Die lewende God verdra nie verkeerde denkbeelde van wie Hy is nie. Hy wil geken en gedien word soos Hy Homself in sy Woord openb

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-06-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 35
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 1 Junie 2014
AD, 10:15

Liturgie:

Voorsang: Ps 80:1-4

Votum: sing Ps 123:1

Seën

Ps 50:1,3

Wet

Ps 50:4,5

Gebed

Skriflesing: 1 Konings 12:26-33 & 13:33-34

Ps 50:6-8

Skriflesing: 1 Korinthiërs 1:17-2:5

Ps 50:11

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 35

Preek

Ps 68:9

Gebed

Kollekte

Ps 68:15

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus, Sondag 35 (tweede gebod)

Ek begin
vandag met ‘n paar voorbeelde.

Daar is ’n
gesin wat besluit het om uit die kerk te ontrek.

Toe hulle
ouderling hierdie berig ontvang, het hy dieselfde week nog ’n besoek gebring.

Daardie aand
was hulle egter nie tuis nie.

Die volgende
aand het hy weer gegaan en toe was hulle gelukkig wel daar.

Maar hy het
maar moeilik binne gekom.

Dit was baie
gaaf van die ouderling dat hy gekom het, maar hulle het nie werklik behoefte
aan ’n gesprek gehad nie.

Die
ouderling het egter vriendelik volgehou, en na ’n rukkie het die vrou hom tog binne
genooi.

Met moeite
het die ouderling ’n gesprek op gang probeer kry, mede as gevolg van die feit
dat die man die televisie nie afgesit het nie.

Maar waar
dit op neergekom het, was dat die gesin beslis nog in God glo en Hom wil dien,

maar om
daarvoor elke Sondag twee keer kerk toe te moet gaan, en alle ander verwagtinge
wat daar is, van Bybelstudie tot VVB, dit alles is vir hulle net te veel.

Lees julle
dan nog tuis uit die Bybel, het die ouderling gevra.

Nie as gesin
saam nie, het hulle erken.

Maar elkeen
lees nog self, by geleentheid.

Maar wat
dink die Here eintlik hiervan, het die ouderling gevra?

Man, het die
vrou geantwoord, bietjie met die houding – los jou neus uit ons sake uit – ons
dink God verstaan ons.

Ons glo op
ons manier.

Daardie
selfde aand het ’n ander ouderling ook sy wyk ingegaan.

Toe hy op ’n
adres die deurklokkie lui, is daar dadelik opgemaak.

’n Ou dame,
wie se man al oorlede was, het hom hartlik ontvang.

Dit was
nooit moeilik om ’n gesprek op gang te kry met hierdie bejaarde suster nie.

Sy is nogal
eensaam, en waardeer dit baie as iemand op besoek kom.

En weer het
die ouderling sit en luister na haar verhale.

Tog het hy
hom bietjie begin afvra of sy wel reg oor die Here praat.

Dit is net
asof sy Hom steeds verwyt dat Hy haar man van haar afgevat het.

Dit is net
asof sy geen troos by Hom kan vind nie.

En elke keer
as daar iets ergs gebeur in die wêreld, ’n vliegtuigongeluk, ’n aardbewing, ’n
oorstroming, dan is dit net asof sy deur ’n soort geloofskrisis gaan.

Sommige dele
van die Bybel kan sy moeilik aanvaar.

Die dood van
Ananias en Saffira; die dood van die man wat die ark probeer keer het, toe dit
amper van die wa afgeval het; al die oordeelsprofesië in die Bybel...

Dit was net
asof sulke Bybelgedeeltes nie gepas het in die beeld wat sy van God gehad het
nie.

Ook daardie
selfde aand was daar by die kerk ook bedrywigheid.

Ons loop
toevallig binne by ’n Bybelstudievereniging.

Hulle lees
’n gedeelte uit die Bybel.

Daarna word
’n inleiding gehou.

En toe begin
daar ’n lewendige diskussie.

Elkeen het
sy mening op tafel gelê.

Ek dink
dit...

Maar ek stem
nie heeltemal saam nie...

Volgens
my...

’n Ander het
ook ’n persoonlike belewenis gedeel, baie indrukwekkend.

Maar wat
opvallend was, is dat behalwe vir die Skriflesing, die Bybel die res van die
aand onaangeroerd op tafel bly lê het.

Gemeente,
hierdie was drie voorbeelde uit die praktyk.

Voorbeelde
wat al drie met die tweede gebod te make het.

Die tweede
gebod wat ons ook weer vanoggend gehoor het.

Vandag kyk
ons na wat die HERE ons leer in die tweede gebod.

