Christus stel sy diensknegte aan op die regte plek en op die regte tyd

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-11-29
Teks: 
I Korinthiërs 16 : 5-9
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
29 November 2015 AD, 10:15 (ampsdraersbevestiging)

Voorsang: Ps 4:1,2,4

Votum: Ps 121:1

Seën

Ps 46:4,5

Wet

Ps 119:14

Gebed

Skriflesing: 1 Korinthiërs 16

Ps 71:3,4

Teks: 1 Korinthiërs 16:5-9

Preek

Ps 71:5,6

Formulier bevestiging van ouderlinge en diakens

Ps 134:4

Gebed

Kollekte

Ps 115:3,9

Seën

Preek: 1
Korinthiërs 16:5-9

In ons teks maak ons kennis met ‘n stukkie van Christus
se kerkvergaderende werk, eeue gelede.

Christus is besig en plaas sy diensknegte uit om op verskillende
plekke aktief te wees.

Paulus mog meemaak hoe Christus verder bou, sowel in Asië
as in Griekeland.

Tot vandag toe sien ons hoe Christus verder bou aan sy
kerk, en daarvoor diensknegte aanstel.

Tema:
Christus stel sy diensknegte aan op die regte plek en op die regte tyd

1 Paulus
berei solank sy opvolgbesoek aan Korinthe voor

2
Ondertussen moet Paulus eers nog in Efese bly

1 Paulus
berei solank sy opvolgbesoek aan Korinthe voor

Laat ek begin met ‘n bietjie agtergrond oor die stad
Korinthe.

Korinthe was ‘n vooruitstrewende hawestad.

Sy ligging was baie strategies.

Dit is geleë op ‘n smal landstrook tussen twee seë – die
Egeïese en die Adriatiese See.

Hierdie smal landstrook het die noorde en suide van
Griekeland verbind.

Die handelsroete tussen Noord- en Suid-Griekeland het
deur Korinthe geloop.

Maar ook die handelsroete oorsee van oos na wes het deur
Korinthe geloop.

Korinthe het eintlik twee hawens gehad.

Een hawe aan die ooskant, die Egeïese See.

En een hawe aan die weskant, aan die Adriatiese of
Ioniese See.

Veral hierdie twee hawens was van groot ekonomiese
belang.

Westelik het die roete gelei rigting Italië en oostelik
die roete rigting Asië.

‘n Ekstra rede vir die skeepvaart om die hawens van
Korinthe te gebruik was die veiligheid.

Mens kon teoreties rondom die suidelike kus van
Griekeland vaar, maar die see rondom Kaap Malea, die suidelikste puntjie van
die Griekse vasteland, is baie onvoorspelbaar.

Dit was ‘n moeilike en gevaarlike see vir skepe uit
daardie tyd om te bevaar.

Daarom het handelaars verkies om liewers ‘binnedeur’ te
vaar tot by die hawe van Korinthe.

Daar is die goedere afgelaai in die ooshawe, waarna dit
oorland vervoer is vir ongeveer 5 km tot by die weshawe, om vandaaraf weer
verder verskeep te word.

Op internet, google earth, kan mens pragtig op die
satellietfoto’s sien waar Korinthe geleë is.

Teenswoordig is dit nie meer nodig om die goedere oor
land te vervoer nie, omdat daar in die vorige eeu ‘n kanaal gegrawe is wat die
oostelike en westelike see aanmekaar verbind.

Soos ek genoem het, die landstrook is maar 5km breed.

Ons weet trouens uit Romeine 16:1 dat daar in Kenchreë,
die naam van die Korintiese hawe aan die oostekant, al vroeg ook ‘n kerk gestig
is, naas die bestaande gemeente van Korinthe.

Naby die stad Korinthe is daar ook, behalwe vir die see,
‘n baie steil rotsagtige berg van byna 600m hoog.

Bo op hierdie berg is daar in die oudtyd ‘n tempel gebou
vir die godin van die seksualiteit.

Hierdie tempel was berug vanweë die baie
tempelprostitusie.

