‘n Ernstige waarskuwing aan die koningshuis van Dawid

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-11-15
Teks: 
II Kronieke 10 : 15
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
15 November 2015 AD, 10:15

Voorsang: Ps 2:1,2,5

Votum

Seën

Ps 106:20

Wet

Ps 119:54,55

Gebed

Skriflesing: 1 Konings 11:26-43

Ps 53.1,2,3

Skriflesing 2 Kronieke 10

Ps 53:4,6,7

Teks: 2 Kronieke 10:15

Preek

Ps 89:15,18

Gebed

Kollekte

Ps 102:5,6,7

Seën

Preek: 2
Kronieke 10:15

In 2 Kronieke 10 lees mens oor ’n dieptepunt uit die geskiedenis van God se
volk.

Die land het in twee geskeur, met Juda as ryk in die suide, en Israel as
ryk in die noorde.

Die hoofstuk vertel hoe dit gebeur het, en die twyfelagtige rol wat
Jerobeam en Rehabeam gespeel het.

Die feit dat ‘n land in twee skeur, is iets van alle tye.

Ook in ons tyd gebeur dit.

Die bekendste voorbeeld is seker die opsplitsing van Duitsland in die 20e
eeu.

Na die Tweede Wêreldoorlog het die geallieerdes uit die Weste die westelike
deel van Duitsland bevry.

Die Russe het die oostelike deel bevry.

Maar die Russe het nooit meer weggetrek om aan die Duitsers hulle
onafhanklikheid te gee nie. Vir amper 50 jaar was die land in twee geskeur.

Vandag is daar nog steeds lande wat in twee geskeur is.

Dink aan Noord- en Suid-Korea, ’n baie gespanne situasie.

Dink aan Cyprus.

Die noordelike deel van hierdie eiland word 
al vir dekades deur Turkye beset.

Op die oomblik is daar iets soortgelyks aan die gebeur in Ukraïene.

Rusland is besig om stilletjies die oostelike deel van daardie land te
beset.

Die Krim, die suidelike skiereiland, het hulle alreeds beset.

Die koninkryk waaroor Dawid en Salomo geregeer het, het ook in twee
geskeur.

Vanoggend gaan ons na hierdie geskiedenis kyk.

Tema: ‘n
Ernstige waarskuwing aan die koningshuis van Dawid

Salomo het te luuks begin lewe.

Die belastingdruk het te hoog geword.

Die politici het besluite geneem wat slegs in hulle eie belang was, en
hulle het nie vir die volk omgegee nie.

Dit het in die eerste plek gegeld vir Jerobeam.

Hy was ’n talentvolle jongman wat deur Salomo opgemerk is.

Salomo het hom aangestel oor alle dwangarbeiders uit die huis van Josef (1
Kon 11:28). Jerobeam het waarskynlik uitgegroei tot ’n soort vakbondsleier.

Die volk het gebuk gegaan onder die hoë belastingdruk, en veral die stamme
uit die noorde het ontevrede begin raak.

Toe Jerobeam die voortou neem in die verset, het Salomo hom probeer
uitskakel.

Maar Jerobeam het na Egipte gevlug waar hy asiel gevind het by Sisak, die
koning van Egipte (1 Kon 11:40).

Eers na die dood van Salomo het hy weer teruggekeer na sy land.

Ons gaan later in die preek nog
sien dat hierdie verloop van sake nie toevallig was nie.

Die Here het eintlik vir Jerobeam
verwek om ‘n roede te wees vir die huis van Dawid.

Jerobeam het dus na Egipte
uitgewyk.

Maar die volk het hom nog nie
vergeet nie.

Veral daardie deel van die volk
wat moeg was om belastings te betaal.

Die koningshuis van Salomo het
swaar op hulle skouers gerus.

Salomo het veel vir die land
beteken.

Hy het pragtige bouwerke voltooi,
hy het gesorg vir infrastruktuur.

Maar hy het ook veel gevra.

Al die groot projekte het geld
gekos, en die geld moes êrens vandaan kom.

