Die Seun van God boesem ontsag en respek in

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-08-24
Teks: 
Psalms 2
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 24 Augustus
2014 AD, 10;15

Voorsang: Ps 107:15,16,17

Votum

Seën

Ps 71:1,2

Wet

Ps 119:51

Gebed

Skriflesing:
Hebreërs 1

Ps 2:1-3

Teks: Psalm
2

Preek

Ps 2:4-6

Gebed

Kolleke

Ps 72:5,6,10

Seën

Preek: Psalm 2

Loop ons nie
bietjie agter as ons in die kerk veral psalms sing nie?

Die psalms
is al sulke ou liedere.

Nog van voor
Christus se geboorte.

Mens sou kon
dink: hoekom sing ons so baie psalms, terwyl hulle nie eers oor die Here Jesus
gaan nie?

Ons wil mos
liedere tot eer van Hom sing?

Ons wil Hom
mos dank vir wat Hy vir ons gedoen het?

Ons wil Hom
mos aanbid?

Loop ons nie
bietjie agter as ons psalms sing nie?

In hierdie
preek sal dit hooplik uit Psalm 2 duidelik word dat dit nie so is nie.

Die psalms
is juis bedoel vir alle tye.

En hoewel
die psalms al geskryf is voor die koms van Jesus na die aarde, sing hulle tog
oor Hom.

Dit geld ook
vir Psalm 2.

Psalms en
gesange behoort nie teenoor mekaar gestel te word nie.

As daar ’n
nuwe gesang gedig word, behoort dit juis op die fondament te gebeur wat deur
die psalms gelê is.

So het dit
met talle gesange in die verlede gebeur.

Die psalms
is die liedere wat God vir ons in sy woord gegee het.

Hulle het ’n
plek in die Bybel gekry.

Die
onderwerpe waaroor die psalms handel, is baie uiteenlopend.

Daar is
psalms oor vreugde, liefde, aanbidding, lofprysing.

Maar daar is
ook psalms oor die donker kant van die lewe:

Verdriet,
verlatenheid, rampe, siekte, oorlog.

Juis dit is
’n ekstra rykdom van die psalms.

Dit handel
oor moeilike dinge.

Waaroor
mense nie sommer altyd praat nie.

Die psalms
help ons om oor moeilike dinge te praat, en te sing.

Hierin help
die Here ons, om in hierdie lewe, wat ook sy teenslae het, alles te kan
verwerk.

Om al
singende die lewe in die oë te kan kyk.

En Psalm 2
is hiervan ’n voorbeeld.

Te midde van
alle oorlog en geweld in die wêreld, gee hierdie psalm ons ’n houvas.

Tema: Die Seun van God boesem ontsag en respek in

Wat ons in
die eerste drie verse van die psalm lees, is presies hoe die werklikheid om ons
heen is.

Soos dit nou
is, was dit vroeër ook.

Sit die
radio of televisie aan, en jy sien dit gebeur.

Nasies woel.

Volke jaag
agter nietige dinge aan.

Hulle beraam
sinnelose planne.

Wêreldleiers
posisioneer hulleself teenoor mekaar.

Maghebbers
beraam oorlogsplanne.

Hulle
probeer bondgenootskappe sluit.

En so gaan
dit, eeu in eeu uit.

Baie van ons
hier in die kerk het die koue oorlog meegemaak.

Die spanning
tussen Rusland en Oos-Europa aan die een kant, en Amerika en Wes-Europa aan die
ander kant.

Sommige van
ons het meegemaak dat die koue oorlog hier in Afrika eintlik baie warm was.

Ek dink aan
die oorlog in Angola, teen die Kubane met hulle Russiese wapens.

In die jare
’90 het die koue oorlog opgehou.

Maar vrede
het nie gekom op aarde nie.

In die jare
’90 was daar die volkeremoord in Rwanda.

In die ou
Joegoslawië, die Balkan, was daar verskriklike oorloë.

In Irak was
daar ’n oorlog, na 9/11.

