Die waarde van die hemelvaart van Christus

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-07-17
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 18
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 17 Julie 2016 AD,
17:30

Votum

Seën

Ps 47:1-4

Gebed

Skriflesing:
Kolossense 3:1-17

Sb 10:1,2,3,5,6

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 18

Preek

Amenlied: Ps
68:3,8

Gebed

Apostoliese
Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Slotlied: Ps 148:1,3,5

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag
18

As mens vir ’n
oomblik ons gemeente vanaf ’n afstand bekyk, die dinge waarmee ons besig is,
die tyd wat ons aan die gemeentelewe spandeer, en jy vra jouself af: hoekom
doen ons dit eintlik alles? Wat is ons doel met alles?

Wat is die
doel van die kerk?

In ons
samelewing word kerklidmaatskap oor die algemeen gesien as een van die baie
opsies waarvoor jy kan kies om jou vrye tyd mee in te vul.

Kerklid wees
word fouteweliek gesien as ’n stokperdjie.

Sommiges
spandeer die naweke baie tyd aan die kerk, maar ander aan rugby of sokker,
ander aan ‘n 4x4 klub, of ’n old timersklub, of ’n karavaanklub.

Sommiges is
deel van ’n klub wat in die naweek die natuur intrek vir ekskursies of
staptogte.

Ander hou van ‘absailing’,
of dalk vlieg of valskermspring.

Van al hierdie
klubs is dit nie moeilik om hulle doel te definieer nie.

’n Sokkerklub
wil so goed as moontlik sokker speel, en liefs die toernooie wen.

’n
Oldtimersklub wil ervaring en kennis oor ou motorkarre met mekaar deel, oor
naweke rondry in hulle spoggerige voertuie.

’n
Karavaanklub wil lekker kuier, onderweg na en op ’n kampeerplek.

’n Natuurklub
wil van die natuur geniet en dit beskerm.

Maar die doel
van die kerk, hoe omskryf mens die doel van die kerk?

Wel, gemeente,
laat ons nie te moeilik hieroor wees nie. Die kerk het inderdaad ’n doel. Maar
wat lastig is, die kerk het eintlik nie net een doel nie, maar vele doele. En
dit maak dit soms lastig om ’n kort antwoord daarop te gee.

Want mens kan
soveel sê!

In hierdie
preek probeer ons om die hoofdoel van die kerk helder te kry.

Ons gaan dit
doen met behulp van wat ons uit Kolossense gelees het.

Kolossense 3:1
“soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit.”

Dit is die
doel van die kerk.

Dit hoop ek in
hierdie preek meer konkreet uit te werk.

Tema: Die waarde van die hemelvaart
van Christus

In hierdie
deel van die Kategismus word telkens die klem gelê op wat die verskillende
heilsfeite ons te biede het.

Die heilsfeite
wat in die Apostoliese Geloofsbelydenis opgenoem word.

Ek dink dan
aan heilsfeite soos die geboorte van Christus, sy lyde, sy dood, sy opstanding.

Vanaand gaan
ons in hierdie trant verder, as dit handel oor sy hemelvaart.

Wat het
hierdie heilsfeit ons te biede?

Dat ons ons
hierop konsentreer, is in lyn met wat die Kategismus steeds doen.

Die vraag is
steeds: wat is vir ons die waarde van
‘n heilsfeit?

Soos Sondag
14: wat is vir jou die waarde, of watter nut verkry jy uit die heilige ontvangenis en geboorte van
Christus?

En Sondag 16:
Wat is vir ons nog meer die waarde, oftewel, watter nut verkry ons nog verder
uit die offer en dood van Christus aan
die kruis
?

En Sondag 17:
wat is vir ons die waarde, oftewel watter nut het die opstanding van Christus vir ons?

En dan nou,
wat is vir ons die waarde, die nut, van die hemelvaart
van Christus?

Ten eerste, sê
antw. 49: Jesus is in die hemel voor die aangesig van sy Vader om vir ons te
pleit.

1 Johannes 2
sê: Christus is vir ons ’n Voorspraak by die Vader.

Dink aan ’n
advokaat.