Soos die meeste groot stede het Korinthe ook sy
seksindustrie gehad.

‘n Verwysing hierna vind ons in hoofstuk 6, waar Paulus
waarsku teen hoerery.

Hoe het die bevolking van Korinthe eintlik gelyk?

Een ding is duidelik, en dit is dat dit ‘n baie gemengde
bevolking was.

Grieke, maar ook baie Romeine, ook ex-Romeinse slawe uit
alle dele van die Romeinse ryk.

En soos te verwagte was daar ‘n Joodse sinagoge.

Die Romeinse oorheersers het Korinthe gebruik as hoofstad
vir die suidelike deel van Griekeland.

Ons weet dat een van die Romeinse owerheisfunksionaisse
ook kerklid was, ‘n sekere Erastus, wat in Romeine 16:23 die penningmeester van
die stad genoem word.

Hy was ‘n welvarende persoon.

Soos in alle stede van daardie tyd, was daar in die
sentrum van Korinthe ook ‘n groot markplein omring deur winkels en kleiner
tempels.

Die tempels het ‘n belangrike rol gespeel in die handel.

Kontrakte is daar beseël onder aanroeping van die gode,
ook wel genoem eedplegtighede.

Hier op die markplein was ook die vleismark, vir ‘n deel
bevoorraad deur vleis vanuit nabygeleë tempels (sien 1 Kor 10).

Hierdie tempels het dikwels eetkamers gehad, waar mense
op die banke kon lê om die pas geofferde vleis saam met ‘n maaltyd te geniet.

Sien 1 Korinthiërs 8:10: as iemand met ‘n swak gewete jou
in ‘n afgodstempel aan tafel sien aanlê om deel te neem aan ‘n maaltyd, word hy
dan nie daartoe verlei om offervleis te eet nie?

In hierdie wêreldse stad het deur die prediking van
Paulus ‘n gemeente ontstaan.

In Handelinge 18 kan ons meer lees oor die ontstaan van
die kerk in Korinthe.

Eintlik, as mens goed luister na dit wat Lukas sê in
Handelinge, kan mens nie oor die ontstaan van hierdie kerk praat nie, maar oor
die voortsetting van God se kerk in hierdie stad.

Soos orals, het Paulus in Korinthe eers na die Joodse
sinagoge gegaan.

Sy uitgangspunt was om God se ou kerk op te soek.

Paulus het dus in die sinagoge begin.

Die sinagoge in Korinthe het ‘n reformasie beleef,
oftewel ‘n afskeiding.

Want toe baie Jode hulle teen Paulus se boodskap begin
verset het, en hom begin belaster het, het Paulus sy klere uitgeskud en gesê:

“Julle bloed is op julle hoof. Ek is rein. Van nou af sal
ek na die heidene gaan.” (Hand 18:6)

Vanaf toe was Paulus genoodsaak om te preek in die huis
van Titius Justus.

Sy huis het langs die sinagoge gestaan.

Die afgeskeide kerk het voortaan nie net meer uit Jode
bestaan nie, maar ook uit gelowige heidene.

Ons lees dat Crispus, nota bene die owerste van die
sinagoge, tot geloof gekom het met sy hele huis.

Paulus het in hierdie tyd ‘n pragtige visioen ontvang,
waarin God aan hom bekend gemaak het: “Ek het baie mense in hierdie stad.”
(Hand 18:10)

Daarom het Paulus ‘n jaar en ses maande daar gebly om te
arbei en te evangeliseer.

Dit was, gemeente, in kort wat daar tydens Paulus se
eerste verblyf in Korinthe gebeur het.

Daarna het hy weer oos gevaar na Efese, aan die anderkant
van die Egeïese See.

Maar Korinthe was nie uit sy gedagtes nie.

Ons sien hoe hy steeds betrokke is, byvoorbeeld deur die
skryf van briewe.

Ook het hy al begin om ‘n opvolgbesoek voor te berei.

