Die hopeloosheid van die heidendom

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-09-04
Teks: 
Ester 1 : 12-22
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 4 September 2016 AD, 10:15

Votum: Ps
121:1

Seën

Ps 117:1

Wet

Sb 28:2,3

Gebed

Skriflesing:
Ester 1:10 – 2:4

Ps 10:8,9,10

Teks: Ester
1:12-22

Preek

Ps
86:5,7,8,9

Gebed

Kollekte

Ps 48:2,4

Seën

Preek: Ester 1:12-22

Ons het
laasweek aandag geskenk aan die sprokiesagtige fees van koning Ahasveros. Ons
het gekyk na die beskrywing van die fees, al die uitspattige weelde. Ons het
ook gekyk na die doel van die fees.

Ahasveros
wou sy rykdom en mag uitstal, maar onderdeel daarvan was dat hy ook sy
onderhorige vorste se samewerking wou kry vir ‘n beplande veldtog teen
Griekeland. Ons het ook gekyk na die kritiek op die fees.

God se wette
aan Moses gegee stippel ook uit hoe ‘n koning hom moet gedra. ‘n Wyse koning,
leer ons uit Deuteronomium 17, mag nie vir hom baie vroue aanskaf nie, ook mag
hy nie vir homself uitermate baie silwer en goud aanskaf nie. Ook mag hy nie
vir hom baie perde aanskaf nie. (Deut 17:16-17) Teen al hierdie reëls het die
heidense Ahasveros oortree.

Ja, God se
Woord is krities op konings en presidente wat maak net wat hulle wil. Vervolgens
het ons na die bittere afloop van die fees gekyk.

Dit het op
‘n dieptepunt geëindig, as gevolg van Ahasveros se dronkenskap en trots. Vandag
kyk ons verder na hoe die fees afgeloop het.

En in al
hierdie gebeure, dit was die tema van die preek verlede week, in dit alles sien
ons die Almagtige se leiding in Ahasveros se sprokiesagtige fees.

Tema: Die hopeloosheid van die heidendom

  • ‘n korrupte regstelsel

  • ‘n blatante uitbuiting van die
    vrou

  • ‘n korrupte regstelsel

    In hoofstuk
    1 word vermeld dat koningin Vasti die gasvrou was vir ‘n aparte fees vir die
    vroue. Volgens Ahasveros was Vasti, sy vrou en koningin, die allermooiste van
    sy hele harem. En noudat hy al sy rykdom en mag getoon het gedurende die half
    jaar lange fees, wou hy sy gaste ook nog beïndruk met sy mooiste besit: Vasti. Hulle
    mog ook haar besigtig.

    En soos die
    spreekwoord sê, as die wyn in die man is, is die wysheid in die kan. Of soos
    daar in Spreuke 20:1 staan: “Die wyn is ‘n spotter, en sterk drank ‘n
    lawaaimaker; en elkeen wat daardeur bedwelmd raak, is nie wys nie.” Die sewe
    persoonlike bediendes van die koning kry opdrag om haar te gaan haal. Hierdie
    sewe bediendes was eunugs, gekastreerde manne.

    Maar toe
    hulle by Vasti aankom, blyk dit dat sy meer besit het as net uiterlike
    skoonheid. Skynbaar het sy darem die moed en karakter gehad om nee te sê vir ‘n
    klomp dronklappe. Wat Vasti daartoe gebring het om te weier, weet ons nie, want
    sy het waarskynlik baie goed besef watter risiko sy vat. In die oud-Oosterse
    heidendom het ‘n vrou geen regte gehad nie.

    Die
    beskermde posisie wat die wette van Moses aan ‘n vrou gebied het, het die
    heidense volke nie geken nie. Daar het die reg van die sterkste gegeld.

    Terwyl God
    se wette aan Moses juis daarvoor gesorg het dat die swakkere in die samelewing
    beskerming vind. Tien teen een het Vasti geweet dat dit haar duur te staan sou
    kom. Tog het sy geweier.

    Agteraf kan
    ons maar net sê dat die HERE op daardie oomblik gesorg het dat sy haar voet
    dwarsgesit het.

    Dat sy nee
    gesê het vir die magtigste man in die wêreld.

