Wie wys is, merk dit op, en leer sy of haar lesse
    daaruit. Die HERE bly trou aan sy verbond, maar dit was ten spyte van sy
    verbondskinders se ontrou. Hulle het met hulle saligheid gedobbel. Uit genade
    het God sommiges van hulle met sy herderstaf teruggetrek na die kudde.

    Ons teks
    maak presiese melding van die datum waarop Ester na die koning gegaan het –
    sien vers 16. Dit tel hierdie geskiedskrywing bo ‘n sprokie uit.

    Die skrywer
    sien hierin die hand van die HERE, hoe Hy alles gelei het.

    Dit was kort
    nadat Ahasveros sy mislukte veldtog teen Griekeland gehad het. Hy het
    gedesillusioneerd teruggekeer, en soos ‘n buitebybelse geskiedskrywer opmerk,
    sy troos toe gesoek in verskillende liefdesaffêres.

    Die HERE het
    dit alles so gelei, dat Ester toe op daardie stadium in al sy behoeftes
    voorsien het. Sy was die een wat by hom die voorkeur verwerf het bo al haar
    mededingsters. Koning Ahasveros het sy besluit geneem.

    Daar was
    weer ‘n nuwe koningin. Vers 18 vertel dat daar weer eens ‘n groot fees
    georganiseer is, wat ook dae geduur het. Ter ere van koningin Ester het die
    koning ‘n feesmaal aangerig vir al sy vorste en dienaars.

    Daar is ook,
    soos vers 18 sê, ‘n vrye dag bepaal en eg koninklike geskenke uitgedeel. Mens
    moet hier dink aan dinge soos koninklike amnestie vir gevangenes, kwytskelding
    van belastings en sulke koninklike tegemoetkomings vir die provinsies.

  • Mordegai se eiebelang

    Vervolgens
    verskuif die outeur van Ester se aandag na Mordegai. Vir hom het die feit dat
    Ester nou gekies is om opgeneem te word in die koning se harem, nuwe
    loopbaanmoontlikhede beteken. Mordegai het in die poort van die koning gesit. Hierdie
    uitdrukkig dui daarop dat hy ‘n regerinsfunksionaris was. En toe dinge nou so
    ontwikkel dat Ester ‘n voorsprong op haar mededingsters begin kry het, lees ons
    nêrens dat haar oom, wat oor haar gesag gehad het, haar probeer afrem het nie. Nêrens
    lees ons dat hy hom profeties krities uitgelaat het oor die moontlike gemengde
    huwelik wat Ester in die gesig gestaar het nie. Nee, daarenteen, hy druk haar
    op die hart om haar afkoms (2:10) nie kenbaar te maak nie.  Hy stimuleer haar dus juis. Want om haar
    afkoms bekend te maak sou nie bygedra het tot die moontlikheid van invloed en
    mag wat hierdie ontwikkeling hulle gebied het nie. Aanpassing was die in-woord.

    Aanpassing
    by die wêreld.

    Dat Mordegai
    volledig aangepas het by die doen en late aan die koninklike hof, blyk ook uit
    die gedeelte wat vertel dat hy ‘n aanslag op die konink gefnuik het. Twee
    hofdienaars, Bigtan en Teres, het die koning om die lewe probeer bring.

    Nou moet
    mens hierdie sluipmoord in sy konteks verstaan. In die heidense monopolie wat
    koning Ahasveros gehad het, was daar geen ruimte vir kritiek of opposisie nie. Daar
    was nie grondwetlik vasgestelde prosesse waardeur ‘n volk sy koning of
    president kon hof toe vat nie. Al manier om van so ‘n maghebber ontslae te
    raak, was deur hom uit te skakel.

    So was dit
    in die Persiese Ryk, alles was ondergeskik aan die koning en sy
    wispelturigheid. Geen enkele opposisie is geduld nie. Al manier om van hom
    ontslae te raak, was deur hom te vermoor, wat toe ook gebeur het, ‘n aantal
    jare later. En dit was nota bene een van hierdie hoogs persoonlike raadgewers
    van die koning, eunugs, wat betrokke was by die moordaanslag op Ahasveros in sy
    slaapkamer. Dit was tipies ‘n sweer van verdenking en wantroue wat aan die hof
    geheers het. Niemand mog ongevraagd voor die koning verskyn nie, want wie weet
    was dit ‘n sluipmoordenaar. Die koning het hom omring deur sy mees lojale
    lyfwagte.