Tema: Die lewende God verdra nie verkeerde denkbeelde van wie Hy is nie. Hy
wil geken en gedien word soos Hy Homself in sy Woord openbaar.

Geen gesnede
beeld of enige gelykenis van wat bo in die hemel, of onder op die aarde, of in
die waters onder die aarde is nie.

Hierdie
driedeling – hemel, aarde, en onder die aarde – weerspieël die geometriese
wêreldbeeld van Moses se tyd.

Die gangbare
opvatting was toe dat mens die heelal in drie dele kon opdeel.

Die hemel –
alles wat bo jou is, omdat hulle toe nog nie besef het dat die aarde rond is en
om sy eie as draai nie.

En dan die
aarde – dit is die land waarop mens en dier woon, die berge, valleie, vlaktes,
ensovoorts.

En dan onder
die aarde – dit is die see.

Mense het in
daardie tyd gemeen dat die see heeltemal onder die aarde – wat plat was –
deurgeloop het.

Die aarde
het op pilare in die see gestaan.

Soos mens
ook byvoorbeeld in die Psalmboek vind, as daar staan dat God die aarde op vaste
fondamente gegrond het.

Op vaste
pilare vasgesit.

Die feit dat
die HERE in sy openbaring in terme van hierdie outydse geometriese wêreldbeeld
praat, maak die Bybel daarom nie onbetroubaar nie.

God se
bedoeling was nie om ’n wetenskaplike les te gee oor die samestelling van die
heelal nie.

Dan sou daar
waarskynlik iets staan wat selfs ons vandag met al ons wetenskaplike kennis,
nog nie eens sal kan verstaan nie.

God pas Hom
aan, soos dit in die teologie verwoord word, Hy akkomodeer Hom in sy spreke tot die begripsvermoë van die mense.

 

As Moses
hierdie vir sy tyd bekende geometriese driedeling dus noem in die tweede gebod,
is God se bedoeling daarmee:

Nêrens in die groot heelal mag jy ’n beeld vandaan haal om dit te aanbid nie.

Nie in die
lug nie, dink aan die son, maan, sterre, wat dikwels as gode aanbid is.

Ook nie uit
die see nie, dink aan die visse, klein en groot, of watter seemonsters ook al
in die dieptes.

En ook nie
van op die aarde nie.

Dink aan die
goue kalf in die woestyn.

Die volk wou
iets sigbaars en tasbaars hê, waardeur hulle God kon dien.

God se
woorde was vir hulle nie voldoende nie.

 

Dink ook aan
die twee beelde wat Jerobeam gemaak het.

Ons het
daaroor gelees.

Dat hy twee
goue kalwers laat vervaardig het.

Hierdie
inisiatief van Jerobeam het ’n agtergrond gehad.

Wie ’n beeld
wil maak om God daarmee te dien, loop al klaar meet ’n verkeerde denkbeeld oor God in sy kop rond.

Ons het uit
1 Konings gelees dat Jerobeam die erediens aan die Here verander het.

’n
Aangepaste tempeldiens, wat vir hom beter gepas het.

Hierdie twee
kalwers was dus die produk van ’n verkeerde denkbeeld wat hy gekoester het.

In antw. 98
staan:

Ons moet nie
wyser as God wees nie.

Hy wil sy
Christene nie deur stomme beelde nie, maar die lewende verkondiging van sy
Woord laat onderrig.

God het
goeie redes hiervoor.

Net soos Hy
in die Ou Testament goeie redes gehad het om te besluit dat die tempeldiens in
Jerusalem moes plaasvind.

Jerobeam wou egter wyser as God wees.

Eiebelang
het natuurlik ‘n rol hierby gespeel.

Want as sy
onderdane – die tienstammeryk – elke keer na die Juda, die tweestammeryk, moes
reis om daar in Jerusalem te gaan offer, sou hulle altyd ’n band hou met
daardie stad, en ook met die regering daar.

Jerobeam het by homself gedink:

As hierdie
volk optrek om slagoffers te bring in Jerusalem, sal die hart van die volk
terugkeer tot Rehabeam.

Was dit
eintlik nie presies God se bedoeling, sy wens nie?

Dat die
eenheid weer herstel sou word, die pynlike breuk tussen die noorde en die
suide?

Maar
Jerobeam het anders gedink, hy het sy eie belang voorop gestel.

Daarom het
hy ’n nuwe heiligdom vir die 10 stamme ontwerp, ’n nuwe offerkultus, ’n nuwe godsbeeld.

En deel
daarvan was dat hy twee goue kalwers gemaak het.

Daarna het
hy slinks op die gevoelens van die volk ingespeel.

Dit is veels
te ver vir julle om na Jerusalem op te trek.

So ’n verre
reis elke keer, dink net aan al die kostes!

