Ons tye is in God se hand

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-12-31
Teks: 
Openbaring 12 : 14
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA
& PRETORIA, 31 Desember 2014 AD, 18:30

Voorsang: Ps 134:1-4

Votum

Seën

Ps 18.1

Gebed

Skriflesing: Openbaring 12

Sb 45:1,2,3

Teks: Openbaring 12.14

Preek

Ps 18:4,7,9

Gebed

Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Sb 45:10,11,12

Seën
Preek: Openbaring 12:14

Hoe kom dit dat ‘n jaar 365 dae het?

Dit het, as ek goed onthou, met die son
te make.

Of eintlik, met die baan wat die aarde
rondom die son volg.

Die stand van die aarde ten opsigte van
die son.

Ons lewe in ’n sogenaamde sonnejaar.

’n Sonnejaar is, om presies te wees,
bietjie langer as 365 dae.

Eintlik hoort daar nog ’n kwart dag by.

Daarom word daar elke vier jaar ’n
ekstra dag ingevoeg in die maand Februarie.

’n Skrikkeljaar noem ons dit.

En selfs dan is dit nog nie heeltemal
akkuraat nie, maar daaroor gaan ek nou nie verder uitwei nie.

Vroeër, in die tyd van die Bybel, het
die Israeliete nie by ’n sonnejaar gelewe nie.

Hulle het by ’n maanjaar gelewe.

’n Maanjaar het ook uit 12 maande
bestaan.

Maar elke maand was van nuwe maan tot
nuwe maan.

Dit klink dalk snaaks, maar dit is wel
so dat ’n maanjaar nie presies gelyk is aan ’n sonnejaar nie.

’n Maanjaar is minder presies.

Soos u dalk weet, die tyd van ’n nuwe
maan tot die volgende nuwe maan is minder as die 30 of 31 dae maande wat ons ken.

En dus het dit vroeër soms gebeur dat
daar nie net ‘n skrikkeldag aan ’n jaar toegevoeg moes word nie, maar ’n hele
skrikkelmaand.

Die koning het dan bepaal, op advies
van sy geleerdes, dat ’n jaar ’n ekstra 13e maand moes bykry.

Met die bedoeling om, wat die tyd
betref, weer in lyn te kom met die seisoene.

Sodat dit nie na ’n ruk so sou wees dat
die maande deurskuif na ander seisoene nie,

en dat Desember byvoorbeeld in die
winter sou val en Junie in die somer nie.

In elk geval, so het mense deur die eeue
geprobeer om die tydsorde wat daar in die skepping opgesluit lê, onder woorde
te bring.

Woorde soos ure, dae, weke, maande,
jare ensovoorts.

As aardbewoners kom ons agter, uit die
skepping en uit die Bybel, dat God ’n bepaalde ritme geskape het.

Dat die tyd nie net bestaan uit die
aaneenskakeling van oomblikke nie.

Maar dat daar sprake is van siklusse.

Dag en nag, weke, maande, jare.

Winter, somer, lente, herfs.

 

En ook leer ons uit die Bybel dat die
tyd nie toevallig is nie.

Maar dat ons tye in God se hand is.

Dat Hy met al die tyd wat Hy ons in ons
lewe skenk, ’n duidelike bedoeling het.

Dit was al so in die paradys.

Dit is nie minder die geval na die
sondeval nie.

Sedertdien kan mens oor elke dag wat
aan jou lewe toegevoeg word, praat van genadetyd.

Met elke nuwe dag wat Hy aan die
wêreldgeskiedenis toevoeg, het hy ’n spesiale bedoeling.

Ons lewe in die tyd.

Ons kan niks aan die loop van die tyd
verander nie.

Maar God staan bo die tyd.

Die tyd is deur God geskape.

Vir Hom is duisend jaar soos een dag en
een dag soos duisend jaar.

Hy kan die tyd inkrimp of uitrek, soos
Hy wil, na gelang Hy dit noodsaaklik ag.

Dit kan ons as mense nie doen nie.

Ons is oorgelewer aan die
onverbiddelike gang van die tyd.

Tog hoef dit ons nie wanhopig te maak
nie.

Want ons besef dat die Skepper, wat in
Christus ons Vader geword het, die tyd in sy hande het.

En dit bring rus in ’n opgejaagde
menselewe.

Tema: Ons tye is in God se hand

Met hierdie besef moet u ons die teks
lees.

Aan die vrou is die twee vlerke van die
groot arend gegee om na die woestyn te vlieg, na haar plek, waar sy uit die
gesig van die slang onderhou word, ’n tyd en tye en ’n halwe tyd.

Voordat ons nader na die betekenis van
die teks kyk, eers nog ’n paar woorde oor die konteks.

In Openbaring 12 kry ons in voëlvlug
die hele panorama van die wêreldgeskiedenis te sien.

