Die God van alle genade sal julle volmaak, bevestig, versterk en grondves

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-11-22
Teks: 
I Petrus 5 : 10-11
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
22 November 2015 AD, 10:15 (Openbare geloofsbelydenis)

Voorsang: Ps 116:2,5 (ivm
afsterwe br. Jan Koning)

Votum

Seën

Ps 66:3,4

Wet

Ps 73:9,10

Skriflesing: 1 Petrus 3:12-18

Ps 37:2,3

Skriflesing: 1 Petrus 4:7-19
& 5:6-14

Ps 37:4,5,7

Teks: 1 Petrus 5:10-11

Preek

Ps 37:10,11,16,25

Openbare Geloofsbelydenis

Ps 134:4

Gebed

Kollekte

Sb 24:3,4

Seën

Preek: 1
Petrus 5:10-11

Daar is baie vorme van lyding in
hierdie wêreld.

Daar is baie mense wat
aanhoudende lyding meemaak.

Daar is mense wat aan
ongeneeslike siektes ly.

Daar is mense wat met pyn moet
lewe wat altyd by hulle is, wat nie wil weggaan nie.

Daar is mense wat aan erge
depressies ly, wat moet stry teen die begeerte om hulle eie lewe te neem.

Dan is daar mense wat in uitsiglose
omstandighede lewe.

In baie lande is daar mense wat
honger moet gaan slaap, mense wat ondervoed is.

Daar is lande waar daar oorlog
heers, waar mense se leefomstandighede beroerd is.

‘n Groot deel van Sirië se
bevolking het gevlug, omdat die burgeroorlog ‘n lewe in hulle eie land
onmoontlik gemaak het.

Daar is mense wat gemartel word
voordat hulle doodgemaak word.

Kortom, vandag is daar baie mense
in die wêreld wat ly.

En dit was nog nooit anders
gewees nie.

Ook in ons teks lees ons van
lyde.

Ons gaan vanoggend kyk wat
daarmee bedoel word.

Wat bedoel die apostel Petrus as
hy aan die mense skryf dat dit maar net ‘n kort tyd van lyde is?

Tema: Die
God van alle genade sal julle volmaak, bevestig, versterk en grondves

1                  
Verneder jou, dan sal Hy jou
sterk maak

2                  
Besef dat jy nie die enigste een
is wat ly nie

3                   
Besef dat dit maar ‘n kort tydjie
van lyde is

 

1       Verneder jou, dan sal Hy jou sterk maak

Petrus skryf hierdie brief aan
die Christene in Klein-Asië.

Dit is die gebied wat vandag
bekend staan as Turkye.

In die tyd toe hierdie brief
geskryf is, het die Christene vyandigheid uit hulle omgewing ervaar.

Juis as gevolg van die feit dat
hulle Christene was.

Dit kan ons agterkom uit die res
van die brief.

Lyding was ‘n tema waaroor die
apostel Petrus dikwels geskryf het.

Dit het hom besiggehou.

Hy moes self ook lyding
ondergaan.

Ons kan terugdink aan die feit
dat die Here Jesus dit self oor Petrus voorspel het.

Vlak sy hemelvaart het Jesus vir
Petrus gesê: “toe jy jonger was, het jy jouself gegored en rondgegaan waar jy
wou; maar wanneer jy oud geword het, sal jy jou hande uitsteek, en ‘n ander een
sal jou gord en bring waar jy nie wil wees nie.” (Joh 21:18).

Die evangelis Johannes voeg dan
hieraan toe: “dit het Hy gesê om aan te dui deur hoedanige dood hy God sou verheerlik”

Jou hande
uisteek,
of jou hande uitstrek was ‘n uitdrukking
daarvoor om geskruisig te word.

Jesus het dus, daardie dag toe hy
Petrus opnuut in diens geneem het, alreeds vir hom gesê hoe sy einde sou wees.

Hy sou, net soos sy Meester, ook
gekruisig word.

