God soek ons met sy Woord.

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2014-10-26
Teks: 
Eségiël 2 : 1-3 : 15
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik
kontak asseblief vir ds FJ Bijzet

Kopiereg word voorbehou.

 

Preek oor Esegiël 2:1-3:15

Bellville, 26 Oktober 2014

 

Liturgie:

Votum en seëngroet

Ps 19:1,4

Lesing van God se
wet

Ps 19:6

Gebed

L. Esegiël 2:1-3:15
(NAV)

Ps 32:2

Verkondiging oor
Esesiël 2:1-3:15

Ps 85:3

Gebed

Kollekte

Ps 19:5

Seën

 

 

God soek ons met sy Woord.

Vir Gereformeerdes
is dit ou nuus. Ons het van kleinsaf geleer dat die HERE met sy Woord na ons
toe kom. In die kerk is nie die sakramente, doop, nagmaal, die belangrikste
nie- dit is net onderlynings van God se Woorde. Ons moet in die kerk ook nie
aller-hande fratse soek nie, geen drama of soiets nie. In die kerk kom ons in
die eerste plek om na woorde te luister. Na die HERE se Woord.

Ons het ook
eeuelank ‘n kerkdiens die “diens van die
Woord
” genoem. En predikante “dienaars
van die Woord
”.

Die kerk benodig daarom
ook steeds sulke dienaars. Manne wat sy woorde wil praat. Dis hoe die HERE sy
volk soek.

 

Ons het dit
vanoggend/aand ook by Esegiël gesien. Die HERE het op ‘n baie imponerende wyse
aan Esegiël verskyn. In vuur en geraas op ‘n vlieënde troonwa. Esegiël was so
beïndruk dat hy plat op die grond geval het. Maar daardie verskyning was vir
hom maar net die toelatingseksamen om ‘n bedienaar van die HERE se woorde te kan
word. Hy kon nie gou-gou sy volksgenote by roep sodat almal getuie van hierdie
verskyning van die HERE kon word nie. Hy kon nie ‘n beeldopname van daar-die
verskyning maak nie. Nie eers ‘n klankopname van die geraas van die gerubs se
vleuels nie. Hierdie versky-ning was net vir hom bedoel. Sodat Hy des te beter
met sy volksgenote kon gaan praat.

 

En as die HERE hom daarvoor
aan die werk stuur, is God se vlieënde troon-wag skielik ágter hom. Dit het ons
in Eseg 3:12 e.v gelees. Dit is betekenis-vol: die HERE sal  aan hom wel rug-steun verleen, maar gaan nie verder
voor hom uit nie. Hy moet nou self gaan om God se woorde gaan praat.

 

Dis hoe ons God
mense soek, brs en srs. Met sy Woord. Daarmee kan ons dit doen.  Dit was al so toe die HERE in die Sinaïwoestyn
na sy volk Israël toe gekom het. Moses herinner hul later daaraan in Deut 4:12:
Ja, daar was vuur, en stormwind. Maar, sê Moses: “toe het julle ‘n stem gehoor wat woorde gepraat het, maar geen
verskyning gesien nie- net ‘n stem was daar
”.

 

God het die allermees
naby ons mense gekom, toe Hy in sy hemelse Seun Jesus op aarde verskyn het.
Maar toe was daardie Seun ook ‘n gewone mens wat almal opgeroep het om veral na
sy wóórde te hoor. Daardie woorde is soos saad wat moet ontkiem en vrug dra.
Laat wie ‘n oor het, hoor!

En die wat nie wou
luister nie, is deur Jesus se verskyning ook al hoe meer afgesit. En het op die
ou end geroep: Weg met hierdie mens,
kruisig Hom
.

Inmiddels is
Christus lankal weer terug in die hemel. Maar sy woorde het ge-bly. Woorde wat
in gewone mensetaal en uit mensemonde aan ons voorge-hou word.

Besef ons dit nog,
broeders en susters, Wie in daardie woorde na ons toe kom? Staan u nog daarby
stil so dik-wels u  kerk toe kom? So
dikwels u u Bybel oopmaak? ? Leer u dit vir u kinders? Sodat hulle ook leer om
eerbiedig en met aandag te luister in die kerk? Beïndruk?

Daar was ‘n keer ‘n
klein seuntjie wat uit die kerk, toe die predikant saam met hulle gestap het om
bietjie by hulle te kuier, vebaas vir sy Pa gevra het: “Pappa, kom die Here Jesus by ons koffiedrink?!” Hierdie
Pappa het blykbaar vir sy mannetjie geleer: in die kerk moet jy stil sit en
mooi luister, want die Here Jesus praat in die kerk met ons.

