Die Heilige Gees lei mense na die verlossing in Christus

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-05-15
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 20
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
15 Mei 2016 AD, 17:30 (Pinkster)

Votum

Seën

Ps 19:1,3

Gebed

Skriflesing: Handelinge 17:15-34

Sb 11:2

Lees: NGB art. 2

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 20

Preek

Ps 51.3,5

Gebed

Geloofsbelydenis (Nicea)

Ps 40:4,5

Kollekte

Ps 19:4,5

Seën

Preek:
Heidelbergse Kategismus Sondag 20

Kan jy ‘n Christen wees as jy nooit of amper nooit kerk
toe gaan nie?

Daar is vandag baie mense in ons land wat dink hulle kan.

Hulle kom selde in die kerk, dalk met Kersfees, dalk by
‘n huwelik of begrafnis, maar hulle noem hulleself Christen.

Hulle is dalk in naam lid van ‘n kerkgenootskap, hulle
sal dalk selfs elke jaar geld vir die kerk oormaak, maar op Sondag sien jy
hulle deurgaans nie in die kerk nie.

Veel eerder sal jy hulle in die winkelsentrum raakloop.

As jy hulle sou vra hoe hulle hulle Christenskap uitleef,
sal hulle dalk vir jou antwoord:

Ek kan God ook op ander maniere ervaar as om in die kerk
te sit.

Ek ervaar sy aanwesigheid in die natuur.

Ek ervaar sy aanwesigheid in die goeie wat mense vir
mekaar doen, in die liefde wat hulle mekaar bewys.

Gemeente, wat moet mens nou op soiets antwoord?

Is hierdie persoon reg, het hy ‘n element van die
waarheid beet?

Ons glo mos ook dat ons God se almag in die natuur kan
ervaar?

Ons sê mos ook dat jy die liefde van Christus in mense se
optrede teenoor mekaar kan proe?

Ons bely mos ook dat die Heilige Gees die skepping laat
groei en bloei?

Tema:
Die Heilige Gees lei mense na die verlossing in Christus

1         Wie is die Heilige Gees

2         Hoe werk die Heilige Gees

3         Die belang van die Bybel en die kerk in
die Heilige Gees se werk

1         Wie is die Heilige Gees

Vandag, op Pinksterdag, skenk ons aandag aan die Heilige
Gees.

Die Heilige Gees wat ons in die waarheid lei.

Kom ons kyk, voordat ons aandag skenk aan hoe Hy dit
doen, kom ons kyk eers na wie Hy is. Sondag 20 bely:

Hy is saam met die Vader en die Seun ware en ewige God.

Net soos hulle is Hy ewig. Hy was al aktief betrokke by
die skepping van die wêreld. Dink maar aan Genesis 1:2.

En tot op vandag is Hy aanwesig en aktief in die wêreld.

Uit die Bybel weet ons ook dat die Heilige Gees ‘n
persoon is.

God Drieënig bestaan uit drie aparte Persone.

Dit is dus nie so dat die Gees net die karakter of die
krag van God is nie. Soos ‘n mens ‘n karakter het, maar jou karakter is nie ‘n
losstaande entiteit van jouself nie.

God bestaan uit die harmonie van drie Persone, Vader,
Seun en Gees.

En hoewel dit dikwels weerspreek word, dink aan wat die
Jode en die Moslims hieroor sê, naamlik dat daar slegs een God is, en dat Jesus
en die Heilige Gees nie God genoem mag word nie;

hoewel die godheid van die Gees dikwels ontken word, laat
die Bybel vir ons geen keuse nie.

Dit is oorduidelik dat die Bybel spreek oor die Gees as
God self.

So word ons in die Bybel beveel om mense te doop in die
naam van God, heel konkreet, in die naam van 
die Vader, Seun en Heilige Gees.

En as Ananias en Saffira ‘n leuen vertel, lees ons in die
Bybel, dat hulle vir die Heilige Gees gelieg het, en dus teen God gelieg het
(Hand 5:3-4). Die Heilige Gees is dus ware en ewige God.

Hoekom word Hy eintlik Gees genoem?