Nog steeds
is dit baie onrustig in die Midde-Ooste.

En selfs die
koue oorlog tussen oos en wes lyk of hy sy kop weer opsteek.

 

Psalm 2
bestaan eintlik uit 4 dele.

Die eerste
deel is vers 1-3.

Hierdie
verse fokus op die maghebbers en tiranne.

Hulle konkel
saam teen die HERE en sy gesalfde.

As ons dan
na die tweede deel van psalm gaan, vers 4-6, hoor ons die reaksie van die HERE
self.

Daarna, in
die derde deel – vers 7-9, kom die koning wat God aangestel het aan die woord.

En dan in
die laaste deel – vers 10-12 – trek die digter ’n konklusie.

Vier dele
dus, wat ons een vir een sal behandel.

1 – die
maghebbers konkel

2 – die HERE
lag

3 – sy
Gesalfde heers oor alles

4 – die
konklusie: kniel voor sy Gesalfde.

 

Kom ons
begin nou by die eerste deel.

Die konings
en maghebbers van die aarde wat teen die HERE in opstand probeer kom.

Die digter
vra: hoekom eintlik?

Hoekom sulke
magsvertoon?

Wat wil
hulle hiermee bereik?

 

Hulle hou
raad nie net teen die HERE nie, maar ook teen sy Gesalfde.

Gesalfde is
die vertaling van die Hebreeuse woord Messias.

Ons dink dan
dadelik aan die Here Jesus, wat die Messias is.

Tog word
ander mense in die Bybel ook messiasse genoem.

Koning Saul was
byvoorbeeld ’n messias.

Hy is gesalf
deur die HERE, d.w.s. aangestel in die amp van koning.

So was daar
baie messiasse in die Ou Testament.

Wat
aangestel was om God se volk te lei.

 

God se
uitverkore volk was nie ’n groot volk nie.

Hulle was
omring deur nasies wat veel groter en magtiger was.

Die koning
van Israel het eintlik soos ’n dwergie gevoel vergeleke by die maghebbers van
Egipte, Assur, Babel, en Griekeland.

Kon hy
enigsins standhou teen hierdie magte?

Gemeente,
Psalm 2 plaas dinge in perspektief.

Wat doen
hierdie groot volke eintlik?

Wat dink
hulle wel nie van hulleself nie?

Hoekom woel
hulle?

Hoekom
beraam hulle planne teen die HERE en teen sy gesalfde?

Dink hulle
dat hulle die bande kan verbreek waarmee God hulle gebind het?

Dat hulle
die boeie kan afskud?

 

Die juiste
perspektief is egter dat die klein volkie Israel moes besef deur wie hulle
koning gesalf is.

En dat hulle
die volk van die HERE, die lewende God is.

Nie wat
mense dink, is deurslaggewend nie.

As mense ’n
situasie hopeloos vind, geld dit nie vir die HERE nie.

Hy kyk
anders na die werklikheid.

 

Dit lees ons
in die tweede deel van die psalm.

Wat dink die
HERE van al hierdie magsvertoon?

Wel, daaroor
bestaan geen onduidelikheid nie.

Hy wat in
die hemel woon, LAG.

Hy SPOT
selfs met hulle!

Die
aanduiding – wat in die hemel woon – wys op sy verhewendheid, sy almag.

Soos ons in
Jesaja 40 kan lees:

“Kyk, die nasies is soos 'n druppel aan die
emmer, en soos 'n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken. Kyk, Hy hef die
eilande op soos 'n stoffie!” (v15)

Wat dink Hy daarvan as druppeltjies en stoffies
die messiaskoning wil aanval?

Dit is vir Hom lagwekkend.

Wil hulle die Messias van sy setel stoot?

Ag kom tog!

Hy wat vanuit die hemel toekyk, moet lag.

Want wie aan die Messias kom, kry te make met
Hom, wat in die hemel troon.

Dit is hoe die werklikheid lyk.

Agter die gesalfde staan God, wat hom aangestel
het.

Sy koningskap is dus God se saak.