Besef ons dit nog,
luister ons ook so? Praat ons na afloop so oor die diens?

Is daar nog seuns
wat bereid is, ja, begeer om God se woorde aan ander mense te mag oordra? Nie
net as ‘n predikant nie, maar ook as ouderling, in evangelisasiewerk, is
gesprekke met jou kollegas, ander studente...

 

God soek ons met sy Woord.

Daarvoor benodig Hy
nie besonderse mense nie. En as die HERE jou inska-kel om sy woorde te moet gaan
praat, maak dit ook nie skielik ‘n besondere mens van jou.

Hoor hoe noem Hy
Esegiël: “Mense-kind”.  Daarmee bedoel Hy nie soseer: “kind van ‘n mens nie”, maar soos die
Bybel -en dit is ‘n Hebreeuse idioom- 
ook van “die kinders van Israel
praat en dan bedoel: “die wat aan die
volk Israel behoort
”, so bedoel die HERE: “jy wat aan die mensesoort behoort”. 
Esegiël is ‘n priester, iemand wat nader aan God mag kom as die res van
die volk. Nogtans is Hy vir die HERE maar net ‘n mens. ‘n Nietige skepsel. En boonop na Adam ‘n sóndige skepsel.

 

Dis hoe God ons kom
soek, broeders en susters. Dit is die wonder van sy kerkvergadering. Heel
gewone mense gebruik Hy daarvoor. Self ook mense met hul sondes en beperkings.

 

Daarom moet almal
wat so deur die HERE ingeskakel word, hulleself niks gaan verbeel nie. U weet
natuurlik: daar is predikers wat hulleself baie belangrik begin voel het. En
hul be-diening baie spesiaal. As ‘n mens regtig ‘n seën wil ontvang, moet jy by
hom, in sy kerkdienste wees. Eers as hý vir jou bid en sy hande op jou lê, gaan
daar sake in jou lewe verander. Of, bietjie nader aan ons: soos daar-die man
preek! By hóm kry ‘n mens regtig ‘n seën saam. Kom ons gaan vanoggend na sy
kerk......

 

Om so te dink en te
werk is totaal en al onbybels. Asof jou eie gebed of dié van die gemeente nie
God se aandag kry nie. Asof dienaars van die HERE se Woord uitstaande redenaars
moet wees. Moet maar kyk in die Bybel: God roep dikwels juis níe mense wat van
hulleself dink hulle is natuurlik baie geskikte helpers vir die HERE nie:
Moses, Jeremia, Petrus, Paulus.  Hy roep
juis mense wat sê: “Hoekom ek, HERE? U
ken mos my swakhede en gebreke
”. Of nog diepgaander, soos Petrus uitgeroep
het: “Gaan weg, HERE, want ek is ‘n
sondige mens!

En hulle ís uit hul
eie ook ongeskik vir die diens waarvoor die HERE hulle roep. Maar omdat Hy
roep, kan Hy so’n mens ook gebruik. Bruikbaar maak.

Dis ook nie vanweë jou
eie kwaliteite en bekwaamhede wat ‘n mens dit kan volhou om in diens van die
HERE se Woord te staan nie. Alleen as God Self jou kom roep het, sal Hy jou ook
die krag en die moed en die volharding gee om met sy Woorde ander mens te bly
aanspreek. Omdat God vir hulle daarmee soek.

God soek ons met sy Woord.

Maar dan kan en mag
dit dus ook alleen maar die HERE se Woord wees wat ‘n ampsdraer praat. Kyk hoe
sê die HERE dit vir Esegiël in 2:4: Jy
moet vir hulle sê: ‘So spreek die Here HERE’
.” En nog ‘n keer in vs. 7: “Jy moet my woorde verkondig”. En in
3:11: “Sê 
vir hulle: “So spreek die Here HERE
”. Wát presies Esegiël moet gaan
sê, watter boodskap hy aan sy volksgenote moet bring, sê die HERE nou nog nie
eens nie. Dit sal hy later wel agterkom. Nou is dit genoeg om te weet, dat dít
sy enigste gesag, dat dít sy enigste bekwaamheid en kwali-teit gaan wees, dat
hy mag sê: dit is nie hoe ék dink, of voel of dit wil hê nie, nee, die HERE sê
so.