    Voor die oë
    van sy vorste, generaals, ministers het sy hom verneder.

    Ook het die
    HERE gesorg dat die drank dubbel en dwars sy werk gedoen het ten opsigte van
    Ahasveros se humeur.

    Hy het
    witkwaad geword en dit as ‘n verskriklike belediging beskou.

    Vasti het
    ervaar wat Spreuke 20:2 sê: “Die dreiging van die koning is soos die gebrom van
    ‘n jong leeu; wie hom vertoorn, verbeur sy lewe.”

    En dit het
    nie net by toorn gebly nie, Ahasveros was vas van plan om haar terug te
    kry. Ewe formeel het hy hom tot sy raadgewers gewend, die hoogste advies en
    regsliggaam in die koning se diens. Sewe Persiese vorste het in hierdie kollege
    die vernaamste plekke ingeneem:

    Karsena,
    Setra, Admata, Tarsis, Meres, Marsena en Memugan.

    Hulle, staan
    daar in vers 14, het die aangesig van die koning gesien.

    In
    teenstelling tot die gewone burgers wat nooit voor die koning mog verskyn nie,
    mog hierdie topadviseurs met die koning in gesprek tree.

    Die vraag
    wat die koning aan hulle voorgelê het, was:

    wat moet
    daar volgens reg en wet gebeur met koningin Vasti, noudat sy nie die bevel van
    die koning gehoorsaam het nie.

    Reg en wet
    is natuurlik hier baie relatiewe begrippe.

    As mens na
    God se wetboek kyk wat Hy aan sy verbondsvolk gegee het, dan lees ons
    byvoorbeeld van die beginsel van hoor en wederhoor.

    Deuteronomium
    1:17 byvoorbeeld: “Julle mag in die gereg nie partydig wees nie; julle moet
    klein sowel as groot aanhoor; julle mag niemand ontsien nie, want die gereg is
    die saak van God.”

    Die Persiese
    regsgeleerdes en topadviseurs het egter met ander raad gekom. Nêrens lees ons
    dat koningin Vasti ‘n eerlike kans gekry het om haar kant van die saak te stel
    nie. As hierdie kenners van wet en reg tog maar net vir die koning geadviseer
    het:  wag tot môre, wag tot u roes
    uitgeslaap is, en kom ons luister dan net eers na Vasti se motief, hoekom sy
    hierdie versoek geweier het. As dit sou gebeur het, dan sou die hele episode waarskynlik
    met ‘n sisser afgeloop het.

    Maar
    ongelukkig, nee, in die heidense regsstelsel was daar nie objektiwiteit nie,
    geen wigte en teenwigte, geen hoor en wederhoor nie.

    Die koning
    was ‘n absolute alleenheerser, ‘n despoot, en die advies van die regsgeleerdes
    was eintlik niks meer nie as om aan te voel wat die koning graag wou hoor, en om
    sodoende hulle eie posisies veilig te stel.

    Hierdie
    regspraak het nie berus op waarheid en reg nie, maar op oormag.

    Dit het
    daarvan uitgegaan dat Vasti as vrou in wese geen regte gehad het nie. En noudat
    sy dit vir haarself opgeëis het, het sy te ver gegaan.

    Sy sou ‘n
    les geleer word, aan die kant geskuif word, en ‘n meisie nog mooier as sy sou
    in haar plek koningin gemaak word.

    Dit was die
    advies van die raadgewers.

    Ons verstaan
    deesdae hier in Suid-Afrika hierdie episode baie goed, en ons besef opnuut hoe
    belangrik dit is dat daar wigte en teenwigte moet wees, hoor en wederhoor. As
    ‘n land se regering so word dat die president die alleenheerser is, en as hy sy
    pionne orals geplaas het, van die ministers tot die regters in die howe, en as
    niemand hom meer durf teen te spreek nie, dan is so ‘n land in ‘n
    betreurenswaardige posisie.

    Om terug te
    kom by hoofstuk 1, na die nodige oorleg het die sewe raadgewers met ‘n voorstel
    gekom. Was dit ‘n wyse voorstel?

    Dit het in
    elk geval nie van Bybelse wysheid getuig nie.