 

Gemeente, hoe dikwels het die Israeliete dit
destyds nie vergeet nie!

Hoe dikwels het Israel se konings, God se
gesalfdes, dit nie vergeet nie!

En hoe vinning vergeet ons dit ook nie!

Dan verkeer ons in die waan, dat ons onsself
moet beskerm.

Dat ons kompromisse moet sluit met maghebbers op
aarde.

God kan sy volk beskerm, selfs sonder militêre
mag.

Hy kan die son laat stilstaan op sy bevel.

Hy kan dit laat hael op sy bevel.

God spreek tot die nasies in sy toorn.

Hy verskrik hulle in sy gramskap.

Hoe spreek God eintlik tot die nasies?

Dit is iets wat elke dag gebeur.

Deur sy skepping.

Deur sy leiding van die geskiedenis.

God se stem klink in die daaglikse wonders van
geboorte, gesondheid, seisoene.

God se stem klink in die rampe, aardbeweings,
oorstromings.

Hy verskrik die volke in sy gramskap.

As Hy dus ’n koning gesalf het, hoef die nie
bang te wees nie.

Dawid het dit in die loop van sy lewe leer
begryp.

Aan die einde van sy heerskappy het Dawid
gesing:

“Aan U, HERE, kom toe die grootheid en die mag
en die heerlikheid en die roem en die majesteit, ja, alles in hemel en op
aarde; aan U, HERE, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor
alles.” – 1 Kronieke 29:11

Hierdie besef maak ’n mens rustig.

En dit is die bedoeling van Psalm 2.

Ook vir ons vandag.

Psalm 2 is eintlik ’n lied oor die ware Messias.

Daar was baie messiasse in die Ou Testament.

Profete, priesters, konings wat deur God gesalf
is.

Maar hulle het almal mankemente gehad.

As daar ooit ’n Messias was wat sy taak op aarde
volkome gehoorsaam en diensbaar uitgevoer het,

was dit die Here Jesus.

Hy het Psalm 2 vervul.

Psalm 2 sing oor die ideale Messias.

Hy was volkome gehoorsaam.

Hy het self nie sondes gehad nie.

Hy was volmaak geskik vir sy taak.

 

Dit sien ons in die derde deel van hierdie psalm
– verse 7-9.

Want hier kom die Messias self aan die woord.

Net om te herhaal: in die eerste deel van die
psalm was die aardse maghebbers aan die woord.

In die tweede deel was dit God in die hemel.

Nou, in die derde deel, is die Messias self aan
die woord.

Hy begin deur die aandag te vestig op die
besluit van God in die hemel.

Hy het naamlik gesê: “U is my Seun, vandag het
Ek self U gegenereer.”

Hierdie spreekwyse was in die Midde-Ooste
gebruiklik.

Naamlik dat die koning ’n seun van die gode
genoem is.

Geadopteer, of aangeneem deur die gode vir ’n
belangrike taak.

Die lewende God sê dit hier oor sy gesalfde:

U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer,
oftewel verwek.

 

Dit is egter nie die enigste wat oor hierdie
vers gesê kan word nie.

Ons weet naamlik dat hierdie opmerking ’n baie
dieper betekenis het.

Toe hierdie psalm geskryf is – moontlik deur
Dawid – het hyself miskien nog nie eens ’n idee gehad watter ryke betekenis
daar in hierdie woorde verborge gelê het nie.

Vandag mag ons dit wel weet.

Vers 7 – vandag het Ek U gegenereer, U verwek –
is nie maar net ’n ou Oosterse formule nie.

In hierdie teks praat God eintlik oor die
toekoms.

Hy praat oor die ware Messias wat sou kom.

‘n Gesalfde wat nie net deur die gode aangeneem
is nie.

Nie net ’n aangenome seun van God in die hemel
nie.

Maar God se eie geliefde Seun.

Dws uit die hemel self.

Jesus Christus, Seun van die Vader, op Hom is
hierdie sin naadloos van toepassing:

“U is my Seun, vandag het Ek self u gegenereer.”

