Die bloed van Christus reinig ons van alle sonde

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-12-07
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 51
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 7 Desember
2014 AD, 17:30 (nagmaal)

Voorsang: Ps 87:1,4,5

Votum: sing
Ps 121:1
Seën

Ps 51:1,3

Nagmaalsformulier
(p.25)

Gebed

Ps 32:1,2
(tafel in gereedheid)

1e
tafel: Lofverheffing & Gebed; Sb 28:1,3

Skriflesing:
1 Johannes 1:1-2:2

Ps 32:5

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 51

Preek

Ps 107:1

Gebed

Geloofsbelydenis
(Nicea)

Ps 107:3

Kollekte

Ps 32:3,6

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 51

Ons mog
vandag nagmaal vier.

Dit het
natuurlik alles te make met vergewing van skulde, waaroor Sondag 51 handel.

As gevolg
van ons sondige aard, leer die Here Jesus ons om elke dag te bid:

Vergeef ons
ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe.

Tema: Die bloed van Christus reinig ons van alle sonde

1 ’n Noodsaak

2 ’n Voorwaarde    

1 ’n Noodsaak

In die
nagmaalsformulier staan:

Christus
voed en verkwik ons siele met sy gekruisigde liggaam en uitgestorte bloed.

Wat die
bloed van Christus doen, het ons gelees in 1 Johannes 1:7:

“die bloed
van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.”

Nou is dit
so dat, toe die Here Jesus die Onse Vader vir sy dissipels geleer het, Hy nie
sy eie naam in hierdie gebed opgeneem het nie.

Iets soos:
vergeef ons ons skulde in Jesus se naam, net soos ons ons skuldenaars vergewe.

Wel is dit
heeltemal korrek dat die Kategismus dit tog so uitlê:

“Wil ons,
arme sondaars, al ons misdade... nie toereken nie ter wille van die bloed van Christus

Christus het
naamlik op baie plekke in die Nuwe Testament wel geleer:

Wie
vergewing vra in MY NAAM, sal dit van die Vader ontvang.

Christus het
self ook dikwels mense hulle sondes vergewe.

Hy kon dit
slegs doen, omdat Hy geweet het dat sy bloed kragtig genoeg daarvoor was.

Al die bloed
van bokke en stiere was net voorafskaduwings.

Om die mense
te bly herinner, dat ooit ’n keer of hulle eie bloed sal moet vloei, of dat die
bloed van ’n plaasvervanger, ’n middelaar, sal moet vloei.

En toe Jesus
as Middelaar gekom het, het Hy dit by sy dissipels ingehamer:

Net soos wat
julle voortaan elke dag gaan bid vir jou daaglikse brood, so moet julle ook
elke dag bid vir vergewing van sonde.

 

As mens
Mattheüs 6 lees, waar Jesus sy dissipels die Onse Vader leer, is dit duidelik
dat juis hierdie bede op daardie stadium die onderwerp van gesprek was.

Nadat Jesus
die Onse Vader vir hulle geleer het, het Hy spesiaal daarby gevoeg:

“Want as
julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook
vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle
Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.”

Hy stel ’n
voorwaarde.

’n Bietjie
later in die tweede punt sal ons verder op hierdie voorwaarde ingaan.

In elk geval
is dit duidelik dat die dissipels, en ek en jy dus ook, nie te veel van onsself
moet dink nie.

Neem
byvoorbeeld die dissipels.

Hoe dikwels
het hulle nie onder mekaar getwis nie, wie die belangrikste in die koninkryk
van God sou wees.

Neem
byvoorbeeld die apostel Johannes, wat hierdie brief geskrywe het waaruit ons
gelees het.

Uit die
evangelies is dit nie moeilik nie om ’n hele lys te maak van sondes wat
Johannes begaan het nie.

Gelukkig erken
Johannes dit ook van homself.

Want hy
skryf in hierdie brief:

“As ons sê
dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons
nie.” (vers 8)

Of vers 10:
“As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ’n leuenaar en is
sy woord nie in ons nie.”

Nie dat
Johannes, noudat hy wedergebore is, geen sondes meer doen nie.

Maar nou
sien en erken hy dit ook, terwyl die sondebesef by hom vroeër ontbreek het.

Maar nou
sien hy die noodsaak in van hierdie daaglikse bede:

Vergewe ons
ons skulde.

