Volg Jesus op sy lydensweg

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-03-06
Teks: 
Matthéüs 21: 1-17
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 6 Maart 2016 AD, 10:15

Votum: Ps
121:1

Seën

Ps 118:13,14

Wet

Ps 119:15

Skriflesing:
Sagaria 9:9-17

Sb 7:4,5

Skriflesing:
Jeremia 7:1-14

Sb 7:6,10

Gebed

Kollekte

Ps 132:5-7

Teks: Mattheüs
21:1-17

Preek

Dankgebed

Ps 8:1-4

Seën

Preek: Mattheüs 21:1-17

In hierdie
preek fokus ons op die lydensweg van ons Here Jesus Christus.

Wat het
gebeur in die periode wat aan Goeie Vrydag voorafgegaan het?

Die paar dae
voor Goeie Vrydag is baie noukeurig deur die evangeliste beskryf.

Oor die Here
Jesus se geboorte skryf slegs twee evangeliste.

Oor die Here
Jesus se jeug skryf slegs een evangelis.

Maar oor die
dae voor sy kruisiging skryf al vier evangeliste.

En dit geld
uiteraard ook vir sy kruisiging, sterwe en opstanding.

Gedurende
daardie paar dae voor Goeie Vrydag het daar belangrike dinge gebeur.

Ek verkondig
u die evangelie van ons Here Jesus Christus se lydensweg, met die volgende
tema:

Tema: Volg Jesus op sy lydensweg

  1. Hoekom ry Jesus op ‘n donkie?

  2. Hoekom sing die kinders by die
    tempel?

  1. Hoekom ry Jesus op ‘n donkie?

    In die
    hoofstuk wat ons gelees het, gebeur daar iets opvallends.

    Jesus kom
    openlik daarvoor uit dat Hy die Messias is, die Gesalfde.

    Tot nou toe
    het Jesus dit slegs nog maar een keer publiek gemaak.

    Hy het selfs
    meer as een keer sy dissipels verbied om dit aan ander te vertel, dat Hy die
    Messias, die gesalfde Koning, die Seun van Dawid, is.

    Die gerugte
    het wel orals rondgeloop.

    Hoekom het
    Jesus dit eintlik nie publiek gemaak nie?

    Dit was
    omdat dit ‘n verkeerde uitwerking sou gehad het.

    Ons Here
    Jesus het maar al te goed geweet na watter soort messias, watter soort koning,
    die mense in Israel verlang het.

    ‘n Koning,
    wat hulle sou bevry van die Romeinse besetters.

    ‘n Koning,
    wat vir hulle rus en welvaart sou bring.

    Sê maar ‘n
    luilekkerland.

    Daarom het
    Jesus sy dissipels verbied om vir almal te vertel dat Hy die Messias is.

    Voorlopig
    moes hulle dit geheim hou.

    Maar nou het
    die tyd dus gekom vir Jesus om dit publiek te maak.

    Ja Hy is die Messias, die gesalfde Koning.

    En dit is
    hoekom, gemeente, Jesus op ‘n donkie gery het.

    Hoekom het
    Jesus op ‘n donkie gery?

    Hoekom het
    Hy nie byvoorbeeld op ‘n perd gery nie?

    Jesus het
    dit bewus nie gedoen nie.

    As gesalfde
    Koning, as Messias, het Hy ‘n duidelike boodskap gehad.

    Hy is
    naamlik ‘n Vredevors.

    ‘n Perd, dit
    was in daardie tyd ‘n dier wat jou dadelik aan oorlog laat dink het.

    ‘n Soldaat
    het op ‘n perd gery, of ‘n generaal.

    En ‘n
    koning, of ‘n keiser wat oorlog gevoer het.

    Hulle het op
    ‘n strydwa gery, wat deur ‘n perd getrek is.

    ‘n Perd is
    groot, kragtig, gespierd, indrukwekkend.

