Die HERE leer sy kinders om Hom en sy planne te vertrou

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-03-23
Teks: 
Génesis 26 : 2-5
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 23 Maart 2014 AD, 10:15

Liturgie:

Votum

Seën

S: Ps
8:1,3,4

Wet

S: Ps
25:4,5

Gebed

Skriflesing:
Genesis 12:10-20

S: Ps 4:1

Skriflesing:
Genesis 26

S: Ps 4:2,3

Teks:
Genesis 26:2-5

Preek

S: Ps
81:12-15

Gebed

Kollekte

S: Sb 43:1,6

Seën

Tema: Die HERE leer sy kinders om Hom en sy planne te vertrou

1                  
Met val en
opstaan het Abram geleer

2                  
Met val en
opstaan het Isak geleer

 

1      
Met val en
opstaan het Abram geleer

Ons het die
geskiedenis van Abram gelees, hoe hy met sy familie na Egipte afgereis het.

Die rede wat
genoem word was die hongersnood.

Net soos in
ons land, geld vir die land Kanaän dat die reën nogal onvoorspelbaar is.

Soms kan dit
’n seisoen goed reën, dis nou in die winter, want Kanaän is ’n
winterreënvalstreek, of ’n Mediterreense streek, net soos dit by ons in die
Kaap die geval is.

Maar dit kan
ook gebeur dat die reën ’n seisoen omtrent heeltemal uitbly.

In Egipte
was dit anders.

In Egipte is
daar amper geen reën nie, die hele jaar deur.

Maar Egipte
het die Nylrivier, wat die water uit verre lande diep in Afrika bring, daar
waar daar ’n oorvloed aan reën is.

Dus as daar
droogte en hongersnood was, is die land Egipte nie werklik geaffekteer nie.

Die rivier
bring eintlik altyd water, soms meer, soms minder, maar tog die hele jaar deur.

Abram het na
Egipte getrek met sy familie.

Abram was
bekend daarvoor dat hy baie vee gehad het.

Die vee het
weiding nodig gehad.

Met geen
reën is daar ook te min weiding.

Dit was dus
vir Abram ’n probleem.

 

Maar Abram
het nog ’n ander probleem gehad.

Sy vrou was
baie mooi.

En in
daardie dae kon ’n koning enige vrou vat wat hy wou hê.

Die koning
van Egipte, die Farao, het baie vroue gehad.

Tog was
Abram bang dat hy ook nog sy vrou sou
vat.

Die feit dat
Abram bang was, was nie soseer omdat hy omgegee het vir sy vrou nie.

Hy was
eerder self bang, bekommerd oor sy eie lewe.

Hy was bang
dat die koning hom dood sou maak.

En daarom
het hy, terwyl hulle regmaak om na Egipte te vertrek, sy hele huishouding die
bevel te gee om ’n leuen te vertel.

’n Leuen, oftewel
’n halwe waarheid, wat is eintlik die verskil?

Sarai is nie
sy vrou nie, maar sy sussie.

Abram en
Sarai was mos halfbroer en halfsuster.

Hulle sê mos
niks verkeerd nie.

En so het
dit gebeur.

 

Die
hofdienaars van Farao het Sarai inderdaad opgemerk, en hulle het haar by Farao
aangeprys.

Dit was
hulle werk, om op soek te wees na talentvolle dames vir Farao se harem.

Hulle het
haar daarom saamgevat in die paleis in.

 

Nou hoe het
Abram hierop gereageer?

Om die
eerlike waarheid te sê, ek dink dat Abram redelik in sy noppies was.

Sy
plannetjie het gewerk.

Die skuif na
Egipte was toe agteraf glad nie so sleg nie.

Ons lees in
vers 16: Farao het goed gedoen aan Abram om haar ontwil.

Wel te
verstane: om sy ‘suster’ se ontwil.

Deur hierdie
leuntjie, oftewel halwe waarheid, het Abram nog ryker geword.