Wat naamlik baie opvallend is, is dat ons nêrens oor
ampsdraers in Korinthe lees nie.

In baie ander gemeentes het Paulus ouderlinge aangestel.

Hy het ook instruksies vir manne soos Timotheüs gegee om
oudstes op verskillende plekke aan te stel.

Maar skynbaar het dit vir die gemeente in Korinthe langer
geduur om tot geestelike rypheid te kom.

Skynbaar het dit nie een twee drie gegaan om geskikte
broeders te vind wat in die amp kon dien nie.

Ons weet uit ons ervaring op die sendingsveld dat dit nie
orals gelyk op loop nie.

Op die een sendingspunt is daar al amper vanaf die begin
bekwame broeders wat opgelei kan word vir die amp, op ‘n ander sendingspunt
moet mens soms tien jaar of langer wag.

Ons sien wel dat Paulus hiernatoe werk.

Nie net deur bepaalde broeders op te lei en te begelei
nie.

Maar ook deur die gemeente by te bring dat hulle steeds
meer respek en onderdanigheid moet toon aan hierdie manne uit eie geledere.

Dat die gemeente hulle geestelike leierskap begin
aanvaar.

Dit is naamlik die ander kant van die muntstuk, en ook
dit is nie vanselfsprekend nie.

Paulus vra erkenning vir sulke broers wat hulle
beskikbaar stel vir die werk van die Evangelie.

Dink byvoorbeeld aan Stefanas, Fortunatus en Achaïcus,
oor wie Paulus in vers 17 skryf.

Hulle het namens die gemeente ‘n brief vir Paulus
gebring.

Persoonlik het hulle na Efese gevaar waar Paulus op
daardie oomblik was.

‘n Brief waarin die gemeente ‘n aantal vrae aan Paulus
gestel het.

Die brief 1 Korinthiërs, waaruit ons teks vandag kom, is
Paulus se antwoord op hierdie brief uit Korinthe.

1 Korinthiërs is dus as brief gebore uit die persoonlike
besoek van hierdie drie manne uit Korinthe: Stefanas, Fortunatus en Achaïcus.

Toe hulle na ‘n rukkie weer teruggekeer het na hulle
stad, het hulle hierdie antwoordbrief van Paulus met hulle saamgevat.

So sien mens hoe Paulus in gedagtes steeds by Korinthe
betrokke was.

Ons tema lui: Christus stel sy diensknegte aan op die
regte plek en op die regte tyd.

Op hierdie oomblik werk hy in Efese.

Maar ons sien hoe Paulus al begin voorberei vir sy
opvolgbesoek aan Korinthe.

Sy werk daar is nog nie voltooi nie.

In 1 Korinthiërs vind ons ‘n hele lys van probleme, wat
in Korinthe aan die orde was.

Partyskap en tweedrag, ‘n broeder wat met sy stiefma soos
getroud saamlewe, twiste oor offervleis, twiste oor die praat in tale,
onenigheid oor die nagmaal en nog meer.

En om dan te dink dat daar nog nie eers ampsdraers was,
om alles in goeie bane te probeer lei nie ...

Geen wonder dat Paulus in ons teks skryf dat hy eintlik
nie net ‘n kort besoek wou bring nie, maar dat hy liewers nog ‘n rukkie wag
sodat hy by die Korinthiërs kan oorwinter.

Die winter het dit moeilik gemaak om oor land te reis en
oor see amper onmoontlik.

In die winter is die Middellandse See vol storms en reën.

In die somer is daar baie son en ‘n sagte bries.

Daarom het die skeepvaart in die winter nagenoeg
stilgelê.

So sien ons hoe Paulus besig is om planne te maak.

Hy is nodig op meer as een plek tegelyk.

Maar gelukkig oorheers die besef: Christus sorg wel vir
sy kerk.

Christus stel sy diensknegte aan op die regte plek en op
die regte tyd.

Paulus besef dat sy planne ondergeskik is aan God se
bestuur.

Vers 7: “as die Here dit toelaat.”

