Ons Here Jesus Christus het toegelaat dat Petrus struikel

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-03-20
Teks: 
Matthéüs 26 : 69-75
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 20 Maart 2016 AD, 10:15

Votum

Seën

Ps 69:1,4

Wet

Ps 119:21,25

Gebed

Skriflesing:
Mattheüs 26:47-75

Ps 38:5-8

Teks:
Mattheüs 26:69-75

Preek

Ps 146:2,3,5

Gebed

Kollekte

Ps 146:6,7,8

Seën

Preek: Mattheüs 26:69-75

In elke
gemeente is daar mense wat bekend staan as steunpilare.

Meestal is
dit bietjie ouer mense.

Broers wat
byvoorbeeld al vir die soveelste keer die amp beklee.

Mense wat
die regte koers kan vashou.

Hulle mening
weeg swaar, as dit oor aktuele onderwerpe in die kerk gaan.

As hulle
iets verantwoord vind, dan het die res ook ‘n goeie gevoel.

Maar as
hulle twyfel, dan kan mens liewerste nie daarmee begin nie.

Kortom,
steunpilare in die kerk.

Petrus was
ook so ‘n persoon.

Hy was – na
Jesus – die leier van die dissipels.

Waarskynlik
was Petrus ook die oudste van die twaalf.

‘n Man na
wie ‘n mens opgekyk het.

‘n
Steunpilaar.

Iemand wat van
tyd tot tyd die moed gehad het om te sê wat gesê moes word.

Wat as enigste
soms die moed gehad het om die Heiland aan te spreek, selfs te vermaan.

Daarmee was
hy ‘n spreekbuis vir die gevoel wat hulle almal – al die dissipels – gehad het.

Tema: Ons Here Jesus Christus het toegelaat
dat Petrus struikel

Ons bevind
ons op hierdie oomblik in die nag voorafgaande aan die dag van die kruisiging.

‘n Nag
waarin daar veel gebeur het.

Die Joodse
Raad was druk besig om te vergader.

Dit was op
die adres van die hoëpriester Kajafas.

En dit is
hier waarheen Jesus gelei word, nadat Hy gearresteer is in die tuin van
Getsemane.

Alleen,
Jesus verskyn sonder sy dissipels.

Jesus het
dit self so gereël, so laat verloop, dat hulle nie gearresteer is nie.

En die
geleentheid het hulle gretig aangegryp om te vlug.

Daar was
slegs een wat die moed kon opbring om Jesus op ‘n afstand te volg.

Het Jesus se
uitspraak dalk nog in sy kop rondgesing?

Ook jy sal my verlaat ... Petrus.

Petrus
besluit om te volg, maar wel op ‘n veilige afstand.

Mattheüs
skryf: om te sien hoe dit sou afloop – om die einde te sien (vers 58).

Petrus het toeskouer
geword.

Ons lees oor
die vergadering van die Sanhedrin, die Joodse leiers.

In die huis
van die hoëpriester.

Hoe hulle
probeer het om ‘n aanklag te vind.

‘n Aanklag
wat ernstig genoeg is om hierdie Man ter dood te kan veroordeel.

Hulle kon
egter nie slaag nie, hoe hulle ook gesoek het.

Tot en met
‘n valse getuienis uit eie kring.

Vers 59: ‘n
uitspraak van Jesus, dat Hy die tempel kon afbreek en binne drie dae weer opbou
...

Hierdie
uitspraak het hulle uit sy verband geruk.

Hulle het
hom probeer voorstel as staatsgevaarlik.

‘n Terroris.

‘n Tipe wat
bomme plant op publieke plekke.

Min wetende
dat Jesus met hierdie uitspraak na sy eie lewe verwys het.

Petrus was
nie hierby nie.

Hy het op
veilige afstand gevolg.

As hy daarby
was, sou Hy vir die Here Jesus in die brès kon getree het.

Hy sou kon
verduidelik hoe sy Meester hierdie uitspraak bedoel het.

Dat Hy
hoegenaamd geen terroris is nie.

