Die middele waardeur ons God ken

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-02-01
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 2
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
1 Februarie 2015 AD, 17:30

Voorsang: Ps 143:1,3,4,5,7

Votum

Seën

Ps 119:39

Gebed

Skriflesing: Psalm 19

Ps 19:1-3

Teks: NGB art. 2

Preek

Ps 19:4-6

Gebed

Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 19:7

Seën

Preek: NGB
art. 2

Iemand het ‘n keer vir my gesê:
ek gaan nie elke Sondag meer kerk toe nie, maar ek gaan wiltuin toe.

Ek probeer om so veel as moontlik
naweke weg te breek en in die wiltuin te kom.

In die wiltuin ervaar ek God op
‘n baie intiemer wyse as in die kerk.

In die wiltuin voel ek naby God.

As ek omring is deur die
skepping, kom ek tot rus.

Daar kom vanself ‘n gevoel van
dankbaarheid in my op.

Ek dink dit wat hierdie persoon
gesê het, weerspieel hoe baie mense in ons land vandag hulle geloof beleef.

Dit is hoekom so baie kerke hulle
deure moet sluit, hoekom so min kerke op Sondag nog vol mense sit.

Wat hierdie persoon gesê het, het
baie te make met die onderwerp vir hierdie diens.

Die maniere, die middele waardeur
ons God ken.

Tema: Die
middele waardeur ons God ken

-         
Die skepping, onderhouding en
regering van die wêreld

-         
Die heilige Goddelike Woord

1          Die skepping, onderhouding en regering
van die wêreld

In hierdie artikel van die NGB,
gee Guido de Brès ‘n oorsig van die Skriftuurlike onderwys, en wat hy sê, dink
hy nie self uit nie, maar elke sinsnede baseer hy op die Skrif – sien al die
Skrifverwysings onder aan hierdie artikel.

Die eerste en belangrikste
boodskap uit hierdie artikel is natuurlik die feit DAT ons God kan ken.

Dit is ‘n geweldige boodskap.

In ons tyd, net soos in alle
voorgaande tye, is en was daar altyd mense wat dit ontken het.

Mense wat agnosties is, dit
beteken, wat beweer dat dit nie moontlik is om met sekerheid te sê of daar ‘n
God bestaan nie.

En sê nou Hy bestaan wel, dan is
dit vir ons in elk geval nie moontlik om vasstaande kennis oor hom te verkry
nie.

Daar is ook mense wat nog verder
gaan, ons noem hulle atheïste.

Hulle sê sommer ronduit dat God nie bestaan nie.

Hulle word nog minder gehinder
deur die besef dat hulle menslike verstand eintlik so beperk is, as wat dit by
agnostiese mense die geval is.

Maar, die pragtige boodskap wat
hierdie artikel onderstreep, is dat God bestaan, EN dat ons Hom kan ken.

Hoekom?

Omdat Hy na ons, mense toe gekom
het.

Soos daar in Deuteronomium
30:11-14 staan:

Die stem van die HERE en sy
gebooie en insettinge is “vir jou nie te
swaar nie en is nie ver nie. Dit is nie in die hemel nie, sodat jy moet
sê: Wie sal vir ons na die hemel opklim en dit vir ons gaan haal en ons dit
laat hoor, dat ons dit kan doen? Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat
jy moet sê: Wie sal vir ons na die oorkant van die see oorvaar en dit vir ons
gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen?  Maar baie naby jou
is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen.”

 

Dit staan dus soos ’n paal bo water.

Ons KAN God ken, want God LAAT Hom ken.

nou is dit belangrik om die woordjie wat in
artikel 2 gebruik word “middele” goed te verstaan.

Ons ken Hom deur twee “middele”, staan daar.

‘n “Middel” is eintlik ’n onbelangrike ding.

Uiteindelik gaan dit nie oor die “middel” nie,
maar oor die bron.

Die BRON van ons kennis is God self.

En dit is langs twee weë, twee middele, wat ons
by die bron uitkom.

Die middel is maar net die middel.

Die weg is maar net die pad om by die bron uit
te kom.

Hoekom beklemtoon ek dit?

Sodat ons goed besef dat dit oor God as die BRON
gaan.

Ons aanbid nie die skepping, omdat dit ’n middel
is waardeur ons God ken nie.

Ons aanbid ook nie die bybel, omdat dit ’n
middel is waardeur ons God ken nie.