Ons lees: hy
het kleinvee, beeste, esels, slawe en slavinne, eselinne en kamele van die
Farao gekry.

Ons sou
vandag hier in Afrika sê: hy het baie motorvoertuie van die president gekry,
omdat hy die broer van die president se vrou is.

Miskien was
Abram selfs trots.

Miskien het
hy gedink: ek is ’n goeie sakeman!

’n Sakeman
vertel nie altyd die waarheid nie, in elk geval nie die hele waarheid nie.

Dit bring
vir hom finansiële voordeel as hy soms ’n leuntjie vertel.

 

Maar,
gemeente, wat het God oor dit alles gedink?

Hoe moet ons
hierdie gebeure bekyk vanuit God se perspektief?

Die feit dat
Abram na Egitpte uitgewyk het, die vraag of dit werklik nodig was om die
beloofde land te verlaat.

En dan nog
die feit dat Sarai in die Farao se harem beland het...

Wel, dit is
duidelik, Abram se huwelik het hierdie emigrasie nie oorleef nie.

Altans, op
daardie stadium is die huwelik verbreek, en as God nie ingegryp het nie, sou
dit waarskynlik so gebly het.

Abram was
skuldig omdat hy sy vrou moedswillig in ’n gevaarsituasie gebring het.

En ook Sarai
en die Farao was skuldig aan owerspel.

Maar
gemeente, vanuit God se perspektief is die volgende nog erger:

Naamlik dat
God se plan nou in gevaar was.

Onthou u nog
dat God vir Abram geroep het uit Ur, om na die beloofde land te gaan?

Ons lees dit
in hfst 11 en die begin van hfst 12.

Hy moes sy
land en familie en ook sy vader se huis verlaat.

Sy vader se
huis, dit het ook ingehou: die afgode wat in sy pa se huis gedien is, die moes
hy ook agter hom laat.

In die nuwe
land, waarheen God hom gebring het, moes hy slegs die ware God dien.

Maar nou, as
ons hierdie hoofstuk so lees, lyk dit of dit nie eers so baie lank daarna was
nie, nadat hy in die beloofde land aangekom het, dat hy nou by die eerste die
beste hongersnood, die beloofde land weer verlaat.

Miskien was
dit sy bedoeling om dit net vir ’n rukkie te verlaat.

Totdat die
hongersnood oor was.

Maar nou, as
gevolg van sy leuen, sit hy wel vas aan Egipte.

Sy vrou in
die paleis, en hy as Farao se begunstigde.

Miskien was
dit vir Abram glad nie so erg nie, in die lig van al die finansiële voordele.

En sê nou
maar hy sou nog kon vertrek terug na die beloofde land, dan sou dit in elk
geval moes wees sonder Sarai.

 

Wat sou dan
van God se belofte word?

God het mos
’n nageslag belowe, ’n seun vir Abram en
Sarai.

Wat sou word
van die belofte dat die HERE hom tot ’n groot volk sou maak?

Wat sou
gebeur met God se belofte dat deur hierdie volk al die geslagte van die aarde
geseën sal word?

Wat sou word
van God se plan om die Redder van die wêreld te stuur, juis deur die nageslag
van Abram?

 

Gemeente,
die probleem was in feite dat Abram God nie vertrou het nie.

Hy het
gedink ’n leuen is noodsaaklik om homself te red.

Hy het God
nie vertrou in die tyd van hongersnood nie.

En hy het
God nie vertrou, dat God hom teen die Farao sou kon beskerm nie.

Gemeente, in
ons teks sien ons hoe die HERE vir Abram leer om op Hom te vertrou.

Hy is ook
Heer oor die magtige Farao.

En dit het
weldra duidelik geword.

Die HERE het
allerhande soorte plae en peste oor Farao se huis gebring.

Die paleis
is getref deur ongeluk.

Almal het
begin wonder wat fout is.

En weldra
het hulle begin besef: die probleem is Sarai.

En op ’n
manier het dit uitgelek dat sy nie Abram se suster was nie, maar sy wettige
vrou.