    Dit laat
    mens wonder hoekom Mordegai die aanslag wat twee hofdienaars, Bigtan en Teres,
    teen die koning beplan het, verydel het. Sou dit nie juis eties korrek gewees
    het van hulle om so ‘n despoot van ‘n koning om die lewe te bring nie? Toe
    Hitler aan die mag was, is daar ‘n keer ‘n aanslag op sy lewe beplan. Daar was
    ook ‘n dominee by die aanslag betrokke, Dietrich Bonhoeffer. Die aanslag het
    egter misluk, en die samesweerders is opgehang, Bonhoeffer ook. Deesdae word hy
    egter as ‘n held vereer, ‘n Christenmartelaar uit die 20e eeu, omdat hy die
    moed gehad het om teen ‘n tiran op te staan.

    Maar om
    terug te kom by Ester en Mordegai, in daardie tyd was hulle al so in die kliek
    van die koning ingesuig, dat ‘n suksesvolle aanslag op koning Ahasveros
    ongetwyfeld ook hulle dood sou beteken het. Mordegai het dus uit eiebelang
    gehandel, en in belang van Ester wat toe al koningin was.

    Daarom,
    Bigtan en Teres se aanslag op die koning was ook ‘n aanslag op hulle, en op
    hulle, Mordegai en Ester, se sukses in die lewe.

    Tog is
    Mordegai nie daarvoor beloon nie, altans nie dadelik nie.

    Hierin sien
    ons ook die HERE se leiding.

  • Die HERE se hand in dit alles

    God se
    leiding is nie net in spektakulêre wonders nie, maar ook in onopvallende dinge:
    soos die koning se dronkenskap; die koning se slapelose nag later; en ook die
    feit dat Mordegai tans geen beloning ontvang het nie. Die HERE lei alles. Vasti
    is vervang met Ester, en so tref God reeds jare voordat Haman sy moordplanne
    teen Israel begin beraam, reeds voorsorgsmaatreëls om die plan te verydel. Soos
    Luther ‘n keer gesê het: God is die satan altyd ‘n paar stappe voor. Soos ons
    in Spreuke 19:21 kan lees: “Baie planne is in ‘n man se hart, maar die raad van
    die HERE, dié sal bestaan.”

    Al het Ester
    en Mordegai hulle vrywillig in hierdie goddelose avontuur gestort, al kon dit
    nooit volgens God se wil gewees het nie, sy wil soos geopenbaar in sy Torah,
    nietemin het God dinge gelei volgens sy plan.

    Wie kon toe
    reeds vermoed waarmee God besig was?  Eers
    jare later het duidelik geword dat Hy toe sy hand beskermend oor sy volk begin
    hou het.

    Ter wille
    van die Messias, wat 480 jaar later uit Juda gebore moes word, het Hy nou
    hierdie maatreëls getref, aan die hof van die Persiese wêreldryk.

    Hy het ‘n
    Joodse weesmeisie vanuit niks na vore geskuif, en haar pad oopgemaak na die
    Persiese troon, aan die sy van die toenmalige wêreldheerser. In hierdie
    geskiedenis is dit asof God verborge is, asof Hy nie in Babel enige invloed
    gehad het nie. Selfs sy verbondskinders het name gehad wat aan die afgode eer
    bewys. Hulle het in die land van ballingskap bly voortleef, asof die
    Verbondsgod nie meer bestaan het nie, asof sy tempel nie weer herbou is nie. So
    was dit ook met Mordegai en sy voorgeslag. Sy oupagrootjie Kis, uit die stam
    Benjamin, is uit Jerusalem weggevoer. Maar in die loop van die geslagte het
    hulle steeds verder van die HERE en sy diens afgedwaal. Tog word die HERE se
    aanwesigheid, ja selfs sy almag ook in die stad Babel, en ook in die vesting
    Susan, al hoe duideliker uit sy dade in die boek Ester. Mordegai en Ester, wat
    ver afgedwaal het, omdat hulle afstam van grootouers wat nie aan die oproep om
    terug te keer gehoor gegee het nie, hulle word deur die HERE nou self opgesoek.
     Die HERE gryp kragdadig in hulle lewens
    in.

    God se Naam
    word in Ester nie genoem nie.  Maar sy
    groot dade spreek boekdele. God se ongenoemde Naam is soos ‘n watermerk in ‘n
    geldnoot.

    Oppervlakkig
    sien mens dit nie, maar as mens die noot beter bestudeer, wel. En so, as ons
    Ester goed bestudeer, sien ons hoe God die aktiewe leidende Hoofpersoon is in
    hierdie boek.

    Hierdie boek
    beskryf hoe God sy kerk bewaar het in hierdie eeu van die geskiedenis, toe die
    Persiërs die wêreld beheers het.

    Hierdie boek
    teken die geskiedenis as ‘n skaakspel tussen God en statan.

    God plaas sy
    pionne betyds, Hy is satan elke keer weer myle voor.

    Amen.

     

Liturgie: 

(kyk in preek)