Vir die Evangelie van Christus hoef ek my nie te skaam nie

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-11-23
Teks: 
Romeine 1 : 16
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 23 November 2014 AD, 10:15

(Openbare Geloofsbelydenis)Preek: Romeine 1:16

In ons teks word die Evangelie ’n krag van God genoem.

Paulus skaam hom nie hiervoor nie.

Want hierdie krag bring bevryding.

Bevryding vir elkeen wat die boodskap glo.

Die Evangelie, die Goeie Nuus, is dat Christus na die aarde gekom het om bevryding te bring vir mense in sonde verlore.

En tot op die dag van vandag vier ons hierdie bevryding wat gekom het.

Ons vier dit elke jaar.

Ons vier dit selfs meerdere dae per jaar.

God se bevryding word herdenk op Kersdag, Goeie Vrydag, met Paasfees, met Hemelvaat en op Pinksterdag.

Al die verskillende stappe in Christus se lewe word herdenk.

Vyf dae per jaar waarop die kerk van Christus spesiale herdenkingsdienste hou.

Sommige van hierdie dae is selfs openbare vakansiedae.

So te sien is dit nie iets waarvoor mens skaam hoef te wees nie.

En dit sê Paulus ook: ek skaam my nie vir die Evangelie nie.

Tema: Vir die Evangelie van Christus hoef ek my nie te skaam nie

-          Paulus getuig dat hy nie meer skaam is nie

-          Paulus getuig van die krag van God

-          Paulus getuig vir Jood en Griek

1          Paulus getuig dat hy nie meer skaam is nie

Nie dat dit vir Paulus vanselfspekend was nie.

Dink maar net terug aan Paulus se jeug.

Nadat die Heilige Gees op Pinksterdag uitgestort is en die apostels krag van bo ontvang het, het Petrus ’n dringende oproep aan die volk gedoen om hulle tot Jesus te bekeer.

Baie mense het toe gehoor gegee aan sy oproep.

Die bevryding het vir hulle gekom.

Maar die vyand was ongelukkig ook nog daar.

Die vyand het vasgeklou.

Satan het die leiers van die Joodse volk gebruik om die blye boodskap te dwarsboom.

Petrus en Johannes is selfs verbied deur die Joodse Raad, die Sanhedrin, om die naam van Jesus te noem.

En dit het nog erger geword.

Ons lees in Handelinge 7 dat Stefanus gestenig is.

Die vyand het bly vasklou.

En wie was daar by die steniging van Stefanus aanwesig?

Saulus, oftewel Paulus.

Hy het skaam gekry vir hierdie kettery.

Hy het hom geskaam vir sy volksgenote wat in die ban daarvan was.

Hy het hierdie mense selfs vervolg.

 

Dus, die uistpraak van Paulus in ons teks is nie vanselfsprekend nie.

Dit het nog ’n rukkie gevat voordat God hom ook bevry het.

Maar sedertdien, vanaf daardie dag waarop Jesus aan hom versky het, vandat hy ook die Heilige Gees ontvang het, was daar van skaamte geen sprake meer nie.

Christus het die verdedigingslinie van Satan ’n goeie hou toegedien.

Saulus het ’n Christen geword.

 

Nogmaals, as daar een persoon was wat hom wel vir die Evangelie geskaam het, dan was dit dus Paulus.

’n Opgeleide Fariseër, iemand wat die Christene vervolg het.

Maar na Jesus se verblindende verskyning aan hom het hy nou self die Evangelie begin preek.

Wat sou sy kollega’s eintlik van hom gedink het?

En sy familie...?

En sy eie volk...?

Sou hy ooit weer die moed gehad het om hulle in die oë te kyk?

 

En dan ontmoet ons Paulus in hierdie brief wat hy skryf aan die Romeine.

’n Brief wat veral handel oor die posisie van die Jode, sy eie volk, die volk van God van ouds.

As mens hierdie brief lees, is dit opvallend dat Paulus nie besig is om sy eie volk te vermy nie –

omdat hy hom dalk sou skaam, omdat hy dalk nie meer tuis tussen hulle gevoel het, omdat hulle hom verstoot het nie.

Inteendeel, Paulus sê: ek sou so graag wil dat hulle ook is soos ek is.

Dus, die uistpraak van Paulus in ons teks is nie vanselfsprekend nie.

Paulus skaam hom meer nie vir Christus nie.

