Jesus Christus red ons van die hel

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-06-12
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 14 vraag en antwoord 44
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
12 Junie 2016 AD, 17:30

Votum

Seën

Ps 20:1-4

Gebed

Skriflesing: Markus 15:21-47

Ps 139:5,10

Skriflesing: Openbaring 20:11-21:8

Ps 139:11,12

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 16 v/a
44

Preek

Ps 20:5-9

Gebed

Geloofsbelydenis: Apostoliese

Sb 27:2,3

Kollekte

Ps 9:1,2,11,12,15

Seën

Preek:
Heidelbergse Kategismus Sondag 16 v/a 44

Die woordjie hel is ‘n bekende woord in Afrikaans, wat deur sowel gelowiges as
ongelowiges gebruik word.

Dink aan ‘n uitdrukking soos: die hel het
losgebars.

Of: iemand het ‘n helse tyd deurgemaak.

Of dink aan die liedjie van Koos du Plessis: Oppad na Nooitgedacht:

                                    “By
die spookklippe naby Nooitgedacht,

so’t die mense my vertel,

kan geen man dit waag op ‘n donker nag –

hy begeef hom in die hel.”

Waar is die 
hel eintlik?

Is dit naby Nooitgedacht?

Is die hel êrens op aarde?

In die Apostoliese Geloofsbelydenis vind ons
ook die woord hel.

Daar word bely dat Christus neergedaal het in die hel.

Wat wil dit sê?

Wat word hiermee bedoel?D

Dit is die onderwerp vir vanaand se preek.

Tema: Jesus
Christus red ons van die hel

1         Terug na die Bybel

2         Die werklikheid agter die beeldspraak

3         Die tweede dood

1         Terug na die Bybel

Nou was daar deur die eeue ‘n mate van
onsekerheid oor hierdie sinsnede.

Die Apostoliese Geloofsbelydenis het onder
andere sy ontstaan gehad in die geloofsbelydenis van die kerk van Rome,
omstreeks die jaar 200 na Christus. In daardie belydenis het hierdie sinsnede
nie voorgekom nie.

Dit is eers later toegevoeg.En kyk mens
byvoorbeeld na die Geloofsbelydenis van Nicea, kom die sinsnede neergedaal in die hel ook nie daarin
voor nie. Deur die eeue was daar onsekerheid oor wat presies die betekenis van
hierdie sinsnede is. Waar is die hel presies?

Was Christus regtig in die hel gewees?

Word met hierdie sinsnede bedoel dat Hy
neergedaal het in die plek waar die goddelose mense gestraf word? Of word
hiermee net bedoel dat Christus neergedaal het in die graf, in die doderyk?

As slegs die laaste die geval is, dan beteken
dit dat daar eintlik twee keer dieselfde in die Geloofsbelydenis gesê word:
Christus is begrawe en Hy het neergedaal in die doderyk.

Om hierdie rede, beweer sommiges, is dit so
dat die sinsnede in van die ou weergawes van die Geloofsbelydenis ontbreek het.

Wat ons egter moet doen, gemeente, is om
hierdie sinsnede uit te lê in die lig van die Bybel. Ons moet teruggaan en kyk
wat sê die Bybel.

Dit is mos die bedoeling van ‘n
belydenisgeskrif: dat dit die boodskap van die Bybel saamvat.

Hel is ‘n woord wat uit die Bybel kom.

Dink aan wat Jesus vir sy dissipels sê in
Mattheüs 10:28: “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die
siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die
liggaam kan verderwe in die hel.” (sien ook Lukas 12:5)

En in die Bergrede waarsku Jesus: elkeeen wat
vir sy broeder sê “Jou dwaas! Moet verantwoording doen in die helse vuur.”
(Mattheüs 5:22)

Etimologies is die woord hel afgelei van die Griekse woord gehenna / gheëna. Vir “hel” word in bogenoemde verse die woord gehenna gebruik in die Griekse teks. Hierdie
woord gehenna is op sy beurt afgelei van die Hebreeuse geografiese aanduiding Dal van Hinnom.

Die Dal
van Hinnom
is ‘n kloof of ravyn aan die suidekant van die stad Jerusalem. Dit
was die plek waar al die stad se afval gegooi is, ‘n plek waar daar heeltyd ‘n
vuur gebrand het, om al die afval te verbrand.

Hierdie geografiese plek se naam is figuurlik
gebruik as benaming vir die hel.

