Ons Here Jesus Christus is waaragtige en ewige God

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-03-22
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 10
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
22 Maart 2015 AD, 17:30

Voorsang: Sb 2:1,4,5

Votum

Seën

Sb 25:1,2,3

Gebed

Skriflesing: Mattheüs 26:57-68;
Johannes 20:26-31

Ps 2:4,6

Skriflesing: Hebreërs 1

Ps 45:5,6,16

Teks: Nederlandse
Geloofsbelydenis artikel 10

Preek

Ps 110:1,2,5

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis
(sing)

Kollekte

Sb 8:3,5

Seën

Preek:
Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 10

In hierdie skenk ons aandag aan
wat die Bybel openbaar oor die godheid van die Here Jesus Christus.

Dit is ‘n pragtige onderwerp om
oor te preek.

Wat is nou mooier en
indrukwekkender as dit?

Tog sal ons sien dat hierdie feit
deur sommiges ontken word.

En ons gaan ook kyk na die
implikasie op ons lewe – die implikasie van die feit dat Jesus ware en ewige
God is.

Tema: Ons
Here Jesus Christus is waaragtige en ewige God.

Die Bybel noem Hom die eniggebore
Seun van God.

Hierdie woord word in die Bybel
gebruik om aan ons, mense wat maar ‘n beperkte verstand het, enigsins te
verduidelik wat die besondere verhouding is tussen hierdie twee persone in die
Drieëenheid: Vader en Seun.

Die term eniggebore beteken nie
dat die Seun nie ewig is nie.

Die Seun is ook God van ewigheid
af.

Die term dui wel daarop dat daar
‘n gesagsverhouding is.

Hoewel altwee gelykwaardig God
is, staan die Vader bo die Seun, die Seun is aan die Vader onderworpe.

Verder word hierdie term –
eniggebore – ook in die Bybel gebruik om die onderskeid aan te dui tussen hoe
Christus Seun van God is, en hoe ons kinders van God is.

Hy is die natuurlike Seun van
God, ons is aangenome kinders van God.

Hy is die ongeskape Seun van God,
ons is geskape kinders van God.

Dit is dus, in kort, die manier
waarop ons hierdie woord ‘eniggebore’ moet verstaan en gebruik, in navolging
van die Skrif.

NGB art. 10 haal ‘n paar
Bybeltekste aan.

Verder staan daar onderaan
hierdie artikel nog ‘n veelheid aan Bybeltekste.

Elke teks wat genoem word, staan natuurlik
in sy eie konteks in die betrokke Bybelboek.

Tog openbaar almal aan ons iets oor
die godheid van Christus.

Al die Bybelboeke saam bring vir
ons ‘n eenstemmige boodskap as dit gaan oor Christus. Naamlik dat Hy ewig God
is.

Dis nie so dat in die een
Bybelboek Christus as God beskryf word, en in ‘n ander Bybelboek Christus net
as mens beskryf word nie.

Daar is volledige eenstemmigheid
wat dit betref.

Ons Here Jesus Christus is
waaragtige en ewige God, soos ons tema sê.

Ons kan die veelheid aan
Skrifgedeeltes – want behalwe vir die wat hier onderaan artikel 10 genoem word,
is daar natuurlik nog soveel meer verse in al die Bybelboeke wat oor ons
Heiland handel – al hierdie Skrifgetuienis oor Christus se godheid kan ons in
vier hoofgroepe verdeel.

Ek noem eers die vier groepe, en
dan gaan ons na elkeen afsonderlik kyk.

Eerstens is daar die tekste wat Goddelike name aan Christus gee.

Tweedens is daar die tekste wat
die Goddelike eienskappe van Christus
beskryf.

Derdens is daar die tekste wat Goddelike eer aan Christus toeken.

En vierdens is daar die tekste
wat die Goddelike werke van Christus
beskryf.

1          Christus het Goddelike name

Kom ons begin by die eerste:
Christus het Goddelike name.

In 1 Johannes 1:1 word Jesus die
Woord van die lewe genoem.

En in Johannes 1:1 sê die
evangelis, as Hy oor Jesus skryf: in die begin was die Woord, en die Woord was
God.

In Johannes 20:28 lees ons hoe
Thomas oor die opgestane Here Jesus bely: My Here en my God.

Dit staan nie net daar as Thomas
se mening nie.

Dit is opgeteken deur die
evangelis as synde die waarheid.

In Romeine 9:5 skryf Paulus oor
Christus: Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid!