Dat Hy altyd
opgeroep het om respek vir die keiser te hê, en die verskuldigde belastings te
betaal.

Maar Petrus
het op veilige afstand gestaan.

Buite in die
hof, die tuin van die huis van die hoëpriester.

Die
vergadering het verder gegaan.

Hulle het
vir Jesus gevra of Hy Homself nader kon verklaar.

Maar, lees
ons, Jesus het bly swyg.

Net asof al
hierdie dinge Hom nie geraak het nie.

Al die – ons
sou vandag sê – kerkpolitieke gedraaiery om Hom te laat struikel.

Jesus het
stilgebly.

Totdat die
raad op ‘n stadium radeloos was.

Niks wou
werk nie.

Hulle was
voos vergader.

Die
hoëpriester Kajafas het sy geduld begin verloor.

In vers 63
hoor ons hom dan skreeu:

“Ek besweer
U by die lewende God dat U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God, is?”

Hy het sy
humeur verloor.

Die
kerkpolitiek wou nie werk nie.

En op die
man af het hy Jesus gevra wat op almal se lippe was.

En nou –
teen die verwagting in – nou het Jesus wel begin praat.

Uiteindelik
was die saak op tafel waaroor dit moes gaan.

En nou het
Jesus nie doekies omgedraai nie.

“U het dit
gesê” (vers 64) – dit is soos u gesê het.

Meer nog
selfs, “Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van
die krag van God en kom op die wolke van die hemel.” (vers 64)

Hierdie is
die aanklag wat toe die deurslag gegee het.

Jesus se eie
woorde.

Hy was nie
skaam om dit nou ronduit te sê nie: Ja, dit is Hy, Hy is die Christus, meer
nog, Hy is die Seun van God.

Ondertussen
was Petrus nog steeds buite.

Petrus,
diegene wat dit roerend hiermee eens was.

“U is die
Christus, die Seun van die lewende God.”

Onthou u nog
hierdie belydenis van Petrus uit Mattheüs 16:16?

Dit was destyds
sy antwoord op Jesus se vraag, wie die dissipels gedink het Hy was.

Petrus het
nie getwyfel nie, Petrus was koersvas, ja rotsvas, Petrus het openlik sy geloof
in Hom bely.

Maar nou was
Petrus nie meer daar om Jesus by te staan nie, om op te staan vir sy oortuiging
nie.

Binne in die
huis van die hoëpriester was dit toe die aanklag wat die deurslag gegee het.

Kajafas het
sy klere geskeur.

“Hy het
godslasterlik gespreek”, het hy uitgeroep, “wat het ons nog getuies nodig?”

“Kyk, nou
het julle sy godslastering gehoor!” (vers 65)

En toe was
die vergadering vinnig ten einde.

Sonder om te
stem het hulle unaniem tot die gevolgtrekking gekom en die besluit geneem: “Hy
is die dood skuldig!” (vers 66)

 

Buite het
Petrus gesit, saam met ander rondom ‘n vuur.

Dit was in
die binnehof.

In die nag
het dit maar koel geraak.

En reken
maar dat Jesus die onderwerp van die gesprek was.

Dit het
almal besig gehou en die spanning het gestyg.

Eers die
koninklike intog in Jerusalem, toe almal Hom Hosanna! toegeroep het.

Toe die
opskudding by die tempel, toe Jesus wat die tafels omgekeer het en die
geldwisselaars weggejaag het.

En nou dit:
die berig dat Hy gevange geneem is.

Dat Hy besig
is om verhoor te word voor die Sanhedrin, die top bestuursorgaan van die Jode.

Die vlamme
van die vuur het soms hoog opgelaai.

So dat alle
gesigte by tye helder verlig was.

Ook Petrus
se gesig, soos wat hy daar tussen die res gesit het, op veilige afstand.

Tussen die
anonieme massa.

Maar ineens
het daar ‘n slavin na hom toegekom.

In die vlammelig
het sy gemeen sy kon sy gesig herken.

Het sy dit
goed gesien?

Jy was mos
ook by Jesus, die Nasarener?

Skielik is
Petrus onkant betrap.