Geen wonder dat die tema van lyde
Petrus deurentyd besig gehou het nie.

In sy tweede brief verwys Petrus
nog hierna, bewus van dit wat vir hom gewag het – 2 Petrus 1:14: “omdat ek weet dat die aflegging van my
tentwoning ophande is, soos onse Here Jesus Christus dit ook aan my bekend
gemaak het.”

En soos Jesus dit voorspel het, het dit toe
later ook gebeur.

Petrus is gekruisig in Rome onder keiser Nero.

Petrus was dus baie bewus van die realiteit van
lyding, en net so die Christene aan wie hy skryf.

Hulle het te make gehad met die agressiewe mag
van die satan.

In ’n vyandige omgewing het hulle niks gehad om
op te steun nie, behalwe op hulle God.

Petrus roep hulle op om te buig onder God se
magtige hand.

Juis deur te buig onder God se hand, sal hulle kan
staande te bly en weerstand bied teen die brullende leeu.

God se magtige hand is sigbaar in die
geskiedenis.

Met sterke hand en uitgestrekte arm het Hy sy
volk uit Egipte bevry.

Maar ook in die hede doen God dit.

Petrus het God se hand gesien in sy wonderlike
bevryding uit die gevangenis, waarvan ons in Handelinge 12 kan lees.

Lê jou lewe in sy hand, wat ook vandag nog
wonders doen.

Verneder jou onder die magtige hand van God,
sodat Hy jou sal verhoog op sy tyd.

Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg
vir julle.

God se hand rig die nederiges op.

As jy voor Hom neerbuig, as jy nederig voor Hom
is, sal jy ervaar dat sy hand wonders doen.

As jy lyde ervaar, wil jy natuurlik dat daar so
gou moontlik ’n oplossing kom.

Jy is ongeduldig.

Maar, skryf Petrus, verneder jou eers onder God
se hand.

Verwag dit van Hom alleen.

Oorhandig jou lewe aan Hom.

En Hy sal jou op sy tyd verhoog.

Vertrou jy Hom?

Wie homself nederig onder God se hand plaas, sal
agterkom hoe sy hand ingryp.

Met sy regterhand het God, teen alle verwagting
in, sy Seun verhoog.

Petrus het dit glad nie verwag nie, maar hy het
ooggetuie daarvan geword.

Hy mog hierdie blye evangelie op Pinksterdag
verkondig.

Dit het op God se tyd gebeur.

Nie op die oomblik toe Petrus wou ingryp nie.

Onthou u nog hoe Petrus hardhandig wou ingryp,
hoe hy selfs een van die soldate se oor afgekap het?

Maar dit was nog nie God se tyd nie.

Eers moes Christus tot in die dood verneder
word.

God het na vernedering verhoging gegee.

Op die oomblik wat Hy bepaal het.

God bepaal die tyd, die regte tyd.

Daarom moet mense leer om te wag totdat dit sy
tyd is.

Buig voor God, besef dat sy magtige hand sal
ingryp op sy tyd.

As Christen kan jy al jou bekommernisse oor
vandag en môre in God se almagtige hand lê.

Die Christene in Klein-Asië was bang vir hulle
medemense.

Bang vir die mense in hulle straat.

Bang vir die mense in die sinagoge, wat vyandig
was teenoor Christus se volgelinge.

Angs en onsekerheid oor die toekoms is ’n swaar
las.

Dit kan ondraaglik word, te swaar.

Maar jy word bevry van hierdie las as jy dit op
Hom werp.

Die Here Jesus het ons opgeroep, ons beveel:

Moet in geen ding bekommerd wees nie (Matth 6)!

Bekommernis, angs en onsekerheid neem Hy van jou
skouers af.

Jy gaan Hom ter harte.

Sy almagtige hand word in beweging gebring deur
sy hart.

’n Huurling sal nie sy hand uitsteek as daar
gevaar dreig nie.

’n Huurling het nie ’n hart vir die skape nie
(Johannes 10).

Maar die Here is ons goeie Herder.

