Die erfsonde

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-02-07
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) Sondag 3
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 7 Februarie 2016 AD, 17:30

Votum

Seën

Ps 14:2,3,4

Gebed

Skriflesing:
Romeine 5:12-21

Ps 4:1-2

Skriflesing:
Efesiërs 4:17-24

Ps 4:3-4

Lees:
Nederlandse Geloofsbelydenis art. 15

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 3

Preek

Ps 14:5-7

Gebed

Geloofsbelydenis
(Apostoliese)

Ps 144:2,4,5

Kollekte

Ps 118:7,10

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 3

Soms vra
jong ouers hulleself af hoe dit moontlik is dat hulle kind so egoïsties kan
wees?

Hulle kind
vir wie hulle as ouers bontstaan.

Waar kry die
kind dit vandaan?

Soos ‘n
liberale teoloog ‘n tydjie gelede opgemerk het: sedert my vrou en ek ‘n kind
het, glo ons weer in die erfsonde.

Inderdaad,
jong ouers kom agter dat die leer van die erfsonde nie net ‘n abstrakte
teologiese begrip is nie, maar dat dit heel konkreet is, ja dit is presies soos
mense is.

Niemand hoef
sy kind te leer om te sondig nie.

Niemand hoef
sy kind te leer om egoïsties te wees nie.

Dit sit
gewoon in die kind.

Wie ‘n kind
kry, kry nie ‘n onbeskrewe skoon vel papier nie.

Wie ‘n kind
ontvang, ontvang nog ‘n nakomling van Adam en Eva - ons stamouers, wat in sonde
geval het.

Ek verkondig
u vandag God se Woord oor die erfsonde.

Tema: Die erfsonde

  1. Die stamboom van Adam

  2. Die stamboom van Jesus Christus

  1. Die stamboom van Adam

    Die eerste
    deel van die Kategismus handel oor ons ellende.

    Hoe groot
    die skade is.

    Die
    wederopbou is nou nog nie in sig nie.

    Die
    wederopbou, wie dit sal doen en hoe dit sal moet gebeur.

    Mens kan dit
    vergelyk met ‘n huis wat afgebrand het.

    Jy sien die
    afgebrande huis voor jou.

    As jy
    daaromheen loop, die ruïne sien, die brandlug ruik, dan is dit net asof dit
    skreeu om herstel te word, weer opgebou te word.

    Maar,
    voordat jy kan begin met die heropbou, moet eers nugter die skade bereken word.

    Eers daarna
    kan gekyk word hoe die wederopbou moet plaasvind, en wie dit sal doen, en waar
    die geld vandaan sal kom.

    En,
    gemeente, vir die ellendige toestand van die mens geld dit dus ook.

    Ons het in
    die Kategismus gelees oor die sondeval in die paradys.

    Adam en Eva
    het van die boom geëet.

    Dit was die
    sondeval.

    Eet van die
    boom van kennis van goed en kwaad was ‘n simboliese handeling.

    As iemand
    byvoorbeeld weier om voor die koning te buig, wil dit sê: daardie persoon het
    geen respek vir die koning nie.

    Buig is ‘n
    simboliese handeling om respek te toon.

    Of dalk
    bietjie nader aan ons leefwêreld:

    As ‘n kind soggens
    in die kombuis ingeloop kom en nie vir sy ma groet nie, dan sê ma dalk: is ek
    dan só onbelangrik, dat jy my nie hoef te groet nie?

    Groet is ook
    ‘n simboliese handeling wat dui op ‘n goeie verhouding.

    Net so was
    die boom in die paradys ‘n simbool vir die verhouding tussen God en mens.

    Die boom het
    ‘n simboliese funksie gehad.

    Toe die mens
    op ingewing van die duiwel ‘n vrug van die boom geëet het, het hy daarmee te
    kenne gegee dat hy God se instruksies nie meer noodsaaklik gevind het nie, dat
    hy voortaan sy eie wil sou volg.