Hoe sy reisplanne sou uitwerk, dit kon hy op daardie
oomblik nie voorspel nie.

Met al sy beplanning het God tog in beheer gebly.

Maar goed, in hierdie antwoordbrief sien ons hoe Paulus
begin met voorlopige reisplanne.

Alreeds in hoofstuk 4:19 en in 11:34 laat hy weet dat hy
weer terug wil kom.

1 Kor 4:19 “tog sal ek gou na julle kom, as die Here
wil”.

1 Kor 11:34 “as iemand honger het, laat hom by die huis
eet, sodat julle nie tot ‘n oordeel saamkom nie. Die ander sake sal ek reël
wanneer ek kom.”

So te hore wil Paulus sy besoek gebruik om die gemeente
beter te anker op die Evangelie.

Om wantoestande aan die kaak te stel.

En om oudstes aan te stel.

Dat daar met verloop van tyd ouderlinge in die kerk van
Korinthe gekom het, is ‘n feit.

God het Paulus se planne so gelei dat hy ten minste nog
een keer weer vir Korinthe kon besoek.

Nie dat hy in sy eentjie al die probleme kon oplos nie.

Ons weet uit ‘n ander bron dat die verdeeldheid nog ‘n
tyd lank voortgeduur het.

In ‘n boek van een van die oudste kerkvaders, met die
naam Clemens, lees ons dat die kerk van Rome rond die jaar 69nC ‘n brief
geskryf het aan die kerk van Korinthe.

In hierdie brief vermaan die kerk van Rome vir Korinthe,
omdat hulle ‘n aantal van die oudstes wat Paulus aangestel het, weer onwettig
afgesit het.

Dus, selfs twaalf jaar of langer na Paulus se laaste
besoek was daar nog steeds probleme wat betref die onderlinge verhoudings.

Is dit verbasend?

Laat ons eerder besef dat daar waar Christus aktief is,
die satan ook in aksie kom.

Maar gelukkig weet ons dat Christus die oorhand behou.

Christus stel sy diensknegte aan op die regte plek en op
die regte tyd.

Dit is ons tema.

Ons gaan nou na die tweede punt.

(1 Paulus berei solank sy opvolgbesoek aan Korinthe voor)

2
Ondertussen moet Paulus eers nog in Efese bly

Voorlopig wou Paulus nog ‘n periode in Efese bly.

Efese is ongeveer 400km oos van Korinthe, maar wel aan
die oorkant van die Egeïese See, wat tussen Griekeland en Turkye lê.

Efese lê aan die Turkse weskus.

Korinthe ‘n hawestad in Griekeland.

Soos genoem kon Paulus die vorige keer nie sy werk na
tevredenheid in Korinthe afrond nie.

En as hy nou dadelik saam met die drie broers sou
terugreis, sou dit beteken dat hy die werk in Efese ook onvoltooid moes laat
lê.

In Efese was hy nog net so hard nodig.

Daarom besluit hy om nog bietjie te wag, sodat hy vir ‘n
langer tyd na Korinthe kon kom.

Paulus noem dat hy in elk geval tot Pinkster in Efese wou
bly.

Sy motivering was tweeërlei, lees ons in 1 Korinthiërs
16:9.

In die eerste plek het ‘n groot en kragtige deur vir hom
oopgegaan.

Mens kan sê: ‘n groot geleentheid.

En in die tweede plek is daar baie teëstanders.

Wat bedoel Paulus hier eintlik?

Handelinge 19 gee opheldering.

Ons vind daar ‘n beskrywing van Paulus se besoek aan
Efese.

Dit het begin met ‘n ontmoeting van ‘n aantal dissipels
van Johannes die Doper.

Paulus mog hulle doop in die Naam van die Here Jesus.

Waarna hulle ook die Heilige Gees ontvang het, net soos
die apostels op Pinksterdag.

Daarna lees ons dat Paulus na die plaaslike sinagoge
gegaan het en drie maande vrymoedig daar opgetree het.

Hy het daar besprekings gehou om die mense te oortuig
aangaande die koninkryk van God.