    Jakobus 3:17
    leer ons: “die wysheid van bo is ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik,
    geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins.” Nou van
    sulke wysheid het hulle advies allermins getuig. Hulle was allermins
    onpartydig.

    Hulle het
    die koningin op geen enkele wyse in beskerming geneem nie.

    Hulle het
    geen enkele wyse poging gedoen om die koning se toorn bietjie te laat bedaar
    nie. Kortom, hierdie raadgewers was nie wys nie, hulle was slu en skelm. Hulle
    het die saak opgeblaas, asof die koningin nie net teenoor haar man oortree het
    nie, maar teenoor elke vors van al die provinsies, ja selfs teenoor elke man in
    die hele koninkryk.

    Dit sou
    volgens hulle ‘n skandaal deur die hele ryk word.

    Sê nou maar
    al die vroue wat op Vasti se fees was, sou dieselfde begin doen? En daarom, was
    Memugan se gevolgtrekking, nie net Ahasveros se status was op die spel nie,
    maar die baasskap van elke man in die hele ryk.

    Die advies
    aan die koning was dus om kragtige maatreëls te neem.

    Vasti moes
    van haar koninklike waardigheid gestroop word.

    Op slinkse
    wyse het die raadgewers Ahasveros weer laat goed voel.

    Ten spyte
    van sy dronkenskap, ten spyte van sy woede-uitbarsting, het hy dus eintlik iets
    goed gedoen vir sy koninkryk, so het hulle die storie omgebuig! Danksy hierdie
    affêre is daar is nou ‘n geleentheid om ‘n bevelskrif te laat uitgaan, dat al
    die vroue aan hulle mans eer moes bewys.

    Eintlik kon
    Ahasveros goed voel oor homself, so werk die raadgewers behendig op sy
    gevoelens in. Hierdie diplomatiese verleentheid word omgebuig, asof die koning
    die vader van die ryk is, en met sorg waak oor die huisvrede in sy koninkryk. ‘n
    Masker om die werklike sake te kamoefleer, ‘n mooi voorgewel, waaragter ‘n
    gekraakte en skeefgesakte huis weggesteek word.

    En onthou –
    u ryk is groot! Hierdie opmerking wat Memugan daaraan toevoeg in vers 20, is puur
    om die koning te vlei.

    Orals, tot
    in die verste uithoeke van die ryk, moes die man die baas in sy huis wees en sy
    volkstaal praat.

    Hierdie
    laaste opmerking verwys na huise waar die man en die vrou verskillende tale
    gepraat het. Voortaan moes die wet wees: die man se taal moet gepraat word. Die
    vrou moet maar moeite doen om die man se taal aan te leer. En sy moet die
    kinders in haar man se taal opvoed. Punt uit.

    En so is
    Memugan se voorstel tot wet verhef.

    Die indruk
    word in hierdie hoofstuk gewek dat dit alles in die bestek van een dag
    plaasgevind het. Mens moet in gedagte hou dat Vasti se weiering voor die
    publieke oog van die hele ryk gebeur het.

    Altans, voor
    al die vorste en vernames van die ryk.

    Dit verklaar
    gedeeltelik waarom die raadgewers sulke geweldige swaar maatreëls voorstel, ons
    sou sê, met ‘n kanon op ‘n muggie skiet. Ahasveros se reputasie voor die oë van
    al die belangrikes in sy ryk was op die spel.

    Maar daar
    was nog ‘n rede, hoekom die raadgewers met so ‘n swaar voorstel gekom het. Eintlik
    ‘n baie skelm advies.

    Hulle het
    die wispelturigheid van hulle koning geken.

    As hy môre
    spyt sou kry dat hy sy vrou verstoot het, as hy na haar sou terugverlang, dan
    kon dit hulle as raadgewers duur te staan kom.

    As
    Ahasverors Vasti sou terugneem, as Vasti dit sou regkry om weer in die koning
    se guns te kom, dan sou haar wraak teen hulle as raadgewers bitter wees. Daarom
    direk die advies daarby: gaan op soek na ‘n nuwe koningin.

    En so is dit
    ook daar en dan vasgelê, volgens die wette van die Perse en Meders.