In Openbaring 1:5 word Christus
die Owerste oor die konings van die aarde genoem.

Hierdie is alles name en titels
wat ‘n mens nie toekom nie, hoe magtig of voorbeeldig ‘n mens ook mag wees.

Hierdie name dui op die Goddelike
identiteit van ons Heiland.

Christus het inderdaad Goddelike
name.

2          Christus het Goddelike eienskappe

In Johannes 8:58 sê die Here
Jesus self: “Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek.”

Op daardie stadium was Abraham al
twee duisend jaar gelede oorlede.

As Jesus net ‘n mens was, sou Hy
dit nie kon gesê het nie.

Dan sou Hy die mense om die bos
gelei het met so ‘n uitspraak.

Maar nee, Jesus praat die
waarheid, Hy skaam Homself nie vir die feit wie Hy is nie.

Ons het hierbo al verwys na
Johannes 1:1, wat ook op Christus se ewigheid dui:

“In die begin was die Woord en
die Woord was by God...”

Ook in Openbaring 1:8 wys
Christus self op sy ewigheid as Hy sê:

“Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die
einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom”

’n Mens is nie van ewigheid af nie, net God is.

Christus is ewig, dit is ’n Goddelike eienskap
wat Hy het.

Ook noem Hy Homself in Openbaring 1 “die
Almagtige.” 

Almagtig, dit is ook uit en uit ’n Goddelike
eienskap.
3          Christus ontvang Goddelike eer

In Mattheüs
28:19 gee Christus self die opdrag om alle bekeerdes te doop in die Naam van
die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Om in iemand
se naam gedoop te word, dit is ’n eer wat slegs God toekom.

Die Seun is
hier gelykwaardig aan die Vader, en as mens die betekenis van die doop in
gedagte hou, naamlik dat dit God se verbond verseël, ’n waarborg dat God sy
beloftes sal waarmaak in die toekoms, dan is dit ’n waarborg wat slegs iemand
wat God is, kan gee.

Goddelike
eer aan Jesus spreek ook uit Johannes 14:1.

Daar sê die
Here Jesus aan sy dissipels: “Glo in God, glo ook in My.”

Om in iemand te glo, dit is dieselfde as om
iemand as God te vereer.

In ons
alledaagse spraakgebruik sê ons soms: glo my, ek praat die waarheid.

Dit is iets
anders, ons bedoel: jy kan my vertrou dat ek nie jok nie.

Maar om in iemand te glo is iets anders.

Geloof, soos
die Kategismus dit saamvat, is ’n sekere kennis en ’n vaste vertroue in Iemand, wat jou kan red van die dood,
wat jou sondes kan vergewe, wat jou die ewige lewe kan skenk.

Om in iemand te glo, is om aan daardie
persoon Goddelike eer te bewys.

Die Here
Jesus roep sy dissipels op om in Hom te glo.

Hy laat geen
enkele onduidelikheid daaroor bestaan dat Hy ook God is nie.

Hy verdien
Goddelike eer.

Mense moet
in sy Naam gedoop word, en mense moet in Hom glo.

 

Verder lees
ons in Filippense 2:9-10 oor die Here Jesus: “Daarom het God Hom ook uitermate
verhoog en Hom ’n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus
sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat
onder die aarde is.”

Om voor
iemand in aanbidding te buig, is ook ’n eer wat slegs God toekom.

Hier is ’n
duidelike onderskeid tussen Jesus en sy apostels.

Hoewel die
apostels spesiale gawes van genesing ontvang het, het dit nog nie van hulle
gode gemaak nie.

In Listre
het Paulus en Barnabas ’n kreupel man wonderbaarlik genees.

Die inwoners
van die stad was so onder die indruk dat hulle uitgeroep het: “Die gode het
soos mense geword en neergedaal na ons toe.” (Hand 14:11)

Hulle wou
toe net daar en dan vir Paulus en Barnabas begin offer – ’n handeling van
Goddelike eerbewys.

Paulus en
Barnabas het egter onder hulle ingespring om dit te verhoed, en Paulus het
geroep: “Ons is net sulke mense soos julle...”

Daarenteen,
as mense voor Jesus gekniel en Hom aanbid het, het Hy hulle nie gekeer nie.

Dink maar
aan Thomas, hoe Hy die opgestane Jesus aanbid het.

En dink aan
hoe Maria Magdalena en die ander Maria, na Jesus se opstanding en verskyning
aan hulle, sy voete gegryp het en Hom aanbid het.

