Wie God liefhet, doen goeie werke

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-04-13
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 32
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 13 April 2014
AD, 17:30 (nagmaal)

Voorsang: Ps 57:1,3,4

Votum

Seën

Ps 53:1-3

Gebed

Nagmaalsviering

-         
Formulier

-         
Ps 32:1 (tafel in gereedheid)

-         
Skriflesing: 1 Johannes 2:3-6;
3:11-24; 4:7-21

-         
Ps 32:4

-         
Danksegging

Teks: HK Sondag 32

Preek

Ps 19:4,5

Geloofsbelydenis: Nicea

Ps 19:6

Gebed

Kollekte

Ps 115:6,8

Seën

Preek: HK Sondag 32

“Aangesien
de Here ons siele nou aan sy tafel gevoed het, laat ons almal saam sy Naam met
dankbaarheid prys.” Die woord dankbaarheid
oorheers op ’n Sondag soos hierdie.

Ons is
dankbaar dat ons nagmaal mog vier.

Maar wat is
dankbaarheid eintlik?

Hoe wys jy
jou dankbaarheid?

Dit is
waaroor Sondag 32 ook handel.

Tema: Wie God liefhet, doen goeie werke

1                  
Dankbaarheid
is nie iets swewerigs nie

2                  
Dankbaarheid
verdra geen dubbelhartigheid nie

1                  
Dankbaarheid
is nie iets swewerigs nie

Met sondag
32 begin die derde deel van die Kategismus.

In Sondag 1
is die drie dele reeds uiteengesit: 1) ellende; 2) verlossing; 3) dankbaarheid.

Hierdie
derde deel begin deur eers te definieer wat dankbaarheid is.

In die
definisie is daar twee sleutelbegrippe: 1) goeie werke; 2) bekering.

In Sondag 32
gaan dit oor goeie werke, in Sondag 33 oor bekering.

 

Vandag dus
Sondag 32.

Met die
woord dankbaarheid word die klimaat
getipeer, waarbinne kinders van God opereer.

Dit kan nie
die bedoeling wees nie, nadat jy te hore gekry het dat Christus se bloed jou
bevry, dat jou verdere lewe ’n geswoeg en gesweet word om God tevrede te stel.

Dit sou
teenstrydig wees.

Die sfeer
van die lewe van ’n kind van God word inteendeel getipeer deur dankbaarheid.

Want die
skuld is agter die rug.

As ons nou
oor goeie werke praat, is dit belangrik om hierdie klimaat vas te hou.

Die oproep
tot goeie werke is nie ’n sweepslag nie.

Hierdie
oproep is ingebed in die totale verlossing wat Christus skenk.

Die
toewyding van jou lewe aan God, dat jy jou lewe steeds meer heilig, dit is geen
prestasie nie, maar dit is slegs moontlik danksy Jesus se voortdurende genade,
leiding en beskerming van jou lewe.

Daarom is
ons inspanning om goeie werke te doen, ingebed in die klimaat van dankbaarheid.

Kort gesê:
aan jou opgawe gaan die gawe van Christus vooraf.

Om in die
klimaat van dankbaarheid goeie werke te doen, beteken:

Ek besef dat
ek niks anders meer kan of wil met my lewe nie, as dat dit ’n loflied is op my
Verlosser.

 

Dit bring
ons by die volgende.

Wat word
eintlik bedoel met die klimaat van dankbaarheid?

Laat ek
begin deur te sê dat dankbaarheid meer
is as ’n gevoel.

Dit is nie
’n swewerige saak nie.

Dis nie net
dat jy jouself o so dankbaar voel nie.

Dankbaarheid
is veral ’n houding.

’n Houding
wat bestaan uit gevoel, denke en dade.

In verband
hiermee het ons ’n gedeelte uit 1 Johannes gelees.

In hierdie
brief praat Johannes baie oor die liefde.

Wat bedoel
hy eintlik met die liefde?

Vandag se
tyd loop oor van mensliewendheid.

Wat is
mense, die politici voorop, tog lief vir die armes, die poorest of the poor.

Wat is hulle
tog begaan oor die lot van die allerarmstes.

Maar
Johannes skryf hier oor die egte liefde.

Die egte
liefde is nie ’n menslike eienskap nie.

Dit is die
vrug van Christus se werk in jou lewe.

Egte liefde
is om te stry vir God se wil, en sy gebooie te bewaar.

Egte liefde
weet van kruis dra agter Christus aan.

 

Ek noem in
hierdie verband ’n paar aanhalings uit hierdie brief:

“elkeen wat
sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword.” (1 Joh
2:5)

“Hy wat sê
dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (vers 6)

“laat ons
nie liefhê met woord of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid.” (1
Joh 3:18)

“hy wat sy
gebooie bewaar, bly in Hom, en Hy in hom.” (1 Joh 3:24)

Hierdie
aanhalings gee antwoord op die vraag: hoe moet ons God liefhê?

