Christus leer ons in sy Woord wat steel is

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-08-17
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 42
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 17 Augustus 2014 AD, 17:30 (nagmaal)

Voorsang: Ps
106:1,6,7,8,9

Votum

Seën

Ps 96:6

Gebed

Nagmaalsviering

-         
Lees kort formulier

-         
Sb 17:1 (tafel in gereedheid)

-         
Aan tafel: Danksegging; Sb 17:2

-         
Gebed

Skriflesing:     Levitikus 19:9-16

                        Levitikus 25:35-55

Ps 15:1,5

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 42

Preek

Ps 17:1,2

Gebed

Apostoliese
Geloofsbelydenis: sing

Kollekte

Ps
112:1,3,5,9

Seën

Preek: 8e gebod (Heidelbergse Kategismus Sondag 42)

Ontelbare
bakleierye tussen mense het al oor besit ontstaan.

En solank
die in sonde gevalle mensheid nog sal bestaan, sal dit wel voortduur.

Van klein
kinders wat baklei oor wie se speelgoed iets is,

tot
konflikte tussen lande en wêreldmagte oor ’n stuk grond.

Rusland het
’n aantal dekades gelede die Krim aan Ukraïene gegee, en nou het hulle dit weer
teruggevat.

En ons weet
maar al te goed tot hoeveel spanning en konflik gronddispute in ons land lei.

In die
verlede het blankes grond onregmatig hulleself toegeëien.

En nou
gebeur dit weer andersom.

Besit,
regmatige besit, wat is dit eintlik?

Wanneer moet
mens iets ‘steel’ noem?

Hoe is dit
moontlik om hieroor eenstemmigheid te bereik?

Laat ons met
hierdie laaste vraag begin.

Ja, dit is
moontlik om eenstemmigheid te kry, ten minste onder hulle wat bereid is om te
luister na die eintlike Besitter van alle dinge.

God, wat
alles geskape het.

Wat as
Skepper heers oor hemel en aarde.

En Christus
Jesus, wat deur sy Gees besig is om hierdie aarde wat onder die sonde gebuk
gaan, te herskep.

Na Christus se
gebod mag ons vanmiddag luister: Jy mag nie steel nie.

Tema: Christus leer ons in sy Woord wat steel is

As jy ’n
meningsopname onder mense sou doen oor wat diefstal is, sal jy uiteenlopende
antwoorde kry.

Ons
voorouers het slawe aangehou en onderdruk, en dit goedgepraat.

Ministers
vandag gebruik owerheidsgeld vir privaatdoeleindes en het redenasies om skotvry
te bly.

Groot
besighede vervaardig produkte in arm lande waar arbeidsomstandighede beroerd
is.

En almal het
wel een of ander redenering om die gewete gerus te stel.

 

Wat is steel
eintlik?

Dis wel
duidelik, as mense onderling sal ons nie eenstemmigheid hieroor bereik nie.

Elkeen praat
soos hyself reg klink.

Elkeen
bevoordeel homself.

Juis daarom
is dit so nodig dat ons na God moet luister, en wat Hy sê.

Hy staan bo
die belange van mense.

Alle
skepsels, klein en groot is sy eiendom.

En vir ons
as gelowiges geld dit des te meer, dat ons die kosbare besit is, met liggaam en
siel, van ons troue Saligmaker.

 

Sondag 42
vestig die aandag dan ook op God en wat sy wil is.

Wat Hy ons
in sy Woord openbaar.

Ons lees:

God verbied
nie alleen dié diefstal en roof wat deur die owerheid gestraf word nie, maar Hy
noem ook diefstal...

En dan volg
daar ‘n hele klomp aanwysings.

Dit is dus
die eerste en belangrikste vir ons om te besef.

As jy ’n
houding het van: slegs die dinge waarvoor daar ’n goeie kans is dat ek gestraf
sal word, dit doen ek nie...

As jy so ’n
houding het, het jy die 8e gebod nog nie begryp nie.

Want dan
draai jou lewe nog om jouself, en om jou eie belang.

En daarom
dat die Kategismus, in navolging van die Bybel, baie meer dinge diefstal noem.

Ook dinge
waarvoor die owerheid jou nie sal straf nie.

Vir Christus
is woeker ook diefstal, en hebsug, en selfs die verkeerde gebruik van jou
besit.

Want, jy behoort
aan Christus, en so ook hierdie hele aarde.

Jy is as
mens net rentmeester in sy diens.

Christus wil
ons dus leer dat ons ’n ander houding aanneem teenoor ons besit.

Om
rentmeester te wees beteken dat jy respek het vir die eintlike Eienaar.

Hy bepaal wat
diefstal is en wat nie.

Ons eie
regsgevoel is nie die maatstaf nie.