 

Ook skaam hy hom nie om hierdie Blye Boodskap in Rome te gaan verkondig nie.

Rome, die stad van die keiser maak hom nie bang nie.

Hy sal daar gaan verkondig dat Jesus die Koning is, die – om die Griekse woord te gebruik – die Kurios – die Heer bo alle konings en keisers.

As jy die titel ‘Kurios’ vir iemand anders gebruik het as vir die keiser, het jy die risiko geloop om die doodstraf te ontvang.

Die keiser wou geen kompetisie hê nie.

Desnieteenstaande skryf Paulus uitdruklik in ons teks:

Ek skaam my nie vir die Evangelie van Christus nie.

 

Want dalk was dit so dat sommige Christene in Rome gedink het,

veral in die lig van die feit dat Paulus hulle nooit in Rome kom besoek het nie –

Paulus het verskillende sendingsreise onderneem, en elke keer het hy aangedui dat hy graag na Rome sou wou reis, maar tog het dit steeds nie gebeur nie –

dalk het die mense in Rome toe begin dink:

Paulus durf nie om na Rome te kom nie.

Hy is bang. Hy is skaam.

Hy dink dis te gevaarlik.

Met die Evangelie wat hy verkondig, naamlik dat Christus die Keiser is – die Kurios – loop hy veral in die keiserstad Rome ’n groot risiko.

 

Hierdie misverstand, hierdie verdenking, die feit dat sommige mense Paulus begin wantrou het, dit wou Paulus wegneem, direk hier aan die begin van die brief.

Hy skryf in vers 13: “Maar, broeders, ek wil julle nie daarvan onkundig laat dat ek my dikwels voorgeneem het om na julle te kom nie – en ek is tot nog toe verhinder ...”

Maar, laat dit duidelik wees, vers 15, daar is die verlange in my hart om ook aan julle wat in Rome is, die evangelie te verkondig.

Want – en dan volg ons teks – laat dit duidelik wees – mog iemand dalk daaraan getwyfel het – EK SKAAM MY NIE OOR DIE EVANGELIE VAN CHRISTUS NIE.

 

(Tema: Vir die Evangelie van Christus hoef ek my nie te skaam nie

-          Paulus getuig dat hy nie meer skaam is nie)

 

 

2          Paulus getuig van die krag van God

Nou dink jy miskien: Paulus was ’n apostel, hy was ’n geloofsheld.

Hy was vir niks en niemand skaam nie.

Hy het alles gedurf.

Maar as jy so dink, vergis jy jouself.

Die krag van Paulus het nie in sy persoonlikheid gelê nie.

Sy verlede het teen hom getuig.

Hy was ook nie die mees charismatiese persoonlikheid nie.

Hy was ook nie die beste spreker nie.

Hy kon nie met soveel oortuigingskrag redeneer as ander predikers nie.

Dus, as Paulus in ons teks skryf dat hy hom nie skaam nie,

dan is dit puur te danke aan die krag van God.

En die krag van God is die Evangelie van Christus.

Dus nogmaals, dis nie danksy sy indrukwekkende persoonlikheid, dat hy nie skaam is nie.

Dis danksy die boodskap wat hy het, die inhoud van die Evangelie, die krag wat dáárvan uitgaan.

Dieselfde geld vandag vir die jongmense wat belydenis doen.

Hoewel hulle pragtig lyk vanoggend, is dit nie uit innerlike krag dat hulle tot by hierdie punt gekom het nie.

Die krag wat hulle tot by hierdie punt gebring het, kom van buite.

Dit is die krag van die Evangelie.

 

Soos daar in Jesaja staan: wanneer God sy boodskappers uitstuur, sal hulle nie leeg tot Hom terugkeer nie.

Hulle missie sal altyd resultaat hê.

Paulus vergelyk die krag van die Evangelie selfs met God se skeppende Woord.

Sien 2 Korinthiërs 4:6 waar ons lees: “Want God wat gesê het dat daar uit die duisternis lig moet skyn – dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus  Christus.”

Soos God dus deur ’n woord te spreek alles geskape het.

So bring Hy ook ’n mens tot bekering deur sy Woord.

Die Evangelie is sy Woord.

Dit is die instrument wat bekering veroorsaak.

So sorg die Evangelie van Christus vir bevryding.

Die grootste bevryding wat die wêreld nog ooit gesien het.

