Die gebruik van die naam van die HERE herstel vertroue op aarde

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-06-15
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 37
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 15 Junie 2014
AD, 10:15

Liturgie:

Voorsang: Ps 90:1,2,3,7

Votum

Seën

Ps 92:1,2

Wet

Ps 27:4

Gebed

Skriflesing:     1 Samuel 24:17-23

                        2 Samuel 3:30-39

2 Korinthiërs 1:12-2:4

Ps 139:2-5

Teks: HK
Sondag 37

Preek

Ps 99:1,3,4

Gebed

Kollekte

Ps 85:4

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 37 (3e gebod)

Laas week
het ons veral aandag geskenk aan wat die HERE verbied met die 3e gebod.

Die misbruik
van God se naam, in watter vorm ook al:

of dit deur
vloek is, of jouself vervloek, of vals of onnodig sweer, of deur te swyg.

Vandag kyk
ons met Sondag 37 na die positiewe kant van die derde gebod.

Die
positiewe gebruik van God se naam.

Dit wat die
HERE ons gebied in die 3e
gebod.

Tema: Die gebruik van die naam van die HERE herstel vertroue op aarde

Ons gaan in
hierdie preek veral na ’n paar voorbeelde uit die Bybel kyk, hoe die eed op
positiewe wyse gebruik is.

’n Paar uit
die Ou Testament, en ook een uit die Nuwe Testament.

Ons Here
Jesus het toe Hy op aarde was die verkeerde gebruik van die eed aan die kaak
gestel.

Dit maak
geen sin om te sweer, of dit nou by die aarde is of by die hemel, of by
Jerusalem, of jou eie hoof.

Daar is
slegs Een by wie jy kan sweer.

In die
Kategismus het ons gelees oor die praktyk in die Roomse kerk om by heiliges en
ander skepsels te sweer.

Oor hierdie
praktyk kan mens kort en kragtig konkludeer dat Jesus dit op presies dieselfde
wyse aan die kaak sou gestel het.

En dit is
wat die Kategismus hier doen in lyn met Jesus se onderwys.

 

Maar nou kom
ons by vandag.

Hoe gaan dit
in ons samelewing?

In
Suid-Afrika kan jy kies of jy die eed wil uitspreek of nie.

En as iemand
kies om dit uit te spreek, dan het daardie persoon ook nog die reg om dit uit
te spreek by die god wat hy dien.

Hoewel die
eed in Suid-Afrika ’n Christelike oorsprong het, en nie net in Suid-Afrika, in
die hele wêreld het die eed ’n Bybelse oorsprong, tog gee die liberale grondwet
die moontlikheid dat ander godsdienste dit ook kan gebruik.

’n Moslim of
Hindu, of wie ook al, kan by die aflegging aan sy eie god dink.

Of daardie
god nou bestaan of nie, as mens dit in ’n Bybelse lig beskou.

Deur hierdie
keusemoontlikhede het die eed eintlik reeds ’n groot deel van sy krag verloor.

Want kyk, in
die regte geval lê iemand die eed af, en sy gewete waarsku hom dat as hy lieg,
hy die lewende God se straf oor hom afroep.

Maar sê nou
maar iemand wat in ’n ander god glo, ’n god wat nie bestaan nie, lê die eed af.

As daardie
persoon opreg in sy afgod glo, sal die persoon dalk gewetensvol die eed aflê,
maar wanneer hy sou lieg, dan is daar nie ’n lewende god om hom te straf nie.

Of kan mens
sê dat die lewende God in die hemel hom in elk geval gaan straf, omdat hy die
eed misbruik het, deur dit af te lê in die naam van ’n god wat nie ’n god is
nie?

En verder,
nog ’n ander vraag, watter gevolgtrekking moet mens maak as iemand weier om die
eed af te lê?

Is dit as
sulks al ’n bewys dat iemand nie die waarheid praat nie?

Al hierdie
vrae illustreer dat die eed eintlik sy funksie al vir ’n groot deel verloor het
in die burgerlike lewe.

Die funksie
van die eed is naamlik om daar waar mense vertroue in mekaar heeltemal verloor
het, dit tog weer te herstel,

omdat almal
onder die besef leef dat daar ’n hoëre instansie is, ’n Persoon wat wel kan
kontroleer of jy die waarheid praat.

 

Maar
funksioneer dit vandag in ons land wel so?

Enkele weke
gelede het president Zuma die eed afgelê by die Uniegebou vir sy tweede
ampstermyn.

Voor die oog
van die televisie en alle toeskouers het hy uitgespreek:

“I swear … so help me God”

Daarby het
hy sy hand in die lug gesteek.

Gemeente,
het die feit dat hy dit gedoen het, vir u meer vertroue gegee?

Dit nog
afgesien van die vraag by wie hy gesweer het.