    Dat hy self
    baas wou wees oor sy lewe.

    Dit was dus
    die sondeval.

    Ongehoorsaamheid,
    opstand teen God se gesag oor die mens.

    Nou het ons
    in Romeine gelees dat ons in Adam
    voor God skuldig staan.

    Ons staan,
    as nakomelinge van Adam, voorgesorteer as God se vyande.

    Vir hierdie
    feit gebruik ons die woord: erfsonde.

    Nou is
    hierdie woord, erfsonde, nie die beste woord nie.

    Dit klink
    asof ons ‘n porsie sonde erf van Adam.

    En dat ons
    daardeur, saam met die sondes wat ons self doen, voor God skuldig staan.

    Dit is egter
    nie soos dit werk nie.

    Ons erf geen
    sonde van Adam nie.

    God is te
    regverdig dat Hy ons sou straf vir die sondes van Adam of Eva.

    Maar wat ons
    wel van Adam erf is ons geaardheid, ons natuur.

    Dit hou ook
    in die aanleg, of beter gesê, die afwyking om te kan sondig, en dit wat daarmee
    saamkom, naamlik om dus sterflik te wees, en selfs onderworpe aan die ewige
    straf.

    Pleks van
    erfsonde sou mens eerder kon praat oor: die wortel
    van die sonde.

    As ons deel
    uitmaak van Adam se stamboom, word ons gevoed uit dieselfde wortel.

    En dus staan
    dit vas dat elkeen wat gebore word, as mens, die wortel van die sonde in hom
    het.

    Vandaar dat
    die Bybel sê: sedert die sondeval staan die hele menslike geslag, in Adam
    verteenwoordig, skuldig voor God.

    Mens kan dit
    vir ‘n deel met die volgende voorbeeld vergelyk:

    Sê nou maar
    daar is tydens die koue oorlog tussen Rusland en Amerika ‘n baba gebore in die
    Sowjet Unie.

    Dan was so
    ‘n baba al vanaf sy geboorte ‘n vyand van Amerika.

    Die rede is
    omdat Rusland as geheel in staat van oorlog met Amerika was.

    Sou daar nie
    iets buitengewoons met daardie baba gebeur het nie, en sou daardie baba gewoon
    opgegroei het soos alle ander Russe in daardie tyd,

    dan sou
    daardie baba outomaties ook ‘n vyand van Amerika geword het.

    Dus, om
    terug te kom by Sondag 3, sou daar nie iets uitsonderliks met ons gebeur het
    nie, dan sou ons opgegroei het as vyande van God.

    Maar
    gelukkig het daar iets uitsonderliks met ons gebeur, in die tweede punt sal ons
    nader daarop ingaan, dit is wat in v/a 8 genoem word ons wedergeboorte deur die
    Gees van God.

    Maar vanaf
    ons geboorte het ons dus deel aan die erfsonde.

    Vanaf ons
    geboorte sit die wortel van die sonde met sy giftige sappe in elkeen van ons.

    Uit onrein
    ouers word onrein kinders gebore.

    Alle
    nakomelinge van Adam en Eva lyk wat dit betref op hulle stamouers.

    Sodra ‘n
    kind opgroei, blyk uit sy doen en late dat hy ook sondig is.

    Dat hy, net
    soos Adam destyds, self baas oor sy lewe wil wees.

    En elke kind
    sal, as daar niks verander nie, vroeër of later aan sy eie egoïsme ten onder
    gaan.

    Daarom sê
    die Bybel dat alle sonde, wat hoogmoed as oorsprong het, uiteindelik die dood
    tot gevolg het.

    En geen
    mens, geen Adamskind, ontkom daaraan nie.

    Soos daar in
    Romeine 5 staan: soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur
    die sonde die dood, so het die dood tot alle mense deurgedring, omdat almal
    gesondig het.

    Die wortel
    van die sonde sit dus in elke mens.