 

Nie die persoon van
die prediker maak sy woorde indringend nie. U hoef nie te onthou dat dit ds Van
der Waal, ds Los, ds Van Hulst, ds Kapteijn, of ds Pieter Nel was wat iets gesê
het nie, as u maar onthou dat dit die HERE se woorde was wat hulle so geraak
het. Moenie dinge doen, of juis nie doen nie omdat daardie ouderling dit gesê het
nie. Maar omdat u oortuig geraak het dat dit die HERE Self is wat dit so wil
hê.

Moenie allereers
beïndruk raak met ‘n bepaalde atmosfeer in ‘n kerkdiens, of met die casual styl
van die voor-ganger, of omdat daar so lekker ge-sing word in die diens nie- die
ver-naamste is dat die HERE se woorde daar gepraat word. En dat daardie woorde
diep in u harte deurdring.

 

Maar dan is dit dus
wel nodig dat die boodskapper eerste self baie mooi na die HERE se woorde moet luister.
Die HERE sê vir Esegiël –kyk 3:10- dat hy sy woorde met sy ore moet hoor, maar
dan ook in sy hart moet opneem.  ‘n
Dienaar van ndie HERE se Woord moet die tyd en die rus neem om die bood-skap
wat hy moet oordra te begryp. Hy moet seker maak dat dit ook regtig die HERE se
woorde is, en nie sy eie opinie of stokperdjies wat hy aan God se volk voorhou
nie. Hy moet studeer en mediteer om te verstaan hoedat die HERE sy volk met
daardie woorde soek. Sodat hy indringend kan duidelik maak dat dit regtigwaar
die HERE se eie woorde is wat hy praat. En hoe die HERE ons daarmee soek.

 

Want ja: God soek ons met sy Woord.

Maar mense ervaar
dit dikwels nie so nie. Nie almal aanvaar dankbaar en opgewonde die HERE se
Woorde nie. ‘n Dienaar van die Woord stuit ook op heelwat weerstand en verset
as hy medemense met die HERE se woorde konfronteer. Veral as Hy moet waar-sku.

Want God se woorde
is nie net Evan-gelie, blye boodskap nie. Uiteindelik wel, maar dan moet ‘n
mens wel wil luister en glo. En jouself aan die HERE gewonne gee. Anders is die
keersy, dat die HERE jou moet dreig met sy straf. Met die gevolge van jou ver-keerde
keuse teen Hom.  

 

Skielik steek daar
uit die troonwa van die HERE ‘n hand uit –van een van die engele?- wat ‘n boekrol
vir Esegiël gee. Die hand sprei ook die boekrol oop. En dit blyk vol met
klaagliedere en gesug te staan. Vol: gewoonlik is ‘n boekrol net van binne
beskyf, maar hierdie een is van binne én van buite volgeskryf. Die ellende
staan blou in die blom!

 

Ons weet inmiddels
watter dinge daar te lees was. God gee pad uit Jerusa-lem, Hy kan en wil vanweë
die godde-loosheid daar nie langer woon nie. Hy gee die stad en sy huis aan die
vyande oor. Maar daaraan voorafgaand –kyk gou saam met my in 5:8-13- sal die
HERE strafgerigte oefen. Ouers sal hul kinders opeet, so honger is hulle, mense
sal met die swaard doodge-maak word....

 

Is hier iemand wat
dink dis net Oue-Testamenties? Het ook Christus hierdie  keersyde van die Evangelie niet indringend
genoem nie? Meer as een keer? Het Hy nie gewaarsku dat ‘n mens die gevaar loop om
in die hel gegooi te word nie? Waarsku die skry-wer van die brief aan die Hebreërs
nie dat ons ‘n huiweringwekkende straf te wagte is as ons die Seun van God ver-trap
en die Gees van genade smaad nie? Staan die laaste Bybelboek nie vol van die
oordee van God wat oor die wêreld sal kom nie?

Daarom moet
boodskappers van God ook indringend waarsku. Of die hoor-ders nou al luister of
nie.

 

En as mense nou
maar meteen daar-van sou skrik en hulle bekeer. Maar nee, die HERE berei Esegiël
daarop voor dat hy met opstandige mense met ongevoelige en verstokte harte te
make gaan kry. Hulle sal nie wil luis-ter nie. Ja, hulle sal hul verset teen
die HERE se woorde En dan afreageer op die boodskapper.

Kyk nog gou waarmee
die HERE die mense vergelyk (2:6): dorings en distels: hulle sal stekelrig op
Esegiël reageer. Soos skerpioene is hulle: venynig. Hulle wil hom die swye
oplê. Dis wat God se knegte regdeur die geskiedenis moes meemaak. Christus Self
het dit ervaar. En sy apostels na Hom. Baie predikers in alle eeue.

