Uitsien na die nagmaal is uitsien na ons Here Jesus Christus

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-12-06
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 35
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
6 Desember 2015 AD, 17:30 (nagmaal)

Voorsang: Ps 6:1-4

Votum

Seën

Ps 122:1,2

Nagmaalsformulier 1 (p.14)

Ps 71:2,3

Nagmaalsformulier 2 (p.17)

Gebed (afgesluit met sing van
Onse Vader)

Geloofsbelydenis (sing)

Aan tafel: Lukas 21:37-22:34 ; Ps
116:3,4

Lofverheffing

Dankgebed

Kollekte

Ps 71:7,8,9

Teks: Nederlandse
Geloofsbelydenis art. 35

Preek

Ps 50:7

Gebed

Ps 121:2,4

Seën

Preek:
Nederlandse Geloofsbelydenis art. 35

Ons het nounet die lang artikel
in die NGB oor die nagmaal gelees.

Vir diegene onder ons wat in die
kerk opgegroei het, is dit heel waarskynlik bekende woorde, bekende frases,
bekende klanke.

Dis nie iets wat ons op die
puntjie van ons stoele laat sit nie.

Dis nie meer iets wat ons hart
vinniger laat klop nie.

Dit is dan net goed om te besef
dat dit anders was, toe Guido de Brès hierdie artikel geskryf het.

Om te bedink dat hy juis vanweë
die feit dat hy die nagmaal bedien het op die manier soos hier verduidelik, dat
dit die rede was waarom hulle hom aan die galg opgehang het!

Hy het nie die nagmaal gevier op
die Roomse wyse nie, maar op die Gereformeerde wyse.

Dit het tot sy doodsvonnis gelei.

Is daar vandag iets, ‘n aspek van
jou geloof, wat tot jou doodsvonnis kan lei?

Ek dink ons is baie bevoorreg dat
ons nie in so ‘n situasie verkeer nie.

Miskien is daar ‘n kans dat jy
jou werk verloor, as jy weier om op Sondae te werk.

Veel meer verdrukking maak ons
tans nie mee nie.

Ons voorouers in die geloof het
hulle lewe oorgehad vir wat ons vanaand gelees het.

Ons mag vanaand kyk na die inhoud
van die nagmaal.

En as mens dit so lees, is dit
inderdaad iets wat werd is om voor te sterf.

Tema: Uitsien
na die nagmaal is uitsien na ons Here Jesus Christus

-         
die nagmaal is ‘n feesmaal slegs
vir die gelowiges

-         
die nagmaal is ‘n feesmaal wat
wys na die lewende Brood en die lewende Water

-         
die nagmaal is ‘n feesmaal wat jy
nie sonder voorbereiding kan bywoon nie

-         
die nagmaal is ‘n feesmaal slegs
vir die gelowiges

Hierdie artikel het rofweg vier
dele.

Eerstens dat die nagmaal ingestel
is om ons geestelike lewe te voed.

Tweedens dat as ons gelowig die
brood en wyn ontvang, ons eintlik Christus eet, op geestelike wyse.

Derdens dat die nagmaal ‘n
geestelike maaltyd is spesifiek vir die gelowiges, die wat wedergebore is.

En vierdens is daar kortliks nog
die verwerping van dwalinge.

Ons Here Jesus Christus het self
die nagmaal ingestel.

Behalwe in die drie sinoptiese
Evangelies – Mattheüs, Markus en Lukas – beskryf Paulus dit ook in 1
Korinthiërs 11.

Christus se instelling was nie
vryblywend nie.

Dit was ‘n bevel.

‘n Bevel vir alle gelowiges, vir
alle tye, en op alle plekke.

Totdat Hy terugkom – 1
Korinthiërs 11:26.

Ons sien reeds in Handelinge dat
die vroë kerk die bevel begin nakom het.

Sien byvoorbeeld Handelinge 20:7
“En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te
breek,” ensovoorts.

Vanaf die begin was die nagmaal
‘n feesmaal vir die gelowiges.

Dit was nie ‘n maaltyd met ‘n oop
uitnodiging nie.

Dit is ‘n maaltyd vir hulle wat
Christus as hulle Verlosser aangeneem het.

Eet en drink by die nagmaal staan
simbool vir jou geloof.

Met hierdie maaltyd voed en
onderhou Christus die wat aan Hom behoort.

Hulle wat alreeds wedergebore is
in sy huisgesin, die kerk.

Wanneer is jy wedergebore?

Dit verskil per mens.

Die een dalk in een dag.

Die ander een meer geleidelik,
deur ‘n proses van jare se opvoeding

Die Kategismus praat verder oor
daaglikse bekering.

Wedergeboorte is slegs die begin
van ‘n toekoms van daaglikse bekering.

