Verootmoediging begin by jouself en omvat heel God se gemeente

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-08-14
Teks: 
Daniël 9 : 1-19
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 14 Augustus 2016 AD, 17:30

(Dag van Verootmoediging)

Votum

Seën

Ps 53:2,3,6

Geloofsbelydenis
(Nicea)

Ps 53:7

Skriflesing:
Daniël 9

Ps 126:1,2,3

Gebed

Kollekte

Ps 130:1,2
(1e ber)

Teks: Daniël
9:1-19

Preek

Ps 130:3,4
(1e ber)

Gebed

Ps
102:5,6,11,12

Seën

Preek: Daniël 9:1-19

Die kerkraad
van Kaapstad het vandag as ‘n dag van verootmoediging uitgeroep. Hoekom hulle
dit gedoen het, maak hulle duidelik in ‘n brief wat hulle vir alle kerke
gestuur het. Ek haal aan uit die brief:

“Aan alle
kerke in die verband van die Vrye Gereformeerde Kerke,

Die
Sinode van Bethal 2014 het die Klassis Suid aangewys om in tye van algemene
rampe en ander groot probleme waarvan alle kerke die druk ervaar, ‘n biddag uit
te skryf. Die Klassis Suid het vervolgens hierdie taak aan die VGK Kaapstad
opgedra. As kerkraad van hierdie gemeente het ons in ons vergadering van
Maandag 11 Julie besluit om op Sondag 14 Augustus ’n Dag van Verootmoediging en
Gebed uit te skryf.

Die
eerste aanleiding is die langdurige droogte in dele van ons land en ander
Afrikalande wat tot ‘n al hoe groter krisis lei. Maar ons moet wyer dink as om
net vir reën in ons land te bid. Want in Afrika is daar weliswaar ‘n nypende
gebrek aan reënwater, maar terselfdertyd word ander dele van die wêreld deur
veels te veel reënwater en oorstromings geteister. Terwyl in weer ander lande
al maande lank, bosbrande woed.

Dit
alles is nie net natuurrampe nie, maar middele waardeur God die hoogmoedige
mensheid sy afhanklikheid en nietigheid laat agterkom (Openb. 8). Dit is nie
net ‘n gevolg van El Nino nie, maar die werk van El Sjaddai: God die Almagtige,
wat die hoogmoedige mens sy nietigheid en

afhanklikheid van Hom laat voel.

 

Daarom
is dit beter om ‘n Sondag van verootmoediging te belê en ons gebede breër te
maak as net ‘n vraag vir reën. Ons kan in ons gebede ook die oorloë en
toenemende bedreiging van terrorisme, met as gevolg miljoene vlugtelinge wat in
Europa asiel soek, betrek. Asook die feit dat Suid-Afrika en heelwat ander
Afrikalande ly onder die swak leiding en korrupsie van regerings, provinsiale
en munisipale bestuurders.”

Tot
sover die brief van ons susterkerk in Kaapstad.

‘n
Dag van verootmoediging. Hoe doen mens dit? Hoe verootmoedig jy jouself? Gemeente,
vanaand gaan ons terug in die geskiedenis, as ons aan die teks uit Daniël 9
aandag gaan skenk.

Want
in hierdie gedeelte leer die Heilige Gees ons, aan die hand van die gebed van
Daniël, wat verootmoediging is.

Tema: Verootmoediging begin by jouself en omvat heel God
se gemeente

  • die aanleiding tot Daniël se gebed

  • die motivering agter Daniël se gebed

  • die verootmoediging wat ons leer uit Daniël se gebed

  • Die aanleiding tot Daniël se gebed

Ons
het die ontroerende gebed van Daniël gelees.

Daniël
verwys in ons teks na ‘n profesie van Jeremia.