    ‘n Oorlogsperd
    is opgelei vir sy taak, jarelank geoefen met ‘n soldaat op sy rug.

    Maar Jesus,
    die gesalfde Koning, het nie ‘n perd gekies nie.

    Hy het heel bewus
    ‘n donkie gekies.

    Hy het twee
    van sy dissipels die opdrag gegee om na die dorp Betfage te gaan.

    Daar was ‘n
    eselin en haar vulletjie.

    Gaan haal
    die vulletjie, het Jesus opdrag gegee, hom het Ek nodig.

    Waarskynlik
    het Jesus vooraf al ‘n afspraak gemaak met die eienaar.

    Heel
    sorgvuldig het Jesus sy intog in Jerusalem beplan.

    Soos dit ‘n
    koning betaam.

    Hoewel, Hy het nie gekom met prag en praal nie.

    Ook nie met
    magsvertoon, met ‘n perd en strydwa nie.

    Hy het gekom
    op ‘n eselsvulletjie.

    Gemeente, het
    dit u opgeval, dat dit ‘n eselsvul was?

    Dit was ook
    bewus so deur ons Heiland voorberei.

    Dit gaan
    hier oor ‘n jong donkie waarop nog nooit iemand gery het nie.

    Dit is
    eintlik presies die teenoorgestelde van ‘n geoefende perd.

    ‘n Perd wat
    al jarelank daaraan gewoond is dat ‘n soldaat op sy rug sit.

    Nee, die
    gesalfde Koning ry op ‘n onervare eselsvul.

    Inderdaad,
    die Messias is die Vredevors.

    Dit is,
    gemeente, dan ook heeltemal in lyn met die prediking van die profeet Sagaria.

    Daarop wys
    die evangelis Mattheüs ons.

    Die optrede
    van die Messias is heeltemal in lyn met die Ou Testament.

    Jesus, die
    gesalfde Koning, stel sy vertroue nie op uiterlike vertoon nie, nie op
    magsvertoon nie.

    Sagaria het
    geprofeteer:

    “Verheug jou
    grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem!

    Kyk, jou
    Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n
    esel – op ‘n jong esel, die vul van ‘n eselin.” (Sag 9:9)

    En dan
    profeteer Sagaria nog verder oor wat die HERE sal doen:

    “En Ek sal
    die strydwaens uit Efraim en die perde uit Jerusalem uitroei,

    en die
    strydboog sal vernietig word.

    Dan sal Hy
    aan die nasies vrede verkondig, en sy heerskappy sal wees van see tot see ...
    tot aan die eindes van die aarde.” (Sag 9:10)

    Hoekom het
    Jesus op ‘n donkie gery?

    Gemeente,
    ons het nou die antwoord.

    Daarmee was
    dit sigbaar aan elkeen: Ja, Hy is die gesalfde Koning.

    Maar tog was
    Hy nie ‘n normale Koning nie, Hy is ‘n Vredevors.

    Nou moet ons
    hierdie nie verkeerd opvat nie.

    Die feit dat
    Jesus op ‘n donkie gery het, beteken nie dat Hy iemand was sonder ruggraat nie.

    Die profeet
    Sagaria wys ons op sy heerskappy, wat sal strek oor die hele wêreld.

    En so is
    daar nog ‘n paar profete wat daarop wys.

    Die digter
    van Psalm 2 praat oor sy toorn.

    “Kus die
    Seun, dat Hy nie toornig word ... “ (Ps 2:12)

    Kus, dit
    beteken: kniel voor Hom en soen sy voete.

    Gemeente,
    die Vredevors is dus nie ‘n pasifis, om dit in ‘n hedendaagse term te sê nie.

    Dink net aan
    wat Hy hierna gedoen het.

    In Jerusalem
    het Hy met fisieke krag al die tafels en stoele van die geldwisselaars
    omgegooi.

    Al hulle
    geld en goeters het versprei gelê op die grond.