Maar toe daar van sommiges teenstand gekom het, het
Paulus hom afgeskei en voortgegaan met die daaglikse besprekings op ‘n ander
plek, naamlik die skool of gehoorsaal van Tirannus.

Dit het twee jaar so voortgeduur.

Lukas noem dat God buitengewone kragte deur die hande van
Paulus verrig het – wonderbaarlike genesings van siekes en die uitdrywing van
bose geeste.

Dan volg daar ‘n episode oor die sewe seuns van Skevas.

Dit was sogenaamde rondreisende Joodse duiwelbesweerders.

Skevas word in Handelinge 19:14 ‘n Joodse owerpriester
genoem.

Dit het geblyk dat hulle, in die naam van die Here Jesus,
deur wie Paulus die bose geeste bedwing het, nie sommer ook dieselfde resultaat
kon behaal, en dit dan vir hulle eie finansiële voordeel nie.

Die uiteinde van hierdie episode was dat verskeie van
hulle wat met towery omgegaan het, hulle boeke bymekaargebring en verbrand het.

So het die Woord van die Here met krag gegroei en sterk
geword.

Dit is die konklusie wat Lukas uit hierdie episode trek.

‘n Pragtige konklusie!

Die Woord het met krag gegroei en sterk geword.

Nou gemeente, Paulus sê presies dieselfde in ons teks:
“’n groot en kragtige deur het vir my oopgegaan” (vers 9).

Daar is nou groot kanse.

Ek kan dus eenvoudigweg nie nou hier padgee nie.

Dit is dus die eerste motivering wat Paulus gee, hoekom
hy nie nou kan weggaan nie.

En dan volg daar nog iets, gemeente, ‘n tweede
motivering.

Paulus sê nie verniet nie: maar daar is baie teëstanders.

Eerder in sy brief het hy ook al hierna verwys.

Sien 1 Korinthiërs 15:32 “As ek in Efese op menslike wyse
met wilde diere geveg het, watter voordeel was dit vir my? As die dode nie
opgewek word nie, laat ons dan eet en drink, want môre sterf ons!”

Waarop doel Paulus eintlik hier?

Moes Paulus werklik met leeue en tiere veg, omdat hy die
Evangelie gepreek het?

Is hy in ‘n heidense arena of skouburg vir die leeus
gegooi?

Ons weet nie alles nie, maar uit Handelinge 19(:8-40)
word hierdie opmerking van Paulus wel duideliker.

Ons lees naamlik daar die geskiedenis van Demetrius die
silwersmid.

Hy het klein silvertempeltjies van Diana gemaak (Hand
19:24), sê maar souvernirs.

Diana was ‘n belangrike godin vir die stad Efese.

Daar is beeldjies van hierdie godin opgegrawe.

Sy was ‘n godin van die vrugbaarheid.

Sy was in feite ‘n seksgodin.

Die vir haar bekend afbeelding is ‘n vrou met nie net
twee nie, maar vele borste op haar lyf.

Hierdie Demetrius was dus werksaam in die toenmalige
seksindustrie.

Ons sou vandag sê, hy het ‘n sekswinkel gehad en het
daarvoor produkte vervaardig.

Hy het ryk geword deur die seksuele welluste van die
Efesiërs.

Maar Paulus se prediking het skade veroorsaak vir sy
besigheid.

Paulus het ‘n gesonde seksuele moraal gepreek, en Paulus
het veral die afgode bekritiseer.

Sien Handelinge 19:25 e.v. waar Demetrius sê:

“Manne, julle weet dat ons welvaart uit hierdie
verdienste is, en julle sien en hoor dat nie alleen in Efese nie, maar byna in
die hele Asië, hierdie Paulus ‘n aansienlike skare oorgehaal en afvallig gemaak
het deur te sê dat dit geen gode is wat met hande gemaak word nie. Nou is daar
nie alleen gevaar dat hierdie vak van ons in veragting kom nie, maar ook dat
die tempel van die groot godin Diana as niks gereken word, en dat haar
majesteit wat die hele Asië, ja, die wêreld, vereer, ook tot niet sal gaan.”