Die Here
Jesus het dit toegelaat, Hy’t nie gekeer dat mense dit doen nie.

 

Een van die
duidelikste voorbeelde van die Goddelike eer wat Jesus waardig is, vind ons in
sy eie getuienis voor die Joodse Raad.

Nadat daar
’n aantal valse getuies was, wat allerhande verdraaide stories vertel het en
daar geen wettige aanklag gevind kon word nie, het die hoëpriester reguit vir
Jesus gevra wie Hy dink Hy is.

Jesus het
toe duidelik geantwoord:

“Van nou af
sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en
kom op die wolke van die hemel.” (Mattheüs 26:64)

Dit het Hy
gesê nadat Hy bevestigend geantwoord het op die vraag of Hy die Seun van God
is.

Om aan die
regterhand van God te sit, dit is ’n eer wat geen skepsel toekom nie.

Die
hoëpriester se reaksie op hierdie antwoord was dat hy sy klere geskeur het en
Jesus dadelik van Godslastering beskuldig het.

En tereg, as
Jesus net ’n mens sou wees.

Want niemand
mag homself daardie Goddelike eer toeëien om aan God se regterhand te sit nie.

Maar Jesus
het dit gedoen, omdat Hy self God is, en Hy daardie Goddelike eer dubbel en
dwars verdien.

 

Christus
ontvang Goddelike eer.

Dit is wat
duidelik uit die Skrif blyk.

Mense word
in sy Naam gedoop.

Mense glo in Hom.

Mense aanbid
Hom.

Hy sit aan
die regterhand van God die Vader.

 

En dan, in die vierde plek: Jesus
verrig Goddelike werke.

 

4          Die Skrif beskryf die Goddelike werke
wat Jesus verrig

Ons het al eerder na Johannes 1
verwys, in verband met Jesus wat Goddelike name besit.

Maar hierdie hoofstuk noem ook
die feit dat alle dinge deur die Woord, wat in die begin by God was, ontstaan
het, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.

Christus was dus aktief betrokke
by die skepping van hemel en aarde.

Dit staan ook so in Hebreërs:
deur die Seun het God die wêreld gemaak (Hebr 1:1).

Om te skep, dit is natuurlik uit
en uit ‘n Goddelike werk.

Ons praat dan nie oor skep in die
sin van hoe ‘n kunstenaar ‘n kunswerk skep nie.

Ons praat hier oor dat daar uit
niks geskape word.

God roep net, en dit ontstaan.

 

Nog ‘n Goddelike werk is om
iemand te kan seën.

‘n Mens kan nie iemand in sy eie
naam seën nie.

Dit is van weinig betekenis.

Maar as ‘n mens iemand in God se
Naam seën, is dit veelseggend.

Want God se Naam staan vir al sy
wonderdade wat Hy verrig het in die verlede en nog steeds.

God se Naam staan vir sy
Goddelike werke.

In die Ou Testament mog die
hoëpriester die volk seën in die Naam van die HERE, sy verbondsnaam.

Ons ken daardie seën – uit Numeri
6 – ons gebruik dit vandag nog steeds.

“Die HERE sal jou seën en jou
behoed, die HERE sal sy aangesig...” ensovoorts.

In die Nuwe Testament vind ons
dat die apostels die gemeente seën, ook in die Naam van God.

Maar wat dan so opvallend is, is
dat ons dan nie net die Naam van God die Vader hoor nie, maar ook van God die
Seun, en van die Heilige Gees.

Dink aan die seën wat u ontvang
het aan die begin van hierdie erediens: Genade, barmhartigheid en vrede sy u
van God onse Vader en van die Here Jesus Christus.

Dink aan die seën uit 2
Korinthiërs 13:13 – waar elke Persoon van die Drieëenheid genoem word.

Die feit dat die Heiland se Naam
hier langs God die Vader staan, is ‘n bewys dat Hy ook God is.

Om met jou eie naam te kan seën,
is iets goddeliks.

 

Nog ‘n Goddelike werk is dat
Christus heers oor alles.

Christus sê dit self, net voor sy
hemelvaart: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.

Sê nou maar Jesus was maar net ‘n
mens, soos ons, en Hy sou dit gesê
het: alle mag in die hemel en op aarde is aan my gegee.

Wat sou jy van so ‘n mens dink?

Ek sou dink hy’s getik, ek sou
dink hy’t ‘n afwyking, dalk is hy ‘n schizofreen.

Ek sou dink hy het ‘n baie rare
grootheidswaansin.

Liturgie: 

(kyk in preek)