Petrus gebruik as beeld vir die duiwel ’n
brullende leeu.

Dit is die duiwel se invloed dat daar ’n
antichristelike mentaliteit in Klein-Asië ontstaan het.

Die duiwel is die groot teenstander van God en
sy gemeente.

Moenie die duiwel onderskat nie, al sien jy hom
nie met jou oë nie.

Hy is soos ’n brullende leeu.

Moenie hom onderskat nie.

Petrus roep op tot paraatheid.

Word nugter, word wakker! (vers 8)

Gemeente, wat Petrus hier skryf, is dieselfde as
wat die Here Jesus destyds vir hom gesê het.

Waak en bid, dat jy nie in versoeking kom nie
(Markus 14).

Die teenstander het naamlik tot die aanval
oorgegaan.

Hy is ’n lewensgevaarlike gekwetste roofdier.

Hy swerf orals rond en maak die wêreld onveilig.

Hy bekruip sy prooi en maak reg vir die sprong.

Op die laaste oomblik laat hy ’n gebrul hoor, om
sy slagoffer te verlam van angs.

En as hy sy prooi oormeester het, word dit met
huid en haar verslind.

Dis nie soseer die vraag of hierdie leeu ’n
prooi sal vind nie, eerder wie hy sal vind.

Want vind sal hy vind.

Wie sal die slagoffer wees?

Petrus gee die advies om nie die konfrontasie
uit die weg te gaan nie.

Jy sal hom raakloop.

Maar moenie bang wees nie.

Selfs die duiwel kan weerstaan
word!

Standvastig in die geloof.

Ons kan dink aan die wapenrusting
van Efesiërs 6.

Met God se hulp is dit moontlik.

Sorg dat jy weerbaar is.

Sorg dat jy beklee is om die
wapenrusting van God.

Die skild van die geloof in jou
hand.

Geloof is nie net dat jy ‘n
aantal feite ken nie, geloof is veral ook ‘n vaste vertroue.

‘n Vaste oortuiging, dat God aan
jou kant staan.

Jy hoef dus nie te vlug nie, jy
kan die monster in die oë kyk.

Juis omdat Christus agter jou
staan.

Christus, die Leeu uit die stam
van Juda.

Christus, die Oorwinnaar.

Hy maak jou sterk.

(Tema: Die God van alle genade
sal julle volmaak, bevestig, versterk en grondves

1       
Verneder jou, dan sal Hy jou sterk maak

2       
Besef dat jy nie die enigste een is wat ly nie

3       
Besef dat dit maar ‘n kort tydjie van lyde is)

 

2       Besef dat jy nie die enigste een is wat ly nie

Ook mag jy weet dat jy nie die
enigste is nie.

Dink aan die vers net voor ons
teks: “omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap
wat in die wêreld is.” (vers 9)

Toe Petrus hierdie brief geskryf
het, was hy waarskynlik duisende kilometers verwyderd vanaf hierdie Christene.

Die Romeinse Ryk het gestrek van
Spanje in die Weste tot Persië in die Ooste.

En orals het die Christene die
teenstander ontmoet.

Die duiwel het orals probeer om
die medemense op te hits teen die gelowiges.

En as hy dit nie kon regkry nie,
het hy nog ander taktieke ook probeer.

In hierdie brief stel Petrus die
Christene in Klein-Asië gerus.

Julle is nie die enigstes nie.

Inteendeel, om lyding mee te maak
is eintlik normaal.

Dit hoort by Christen wees.

As jy ‘n gelowige is, dan SAL jy
teenstand ontmoet.

Jy SAL weerstand ervaar.

Maar God sal jou ook die krag gee
om te oorwin.

Daar is vandag in die 21e eeue
Christene reg oor die wêreld.

In alle land, op alle kontinente.

En met alle kommunikasiemiddels
sou mens dink dat Christene goed van mekaar se omstandighede op die hoogte is.

Danksy radio, internet, telefoon,
facebook, ensovoorts.