Was ons met
die bloed van Christus.

En hy erken,
net soos Paulus oor homself erken het:

Ek ellendige
mens, wie sal my verlos. Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?

 

Dit bring
ons by ’n volgende uitdrukking wat die Kategismus gebruik.

In Sondag 51
staan:

“Wil ons,
arme sondaars...”

Arme
sondaars.

Hierdie
uitdrukking is eintlik te swak.

So amper
asof ons nie kan help dat ons is soos ons is nie.

Ag, arme sondaars...

Asof ons mense
is om jammer te kry, om medelye mee te hê.

Maar in die
oorspronklike Latynse teks van die Kategismus staan:

Allerellendigste sondaars.

Ons is nie
mense om jammer te kry nie.

Inteendeel, ons
is opstandig teenoor God.

Mense wat
baie goed weet wat hulle doen.

Mense wat
nie arm is nie, maar ryk.

Wat baie
talente het, wat ’n volle verstand van God ontvang het.

En wat met
al hulle ryke gawes en moontlikhede teen God in opstand gekom het.

Ons is nie
soos ’n straatkind sonder ouers wat ’n mens kan jammerkry nie.

Maar ons is
opstandelinge, ons is terroriste.

Tipes soos
Ben Laden, of Saddam Husein, of Gadaffi...

Met al ons
talente en kapitaal kies ons bewus vir die kwaad.

En so noem
die Kategismus ons tereg allerellendige sondaars, opstandelinge.

Dit is u
ook.

Dit is ek
ook.

En as ons
deur God se Gees wedergebore word – net tussen hakies: wedergeboorte is nie ’n
outomatisme nie – in die kerk net so min as daarbuite –

ook na
wedergeboorte bly die vyfde bede van die Onse Vader elke dag vir ons
noodsaaklik.

Soos ons van
Johannes kan leer:

As ons
beweer, dat ons geen sondes het nie, mislei ons onsself.

Maar elkeen
wat die reinigende werking van Christus se bloed leer ken het, begin sy eie
sondigheid besef.

Voel wat dit
is om regtig skoon te wees.

En sien raak
hoe hy elke dag weer vuil word met sondes.

Daardie
gevoel laat ons elke dag, as ons weer vuil geword het, verlang.

En laat ons
dus bid:

Wil my al my
misdade nie toereken nie, ook nie die boosheid wat ons altyd aankleef nie.

 

Op televisie
sien mens soms ’n advertensie van waspoeier vir ’n wasmasjien.

Die een dame
vertel vir ’n ander hoe skoon haal klere word, en hoe mooi die kleure bly.

Die beste
advertensie is van mond tot mond.

Die TV maak
daarvan gebruik.

Ook vir die
Christelike geloof geld hierdie wet:

Die beste
advertensie is van mond tot mond.

Vertel vir
die mense dat niks beter reinig as die bloed van Christus nie.

En ander
mense sal jou glo, as hulle sien dat jy elke dag self daarvan gebruik maak.

As hulle
sien dat jy elke dag bid:

Vergeef ons
ons skulde.

Vergewe my
my sondes.

Ek vra dit
met ’n beroep op Jesus se bloed.

 

Hierdie bede
bly noodsaaklik ook vir elke kerkmens, al word hy honderd.

Elke dag
moet ons vergewing vra.

En hierdie
bede is noodsaaklik ook vir almal wat nog onbekeer is, wat nog in hulle sondes
lewe.

Ja dit is ’n
noodsaak.

 

 

 (Die bloed van Christus reinig ons van alle
sonde

1 ’n
Noodsaak)

 

 

2 ’n Voorwaarde

Ek het
nounet al genoem, dat die Here Jesus hierdie vyfde bede spesiaal toegelig het,
juis toe Hy die Onse Vader vir sy dissipels geleer het.

“Want as
julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook
vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle
Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.”

Mattheüs 6.

Die Here
Jesus stel hier ’n voorwaarde.

Hierdie
voorwaarde herinner daaraan dat sonde nie in die eerste plek die oortreding van
’n reël is nie, maar die breek van ’n band.

Wie sondig,
verbreek die band met sy Skepper.

Sonde is
opstand teen jou Skepper.

En in die
verlengde daarvan:

Sonde teen
jou medemens is nie die oorteding van ’n reël nie, maar die verbreek van ’n
band, van ’n verhouding.

