Die HERE besluit om Sodom en Gomorra te verwoes, maar Lot uit die oordeel te red

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-04-06
Teks: 
Génesis 19 : 27-29
Preek Inhoud: 

Preek: Genesis 19:27-29

Ons het die geskiedenis gelees van Lot en sy gesin, en van die stede Sodom en Gomorra.

Hierdie twee stede was geleë in ’n pragtige en vrugbare gebied.

Maar hierdie twee stede was vol sondes en ongeregtigheid.

Dit was ’n goddelose plek.

Toe die vreemdelinge wat Abraham besoek het, by Lot aankom, het die manne van die stad al gou die huis omring om hulle te misbruik.

En dit sou ook sover gekom het, was dit nie vir die feit dat hierdie manne eintlik engele was.

Hulle was veel sterker as die mans van Sodom, en hulle kon Lot in veiligheid bring.

 

As mens die gedeelte so lees, sien mens dat Lot, hoewel hy in Sodom gewoon het, tog altyd ’n buitelander gebly het.

Hy het nooit een van hulle geword nie.

Die Sodomiete het hom soort van oogluikend toegestaan.

Moontlik was dit dat hy oor finansiële redes daar in Sodom gewoon het, nie omdat hy en sy gesin God daar beter kon dien nie.

Ons kry eerder die indruk dat sy gesin begin lou word het in hulle diens aan die HERE.

Dat vroulief tog baie geniet het van hierdie ryk maar dekadente plek waar hulle gewoon het.

 

Maar nou draai die mense teen Lot en sy gesin.

’n Soort van ‘mob violence’ dreig.

Die mense sal enigiets doen om hulle sin te kry.

Lot kon hulle beswaarlik keer.

Hy bied selfs sy dogters aan, waar hulle dan mee kon doen wat hulle wou.

Maar selfs dit baat nie.

Die vreemdelingehaat, xenofobiese geweld laai al hoe meer op.

Gee pad, skreeu die Sodomiete. Hierdie man het gekom om hier as vreemdeling te vertoef en wil tog gedurig die baas speel.

Nou sal ons jou meer kwaad doen as aan hulle.

Maar soos gesê, die engele kon hom net betyds in die huis intrek, en die deur sluit.

En toe slaan die engele die Sodomiete met blindheid.

Anders sou hulle die deur seker oopgeskop het.

 

Die HERE besluit om Sodom en Gomorra te verwoes, maar Lot uit die oordeel te red

-          Terwille van sy bondgenoot Abraham

-          Terwille van Lot se eie behoud, liggaamlik maar ook geestelik

-          As ’n voorbeeld vir die gelowiges van alle eeue

 

 

-          Terwille van sy bondgenoot Abraham

Ons het ook gelees hoe God vir Abraham vooraf ingelig het oor sy planne aangaande Sodom en Gomorra.

God het vir Abraham sy bondgenoot gemaak.

En noudat Hy beplan om iets drasties te doen, gee Hy vir Abraham selfs inspraak in sy planne.

Seker veral ook vanweë die feit dat Abraham se familie in Sodom woonagtig was.

Dis duidelik dat God se voorgenome plan vir Abraham ’n harde boodskap was.

Kyk, dit is maklik om teoreties te sê: HERE, dis ok, vernietig die goddelose mense.

Straf hulle wat U nie wil dien nie.

Maar wat as jou eie seun of dogter ook een van daardie goddelose mense is?

Of jou pa of ma, of ’n nabye familielid, soos by Abraham die geval was.

Vir Abraham was dit ’n beproewing.

Nou het hy by ’n punt gekom dat hy moes kies.

Kies of vir die HERE, of vir sy onverskillige familie.

 

Abraham het lank gevat.

Hy het God se beslissing van alle kante bevraagteken.

Is dit nie so, gemeente, dat normaalweg dit vir ons nie moeilik is om die HERE te dien nie.

Maar as dit van ons êrens ’n opoffering vra, ’n keuse om te maak, dan begin ons twyfel.

Dan begin ons ineens die prinsipes waarvolgens ons altyd al geleef het, te bevraagteken.