‘n Persoon wat wedergebore is,
moet sonder twyfel kan sê: ek glo in die Here Jesus.

Ek weet dat sy kruisoffer ook vir
my bedoel is, dat ek vergewing ontvang elke keer as ek dit in sy Naam vra.

Ek glo dat die hemelse Vader my
Skepper is.

Ek wil my hele lewe net vir Hom
lewe.

Ek voel die werk van die Heilige
Gees in my.

In ons kerk funksioneer die
openbare geloofsbelydenis as die oomblik waarop iemand publiek  uitspreek dat hy of sy wedergebore is.

By die een jongmens het dit dalk
al lankal plaasgevind, by die ander een meer onlangs.

Maar feit is dat jy nie openbare
geloofsbelydenis kan aflê as jy nie wedergebore is nie.

As jy dit dan tog doen, is jy ‘n
huigelaar.

Die nagmaal is ingestel vir die
wedergeborenes.

‘n Wedergeborene is egter nie
noodwendig, en nie altyd, ‘n persoon met ‘n onwankelbare geloof nie.

Die nagmaal is juis ook bedoel
vir die swakkes in die geloof, wat, soos die Kategismus dit verwoord, begeer om
hoe langer hoe meer hulle geloof te versterk en hulle lewe te verbeter.

-         
die nagmaal is ‘n feesmaal wat
wys na die lewende Brood en die lewende Water

Om ons geestelike of hemelse lewe
in stand te hou, het God vir ons ‘n lewende brood gestuur uit die hemel,
naamlik Jesus Christus.

Brood en wyn is die aardse afbeelding
van hierdie geestelike en hemelse brood.

In Johannes 6:51 noem Jesus
Homself die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het.

As iemand hierdie brood eet, sê
Hy, sal hy lewe tot in ewigheid.

“Die brood wat Ek sal gee, is my
vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee.”

“Ek is die brood van die lewe,
wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors
kry nie.” (Joh 6:35)

Wat Jesus hier sê, is iets wat
ons elke dag doen.

Sy vlees eet en sy bloed drink.

En aan die nagmaal ontvang ons
die sigbare tekens en seëls hiervan.

Christus self het die brood en
wyn as tekens uitgekies en ingestel.

Meer spesifiek, Christus het die gebreekte brood, en die vergote wyn as tekens ingestel.

Beide tekens het so duidelik
heengewys na sy offer aan die kruis, waar sy liggaam gebreek sou word, en sy
bloed vergiet sou word.

In die sinoptiese Evangelies kan
ons presies lees wanneer Christus dit ingestel het.

Hy het naamlik met sy dissipels
die pasga gevier.

Hy het dit sorgvuldig voorberei.

Hulle het dit op ‘n geheime plek
gevier, waar Jesus nog ‘n keer rustig met sy dissipels kon saamwees.

Die owerpriesters en
skrifgeleerdes het naamlik vir ‘n geleentheid gesoek om Hom om te bring.

Jesus het seker gemaak dat sy
offer op die regte oomblik sou plaasvind.

Die nagmaal het uit die paasfees
voortgekom.

Die fees van die ongesuurde
brode, die dag waarop die pasga geslag moes word.

Op daardie dag het Jesus met sy
dissipels saamgekom.

Dit het ons Heiland bewus so
gedoen.

Die pasga van die Ou Testament
was sowel ‘n offer as ‘n maaltyd.

Die nagmaal, bedoel vir die Nuwe
Testament, is egter slegs ‘n maaltyd.

Christus se offer aan die kruis
was die finale pasgaoffer.

Na Golgotha is geen enkele
pasgaoffer meer nodig nie.

Maar wel het ons ‘n maaltyd, ‘n
feesmaal, waarmee ons die offer op Golgotha herdenk.

Die brood en wyn is dus net die
tekens, hulle wys na  Christus self.

Christus wat die lewende Brood en
die lewende Water is.

Dis soos wat jy op ‘n kaart of ‘n
aardbol kyk, en jy sien daarop die ‘n kolletjie en daarbo geskryf ‘Pretoria’.

Die kolletjie is nie Pretoria
self nie, dit wys net na die bestaan van die stad Pretoria, en waar dit geleë
is ten opsigte van ander plekke.

Net so waarlik as wat ons die
brood en wyn in ons hande hou, so waarlik ontvang ons die liggaam en bloed van
Christus, dit wat ons geestelike lewe in stand hou.

Want as jy nie elke dag van sy
liggaam en bloed, aan die kruis geoffer, gebruik maak om jou sondes af te was
nie, as jy dit nie elke dag doen nie, dan sal jou geestelike lewe begin kwyn en
afsterf.

Hierdie feesmaal is ‘n geestelike
maaltyd.