    Trouens, Hy
    het dit ook al eerder ‘n keer gedoen.

    Ons kan dit
    in Johannes 2 lees.

    Tog,
    desniesteenstaande, het Jesus bewus vir ‘n donkie gekies.

    Omdat sy
    koninkryk nie begin met magsvertoon en geweld nie.

    Vir die
    uitbreiding van sy koninkryk gebruik Hy geen wapens nie.

    Geen wapens
    in die gewone sin van die woord nie.

    Daarom dus
    nie ‘n perd nie, en ook nie ‘n strydwa nie.

    Wel hanteer
    Jesus ‘n ander wapen.

    Die wapen
    van sy Woord.

    Dit word
    soms genoem: met die swaard van sy mond sal Hy regeer.

    Of: met die
    asem van sy stem fel Hy die teenstand.

    Verstaan u,
    wat die wapen wat Christus is?

    Dit is sy
    Woord, die Bybel.

    Deur die
    verkondiging van sy Woord word sy koninkryk uitgebrei.

    En dit wou
    Hy duidelik maak.

    Daarom het
    Hy ‘n donkie gekies vir die intog.

    Nou die
    vraag, gemeente, het die mense destyds sy boodskap wat Hy wou oordra, wel
    begryp?

    Hoekom Hy
    juis op ‘n donkie gery het ...

    Op eerste
    gesig lyk dit of hulle dit begryp het.

    Want hulle
    het Hom as ‘n koning behandel.

    Die
    dissipels het hulle klere op sy rug gelê sodat Jesus daarop kon sit, want die
    vulletjie het nog nie ‘n saal gehad nie.

    En die mense
    het ook hulle mantels op die pad uitgesprei.

    Hulle het
    takke en blade gepluk en dit op die pad gelê.

    Dit was
    vroeër die gewoonte.

    As ‘n koning
    verby gekom het, het die mense hulle klere op die pad uitgesprei.

    Dit was ‘n
    gebaar van eerbied en onderwerping.

    Ons sou
    vandag sê, die rooi tapyt is uitgerol.

    Ons lees
    byvoorbeeld oor hierdie gewoonte in 2 Konings, oor koning Jehu.

    Hy was nog
    maar pas as koning gesalf, of almal het haastig hulle kleed uitgesprei voor sy
    voete op die treë van die trap. (2 Kon 9:13)

    By koning
    Jehu was die mense bang, dat as hulle dit nie sou doen nie, hy kwaad sou word
    en sou dink dat daardie persoon sy gesag nie erken nie.

    Maar by
    koning Jesus het almal dit vrywillig gedoen.

    En almal het
    gejuig en uitgroep:

    Hosanna vir
    die Seun van Dawid! (vers 9)

    Seun van
    Dawid, daarmee het hulle bedoel: koning;
    geregtig op die troon.

    God het mos
    aan Dawid belowe dat sy nageslag altyd koning sal wees?

    Hosanna,
    geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! (vers 9)

    Geseënd is
    die Seun van Dawid, het hulle gesing met die woorde van Psalm 118.

    Dus, weer
    die vraag, het die mense dit begryp – die feit dat Hy op ‘n donkie gery het
    ...?

    Aan die een
    kant, ja, hulle het goed begryp dat Hy ‘n koning is.

    Maar aan die
    ander kant: hoekom Hy juis ‘n donkie gekies het, dit het hulle nie werklik
    gewaardeer nie.

    Dit sien ons
    uit die res van hierdie geskiedenis.

    Want toe
    Jesus in Jerusalem aankom, wat het Hy toe gedoen?

    Vir hierdie
    mense se gevoel het Hy nie die regte ding gedoen nie.

    Want Hy het
    nie die mag gegryp nie.

    Hy het nie
    op die troon aanspraak gemaak nie.

    Hy het
    niemand opgeroep om in opstand teen die Romeine te kom nie.

    Al wat Hy
    gedoen het, was om te preek, en te preek, en te preek.