God liefhê
hou in dat ons dankbaar is vir die kruisoffer van sy Seun, maar dit is nie al
nie.

Die proef op
die som is of ons vervolgens dat jy ook begin lewe volgens sy wil.

As dit nie
die geval is nie, kan jy jou mond vol hê van woorde soos liefde en
dankbaarheid, maar dan is jou liefde onwaaragtig, kunsmatig.

Politici wat
hulle mond vol het van omgee vir die allerarmstes, maar terselfdertyd hulle
huis met miljoene opgradeer, is onwaaragtig.

Om God en
jou medemens lief te hê, is nie iets swewerigs nie.

Dis nie net
’n gevoel nie. Dis nie net woorde nie.

Dit is so
lewe soos sy gebooie voorskryf.

Dit is dus
’n werkwoord.

Wie God
liefhet, spring aan die werk.

Dankbaarheid
kry hande en voete as jy volgens die gebooie leef.

 

V/a 86 noem
drie aandagspunte, hoekom ’n christen se lewe anders moet lyk as die van ’n
gemiddelde persoon.

Die eerste
lê voor die hand.

Ons is
dankbaar vir die weldade, en daarom wil ons die Here prys.

Die Here
prys, dit doen jy trouens nie net op Sondag in die kerkdiens as jy sing nie.

Jy doen dit net
so goed as jy elke dag werk, studeer, skool toe gaan, en daarin die HERE se
diens en sy gebooie ernstig vat.

In 1
Thessalonisense 4:3 sê Paulus: “dit is die wil van God: julle heiligmaking.”

Dit beteken
dat jy jou daaglikse lewe toewy aan die heilige God.

 

V/a 86 noem
nog ’n rede hoekom ons goeie werke moet doen.

Naas God
prys, is dit ook om daardeur sekerheid van jou geloof te verkry.

Dit klink
dalk op ’n sirkelredenering, oftewel ’n hoender-eier diskussie.

Watter een
was eerste?

Moet jy eers
glo, en dan word die goeie werke vanself gebore?

Of moet jy
eers goeie werke doen, omdat jy op so ’n manier begin glo?

Die Bybel
kies nie vir een van hierdie twee opsies, watter een nou eerste is, jou geloof
of jou goeie werke nie.

Die Bybel
leer ons dat die twee onlosmaaklik verbonde is.

Jy kan hulle
nie skei nie.

Wie glo, is
lus om goeie werke te doen.

Wie nie glo
nie, is nie lus om goeie werke te doen nie.

En, as jy by
jouself konstateer dat jy goeie werke doen, mag jy daaruit aflei dat jy glo.

As jy moeite
het om goeie werke by jouself raak te sien, moet jy jouself afvra of jy wel
glo.

Nogmaals,
sowel geloof as goeie werke hoort in die klimaat van die dankbaarheid.

Hoekom glo
jy?

Hoekom
probeer jy jou hou aan die gebooie?

Dit is omdat
jy dankbaar is.

Dit is nie
’n sfeer van angs nie, omdat jy bang is vir God nie.

Dit is nie
’n sfeer van onsekerheid, dat jy ander nie wil teleur stel, of dit nou God is,
of jou ouers, of jou eggenoot, of jou ouderling nie.

Dit is nie
’n sfeer van twyfel nie, dat jy jouself afvra of dit wel waar is, wat in die
Bybel staan, maar dat jy dit tog maar doen, vir die wis en die onwis.

Hoekom glo
jy?

Hoekom hou
jy die gebooie?

God se wens
is dat jy dit uit dankbaarheid doen!

’n Klimaat
van dankbaarheid.

Jy hoef jou
nie te gedra soos ’n kneg van God, wat bang is vir sy Baas nie.

Jy mag jou
gedra as ’n kind van God.

Jy IS ’n
kind van God.

 

Wat kom dus
eerste, die geloof of die goeie werke?

God sê:
begin gewoon met een van die twee, dan kom die ander een ook.

En gaandeweg
sal jy meer selfvertroue kry, en sal die angs verdwyn.

Gee jouself
maar.

Dit was dus
die tweede rede hoekom ons goeie werke doen.

Naas God
prys, om sekerheid te kry van jou geloof.

 

En nou die
derde rede: om deur ons lewenswyse ook ander vir Christus te wen.

Mense wat
nie glo nie en nie kerk toe gaan nie, het dikwels hulle redes hoekom hulle dit
nie doen nie.

Dalk
beoordeel hulle kerkmense, en neem hulle halfslagtigheid waar.

Kerkmense
sit dalk vroom in die kerk op Sondag, maar op Maandag staan hulle voor in die
ry om hulleself te bevoordeel.