Die
HERE het deur hierdie profeet belowe dat as daar sewentig jare verby was, die
HERE na sy volk sou omsien en hulle weer na hulle eie land sal terugbring. Dink
aan Jeremia 25:11-12: “En hierdie hele land sal ‘n puinhoop, ‘n woesteny word;
en hierdie nasies sal die koning van Babel sewentig jaar lank dien. En as
sewentig jaar vol is, sal Ek oor die koning van Babel en oor dié nasie, spreek
die HERE, hulle ongeregtigheid besoek, en oor die land van die Chaldeërs, en
sal dit ewige wildernisse maak.”

Dink
ook aan die profesie in Jeremia 29:10, wat deel is van ‘n brief wat Jeremia aan
die ballinge in Babel moes skryf: “Want so sê die HERE: As eers sewentig jaar
vir Babel verby is, sal Ek op julle ag gee en aan julle my goeie woord vervul
om julle na hierdie plek terug te bring.”

Daniël
een van die ballinge. En Daniël het ook hierdie profesieë gelees.

En
toe die mag van die Meders opgestaan het teen die ryk van Babel, het Daniël die
HERE se hand hierin gesien, en in sy gebed begin smeek vir die vervulling van
sy beloftes.

Daniël
se gebed in ons teks is van die begin tot die einde ‘n groot verootmoediging en
bede om vergewing.

Wat
in hierdie gebed veral opval, is dat Daniël nie net vir sy volk bid nie, maar hy bid ook saam met sy volk.

Vandaar
die tema van die preek: verootmoediging begin by jouself.

As
ons vir ‘n oomblik bolangs na die lewe van Daniël kyk, dan sou mens jouself kon
afvra waarvoor Daniël homself eintlik moes verootmoedig?

Sy
volk, dalk sy ouers, hulle was sondig en ongehoorsaam, hulle het ver van die
HERE gelewe. Daarom dat die ballingskap gekom het.

Maar
Daniël hoef homself tog nie te verootmoedig het nie?

Hy
self was tog ‘n toonbeeld van geloof en gehoorsaamheid?

Was
hy nie ‘n toonbeeld van standvastigheid, van geloofsvertroue nie?

Selfs
tot in die leeukuil toe.

Maar
tog is dit so dat ook Daniël homself verootmoedig.

Hy
verhef homself nie bo die volk nie. Ons het
afgewyk van u gebooie, staan daar. As God vanuit die hemel na sy volk kyk, sien
Hy soos ons in Psalm 53 sing:

“God het die mens se werk betrag

uit hemelho’ en helder dag;

of Hy ook by die mensekind

verstand met ware Godsvrees vind.

Maar almal het tot groter kwaad,

in hul ontaarding, God verlaat;

van almal is hul dade sleg,

geeneen wat goed doen in sy weg.”

(Psalm 53:2,3 – berymd)

In
Daniël 9:1 vind ons ‘n datering. So kan dit vir ieder en elk duidelik wees dat
die tydperk van sewentig jare voltooi is. Met Darius, die seun van Ahasveros,
word hier dieselfde man bedoel as die een oor wie ons in hoofstuk 6 lees, die
geskiedenis van Daniël in die leeukuil. Koning Darius was ‘n Meder. Dit was die
volk wat die Babiloniërs hulle mag ontneem het, saam met die Perse. Ons weet
dat Daniël as jong seun in ballingskap weggevoer is. Maar ondertussen het hy ‘n
gryse man geword.

Vir
dekades lank het hy die stad Babel in al sy grootheid maar ook
afskrikwekkendheid meegemaak. Die korrupsie en bedrog van die Babiloniese ryk
het hy gesien en self ook pynlik ervaar.

Maar
nou was dit dus sover dat hy die vrymoedigheid kon neem om God aan sy belofte
te herinner. Die eerste verse van ons teks beskryf dus die aanleiding tot
Daniël se gebed. Die sewentig jare was verby.

Die
tydperk wat God self aangekondig het deur die mond van Jeremia.

Dit
was die direkte aanleiding tot Daniël se smeekbede, tot sy verootmoediging.

  • Die motivering agter Daniël se gebed

Hoe
het hy dit gedoen? Nie net deur gebed nie.