    En daarmee
    saam om siek mense gesond te maak.

    Ja almal was
    baie entoesiasties by die intog: Hosanna! het hulle geroep.

    Maar vinnig
    het hulle opgewondenheid weer weggesak.

    Hierdie
    Koning het hulle skynbaar nie veel te biede gehad nie.

    En weet u,
    gemeente, dat sy eie dissipels dit ook nie gesnap het nie?

    Nie gesnap
    het hoekom Hy juis op ‘n donkie wou ry nie ...

    Petrus was
    bereid om sy Meester met die swaard te verdedig.

    Die
    dissipels het steeds ongeduldig vir Hom gevra: wanneer herstel U nou die
    koninkryk van Dawid?

    Hoe lank
    moet ons nog wag?

    En, as U dit
    doen, word ons dan u ministers?

    Kry ons dan
    ‘n belangrike funksie?

    Hierdie
    feestelike intog in Jerusalem was eintlik ‘n lydensweg.

    Jesus het
    Homself gehou aan die riglyne van die Skrif vir ‘n gesalfde Koning.

    Maar niemand
    kon dit waardeer nie.

    Niemand het
    Hom hierin gesteun nie.

    Niemand het
    Jesus op sy lydensweg gevolg nie.

    Dit is ons
    tema vir vandag.

    Volg Jesus op sy lydensweg.

    Is jy bereid om te volg?

    Is jy bereid
    om te luister?

    Luister jy
    wel na die gesalfde Koning?

    Is jy net
    entoesiasties as jy daarby kan baat vind?

    As daar iets
    spektakulêrs beleef kan word?

    Is jy bereid
    om na sy Woord te luister?

    Skaam jy jou
    vir die donkie?

    God roep ook
    vir jou op: buig voor my gesalfde Koning.

    Volg Hom, ook op sy lydensweg.

    Hy kom nou,
    in die hede, nie met magsvertoon nie.

    Hy kom met
    sy Woord.

    Dit is die
    betekenis van die donkie.

    Ons kom nou
    by die tweede punt.

    (Tema: Volg
    Jesus op sy lydensweg

  1. Hoekom ry Jesus op ‘n donkie?)

     

     

    2         Hoekom
    sing die kinders by die tempel?

    Gelowige
    mense sing.

    In die kerk,
    by die huis, by die skool.

    Soos Luther
    gesê het, met sing loof jy die Here, maak jy jouself bly, en hou jy die duiwel
    buite die deur.

    Waar daar
    gesing word tot eer van God, maak die duiwel dat hy wegkom.

    Die duiwel
    en sy trawante kan mense wat sing nie verdra nie.

    Dis waarna
    ons in die tweede punt gaan kyk.

    Toe Jesus in
    Jerusalem aangekom het, het Hy na die tempel gegaan.

    Daar het Hy
    gewoonlik vir die volk gepreek.

    Net soos al
    die ander rabbi’s gedoen het.

    Maar eers
    het Jesus iets anders gedoen.

    Ons lees hoe
    Hy die tempel gereinig het.

    Skoongemaak,
    in dié sin dat Hy alle handelaars van die tempelplein af gedryf het.

    Die tafels
    van die geldwisselaars het Hy omgekeer.

    Hulle was
    daar om geld te wissel vir die mense.

    As iemand
    naamlik ‘n offer by die tempel kom bring het, moes jy eers ‘n dier koop wat
    ritueel rein verklaar is.

    Daardie dier
    kon jy op die tempelplein koop.

    Maar jy kon
    dit nie met gewone geld koop nie.

    Jy moes in
    die sogenaamde tempelmunt betaal, ‘n aparte geldeenheid wat net by die tempel
    gebruik is.

    Jy moes dus
    jou geld eers inwissel.

    En soos dit
    vandag is, was dit toe ook al.

    As jy geld
    wissel, betaal jy kommissie.