Daardie geld
kan julle mos vir beter dinge gebruik?

Kom ons maak
liewers só: hier is julle gode, Israel wat julle uit die land Egipte gelei het.

’n Goue kalf
in Betel, en ’n goue kalf in Dan.

Baie nader
aan huis.

Strategies
gekies, Betel bietjie meer na die suide, Dan bietjie meer na die noorde.

Jerobeam het
tempels op die hoogtes gebou,

hy het
priesters uit alle stamme aangestel,

hy het sy
eie feesdae ingevoer,

hy het self ook op die altaar geklim.

Iets wat
koning Dawid of Salomo nooit sou gewaag het om te doen nie.

In al
hierdie dinge het Jerobeam afgewyk van die wet wat die HERE deur Moses aan die
volk gegee het.

 

Oor sulke
optrede sê die Kategismus dus:

Ons moet nie
wyser as God wil wees nie.

Wie die
Woord van God, sy geopenbaarde wil, nie normatief bly beskou nie, begin aan ’n
doodlooppad.

Jerobeam het
die tienstammeryk op ’n doodloopspoor gelei.

Vandag in
ons tyd is daar baie kerke wat ook op ’n doodlooppad tereg gekom het.

Omdat die
geopenbaarde wil van God, sy Woord, nie meer as normatief beskou word nie.

Net soos
Jerobeam die wet van Moses aan die kant geskuif het, gebeur dit vandag ook.

Dit was nie
vir die HERE ‘OK’, byvoorbeeld dat daar skielik priesters uit alle stamme aangestel
mog word nie.

Dit was nie
’n aanpassing van die wet wat goed wat in die HERE se oë nie.

Natuurlik
sou Jerobeam argumente gebruik het in die trant van:

ja maar
ander stamme het mos net soveel gawes, hoekom mag hulle dan nie die priesteramp
vervul nie??

Op dieselfde
manier redeneer mens vandag.

Vroue het
mos net soveel gawes as mans.

Hoekom mag
hulle daarom nie in die ampte dien nie?

In beide
gevalle, Jerobeam se tyd en ons tyd, word daar afgewyk van die geopenbaarde wil
van God.

Soms kan ons
dalk sukkel om die bedoeling agter God se wil te verstaan, maar dit gee ons nie
die reg om dus dan maar ons eie koers te kies nie.

Dit is
wanneer die tweede gebod in geding kom.

En van die
een sal die ander kom.

So het dit
gebeur in Jerobeam se tyd.

Die tienstammeryk
het op ’n doodloopspoor beland.

God se wil
was nie meer nommer een, normatief nie.

Dit het nie
vinnig gegaan nie.

Dit was ’n
proses van ’n generasie en meer.

Maar met
verloop van tyd het die eiewillige godsdiens, ja afgodediens, al hoe meer ’n
vastrapplek gekry onder God se volk.

Sommige
mense het betyds padgegee.

Ons lees
byvoorbeeld – toe Jerobeam met hierdie dinge begin het – dat priesters wat tot
dan toe onder die 10 stamme woonagtig was, hulle toevlug na die suidelike ryk
geneem het.

Hulle, priesters
uit die stam van Levi, was nou in die noorde nie meer in agting nie.

Hulle, die
ware priesters en Leviete volgens die wet van Moses, het vir die mense in die
noordelike ryk ’n struikelblok geword.

Ons lees
byvoorbeeld in 2 Kronieke 11(:14v):

“die Leviete
het hulle weiveld en hulle besitting verlaat en na Juda en Jerusalem getrek;
want Jerobeam en sy seun het hulle verwerp, sodat hulle geen priesters van die
HERE meer kon wees nie.”

En saam met
hierdie priesters het nog ’n hele klomp mense uit die noordelike ryk na die
suide getrek, mense wat trou wou bly in die suiwer diens  aan die HERE.

Ons lees hieroor
in 2 Kronieke 11(:16v): “En agter hulle aan het uit al die stamme van Israel
die wat hulle hart daarop gerig het om die HERE, die God van Israel, te soek,
na Jerusalem gekom om aan die HERE, die God van hulle vaders te offer; en hulle
het die koninkryk van Juda versterk”

 

Maar hulle
vir wie God se wil nie meer nommer 1 is nie, en kerke wat dink hulle kan die
Bybel op so ’n wyse interpreteer dat dit inpas by hulle wense en die eise van
hulle tyd – wie dit doen, moet verwag dat hulle vroeër of later die rekening
gaan betaal.

Kerke wat
leegloop, kerke wat uiteindelik net nog bestaan uit ’n groepie bejaarde mense,
kerkgeboue wat gesluit of gesloop word, of dalk voortaan as huis, winkel of
restourant gebruik word, dit is die rekening.