Tog is dit dikwels nog nie die
geval nie.

Wat weet ons van die lyding wat
Christene in Noord-Korea op ‘n daaglikse basis moet deurmaak?

Wat weet ons van die lyding van
Christene in die Midde-Ooste?

Wat weet ons van die diskriminasie
wat Christene in China ervaar.

Wat weet ons van die haglike
omstandighede waaronder die kerke in Suid-Sudan tans verkeer?

Tydens hierdie jaar se
belydeniskatkisasie het elke katkisant ‘n land gekry, ‘n land wat hoog op die
ranglys staan van gebiede waar Christene vervolg word.

Die katkisante het inligting
ingesamel oor die omstandighede in daardie lande:

Noord-Korea, Somalië, Irak,
Syrië, Afghanistan ...

Ons het vir die Christene in
daardie lande gebid.

Laat ons aanhou om met hulle mee
te leef.

Ons kan in vryheid kerk toe gaan.

Dit wil egter nie sê dat daar
hier geen stryd is nie.

Juis in ons land woed ook ‘n
enorme geestelike stryd.

Die duiwel sluip ook in ons land
rond.

Ons sal geestelik weerbaar moet
bly.

Jy sal elke dag die wapenrusting
van God moet dra.

Daar is geen enkele dag wat jy
kan afvat van jou geloof nie.

Dit gaan jou duur te staan kom.

Afwesigheid van fisiese
vervolging beteken nie dat die satan afwesig is nie.

Laat ons juis moed skep, as ons
hoor van geloofsgenote se standvastigheid.

En laat ons van ons kant vir
hulle bly bid.

Dat hulle ook kan moed skep uit
die wete dat hulle nie alleen staan in hulle lyding nie.

En waaruit ons veral moed kan
skep, is die wete dat dit maar ‘n kort tydjie van lyde is.

Daarna kyk ons in die derde plek.

(Tema: Die God van alle genade
sal julle volmaak, bevestig, versterk en grondves

1       
Verneder jou, dan sal Hy jou sterk maak

2       
Besef dat jy nie die enigste een is wat ly nie

3       
Besef dat dit maar ‘n kort tydjie van lyde is)

 

3          Besef dat dit maar ‘n kort tydjie van
lyde is

Ons hoef egter nie wanhopig te
wees nie.

Ons teks bevat ‘n geweldige
bemoediging.

Petrus het dit geskryf aan mense
wat op daardie stadium naby aan wanhoop was.

Petrus skryf: “mag die God van
alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus
Jesus, nadat ons ‘n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en
grondves!”

Hierdie teks wil vir hulle hoop
gee.

Dis soos ‘n moë reisiger wat nie
meer krag het om een tree verder te sit nie.

Maar wanneer jy hom vertel dat
die bestemming net anderkant die bult is, sal daardie wete vir hom die laaste
bietjie krag gee om tog aan te gaan.

Die Here God tel jou op, en gee
jou vir ‘n oomblik ‘n blik vanuit die hemel op jou lewe.

Vanuit die hemel sien jy alles in
een keer.

Jou hele lewe, waar jy vandaan
kom, tot waarheen jy oppad is.

Jy kry ‘n panoramiese perspektief
op heel jou lewe.

Ons lees: die God van alle genade
sal jou volmaak, nadat jy ‘n kort tyd gely het.

Eintlik word met hierdie kort tyd
van lyde jou hele lewe hier op aarde bedoel.

Die hele tyd wat jy op aarde was,
jou hele lewensloop, die geestelike stryd wat jy gedurende jou hele lewe
meegemaak het.

Vanuit God se oogpunt is dit maar
‘n kort tyd.

‘n Tyd waarin jy klaargestoom
word vir die volmaaktheid.

Vir die ewigheid.

‘n Moeilike tyd, ‘n tyd van lyde.

Maar wel met ‘n skitterende
eindbestemming.

 

Jou lewe – ‘n kort tyd van lyde.

Is dit nie bietjie oordrewe wat
Petrus hier skryf nie?