Nog steeds, ook in ons tyd, werk Christus bevryding in mense se lewens oral op aarde.

Hy doen dit vanuit die hemel, waar Hy aan God se regterhand sit.

Hy sorg dat die Evangelie, die goeie nuus, by mense uitkom.

Hy eis erkenning van die feite van die Evangelie.

As jy glo in die Evangelie, as jy daardie feite, daardie heilsfeite aanvaar, word jy bevry van skuld.

 

Geliefde broers en susters, om belydenis van jou geloof te doen, is die omgekeerde van dat jy jou sou skaam vir God, vir Christus, vir jou geloof in Hom.

Van nature, van geboorte, het mense die neiging om hulle vir God te skaam.

Net soos ons voorouers Adam en Eva.

En dis begryplik.

Ons het gesondig, ons het die verbond met God verbreek.

Maar in Jesus Christus word ons nou weer met God versoen.

Hoe Christus dit gedoen het, staan in die Evangelie.

Daarvoor hoef ons nie skaam te wees nie, dis die wonderlikste nuus.

Dit bring vreugde en sin in ’n mens se lewe.

Dit gee ons sig op die ewige lewe.

Hou daarom vas aan dit wat Christus jou gee: ‘n Vader in die hemel.

Moenie jou vir Hom skaam nie.

Elke mens wat jy ontmoet, sal baat vind by die Evangelie.

Laat ons ander mens nie verhinder, omdat ons ons vir ons hemelse Vader, en vir die Evangelie, en vir Jesus Christus, en vir die kerk van Christus sou skaam nie.

 

En dan wil ek veral hierdie een aspek van die Evangelie vanoggend beklemtoon.

Julle, jongmense, is ‘n kind van God.

Dit is nie so dat jy, as jy ‘n goeie lewe lei, steeds meer kind van God word nie.

Jy is dit al.

Dit is natuurlik nie ‘n vrybrief om te sondig nie.

Maar ek sê dit vir hierdie rede: as jy een keer gesondig het, dat jy nie bang of skaam moet wees om na God toe te gaan en dit te bely nie.

God bly jou Vader, soek Hom daarom weer op, as jy gestruikel het.

As ‘n aardse vader sy kind nie in die steek laat nie, hoeveel te meer ons hemelse Vader.

Jy is onvoorwaardelik sy kind.

 

(Tema: Vir die Evangelie van Christus hoef ek my nie te skaam nie

-          Paulus getuig dat hy nie meer skaam is nie

-          Paulus getuig van die krag van God)

 

 

3       Paulus getuig vir Jood en Griek

Ons teks vervolg:

Dit is ’n boodskap van bevryding, nie net vir Jode nie, ook vir die Grieke.

Wie ook al die Evangelie ontvang, die krag van God is doeltreffend.

Paulus skryf dat hierdie voorreg weggelê is vir sowel Jood as Griek.

Hy skryf wel: eerste vir die Jood.

Hierdie opmerking bewys eintlik maar net wat ek sopas gesê het.

Kind van God wees, dis nie afhanklik van of jy wel of nie sonde doen nie.

Dink byvoorbeeld aan die Joodse volk.

‘n Groter sonde kon hulle nie gedoen het nie, want hulle het die Messias gekruisig.

Jesus Christus wat deur die hemelse Vader self gestuur is.

Sy eie eniggebore Seun.

Die Jode het Hom verwyder uit hulle samelewing.

Geen kind het nog ooit sy vader so gekrenk as wat die Joodse volk hulle hemelse Vader gekrenk het nie.

Maar desnietemin het die Vader sy afvallige verbondsvolk bly soek.

Paulus het op sy sendingsreise, in watter stad of dorp hy ook al gekom het, altyd eerste na die sinagoge gegaan.

Nie omdat hy self so graag wou nie.

Want die Jode, sy eie volk, het hom ook uitgespoeg.

Maar hy het dit op God se bevel gedoen.

God die Vader gaan soek sy verlore seun.

Nie net die een wat weggeloop het nie – die Grieke – maar ook die een wat altyd by Hom tuis gebly het, maar Hom tog nie werklik geken het nie – die oudste seun – dit is God se eie volk, die Jode.

Eerste vir die Jood – God vergeet sy kinders nie.

 

Maar dan vervolgens ook vir die Griek.

Paulus gebruik die woord Griek, maar hy skryf sy brief aan die mense in Rome.