En moenie sy enorme hofhouding
vergeet nie.

Met miskien wel duisend vroue in
sy harem, ‘n statussimbool vir ‘n vors in die Midde-Ooste, het Salomo meegeding
met sy eweknieë.

Ja ongelukkig het Salomo
deelgeneem aan hierdie groepsdruk onder die magtiges van die wêreld.

En sy hofhouding het elke jaar
weer ‘n kapitaal opgeslurp.

Hierdie was nie vroue wat die
hande uit hulle moue kon steek nie.

Hierdie was nie vroue wat – soos
die huweliksformulier sê – die sieraad van goeie werke gedra het nie.

Hierdie was vroue wat ‘n kapitaal
gekos het aan onderhoud, skoonheidsmiddele, juwele, klere, ensvoorts.

Om met so ‘n vrou getroud te wees
is ‘n ramp, ‘n vrou wat nooit genoeg kan hê nie.

En Salomo het wel duisend gehad!

Geen wonder dat die volk begin
kla het nie.

En hulle het aan Jerobeam gedink,
wat na Egipte gevlug het.

Jerobeam wou wel hulle leier
wees.

Met ‘n petisie het hy hom gerig
tot die nuwe kroonpretendent Rehabeam.

Soos dit vandag gebeur, so was
dit vroeër ook.

Ook vandag moet die president of
‘n minister soms ‘n petisie in ontvangs neem uit hande van die volk.

En ook vandag kla die volk dat
die ministers veels te luuks lewe.

Jerobeam was bereid om ‘n stem te
wees vir die ontevrede volk.

Dit het hom natuurlik gepas.

Hy het self hoë aspirasies gehad.

 

Jerobeam het besef dat hy onder normale omstandighede geen kans op die
troon sou maak nie.

Maar as hy die volk sou verdeel, as hy sou polariseer, dat hy wel ’n kans
gehad het.

Die volk moes dus ’n baie hoë prys betaal vir sy politieke aspirasies.

Hy het die volk in twee geskeur vir sy eiebelang.

Kortom, ’n selfsugtige politikus, met geen gevoel vir die mense nie.

Die wysheid was ver te soeke.

Ek dink dit klink vir ons nogal vertroud in die ore.

Gebeur dit nie ook vandag in ons Suid-Afrika, dat politici die land en sy
mense verdeel vir hulle eie gewin nie?

Vir president Zuma gaan sy party se belange bo die land se belange.

En verdeeldhede uit die verlede word telkens weer beklemtoon.

Dit is so maklik om blank en swart teenoor mekaar uit te speel.

Die politici weet dat ons gevoelig daarvoor is.

Die gevolg is dat hierdie blank-swart teenstelling ons gedagtes bly
beheers.

Pleks van dat ons dink in terme van die teenstelling Christelik teenoor
nie-Christelik; of wetsgehoorsaam teenoor nie-wetsgehoorsaam.

Die land is moeg vir politici met korttermyn eie belange, terwyl hulle nie
omgee oor die werklike belang van die land, veral op die lang termyn nie.

Jerobeam het nie belanggestel in
God se wil nie.

Dinge het om homself gedraai.

Tog het God, wat almagtig is en
oor alle mense regeer, hom as instrument gebruik.

‘n Instrumente om die afval in
die koningshuis van Salomo aan die kaak te stel.

Onthou u nog wat God vir Salomo
gesê het?

Destyds aan die begin van sy
koningskap, toe Hy aan hom in ‘n droom verskyn het?

En ook halfpad sy koningskap,
weer in ‘n nagtelike verskyning?

Die HERE het gesê:

Salomo, as jy voor my aangesig
wandel, as jy alles doen volgens wat Ek jou beveel het, dat sal Ek jou koningstroon
bevestig, en nooit sal daar vir jou ‘n man ontbreek, wat oor Israel sal heers
nie.

Maar as jou hart afkerig is van
my insettinge en gebooie, en jy ander gode begin dien en voor hulle neerbuig,
dan sal Ek julle uitruk uit my land.