    Dawid sê in
    Psalm 51:

    Kyk, in
    ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang (Ps 51:7).

    En in die
    boek Job vind ons dieselfde boodskap.

    Job 14: Ag,
    kon maar ‘n reine voortkom uit ‘n onreine – nie een nie! (vers 4)

    En Job 15: Wat
    is die mens, dat hy rein sou wees? En hy wat uit ‘n vrou gebore is, dat hy
    regverdig sou wees? (vers 14)

    Die
    erfsonde, die wortel van die sonde, sit in ons van geboorte af.

    So het ons
    dit ook in die Nederlandse Geloofsbelydenis (art. 15) gelees:

    Dit is
    hierdie wortel wat in die mens allerhande sondes laat uitspruit. Dit is daarom
    so afskuwelik en gruwelik voor God dat dit rede genoeg is om die menslike
    geslag te verdoem. Dit word selfs nie deur die doop geheel en al tot niet
    gemaak of volkome uitgeroei nie.

    Die doop
    staan hier vir die afwassing van ons sondes.

    Dit is die
    teken wat ons daarop wys dat God die sondes van sy kind sal afwas, elke keer as
    hy dit van God vra.

    Maar die wortel van die sonde word deur die doop
    nie verwyder nie.

    Mens sou kon
    sê: die giftige bron bly.

    Die giftige
    wortel.

    Elke keer
    kom daar weer nuwe giftige sappe boontoe.

    Hoe dikwels
    ons dus ook gewas word, hoe dikwels ons vergewe word, ons bly sondig.

    Mens kan dit
    vergelyk met die onkruid wat tussen jou gras op die grasperk groei.

    Elke keer as
    jy met die grassnyer daaroor heen gaan, word die wortel van die onkruid nog nie
    uitgeroei nie.

    Elke keer
    sal die onkruid dus weer opkom.

    Die doop
    roei die wortel dus nie uit nie.

    Daarvoor het
    ons iets anders nodig, naamlik wedergeboorte,
    bekering, vernuwing deur die Heilige Gees.

    Die
    Kategismus stel die diagnose vas.

    Die skade is
    aansienlik.

    En die
    oorsaak van alle skade is die feit dat ons deel uitmaak van die stamboom van
    Adam.

    Ons natuur
    is so verdorwe, dat ons almal in die wêreld inkom as sondige mense.

    Die
    oorspronklike Duitse woord wat in die Kategismus gebruik word ‘verdorwe’ is die
    woord ‘vergifftet’.

    Ons is vergiftig deur die wortel van die sonde.

    Mens sou nog
    baie ander beelde kon gebruik om dit te verklaar.

    Soos: Adam
    het ‘n genetiese afwyking opgedoen, wat ‘n impak gehad het op sy hele nageslag.

    Dit is alles
    beelde om die reikwydte van die sondeval te verduidelik.

    En as ek en
    jy die balans opmaak, dan geld ook vir jou en my dit wat Sondag 3 skryf:

    Ek word in
    ‘n staat van vyandskap met God gebore, as ‘n vyand van alles wat goed is.

    Die feit dat
    dit so is, is nie God se skuld nie.

    Hy het die
    mens goed geskape, maar die mens het vyandskap teen God verklaar.

    Die mens het
    die groot verantwoordelikheid wat hy van God gekry het, misbruik.

    Ook ek is
    dus as vyand van God gebore.

    En dit bly
    so, tensy dat die Heilige Gees in my kom.

    Die Gees van
    Christus, wat my, om dit heel letterlik te sê, van die stamboom van Adam
    afsaag, en my inent op die stamboom van Christus.

    So kom ons
    by die tweede punt van die preek.

    (Tema: Die
    erfsonde

  1. Die stamboom van Adam)

  2. Die stamboom van Jesus Christus

    In baie
    kerke en onder baie Christene word die leer van die erfsonde bietjie as ‘n
    verleentheid ervaar.