Dan kom die prinsipes op los skroewe te staan...

Abraham sou nie omgegee het as God een of ander goddelose stad ver weg verwoes nie, êrens waar hy geen familie het nie.

Maar Sodom, waar Lot bly?

En so het Abraham met die HERE begin redeneer.

Hy’t vir God begin wys dat die op sig baie regverdige en begryplike voorneme of die stede te verwoes, dat dit tog ook onregverdige kante het.

Want dit sal mos nie reg wees om regverdige mense saam met die goddeloses om die lewe te bring nie?

God kan mos nie bekostig om dit op sy naam te kry nie? Dat die natuurramp ook goeie mense getref het...

En so stry Abraham vir die HERE af tot ’n skamele 10 mense.

Ter wille van ’n skamele tien sal die HERE sy besluit opskort en die stede nie verwoes nie.

 

Gemeente, dit wys mens hoe genadig die HERE is.

Soms wonder mens hoekom God vandag in ons tyd die goddelose mense so lank hulle gang laat gaan.

Hoekom ’n stad, of ’n land, so korrup kan raak, so vol geweld, sedeloosheid, bedrog, abortus en noem maar op.

Dalk is dit ook vandag omdat daar nog ’n handjievol regverdiges standhou.

 

Maar goed, vir Sodom en Gomorra was die skamele getal van 10 selfs te veel.

Lot, sy vrou en sy twee dogters, en dalk sy aanstaande skoonseuns ... dan kom mens maar net tot die helfte van tien.

En dan lees ons nog dat sy skoonseuns eintlik uit heel ander hout gesny was.

Toe Lot hulle vertel wat op koms was, het hulle gelag, gedog hy is net besig om gek te skeer.

 

Die situasie was dus nog veel erger as die donksterse scenario waar Abraham aan gedink het.

Nie eers die helfte van 10 aan regverdige mense is daar in die twee stede gevind nie.

Ja selfs Lot en sy gesin het gewoond geraak aan die sondige omgewing en lewensstyl.

Dit het bomenslike oorredingskrag geverg om hulle daaruit te kry, dat hulle hulle eiendomme en die sondige gewoontes van daardie plek agter hulle sou laat.

Die engele moes hulle as’t ware daaruit sleep.

Ook hier sien ons weer God se genade.

Dalk het Lot dit nie meer verdien nie, maar ter wille van Abraham, God se bondgenoot, het Hy hulle tog daaruit gekry.

 

 

(Die HERE besluit om Sodom en Gomorra te verwoes, maar Lot uit die oordeel te red)

-          Terwille van sy bondgenoot Abraham

 

 

-          Terwille van Lot se eie behoud, liggaamlik maar ook geestelik

As die beslissing by Lot en sy gesin sou gelê het, dan sou daar dalk geen oorlewendes gewees het nie.

Lot het getalm.

Maar die engele het hom, sy vrou en dogters gegryp, en hulle haastig uitgelei, weg van die sonde, weg van die oordeel wat oor die sonde gehang het, om hulle te red.

Ja die invloed van die sonde is verslawend.

Jy raak verslaaf aan ’n lewenstyl, en jy kan nie meer daarsonder nie.

Aan die einde versmoor dit jou.

So het dit met Lot se vrou gegaan.

Sy het gestop, omgekyk, omgedraai.

Dit kan dat die verwoestende vuurreën haar ingehaal het.

Dat haar liggaam verkool is.

En toe die storm bedaar het, het daar net ’n soutpilaar oorgebly.

Dit is waar sonde jou op die ou einde bring.

Die vuur uit die hemel het die plek gereinig waar daardie stede geleë was.

Alle sondigheid en goddeloosheid, en alle mense wat nie hulle rug daarop kon draai nie, is weggevaag.

Niks het oorgebly nie behalwe ’n groot hoop sout.

Vandag vind ons die soutsee daar, die Dooie See.

 

Dit was genade op genade dat Lot en sy dogters ’n tweede kans gekry het.

Hulle het dit nie verdien nie.

Ons leer Lot in die Bybel ken as aan die een kant ’n gelowige man, wat goed die gevare van ’n plek soos Sodom raakgesien het, die losbandige lewe daar en die sedelose mense.