En soos u weet, met die baie
eksotiese vroue wat Salomo in sy harem versamel het, het hulle afgode ook
saamgekom.

En Salomo het dit oogluikend
toegestaan.

Erger nog, hy het selfs geld
voorsien sodat die vroue hulle offers aan die afgode kon bring.

Dan is mens as koning natuurlik
baie verkeerd besig.

Ook al dien jy nie direk daardie
afgode nie, tog stel jy geld beskikbaar vir hulle diens.

Ek onthou ‘n voorbeeld, ‘n aantal
jare gelede, van ‘n Amerikaanse president.

Nie die huidige president van die
VSA nie, maar sy voorganger.

Hy moes besluit of sy regering
organisasies sou subsidieer wat in derde wêreldlande gratis aborsies uitgevoer
het.

Daardie president, wat self ‘n
christen is, het toe die konsekwensie getrek en die geldkraan toegedraai.

Net so moes koning Salomo ook die
konsekwensie getrek het.

Hy moes die geldkraan wat onafgebroke
na sy harem gevloei het, toegedraai het.

Veral by die aansien van soveel
afgodery wat daar bedryf is.

Aan die een kant is dit dus baie
voorstelbaar, dat die volk nie meer slegs positief was oor hulle koning nie.

Mens sou eintlik gehoop het dat
daar ook so ‘n kragtige profeet op Salomo afgekom het, soos die profeet Natan
vir koning Dawid gekonfronteer het.

Maar wie weet, miskien het dit
wel gebeur.

Ek kan my goed voorstel dat
Salomo vele waarskuwings ontvang het van die getroues in die land.

En moenie vergeet nie: God het
persoonlik aan hom verskyn, tot twee keer toe, met sy belofte van seën in geval
Salomo trou bly, maar ook met sy dreiging van straf by ontrou.

Aan die ander kant kies die volk ongelukkig
nou die verkeerde man uit, om hulle stem te wees.

Jerobeam, iemand van wie later
sou blyk dat hy nog verder van God se wet afgedwaal het.

Jerobeam rig namens die volk ‘n
versoek aan die jong Rehabeam, ‘n baie teregte versoek:

U vader het ons juk hard gemaak,
maak u dan nou die harde diens van u vader en sy swaar juk wat hy op ons gelê
het, ligter, dan sal ons u dien.

Minder belastings, dis waarop dit
neerkom.

Rehabeam het drie dae uitstel
gevra om met ‘n antwoord na die volk terug te kom.

Drie dae vir Rehabeam om oorleg
te pleeg en raad in te win.

Nou was Rehabeam iemand wat gelukkig nog toegang tot wyse raad gehad het.

Daar was ’n raad van oudstes, wat altyd vir Salomo van advies gedien het.

Behalwe nou vir sy oordadige luuksheid en sy baie vroue, was Salomo ’n wyse
koning.

En ons kan aanneem dat die raad van oudstes ook baie wys was.

Tussen hakies, die koning in God se volk was nie ’n despoot, iemand wat
alleenheerskappy gehad het en kon doen net wat hy wou nie.

Daar was ‘checks and balances’.

Die raad van oudstes het ook invloed gehad.

Die raad van oudstes het vir Rehabeam die advies gegee om die
belagstingdruk te verlig.

Hulle advies aan hom was: moenie wat dit betref in die voetspore van jou pa
aangaan nie, veral nie in die lig van die huidige spanninge nie.

Hierdie wyse manne het ervaring
gehad met die regering van die land en hoe om met die volk om te gaan.

Deur die praktyk geskool het
hulle geweet dat nie alles in die politiek moontlik is nie.

Daarom was hulle versigtig – wys.

Hulle antwoord aan die jong
koning weerspieël dit ook.

Geagte koning, u moet eers
krediet by die volk opbou.

Wees vriendelik en meelewend met
die volk.

Moenie nou onverwagse dinge doen
nie, dan draai die volk miskien teen u.