    Die
    raadgewers dek hulleself hier baie goed in, dit moet nie net ‘n koninklike
    besluit wees nie. Dit moet ‘n edik wees, ja selfs nog meer: ‘n wet van Perse en
    Meders, sodat selfs die koning nie daarop terug kan kom nie.

    Vasti is
    onherroeplik aan die kant geskuif.

    Daar moet op
    soek gegaan word na ‘n nuwe koningin.

    En so
    verstoot Ahasveros, bedwelm deur die drank, sy vrou en koningin.

    Ahasveros is
    wispelturig. Hy val maklik vir geleentheidsraad, wat hom op daardie oomblik die
    beste uitkom. Hy het geen sig op lang termyn gevolge nie. En aan so ‘n
    belabberde koning is God se volk ook uitgelewer.

    Want onthou,
    Ahasveros het geregeer oor 127 provinsies, ook oor Judea.

    So ‘n
    korrupte regstelsel. So ‘n patetiese figuur, mens kan verstaan dat hy bietjie
    later ook voor Haman se moordplan sou val.

    Maar,
    gelukkig, en dan staan ons weer stil by die Naam wat nie in Ester genoem word
    nie, maar wie se hand wel sigbaar is in al hierdie gebeurtenisse, gelukig is
    Ahasveros ook maar net ‘n kneg van die HERE.

    Ja God het
    self hierdie veragtelike karaktertrek van Ahasveros gebruik in SY plan. Soos
    ons laas week al gehoor het, God se leiding is nie net in spektakulêre wonders
    nie, maar ook in onopvallende dinge, selfs in bisarre dinge: soos byvoorbeeld
    die koning se dronkenskap, en sy patetiese karakter. Al hierdie dwaasheid
    gebruik die HERE om die koms van ‘n nuwe koningin voor te berei. En om so die
    pad oop te hou na die toekoms, wanneer die groot Koning sou kom, die Messias.

    Hy is die
    enigste hoop vir die heidendom.

    Hy is ook
    die enigste hoop vir ons land, met al sy korrupsie en onreg.

    Hy is ook
    die enigste hoop vir jou, wat in sonde ontvang en gebore is.

    As Christus
    beslag lê op jou lewe, dan begin dinge reg te kom.

    As Christus
    en sy Woord eerbiedig word, dan kom ‘n land reg, dan is daar hoop, ook vir die
    heidendom.

    (Tema: Die
    hopeloosheid van die heidendom

  • ‘n korrupte regstelsel)

  • ‘n blatante uitbuiting van die
    vrou

    Mens moet
    nie die fout maak deur te meen dat die baaskap van die man oor sy vrou en huis,
    waarvan ons hier in Ester 1 lees, dat dit dieselfde sou wees as die Bybelse hoofskap
    van die man nie. Ook hierdie skeppingsorde van God is deur die sondeval swaar
    vermink. Onder die heidene het dit daartoe gelei dat vroue as slawe behandel is
    en word.

    Die skrywer
    van die boek Ester spot met Ahasveros, en hierdie patetiese poging om sy gesag
    te herstel. En ons word daarop gewys dat daar waar mense nie leef volgens God
    se Woord nie, die vrou se posisie in die huis en in die samelewing
    betreurenswaardig is.

    Teenoor
    hierdie heidense willekeur en magsmisbruik besef mens dan dat die Bybel, God se
    goeie wette soos Hy aan sy volk gegee het, ‘n emansiperende uitwerking op die
    posisie van die vrou behoort te hê.

    Vroue is nie
    net lusobjekte soos die geval was by Ahasveros, sy vorste en sy sogenaamde wyse
    raadgewers nie.  Hy wou Vasti as ‘n blote
    lusobjek behandel, en sy het – tereg – daarteen geskop.

    Ahasveros
    het egter nie geleer nie – en hy het voortgegaan om meisies as lusobjekte in sy
    harem te versamel.  Ester sou een van
    hulle wees.

    Hulle word
    vir ‘n hele jaar lank liggaamlik voorberei vir die koning – alle moontlike
    skoonheidsmiddels.