Soos die apostel Petrus sê, dit het sy siel gepynig (2 Petr 2:8).

Maar aan die ander kant was hy ook besluiteloos, en nie daadkragtig as dit by die beskerming van sy gesin gekom het nie.

Hy’t maar bly woon onder al die goddeloosheid, en die engele moes hom met moeite daaruit kry.

 

 

-          As ’n voorbeeld vir die gelowiges van alle eeue

So het God na Abraham se gebed geluister, alhoewel Hy goeie redes gehad het om anders te doen.

Want minder as tien regverdiges is gevind.

Dit wys mens hoe kragtig gebed is.

Deur sy gesoebat het Abraham sy familielede gered.

Gemeente, bid u ook vir familielede wat onverskillig geraak het?

 

As ons al die sondes wat in Sodom en Gomorra aan die orde van die dag was

-          moord en verkragting

-          rowery en omkopery,

-          homoseksuele losbandigheid, of Sodomie soos dit later sy toepaslike naam gekry het,

as mens al hierdie sondes vergelyk met dit wat in ons eie stad gebeur, dan moet ons erken dat daar nogal baie ooreenstemming is.

Dit is net die genade van God dat daar nog nie ‘n vuur uit die hemel op ons stad geval het om dit te suiwer nie.

 

Hoe baie regverdige mense leef daar nog in ons stad?

Hoe baie van hulle dien God, nie halfhartig nie, maar met hulle hele hart?

Hoe baie woon nog eredienste op Sondag by, sonder om ’n enkele Sondag te mis, behalwe vir werklike siekte.

Hoe baie lewe seksueel rein lewens sowel binne as buite die huwelik?

Hoe baie is daar wat nooit steel nie, en ook nooit gesteelde goed koop nie?

Hoe baie skakel hulle televisie af as daar sondige vermaak is?

Ons stad raak ook al hoe meer begrawe onder die las van die sondes, soos onder ’n immense hoop rommel.

Hoe lank sal God net toesien?

Hoe lank sal Hy nog geduld hê?

 

Laat ons onsself weer bekeer tot ’n opregte lewe, ’n regverdige lewe, ’n lewe met die regte prioriteite.

Laat ons nie ophou om te bid vir ons stad nie, sodat ten minste sommiges nog behou mag word.

Laat ons bid en werk, solank daar nog tyd oor is.

 

Want God se oordeel is wel op koms.

Dis net in Christus wat Hy nog ’n kans bied.

 

Deur die hele Bybel sien mens hoe die Heilige Gees die stede Sodom en Gomorra gebruik as waarskuwende voorbeelde, om sy kinders te laat wakker skrik.

In Deuteronomium 29 waarsku God sy volk byvoorbeeld dat hulle die verbond moet respekteer.

In vers 23 lees ons wat sal gebeur as hulle dit nie doen nie:

Die HERE sal oor hom bring die vloeke van die verbond wat in hierdie wetboek geskrywe is.

“En die volgende geslag, julle kinders wat na julle opstaan, en die uitlander wat uit ’n ver land kom, sal sê, as hulle die plae van daardie land sien en sy siektes wat die HERE daarin laat uitbreek het – ook swawel en sout deurdat sy hele oppervlakte uitgebrand is ... soos die omkering van Sodom en Gomorra, Adma en Seboim wat die HERE in sy toorn en in sy grimmigheid omgekeer het – en al die nasies sal sê: Waarom het die HERE so met hierdie land gedoen? Wat beteken hierdie groot toorngloed? Dan sal hulle antwoord: Omdat hulle die verbond van die HERE, die God van hulle vaders, verlaat het.”

 

Ook die profeet Jeremia waarsku dat ons nie te gou moet dink dat die straf ons nie gaan tref nie.

Dien jy werklik die HERE, of is jy net ’n naamchristen?

Jeremia wys daarop dat daar in sy dae selfs profete in Jerusalem was wat nie ’n beter lewe gelei het as die mense van Sodom en Gomorra nie.