O nee!

Ek weet nie
wat jy sê nie.

Petrus kon
wel in die grond wegsink.

En, skryf
Mattheüs, hy het dit ontken daar ten aanhore van almal.

Daarna het
hy weggeloop.

By die poort
het hy by ‘n ander groepie gaan staan.

Maar ook
daar is hy herken.

“Kyk,
hierdie een was ook by Jesus, die Nasarener.” (vers 71)

Weer het
Petrus dit ontken, selfs met ‘n eed.

Ek sweer, ek
ken die man nie!

Mensig, wat
is dit moeilik om anoniem te bly!

Dit het wel
gelyk of almal hom geken het.

Nugter
gesproke was dit ook nie verwonderlik nie.

Was Petrus
nie altyd haantjie die voorste nie?

Het hy nie
triomfantelik voor Jesus uitgeloop,
met sy intog in Jerusalem nie?

Het hy nie
altyd vooraan gestaan, en goedkeurend geknik, elke keer as Jesus ‘n wonder
verrig het nie?

Geen wonder
dat so baie mense sy gesig al geken het.

Onopvallend
het Petrus geprobeer om weer te verdwyn.

Weg deur die
poort.

Maar hy kon
nie regkry wat hy wou nie.

Hy kon nie
Jesus anoniem op ‘n afstand bly volg nie.

Jesus
anoniem op ‘n afstand volg ... is dit nie iets wat baie gelowiges se houding tipeer
nie?

Maar dit wou
nie werk nie.

Jy sal tog
daarvoor moet uitkom.

Petrus het
probeer wegkom.

Dan maar
liewerste in die anonieme donkerte ronddwaal.

Dan hoor hy
dalk al die gesprekke nie meer nie.

Maar dan kan
hy tenminste nog alles van ‘n afstand af dophou.

Maar hy was
nog maar net alleen, of hulle het na Petrus toegekom.

En hierdie keer
was dit nie ‘n vraag nie.

Nee, hulle
het reeds hulle gevolgtrekking gemaak: “Waarlik, jy is ook een van hulle, want ook jou spraak maak jou bekend.”

Ons het dit
gehoor aan jou aksent.

En
inderdaad, net soos Jesus het Petrus ook in Galilea opgegroei, in die noorde
van die land.

En daar het
hulle die taal met ‘n ander aksent gepraat.

Jou tongval
sal altyd verraai waar jy vandaan kom.

Dit is glad
nie erg nie, dit is soos dit nou maar eenmaal werk.

En so kon
die mense hoor dat Petrus dieselfde aksent as Jesus gehad het.

Jesus, die
Nasarener.

Net ‘n klein
detail, Mattheüs spel ‘Nasarener’ op ‘n bietjie ander manier hier, moontlik om
op die effens afwykende uitspraak klem te lê.

Soos wanneer
mens die Afrikaanse woord ‘kombuis’ met ‘n y
sou spel – ‘kombys’ – om daarmee
die aksent van sommige Afrikaanssprekendes na te boots.

In elk
geval, nou was Petrus heeltemal in ‘n hoek gedryf.

Hy het
homself begin verwens.

Mens kan ook
vertaal: hy het homself begin vervloek.

Petrus, ons
sou vandag sê, Petrus die deeglike ouderling, het skielik begin vloek en sweer.

Meer as een
het hy gesweer: ek ken daardie man nie.

Ek wil niks
hiermee te make hê nie.

En toe het
die haan gekraai.

In elke kerk
is daar mense wat jy as ‘n steunpilaar beskou.

Waarteen
ander opkyk.

So ‘n figuur
was Petrus.

Vir sy
mededissipels.

Maar God sy
dank het die Here Jesus nie op hom begin ste – om daarmee
die aksent van sommige Afrikaanssprekendes na te boots.

Moet tog nie
op mense bou nie,

hoe vernaam
ook en geag.

Want beskaam
word jou vertroue,

as jy heil
van hul verwag.

Psalm 146.

Petrus het teleurgestel.

En dan was
hy nog die moedigste van die twaalf.