    En die
    ergste van alles is, die man se hoofskap, of soos vers 22 sê, sy baasskap, word
    misbruik om hierdie optrede goed te praat, dat mans daarop geregtig is om
    meisies, om vroue, as lusobjekte te behandel.

    In ons
    samelewing sien ons wat dit betref weer dieselfde.

    Die stempel
    van ingetoënheid wat die Christelike moraal op die Westerse samelewing gedruk
    het, het heeltemal verdwyn, veral sedert die 60’er jare van die vorige eeu, en
    nog meer nadat internet gekom het.

    Waar koning
    Ahasveros destyds ‘n harem van honderde, miskien wel duisende vroue gehad het,
    waarmee hy sy luste kon bevredig,

    is dit
    deesdae so dat nie net konings nie, maar elke persoon wat toegang het tot die internet,
    sy luste kan bevredig met ‘n oorvloedige aanbod van pornografie. En net soos
    destyds gegeld het in Ahasveros se harem, dat daardie meisies net een doel in
    die lewe gehad het naamlik om skoonheidsbehandelinge te ondergaan om mooi
    poppies te word, so geld dit vandag nog steeds. Die meisies wat hulle liggame
    laat gebruik om pornografiese foto’s of videos van te maak, vir hulle is dit ‘n
    voltydse beroep. Want om soos pornopoppies te wil lyk, is ‘n voltydse
    besigheid, skoonheidsbehandelinge, gym, noem maar op.

    Laat ons
    eerlik wees, geen Christenvrou sal daarvoor tyd hê nie.

    Geen
    Christenma wat kinders gekry het, sal daarvoor in aanmerking kom nie. Gelukkig
    maar, want daar is beter prioriteite in die lewe as net die uiterlike.

    Hoe absoluut
    afskuwelik is dit dan as Christenmans en Christenseuns die harem op internet
    besoek. Hoe afskuwelik, as jong mans hulle denke daardeur laat beïnvloed, dat
    dit die bril word waarmee hulle op soek gaan na ‘n lewensmaat. Want dan is die
    Christenmeisies in die kerk, wat die regte prioriteite in hulle lewe het, wat
    hulle tyd nie net met ydele skoonheidskure vermors nie, dan is hulle nie meer
    in trek by die Christenseuns nie. Dan gaan soek die seuns buite die kerk om dit
    te kry wat hulle graag wil hê, omdat hulle smaak geperverteer is, besoedel,
    deur die wêreldse maatstawe. Skandelik, absoluut skandelik, as sulke dinge in
    die kerk ingesluip het.

    Sulke mans
    het geen enkele reg meer op respek nie, hulle hoofskap het belaglik geword. As
    jy so ‘n man is, of so ‘n seun, dan moet jy in die bek geruk word. Bekeer jou
    van daardie wêreldse gewoontes.

    Oefen jou om
    meisies te sien as mense, nie lusobjekte nie.

    Elkeen ‘n
    unieke mens met kosbare talente, kosbare karaktereienskappe, en dan praat ek
    oor Christenmeisies, en dit is waarop jy moet fokus by die vind van ‘n lewensmaat.
     En as jy al getroud is, besef net watter
    offer ‘n vrou bring om haar lewe aan jou te wy, jou kinders te dra en te baar,
    vir jou en jou kinders te sorg, dinge wat haar uiterlike aantreklikheid
    letterlik aantas. As jy dan jou bevrediging elders gaan soek, skaam jou diep.

    Dis die
    grootste egoïsme wat daar bestaan.

    Christus het
    sy eie lewe opgeoffer vir sy bruid, en dit is wat Hy van elke man verwag as
    hoof van die huwelik en gesin.

    Moenie jou
    hoofskap uithol en belaglik maak met wêreldse gewoontes nie.

    Gebruik jou
    gesagsposisie juis om haar te waardeer vir wie sy is, soos Christenmans
    opgeroep word in 1 Petrus 3:7 “Net so moet julle, manne, verstandig met hulle
    saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys”.

    Onder die
    heidene geld die reg van die sterkste, en die swakkere word vertrap, aan die
    kant geskuif.

    God se reg
    kom juis op vir die swakkere.