“by die profete van Jerusalem het Ek gesien wat afskuwelik is: hulle bedryf owerspel en gaan om met leuens, en hulle versterk die hande van die kwaaddoeners, sodat hulle hul nie bekeer elkeen van sy boosheid nie. Hulle het almal vir My geword soos Sodom, en sy inwoners soos Gomorra.”

(Jer 23:14).

 

Gemeente, hoe is die lewe van die profete, die geestelike leiers in u stad?

Al is hulle gebrekkige mense, is hulle lewe wel ’n voorbeeld, dat hulle die HERE dien, en volgens sy wil probeer lewe?

Of is hulle lewens ook gekenmerk deur egskeiding, owerspel, korrupsie, oneerlikheid?

As die leiers al so ’n lewe lei, wat van die volk?

Die profeet Jesaja herinner ons dat dit slegs deur die genade van die HERE is dat ons nie al opgeëindig het soos Sodom en Gomorra nie.

“As die HERE van die leërskare vir ons nie ’n klein oorblyfsel oorgelaat het nie – soos Sodom sou ons geword het, ons sou net soos Gomorra gewees het.” (Jes 1:9)

Later sou Paulus hierdie selfde teks aanhaal toe hy oor die Jode van sy dae geskryf het in die Romeinebrief, en sy droefheid geuit het oor hulle ongeloof. (Rom 9:29)

 

In Christus Jesus bied God vir ons stad, Pretoria, die city of Tshwane, en ons provinsie, Gauteng, en ons land, nog ’n kans.

Die geleentheid is daar, God se Woord is nie onbekend nie.

Die Bybel is te koop in elke boekwinkel, selfs in die supermarkte.

Solank ons lewe, is daar kans op bekering.

Laat ons nie, soos Lot en sy gesin, weerstand bied, as ons in die regte rigting getrek word nie, deur God en sy engele.

Die Here Jesus self waarsku dat vir hulle wat die geleentheid gehad het, maar dit van die hand gewys het, dat dit vir hulle nog erger sal wees as vir Sodom en Gomorra.

Hy sê in Mattheüs 10: “Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir die land van Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad.” (Matt 10:15)

Jesus sê dit oor die stad wat die dissipels wat Hy uitgestuur het, nie bereid is om te ontvang nie.

As hulle nie ontvang word nie en daar geen bereidheid is om na hulle woorde te luister nie, dan moet sy dissipels daardie huis of daardie stad verlaat en die stof van hulle voete afskud.

 

Hierdie woorde van die Here Jesus gee mens stof tot nadenke.

Toe die Here Jesus op aarde gekom het, en nadat sy werk voltooi was en Hy weer na die hemel teruggekeer het, het die apostels die evangelie uitgedra, in Judea, Samaria en steeds verder.

Daar was inderdaad dorpe wat die evangelie nie aanvaar het nie.

Die bekendste is natuurlik Jerusalem self.

God se oordeel oor Jerusalem het in die jaar 70 gekom, toe dit verwoes is.

Die Here Jesus het sy volgelinge al voor die tyd gewaarsku, ons kan dit in die Nuwe Testament lees:

as julle tekens van oorloë sien, sorg dat julle die stad verlaat.

Net soos Lot van ouds moes die gelowiges sorg dat hulle weg kom uit die stad, voordat die oordeel sou losbars.

‘die wat in Judea is, moet na die berge vlug;

wie op die dak is moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie;

en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie.’ (Matt 24:16-18)

Net soos by Lot, moet hulle gereed wees om op kort kennisgewing pad te gee.

Na Christus se hemelvaart en na Pinkster, was die HERE nog vir etlike jare genadig, vir dekades het Hy Jerusalem gespaar, ekstra kanse gegee.

Tog het die dag van sy oordeel gekom.

In die boek Openbaring word Sodom en Jerusalem op een lyn gestel - Jerusalem, die stad waar die Here Jesus gekruisig is (Openb 11:8).

 

Ook in ons dae spaar God dalk stede, ter wille van die regverdiges wat nog daarin woon.

As dit goed is, is die regverdiges ’n soutende sout, en neem hulle aantalle toe, sodat hulle die stad kan reformeer.