By watter
God/god het hy eintlik gesweer?

 

En as
advokate die eed aflê, dink byvoorbeeld aan die Oscar Pistorius-saak, die
advokaat van die verdediging, Barry Roux, en die advokaat van die aanklaer,
Gerrie Nel, jaag hulle wel die waarheid na en niks anders as die waarheid nie?

Ek dink baie
van ons hier in Suid-Afrika kyk maar skepties hierna.

En dit is
die gevolg van ’n samelewing wat ver van die HERE en sy gebooie afgedwaal het.

En dit het
op sy beurt tot gevolg dat die regspraak ’n kragtige instrument verloor het.

’n
Samelewing wat die eerbied vir God se gebooie laat vaar het, pluk op ’n stadium
die wrange vrugte.

Byvoorbeeld
dat ieder en elk net besorgd is oor sy eie belange,

en dat mense
glashard teenoor mekaar kan staan en lieg, sonder om skuldig te voel,

dat mense
hulle eie welvaart en belange veilig stel, maak nie saak of die waarheid in die
slag bly nie.

’n Owerheid
en ’n regstelsel wat met die eed torring, ondergrawe sy eie fondament.

 

Nou is dit
nie net vandag wat die eed so aan inflasie onderhewig was nie, in die Here
Jesus se tyd op aarde het mens soortgelyke omstandighede gesien.

In sy
Bergrede wy Jesus uit oor die alledaagse gebruik van die eed.

Die
devalusasie van die eed, deurdat mense nie net by God gesweer het nie, maar by
die tempel, of by die goud van die tempel, of by wie of wat ook al.

Jesus het
dit aan die kaak gestel.

Laat jou ja
ja wees, en jou nee nee.

As iemand
hom nie aan sy ja of sy nee hou nie, is hy onbetroubaar.

Het Jesus
met hierdie opmerking die eed afgeskaf?

Nee, dit was
nie sy bedoeling nie.

Dit was
gebruikelik in die prediking van die Skrifgeleerdes in Jesus sy tyd op aarde om
dinge oordrewe skerp te stel.

Die doel was
om mense te laat nadink.

So het Jesus
op ’n ander plek in die Bergrede gesê dat jy jou regterhand moet afkap, as dit
jou sou verlei, of desnoods jou regteroog uitpluk.

Ook dit was
baie oordrewe gestel, om die mense op die erns van die situasie te wys.

Christus het
die eed dus nie afgeskaf nie.

Maar Hy wou
met sy prediking die eed wel weer in ere herstel.

Die
alledaagse misbruik van die eed het Hy goed vasgevat.

 

 

Die Kategismus
sê tereg dat die eed op God se Woord gegrond is.

In
Deuteronomium 6:13 staan byvoorbeeld:

“Jy moet die
HERE jou God vrees en Hom dien; en by sy Naam moet jy sweer.”

Jesus se
woorde oor ja is ja en nee nee verander niks daaraan nie.

In die Nuwe
Testament lees ons in Hebreërs 6:16:

“mense sweer
by een wat meer is, en die eed van bevestiging is vir hulle die einde van alle
teëspraak.”

Dus ook in
die Nuwe Testament word die eed gehandhaaf.

 

Kom ons kyk
nou, in die tweede plek, hoe die eed in die Bybel self gebruik is.

Is daar
voorbeelde in die Bybel wat ons wys hoe die eed behoort te funksioneer, as dit
goed is?

Is daar
voorbeelde hoe die eed ’n positiewe uitwerking gehad het?

Ja daar is.

Kom ons kyk
wat ons daarvan kan leer.

 

Byvoorbeeld
in Genesis 21 is die goeie verhouding tussen Abraham en Abimeleg, toe dit onder
spanning te staan gekom het, gered deur die eed.

Abimeleg het
vir Abraham gevra om die eed af te lê.

Toe Abraham
dit gedoen het, is Abimeleg se vertroue in hom weer herstel.

Dit is ’n
voorbeeld van wat die Kategismus sê: ’n eed in geval van nood.

Want Abraham
het naamlik al ’n keer vir Abimeleg gejok.

Abraham het
gesê dat Sara sy suster is, en nie sy vrou nie.

Dit was ’n
halwe waarheid.

Maar die
gevolg was dat Abimeleg ’n verkeerde afleiding gemaak het.

Logies dat
dit, toe Abimeleg dit later agterkom, sy vertroue in Abraham geskend het.

En vandaar
dat Abimeleg nou tereg van Abraham eis om ’n eed af te lê.

 

’n
Soortgelyke geval vind mens in Genesis 31.

Jakob en sy
skoonpa Laban het finaal vertroue in mekaar verloor.

Laban het
vir Jakob al ’n paar keer bedrieg, onder andere deur Lea pleks van Ragel vir
hom as vrou te gee.