Ervaar ons elke dag werklik as
lyde?

Pyn en lyding?

Natuurlik, in elke mens se lewe
sal daar dae van lyding wees, daardie dae wat jy byvoorbeeld in die hospitaal
gelê het.

En uiteraard is daar mense in
lande waar hulle vir hulle geloof vervolg word.

Maar ons?

Elke dag pyn en lyding?

Die meeste van ons, dalk veral as
jy nog jonk en gesond is, sal eerder verkies dat die lewe nog so lank moontlik
mag voortduur.

Ons geniet dit mos so baie!

Desnieteenstaande noem Petrus dit
‘n kort tyd van lyde.

Want dit word vergelyk met die
lewe wat hierna gaan volg.

Wat ons te wagte staan.

Die hemelse volmaaktheid en die
nuwe aarde, herskape op die jongste dag.

Vergeleke daarby is die lewe nou
enkel pyn en lyding!

Juis vir julle wat vandag
belydenis doen, is dit essensieel dat julle dit besef, en hierdie besef vashou
in die toekoms.

Hierdie lewe is nie die ultimate nie.

Julle is oppad na ‘n beter
vaderland.

Juis as dit goed en voorspoedig
en voor die wind gaan in hierdie lewe, kan ons sig verloor op die beter
vaderland.

Dit is een van satan se taktieke.

Ons verlang nie meer elke dag na
die beter vaderland nie, want ons geniet dit mos so baie hier en nou.

Die teks skud ons wakker:
vergeleke by dit wat op koms is, is hierdie werklikheid pyn en lyding.

Soms is dit goed as ons beproef
word.

As ons ly, as ons moet stry, as
daar verdriet en sorge is, dan verlang ons sterker na die beter vaderland.

Dan verlang ons meer daarna dat
God ons sal volmaak.

Die woord ‘volmaak’ in ons teks
kan ook vertaal word met ‘herstel’.

In orde bring, herstel volgens
die oorspronklike doel.

Ons oorspronklike doel is dit wat
vers 11 van ons teks sê: om ons Skepper te loof.

Ons lewe om te loof.

Dit is ons lewensdoel.

En die woord ‘bevestig’ in ons
teks – hierdie woord kom uit die bouwêreld.

Jy word bevestig, jy word
vasgemessel op die fondament, wat Christus is.

Hy maak jou onwankelbaar,
volledig stabiel.

Hy versterk en grondves jou.

Aan Hom is die heerlikheid en die
krag in alle ewigheid.

Krag kan mens ook met mag
vertaal.

Dit herinner aan die doksologie,
die lofverheffing, aan die einde van die Onse Vader:

Aan U behoort die koninkryk en
die krag en die heerlikheid.

Sy almagtige arm het onbeperkte
krag.

En dit tot in alle ewigheid.

Tot in die eeue van die eeue,
staan daar letterlik.

God se liefde en mag trotseer die
tyd.

Staan bo die tyd.

Vir Hom is duisend jaar soos een
dag.

‘n Leeftyd is vir Hom ‘n kort
tydjie.

Dit gee ons perspektief vir die
toekoms.

Ons weet ons sal die stryd kan
volhou.

 

Elsabé, Jaco, Henk, Landi,
Lieneke, julle gaan nounou die seën van die Here ontvang.

Hierdie seën word aan julle
opgelê met die woorde van ons teks.

Hierdie seën mag jy met jou
saamvat jou hele lewe.

Ek moet eintlik sê: die kort
tydjie wat jou lewe gaan duur.

Of soos die teks sê: ‘n kort tyd
van lyde.

Weet julle deur hierdie seën
gedra deur God se almagtige arm.

En bly besef dat die mooiste nog
moet kom, na hierdie kort tyd van lyde.

Moenie dit uit die oog verloor
nie.

Bly uitsien na die dag as die
Here julle heeltemal volmaak gaan maak.

Hou dit in die oog, vir die res
van julle lewe.

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)