Die geskiedenis van die groot stryd
tussen goed en kwaad.

Hoe die vrou, simbool vir God se kerk
in Ou en Nuwe Testament, ’n kind baar.

Dit is ’n verwysing na ons Heiland
Jesus Christus.

Hoe hierdie kind weggevoer word na God
en sy troon.

Verwysing na sy hemelvaart.

Hoe die draak, dit is die duiwel, op
die aarde gegooi word vanuit die hemel.

Daar mag hy sedert Christus se
hemelvaart nooit meer kom nie.

Hoe die draak nou konsentreer op die
vrou en haar nakomelinge.

Dis ’n verwysing na die kerk van die Christus.

Om die kerk te vervolg, om haar lewe so
suur moontlik te maak, om te probeer haar saam in die afgrond in te sleur.

Dit staan in die gedeelte wat ons
gelees het.

Toe die draak sien, dat hy op die aarde
neergewerp is, het hy die vrou vervolg.

 

Hy het dit gedoen en hy doen dit op
alle moontlike maniere.

Ons lees in ons teks dat God aan die
vrou ’n veilige plek in die woestyn gegee het.

Maar ook daar het die slang – metgesel
van die draak – die vrou probeer bereik.

Die ou slang van Genesis 3 het probeer
om met ’n watervloed die vrou weg te spoel uit die woestyn.

In die rotsagtige woestyn van Israel
kon daar soms skielik fratsvloede wees, vergelykbaar met die fratsvloede wat
soms in die Karoo voorkom.

Dalk onthou sommige van u nog die Laingsburgvloed
van 1981.

Met so ’n vloed waarteen mens omtrent
niks kan begin nie, wou die slang die kerk wegspoel.

Maar gelukkig, die aarde het die vrou
te hulp gekom.

Die aarde het sy mond oopgemaak en die
rivier ingesluk.

Al die water het skielik in ’n groot
rotsskeur verdwyn en die kerk het ongedeerd gebly.

Reken maar dat die draak nou eers
woedend was!

Ons lees: hy het weggegaan om oorlog te
voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis
van Jesus Christus hou.

 

Gemeente, dit is dus die konteks.

Die vrou en haar nageslag, dit is
Christus se kerk, bevind hulle in ’n tyd van vevolging, vanaf die oomblik wat
Christus op die troon in die hemel plaasgeneem het.

’n Tyd van benoudheid, dis wel
duidelik!

 

Nou gaan ons fokus op vers 14.

Ons lees ons teks met die volgende
vraag in ons agterkop:

Het die volgelinge van Christus dit nou
swaarder begin kry sedert Hy op die hemelse troon plaasgeneem het?

Mens sou eintlik anders verwag?

Dat, noudat Christus die septer in
hande het, daar nou ’n tyd van verademing kom vir die kerk...

Wel, vers 14 laat sien dat die stryd
aan die een kant hewiger raak.

Die duiwel gaan rond soos ’n brullende
leeu.

Hy het nog min tyd oor, hy is duidelik
besig om te verloor.

In die nou gedryf, doen hy die snaakste
dinge.

Maar die kerk moet haarself rustig hou,
koelkop bly, nie agter al sy verleidinge aanloop nie.

Sy ontvang van God die twee sterk
vlerke van ’n arend.

 

Mens dink dan onwillekeurig terug aan
wat die Here vir sy volk Israel gesê het destyds na die bevryding uit Egipte,
toe hulle veilig in die woestyn aangekom het, by die berg Sinaï:

Exodus 19:4 – Julle het self gesien wat
Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en
julle na My toe gebring het.

Eintlik is God dus die magtige vlerke
onder sy kerk.

Die HERE dra sy volk.

Hy bring hulle na die woestyn.

As ons die woord woestyn hoor, dan dink
mens meestal aan ’n sandvlakte met ’n skroeiende son – ’n lewensgevaarlike plek
om in te verdwaal.

Tog word dit nie hier met die woestyn
bedoel nie.

Johannes gebruik in die Openbaringboek
baie beeldtaal.

Woestyn staan simbool vir iets.

Hoewel dit ’n verlate en onherbergsame
gebied is, staan dit hier simbool vir ’n plek waar die kerk veilig kan wees, naby
God.

’n Plek van afsondering.

Dan moet u weer terugdink aan die
uittog van Israel uit Egipte.

Want na hierdie geskiedenis verwys
Christus self in sy Openbaring aan Johannes.

Met beelde uit die Oudtestamentiese tyd
beskryf hy die situasie waarin Christus se kerk haarself bevind.

Toe Israel in die woestyn by die berg
Sinaï aangekom het, het hulle aangekom op ’n veilige plek.

Daar was geen bedreiging meer van die
kant van die Egiptenare nie.

Hulle was nou op hulleself, baie naby
God.

Die sataniese poging van die Farao om
die volk te vernietig, het misluk.