    Iets wat
    destyds met die tempelmunt ontaard het in ‘n lukratiewe besigheid.

    Vandaar dat
    Jesus sê: julle maak van God se huis ‘n rowerspelonk (vers 13), pleks van ‘n
    gebedshuis.

    Met hierdie
    twee woorde, rowerspelonk en gebedshuis, verwys Jesus weer terug na die profete
    van die Ou Testament.

    Hy het die
    rabbi’s herinner aan wat in God se Woord staan.

    Die profeet
    Jeremia het al gepraat van ‘n rowerspelonk (Jer 7:11 – maak julle van die HERE
    se huis ‘n spelonk van moordenaars?).

    Jeremia het
    gewaarsku teen afgodery met die tempel.

    Asof die
    Joodse volk altyd by die tempel veilig sou wees, maak nie saak hoe hulle gelewe
    het nie.

    Jeremia sê
    dan vir die mense:

    Kyk wat het
    met Silo gebeur, die plek waar die HERE se heiligdom eers gestaan het, in die
    dae van Eli en Samuël.

    Wat het van
    Silo oorgebly?

    Silo is deur
    die Filistyne verwoes.

    Dink julle
    dat soiets nooit met die tempel in Jerusalem sal kan gebeur nie?

    Net as die tempel ‘n bedehuis is,
    sal dit bly staan.

    Maar as
    julle dit ‘n rowerspelonk maak, dan het God geen behae meer in hierdie huis
    nie.

    Gemeente,
    dink net hoe pynlik dit vir die Here Jesus moes gewees het.

    Ja ook dit
    was deel van sy lydensweg.

    Dink net aan
    die verdriet wat Hy moes gehad het toe Hy dit
    sien.

    Dat dit in die huis van sy Vader gebeur het.

    Hoe graag
    sou Hy die profesie van Jesaja 56 in vervulling sien kom het!

    Dat Gods
    huis ‘n bedehuis sou wees vir alle volke.

    Maar helaas,
    dit het nou meer gelyk soos ‘n rowerspelonk.

    Daar is
    flink geld verdien in wat ‘n gebedshuis moes gewees het.

    En dan kom
    daar ‘n wending.

    Jesus
    Christus, die gesalfde Koning, doen wat Hy moet doen.

    Hy ruim die
    misstande op.

    Maar,
    gemeente, Hy reinig nie net die tempel nie.

    Hy herstel
    die tempel ook weer in ere.

    Dis wat ons
    in ons teks lees.

    Onrein mense
    kom nader, mense wat siek is, blindes, kreupeles, en Jesus het hulle genees.

    Ja Hy
    genees!

    Heeltemal
    gratis, sonder dat Hy tempelmunt eis.

    Skielik is
    daar ‘n totaal ander atmosfeer op die tempelplein!

    Geen
    geskreeu meer van handelaars en geldwisselaars nie.

    Geen
    gerinkel van geld meer nie.

    Maar die
    stem van die Heiland, wat vir die mense sê:

    Man, vrou,
    jou oë word geopen!

    Of: staan op
    en wandel!

    Geen
    gerinkel van geld, maar die verbaasde klanke van mense wat vir die eerste keer
    in hulle lewe kan sien.

    Wat vol
    verwondering opkyk na die tempelbouwerk voor hulle.

    En
    vreugdekrete van mense wat vir die eerste keer hulle bene kan gebruik.

    En, dit noem
    Mattheüs ook spesfiek, die geroep en gesing van kinders.

    Hosanna vir
    die Seun van Dawid!

    Gemeente,
    hoekom sing die kinders by die tempel?

    Dit antwoord
    is eintlik so eenvoudig.

    Hule sing,
    want niemand het hulle meer gekeer nie.

    Toe al die
    lawaai van geld en handelaars bedaar het, het hulle spontaan begin sing.

    En Jesus het
    hulle ook nie gekeer nie.

    Laat hulle
    maar sing.

    Laat die
    waarheid maar klink uit kinderstemme.