En op sy
beurt het Jakob sy skoonpa ook al bedrieg.

In Genesis
31 het hulle paaie vergoed geskei.

Tog, dank sy
die eed, het hulle op goeie voet uit mekaar gegaan.

Saam het
hulle voor God ’n eed afgelê, dat hulle mekaar in die toekoms nie meer sou
teëwerk nie.

Nie dat
hulle ooit vriende sou word nie, maar hulle het wel op goeie voet uitmekaar
gegaan.

Danksy die
eed was dit moontlik.

 

Nog ’n eed,
wat uit die nood gebore is, vind ons in 1 Samuel 24.

Dit is die
geskiedenis oor hoe Dawid vir Saul se lewe gespaar het.

Saul het met
sy soldate toevallig in dieselfde grot geslaap as waarin Dawid weggekruip het.

Dawid kon
sonder veel moeite Saul net daar en dan om die lewe gebring het.

Hy het dit
ook laat merk deur ’n stukkie van Saul se mantel met sy swaard af te sny.

En nadat
Saul en sy lyfwag vertrek het, het hy dit vir hom gewys.

In reaksie
hierop het koning Saul toe vir David gesmeek om by die HERE te sweer, dat David
nooit Saul se nageslag sou uitroei nie.

Eintlik was
dit in hierdie geval vir Saul glad nie nodig om van Dawid ’n eed te vra nie.

Daar was
hoegenaamd geen aanleiding dat Saul vir Dawid moes wantrou nie.

Die
omgekeerde was eerder die geval.

Saul het
juis vir Dawid vervolg, en Dawid het juis hier Saul se lewe gespaar.

Maar die feit
dat Saul tog hier van Dawid ’n eed vra, dui op sy verwarde toestand.

Saul kon
niemand meer vertrou nie.

Sy gees het
siek geword.

Hy kon hom
nie voorstel dat iemand só goed kon wees nie, soos wat Dawid op daardie oomblik
was.

Dit het vir
hom nie sin gemaak nie.

Hy vervolg
Dawid tot die dood.

Maar Dawid,
al het hy die kans gekry, maak hom nie dood nie.

Saul het
waarskynlik gedink: dit kan gewoon nie waar wees nie.

Dawid het
nou wel my lewe gespaar, maar hy moes een of ander verborge motief gehad het.

Om dit so te
stel: komplotteorieë het in Saul se kop rondgespook.

En dis
hoekom hy van Dawid hier ’n eed eis.

Dawid het
ingestem.

Hy het
gesweer by die HERE dat hy Saul se nageslag sou beskerm.

Dawid se
hart was oop voor God.

Hy het nie
verkeerde motiewe gehad nie.

En ons weet
uit die geskiedenis dat Dawid sy eed ook nagekom het.

Nooit het hy
die hand geslaan aan Saul se familie nie.

Meer nog, hy
het sy familie selfs aktief beskerm.

Dink
byvoorbeeld hoe hy vir Saul se kleinseun, Mefiboset, gesorg het.

Dawid het ook,
nadat Saul se seun Isboset deur ’n sluipmoord om die lewe gekom het, gesorg dat
hy tog ’n eervolle begrafnis gekry het.

Dawid het
hom dus aan sy eed gehou.

 

Daar was nog
’n keer toe Dawid ’n eed afgelê het.

Ons lees dit
in 2 Samuel 3.

Ook hierdie
keer was dit in ’n noodsituasie.

Dit was
onduidelik hoe Abner, die leërowerste, om die lewe gekom het.

Hy is
naamlik deur Joab vermoor.

Maar die
volk het vermoed dat Dawid eintlik daaragter gesit het.

Maar deur te
sweer het Dawid aan die volk duidelik gemaak dat dit nie hy was wat agter die
moord was nie.

Danksy
hierdie eed is die volk se vertroue in Dawid toe weer herstel.

Ons lees in
vers 37:

“En die hele
volk en die hele Israel het dieselfde dag gemerk dat dit nie van die koning
gekom het om Abner, die seun van Ner, dood te maak nie.”

 

Ek noem nog
’n laaste keer waarvan ons weet dat koning Dawid ’n eed afgelê het.

Dit was by
die troonopvolging van Salomo.

Daar het toe
’n krisis gedreig, omdat Dawid se ander seun, Adonia, ook na die troon geding
het.

Dawid het
toe, ter wille van die behoud van vrede en stabiliteit in die land, ’n eed
afgelê.

1 Konings
1:29: “Toe sweer die koning en sê: So waar as die HERE leef wat my uit alle
benoudheid verlos het, sekerlik, soos ek ... gesê het dat u seun Salomo na my
koning moet word en hy op my troon moet sit in my plek, sekerlik so doen ek
vandag nog.”

Deur hierdie
eed af te lê het koning Dawid na alle kante toe duidelikheid verskaf.