’n Advokaat
pleit in die regsaal vir sy kliënt, selfs in sy afwesigheid, met die doel om
hom vry te kry. So pleit Christus, in ons afwesigheid, by die Vader in die
hemel om ons vry te kry. Ons wie niks anders as die dood verdien het nie.

Ons het dus ’n
bondgenoot in die hemel.

Dit is waar
die ‘ten tweede’ van v/a 49 mee verder gaan.

Noudat ons ’n
bondgenoot in die hemel het – die Kategismus sê: ons vlees, ons menslike natuur
is in die hemel, is dit vir ons ’n onderpand, ’n waarborg, dat ons ook daar sal
kom.

Die Kategismus
gebruik die bekende vergelyking uit die Bybel:

Christus is
die Hoof, sy kerk is die liggaam. Ons vorm die lede van hierdie liggaam. As die
Hoof in die hemel is, sal die lede agter Hom aan volg.

Hoof en
liggaam is onlosmaaklik verbonde.

Ons het ons
Heiland as onderpand in die hemel.

Ons menslike
natuur in die hemel, want Jesus het vlees geword – en dit is ’n waarborg, dat
Hy as Hoof, ook ons sy lede tot Hom sal neem.

Die feit dat
Hy na die hemel gegaan het, is vir u en my ’n waarborg.

Dit is ’n
buitengewone situasie, geweldig waardevol.

 

En in die
derde plek is die waarde van sy hemelvaart, sê v/a 49, dat Hy sy Gees stuur as onderpand.

In Johannes
14(:16-17) sê Jesus hieroor: “Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ’n ander
Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid”.

Op eerste
gehoor klink dit dalk of daar in die Bybel teenstrydige uitsprake staan.

Jesus beloof
aan die een kant dat Hy ons nooit in die steek sal laat nie.

Aan die ander kant
lees ons dat Hy vir sy dissipels sê dat Hy nie meer lank by hulle sal bly nie. Dat
hulle die arm mense altyd by hulle sal hê, maar nie vir Hom nie. Hoe kan mens
hierdie teenstrydige uitsprake met mekaar rym?

Gemeente,
hierdie uitsprake is nie teenstrydig nie, mits mens oog het vir die Drieëenheid
van God. Vader, Seun en Gees.

Hulle vorm
saam so ’n hegte eenheid, dat Jesus rustig kan sê dat Hy ons nie in die steek
sal laat nie, omdat Hy van plan is om sy Gees te stuur.

In die Heilige
Gees is Jesus ook aanwesig.

Antwoord 47 sê
byvoorbeeld: wat sy menslike natuur betref, is Hy nie meer op aarde nie, maar
wat sy Godheid, majesteit genade en Gees betref, gaan Hy nooit meer van
ons af weg nie.

Vergelyk
hierdie Drieëenheid vir ’n oomblik met die tweeëenheid van ’n huwelik.

As pa of ma
saans weggaan, dan maak dit eintlik nie vir die kinders saak wie by die huis
bly om hulle op te pas nie, solank een van beide ouers maar tuis is, dan is
hulle rustig en voel hulle veilig.

So het Jesus
sy Gees gestuur as Oppasser, as Trooster.

En, sê die
Kategismus, deur sy krag soek ons wat daarbo is, waar Christus sit aan die
regterhand van God, en nie wat op die aarde is nie.

Deur sy krag
soek ons wat bo is, waar Christus is aan God se regterhand, en nie wat op die
aarde is nie.

Hierdie sin
ontleen die Kategismus aan die Skrifgedeelte wat ons gelees het, Kolossense
3:1-2.

Ons het
hierdie preek begin met die vraag wat eintlik die doel van die kerk is.

Het die kerk
ook ’n duidelik omskrewe doel?

Soos ‘n
sokkerklub, ’n oldtimersklub, ’n karavaanklub?

Wat is die
doel van die kerk?

Ek het genoem
dat die kerk eintlik vele doele het, en dat dit juis daarom lastig is om die
doel van die kerk in een kort sin te verduidelik.

Ek het ook
genoem dat die doel van die kerk mooi met hierdie woorde saamgevat kan word,
naamlik die woorde van Kolossense 3:1: “soek die dinge daarbo waar Christus is
en aan die regterhand van God sit.”