Hy was die
enigste een wat Jesus gevolg het, al was dit dan anoniem op ‘n afstand.

Gemeente,
het dit u al opgeval dat alle bekende mense in die Bybel teleurgestel het?

Die baie
regverdiges, die vromes, die gelowiges.

Maar
desnieteenstaande, het dit u al opgeval hoe krities die Bybel op hulle is?

Noag.

Abraham.

Isak.

Jakob.

Dawid.

Salomo.

Petrus.

Paulus.

Ensovoorts.

In God se
Woord word hulle geskets in al hulle sondigheid.

Kortsigtigheid.

Onstandvastigheid.

Petrus is
nie ‘n steunpilaar nie.

Die enigste
waaraan ons ‘n voorbeeld kan neem, is die laaste woorde uit ons teks: “En hy
het buitentoe gegaan en bitterlik geween.”

Daar word
dikwels gesê: die jeug het identifikasiefigure nodig.

Elkeen van
ons het behoefte daaraan.

Mense na wie
jy kan opkyk.

Maar wat
leer ons teks vir ons?

Jaseker,
hierdie soort mense soos Petrus word vir ons as ‘n voorbeeld voorgehou.

Nie vir niks
word oor hulle in die Bybel geskryf nie.

Maar op
watter manier?

Nie as die
een wat altyd koersvas was nie, wat dit altyd beter geweet het nie, wat die amp
vir die soveelste keer beklee het nie, wat aan die regter- of linkerhand by
Jesus op die troon sal kan plaasneem nie – dink aan die versoek van die ma van
Jakobus en Johannes, enkele hoofstukke eerder.

Op so ‘n
manier skets die Bybel nie vir Petrus nie.

Maar wel as
een wat teleurgestel het.

Een wat
bitterlik ween.

Wie kan
Jesus volg?

Nie net op
afstand nie.

Nie net
anoniem nie.

Maar regtig
volg?

Wie is
daartoe in staat?

Die boodskap
van die teks is helder.

Niemand nie.

Ook die mees
ervare, die mees standvastige apostel of ouderling nie.

Geen dominee
nie, geen moeder in Israel nie, geen Petrus, geen Dawid, geen Abraham.

Niemand nie.

En dit is
die Heilige Gees van Christus wat jou en my hiervan oortuig.

Hy bring jou
tot ‘n punt dat jy nie anders kan as om op die knieë te val nie.

So het Hy
met Petrus gemaak.

Jesus het
dit voorspel.

Petrus,
“Voorwaar Ek sê vir jou, in hierdie nag, voordat die haan gekraai het, sal jy
My drie maal verloën.” (Matth 26:34)

Enkele ure
gelede het Petrus nog sterk in sy skoene gestaan.

O nee, Here,
“al moes ek ook saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie!” (vers 35)

En so het al
die dissipels gepraat.

Petrus was
nie ‘n uitsondering nie.

Maar nou het
dit dus gebeur.

Petrus het sy
gesig verloor.

Hy het sy
ellende leer raaksien.

Hy het
buitentoe gegaan en bitterlik geween.

Aanstaande
Vrydag hoop ons om Goeie Vrydag te vier.

Die dag
waarop Jesus sy vlees en bloed vir ons geoffer het.

Elke keer as
ons nagmaal vier, herdenk ons wat Jesus vir ons gedoen het gedurende hierdie
dae.

In die
nagmaalsformulier lees ons ook oor selfbeproewing.

As ons dit
lees, word ons ook met onsself gekonfronteer.

Dat elkeen
vanweë sy sonde en vervloeking ‘n afkeer van homself moet hê.

Dat elkeen
hom voor God moet verootmoedig.

Hoe dikwels
ons hierdie woorde ook hoor, ons doen dit nie uit onsself nie – om jouself te
verootmoedig.

Dit is goed
dat God ‘n mens tot stilstand bring.

Dit is goed
dat Christus toegelaat het dat Petrus struikel.

Dit is goed
as God ons tot op die knieë dwing.

Ons kan nie
staande bly nie.

Jy kan nie jouself
optrek uit die moeras nie.