Ook nie die
owerheid nie.

Maar sy
Woord.

 

Uit God se
Woord het ons twee gedeeltes gelees wat hieroor handel.

Waaruit ons
meer leer oor wat steel is aan die een kant, en wat die goeie gebruik van besit
is aan die ander kant.

Kom ons
begin met Levitikus 19(:13):

“Jy mag jou
naaste nie verdruk of beroof nie. Die dagloner se loon mag by jou nie tot die
môre bly nie.”

Hierdie
gebod gee God aan Israel, kort na hulle uittog uit Egipte.

Daar was
hulle slawe gewees.

As slawe in
Egipte het hulle ervaar hoe wreed mense teenoor mekaar kan wees.

Hulle het
geen dagloon gekry nie.

Hulle moes
werk in die bloedhete son.

En ook in
die gloeiende hitte van die oonde om bakstene te bak.

Reken maar
dat die sterftesyfer onder die manne hoog was.

Dit nog
afgesien van die babaseuntjies wat Farao laat verdrink het.

Die
Israeliete se bevryding uit Egipte het ’n groot verandering in hulle
lewensomstandighede beteken.

Met die 8e
gebod sê die Verbondsgod nou vir sy volk:

Dit mag
nooit weer gebeur nie.

Wat die
Egiptenare julle aangedoen het, mag julle nie mekaar aandoen nie, en ook nie
aan ander mense nie.

Ook as ’n
dagloner by jou werk, en hy is nie ’n Israeliet nie, dan moet hy saans huis toe
kan gaan met sy dagloon.

Die
ekonomiese en maatskaplike lewe het toe anders gelyk.

Dit was baie
meer ’n ekonomie van dag tot dag.

Mense het
nie geld in die bank gehad nie.

Mense het
kos gekoop net vir die volgende dag.

Daar was nie
yskaste nie.

Kos soos
melk, groente en vleis kon nie so lank bewaar word nie.

Maar goed,
’n dagloner moes dus saans huis toe kon gaan met sy salaris,

sodat sy
gesin die volgende dag kon eet.

Daarom het
die Here hierdie wet uitgevaardig.

Die dagloner
se loon mag by jou nie tot die môre toe bly nie.

 

Vandag kry
baie mense hulle salaris een keer per maand, en dit op hulle bankrekening.

Maar die
beginsel van hierdie wet geld vandag nog steeds.

’n Werkgewer
mag geen agterstallige salarisse of gelde aan sy werknemer skuldig wees nie.

Uiteraard
geld dit nog veel meer vir ’n christen, wat so goed deur Christus versorg word.

Dat jy ruim
op tyd, eerlik en met liefde jou werknemers uitbetaal.

Vir ’n
christen mag daar geen sprake van wees dat daar dwang aan te pas moet kom nie.

Waar ’n
christen werkgewer hierdie Bybelse uitgangspunt eerbiedig, kry ’n vakbond
moeilik voet aan die grond.

So gaan ons
met mekaar om.

God het
Israel nie uit die slawerny van Egipte verlos, sodat hulle – eenmaal in Kanaän
aangekom – van mekaar slawe sou maak nie.

En Christus
het ons nie verlos, sodat ons nou oneerlik met mekaar sou omgaan nie, en elkeen
net aan sy eie belange sou dink nie.

 

Ons het uit
Levitikus 25 gelees dat as iemand verarm het, gevou het finansieel gesproke, ’n
mens moes help sonder om woekerrente te vra.

Dit is
bekend dat in die oud-Oosterse wêreld dit heel gewoon was om by terugbetaling
die dubbele te eis.

Geen wonder
dat baie mense tot slawerny verval het nie.

Vandag ken
ons ook in ons land woekerrente, die sg. ‘loansharks’, of African Bank.

Maar sulke
liefdeloosheid het die Here nie geduld nie.

Selfs die
vreemdeling het sy regte gehad.

Ook ’n
vreemdeling het reg gehad op sy dagloon aan die einde van dieselfde dag.

Dit is God
se bedoeling met die 8e gebod.

Hy wil ’n
gesonde en harmonieuse maatskaplike lewe skep.

Maar ongelukkig
het Israel, elke keer as hulle van die HERE afvallig geraak het, ook die 8e
gebod versaak.

By die
profete klink die aanklag teen die oortreding van hierdie gebod as ’n refrein:

Jesaja 1:23
byvoorbeeld: “Jou vorste is ... metgeselle van diewe; elkeen van hulle het
omkoopgeskenke lief en jaag belonings na. Aan die wees doen hulle geen reg nie,
en die saak van die weduwee kom nie voor hulle nie.”