U weet mos dat die volk nie meer
onverdeeld agter u pa gestaan het nie.

U begin u koningskap met nie baie
krediet nie, u sal dit self eers moet verdien.

Die wyse manne het goed besef dat
Salomo se oordadige luukse die volk keelvol begin maak het.

Veral die baie geld wat al sy vroue gekos het.

Hoe meer vroue – dit weet ons vandag ook hier in SA – hoe duurder vir die
belastingbetaler.

En die volk slik dit nie vir altyd nie.

Ek het ’n ruk terug ’n filmpie op internet gesien oor die magsoorname in
Ukraïene.

Een van die redes hoekom die Ukraïense volk in opstand gekom het, was omdat
die voormalige president, Yanukovych, in sulke oordadige luukse geleef het.

Hy het verskillende huise reg oor die land besit – eintlik nie huise nie,
maar groot woonkomplekse.

Die BBC verslaggewer het die kyker deur een van die huise, net noord van
Kiev, gelei.

Selfs die krane in die toilet is van goud gemaak.

Die volk
Israel was keelvol vir al Salomo se oordadige luukse.

Vandaar die
wyse raad van die oudstes aan Rehabeam om die belastingdruk te verlig.

Hierdie raad van die ervare
oudstes het egter nie gestrook met die mentaliteit van Rehabeam nie.

Hy was jonk en onervare.

‘n Prins wat opgegroei het sonder
enige binding met die volk, plus nog ‘n groot dosis eiewysheid.

Logies dus dat Rehabeam ook sy vriende wou raadpleeg.

Sy ‘buddies’ wat saam met hom in
hierdie oordadige luukse opgegroei het.

Rehabeam was ’n egte rykmansseuntjie.

Hy slaan die raad van die oudstes in die wind, en vra die opinie van die
jongmans wat saam met hom grootgeword het.

Uit hulle antwoord proe mens die atmosfeer van hierdie vriendegroep, die
milieu waarin hulle beweeg het.

Hulle raad was dat Rehabeam vir die volk moes sê: my pinkie is dikker as my vader se lendene.

Ons Bybel het hierdie vers eintlik baie netjies vertaal.

Want wat in Hebreeus bedoel word, is: my pinkie is dikker as my pa se
geslagsdeel.

Dit was ’n spottende en arrogante opmerking van Rehabeam se vriende.

Die bedoeling is baie duidelik: maak die laste gerus swaarder.

Basta met die volk en met my pa se raadsmanne.

Ek en my pelle gaan doen wat ons wil.

En so het die ryk geskeur.

Sal ons vandag dalk sê: ‘n tipiese ‘Julius Malema-houding’?

Sushi eet, ‘n AMG bestuur, 200 km per uur jaag.

Dit is eintlik skokkend om te sien hoeveel invloed sulke onverantwoordelike
politici kan hê op die loop van ’n land se geskiedenis.

Jerobeam en Rehabeam het, deur hulle totaal onverantwoordelike gedrag, ’n
land in twee geskeur.

As hulle met ‘n bietjie meer wysheid opgetree het, as hulle ’n bietjie
versigtiger was, sou dit voorkom kon geword het.

Rehabeam en sy pelle was ‘n
vriendegroep wat wel, sou ons vandag sê, in die kerk was, wat in God se volk
opgegroei het, maar wat self nie tot bekering gekom het nie.

Hulle het net aan hulleself
gedink.

Dit was vir hulle belaglik dat
Rehabeam ‘n treetjie terug sou moes doen, die belasting bietjie sou moes
verlig.

Moenie ingee onder die druk nie,
Rehabeam.

Sê reguit vir hulle: my pinkie is
dikker as my vader se lendene.

As ons vanaf vers 13 lees, sien
ons dat Rehabeam hierdie laaste nie teenoor die volk herhaal het nie.

Hy het dit waarskynlik nie gedurf
nie.

Maar die opmerking het wel die
sfeer van sy vriendekring getipeer.

‘n Vriendegroep wat gedeel het in
alle welvaart van die verbond, maar wat self nog nie tot bekering gekom het
nie.