Nou moet u wel
besef dat hier ’n misverstand op die loer lê.

Naamlik: o ja,
die doel van die kerk is dus om die dinge te soek wat daarbo is.

Die doel van
die kerk is dus in feite om mense in die hemel te kry.

Alles wat daar
in die kerk gebeur: eredienste, katkisasie, vereniging, sending, evangelisasie,
dit het alles ten doel om siele vir die hemel te wen.

Soek die dinge
wat daarbo is.

Bedink die
dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.

Ons is oppad
boontoe, hier benede is dit nie. Ons gaan hemel toe.

Gemeente,
hierdie is die groot misverstand.

Ek dink dat
baie mense wat nie kerklid is nie, so oor die kerk dink.

En miskien
dink baie kerklede ook so.

Die doel van
die kerk is om mense in die hemel te kry.

Maar gemeente,
laat dit vir eens en vir altyd duidelik wees:

Dit is nie die
doel van die kerk nie.

Natuurlik gaan
ons hemel toe, as ons sterf, elkeen wat in Christus glo.

Dit staan vas.
Maar dit is nie die doel van die kerk nie.

Net soos dit
nie die uiteindelike doel van Christus se reddingswerk is om sieltjies in die
hemel te versamel nie.

Sy
uiteindelike doel is om hierdie aarde te vernuwe.

’n Nuwe hemel
en aarde, wat saamkom. ’n Herskepping.

’n Wêreld van
vrede en harmonie.

En die doel
van die kerk lê in die verlengde van hierdie doel van Christus se
Middelaarswerk. Kerk in die wêreld. Herskepping van hierdie aarde.

As Kolossense
3 skryf:

soek die dinge
daarbo waar Christus is, bedink die dinge wat daarbo is,

dan word dus
nie bedoel dat ons ons aandag van hierdie wêreld moet aftrek nie.

Maar hiermee
word bedoel dat mens elke dag kontak moet onderhou met die hoofkwartier. In
verbinding bly met die hemelse beheertoring.

In die
gedeelte wat ons gelees het, staan nêrens die woord ‘hemel’ nie.

Die hemel word
hier anders omskryf.

Hier staan: bo
waar Christus is, gesete aan die regterhand van God.

God se
regterhand – hierdie uitdrukking wys daarop dat Jesus op die troon sit.

Daarvandaan
voer Hy bewind oor die aarde.

As ons dus
lees: bedink die dinge wat daarbo is, en nie wat op die aarde is, wil dit sê:

bly in
verbinding met Christus, wat opgevaar het na die hemel, wat van daaruit regeer.

Dit is die
hoofkwartier van waaruit sy bevele klink.

Dit is die
hoofkwartier van waaruit jy bevoorraad word.

Dit is die
hoofkwartier van waaruit jy jou motivering behou.

Die kerk moet
steeds in verbinding bly met die hemel, die hoofkwartier.

Want daar
regeer Jesus, van daaruit berei Hy die koms van sy koninkryk voor.

Die kerk is
as’t ware ’n leërbasis in vyandelike gebied.

Vanuit hierdie
leërbasis moet die omliggende area vir Christus in besit geneem word.

 

Ons vra weer
die vraag: wat is die doel van die kerk?

Dit, om
hierdie sondige en gebroke wêreld te reformeer.

Dus nie net om siele vir die hemel te wen nie.

Maar om mense
en hulle hele bestaan vir Christus te wen.

Om mense tot
geloof in Christus te bring, dat hulle voor sy troon sal buig.

Hierdie is ’n
geloof wat nie net in mense se harte leef nie.

Hierdie is ’n
geloof wat hande en voete kry.

’n Geloof wat
onderdeel vorm van God se herskeppingsplan met die aarde.

As iemand dus
vir jou sou vra: wat is die doel van julle kerk?

Hoekom bestaan
julle? Dan kan jy antwoord:

Ons kerk
ontvang sy instruksies uit die hemel, vanwaar 
Christus oor die wêreld regeer. En Christus se bedoeling met ons kerk is
dat ons diensbaar is op die plek waar Hy ons geplaas het hier op aarde.

Dit hou in dat
ons sy wil in praktyk bring, op alle terreine van die lewe.