Maar dit kan ook gebeur dat die goddeloosheid so die oorhand kry, dat die persentasie regverdiges so klein word, dat God tot ’n ander slotsom kom,

naamlik dat die tyd van genade nou plek moet maak vir ’n tyd van oordeel en straf.

So was dit met Sodom en Gomorra.

So was dit met Jerusalem, tot twee keer toe, die eerste keer met die ballingskap in die Ou Testament, die tweede keer met die verwoesting in die jaar 70.

So was dit ook met Gorasin en Betsaïda, met Kapernaüm (Matt 11:21-23), en die lysie kan deur die geskiedenis aangevul word.

In die westerse wêreld, in Europese lande byvoorbeeld, is daar stede, samelewings, wat hulle al hoe meer afkeer van God en sy Woord.

Hulle pluk nog die vrugte van soveel eeue kerstening, maar self wil die mense die Here nie meer dien nie.

Daar gaan deesdae in China meer mense op ’n Sondag kerk toe as in die hele Europa.

Gelukkig is daar nog heelwat regverdiges in die stede en samelewings van Europa.

Maar ’n maatskappy wat aanhoudend God en sy gebooie minag, sal agterkom dat die HERE se geduld nie eindeloos is nie.

En dieselfde kan ons natuurlik ook oor Afrika sê, en oor Suid-Afrika, en oor Pretoria.

 

Lot het destyds die keuse gekry waar hy kon gaan bly.

Hy het die vrugbare Jordaanstreek gekies.

In Genesis 13 kan ons lees dat hy sy tente naby Sodom gaan opslaan het.

Lot het, sien ons agteraf, verkeerd gekies vir hom en vir sy gesin.

Die geloofsbene van sy gesin was nie sterk genoeg, daar waar hulle gewoon het omring deur so baie goddeloosheid nie.

Is jou geloofsbene wel sterk genoeg?

Sorg dat jy goed kies, vir jou en geliefdes.

Moenie jouself oorskat nie.

Moenie terwille van aardse welvaart, loopbaan of wat ook al, jou te lank isoleer van die gemeenskap van die heiliges nie.

Leef self in diens van die HERE, leef met sy Woord, en wees deel van die kerkgemeenskap waar God se Woord die botoon voer.

 

Gemeente, ter afsluiting, hoekom het God eintlik hierdie geskiedenis oor Lot in die Bybel opgeneem?

Lot en sy nageslag is nie deel van die geslagslyn wat uitloop op die volk Israel en die Messias nie.

Lot en sy gesin is ook nie wat mens sou noem geloofshelde, wat vir ons ’n voorbeeld is nie.

 

Die apostel Petrus gee in een van sy briewe in ’n mate antwoord op die vraag, hoekom hierdie in die Bybel staan.

Hy skryf: ‘deur die stede van Sodom en Gomorra tot as te verbrand’, het God hulle ‘as ’n voorbeeld gestel vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees.’ (2 Petr 2:6)

Hierdie geskiedenis funksioneer dus inderdaad as ’n voorbeeld.

Om ons te leer,

ten eerste dat die Here nie net waarsku nie, maar ook straf;

ten tweede dat die Here wel baie barmhartig is; dat Hy vir mense soos Lot ekstra kanse gee;

ten derde dat gelowiges geleer word om nie jaloers te word op die aanloklikhede van die verganklike wêreld nie;

ten vierde dat die straf oor gelowiges wat teen beter wete in afgedwaal het en die wêreld meer liefgekry het as Christus en sy gemeente, dat hulle straf nog swaarder sal wees as die van Sodom en Gomorra,

en ten vyfde dat ons die beste lewe het, nou en tot in ewigheid, as ons naby God en sy Woord bly.

Amen

Liturgie: 

Voorsang: Ps 54:1,2,3
Votum
Seën
S: Ps 91:1
Wet
S: Ps 86:1,3
Gebed
Skriflesing: Genesis 18:16 – 19:29
S: Ps 101:1,2,3
Teks: Genesis 19:27-29
Preek
S: Ps 101:4,5,6
Gebed
Kollekte
S: Sb 41:1,4,5,7
Seën