Gemeente, hoe vinnig en haas
geruisloos kan afval die kerk binnesluip.

Dat die vlak van gesprekke daal
tot so iets!

Vanaf die kansel, op huisbesoek,
op Bybelstudie klink alles nog goed en vroom.

Maar onder mekaar, in die
vriendekring, is sulke praatjies aan die orde van die dag.

Verbondsafval.

Hierdie soort verbondsontrou
aanvaar die HERE nie.

Selfs nie by ‘n kleinseun van
Dawid nie.

Rehabeam het hierdie woorde nie
teenoor die volk herhaal nie.

Maar hulle was wel in sy
gedagtes.

Want inhoudelik het dit wat hy
wel gesê het, op presies dieselfde neergekom.

Hy het die raad van die oudstes
in die wind geslaan.

Hy het bekend gemaak dat die
belastingdruk nie verlig sou word nie, inteendeel, dit sou nog meer word.

Nou is dit waar dat ‘n volk iets
moet oorhê vir sy koning, vir sy regering.

Respek en die nodige finansiële
middele, sodat hulle hulle taak goed kan uitvoer.

Maar nie ‘n harem met maar liefs
1000 vroue nie.

Of Rehabeam hier mega-harem by sy
pa oorgeneem het, weet ons nie.

Dit is egter nie onmoontlik nie,
aangesien dit die gewoonte was in daardie tyd onder heidense vorste, dat die
troonopvolger die harem oorgeneem het.

Iemand wat tot die vroue in die
koninklike harem genader het, het deur daardie daad eintlik aanspraak op die
troon gemaak.

Mens lees in die volgende
hoofstuk, 2 Kronieke 11:21, dat Rehabeam vir homself ook 18 vroue en 60 byvroue
geneem het.

Of dit die enigstes was, of dat
hy die harem van Salomo ook oorgeneem het, is nie seker nie.

In elk geval was dit in die HERE
se oë alreeds een, ja veel te veel.

Rehabeam het as verbondskind
opgegroei, maar sy hart was nie onverdeeld by die HERE nie.

Ons leer hieruit dat mens nie net
daarop kan afgaan of iemand uit ‘n goeie familie kom nie.

Rehabeam was ‘n kleinseun van
Dawid, die man na God se hart.

Maar dit was geen waarborg nie.

Rehabeam het sy vriendegroep
verkies bo sy pa se wysheid, en bo sy oupa se geloofstrou.

In ons teks, vers 15, vind ons ‘n
baie opvallende uitspraak.

Die skrywer van hierdie
geskiedenis gee vir ons hier die perspektief waarmee ons na al hierdie dinge
moet kyk.

Die skrywer, is soos ons weet
aangevuur deur God die Heilige Gees.

Ons lees: “So het die koning dan
nie na die volk geluister nie, want dit was ‘n beskikking van God, sodat die
HERE sy woord sou vervul wat Hy gespreek het deur die diens van Ahia, die
Siloniet, tot Jerobeam, die seun van Nebat.”

As mens hierdie vers oppervlakkig
lees, klink dit amper asof God nou die skuld kry vir die eiewysheid van
Rehabeam.

Tog is dit ingewikkelder.

Laat ons eers kyk wat die HERE
presies vir Jerobeam gesê het deur die profeet Ahia.

Dit was nog in die tyd toe Salomo
geregeer het.

Salomo het toe al geruime tyd op
die troon gesit, en dit het al hoe duideliker geword dat hy hom aan al hoe meer
afgodery skuldig gemaak het, veral deur sy harem.

Mens kan in die boek Konings lees
dat Salomo op den duur nogal teenstanders gekry het.

Jerobeam was een van hulle.

En dit was hierdie Jerobeam wat
God uitgekies het om sy straf oor koning Salomo te voltrek.

In 1 Konings 11 kan mens lees dat
die profeet Ahia na Jerobeam gekom het, sy mantel in twaalf stukke geskeur het,
en daarna tien stukke vir Jerobeam gegee het.