Hierdie feesmaal maak sin, bedoelende
dat jy regtig geestelik gevoed word, as jy dit in geloof vier.

As jy net brood eet en wyn drink,
en nie dink aan Christus en verlang na sy vergewing nie, dan ontvang jy nie die
wese of waarheid van die sakrament nie.

Dan ontvang jy die sakrament,
soos die NGB skryf, tot jou verdoemenis.

Die tekens, die brood en wyn, is
dan nie net niksseggend vir jou nie.

Dit verswaar in daardie geval jou
oordeel.

Die woord ‘oordeel’, wat in 1
Korinthiërs 11:29 gebruik word, verwys nie na die laaste oordeel nie.

Bekering bly moontlik.

Maar hy eet en drink ‘n oordeel
oor homself, hy roep God se toorn oor hom af, as hy sonder ‘n opregte geloof
aan tafel kom en sommer net brood en wyn gebruik.

Want om sommer net so nagmaal te
vier, sonder beproewing, sonder ‘n opregte geloof, sal jou gewete verhard.

Jy hou dan ’n front voor, dit
maak dit moeiliker vir jou om daarna jou sondes te bely en te los.

Jy raak dan gewoond daaraan om
dit wat heilig is, op ‘n onheilige manier te gebruik.

Dis nie net ‘n neutrale saak nie,
dit het ‘n negatiewe invloed op jou, dit verswaar jou oordeel.

-         
die nagmaal is ‘n feesmaal wat jy
nie sonder voorbereiding kan bywoon nie

Deeglike ondersoek moet daarom voorafgaan
aan die feesmaal.

Wat behels die selfondersoek?

Net vir die duidelikheid:
selfbeproewing bestaan nie primêr uit die vraag: sal ek gaan of nie?

Ons word naamlik opgeroep om aan
tafel te gaan.

Maar selfbeproewing hou in, dat
ons toesien dat ons nie op ‘n onwaardige manier gaan nie.

Selfbeproewing as sulks gaan ons
uiteraard nie waardig maak nie.

Christus maak ons waardig.

Selfbeproewing hou in dat ons
bewus is van ons sondes, dat ons ons daarom voor God verootmoedig.

Selfbeproewing hou in dat ons
gelowig die belofte van skuldvergewing omhels.

Selfbeproewing hou in dat ons ons
voorneem om die Here en ons naaste volgens sy Woord lief te hê.

Die NGB skryf: ons word
aangespoor om lief te hê.

Dit is kort en kragtig waaroor
dit gaan.

Vurige liefde vir God en vir ons
naaste.

Geliefde gemeente, vandag was ‘n egte
nagmaalssondag.

Ons mog vanoggend en vanaand in
die erediens die nagmaal vier.

En vanaand het die onderwerp van
die preek ook nog op die nagmaal gefokus.

Die nagmaal is ‘n wesenlike
onderdeel van die kerklike lewe.

Die nagmaal behoort ook ‘n
wesenlike onderdeel te wees van elke gelowige se lewe.

Is dit by u die geval?

Of is die nagmaal net ‘n
verpligte item vir u?

As dit so is, dan hoop ek dat
hierdie ekstra aandag aan die nagmaal vandag, u sal help om te groei op hierdie
punt.

Dat u, al hoe meer bewus van
waaroor dit regtig gaan met die nagmaal, dat u die nagmaal meer sal beleef, dat
dit ‘n eksistensiële saak vir u sal word, dat u daardie ses Sondae per jaar
waarop die nagmaal gevier word, dat u daarna sal uitsien, dat dit u geloof sal
versterk en sal verdiep.

Dat dit ook daaraan sal bydra dat
u sal verlang na die toekoms.

Dat u sal bid, elke dag, dat
Jesus tog gou mag terugkom!

En dat u wedergeboorte nie net
iets staties sal wees nie, maar dat daar geloofsgroei en geloofsverdieping
plaasvind.

Dat elke nagmaalsviering, na elke
twee maande, soos ‘n mylpaal sal wees.

‘n Mylpaal wat u lewe en u groei
in toewyding aan u Heiland, Jesus Christus, sal markeer.

Soos wanneer mens ‘n hoë berg
klim, dat die paadjie, hoewel daar soms tydelik afdraendes is, dat die paadjie
uiteindelik hoër en hoër sal styg rigting die kruin van die berg.

Mag Christus dit aan ons as
gemeente skenk, en aan elkeen van ons persoonlik.

Dat ons, soos die NGB skryf, in
nederigheid en eerbied hierdie sakrament ontvang.

Dat dit ons aanspoor om steeds
nader aan ons Heiland te lewe.

Uitsien na die nagmaal is uitsien
na ons Here Jesus Christus.

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)