 

Dan nog iets oor die woord ‘middel’.

Die woordjie dui daarop dat ons God dus nie
DIREK kan ken nie.

Ons kan – in elk geval in hierdie bedeling – nie
oog in oog met Hom staan en Hom ontmoet nie.

Daarvoor is Hy vir ons te heilig, te groot, te
onbegryplik.

Ons kan God nie op ‘n – soos dit genoem word – onmiddelike wyse nie, maar net op ’n
middelike wyse ontmoet.

Hierdie onderskeid mag dalk bietjie
gekompliseerd klink, maar is wel belangrik om te besef.

Dit sal ons beskerm teen skeefgroei.

’n Mens kan, om ’n voorbeeld te noem, nie
aangebore idees oor God hê nie.

’n Mens kan nie, deur byvoorbeeld in homself te
mediteer, tot Godskennis kom nie.

Dit is ’n gewoonte wat mens veral by die
Oosterse godsdienste vind.

Kortweg aangedui as die mistiek.

Deur in jouself, jou eie gedagtes te versink, al
hoe dieper en dieper, sou jy volgens hulle tot volmaakte kennis kon kom, van
jouself, van hierdie wêreld, en selfs van God.

Hierteenoor spreek art. 2 van die NGB die Skrif
na wat sê, ons ken God slegs deur middele,
die twee maniere wat hier genoem word.

 

Die eerste middel, soos dit hier omskryf word,
is die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld.

Hier word drie terme gebruik, wat elkeen op ’n
ander aspek dui.

Eerstens die skepping
van die wêreld.

Dit feit dat God almagtig, die lewende God,
alles gemaak het.

Dat Hy dit so ongelooflik mooi gemaak het.

Dat Hy dit so ongelooflik ingewikkeld geskape
het.

Dat Hy dit so oneindig groot geskape het – dink
aan alle sterre en planete, die sterrestelsels.

Dat Hy dit ook so oneindig klein geskape het –
dink aan mikroskopiese wesentjies.

Dink aan hoe die mens geskape is, tot in die
allerkleinste detail van sy selle, terwyl elke sel hoe klein ook, alreeds so
ingewikkeld is, met sy unieke DNA en genetiese samestelling.

In Psalm 19 sing ons oor die skepping:

Die hemel vertel die eer van God, die uitspansel
verkondig die werk van sy hande.

Dag en nag, son en maan, alle dinge.

Die skepping van die wêreld is voor ons oë soos
’n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, getuig van God se ewige krag
en goddelikheid, soos Paulus sê in Romeine 1:20.

 

Maar die skepping is nie al nie.

Hier word ook genoem: die onderhouding van die wêreld.

Dan dink ons aan God se voorsienigheid.

Hy het nie net lank gelede alles geskape en toe
afstand geneem nie.

Soos mense wat bekend staan as Deïste dit verduidelik: dis soos ’n
wekker wat God opgewen het, en nou loop die horlosie vanself volgens die
natuurwette, en God bemoei hom nie meer nie.

God se voorsienigheid hou in dat Hy elke dag,
elke minuut, alles in stand hou, vir alles sorg.

Hy onderhou dinge.

As ’n man sy motorkar onderhou, beteken dit hy
sorg dat dit op gereelde basis gediens word.

Hy wil nie hê die ding moet breek nie, dus hy
sorg goed daarvoor.

God sorg vir sy
skepping.

Dan dink ons aan groot dinge, soos die feit dat
Hy sonskyn en reën gee op die regte tyd.

Ons kan ook aan klein dingetjies dink, wat net
so belangrik is:

as jy jouself per ongeluk sny en die wond bloei,
dan kom daar ’n korsie op.

Soos ’n juffrou ’n keer gesê het, dis die HERE
se pleister, en dis die beste pleister.

Oor God se voorsienigheid sal mens nooit
uitgepraat kan raak nie, want sy sorg is uit die boonste rakke.

 

Behalwe vir God se skepping en onderhouding,
word daar ook nog sy regering van die
hele wêreld genoem.

Met hierdie woord vat die belydenis saam wat
mens op amper elke bladsy in die Skrif kan lees,

naamlik dat
God die geskiedenis lei.

Hy bestuur alle dinge.

Niks gebeur buite sy wil om nie.

Niks is toevallig nie.

Hy lei jou lewe.