Die feit dat Hy Gees genoem word, dui daarop dat Hy vir
mense onsigbaar is. Jesus was as mens op aarde vir iedereen sigbaar.

Maar toe die Heilige Gees uitgestort is, op Pinksterdag,
toe was Hy nie sigbaar nie. Die effek van sy werk was en is wel sigbaar.

Net soos mens die wind nie kan sien nie, maar wel die
effek van die wind: dat bome heen en weer beweeg, dat jou hare in die wind waai.

En hoekom word Hy eintlik Heilige Gees genoem?

Die woord heilig beteken
dat iets aan God behoort, of meer spesifiek, dat iets afgesonder is van die
sonde en toegewy aan God.

Nou is die Gees self God, toegewy aan Homself.

Hy is dus afgesonder van die sonde. Tog is dit net die
halwe waarheid. Die Heilige Gees is inderdaad nie vatbaar vir die sonde nie,
maar dit wil nie sê dat Hy vir die sonde wegvlug nie.

As dit die geval was, sou Hy nooit na die aarde gekom
het, toe Hy byvoorbeeld op Pinksterdag uitgestort is nie.

Die Heilige Gees soek juis sondige plekke op, om dit te
reinig, te heilig. Dit is uit en uit die werk van die Gees.

Hy dring binne in harte van mense, in die mees sondige
lewens.

Hy begin hulle van binne uit te reinig en aan God toe te
wy.

Daarom heet Hy Heilige
Gees.

Die Gees wat heilig maak.

(Tema: Die Heilige Gees lei mense na die verlossing in
Christus

1         Wie is die
Heilige Gees)

2         Hoe werk die Heilige Gees

Nou kom ons terug by die vraag wat ek aan die begin
gestel het.

Hoe doen die Gees dit? Hoe werk die
Gees in mense se lewens?
Ons weet dat die Gees die geloof in jou hart werk.

Maar hoe doen
Hy dit? En doen Hy dit by alle mense op dieselfde manier? Of is dit per persoon
verskillend?

Werk die Gees ook die geloof in harte van mense wat amper
nooit in die kerk kom nie? Kan die Gees ook mense, deur middel van hulle
belewenisse in die natuur, tot geloof in God bring?

Ons lees in Sondag 20 dat die werk van die Gees is om
mense deel te laat kry aan die weldade van 
Christus.

Dit is deftig onder woorde gebring.

Eenvoudig beteken dit: dat mense gered word, dat hulle
sondes vergewe word, dat hulle die ewige lewe ontvang, dat hulle nie verlore
gaan nie. DIT is alles die WELdade van Christus.

Maar kan die Gees dit doen met alle mense, maak nie uit
of hulle kerk toe kom of nie?

Ons het vanaand ook art. 2 uit die NGB gelees.

Daarin staan dat ons God deur twee middele ken.

In die eerste plek deur die skepping, onderhouding en
regering van die hele wêreld. Skepping – dink dan aan die natuur.

Onderhouding – dink dan aan hoe die seisoene mekaar
afwissel.

Regering – dink daaraan hoe op aarde regerings tot ‘n val
kom en oorgeneem word deur nuwes, hoe God die wêreldgeskiedenis stuur.

Die NGB vergelyk hierdie hele werklikheid van skepping,
onderhouding en regering met ‘n pragtige boek.

‘n Ensiklopedie met oneindig veel bladsye, die mooiste
foto’s en interessantste onderwerpe.

Uit hierdie ensiklopedie leer ons die ewige krag en
goddelikheid van God ken (Rom 1:20).

Geen mens, wat op aarde woon, kan aan die einde van sy
lewe sê:

Ek het God nie geken nie.

Want iedereen wat leef het insae in hierdie pragtige
boek.

Maar in die tweede plek, sê NGB art. 2, is daar nog ‘n
boek waardeur God Homself bekend maak.

En hier word daar dan ‘n egte boek bedoel, naamlik die
Bybel.

Hierin maak God Hom nog duideliker en meer volkome aan
ons bekend. Die wins hiervan is, dat wie ook hierdie Boek ken, nie net weet dat
daar ‘n God, ‘n ewige krag, is nie; maar hy weet ook WIE hierdie God is, en HOE hierdie
God geëer moet word, en HOE hy self
gered moet word. Dit is die meerwaarde van hierdie tweede Boek.