Aanvanklik met die moord op alle baba
seuntjies.

En toe dit misluk en al die plae
uitgebreek het, het Farao die volk teen die see vasgedryf.

Maar ook toe het die aarde die vrou te
hulp gekom.

God het die see in twee geskeur sodat
die volk droogvoets daardeur kon trek.

En presies dieselfde, openbaar  Christus aan Johannes, sal nou ook ook weer
gebeur!

Hierdie keer gebruik satan nie die
Farao nie, maar die slang wat ’n vloedgolf water uit sy bek spoeg om die kerk
te laat versuip.

Maar weer kom die aarde die kerk te
hulp.

Die aarde maak sy mond oop, ’n krater verswelg
die vloedgolf.

Die vrou kan droog en veilig op haar
plek bly.

En daar word sy deur God self onderhou,
buite die gesig van die slang.

Ook hier moet mens terugdink aan die
woestyntyd.

Daar het God sy volk Israel persoonlik
onderhou.

Manna uit die hemel, genoeg vir elke
dag.

En water uit die rots.

Daar by die Sinaï, waar hulle die
eerste tyd laer opgeslaan het, was hulle buite die gesig van die wrede Egiptenare,
hulle slawedrywers, wat hulle babatjies wou doodmaak.

Daar was hulle veilig onder God se
hoede.

En presies dieselfde beloof God nou
hier aan die vrou en haar nageslag – sê maar die kerk van die nuwe verbond.

Hier in die woestyn word sy deur die
bruidegom self onderhou.

Hy wat op die troon sit.

Die ware brood ontvang sy.

En die lewende water.

Water uit die rots wat Christus is (1
Kor 10).

Net soos Israel, bevry uit die slawerny
van Egipte, so is die kerk bevry van die slawerny aan sonde, wêreld en duiwel.

Sy is nou op ’n plek, waar sy veilig is
vir die aanvalle van die draak.

’n Plek waar sy asem kan skep, nuwe
kragte kan versamel.

En dit vir ’n tyd, tye en ’n halwe tyd,
soos daar in ons teks staan.

 

Hierdie uitdrukking is ontleen aan die
profeet Daniël (Dan 7:25; 12:7).

Dink aan Daniël 7: die profesie oor die
vierde dier.

Daar staan in vers 25-26:

“hy sal woorde spreek teen die
Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer
om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ’n
tyd en tye en die helfte van ’n tyd. Maar die gereg sal sit, en hulle sal hom
die heerskappy ontneem om dit vir goed te verdelg en te vernietig.”

En in Daniël 12:7:

“Toe hoor ek die man, met linne
bekleed... en hy het ... gesweer by die Ewig-Lewende: ’n Tyd, tye en ’n halwe
tyd, en as hulle die mag van die heilige volk geheel verstrooi het, sal al
hierdie dinge vervul word.”

Hierdie was ’n profesie wat Daniël mog
uitspreek oor die moeilike tye wat vir die volk op koms was, as gevolg van die
Griekse onderdrukking.

Dit sou ’n tydsduur wees van ’n tyd,
tye en ’n halwe tyd.

Hiermee is bedoel: ’n jaar, en twee
jare, en ’n halwe jaar.

In totaal dus drie en ’n halwe jaar.

In daardie tyd moes baie Jode op die
vlug slaan, die woestyn in.

Die verskriklike tyd onder die Griekse
heerser Antiochus die vierde.

Ons lees hieroor in die apokriewe boek
Makkabeërs (2:29)

En wat was nou eintlik die strekking
van hierdie profesie van Daniël?

Daniël het aangedui dat die Jode ’n
swaar tyd tegemoet gaan, maar dat hierdie tyd nie ewig sou duur nie.

Dit sou ’n duidelik afgebakende tyd
wees.

God sal die vyand nie vir ewig sy gang
laat gaan nie.

’n Tyd, tye en ’n halwe tyd, en dan is
dit verby met die onderdrukking.

 

En wat sien ons nou hier by Johannes in
Openbaring?

Soos ons ondertussen gewoond is wat
betref die Openbarings wat aan hom gegee is en wat hy op skrif gestel het in
hierdie boek, word daar steeds beelde uit die Ou Testament ontleed, en word
daar steeds terugverwys na gebeurtenisse uit die Ou Testament.

Dink maar aan die uittog uit Egipte,
die deurtog deur die Rooi See, die verblyf in die woestyn by die Sinaï.

En op dieselfde wyse word nou in ons
teks die bekende uitdrukking van Daniël gebruik:

’n tyd, tye en ’n halwe tyd.

Maar Christus pas dit hier toe op ’n
nuwe situasie: die kerk in die Nuwe Testament.

In die eerste plek skryf Johannes aan
die vroeg Christelike gemeentes, die sewe kerke in Klein-Asië, van Efese tot
Laodicea.