Die manier waarop Josef se lewe gegaan het,
byvoorbeeld, dat hy weggevoer is na Egipte, dat hy daar in die tronk beland
het, dat hy uiteindelik onderkoning in Egipte geword het.

Die manier waarop Ester se lewe gegaan het, dat
sy die koning se vrou geword het met die oog op ’n baie spesifieke tyd en
omstandighede.

Die manier waarop Daniel se lewe gegaan het, en
sy vriende s’n (ek hoef al hierdie geskiedenisse nie te herhaal nie, selfs die
kinders ken hulle).

Niks was toevallig nie.

Dit alles word hier saamgevat met: God se regering van die hele wêreld.

 

Dit is dus, saamgevat, die eerste middel, die
eerste manier, waardeur ons God ken.

Net vir die duidelik, hierdie eerste middel is
dus nie sinoniem aan, byvoorbeeld, wiltuin toe gaan nie.

Dit is baie breër.

Dit gaan nie net oor God se skepping nie, dit
gaan ook oor sy onderhouding.

En die skepping gaan nie net oor plante en diere
nie, maar ook oor mense.

Dit gaan selfs oor God se regering van alle dinge.

Dus hier in die besige stad, vol mense, ja selfs
in die township, ontmoet ons God in sy ewige krag en goddelikheid.

 

(Tema: Die middele waardeur ons
God ken

-         
Die skepping, onderhouding en regering van die wêreld)

 

 

2       Die heilige Goddelike Woord

Ons kom nou by die tweede middel.

Art. 2 noem dit: sy heilige en Goddelike Woord.

Direk word daaraan toegevoeg: God maak Hom
hiermee nog duideliker en meer volkome aan ons bekend.

Is die tweede een dus beter as die eerste een?

Hier is duidelik ’n gradasie, maar hoe moet ons
dit sien?

Dit is goed om in hierdie verband te kyk na die
verhouding tussen die twee middele.

Dit is naamlik nie so dat die een beter is as
die ander een nie.

Dis nie wat hier bedoel word nie.

Dit gaan hier eerder oor ons as mense.

Want ons verstand is verduister.

Ons kyk, by wyse van spreke, skeel.

Met die gevolg dat ons nie goed kan fokus nie.

Ons kan nie meer die skepping suiwer sien nie.

Slegs in die lig van die opbaring deur die
Woord, begin ons fokus.

En word sy grootheid, mag en wysheid, sy goedheid
en geregtigtigheid deur sy skepping onderhouding en regering vir ons duidelik
sigbaar.

 

Die NGB praat oor die eerste en tweede middel,
“ten eerste” en “ten tweede”.

Hierdie is ’n kronologiese volgorde, in die sin
dat die skepping eers daar was en daarna die Woord gekom het.

Dit is wel belangrik om te besef dat vir ons as
mense die volgorde eintlik andersom is.

Eers die Woord, dan die skepping.

Sonder die bril van die Woord, kan niemand die boek van die skepping lees
nie.

Dis nie so dat jy bietjie van God leer uit die
skepping, en dat dit dan aangevul word met die Bybel nie.

As dit so sou wees, dan sou nie-Bybelse
godsdienste dalk ’n bietjie waar wees, vir sover hulle uit die skepping iets
oor God geleer het.

Dan sou hulle bloot minder ontwikkeld wees as
die ware godsdiens.

Maar dit is nie so nie.

Tussen die heidendom, tussen ander godsdienste
en die Bybelse geloof is nie ’n verhouding van minder en meer nie.

Dit is eerder ’n verhouding van leuen teenoor
waarheid.

Sonder die bril van die Woord het geen enkele
mens iets aan die skepping, om by God uit te kom nie.

Dit sal hom nie by God bring nie, dit sal hom
eerder aanleiding gee om afgode te begin uitdink.

Kennis van God uit die skepping is nie
saligmakend nie.

 

Daarom noem die NGB spesifiek: vir ons saligheid
kan ons nie sonder die tweede middel nie.

Die heilige Woord maak God aan ons volkome
bekend, so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is, om te kan lewe tot sy
eer, en om salig te word.

Die Woord, die tweede middel, openbaar aan ons God
se verbondsbeloftes, God se genade met ’n in sonde gevalle mensheid, dit
openbaar aan ons die versoeningswerk van die gekruisigde en opgestane Heiland,
ons Here Jesus Christus.