Hierdie woord, gehenna, is egter nie die enigste woord wat in die Bybel vir die
hel gebruik word nie.

In Openbaring 20:10 word daar byvoorbeeld
gepraat oor die poel van vuur en swawel:
“En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp
waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepying word tot
in alle ewigheid.”

 

Nog ‘n ander uitdrukking wat in die Bybel vir
die hel gebruik word, is die buitenste
duisternis.

Dink aan Mattheüs 8:12, waar Christus sê oor
die afvallige kinders van die verbond: “Maar die kinders van die koninkryk sal
uitgedryf word in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van
die tande.”

Nog ‘n uitdrukking wat in die Bybel vir die
hel gebruik word, is donkerheid van die
duisternis
. Hierdie uitdrukking vind ons in Judas 1:13: waar Judas skryf
oor die goddelose mense: hulle is “dwaalsterre vir wie die donkerheid van die
duisternis vir ewig bewaar word.”

Nog ‘n uitdrukking wat gebruik word om die
realiteit van die hel te beskryf is kettings
van duisternis
– 2 Petrus 2:4.

Laastens gebruik Lukas soms die woord hades as sinoniem vir die woord hel. Die
woord hades word deurgaans met
doderyk vertaal, soos in Lukas 16:23, waar dit oor die gelykenis van die ryk
man en Lasarus handel: “En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in
smarte was”.

Al met al, die hel is ‘n realiteit wat in die
Bybel beskryf word, gebruik makende van verskillende woorde en omskrywings.

En dit is hierdie hel waarna die Apostoliese Geloofsbelydenis verwys, met die
spesifieke mededeling dat Jesus Christus
neergedaal het in die hel.

(Tema: Jesus Christus red ons van die hel

1         Terug
na die Bybel)

2         Die werklikheid agter die beeldspraak

Behalwe vir dit wat die Bybel ons openbaar
oor die hel, is dit ook verhelderend om aandag te skenk aan wat die Bybel nie oor die hel sê nie.

Dan is dit belangrik om te besef dat ‘n
uitdrukking soos gehenna, wat afgelei
is van die Dal van Hinnom, en die
uitdrukking poel van vuur en swawel
in oordragtelike sin gebruik word, as dit na die hel verwys.

Oordragtelike sin beteken dat daar van
beeldspraak gebruik gemaak word.

Ons het die eenvoudige voorstelling dat die
hemel bo in die lug is, en dat die hel die onder in die aarde is, waar dit
vuurwarm is met lawa.

Die werklikheid is egter bietjie komplekser.

In die Middeleeue het Keiser Gregorius die
Grote gemeen dat vulkaniese kraters die toegange was tot die hel.

Maar in hierdie letterlike sin kan ons dus
nie na die hel op soek gaan nie.

Net so min as wat ons in ‘n ruimteskip na die
hemel op soek kan gaan.

Die Bybel maak dus gebruik van beeldspraak.

Die Bybel gebruik beelde uit ons aardse
werklikheid, om ons iets van die werklikhede van hemel en hel te laat verstaan.

As die Bybel oor die hemel praat, word dit
met beelde verduidelik, soos byvoorbeeld: Dit is God se paleis. Dit is God se
troon.

Paleis en troon is aardse beelde om vir ons
iets te laat verstaan van die hemelse werklikheid wat vir die menseoog
onsigbaar is.

Want wie met ‘n ruimteskip op soek sal gaan,
sal geen paleis in die aardse sin van die woord vind nie.

En so geld dit ook vir die hel. Die Bybel
gebruik bepaalde beelde om die werklikheid van die hel te beskryf. Soos: die
plek van ewige vuur.

‘n Vlammesee wat nooit tot rus kom nie.

Dit is ‘n beeld om die werklikheid van die
hel te beskryf, waar die vlamme simbool staan vir die toorn van God.

Of die buitenste duisternis – absolute
duisternis – waar duisternis beeld is vir die absolute afwesigheid van God. Die
absolute Godverlatenheid.

Ook word oor die hel gespreek as die plek van
geween en tandegeknars.

Met hierdie beeld word verwys na die wroeging
en selfverwyt wat die mense daar het. Die werklikheid van die hel kom dus tot
ons in beelde.

Dink weer aan daardie woord waarvan hel
etimologies afgelei is: gehenna, Dal van
Hinnom
.