Nou mag dit alles dalk nogal teoreties klink.

Maar dit word baie duidelik as ons kyk na die gedeelte
wat ons uit die Bybel gelees het. Paulus is op sendingsreis.

Hy kom op ‘n dag aan in Athene, die hoofstad van
Griekeland.

Hy word uitgenooi om ‘n toespraak te hou op die
Areopagus.

En Paulus spreek die Griekse volk en almal teenwoordig
vervolgens vrymoedig toe.

Hy vertel – hy was waarskynlik vir die eerste keer in
Griekeland op besoek – hy vertel dat dit hom opval hoe godsdienstig die mense
hier is. Op byna elke straathoek staan daar ‘n altaar.

Hy het selfs ‘n altaar teengekom wat gewy was aan ‘n
onbekende god.

Ons het gelees hoe Paulus hierby aangesluit het om te
vertel dat hierdie vir hulle onbekende god nou juis die God is wat hy kom verkondig.

Mog Paulus dit wel sê? Mog Paulus wel sê dat die Atheners
godsdienstig was? Hulle het naamlik nie eens die enige ware God geken nie. Hulle
het gebuig en geoffer vir afgode.

Gemeente, as ons NGB art. 2 op hierdie geskiedenis
toepas, dan kan mens konkludeer dat die Atheners wel insae gehad het in die
eerste boek. Die ensiklopedie met oneindig baie bladsye met die mooiste foto’s
en verhale, die boek naamlik van die skepping, onderhouding en regering van die
wêreld.

Uit hierdie boek het die heidene, hierdie Atheners, dus
die lewendige besef oorgehou dat daar ‘n God moet bestaan.

Wie anders het hierdie wêreld tot stand gebring?

Wie anders sorg vir die reën en sonskyn? Wie gee aan
mense die lewe? Uit hierdie boek kan ELKE mens dus die ewige krag en goddelikheid
van God leer ken. So was dit ook by die Atheners.

Dit was hulle vlak van godsdienstigheid.

Hulle was oortuig daarvan dat God bestaan, hulle het
selfs vermoed dat daar baie gode bestaan, selfs gode wat hulle nog nie geken
het nie. En hulle het probeer om al hierdie gode te dien.

Dus ja, baie godsdienstig!

 

Wat maak Paulus nou, hier op die Areopagus?

Is Paulus besig om hulle godsdienstigheid af te kraak,
asof dit niks werd is nie? Paulus doen iets anders.

Om in terme van NGB art. 2 te praat, hy verduidelik aan
hulle dat daar nog ‘n Boek bestaan,
‘n boek waarin hulle nog veel helderder sig op God kry. ‘n Boek waaruit hulle
ook kan leer dat ‘n mens se lewe op aarde nie hopeloos is nie, nie aan die
noodlot onderhewig is nie, maar dat hierdie God van plan is om mense te red van
die dood, dat Hy van plan is om aan hulle die ewige lewe te skenk.

Hierdie God het bewys dat Hy ernstig daaroor is, want Hy
het sy eie Seun uit die hemel na die aarde gestuur, om die skuld van die wêreld
te dra, om die dood te oorwin.

Wie in Hom glo, in God se Seun Jesus Christus, gaan nie
verlore nie, maar word gered. Nou wat is die impak van hierdie boodskap op
hulle godsdienstigheid, op al die altare wat hulle gehad het?

Dit is as’t ware asof hulle nou eers ‘n bril opkry
waardeur hulle kan fokus. Tot dusver het hulle alles net wasig gesien.

Nou kan hulle helder onderskei. Nou kan hulle hulle
Godsbeeld regstel. Noudat hulle kan fokus, sien hulle dat daar nie baie gode is
nie, maar slegs een God.

Dis net soos mense met slegte oë, hulle kan soms nie
onderskei of daar in die verte een of meerdere mense aankom nie.

Maar, met die bril van hierdie tweede Boek op, is die sig
helder.