Ek dink
hierdie was die moeilikste tyd vir Abram in die hele episode.

Sy leuen is
oopgevlek.

Miskien, het
hy gedink: nou het die koning dubbel rede om my dood te maak!

 

Gemeente,
die HERE God is almagtig en genadig.

En Hy het
die gedagtes van die koning in ’n ander rigting gestuur.

Soos die
Spreukedigter sê: “Die koning se hart is in die hand van die HERE soos
waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.” (Spreuke 21:1)

Dus het die
Farao besluit om so gou as moontlik van Sarai ontslae te raak.

Hy het Abram
ontbied, en gevra:

Wat het jy
my nou aangedoen?

Hoekom het
jy gesê: sy is my suster, sodat ek haar as vrou geneem het?

Hoekom het
jy dit nie vir my gesê nie?

Nou dan, vat
jou vrou.

Vat haar en
sorg dat jy wegkom.

En Farao het
aan enkele manne aangaande hom bevel gegee, en hulle het hom weggebring met sy
vrou en al sy besittings.

 

Dit is
genade van die HERE dat Abram hierdie insident oorleef het.

Hy’t selfs
sy vrou teruggekry.

Iets wat hy
beslis nie verdien het nie.

En boonop het
hy nie eers sy besittings verloor nie.

Inderdaad,
God het die Farao se hart op ’n wonderbaarlike wyse gelei.

Soos ’n
waterstroompie wat skielik ’n heel onverwagte rigting inslaan.

 

En so het
die HERE, die Verbondsgod, die toekoms van die beloofde land weer veilig
gestel, en die toekoms van die verbondsvolk, en die toekoms van die beloofde
Messias.

Abram en sy
vrou Sarai is weer met mekaar verenig.

Nou moes
hulle net wag totdat die HERE God sy belofte sou vervul, om vir hulle ’n kind
te gee.

Dit sou gebeur
op God se eie tyd, soos ons weet.

Dwarsdeur
Abram se lewe het die HERE hom getoets, en geleer om net op Hom te vertrou.

Hoewel, soos
die Bybel sê, die HERE beproef iemand nooit bo sy vermoë nie.

Hy sal ons
nie meer beproef as wat ons kan dra nie, alhoewel dit somtyds ondraaglik mag
voel.

Hoewel ons
somtyds die HERE wil verwens, of die dag waarop ons gebore is, dink byvoorbeeld
aan Job.

 

En vir
Abram, soos ons uit verskeie insidente in sy lewe sien, was dit moeilik om
slegs op God te vertrou.

Ons weet uit
die Bybel dat hy daarna weer ’n slim plan beraam het, toe hy gedink het hy’t
lank genoeg gewag.

Hy het vir
hom nog ’n vrou gevat, Hagar, om self vir nageslag te sorg.

Tog het God
nie aangepas by Abram se skemas nie.

God het
voortgegaan met sy eie plan.

Sy planne is hoër as ons planne.

Sy planne
bly staan.

Sy planne
word nie in die wiele gery nie.

Dit is wat
ons kan leer uit hierdie geskiedenis.

God leer
elkeen van ons om Hom meer en meer te vertrou.

God het ’n
plan met elkeen van ons se lewe, en daardie plan sal tot vervulling kom.

Ons kan
vandag vir die HERE dank, dat Hy Abram ferm behandel het.

Dat hy Abram
se nonsens nie gevat het nie.

Dat Hy Abram
se lewe in die regte rigting gedruk het.

As Hy dit
nie gedoen het nie, sou die Messias van die wêreld nie gebore kon word nie.

Vertrou God,
Hy is altyd betroubaar.

Moenie
jouself vertrou nie.

Moenie ’n
ander mens vertrou nie.

Mense is
sondig, mense leer nooit nie, as dit nie was vir God se genade en uithouvermoë
met ons nie.