Ahia het toe namens die HERE
gesê:

“Ek gaan die koninkryk uit die hand
van Salomo afskeur en aan jou die tien stamme gee; ... omdat hulle My verlaat
het en hul neergebuig het voor Astarte, die godin van die Sidoniërs, voor
Kamos, die god van die Moabiete, en voor Milkom, die god van die kinders van
Ammon, en nie gewandel het in my weë deur te doen wat reg is in my oë, naamlik
my insettinge en my verordeninge, soos sy vader Dawid nie.” (1 Kon 11:31-33)

Die HERE het deur sy profeet Ahia
ook ‘n boodskap vir Jerobeam gehad:

“Ek sal jou neem, en jy sal
regeer oor alles wat jou siel begeer, en jy sal koning word oor Israel. En as
jy luister na alles wat Ek jou beveel en wandel in my weë en doen wat reg is in
my oë deur my insettinge en my gebooie te hou, soos my kneg Dawid gedoen het,
dan sal Ek met jou wees en vir jou ‘n bestendige huis stig, soos Ek vir Dawid
gestig het, en Israel aan jou gee. Want Ek wil om hierdie rede die nageslag van
Dawid verneder, maar nie vir altyd nie.” (1 Kon 11:37-39)

As mens hierdie goed lees, blyk
dat God ‘n baie spesiale funksie vir Jerobeam voorbestem het.

Vanweë die afval van Salomo wou
God aan die koningshuis van Dawid ‘n les leer.

Hy wou hulle straf, straf in die
sin dat hulle hulle verkeerde koers sou insien en tot inkeer kom.

Vir hierdie doel het God besluit
om ‘n deel van die koninkryk af te splits en dit aan Jerobeam te gee.

‘n Deel, selfs die grootste deel.

Die huis van Dawid moes naamlik
nie dink dat hulle, danksy God se verbondsbelofte dat daar altyd ‘n nasaat van
hulle op die troon sou bly, dat hulle daarom maar kon doen net wat hulle wou
nie.

Daarom het God die grootste deel
van die volk agter Dawid se huis vandaan weggehaal.

God het vir Jerobeam gesê:

Ek het jou uitgekies as nuwe
regeerder oor die tien-stammeryk.

Jy kry nou van My die geleentheid
om jouself waar te maak.

Ek stel jou as koning aan om vir
die koningshuis van Dawid ‘n spieël voor te hou.

Dis die funksie wat Ek jou gee.

Laat Salomo se nageslag maar goed
besef dat as hulle so aangaan, dinge nie reg sal kom nie.

En wat jouself betref, Jerobeam,
geld dieselfde natuurlik ook.

As jy my Woord eerbiedig, kan jy
seën verwag.

Maar as jy jou eie koers gaan
vaar, kan jy dit maar vergeet.

Jerobeam het nie van God die
toesegging gekry dat sy nageslag altyd op die troon sou sit nie.

God wou Jerobeam slegs gebruik om
aan Dawid se huis ‘n spieël voor te hou.

Om by hulle inkeer te
bewerkstellig.

Sodat hulle eendag weer by mekaar
sou uitkom, en saam die koers sou vaar wat God wys.

Gemeente, hierdie hoofstuk toon
vir ons ‘n wisselwerking tussen God en mense.

God regeer en Hy voer sy planne
uit.

Hy neem mense in diens, vir wie
Hy bepaalde verantwoordelikhede gee.

So het hy aan die dinastie van
Dawid ‘n baie belangrike verantwoordelikheid gegee.

By Salomo en veral ook by
Rehabeam het dit geblyk dat hulle die verantwoordelikheid nie nagekom het nie.

God het egter hierop ingespeel
deur ‘n groot deel van hierdie verantwoordelikheid op Jerobeam oor te dra, met
die doel om langs hierdie weg inkeer te bewerkstellig by Dawid se huis.

Om hulle te suiwer van afval,
hoogmoed en eiewysheid.