Hulle ou vorme van godsdienstigheid kan hulle nou agter
hulle laat.

Hulle het nou sig gekry op die ware God.

In hierdie tweede Boek staan hoe Hy gedien wil word.

In hierdie tweede Boek lees hulle ook die goeie nuus oor
hulleself:

Elkeen wat in Jesus glo, erf die ewige lewe!

Gemeente, verstaan u dat hierdie tweede Boek, wat Paulus
na Athene gebring het, vir die mense daar bitter noodsaaklik was om gered te
kon word? Op die manier hoe hulle aangesukkel het met al hulle altare en
godsdienstigheid, sou hulle nooit gered kon geword het nie.

Hulle het iets beters nodig gehad. En dit het Paulus
gebring.

Dit is daarom dat ons, saam met art. 2 van die NGB, kan
konkludeer dat as jy slegs insae het in die 1e boek, die skepping, onderhouding
en regering van die wêreld, soos die Atheners aanvanklik, as jy slegs daardie
boek ken, dan kan jy nie gered word nie.

Dan is jou sig op God en sy diens wasig.

Hierdie boek sal selfs in die oordeel teen jou gebruik
word!

Want jy kry daaruit wel die besef dat God bestaan, maar
vervolgens, as jy nie ook die tweede Boek het nie, sal jy hom op jou eiewillige
manier begin vereer.

Die meerwaarde van die tweede Boek, die Bybel, is dat dit
jou helder sig op God gee. En op hoe Hy op gepaste wyse vereer moet word.

En selfs hoe jy gemoedsrus kan kry omtrent jou eie
toekoms en saligheid.

(Tema: Die Heilige Gees lei mense na die verlossing in
Christus

1         Wie is die
Heilige Gees

2         Hoe werk
die Heilige Gees)

3         Die belang van die Bybel en die kerk in
die Heilige Gees se werk

Ons kom terug by vandag. Ons het die preek begin met die
vraag:

Kan iemand ook gered word as hy nooit kerk toe gaan nie?

Kan jy ook in God glo as jy amper nooit kerk toe gaan
nie, maar as jy Hom uit die natuur leer ken?

Kan die Heilige Gees die geloof in jou werk op hierdie
manier?

Is daar twee maniere hoe jy in God kan glo?

Christen wees met behulp van die kerk, en Christen wees
sonder die kerk? Laat ek begin deur te sê: vandag geld onverkort dat altwee
boeke nodig is om ‘n helder sig op God te kry.

En laat dit duidelik wees dat sonder die tweede Boek, die
Bybel, ‘n mens nie sal weet dat ewige redding van die dood moontlik is nie.

Wat dit betref is die antwoord duidelik: dit is nie moontlik om in God te glo, en Hom
reg te dien nie, sonder om kerklid te wees.

Met kerk word uiteraard nie ‘n gebou bedoel nie, maar die
plek waar die tweede boek, die Bybel, oopgaan, die plek waar die Evangelie
klink. Want hoe werk die Heilige Gees die geloof?

Deur die prediking van die Evangelie!

Paulus het dit goed besef, toe hy aan die Romeine geskryf
het:

“Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van
vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!” (Rom
10:15)

Nou is dinge in die praktyk dikwels bietjie meer
ingewikkeld.

Hier in Suid-Afrika is daar baie mense wat nie meer kerk
toe gaan nie, maar wat hulleself tog Christene noem. Sal al hierdie mense dus
verlore gaan? In hierdie verband moet ons wel let op die verskil tussen
Griekeland destyds en Suid-Afrika vandag.

Suid-Afrika is in ‘n groot mate ‘n gekerstende land.

Dit kon mens destyds nie van Griekeland sê nie.

Baie mense wat hulleself deesdae Christen noem, maar nie
kerk toe gaan nie, het wel in die kerk opgegroei, is wel ooit ‘n keer gedoop,
en het wel Sondagskool toe gegaan toe hulle jonk was.

Hulle is nie onbekend met die tweede boek, die Bybel,
nie.

Hulle lewe is selfs in ‘n groot mate gevorm deur die
Bybel, deur die Christelike wêreldbeskouing en etiek.