 

(Tema: Die
HERE leer sy kinders om Hom en sy planne te vertrou

1       
Met val en opstaan het Abram geleer)

 

 

2      
Met val en
opstaan het Isak geleer

Dit sien ons
in die tweede gedeelte wat ons gelees het: Genesis 26.

Dit is amper
ongelooflik, maar Abram se seun, Isak, het presies dieselfde fout begaan.

Die appel
val nie ver van die boom af nie.

Dieselfde
genetiese afwyking, erfsonde noem ons dit, dieselfde geneigdheid tot sonde, om
nie die HERE te vertrou nie, om geneig te wees om ’n leuen te vertel, om jou
eie lewe te probeer beheer...

 

Isak het ook ’n mooi vrou gehad.

En toe die
hongersnood die land weer tref, het hy ook planne gemaak om na Egipte te
verhuis.

Maar hierdie
keer het God direk ingegryp: Isak, moenie aftrek na Egipte nie.

Kyk na jou
pa Abraham, het God gesê.

Hoewel hy ’n
vreemdeling was in die beloofde land, het Ek hom tog beskerm.

Ek het hom
selfs welvarend gemaak.

As jy na my
gebooie luister, soos jou vader Abraham geleer het om te doen, dan sal Ek jou
seën.

En Ek sal
jou deur hierdie droogte en hongersnood heendra.

 

Isak het toe
inderdaad na die HERE geluister, en nie afgetrek na Egipte nie.

Hoewel, tog
het hy God nie 100% vertrou nie.

Ons sien dit
in twee dinge.

In die
eerste plek:

Hy’t gegaan
en gaan bly in ’n stad van die Filistyne – Gerar.

Die
Filistyne was nie nomade nie, en Isak het gedink dat hy meer beskermd teen die
droogte sou wees as hy daar in die stad sou gaan woon.

En in die
tweede plek – ja dit is amper ongelooflik, maar dit staan hier tog wel – Isak
het voorgegee dat sy vrou – Rebekka – eintlik sy sussie was.

Net soos sy
pa Abraham, was hy ook bang.

Hy het
kwetsbaar gevoel as ’n vreemdeling in ’n vreemde stad.

En hy het,
net soos sy pa, ’n slim plan beraam.

Dit was
omdat hy vir sy lewe gevrees het.

Hy was
eintlik ’n lafaard.

Hy’t nie
baie vir sy vrou omgegee nie, maar was veral bang vir sy eie lewe.

 

Gemeente,
kom ons kyk ook hier na die vraag:

Wat was
eintlik die implikasies van hierdie optrede van Isak?

Watter
implikasies het dit vir God se plan gehad?

Wel, weer
was God se plan in gevaar.

Want, deur
sy verhuising na die stad van die Filistyne, het Isak en sy familie begin meng
met die heidense Filistyne.

Die kans dat
hulle, Isak of Rebekka of iemand anders van sy huishouding, aangesteek sou word
om die afgode van die Filistyne te dien, was nie uitgeslote nie.

Die heidense
omgewing sou beslis ook ’n slegte invloed om sy kinders hê, Jakob en Esau.

 

En om
daardie rede dat God almagtig weer ingryp.

Weer bring
mense sy planne in gevaar, weer gryp Hy in.

Weer lei Hy
die gebeurtenisse in ’n onverwagte rigting.

Weer het die
leuen bekend geword, net soos by vader Abram.

Op ’n sekere
dag het die koning – Abimeleg, ‘toevallig’ gesien dat Isak met Rebekka speel.

Speel kan
mens dalk beter vertaal met liefkoos, of vry.

En nog iets,
God het Isak ook materieel geweldig geseën in daardie tyd.

Sy lande het
hondervoudig gedra, en hy’t ’n menigte vee en bediendes gehad.

En as gevolg
hiervan het die Filistyne jaloers begin raak op hom.

Hulle het
hom begin beny.

Hulle het
begin bang raak, dat hierdie vreemdeling te invloedryk raak in hulle stad.

En dus het
hulle hom vriendelik dog dringend versoek om die stad te verlaat.