Hy bemoedig hierdie kerke.

Die tyd van onderdrukking, vervolging en
diskriminasie wat julle deurgaan, is ’n afgebakende tyd.

Christus sal nie toelaat dat sy bruid
omgebring word nie.

Hou moed!

Nog ’n tyd, tye en ’n halwe tyd, en dan
is dit verby.

In die tweede plek bemoedig Christus
die kerk van die hele Nuwe Testamentiese tydperk.

Hou moed!

Die tyd wat die duiwel rondgaan soos ’n
brullende leeu op aarde is ’n afgebakende tyd.

Eintlik het die satan nou al sy langste
tyd gehad.

Hou vol!

Dit is nog ’n tyd, tye en ’n halwe tyd,
en dan is dit verby met die draak.

 

Die tema van hierdie preek is: ons tye is in God se hand.

God staan bo die tyd, Hy knee die tyd
volgens sy wens.

Vir Hom is die tyd nie ’n eindelose
aaneenskakeling van minute nie.

Alle tyd, elke nuwe dag wat Hy skep,
dien ’n doel.

As Christene mag ons dit naspreek.

Jou tyd, en my tyd op aarde is nie
sinloos nie.

Ek weet dat my lewe, my bestaan,
inbegrepe is in God se tyd.

Dit geld ook vir die kerk van Christus
op aarde.

Dit is nie ’n toevallige kulturele
verskynsel nie, iets wat oor enkele eeue dalk sal uitgesterf het nie, gehawend
deur die tand van die tyd.

Christus se kerk is, net soos Christus,
nie onderhewig aan die tyd nie.

Dit is juis andersom!

Die tyd is genadetyd.

Die blote feit dat daar tyd is, is te
danke aan wat Christus met sy kerk wil bereik.

Die tyd staan ten dienste van die kerk
en koninkryk!

Elke nuwe dag wat God skep, doen Hy ter
wille van sy kerk.

Sodat Christus uit die menselik geslag
kan vergader die wat die Vader aan Hom gegee het.

Elkeen wat tot geloof en bekering kom,
op gehoor van die Evangelie.

Die duiwel het nie vry spel op aarde
tot in oneindigheid nie, sy tyd is afgebaken.

En so sal die geslagte op hierdie aarde
ook nie tot in oneindigheid deurgaan nie.

God het die tyd self afgebaken.

’n Tyd, tye en ’n halwe tyd!

Tot die bruilofsaal vol is.

Hoe meer mense, hoe groter die fees!

En so dring die tyd, want die jongste
dag kom steeds digterby.

 

Ek dink dit is een van die dinge
waaroor mense dikwels twyfel.

Kom die jongste dag nog wel ’n keer?

Is dit nie net maar ’n illusie dat
hierdie gebroke wêreld nog ’n keer ’n laaste dag sal belewe nie?

Dat Jesus sal terugkom?

Ons kan soms behoorlik hieroor twyfel,
en dit kan mens bang maak.

Eksistensiële twyfel oor die toekoms.

Sal dit alles wel waar wees?

Dis maar soos ons as mense is, ons
twyfel gou, ons ken nie die toekoms nie.

 

Maar, geliefde, juis dan mag ek u
oproep om vas te gryp aan Christus se Openbaring.

Sy betroubare Woord uit die verlede oor
die toekoms.

Ons kan nie die toekoms voorspel nie.

Maar God het wel vir ons ’n houvas
gegee – in die verlede.

Christus, die vleesgeworde Woord, het
hier op aarde gewoon.

Christus het opgestaan, as mens uit die
dood.

Die Christus wat tot ons spreek, vandag
hier in die boek Openbaring.

Hy sê vir jou, ook aan die vooraand van
’n nuwe jaar:

Hou moed, my bruid!

Julle tye is in my hand!

Dit is ‘n afgebakende tyd.

Tyd, tye en ’n halwe tyd.

Moenie jou kwel asof jou bestaan, en
die kerk se bestaan, op aarde sinloos is nie.

Moenie jou sorge maak dat die
gebrokenheid nooit opgelos sal word nie.

Moenie jou sorge maak oor die duiwel,
asof hy nog alles sou kon doen wat hy wou nie.

God sien alles van bo af, Hy sien die
einde naderkom.

Dit duur nie meer so lank nie.

Ek weet dat my Vader nie talm met die
nuwe hemel en aarde nie.

Ons tye is in sy hand.

Dit geld ook vir die jaar 2015.

 

Begin gewoon met ’n nuwe jaar.

Vervul jou roeping, wat die HERE gee.

En weet, alles wat jy hierdie jaar gaan
doen, of dit werk is, huiswerk, studeer, opvoed, trou, kinders kry, werk of
vakansie hou, wat ook al, alles wat jy doen in sy naam, dra ewigheidswaarde.

 

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)