Sal sulke nie kerklik-aktiewe Christene gered word of
verlore gaan?

Gelukkig hoef ons nie daaroor te oordeel nie.

Ons kan en moet slegs die Bybel naspreek:

Elkeen wat die Naam van Jesus Christus aanroep, sal gered
word.

Dit is duidelik !

Maar, gemeente, tog moet daar meer gesê word.

Waar hierdie mense, Christene wat die kerk nie ernstig
vat nie, miskien dalk nog soos deur die oog van ‘n naald gered sal word, wat
gaan eintlik van hulle kinders word?

Want hulle kinders is dalk nie meer gedoop nie, gaan nie
meer Sondagskool toe nie, laat staan katkisasie.

Hulle groei nie meer met die Bybel op nie.

Kan die Heilige Gees wel in die harte van hierdie kinders
werk, as die tweede Boek, die Bybel, vir hulle ‘n toe boek bly?

Sal hulle nog leer van die enigste troos in lewe en
sterwe?

Kortom, wat kom daar van sulke kerklik onaktiewe
Christene se kinders tereg?

Gemeente, u begryp hopelik dat u nie net vir uself kerklid
is nie, maar ook vir u nageslag.

Aan die kerk het Christus die opdrag gegee om die
Evangelie te verkondig, maar ook te bewaar. Bewaar vir die nageslag.

As jy, wat jouself Christen noem, besluit om los van die
kerk te lewe, dan onttrek jy jou aan hierdie verantwoordelikheid.

Dan hinder jy die werk van die Gees in die harte van die
volgende generasie, in die lewe van jou kinders.

Dan blokkeer jy die werking van die Gees.

En laat ons nugter wees, as hierdie tendens voortduur,
hierdie tendens van ontkerkliking van die Afrikaner,

as Christene steeds minder die verkondiging van die
Evangelie in die kerk opsoek, dan sal die ongeloof en heidendom weer oorneem.

Miskien staan daar oor honderd jaar dan weer altare op
die hoeke van die strate, soos in Athene die geval was.

Dan gly ‘n land terug in die heidendom.

Of dalk nog erger, want waar daar ‘n godsdienstige leemte
ontstaan, neem ander godsdienste dikwels hulle plek in, soos byvoorbeeld die
Islam.

Hoe lyk ons land, hoe lyk die Westerse wêreld, oor 100
jaar?

Klink daar dan op alle straathoeke die luidsprekers van
die minaret wat oproep tot gebed tot Allah? Laat ons die Heilige Gees bid of Hy
die ontkerkliking, die verwêreldliking, die sekularisasie sal teenhou.

Dat Hy sal sorg vir die kragtige prediking van die
Evangelie.

Dat Hy, soos op Pinksterdag, lieflike voete sal opwek wat
gereed staan om die Evangelie uit te dra en te verkondig aan ‘n nuwe generasie.

Dat die tweede Boek waaroor die NGB praat, nie verduister
sal word nie, nie onbetroubaar en ouderwets verklaar sal word nie, nie ingeruil
sal word vir ‘n ander godsdienstige boek wat nie Evangelie is nie. Laat ons ook
wat dit betref ons verantwoordelikheid besef.

Dink nie net aan jouself nie, maar ook aan jou kinders,
aan die volgende geslag. Bring jouself, jou kinders en kleinkinders na waar die
Evangelie verkondig word.

Sorg dat jy en jou nageslag helder sig behou op wie God
is, en hoe Hy gedien wil word, en hoe jy en jou kinders en kindskinders gered
kan word. So werk die Heilige Gees, deur die bediening van die Goeie Nuus, die
blye Evangelie.

En ons is mede verantwoordelik, om ons daarvoor in te
span dat die kandelaar nie uit ons omgewing weggeneem word nie.

Sodat ook na honderd jaar, DV, ook ons kindskinders
getroos kan lewe en sterwe.

Sodat hulle ook, net soos ons vandag, nog steeds sal
bely: die Heilige Gees is ook aan my gegee, om my deur ‘n ware geloof aan
Christus en al sy weldade deel te laat kry, my te troos, en ewig by my te bly.

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)