En Amos
8:4-6: “Hoor dit, julle wat die behoeftige vertrap en daarop uit is om die
ootmoediges van die land uit te roei, deur te sê: Wanneer is die nuwemaan
verby, sodat ons koring kan verkoop, en die sabbat, sodat ons de graanskuur kan
oopsluit – om die efa te verklein en die sikkel te vergroot en bedrieglik te
handel met ’n valse weegskaal; om die armes vir geld te koop en die behoeftige
vir ’n paar skoene”

Die Here
Jesus het nie anders gepraat nie.

Hy’t gesê:

“Pas op vir
die skrifgeleerdes wat ... die huise van die weduwees opeet en vir die skyn
lang gebede doen. Hulle sal ’n swaarder oordeel ontvang.” (Markus 12:38-40)

 

Bose dade en
listige planne waarmee ons dink om die goed van ons naaste onsself toe te eien.

Dit is in
God se oë afskuwelik, veral as dit so gebeur dat die owerheid nie vat daarop
kan kry nie.

Christus
leer ons so die dieper dimensie van hierdie gebod.

Selfs as
iets deur die owerheid toegestaan word – dink aan die woekerwinste in ons land
– is dit nog nie goed in God se oë nie.

Ek dink aan
’n vers uit Lukas 3(:14) waar soldate vir Johannes die Doper gevra het wat
hulle moes doen om tot bekering te kom.

Hy’t toe
geantwoord:

“Julle moet
niemand geweld aandoen of iets afpers nie; en wees tevrede met julle soldy.”

 

En so was
daar nog vele maniere om iemand iets afhandig te maak, sonder dat jy direk
vervolging hoef te gevrees het.

Die
Kategismus noem skyn van reg, bv. valse gewig.

Daaroor sê
God se Woord, Deuteronomium 25:13:

“Jy mag nie
twee soorte weegstene, ’n grote en ’n kleintjie, in jou sak hê nie.”

En Spreuke
11:1: “’n Valse weegskaal is vir die HERE ’n gruwel, maar in ’n volle gewig het
Hy behae.”

En valse
maat, Deuteronomium 25:14-15:

“Jy mag in
jou huis nie twee soorte efas, ’n grote en ’n kleintjie, hê nie. Jy moet ’n
volle en regte gewig hê; jy moet ’n volle en regte efa hê; sodat jou dae
verleng mag word in die land wat die HERE jou God jou sal gee.”

Wie homself
aan sulke praktyke skuldig maak, bou nie iets duursaams op nie.

’n Besigheid
wat op hierdie manier ryk – vinnig ryk – probeer word, kom ten val.

Dit alles is
vir die HERE jou God ’n gruwel (Deut 25:16).

Die
Hebreeuse woord vir gruwel wil sê: absoluut verwerplik in God se oë.

 

Dink aan die
woorde van die profeet Esegiël (45:9-12):

“hou op om
my volk uit hulle besittings te verdring, spreek die Here HERE. Julle moet ’n
regte weegskaal hê en ’n regte efa en ’n regte bat. ’n Efa en ’n bat moet ’n
vaste maat hê, sodat ’n bat die tiende van ’n homer bevat; ook ’n efa die
tiende van ’n homer; die reëling daarvan moet wees volgens die homer En die
sikkel moet twintig gera wees; twintig sikkels, vyf-en-twintig sikkels, vyftien
sikkels moet vir julle ’n mine wees. Dit is die offergawe wat julle moet afgee:
die sesde van ’n efa van ’n homer koring; ook die sesde van ’n efa van ’n homer
gars. En die bestemde deel van olie, van ’n bat olie: die tiende van ’n bat uit
’n kor, dit is tien bat, ’n homer; want tien bat is ’n homer.”

Ons lees
hier oor die verskillende inhoudsmate wat in daardie tyd gebruiklik was.

As mens dit
so lees, klink dit op haarklowery.

Maar dit wys
jou net hoe ernstig en presies die HERE oor hierdie dinge is.

Reg is reg, en
verkeerd is verkeerd.

’n Kilo is
’n kilo, en jy mag nie iets wat 900 gram is, vir ’n kilo verkoop nie.

Jy mag nie
’n kar wat 100 000 km gery het, verkoop asof dit maar 70 000 gery het
nie.

Ens. ens.

Mense wat op
so ’n manier vinnig ryk wil word, sonder om eerbaar daarvoor te werk, ’n gruwel
is dit in God se oë.

Want dit
gebeur ten koste van ander.

Alle
oneerlikheid is vir Hom verwerplik.

Oneerlikheid,
hetsy uit die mond van ’n arm man of ’n ryk man.

Hetsy uit
die mond van ’n skuldenaar of ’n skuldeiser.

 

Toe ons
vanoggend die nagmaalsformulier gelees het, is daar ook na die 8e
gebod verwys.