En dan lees ons hoe vervolgens ‘n hele volksoploop
ontketen word deur Demetrius.

Met as gevolg dat die geselskap van Paulus na die
skouburg gesleep word vir ‘n publieke afrekening.

Maar gelukkig het God dit so gelei dat hy nie vir die
leeus en tiere gegooi is nie, maar dat die stad se sekretaris die volk tot
bedaring kon bring.

Hy het aan die volk verduidelik dat die skouburg nie die
plek was vir hierdie manne nie.

Moenie hulle vir die leeus gooi n.

Mog Demetrius en sy kollega’s ‘n gegronde klag teen hulle
hê, laat hulle na die regters gaan.

Gemeente, met hierdie gebeurtenis in mens se agterkop
besef mens beter wat Paulus in ons teks skryf: daar is baie teëstanders.

En daar was verseker nog meer gebeurtenisse soos hierdie.

Uit die vers in 1 Korinthiërs 15 (vers 32) klink dit
inderdaad dat Paulus ‘n keer teen die wilde diere in Efese moes veg.

Baie teëstanders, in die eerste plek die Jode wat die
deure van die sinagoge vir Paulus gesluit het, sodat hy na ‘n ander plek moes
uitwyk.

En ook heidene, toe hulle sien dat hulle vuil winste
begin krimp het deur die gesonde prediking van Paulus.

Al met al, ook hierin sien Paulus God se hand, dat hy
voorlopig nog een en ander het om te doen in Efese.

Daar is baie beweging in hierdie stad, daar is kanse,
daar is ook gevare.

Ook hierdie is ‘n teken dat hy voorlopig nog in Efese
moes bly.

Christus stel sy diensknegte aan op die regte plek en op
die regte tyd.

Dit is die tema van hierdie preek.

Korinthe, Efese, en nog baie meer plekke waar werk vir
Paulus gewag het.

Nie dat Paulus onmisbaar was vir die werk nie.

Ook hy het gesterf – sy tentwoning het hy afgelê – soos
hy dit self uitgedruk het (2 Kor 5:1).

Hy mog begin beleef dat dit veel beter is om met sy
Heiland te wees.

Sy aardse taak was voltooi.

Maar Christus het wel verder gegaan.

Paulus is opgevolg deur Timotheüs en Titus.

Paulus het ampsdraers aangestel.

In Korinthe is ook ampsdraers bevestig.

En hulle het die werk voortgesit, gehoorsaam aan
Christus.

En so is Christus vandag nog steeds besig om sy kerk te
vergader, beskerm en te onderhou.

Nou ondertussen wêreldwyd.

Orals is daar gemeentes met predikante, ouderlinge,
diakens, dooplede, belydende lede.

‘n Ontelbare menigte.

Ook hier in Pretoria-Maranata skenk Christus vandag nuwe
ampsdraers vir sy gemeente.

Trou aan Christus se Woord mag hulle leiding gee aan die
kerklike lewe.

En u word opgeroep om hulle te eer vanweë hulle amp.

Volgende week mag ons as gemeente weer nagmaal vier.

Wat ‘n voorreg is dit dat ons gemeentelewe en ons
nagmaalsdienste nie gekenmerk word deur twis en tweedrag en faksies nie.

Nie dat ons as gemeente ‘n modelgemeente is nie.

Net soos die gemeente in Korinthe is daar by ons ook baie
noodsaaklike skaafwerk.

Laat ons onsself opnuut voorberei op die viering van
volgende week.

Sodat die simboliese eenheid aan tafel ook ‘n werklike
eenheid mag wees.

Geen groepsvorming nie, maar een gemeente.

Laat ons dit met woord en daad wees.

Laat elkeen by homself begin, en nie kla oor ‘n ander
nie.

Mag die Here ook vir ons, en dalk deur ons, ‘n kragtige
deur oopmaak vir die Evangelie.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)