Wie
homself werklik verootmoedig, kan nie net met ‘n gebed volstaan, om vervolgens
weer tot die orde van die dag oor te gaan nie.

Daar
moet ook uiterlik iets wees. Daniël het gevas. Hy het ‘n roukleed aangetrek. Hy
het as oor sy kop gestrooi.

 

Daniël
se gebed begin vervolgens met ‘n aangrypende belydenis van sonde.

Hy
spreek die Here aan as Jahweh, die God van die verbond.

Die
begronding van sy pleidooi is die verbondstrou van die HERE.

Terselfdertyd
bely hy ook dat die HERE vol majesteit, ja baie te vrees is.

Die
HERE is naby sy volk in die verbond, maar tegelykertyd ver bo sy volk verhewe. Vervolgens
noem Daniël die sondes, by name.

Hy
bly nie vaag nie. Israel het die profetiese woord wat God tot hulle gestuur
het, verontagsaam. Israel, en Daniël sluit homself daarby in.

Geen
individualisme nie. Daniël erken dat die HERE tereg die vloek van die wet van
Moses oor sy volk gebring het. In ‘n voortdurende afwisseling tussen
skuldbelydenis en ‘n beroep op God se barmhartigheid, pleit Daniël op God se
trou aan sy volk.

Hy
verwys na God se geweldige wonders in die verlede.

Hoe
Hy sy volk uit Egipte bevry het, vers 15 byvoorbeeld.

Hy
smeek of God Homself weer van daardie kant wil laat sien!

Hy
wys die HERE daarop dat die smaad wat sy volk nou meemaak, ook ‘n negatiewe
weerslag het op die naam van die HERE self!

Die
begronding van hierdie bede is dus nie geleë in eie deug, of eie belang nie,
maar slegs in die groot barmhartigheid van God.

Die
smeekbedes stort hy voor Hom uit. Tussen hakies, die Bybelse uitdrukking uitstort hou verband met die gewoonte
van ‘n smekeling om te kniel, ja meer nog, om plat op die grond voor God te lê.

Daar
is nog iets baie belangriks wat ons uit hierdie gebed leer.

Die
verootmoediging, die smeekbedes, is nie in die eerste plek daarop gerig om
Daniël en sy volk van hulle probleme ontslae te laat raak nie.

Nee,
in die eerste plek gaan dit oor die eer van die HERE self.

Die
hemelse Vader wat sy naam aan hierdie volk verbind het.

Solank
as wat Jerusalem verwoes lê, is dit vir die Naam van die HERE ‘n skande. Daarom
die indringende bede om herstel van stad en tempel.

Jou
gebede as kind van God mag nie net rondom jou eie belang draai nie.

Die
belang van ‘n kind van God kan nie geïsoleer word van die belang van die hele
kerk, ja van God self, nie.

En
dan, in vers 19, bereik die gebed sy hoogtepunt in ‘n opeenstapeling van ‘n
aantal kort uitroepe: Here, hoor! Here, vergeef!

Here,
merk op en doen dit, vertoef tog nie, om U ontwil, my God;

want
u Naam is oor u stad en u volk uitgeroep. Dit alles dus ter wille van die HERE
God self en sy Naam. Dit was die motivering agter Daniël se gebed.

Dit
was nie net eiebelang nie. Dit was die besef dat die volk se belang, en ook
Daniël se persoonlike belang, die beste gedien kan word, as God se Naam
verheerlik sal word, in alles.

As
sy Naam geheilig word, dan sal dit ook met ons goedgaan.

Dit
moet die grondliggende motivering agter elke gelowige se gebed wees.

 

(Tema:
Verootmoediging begin by jouself en omvat heel God se gemeente

  • die aanleiding tot
    Daniël se gebed

  • die motivering agter
    Daniël se gebed)

  • Die verootmoediging wat ons leer uit Daniël se gebed

Ons
susterkerk in Kaapstad het vandag tot ‘n dag van verootmoediging uitgeroep. Ons
land gaan gebuk onder ‘n ernstige droogte.