Laat dit vir
ons ’n waarskuwing wees.

Christus
vergader sy kerk slegs deur die suiwere verkondiging van die Evangelie.

 

Die apostel
Paulus skryf (ons het dit nounet gelees uit sy Korinthiërbrief):

Wat dwaas is
by God, is nog veel wyser as die wysheid van mense.

As Hy sê dat
sy Woord die instrument is waarmee die Gees werk, dan is dit so.

Ons kan dit
maar beproef, dit werk!

Die
dwaasheid van die prediking van die Evangelie, noem Paulus dit.

Dwaas in die
oë van mense, filosowe, beleidsmakers van hierdie wêreld.

Maar wel ’n
krag tot ewige redding.

Die wyses
van hierdie wêreld het hulle godsbeelde,

dalk
ingewikkelde en indrukwekkende denksisteme, konstruksies of destruksies,

tog vind
niemand troos daarin nie.

Maar die God
wat ons uit die prediking van die Evangelie leer ken, is vir ons ’n Vader, en
net soos Hy ’n betroubare God is, is sy Woord betroubaar.

Die
godsbeelde wat mense uitdink, verander met die tyd, ook die manier waarop die
erediens aan hierdie godsbeelde vorm gegee word.

Maar die
lewende God, en sy Woord, is ewig en onveranderlik.

 

Ons tema sê:
die lewende God verdra geen verkeerde denkbeelde van wie Hy is nie.

Hy wil geken
en gedien word soos Hy in sy Woord geopenbaar het.

Dit vra aan
die een kant van ons gehoorsaamheid aan sy Woord, vertroue op Hom en sy wil.

Om Hom te
dien soos die Bybel aan ons voorhou.

Steeds
waaksaam wees dat die beeld wat ons van God in ons eie lewe gevorm het,
ooreenstem met sy openbaring.

Dink aan die
eerste voorbeeld uit die inleiding.

Die
ouderling wat die gesin besoek het wat God nog wel wou dien, maar dit nie meer
nodig gevind het om die kerkdienste reëlmatig te besoek nie.

Is dit soos
die Here gedien wil word?

Wat sê sy
Woord daaroor?

Dink
byvoorbeeld aan Hebreërs 10:25:

“laat ons
ons onderlinge byeenkomste nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar
laat ons mekaar vermaan”.

En ook sê
die Here:

Ons glo nie
almal op onsself nie, maar ons het mekaar nodig, want ons is een liggaam.

“die oog kan
nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie” (1 Kor 12:21).

 

Dink ook aan
die tweede voorbeeld uit die inleiding:

Stem jou
Godsbeeld ooreen met hoe die lewende God Homself voorstel in die Bybel?

Of wil jou
Godsbeeld net luister na woorde oor ’n God van liefde?

God is
almagtig, Hy kan nie gevang word in ons denkkaders nie.

Wie is ons
om met Hom te redeneer?

Wie is ons
om sy beleid te kritiseer?

Laat staan
dat ons Hom onregverdig sou durf noem.

Of Hom
dagvaar vir alle ellende in die wêreld, vir alle geweld, oorloë en natuurrampe.

Laat ons
twee keer nadink voordat ons met God begin diskussieer.

Nie vir niks
nie het God dit so verorden dat die ware geloof slegs tot stand kom deur te luister.

Luister na God se Woord.

Laat dit die
botoon voer in jou persoonlike lewe, ook in die erediens, ook met
huisgodsdiens, ook op die Bybelstudievereniging.

’n
Bereidheid om te luister na God se Woord, voordat ons ons eie mening gee.

Die lewende
God wil geken en gedien word soos Hy Homself bekend maak in sy Woord.

 

En as u Hom
leer ken het uit sy Woord, dan sal jy saamstem as ek sê:

In hierdie
God ontvang ek ALLES wat ek nodig het.

In hierdie
God ontvang ek ware geluk.

Op hierdie
God kan ek my lewe bou soos op ’n onwankelbare rots.

Met hierdie
God bevind ek myself nie op ’n doodloopspoor nie, soos so baie mense op aarde
wat vasklou aan hulle eie denkbeelde nie,

maar met
hierdie God is ek oppad na ’n ewige lewe, as burger van sy koninkryk.

 

Wie sou so
’n God nie wil dien nie?

Wie sou sy
hoogste Majesteit nie met eerbied prys nie?

Wie sou Hom
nie dank bewys,

die God van
saligheid nie prys nie?

Hierdie God
dra ons deur die lewe.

Hy kan en
wil en sal in nood,

Selfs as ons
sidder vir die dood,

volkome
uitkoms gewe.

 

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)