Al die vullis van die stad, al die dooie diere,
alles is daar neergegooi.

Dit was die plek waar wurms sonder ophou
hulle werk gedoen het.

Dit was die plek waar die vullis nooit ophou
brand het nie.

Dit was ook die dal waar afskuwelike dinge in
die verlede gebeur het.

In die Ou Testament kan mens lees dat sommige
konings hulle kinders selfs hier aan die afgode geoffer het.

Die Dal
van Hinnom
was dus simbool vir ‘n onreine en onheilige plek.

Hierdie dal is gebruik as beeld vir die hel,
die domein van die satan.

So word die hel in die Bybel aan ons geopenbaar
in beelde.

Hoekom in beelde? Nie omdat die werklike hel
nie sou bestaan nie.

Inteendeel. Maar omdat die hel, net soos die
hemel, ‘n dimensie is wat vir ons as mense, vir ons menseoog, op die gewone
manier nie waarneembaar is nie.

Die hel is en bly ‘n verskriklike
werklikheid.

Daar is ook mense, selfs Christene, liberale
Christene, teoloë, wat beweer dat die hel nie werklik bestaan nie.

Dat dit net ‘n verhaal uit die ou tyd is om
mense bang te maak.

‘n Bangmaakstorie. Dit kan ons egter nie uit
die Bybel aflei nie.

Wie sê dat die hel nie bestaan nie, sal ook
moet sê dat die hemel nie bestaan nie. Want die Bybel spreek oor beide hierdie
werklikhede in beeldspraak.

Ook is dit nie so dat die hel slegs ‘n
bepaalde gemoedstoestand sou aandui nie. Soms kan dit vir jou voel asof jy deur
helse tye gaan, asof jy in die hel tereg gekom het. Dit kan inderdaad ‘n baie
realistiese gevoel wees wat jy deurmaak. Maar dit beteken nie dat jy die hel
slegs tot hierdie gevoel moet beperk nie. Die Bybel leer ons dat die hel ‘n
reële werklikheid is.

 

Maar as die hel dan nie ‘n letterlike plek
is, byvoorbeeld diep onder in die aarde nie, waaraan moet mens dan dink?

In hierdie verband kan Openbaring 20:14 ons
help.

“En die dood en die doderyk is in die poel
van vuur gewerp. Dit is die tweede dood.”

(Tema: Jesus Christus red ons van die hel

1         Terug
na die Bybel

2         Die
werklikheid agter die beeldspraak)

3         Die tweede dood

Die tweede dood, hiermee word bedoel: dat
iemand deur God verlaat is, dat iemand deur God verstoot is. Dit kan mens die
essensie van die hel noem.

Dit is presies ook wat Christus meegemaak
het. Hy is deur God verlaat.

Hy het, om ‘n ander beeld te gebruik, in die
buitenste duisternis tereg gekom. Die feit dat dit vir drie ure lank donker
geword het, toe Hy aan die kruis gehang het, was teken hiervan. Teken dat Hy
deur God in die steek gelaat is. En die poel
van vuur
waaroor Openbaring 20:14 praat, verwys na die versengende hitte
van God se toorn.

Dit het Christus aan die kruis meegemaak.

Dit is dus die essensie, dit is waaraan ons
moet dink by die woord hel:

Aan God se toorn, aan die feit om deur God
verlaat te wees.

Wie deur God verlaat word, sterf die tweede
dood. Dit is die hel.

Kan ons hiervan ‘n voorstelling maak?

Ek dink dat dit vir ‘n mens wat nog lewe, nie
moontlik is nie.

Christus het wel ervaar, wat dit is om deur
God verlate te wees.

Dit het Hom aan die kruis oorkom.

En gemeente, in hierdie sin moet ons dan ook
die sinsnede uit die Apostoliese Geloofsbelydenis neergedaal in die hel verstaan.

Die Heidelbergse Kategismus verduidelik dit
ook so:

Christus het onuitspreeklike angste
meegemaak, onuitspreeklike smarte, verskrikking, helse kwelling.

Dit alles omdat Hy deur God in die steek
gelaat is.

Hemel en hel is dus werklikhede wat ons nie
met die blote oog kan sien nie.

Die hemel is die woning van God. Maar dit is
beeldspraak.

Want, sê Salomo, God is alomteenwoordig.

Selfs die hoogste hemele kan Hom nie bevat
nie.