Dit
is nog nie duidelik of El Nino verby gaan wees, as die nuwe reënseisoen
aanbreek nie. Dit is moontlik dat ons weer so ‘n droë somer in die gesig staar.
Verder gaan ons land, net soos die res van Afrika, gebuk onder korrupsie, klein
groepies van mense wat die regering vorm of konneksies daarmee het, wat die res
van die bevolking, miljoene der miljoene mense, uitbuit en blywend arm hou. Verder
is daar ‘n vlugtelingestroom wat in die wêreld op gang gekom het, wat moontlik
nog nooit so groot was in die mensheid se geskiedenis as wat dit tans is nie.

Mense
wat wegvlug uit korrupte lande, en mense wat vlug vir hulle lewe vanweë
gewelddadige godsdienste.

Maar,
gemeente, as ons al hierdie dinge so hoor, is ons reaksie miskien.

Hoekom
moet ons hier in Pretoria-Maranata, hoekom
moet ons ons met al hierdie dinge besig hou? Gelukkig word ons nie, of dalk nog
nie, so swaar getref nie. Hoekom ‘n hele Sondag hieraan wy?

Gemeente,
kom ons dink weer aan Daniël. Ons ken hom as ‘n Godvresende man. Sy wandel was
opreg voor God se aangesig.

Maar
tog het hy homself verootmoedig. Hy plaas homself nie bo die res nie.

“As U, o HEER, die sonde

na reg wou gadeslaan,

wie sou een enk’le stonde

voor U, o HEER, bestaan?”

(Psalm 130:2 – berymd)

Ons
is sondaars.

Dalk
het ons nie met die daad oortree nie, maar dan wel in ons gedagtes.

Verootmoediging
begin by jouself. En dit omvat God se hele gemeente.

As
een lid ly, ly al die anders lede saam.

Ag
HERE, ons het gesondig, ons het verkeerd gedoen, ons het goddeloos gehandel, ons het in opstand gekom, ons het van u gebooie en verordeninge afgewyk,
ons het nie geluister na u knegte
nie.

Ons het dit nie verdien
dat daar in ons leeftyd geen droogte die land sou tref nie. Ons het dit nie verdien om onder ‘n
model regering te leef nie.

Ons het dit nie verdien dat
daar in ons land vrede, wet en orde, geen moorde, geen rooftogte, geen
diefstal, geen vlugtelinge sou wees nie.

Dis
nie ‘n reg wat ons het nie.

Aan
U, HERE, kom die geregtigheid toe, maar aan ons beskaming van die aangesig soos
dit vandag is. HERE, ons was
weerspanning gewees.

Ons het afgewyk deur nie na
u stem te luister nie. Ja, geliefdes, laat ons ons verootmoedig. Laat ons ons
bekeer.

Gemeente,
die HERE waak oor sy kinders met sy seën.

Maar
ook met sy tug, as ons sy goeie gebooie minag.

Laat
ons die HERE smeek om geen verdere onheil oor ons te bring nie.

Ons
gee naamlik wel aanleiding daartoe.

O
Here, laat tog volgens al u geregtigheid u toorn en u grimmigheid van u kerk
afgewend word, want om ons sondes en die ongeregtighede van ons vaders ontwil
het u kerk en u volk ‘n voorwerp van versmading vir almal geword (9:16). Net u
geregtigheid, o HERE, vorm die glans van die kerk.

U geregtigheid soos dit skitter in u Seun.

Christus delg die skuld uit, van elkeen wat ootmoedig
voor Hom kniel.

Ons gee so dikwels aanleiding dat ongelowiges sê:Is dit
nou kerkmense?

Is dit wat dit beteken om die HERE te dien? HERE, wil U
die smaad afwend.

Skenk u Heilige Gees aan ons, sodat ons ook mag leer om
die sondes te voorkom, sodat u naam geheilig word, en nie onteer word nie.

Dit is nooit te laat nie. Want as ons ons verootmoedig,
is die HERE haastig om die onheil weg te neem. Dit beloof Hy self.