God se Woord is ’n helder lig op ons lewenspad.

Soos Psalm 119 oor God se Woord sing, “U woord
is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad.” (vers 105)

 

Soos gesê, die bedoeling van die NGB is nie om
te sê dat die een middel beter is as die ander een nie.

Maar, as ons praat in die konteks van die feit
dat ons as mense in sonde geval het, dat ons verstand verduister is.

In hierdie konteks is dit wel so dat die tweede
middel die regte medisyne vir ons is.

In daardie sin is die Woord WEL duideliker, en meer
volkome.

Net die regte medisyne vir ons as mense.

Hierdie is, net om dit weer te beklemtoon, nie
net die mening Guido de Brès wat dit geskryf het nie.

Die enigste bedoeling van die NGB is om die
Skrif na te spreek.

En in die psalm wat ons vandag gelees het, is
dit presies dieselfde boodskap wat tot ons kom.

Psalm 19 word ook onderaan artikel 2 duidelik
vermeld as ’n bewysteks.

Kom ons kyk bietjie nader na hierdie psalm.

NGB art. 2 bestaan uit twee dele, twee middele.

Dit kom uit Psalm 19, wat ook uit twee dele
bestaan, en hierdie middele ook bespreek.

Vers 2-7 sing oor die heerlikheid van God, soos
ons dit in die skepping sien.

Meer spesifiek die hemelliggame, die uitspansel,
son, maan, sterre.

En dan, vers 8-15 sing oor die heerlikheid van
God se wet.

Tussen hakies, wet dui hier nie net op die 10
gebooie nie, maar heel God se openbaring.

Ons sou dus ook kon sê: vers 8-12 sing oor God
se Woord, dit wat NGB art. 2 die tweede middel noem.

Hierdie tweede deel sluit af met ’n persoonlike
oordenking van die digter, wat uitloop op ’n gebed – vers 15.

 

Soos gesê, in vers 2-7 gaan dit oor God se
heerlikheid wat uit die natuur straal.

’n Pragtige loflied oor die son, soos ’n
bruidegom, sy kragtige hitte, die blydskap wat die son bring, die ritme van dag
en nag, as gevolg van die son.

Tog is dit opvallend dat die digter nie die son
aanbid nie.

Die Israeliete was omring deur volke wat die
hemelliggame, son maan en sterre aanbid het.

Nie Psalm 19 nie.

Hierdie psalm is eintlik ’n polemiek teen die
heidendom.

Ja, die digter bewonder ook die grootsheid van
die son, maar hy bewys daaraan nie hemelse eer nie.

Die son bly net ’n boodskapper van die lewende
God.

 

En dan moet daaraan toegevoeg word, die psalm
stop nie by vers 7 nie.

Dis maar net die einde van die eerste deel.

In die tweede deel klink nog ’n groter loflied,
naamlik op die wet, die woord van die HERE.

Die son mag ’n helder lig wees,

MAAR die Here se woord is nog veel helderder.

Die bevele, die gebod van die HERE verlig die oë
(vers 9), nog meer as wat die son doen.

 

Nog ’n vergelyking wat die psalm maak:

Die skepping deel aan ons kennis mee, die nag
kondig kennis aan (vers 3), wysheid is daar in die stil donker nag, ’n tyd wat
mense tot besinning laan bring.

MAAR, dit wat die wet ons leer, gaan alle ander
kennis te bowe.

Die wet van die HERE gee wysheid aan die
eenvoudige (vers 8).

 

En nog ’n vergelyking wat die psalm maak:

Son en maan, dag en nag, is soos ’n meetsnoer,
dit reguleer mense se lewens, dit sorg vir ’n gesonde reëlmaat op aarde (vers
5).

MAAR, die gesonde reëlmaat wat die HERE se
Woord, sy wette, skep in ’n mens se lewe, styg nog ver daarbo uit.

Die vrees van die HERE is rein, die bestaan tot
in ewigheid, die verordeninge van die HERE is waarheid, tesame is hulle
regverdig. (vers 10)

Ja die Woord van die HERE sorg vir ’n regverdige
lewe op aarde.

 

Sien u gemeente, hoe die digter van hierdie
psalm steeds vergelyk, tussen die son en die HERE se wet.

Tussen die skepping en die HERE se Woord.