Wat hier gesê word, pas presies by die Here
Jesus.

By sy posisie, en by wat Hy gedoen het.

Neem byvoorbeeld vers 8:

“Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel
en die eindes van die aarde as u besitting.”

Daar is slegs een oor wie hierdie vers kan
handel, en dit is die Messias op die hemelse troon, die Here Jesus.

Hy wat self gesê het vir sy dissipels, vlak voor
sy hemelvaart:

“Aan My is gegee alle mag in die hemel en op
aarde.” (Mattheüs 28:18)

 

Die Nuwe Testament leer ons selfs heel
eksplisiet dat hierdie Psalm in Christus vervul is.

“Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: U
is my Seun, vandag het Ek U gegenereer?” – Hebreeërs 1:5.

Ons het hierdie hoofstuk nounet gelees.

Die Here Jesus, wat na die aarde gekom het,

wat van al sy hemelse heerlikheid afstand gedoen
het, om ons te red.

Hy het Homself verneder, om ons te verhoog.

Die duiwel het Hom in hierdie periode van
vernedering probeer versoek.

Die duiwel het Hom aan sy ou heerlikheid in die
hemel herinner, waarvan Hy voor sy missie na die aarde moes afstand doen.

Die duiwel het na Hom gekom toe Hy in die
woestyn was en baie honger en dors was (Mattheüs 4).

Die duiwel het Hom uitgedaag: ek sal U al die
koninkryke van die wêreld gee, as U voor my kniel en my aanbid, het die satan
getreiter.

Maar Jesus het gehoorsaam die lydensweg gekies.

Hy het Homself verneder.

En dit was eers na sy verskriklike kruisdood en
na sy opstanding, dat Hy kon uitroep:

“Aan My is gegee alle mag in die hemel en op
aarde.” (Mattheüs 28:18)

Ja die eindes van die aarde is sy wettige
eiendom.

Die Messias het dit verdien.

Nou regeer Hy op sy hemelse troon.

En ons sien dit wat in vers 9 staan, rondom ons
gebeur.

“U sal hulle verpletter met ’n ysterstaf, U sal
hulle stukkend slaan soos ’n erdepot.”

In hierdie vers word duidelik hoekom God lag.

Hoekom Hy spot met die arrogante mense.

Want die Messias sal korte mette met hulle maak.

Met elkeen wat teen Hom opstaan.

 

Gemeente, dit is baie belangrik wat die psalm
ons wat dit betref leer.

’n Lied vol van aanbidding, vol van ontsag vir
die Here Jesus.

Hierdie psalm leer ons dat ons aanbidding nooit
oneerbiedig mag word nie.

Psalm 2 is nie ’n deursnee geestelike lied nie.

Dit gaan nie net oor Jesus se liefde nie.

Dit sing nie net oor Jesus wat jou vriend is
nie.

Sowel die woorde, en dit geld ook vir die
melodie, dra eerder ’n gevoel van ontsag en van eerbied oor.

Dit gee ons sig op Christus se grootheid en sy
almag.

Laat ons die grens van eerbied nie oorskry nie.

Nie in die manier hoe ons met Hom praat in ons
gebed nie,

nie in die liedere wat ons vir Hom sing nie.

Selfs nie in die melodie nie.

As dit goed is, moet die melodie ’n houding van
eerbied juis versterk.

En ons by sy grootheid bepaal.

Laat ons nie ’n eensydige beeld van ons Heiland
hê nie.

Hy is die Messias, Hy is almagtig.

Vers 9 sê oor Hom:

“U sal hulle verpletter met ’n ysterstaf, U sal
hulle stukkend slaan soos ’n erdepot.”

Mense wat leef sonder eerbied vir die Messias,
wat selfs grappies oor Hom maak, wat selfs sy naam misbruik, die naam van ons
Here Jesus Christus,

hulle sal met sy ysterstaf te make kry.

Volke wat sy evangelie nie aanvaar nie, slaan Hy
stukkend soos ’n erdepot.