Hulle’t by
wyse van spreke sy visum ingetrek.

 

Gemeente,
dit is hoe God sake hier gelei het.

Op hierdie
wyse het Hy gesorg dat sy toekomsplanne nie in die wiele gery word nie.

Hy het, net
soos by sy pa Abram, vir Isak in die loop van sy lewe geleer om slegs op
Hom te vertrou.

 

En so het
God deurgegaan, in sy genade, in sy lankmoedigheid en volharding, deur die eeue
heen.

Kyk maar net
na Jakob, Isak se seun.

Ook hy was
’n bedrieër, goed in leuenstories vertel.

Mense leer
nooit nie, die genetiese afwykings, die erfsonde, word oorgeplant van geslag op
geslag.

As dit nie
vir God se genade was nie, hoe sou die wêreld vandag al gelyk het?

 

Geliefde
gemeente, ook vandag roep God vir jou om Hom te vertrou.

Lewe
gehoorsaam volgens sy wil.

Dan beloof
Hy sy seën.

Hy is besig
om sy plan uit te voer en tot ’n einde te bring, sy plan om die in sonde
gevalle wêreld te red.

Hy is die
enigste Een wat weet wanneer sy plan voltooi sal wees.

Maar vertrou
Hom.

Lê jou lewe
in sy hande.

As jy na sy
stem luister, sy gebooie, insettinge en wette onderhou, om die HERE se woorde
aan Abram en Isak te gebruik, dan sal sy seën volg.

Eerlikheid
duur die langste.

Moenie
besluite neem, of planne beraam, skemas uitdink, wat op gespanne voet staan met
sy wil nie.

Dit sal jou
altyd met probleme opsaal, vroeër of later, soos ons by Abram en Isak gesien
het.

 

Die HERE
leer vir sy kinders om Hom en sy planne te vertrou.

Ons weet
vandag dat dit God se plan was om deur sy Seun, Jesus Christus, redding vir die
hele wêreld te bring.

Ons weet
vandag dat dit Christus se plan is om vir Homself ’n liggaam op aarde te
versamel, ’n kerk, ’n gemeenskap wat leef volgens sy instruksies.

Die kerk is
onderdeel van God se plan.

As ons ’n parallel
sou word trek tussen die beloofde land waarheen God Abram gestuur het, en
vandag se tyd, dan sou ons veral aan die kerk kon dink.

Soos Abram
en Isak by tye pessimisties geraak het oor die beloofde land, so kan mens
vandag soms pessimisties raak oor die kerk.

Daar is
altyd probleme, dit lyk of die Satan die heel tyd veral vir die kerk teiken.

Maar, vertou
God se planne.

Leef by die lig
van sy Woord.

Vir eeue het
God se kinders dit al gedoen.

Ons mag dit
in ons tyd doen.

En die HERE
sal verder gaan in die nageslag, Hy sal daar wees vir almal wat op Hom hul
vertroue stel.

Tot die
groot dag waarop sy planne voltooi sal wees, en tot vervulling sal kom.

 

As ons in
die Nuwe Testament weer oor Abraham en Isak lees, byvoorbeeld in Hebreërs 11,
dan word daar gefokus op wat die HERE in hulle lewens reggekry het.

Met val en
opstaan, verskillende kere, danksy God se genade en geduld, het hulle uiteindelik
uitgegroei tot voorbeelde vir ons.

Na baie jare
het hulle uiteindelik ook werklik sig begin kry op God se groot planne.

Deur die
geloof het Abraham as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ’n
vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van
dieselfde belofte.

Want hy het
die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.

Hoor u –
hier – hy het die stad verwag – dws God se groot planne vir die toekoms, daarop
het hy gefokus.

Geliefdes,
vanuit ons konkrete situasie mag ons, ook mense wat maar val en opstaan, tog
weet dat God voortgaan, en ons mag ook uitsien na die stad met fondamente.

Dit wat geen
menseoog nog gesien het nie, maar wat wel gaan kom.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)