Ongelukkig het dinge later tog
weer heel anders verloop.

Dit weet ons uit die verdere
verloop van die geskiedenis van God se volk.

Ook Jerobeam het sy
verantwoordelikheid nie waar gemaak nie.

Ook hy het sy eie koers gekies.

Ook oor hom en sy nageslag moes
helaas die straf kom wat God voorspel het, in geval van ongehoorsaamheid.

En hoe verder mens vorder in die
geskiedenis van die tien- en twee-stammeryk, hoe moeiliker het dit gegaan.

Hoe meer het hulle wat God se weë
afgedwaal.

Tog het God nie moed opgegee nie.

Uiteindelik het Hy hierdie stryd,
hierdie magspel tussen goed en kwaad, tussen gehoorsaamheid en
ongehoorsaamheid, self besleg toe Hy sy eie Seun in die dinasie van Dawid laat
gebore word het.

So het tog die goeie oorwin,
ondanks die ontrou van Dawid se huis.

En danksy God se trou.

Gemeente, vandag sien ons ook die
wisselwerking tussen God se plan van redding en die mense se
verantwoordelikheid.

As een ding duidelik word uit die
geskiedenis van Salomo en Rehabeam en Jerobeam, is dat mense altyd teleurstel.

Dit is net aan God se genade te
danke dat daar in elke generasie tog mense is wat die regte koers bly vaar.

Dit is God se genade dat in elke
eeu die Evangelie bly klink.

Laat ons daarom elke keer weer
teruggaan na God se Woord.

Soms hou God ons ‘n spieël voor,
om ons terug te lei na die basis.

Laat ons nie vergeet nie dat elke
verbondskind ook wedergebore moet word.

As mense soos Rehabeam en sy
vriendegroep getolereer word in die kerk, dan teken daardie kerk sy eie
doodsvonnis.

Laat ons teruggaan na die bron.

Ons ore oopmaak vir die wyse raad
wat tot ons kom uit God se Woord.

Die wyse raad van hulle wat God
op ons pad plaas.

En gemeente, behalwe vir hierdie
ernstige oproep vanoggend, wat elkeen van ons huis toe moet vat, en hierdie
week moet oordink,

behalwe dit gee hierdie hoofstuk
vir ons ook ‘n ryke troos.

Want as mens 1 Konings 12 so lees, en as mens na die koers van ons eie land
se politiek kyk, sou mens soms kon begin twyfel of God wel in beheer is.

Kyk net wat politici aanvang, en hulle kom weg daarmee.

Hulle verwoes ’n land.

Mens sou inderdaad soms wanhopig raak: waar is die HERE?

Aan die ander kant, as jy die hele boek Konings lees, sal jy beslis
agterkom dat die HERE wel alles bestuur.

Hy laat nie alles toe nie.

En wat Hy toelaat om te gebeur, is strawwe op die sondes van sy volk, en
die sondes van die leiers van die volk.

Ons leer dat dit die HERE was wat dit so gelei het dat Jerobeam aan bewind moes
kom.

Die HERE het vir Jerobeam die ruimte gegee om die land te skeur.

God bly in beheer, maar hoe Hy dinge lei, is nie altyd vir ons deursigtig
nie.

Vir onsself as gelowiges is dit soms ‘n stoeiproses om in te sien en om te
aanvaar: waarmee is die HERE eintlik besig.

Wanneer gaan Hy uitkoms gee?

Wanneer gaan hy die onverantwoordelike polici aan die pen ry?

Ons kan onsself afvra: langs watter pad gaan die HERE die geskiedenis van
ons land verder voer?

Is daar droewige tye wat vir ons wag, hier aan die suidpunt van Afrika?

Of sal God toelaat dat dit stadig maar seker beter gaan?

Ons ken nie die toekoms nie.

Ons weet wel dat die HERE sy kerk sal bewaar – die gelowige res, wat by Hom
skuil.

Laat ons dit veral van Hom vra: dat die HERE ook in die toekoms vir sy kerk
ruimte sal gee in hierdie land.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)