Ja ook vandag is daar oorloë, dit hou nooit op
nie.

In ’n oorlog is dit nie altyd maklik om te
bepaal wie skuldig is en wie nie.

Ons kan die gang van die wêreldgeskiedenis
dikwels nie verklaar nie.

Maar ons weet dat die Messias op die troon sit.

Hy lei dinge soos dit Hom behaag, Hy stuur die
geskiedenis na sy eindpunt, die voleinding van alle dinge, die herskepping van
die aarde, die finale verbanning van satan en sy trawante.

 

In die laaste deel van die psalm, vers 10-12,
gee die digter ons sy advies.

“Wees dan nou verstanding, o konings;

laat julle waarsku, o regters van die aarde!”

Onderwerp julle aan die HERE met diep ontsag.

Kus die Seun, dat Hy nie toornig word nie.

In die ou Midde Ooste was dit die gewoonte, as
onderdane voor die koning verskyn het,

dat hulle gekniel het, selfs plat op die grond,
en die koning se voete gesoen, gekus het.

Dit was ’n teken van absolute onderwerping en
respek.

Hiertoe word ons opgeroep.

Kus die Seun.

Toon, deur sy voete te kus, absolute onderwerping
aan hierdie groot koning!

Besef hoe magtig Hy is, moenie ’n oneerbiedige
houding teenoor Hom aanneem nie.

“want gou kan sy toorn ontvlam.” (vers 12)

 

Hierdie advies, hierdie oproep kom tot ons, tot
jou en my,  vandag, vanuit Psalm 2.

Onderwerp jou aan die Here Jesus, die Messias,
met diep ontsag.

Hou rekening met Hom.

Laat sy wette jou lewe bepaal.

Hy regeer oor jou.

As sy toorn ontvlam, is dit klaarpraat.

Hierdie oproep gaan ook uit aan alle regeerders,
alle politici op aarde.

Moenie Hom toornig maak nie, sodat julle nie
vergaan nie.

Die mense in die parlement, en alle ministers en
presidente, laat hulle goed kennis neem van hierdie psalm.

Kom tot insig, maghebbers van die aarde!

Laat jou vermaan.

Onderwerp jou.

Kus die voete van Hom wat op die troon sit.

Sonder Hom is jy niks nie.

Dit is ons bede dat alle Afrikaleiers dit ook
goed ter harte neem.

Afrika staan bekend as die kontinent waar die
son kragtig en helder skyn.

Maar Christus op die troon hoef maar net een
woord te spreek, en dan kom die son nie op nie.

Christus op die troon hoef maar sy vinger te
roer, dan sidder en bewe die kontinente.

Christus hoef maar sy hand te wuif, en dan bly
die reënseisoen oor ons kontinent weg.

Hy is die een wat reën en wasdom skenk.

Hy is die een wat nuwe lewe skenk.

Alle natuurwette is aan Hom onderworpe.

Kus sy voete.

Toon jou onderdanigheid.

 

Gemeente, so help hierdie lied ons om alles in
die regte perspektief te sien.

Die grotes van die aarde is maar stoffies aan
God se weegskaal.

Hulle kom en gaan.

As hulle tyd verby is, blaas Hy hulle van hulle
plek af weg.

Soms mag ons as gelowiges voel of ons in die
minderheid is.

Maar, besef dan, daar staan ’n sterke Held aan
ons kant.

Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil.

So sluit die psalm af.

Hierdie laaste sin uit die psalm leer ons dat
ons nie bang vir Hom hoef te wees nie.

Jy mag by Hom skuil.

Op hierdie aarde het die duiwel, en alle tiranne
en maghebbers nie onbeperkte mag nie.

Christus is aan bewind, en jy mag by Hom skuil.

Die Seun van God boesem ontsag en respek in.

Hy sal sorg dat daar ’n toekoms is vir wie by
Hom skuil.

Soos Hy in die Bergrede gesê het:

Salig is die sagmoediges, want hulle sal die
aarde beërwe (Mattheüs 5:5).

 

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)