Dit is vir ons, geskape mense, ‘n ander
dimensie.

En dit geld ook vir die hel. Dit is ‘n ander
dimensie.

Dit is wel bittere werklikheid.

Die werklikheid van wat dit is om deur God
verlate te wees.

Die werklikheid van die tweede dood.

Die werklikheid van die ewige straf.

Dit is die werklikheid, die voorland, vir
hulle wat kies om sonder God en sy Woord hulle lewe op aarde deur te bring.

Die Bybel sê dat die Verlosser se wil is dat
alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. (1 Tim 2:4)

Christus het in jou plek God se straf, die
hel, meegemaak.

Dit het sy toppunt bereik aan die kruis,
tydens die drie ure duisternis.

Maar nie net toe nie.

Die Kategismus maak tereg die opmerking:
Chirstus het die onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking meegemaak
gedurende sy hele lewe, nie net aan die kruis nie.

Ook toe Jesus in Getsemane deur sy dissipels
in die steek gelaat is.

Ook toe Hy vals beskuldig en veroordeel is.

Ook toe Hy deur God se eie volk oorgelewer is
in die hande van heidene.

In al hierdie dinge het Christus ook ervaar
hoe die helse magte Hom oormeester het.

In dit alles het Christus ervaar hoe sy Vader
steeds meer sy hande van Hom aftrek. Hoe God almagtig toegelaat het dat die
magte van die kwaad, van die hel, Hom in hulle greep kry.

Gemeente, ook hieruit kan ons leer dat die
hel nie in die eerste plek ‘n geografiese lokasie is nie.

Die hel, die suigkrag van die hel, het
Christus al meegemaak tydens sy lewe op aarde. Dieselfde geld ook vir ons lewe.
Die aarde is ‘n oorlogsveld.

Dit is die kyk wat die Bybel ons op die
werklikheid gee.

Die aarde is die oorlogsveld tussen hemel en
hel.

Tussen die hemelse magte en die helse magte.

Voel u ook die suigkrag van die hel?

Hoe die magte van die kwaad u van God en sy
diens probeer wegtrek?

Die hel en die duiwel is werklikhede om
ernstig op te vat.

Maar juis in hierdie barre werklikheid, waar
die suigkrag van die hel soms onweerstaanbaar voel, juis in hierdie barre
werklikheid – die Kategismus noem dit my
felste en swaarste aanvegtinge
– tog kan ek seker daarvan wees, kan ek ryke
troos daaruit put, uit die feit dat Christus neergedaal het in die hel. Verstaan
u?

Christus red ons uit die suigkrag van die
hel.

Christus het die bande, die kettings, wat ons
in die hel intrek, deurgesny.

Verstaan u? Ek praat weer in beelde.

Maar hierdie beelde dui op ‘n bittere
werklikheid.

Danksy Christus hoef jy nie meer angs vir die
hel te hê nie.

Solank jy in Hom bly.

Hy het daarvoor gesorg dat ons nou sterk kan
staan, dat die suigkrag van die hel ons nie meesleur nie.

Dat ons nie in hierdie lewe al begin afgly na
die tweede dood nie.

Maar dat ons onderweg is na die hemel.

Deur die krag van die Heilige Gees voel jy,
pleks van die tweede dood, ‘n nuwe lewe in jou opstaan! Ook dit is weer
beeldspraak.

Beeld vir by God wees.

Vir wie aan Christus vashou, se
eindbestemming is nie meer die hel nie.

Dus mag en kan ons in hierdie lewe, al is die
aarde nog ‘n strydtoneel, tog in vreugde en hoop lewe. Dit alles danksy ons
Heiland.

Danksy Hom wat neergedaal het in die hel.

Danksy sy dood, die tweede dood wat Hy in ons
plek gesterf het.

Maar die tweede dood kon Hom nie vashou nie.

Dit is die Evangelie van die kruis.

Jesus red van die hel.

Die hel is ‘real’, dis ‘n bittere
werklikheid.

Die hel is die tweede dood. Christus red van
die tweede dood.

Hy red elkeen wat sy hand aangryp.

Elkeen wat die blye boodskap van die kruis
omarm.

In die kruis sal ek ewig roem,

En geen wet sal my verdoem.

Christus dra die vloek vir my.

Christus het vir my gesterf.

Het gena’ vir my verwerf.

Ek’s nou van dood en sonde vry.

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)