Of dit gaan
oor etiek, lewenswyse, menseverhoudings, natuurbewaring, ekonomie, verkeer,
skole, media, politiek, owerheid, ontspanning, maak nie saak wat nie. Daar is
immers geen duimbreed van hierdie wêreld wat buite Christus se heerskappy staan
nie. Op alle verskillende terreine beywer ons onsself daarvoor om Christus se heerskappy
in praktyk te bring.

Dit hou
natuurlik primêr in dat ons elke mens oproep tot bekering en geloof in Christus,
tot erkenning van sy heerskappy.

En vervolgens
dat elke terrein van die lewe vir Hom teruggewen word.

Dit is dus die
doel van die kerk.

En nou
verstaan u waarskynlik hoekom die doel van die kerk so baie omvangryk is. Wat
dit soms moeilik maak om dit in een sin te verduidelik.

Maar mens kan
die doel van die kerk dus wel saamvat met die woorde:

soek die dinge
wat daarbo is, waar Christus sit aan die regterhand van God.

Dit beteken
dus dat ons steeeds in verbinding bly met ons hoofkwartier, die troon in die
hemel.

Ons probeer
nie om die aarde agter ons te laat en na die hemel te vlug nie.

Ons staan juis
gereed om op aarde die hemelse instruksies van Christus uit te voer. Ons staan
gereed as kerklede, net soos die engele, om gewillig die instruksies wat Hy
vanuit die hemel vir ons gee, in praktyk te bring hier op aarde, waar Hy ons ’n
plek gegee het.

So staan die
kerk in diens van sy groot ideaal: die herskepping van alle dinge.

En die Heilige
Gees sorg daarvoor dat die kerk steeds in verbinding bly met sy Hoof, Christus
op die troon.

Soos Efesiërs 1:20-23
sê: God het Hom laat sit “aan sy regterhand in die hemele, bo alle owerheid en
mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie
wêreld nie, maar ook in die toekomstige, en Hy het alle dinge onder sy voete
onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam
is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.”

Soos iemand ’n
keer gesê het: die kerk se taak is nie om siele te vang voordat hulle verdrink
in die goddelose wêreld nie.

Maar die kerk
se taak is baie meer omvangryk: juis ook die goddelose wêreld in sy totaliteit te
suiwer en aan God toe te wy.

Die tema van
hierdie preek is die waarde van die hemelvaart van Christus.

Ons kan
konkludeer dat sy hemelvaart van onskatbare waarde is vir die kerk.

Net soos die
vorige Kategismussondag, toe dit gegaan het oor die opstanding van Christus,
kan ons oor sy hemelvaart sê:

sê nou maar
Christus sou nie opgevaar het na die heme nie, dan sou die kerk geen doel op
aarde gehad het nie.

Want dan sou
die kerk se Hoof nie in die hoofkwartier wees om instruksies uit te deel nie.

En as die kerk
geen instruksies van Christus kan ontvang nie, dan het die kerk ook geen
boodskap vir die wêreld nie. Dan kan die kerk maar sy deure sluit.

Maar noudat
Christus dus wel op die troon sit in die hemel en van daaruit regeer, het die
kerk ’n duidelike doel, en ook ’n baie omvangryke doel,

naamlik om al
die instruksies van haar Hoof, Christus, in hierdie wêreld in praktyk te bring,
met die oog op die herskepping van hierdie wêreld.

Dit bring ons
weer by u posisie hier in hierdie area waar u woon.

Ons het ’n
omvangryke doel. Daar is nie tyd om te verloor nie.

Maar omdat
Christus op die troon regeer, weet ons dat wat ons doen, nie vrugteloos sal
wees nie.

Fokus jou eie
lewe hierdie komende week weer boontoe, waar Christus is.

As elkeen van
ons dit doen, en hierdie Sondag en die prediking wat ons vandag gehoor het ter
harte neem, dat dit ons weer fokus op ons Hoof op die troon in die hemel, dan
doen ons wat ons veronderstel is om te doen as kerk van Christus.

So mag ons ’n
gedugte taakspan vorm in diens van Christus, ook hier in ons eie area.

Amen.

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)