Kon hy dan nie eerder gesê het: Romein, nie?

In die Nuwe Testamentiese spraakgebruik word die woord ‘Griek’ gebruik as ’n aanduiding vir ‘heiden’.

Dus enigiemand, of hy Griek was, of Romein, of Germaan, of Indiër.

Enigiemand wat nie deel was van die Joodse volk nie.

En daar kom by dat die Grieke vir die Jode bekend gestaan het as baie goddelose mense, egte heidene.

Die Grieke het byvoorbeeld die tempel in Jerusalem geplunder, ‘n paar eeue daarvoor.

Hulle soldate het die tempel binnegegaan, terwyl net die hoëpriester dit mog doen.

Hulle het geen enkele eerbied vir die HERE, die God van hemel en aarde, gehad nie.

God het sy volk destyds van die Grieke bevry deur Judas Makkabeüs.

Die gemiddelde Jood het gedink dat daar vir ‘n Griek geen hoop is nie.

Maar tog, vir hierdie verstokte heidene het daar dus nou ook redding gekom.

Ook die heiden, die Griek, wie ook al, wat die Evangelie hoor, en dit GLO, sal geregverdig word.

Daar is redding vir elkeeen wat glo in die Evangelie.

 

As ons hierdie teks nou toepas op vandag, naamlik dat daar redding is vir elkeen wat glo, eers vir die Jood en ook vir die Griek.

Dan kan mens dalk die beste sê dat julle, ons, vandag, ons in die posisie van die Jode bevind.

Want julle was ook al lid van God se volk vanaf julle geboorte.

So lank het julle al God se liefde en goedheid in julle lewe ervaar.

Miskien aan die begin onbewus, miskien later het julle soms daarteen geskop, soos die verlore seun uit die gelykenis wat Jesus vertel het, ook gedoen het.

En die oudste seun uit die gelykenis was al so gewoond aan sy Vader se liefde en sorg dat hy dit nie eers meer agtergekom het nie.

Maar as jy sy goedheid in jou lewe nie meer raaksien nie, omdat jy gewoond is daaraan, beteken dit nie dat Hy nie meer in jou lewe is nie.

In ons teks sê die Here dus: eers vir die Jood.

Eers vir die kinders, wat al vir jare in my huis woon.

Vir julle is Christus, sy Evangelie, ‘n krag tot redding.

Neem dit gaan. Glo daarin.

Ja ook as verbondskind van geboorte af, moet jy bewus daarvoor kies, bewus daarin glo.

En die feit dat julle vandag belydenis wil aflê, getuig daarvan dat julle bewus wil kies.

 

Maar behalwe vir julle, is die Evangelie dus ook vir die Griek.

Vir elkeen wat nog daarbuite is, nog nie kerklid nie.

Vir elkeen wat die Evangelie in geloof aanneem.

Dalk word jy ‘n boodskapper van die Evangelie, om dit vir iemand te bring wat nou nog dreig om verlore te gaan.

 

Geliefde gemeente, ons mag vandag in besonder God se goedheid proe.

Die ouer generasie sien ‘n nuwe generasie opstaan, wat in geloof die Evangelie aanneem.

Op dieselfde wyse as wat julle dit 20, of 30, 40 of 50 jaar gelede gedoen het.

Die tema van die preek is nie net op hierdie jongmense van toepassing nie, maar op ons almal.

Vir die Evangelie van Christus hoef ek my nie te skaam nie.

Dit is ‘n krag van God wat werk, generasie op generasie.

In elke generasie werk Christus weer redding, bevryding, toewyding.

Julle, jongmense, mag vandag geloofsbelydenis doen met die besef dat die Here van sy kant trou is.

Jy doen nie nou net vir die hede belydenis nie, maar vir die res van jou lewe.

As jy elke dag jou krag in Christus gaan soek, kan jy nou uit volle oortuiging ‘ja’ antwoord, vir die res van jou lewe.

Amen.

Liturgie: 

Voorsang: Ps 131:1-3
Votum
Seën
Ps 145:1
Wet
Ps 99:5
Gebed
Skriflesing: Lukas 15:11-32
Ps 145:5,10
Skriflesing: Romeine 8:31-39
Ps 145:2,4
Teks: Romeine 1:16
Preek
Sb 10:1-4
Openbare Geloofsbelydenis
Ps 134:4
Gebed
Kollekte
Sb 10:5,6
Seën