Die Bybel
leer ons dat sonde primêr en in wese bondsbreuk is.

Ook in die
kerk moet ons die belang hiervan bly besef.

Dit gaan in
die kerk nie eerstens oor reëls wat gehandhaaf word nie, maar oor verhoudings
wat gehandhaaf word.

Reëls is
juis bedoel om verhoudings gesond te hou, en nie andersom nie.

Wie kla dat
’n ander die reëls van die kerk verbreek, maar self nie moeite doen om
verhoudings te herstel nie, sit dalk met ’n balk in sy oog, terwyl die een wat
die reël breek, ’n splinter het.

’n
Voorwaarde wat die Here Jesus stel, om te sien of ons werklik berou het oor ons
sonde, oor die bondsbreuk, is of jy bereid is om nie net vir God nie, maar ook
vir jou naaste vergewing te vra.

 

Wanneer laas
het jy vir iemand vergewing gevra?

Juis daaruit
blyk dat jy wedergebore is.

Vergewing
vra veroorsaak dat die band herstel word.

Die Here
Jesus Christus ken elkeen van ons.

Hoe u is.

Dat dit vir
ons nie so moeilik is om by God vergewing te vra nie.

Maar dat dit
vir ons veel en veel moeiliker is om vir mekaar vergewing te vra, en waar van toepassing, te skenk.

Die Here
Jesus weet dat ons liewerste iemand vermy as wat ons die saak oplos.

Christus is
hieroor baie radikaal:

As dit die
geval is, dan help dit nie dat jy by God vergewing vra nie.

Dan hoef jy
nie van God se kant vergifnis te verwag nie.

“as julle
die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge
ook nie vergewe nie.”

Hoe mooi is
dit dan as die omgekeerde by mense sigbaar word, as hulle hierdie waarheid

begin besef,
soms eers na jare: die wonder van vergewing.

 

Die
lewenshouding om nie steeds bande te verbreek nie, maar om daarop uit te wees
om bande te herstel, met God en met mense.

Hierdie
houding spreek so mooi uit 1 Johannes 2:2:

“Hy is ’n
versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir die van
die hele wêreld.”

Dit is die
houding wat ons mag uitstraal.

Ons mog die vergewing
van Christus proe.

Ons weet uit
ervaring hoe skoon die bloed van Christus was.

Dit moet ons
nou ook voorhou en voorleef aan hierdie in sonde verlore wêreld.

Want ons
begeer dat elke sondaar, wat bondsbreuk gepleeg het, se band met sy Skepper en
met sy medemens weer herstel word.

Ons wys die
wêreld daarop: daar is reiniging moontlik: kom en laat jou reinig!

Herstel die
band met jou Skepper, herstel die band met elke medemens van jou.

Kom en stap
die pad wat Jesus wys.

Van ons kan
wil ons geen enkele hindernisse vir mense in die weg lê nie.

Van ons kant
is dit ons voorneme om in harmonie met elke mens te lewe.

Hierdie
houding verwoord die Kategismus op ’n mooi manier:

soos ons ook
hierdie bewys van u genade in ons vind: dat ons die ernstige voorneme het om
ons naaste van harte te vergewe.”

Wat die
Kategismus probeer sê is dat so ’n houding te danke is aan God se genade.

 

Geliefde
gemeente, elke broer en suster, sal ons, noudat ons vandag nagmaal gevier het,
en ook nou hierdie boodskap ontvang het, sal ons met hierdie houding die nuwe
week ingaan?

Hierdie
houding is so belangrik.

Ons het die
daaglikse reiniging met die bloed van Christus nodig.

En dit gee
ons die krag om ook vir mekaar vergewing te vra en te skenk.

Kom ons neem
dit ook saam as ’n voorneme die nuwe jaar in.

As in die
nuwe jaar ’n ampsdraer weer by u op besoek kom, dat u nie kla oor ander mense nie,
maar dat u kyk wie daar is wat nog ’n skuldbelydenis van u uitstaande het, en
hoe u uit u pad kan gaan om gebroke band weer te herstel.

As dit ons
fokus is, kom ons in ’n energiewekkende kringloop as gemeente.

Beter gesê: dan
is die Heilige Gees aktief in ons midde.

 

Amen.

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)