    Dus
    gemeente, moenie die feit dat die Skrif vroue oproep om ontsag vir hulle mans
    te hê, verwar met die magsvertoon van die heidendom nie.

    Tereg praat
    mens dan van emansipasie, Bybelse emansipasie, as in die kerk vroue en meisies
    bevry word daarvan om of hulle mans se slaaf te wees, of maar net ‘n lusobjek. Waar
    in ‘n wêreld sonder God die reg van die sterkste heers, leer die Bybel ons om
    op te kom vir die swakkere.

    Manne, julle
    moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad het en
    Homself daarvoor oorgegee het” (Ef 5:25).

    As ‘n man
    Christus se voorbeeld volg, voorkom dit tirannie.

    Nou is dit
    so dat die woord emansipasie ook, veral in ons tyd, gebruik word vir ander
    dinge. In die post-Christelike Westerse wêreld sien ons dat die emansipasie
    deurgeslaan het na die ander uiterste, dat die skeppingsorde ontken word, ook
    die Bybelse hoofskap aan die kant geskuif word.

    Deesdae se
    emansipasie wil die vrou in alles net soos die man maak.

    Laat dit
    duidelik wees, as ek verwys na Bybelse emansipasie, bedoel ek allermins hierdie
    veels te ver deurgevoerde emansipasie van die Westerse wêreld. Dit is tipies
    van post-Christelike samelewings, dat hulle Bybelse verworwenhede oordryf tot
    iets wat die Bybel self nie bedoel het nie.

    Om nog ‘n
    voorbeeld te noem: die Bybel roep op aan diere barmhartigheid te bewys. Dink
    maar net aan die 4e gebod: selfs die os en esel mog op die sabbat rus.

    In die
    post-Christelike Weste word diereregte egter deurgedryf tot uiterstes wat ons
    nie in die Bybel terugvind nie.

    Die manier
    hoe die gang van sake hier in Ester 1 beskryf word, is baie ironies. Mans,
    aansienlikes, koning Ahasveros, sy vorste, sy raadgewers, wat hulleself baie
    belangrik gedra, wat wette uitvaardig om te sorg dat vroue respek sal toon,
    terwyl hulle juis deur hulle optrede – hulle dronkenskap en wellus – hulleself
    belaglik maak en alle respek uithol.

    Dan help dit
    nie om hard te roep en wette uit te vaardig dat die gesag weer herstel moet
    word nie.

    Gesagsdraers
    moet leiding gee deur hulle eie voorbeeld.

    Dus ja,
    gesonde Bybelse emansipasie hou in dat vroue as mense, as persone behandel moet
    word, en nie net as lusobjekte nie.

    Die wette van
    die HERE in die Ou Testament benadruk dit keer op keer.

    Dit teenoor
    die heidendom. Die man mag sy hoofskap nie misbruik om sy welluste te bevredig
    nie. Die Bybel bevry die vrou uit ‘n bestaan dat sy slegs ‘n lusobjek is, en
    dat die man as die sterker geslag haar as ‘n slaaf kan behandel.

    Om af te
    sluit, wat bedoel was om onthou te word as ‘n sprokiesagtige fees, het bitter
    geëindig.

    Die koning
    en sy raadgewers was self daarvoor verantwoordelik.

    Uit hulle
    doen en late, hulle heidense lewenstyl, blyk dat hulle ou mens nie gekruisig is
    nie. En dit veroorsaak onmin, haat, nyd, intriges en noem maar op.

    ‘n Spinneweb
    van sondes. Ja dit is die hopeloosheid van die heidendom.

    Mens vra
    jouself af hoe mense soos Mordegai en Ester, as kinders van God se volk, nog kon
    oorleef in so ‘n milieu? Het dit hulle en al die Jode wat nog daar in Babel
    agtergebly het, nie laat terugverlang na die puur en suiwer lewe, wat tot stand
    kom daar waar God se wette eerbiedig word nie?

    Het dit
    hulle nie laat verlang na die lewe naby God se tempel in Jerusalem, al was dit met
    veel minder ‘glitter and glamour’, maar tog soveel mooier.

    Volgende
    keer kyk ons verder na hierdie geskiedenis. 

    Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)