Dit wat ons in die eerste deel lees, wat op sig
al baie indrukwekkend is, word nog by verre oortref in die tweede deel.

Die digter vergelyk natuurlik met die heidense
volke.

Hy besef die ongelooflike voorreg wat God se
volk het, dat hulle Hom uit sy Woord mag ken.

Dat Hy aan hulle sy wette gegee het.

Geen volk op aarde so bevoorreg as die HERE se
verbondsvolk nie, aan wie Hy sy Woord toevertrou het.

 

Die veel groter rykdom van die wet kom ook nog
in iets anders na vore.

As u u Bybel oopmaak, en dan begin ons by die
eerste deel, vers 2-7:

Soek bietjie hoeveel keer daar in v2-7 na God
verwys word.

En dan gaan ons nou na die tweede deel.

Hoeveel keer word in vers 8-15 na die HERE
verwys.

Inderdaad, die volmaakte getal.

Waar ons God uit die skepping ken – God – sy
algemene naam,

ken ons God nog veel akkurater uit sy Woord, ons
ken Hom as HERE – sy verbondsnaam.

Ja, soos vers
15 sê, my HERE, my rots en my verlosser!

Sy naam HERE sê alles, wie Hy vir ons is, hoe Hy
vir ons is.

 

Ek het die preek begin met die verwysing na ‘n
persoon wat in die naweek liewerste wegbreek wiltuin toe, as om kerk toe te gaan.

Want daar sou hy beter kontak met God hê.

As ons nou die boodskap van hierdie preek op ons
laat inwerk, hoe sou ons so ’n persoon antwoord?

Ja, die skepping is soos ’n pragtige boek.

Maar die feit dat jy so van die skepping kan
geniet, is al klaar te danke aan die feit dat jy God ken uit die Woord.

Anders sou jy beslis nie so van die skepping
geniet het nie.

Dan sou jy eerder vir die skepping bang gewees
het, en al die afgode daarin, soos die heidene.

En as jy jou Verbondsgod wil leer ken, en sy
versoeningswerk in Jesus Christus, is jy tog op die Woordverkondiging
aangewese.

 

Nou besef ek goed, dat iemand so iets gesê het
in ’n bepaalde konteks.

Laat ons eerlik wees, baie mense in ons land is
moeg vir die kerk.

Hulle is moeg vir die alewige gestryery in die
kerk.

Ook word nie in alle kerke die Woord meer suiwer
bedien nie.

 

Om in die kerk gevoed te word met die Woord, is
dit ook belangrik dat ons met die regte houding kerk toe kom.

As jy byvoorbeeld wil geniet van die wiltuin, dan
moet jy ook met die regte houding daarheen gaan.

Kinders kan by wyse van spreke met ’n dik bek in
die kar sit, as pappa en mamma deur die wiltuin ry om na diere te kyk.

Hulle stel nie belang nie, hulle sou eerder in
die kamp bly om te swem, of televisie te kyk...

Dan is jy in die wiltuin met ’n verkeerde
houding, en gaan jy werklik nie van die skepping geniet nie.

Dan kon jy net so wel tuis gebly het.

Ook as ons kerk toe kom, behoort ons met die
regte houding te kom.

Heilbegerig, om ’n ou woord te gebruik.

Hoe sit ons in die kerk?

Sit ons hier net uit gewoonte?

Of sit ons dalk hier net om die dominee te
kontroleer?

Of hy wel reg preek?

Dikwels is dit van ons gesigte af te lees, met
watter houding ons in die kerk sit.

Sê nou maar ’n gaspredikant sou op die
preekstoel staan, en hy kyk die gemeente in, wat sien hy dan?

Sien hy ’n klomp mense wat verveeld voor hulle
uitstaar?

Of sien hy dalk ’n klomp polisiemanne met strak
gesigte, wat soek of hulle kan fout vind?

Of sien hy ’n gemeente wat heilbegerig is?

Dit is die houding waartoe ons opgeroep word in
Psalm 19:

Laat die woorde van my mond, en die oordenking
van my hart, welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my
verlosser. (v15)

Help my, deur u Heilige Gees, om u Woord op sy
waarde te skat.

Verlig my lewenspad, deur u Woord, sodat ek in
my lewe, in u skepping, onderhouding en regering van die wêreld, ook u ewige
krag en goddelikheid sal sien,

en u in alle nederigheid met my lewe sal aanbid.

 

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)