Jy kan
jouself ook nie optrek deur aan iemand anders vas te hou nie.

Laat die
ouer generasie onder ons dit tog asseblief na die jeug uitstraal.

Pleks van ‘n
houding dat ons dit beter weet, dat ons as die ouer generasie dit altyd goed
gedoen het.

Laat die
jongmense maar u afhanklikheid sien, u trane.

U verdriet
oor die sonde.

Saam is ons
van Hom afhanklik, ons enigste Heiland en Saligmaker.

Aan die
nagmaal nooi Jesus ons uit om gevoed te word met sy offer.

Sy
gekruisigde liggaam te eet.

Sy vergote
bloed te drink.

Die oë op
Hom te rig.

Dit is ook
die boodskap wat uit die teks spreek.

As mens
selfs nie op iemand soos Petrus kan vertrou nie,

Heer, waar
dan heen?

Ja, tot U
alleen.

U sal ons
nooit verstoot nie.

Dit mog
Petrus ook beleef.

Petrus het
sy Heiland verloën, drie keer.

Maar Jesus
het Petrus nie verloën nie.

Na sy
opstanding het Hy Petrus opnuut in diens geneem.

Hy het
Petrus se lewe wel so gelei, dat hy vasgeloop het.

Volledig
vasgeloop, in ’n hoek gedryf.

Op eie bene
kon hy nie meer verder nie.

God het dit
laat gebeur.

Juis omdat
Hy begaan was oor die lot van hierdie kind van Hom.

Kennis van
jou ellende is ‘n genadegawe.

Deur skade
en skande leer God jou dit raaksien.

Juis om jou
verder te bring.

Ook Petrus
se oë moes oopgemaak word.

Oopgemaak
vir die feit dat Jesus moes ly.

Terwyl
Petrus homself probeer groothou het daar in die tuin van die hoëpriester, het
dit binne in die huis gebeur dat Jesus gespoeg en geslaan is.

Die Heiland
het Homself nie groot gehou nie.

Hulle het
Hom in sy gesig geslaan.

Hulle het
Hom getreiter:

“Profeteer
vir ons, Christus! Wie is dit wat U geslaan het?” (vers 68)

Ja terwyl
die hemelse Vader steeds meer sy hande van sy eie Seun afgetrek het, en Hom
steeds meer aan Homself oorgelaat het, het die hemelse Vader daarenteen steeds
meer sorg aan Petrus verleen.

Kragtig het
die Gees in hierdie man gewerk, juis toe hy so bitter begin huil het.

 

Broer,
suster, is jou oë ook geopen vir die doel van Christus se lyde?

Merk u hoe
die Heilige Gees ook met u besig is?

Om jou in ‘n
hoek te dryf, as jy jouself groothou?

Maar, ook om
jou te troos, nuwe perspektiewe te gee, as jy bitterlik huil?

Die Bybel is
eintlik ‘n baie ongewone boek.

En die
Christelike geloof eintlik ‘n vreemde godsdiens.

Geen
selfbevestiging, maar kruisiging van jouself.

Met leë
hande moet jy na jou Heiland kom.

Om juis
daardeur, deur selfverloëning, jou heil in Christus te vind.

Ons Here
Jesus Christus het toegelaat dat Petrus struikel.

Dit was die
tema van hierdie preek.

Hy gaan ook
toelaat dat jy soms struikel, om jou te leer om jou eie ego te begrawe.

Vir ons
jongmense is dit ook so belangrik om dit te leer verstaan.

Dit is nie
so dat God eers van jou hou as jy goed genoeg is nie.

Nee,
gelukkig werk dit nie so nie.

God wil dat
jy met leë hande na Hom toe gaan.

God ek kan
niks nie.

God wil dat
jy eerlik is.

En leer al
vroeg in jou lewe hierdie les.

Moenie op
mense vertrou nie.

Hoe ouer ‘n
mens word, hoe meer kom mens agter: mense is nie ‘n steunpilaar nie.

Maak vir Christus
jou steunpilaar.

Hy alleen is
standvastig.

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)