    Kan mens
    deesdae so ‘n leer nog hardop verdedig?

    Dit is mos
    totaal ouderwets?

    Dit rym mos
    nie met die basiese uitgangspunte van die psigologie, en van die sosiologie
    nie?

    Inderdaad,
    hierdie leer van die erfsonde druis in teen die opvatting van die moderne mens,
    en van elke moderne wetenskap, wat God nie as vertrekpunt kies nie.

    Dit druis
    ook in die teen die opvatting van die postmoderne mens wat vol spiritualiteit
    is.

    Die
    Christelike geloof begin naamlik deur die mens eers op sy plek te sit.

    En dit ook
    effens hardhandig en konfronterend.

    Die diagnose
    is hard en draai nie doekies om nie.

    Die diagnose
    is onvermydelik.

    Maar ‘n
    eerlike diagnose is wel die eerste stap op weg na genesing.

    En nou ons
    tog praat oor die opvattings van die gemiddelde moderne of postmoderne mens,
    daar is nog ‘n saak waarmee baie mense moeite het.

    In vraag 6
    van die Kategismus staan: die oorspronklike doel van die mens is om God te loof
    en te prys.

    Ewig sing
    tot God se eer.

    Word mens
    nie moeg daarvoor nie?

    Baie mense
    wil liewerste dood wees as om ewig vir God te moet sing.

    Gemeente, u
    verstaan hooplik dat hierdie ewig vir God sing ‘n versmalling is – miskien goed
    bedoel – maar tog ‘n versmalling van wat hier in die Kategismus staan.

    Daar staan:
    God loof en prys.

    Dit hou
    natuurlik veel meer in as sing.

    Dit is
    allesomvattend.

    Want
    byvoorbeeld: ook blomme loof en prys God.

    Deur ‘n blom
    te wees.

    Ook bome
    loof en prys God.

    En berge, en
    oseane, en alle diere.

    En so loof
    en prys die mens God deur gewoon mens te wees soos God hom bedoel het.

    Sonder
    sonde, sonder om dood te gaan, sonder om moeg te word vir die lewe saam met
    Hom.

    Dit hou dus
    heelwat meer in as dat ons op die nuwe aarde net die heeltyd gaan sing.

    Op die nuwe
    aarde, as jy ‘n boer is, gaan jy miskien weer die land bewerk.

    As jy
    musikant is, gaan jy musiek maak.

    As jy kunstenaar
    is, dit spreek vir homself.

    Uiteraard
    kan ons ons baie dinge nog nie voorstel, hoe dit op die nuwe aarde gaan wees
    nie.

    Maar geen
    mens moet afgeskrik word deur ‘n versmalde opvatting van wat dit beteken om God
    te loof en te prys nie.

    Tot sover, gemeente,
    dinge waaraan moderne of post-moderne mense kan twyfel.

    Te midde van
    veranderende tye mag ons as Christene vashou aan die Bybel.

    Daarin vind
    ons ook die leer oor die erfsonde, oor die wortel van die sonde.

    Hierdie leer
    aanvaar ons ook as Godsopenbaring.

    En as ons na
    die praktyk kyk, dan blyk ook inderdaad dat hierdie leer klop, dit slaan die
    spyker op die kop, alle eeue was mense al so, en vandag nog steeds.

    Ons en ons
    kinders word in sonde ontvang en gebore.

    Ons hoef
    sonde nie aan te leer nie, ons doen dit uit onsself.

    Die leer van
    die erfsonde is nie deur teoloë uitgedink nie, ons vind dit in die Bybel.

    Sowel in die
    Ou as Nuwe Testament.

    In die Ou
    Testament moes byvoorbeeld ‘n reinigingsoffer gebring word by die geboorte van
    ‘n kind.

    Die bedoeling
    daarvan was om aan te dui dat vanaf die eerste lewenslig die kind al aangewese
    is op versoening.