En nou,
gevoed deur Christus se weldade, mag ons met nuwe motivering weer so in die
lewe staan.

Eerlik.

As
nagmaalsganger mag jy bekend staan as ’n suiwer eerlike mens.

 

Die Here wou
dat sy volk in die land Kanaän ’n gelukkige lewe sou lei.

Natuurlik
sou daar wel verskil in besit wees tussen die een en die ander.

Die Bybel
pleit nie vir sosialisme, dat almal gelyk moet wees nie.

Nêrens in
die Bybel lees ons dat dit verkeerd is dat daar rykes en armes in die
samelewing is nie.

Deur siekte,
sterfte, misoeste, verskil in aanleg en talente, verskil in omstandighede, en
nog baie ander oorsake is dit logies dat die een arm bly en die ander ryk word.

Maar wat die
Here nie wil hê nie is dat mense honger ly, terwyl ander skatryk is, en maak of
hulle dit nie sien nie.

 

Ook hier in
Suid-Afrika mag ons ons oë nie hiervoor toeknyp nie.

Ons is bewus
van die geweldig komplekse situasie.

Ek roep u
ook nie vanaf die preekstoel op om die bedelaars by die stopligte geld te gee
nie.

Desniettemin,
die van ons wat baie geld het, sal aktief na maniere moet soek,
verantwoordelike maniere, om dan wel uit te reik na hulle wat honger ly, hulle
wat nie kanse in die lewe het nie.

 

In die
gedeelte wat ons uit Levitikus 19 gelees het, stuit ons op ’n ongebruiklike
bepaling:

Vers 9-10:
“En as julle die opbrings van julle land oes, moet jy die kant van jou land nie
heeltemal afoes en die are wat val, nie versamel nie. Jou wingerd moet jy ook
nie skoon afoes nie, en die trossies wat van jou wingerd val, nie versamel nie.
Vir die arme en die vreemdeling moet jy dit laat oorbly. Ek is die HERE julle
God.”

Miskien
onthou u dat ons hierdie wet in die praktyk teenkom by Rut.

Rut het as
buitelandse vrou koringare gaan optel op die lande van Boas.

Boas het hom
aan hierdie wet gehou, en daarom het op sy land koringare bly lê vir die armes.

Boas het
selfs beveel dat sy dienaars bietjie meer koringare laat val as normaalweg.

Boas het die
bedoeling van die wet verstaan.

 

As ons
onsself afvra.

Wat sou die
bedoeling van hierdie wet wees in ons samelewing, waar die verskille tussen ryk
en arm al hoe groter word?

Verskil
tussen arm en ryk was altyd daar, en sal altyd daar wees.

Terselfdertyd
gebied die HERE se wet baie duidelik dat ons nie die rand van ons veld mag afoes
nie.

Hierdie
bepaling het te make met wat ons in v/a 111 lees.

Die
positiewe kant van die 8e gebod.

Dat ek my
arbeid trou moet verrig, sodat ek ook in staat is om die behoeftiges te kan
help.

Jy werk en
lewe nie net vir jouself nie.

Jy doen jou
arbeid trou, jy werk hard, nie in die eerste plek om ryk te word nie, want ook
dan oortree jy die 8e gebod.

Dan het jy
’n verkeerde opvatting oor besit.

Ons mag werk
om die HERE en sy koninkryk maksimaal te kan dien,

ook deurdat
ons sonder finansiële sorge elke maand kan deurkom sonder om afhanklik te wees,

en om nog
genoeg oor te hê om die behoeftige by te staan.

Vanuit die
besef: Môre kan ék ook behoeftig wees.

Ek het nie
my eie lewe en omstandighede in die hand nie.

 

Wanneer
oortree jy die 8e gebod?

Wanneer
steel jy?

Die doel van
hierdie preek was om duidelik te maak wat God se Woord ons hieroor openbaar.

Dis nie ons
wat bepaal wat steel is nie.

Maar God die
Skepper van alle dinge.

En Christus
Jesus, die Herskepper van alle dinge.

Ons is
rentmeesters van sy besit.

En jy is ’n
dief, nie net as jy steel en roof in die sin dat die owerheid jou agtervolg
nie, maar ook as jy jou eie besit verkeerd gebruik,

as dit nie
staan in die kader van ’n lewe tot eer van die HERE nie,

in die kader
van die behoud van jou saligheid,

en die
vreugde en harmonie met jou naaste,

en die
herskepping van hierdie wêreld nie.

 

Ek sluit af
met ’n gediggie wat ek êrens oor die 8e gebod gelees het:

U het dit in
my hand gelê

om my daardeur
te beproef.

Te veel is
ek daaraan geheg

en dit het U
bedroef.

Leer my dan
om so te leef

dat ek dit
vrolik weer kan gee.

 

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)