 

Tot dusver
het ek ’n paar voorbeelde uit die Ou Testament genoem.

Maar die
Nuwe Testament ken die eed ook.

Soos ek
reeds gesê het, Jesus het dit nie afgeskaf nie.

En dus het
die apostels ook daarvan gebruik gemaak.

Dink
byvoorbeeld aan die eed wat Paulus aflê in 2 Korinthiërs 1:23.

As gevolg
van verdagmakery deur sommige lidmate in Korinthe het die gemeente sy vertroue
in Paulus begin kwytraak.

In sy tweede
brief aan die Korinthiërs, ’n brief wat hy geskryf het met die bedoeling om die
saak uit te praat, gebruik Paulus dan ook bewus ’n eed:

“ek roep God
as getuie aan...”

Die
onderlinge vertroue moes duidelik weer herstel word.

 

Jesus het in
sy prediking die misbruik van die eed aan die kaak gestel.

Sy prediking
vorm die basis waarvolgens medegelowiges met mekaar omgaan, ook vandag ons hier
in die kerk.

Jou ja moet
ja wees en jou nee nee.

Dit is die
norm.

Ons mag die
eed nie misbruik nie, maar in uitsonderlike krisissituasies is die eed wel daar
om te gebruik, soos Paulus dit gedoen het om die vertroue tussen hom en die
Korinthiërs weer te herstel.

 

In hierdie
verband is dit dalk goed om te besef dat mens ook op ’n ander manier
wêreldgelykvormig kan word, naamlik deur nooit meer die eed te gebruik nie.

Antwoord 101
van Sondag 37 noem twee gevalle waar die eed uitkoms kan bied.

Wanneer die
owerheid dit van sy onderdane eis.

En ten
tweede, in geval van nood.

En die doel
is, sê die Kategismus, om daardeur trou en waarheid te bevestig.

En dit tot
eer van God en tot heil van die naaste.

 

In ons huidige
omstandighede is dit ’n feit dat Christene waarskynlik baie selde die eed sal
gebruik.

As jy
toevallig by die polisie, of by ’n ander owerheidsinstansie werk soos die
geregshowe, moes jy waarskynlik die eed by jou beëdiging afgelê het.

Maar ek dink
dat daar baie mense vanoggend hier in die kerk is wat nog nooit ’n eed afgelê
het nie.

Ook nie eers
in ’n noodsituasie nie.

By hierdie
laaste punt wil ek bietjie stilstaan.

Die goeie gebruik van die eed kan naamlik ’n baie
positiewe uitwerking hê.

Dat mense
naamlik oop en eerlik met mekaar bly omgaan.

Om te
voorkom dat daar tussen mense ’n sfeer ontstaan waarin hulle altyd iets agter
jou woorde soek, en jou nie meer op jou woorde glo nie.

 

Dit kan
gebeur dat ampsdraers in ’n konfliksituasie betrokke raak, waarin die een party
se weergawe die omgekeerde is van die ander een s’n.

Met die
gevolg dat die saak nie opgelos kan word nie, en dat die saak nie bygelê kan
word nie.

Die
ampsdraer kan maar net wonder wie die waarheid praat en wie nie.

In so ’n
situasie kan ’n ampsdraer uit nood iemand vra om ’n eed af te lê.

In die kerk
behoort dit eintlik glad nie nodig te wees nie.

Maar selfs
in die kerk kan daar situasies ontstaan, dat verhoudings totaal vasloop, dat
wantroue die botoon voer, soos ook die geval was tussen die apostel Paulus en
die gemeente in Korinthe.

 

Wie in geval
van nood die eed gebruik, mag vertrou dat God dit sal seën.

Wie hom
egter neerlê by onreg, by die feit dat die broeder of susterband verbreek is,

terwyl uit
die praktyk blyk dat daar twee verhale in omloop is,

as mens jou
dan maar daarby neerlê, dan kan ons ook nie op God se seën reken nie.

God gee juis
’n instrument om uit hierdie doodlooptoestand uit te kom.

Die tema van
die preek lui:

Die gebruik
van die naam van die HERE herstel vertroue op aarde.

Ons het in
hierdie preek veral gefokus op die gebruik van die HERE se naam deur die eed.

Die gevaar
van misbruik.

Maar ook
somtyds die noodsaak van gebruik, en
die seën wat daarvan kan uitgaan.

 

Maar dis
natuurlik nie die enigste manier hoe ons die HERE se naam positief kan gebruik
nie.

In die
toekoms kan ons hooplik nog veel meer leer uit die Bybel oor hoe om – soos die
Kategismus dit verwoord – sy naam reg te bely en in ons woorde en werke te prys.

Tog was dit
nie oorbodig om veral in hierdie preek te fokus op die eed nie.

Dit is ’n
belangrike instrument wat die HERE gee.

 

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)