    En in die
    Nuwe Testament sê Jesus byvoorbeeld vir Nikodemus in Johannes 3:

    Wat uit die
    vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees (vers 6).

    Met vlees
    het Jesus bedoel: sondige mens.

    Met hierdie
    uitspraak het Hy gewys op die noodsaak van wedergeboorte.

    Want deur
    ons natuurlike geboorte sit ons vas op die stamboom van Adam.

    Maar deur
    die wedergeboorte word ons ingeënt op die stamboom van Jesus Christus.

    Die stamboom
    van Adam is gedoem tot ondergang.

    Soos ons
    gelees het in Romeine 5: “Daarom dan, net soos dit deur een misdaad vir alle
    mense tot veroordeling gekom het, so ook is dit deur een daad van geregtigheid
    vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe. Want soos deur die
    ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur
    die gehoorsaamheid van die Een baie tot regverdiges gestel word.” (vers 18-19)

    Geliefde
    gemeente, wat doen Chrsitus dus volgens hierdie teks vir jou?

    Hy wil jou
    terugbring by God se bedoeling vir jou lewe.

    Die nuwe
    mens wat jy in Christus word, is in feite dat jy weer word soos Adam destyds
    was, voor die sondeval.

    Die
    Kategismus sê:

    Adam was
    geskape na God se beeld in ware geregtigheid en heiligheid (v/a 6).

    En in
    Efesiërs 4 staan dieselfde oor die nuwe mens: julle word beklee met die nuwe
    mens, wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid (vers 24).

    In Christus
    word ons nuwe mense.

    Ons word
    herstel in die toestand van voor die sondeval.

    Christus
    stort sy Heilige Gees in ons uit, waardeur ons nuut word.

    Vir die
    stamboom van Adam geld: ons is verdorwe, vergiftig, heeltemal onbekwaam tot
    iets goeds en geneig tot elke kwaad.

    Vir die
    stamboom van Christus geld: wedergebore deur die Heilige Gees.

    Die Heilige
    Gees wat ons harte deur die Woord verander, om ‘n Godvresende lewe te begin
    lei.

    Ja, hierdie
    stamboom van Adam en die stamboom van Christus staan volledig teenoor mekaar.

    Paulus gee
    dit in Romeine treffend weer:

  • deur een mens die dood; deur een mens die genade en geregtigheid;

  • een daad van oortreding (dink aan die sondeval); een daad van
    geregtigheid (dink aan Golgota);

  • ongehoorsaamheid van een, gehoorsaamheid van Een;

  • in Adam het die sonde as koning geheers (en as bewys daarvoor: die
    dood, die sterflikheid van die mens); in Christus heers die genade as koning
    (en as bewys daarvoor: die nuwe en ewige lewe in Christus).

     

    Broer en
    suster, die Heilige Gees is besig om die wortel van die sonde uit jou lewe te
    trek.

    Die gevolg hiervan
    is dat jy nie meer ‘n slaaf van die sonde is nie.

    Is is
    afgekap van die sondige stamboom van Adam.

    Jy groei nou
    verder op die stamboom van Christus.

    Jy groei nie
    meer na jou dood toe nie, maar na die ewige lewe.

    En die Here
    vra daarom van jou: maak dit nou ook waar in jou lewe!

    Dat jou eie
    wil sy medewerking verleen aan die Heilige Gees.

    Doen elke
    dag jou bes!

    En jy kan
    ontsettend dankbaar wees, en selfs ook trots.

    Ons is geen
    slawe meer van die sonde nie.

    God sy dank!

    Ons is
    kinders van Hom.

    Koningskinders.

    Ons straal
    iets koninkliks uit.

    Nie die
    sonde, maar die genade heers in ons lewens!

    O Vader, ons
    dank U!

    O Seun, op u
    stamboom wil ons deurgroei!

    O Heilige
    Gees, ons kan u inspirasie nie meer mis nie!

    Amen.

     

Liturgie: 

(kyk in preek)