    Nooit het
    die kinders die kans gekry om by die tempel te sing nie.

    Nooit was
    daar ‘n plekkie vir hulle nie, as gevolg van al die handelaars en
    geldwisselaars, priesters en Skrifgeleerdes.

    Maar nou
    wel.

    Hoekom het
    die kinders gesing by die tempel?

    Omdat Jesus
    vir hulle die ruimte geskep het.

    In hulle
    gesing het hulle die woorde van die Ou Testament vervul.

    Jesus bedoel
    Psalm 8.

    As die
    volwassenes nie die waarheid durf te praat nie.

    As die
    volwassenes die waarheid in ongeregtigheid ten onder hou.

    Dan kry
    Jesus die waarheid wel te hore uit kindermonde.

    “Uit die
    mond van kinders en suiglinge het U sterkte gegrondves” (Ps 8:3)

    Uit die mond
    van kinders klink die lof wel.

    Kinderstemme
    maak Christus se teëstanders, sy vyande, stil.

    Die
    Skrifgeleerdes moes swyg op Jesus se bevel.

    Hulle het
    dit die kinders kwalik geneem, dat die kinders geroep het:

    Hosanna vir
    die Seun van Dawid! (vers 15)

    Die kinders
    het hierdie woorde nog onthou.

    Dit was mos
    wat almal geskreeu het, met die intog, toe Jesus op ‘n donkie gery het.

    En nou roep
    hulle dit weer, daar op die tempelplein:

    Hosanna vir
    die Seun van Dawid!

    Die
    owerpriesters en Skrifgeleerdes het presies geweet wat daarmee bedoel is.

    Dit was ‘n
    erkenning dat Jesus Koning is!

    Maar dit is
    nou presies wat hulle nie wou erken nie.

    Dis hoekom
    hulle kwaad vir die kinders geword het.

    Dis hoekom
    hulle Jesus verwyt het, omdat Hy nie die kinders stilgemaak het nie.

    Hoekom,
    gemeente, het die kinders by die tempel gesing?

    Omdat Jesus
    hulle nie stilgemaak het nie.

    Hulle mag sing!

    Laat die
    kinders tot My kom, en moenie hulle verhinder nie.

    Jesus het
    Homself deur die kinders as Koning laat vereer.

    As die owerpriesters
    en Skrifgeleerdes die waarheid verduister, dan moet dit kinders dit openbaar.

    Hosanna vir
    die Seun van Dawid!

    Gemeente,
    broers, susters, staan u nie soms ook verbaas oor die waarheid uit ‘n
    kindermond nie?

    Elke ouer
    besef dit al te goed: jou eie sondes en gebreke kan jy nie vir jou kinders
    wegsteek nie.

    En ‘n
    kinderlike geloof, daar is nie ‘n groter geloof nie.

    Laat ons die
    kinders nie die swye oplê, as hulle die waarheid praat nie.

    Nie dat
    kinders maar kan sê wat hulle wil nie.

    Nie dat
    kinders hulle ouers kan manipuleer nie.

    Dis nie wat
    Jesus hier bedoel nie.

    Jesus bedoel
    as kinders met ontwapenende eerlikheid vir die waarheid uitkom, terwyl
    volwassenes te bang is om dit te sê.

    Hulle het
    gesing en geroep, saam met die kreupeles en blindes wat genees is:

    Hosanna, lof
    aan die  Seun van Dawid!

    Hy is ons
    Koning.

    Al ry Hy op
    ‘n donkie.

    Al kom Hy
    nie met magsvertoon nie.

    Al moet ons
    Hom volg in sy lydensweg.

    Eers deur
    lyding en verdrukking heen, na die heerlikheid toe.

    Wat Hy doen
    is goed.

    Waar Hy gaan
    is die regte pad.

    Ja Hy is ons
    Koning.

    Amen.

     

     

     

Liturgie: 

(kyk in preek)