Hoe ‘n voorreg is dit nie om hierdie hemelse God en
Skepper as ons Vader te hê! Hy, die Almagtige, wat in beheer is van El Nino.

Hy wat die wêreldgeskiedenis lei, wat regerings kan
afsit en nuwes kan aanstel op sy bevel. Hy wat vlugtelingstrome op gang kan
bring in die wêreld, of juis kan laat opdroog. Hy is hoogheilig. Hy laat nie
met Hom spot nie. Hy verdra dit nie dat mense sy gebooie ignoreer nie.

Hy verdra nie dat mense op aarde ander gode aanbid nie.

Hy verdra nie dat mense op aarde Hom op eiewillige wyse
vereer nie.

Maar teenoor wie sy skuld bely, is Hy altyd
vergewingsgesind.

Aan Hom kom die eer toe. Dag aan dag, jaar in jaar uit,
eeu in eeu uit, dra Hy sy kerk. Sy kerk, hoeseer ook bespot en verdruk, verskeur
en uiteengeruk,

deur dwalinge omgewe. God hou sy kerk in lewe.

Geliefde gemeente, verootmoediging begin by jouself.

Hierdie dag, wat ons sustergemeente in Kaapstad
uitgeroep het, is nie net iets vir die kerkraad nie. Dit is nie net iets vir
ander nie.

Hoe dikwels is ons houding geweldig gemaksugtig, en gee
ons nie werklik om, omdat ons nog nie in ons gemaksone geraak word nie.

Daar is nog water in ons krane. Dalk het jy selfs ‘n boorgat
om jou tuin nog groen te hou. Ons hoef nie te vlug nie. Daar is ook nie
vlugtelinge wat op my erf kom plak nie. Dus gee ek nie om nie. Dis ‘n ander se
probleem.

Hierdie hoofstuk uit God se Woord leer ons om inklusief
te dink.

Die dinge wat op aarde gebeur, gebeur nie vanself nie.

Die almagtige God laat
dit gebeur.

Hy besoek die aarde, met sy seën, maar ook met sy
strawwe.

In groot makro-politiese, makro-ekonomiese
gebeurtenisse, en dieselfde geld vir groot makro-weerspatrone, in dit alles het
God sy hand.

Dieselfde was die geval lank gelede, in Daniël se tyd,
toe God die makro-wêreldpolitiek so gestuur het dat sy volk na sewentig jaar
die geleentheid gekry het om terug te keer uit ballingskap.

En hoeveel keer lees ons nie in die Bybel dat God ‘n
hongersnood gebruik om sy kinders weer terug te roep nie?

Hongersnode, wat in daardie tyd ook die gevolg was van
makro-weersomstandighede, dinge wat ons vandag byvoorbeeld El Nino noem.

Moet dus nie dink, jou geloofslewe, en ons lewe as
gemeente, dat dit heeltemal los staan van al hierdie dinge nie. Leer om
Bybels-inklusief te dink. Soos daar in Kaapstad se brief aan ons staan:

Dit
alles is nie net natuurrampe nie, maar middele waardeur God die hoogmoedige
mensheid sy afhanklikheid en nietigheid laat agterkom.

Met al hierdie dinge, sy seëninge, maar oor sy strawwe
wat oor die aarde gaan, het God ‘n boodskap vir ons, vir jou persoonlik.

En wie weet wat God besig is om voor te berei in die
huidige omstandighede, die huidige era waar ons inderdaad vlugtelingstrome in
voorheen ongekende aantalle in die wêreld op gang sien kom.

En laat ons veral vashou aan God se belofte, dat alle
dinge ten goede sal meewerk aan hulle vir wie God liefhet.

Dis nie dieselfde as: jy kry as gelowige ‘n gemaklike
lewe op aarde gewaarborg nie. Allermins. Maar dit is: God sal alle dinge laat
meewerk vir jou saligheid. Bly daarom by Hom. In voorspoed en in teëspoed.

Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)