Mense wat
sulke dinge sê, vir hulle sou jy kon vra:

Maar ken jy
dan hoegenaamd geen christen, vir wie jy wel respek het nie?

Meestal ken
elkeen dan wel ’n persoon, wat opval deur sy lewenswandel.

Gemeente,
die wêreld sien nie vir  Christus nie,
maar hulle sien wel vir u.

Van Maandag
tot Saterdag, en ook op Sondag.

Die feit dat
dit so sleg gaan met die kerk in baie Westerse lande, is omdat die sout laf
geword het.

Die lewe van
’n deursnee christen, ook in ons land, onderskei homself nie meer genoeg van ’n
algemeen wêreldse lewe nie.

So maak jy
jouself oorbodig.

Maar ’n
godvresende lewenswandel, soos die Kategismus dit verwoord, maak indruk, hoe
dan ook.

As die kerk
nie meer indruk maak op die samelewing nie, dan is die godvresende lewenswandel
van sy lede afwesig.

Dus, laat
ons sorg dat ons lewe op orde is.

Dankbaarheid
is naamlik nie net iets swewerigs nie.

Dit was die
eerste punt.

 

(Tema: Wie
God liefhet, doen goeie werke

1       
Dankbaarheid is nie iets swewerigs nie)

 

 

2      
Dankbaarheid
verdra geen dubbelhartigheid nie

Ons kom nou
by die laaste vraag en antwoord van Sondag 32.

Op sig is
dit ’n snaakse vraag: dis soos klop op ’n oop deur.

Dat ’n
onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief, geldgierige, dronkaard, lasteraar of
rower nie die koninkryk van God mag beërf nie, dit is tog wel duidelik, of nie?

’n Bietjie
oorbodige vraag, of nie?

Gemeente,
eintlik is dit ’n vraag baie naby aan die werklikheid.

Want daar is
telkens weer die neiging, in elke kerk, om die genade van Christus goedkoop te
maak.

Asof God nie
net die sondaar, maar ook die sonde sou liefhê.

Maar so is
dit nie.

God haat die
sonde.

En wie God
liefhet, haat ook die sonde, en bely al sy sondes.

Voor God en
mense.

Ons kan nie
dieselfde bly nie.

Dis hoekom
die Bybel, en so ook in hierdie Kategismusantwoord, dikwels bepaalde sondes by
die naam noem.

Om veral
duidelik te maak: wie nie daarmee breek nie, kan nie agter God se genade
wegkruip nie.

So ’n
persoon bly buite die koninkryk.

 

Dit is dus
glad nie ’n eienaardige of oorbodige vraag nie.

Natuurlik is
die praktyk altyd minder swart-wit as die teorie.

Daar is
mense wie se huwelik nie meer is wat dit moet wees nie, ook deur eie skuld.

Daar is
mense wat deur alle stress en traumas van die lewe aan drank verslaaf geraak
het.

Daar is mense
wat die suigkrag van slegte gewoontes onderskat het, en nou daaraan vassit.

En so kan
daar nog baie voorbeelde genoem word.

Vir sulke
mense is dit nie ’n oorbodige vraag nie.

Dit hou ons
besig.

Ons besef:
ons lewe is nie altyd ’n advertensie vir Christus nie.

Ons besef
dit heel goed.

Maar hoe
bring ons verandering hierin?

Kan jy die
roer nog omgooi?

Hoe kyk God
na jou?

Het Hy jou
dalk tog al gebrandmerk as onverbeterlik?

 

Gelukkig ken
ons ons Verbondsgod nie so nie.

Hy is die
laaste wat ’n stieker op jou sal plak.

Hy is juis
die Een wat graag sien dat jy oorlog verklaar teen die sonde, waarin jy
verstrik geraak het.

Die stryd
sal dalk nog lank duur.

Maar aan God
se hand kan jy stappie vir stappie die goeie kant opgetrek word.

Soms maak
ons dit moeilik vir onsself.

Kom ons vra
hulp.

God gee vir
jou broers en susters, daar is hulpverleningsinstansies.

Gee jou
sondes, jou slegtes gewoontes toe, erken dit.

Die duiwel
fluister in jou oor dis die ergste wat jy kan doen, om toe te gee.

Sal jou hele
wêreld en jou reputasie dan nie instort nie?

Maar
Christus sê iets anders.

In swakheid
skuil jou krag.

Wie op sy
knieë gaan, sak nie deur sy knieë nie, maar ontvang juis nuwe krag.

Gemeente,
laat ons mekaar ondersteun en opbou in hierdie goeie stryd.

Want dankbaarheid
verdra geen dubbelhartigheid nie.

En
dankbaarheid is nie net iets swewerigs nie.

En ons het
mos die HERE lief, daarom wil ons goeie werke doen.

 

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)