 

Dit is dus beslis
nie maklik om ‘n be-dienaar van die HERE se woord te moet wees nie. Dit plaas
jou voor mense regtig nie op ‘n voetstuk nie. En die ergste is: so ‘n afkerige
en vyandige reaksie kom nie altyd mense van búite die kerk nie. Maar al te dik-wels
ook van mense ín die kerk. Soos by Esegiël. God soek vir hulle, maar hulle soek
nie eintlik vir God nie. Of wil net hoor wat vir hulle aangenaam is.

Dis dus g’n wonder
dat Esegiël net-nou verslae, verbyster terugkeer in die kring van sy
volksgenote nie. En sewe dae lank nie weet wat om te moet sê nie.

 

Nogtans soek God ons nog steeds, ook met waarskuwende en
dreigende Woorde.

Daarom moet ‘n brenger
daarvan eerste homself deur daardie woorde laat oortuig.

Dis meer as: mooi
luister. En die boodskap mooi begryp. Hy moet dit hom eie maak.

Die HERE maak dit
vir Esegiël duidelik met ‘n opvallende simboliek. Hy moet die boekrol wat aan
hom gewys is, nie uitrol en voorlees aan sy volksgenote nie. Of uit sy kop uit
leer, om dit net-nou mooi te kan oordra nie. Hy moet dit opeet! Verslind. Dit
heeltemal in hom opneem en homself daar-mee laat vul. Die inhoud van hierdie
boekrol moet vlees en bloed vir hom word. Hy moet homself daaraan ge-wonne gee.
Sodat die mense net-nou kan hoor: so sê die HERE. Maar ter-selfdertyd voel: en
so glo die prédiker dit ook. Dit het eerste sy eie hart geraak.

 

Want die gevaar is
altyd daar dat pre-dikers self weerspannig raak teen dit wat die HERE wil hê
hulle moet oor-dra.  Die HERE noem dit,
voordat Hy die boekrol aan Esegiël gee, ook vir hom (2:8): “Jy, mensekind moet nie weerspannig wees nie”.
Die gevaar is daar, dat ‘n dienaar van die HERE se Woord gaan aanpas aan sy hoorders.
Gaan rekening hou met wat hulle nie graag wil hoor nie. En daarom maar ‘n
bietjie afswak wat God sê. Of selfs ‘n hermeneutiek (‘n manier van lees van die
Bybel) invoer waarin dit wat God sê geen aanstoot mag gee aan die hoorders nie.

Dit kan selfs
gebeur dat ‘n prediker wel baie mooi vir ander weet om te sê wat die HERE wil
hê, maar in sy eie lewe nie in alles daarvolgens leef nie. Soos Moses sy tweede
seuntjie maar nie meer besny het nie, omdat sy vrou Sippora blykbaar nie daarvan
gehou het nie.

Maar dan word so ‘n
prediker onbruik-baar vir God. En dan sal die HERE se Woord hom tegen die
prediker self keer. God het selfs gedreig om Moses dood te maak! Dis dié dat ‘n
prediker van die HERE se Woord eerste self die boodskap hom eie moet maak. En
tot in sy diepste ingewande voel: God soek ons met hierdie Woorde,

 

Want regtigwaar: God soek ons met sy Woord.

Die wat sy woorde
eet, kom dit agter. Selfs al is hulle ook hoe dreigend. En dan kan selfs
indringend dreigende woorde vir ons gemoed steeds soet woorde wees. Vir Esegiël
het die boekrol soet gesmaak. Soet soos heuning. En dieselfde het Jeremia
ervaar. Die profeet wat so geworstel het met die oordeelsdreiging wat Hy aan
God se volk moes voorhou. Nog-tans sê hy (15:16): “Toe u woorde gevind is, het ek hulle opgeëet. En u woord was vir my
vreugde en vrolik-heid vir my hart
”. Psalmdigters soos dié van Ps 19 en 119
sing so: u wet is soeter nog as heuning.
 

Die wat God se
woord verslind, sal ervaar: dit is goeie woorde, dit is steeds liefdevolle
woorde.

 

Wat ons lees in
3:14 in die Ou Verta-ling lyk hiermee in stryd. Daar staan mos dat Esegiël “verbitterd” terugge-keer het by sy
volksgenote, “in die grimmigheid van sy
gees
”. Was Esegiël opstandig, vies vir God? Of word dalk bedoel dat hy verontwaardig
jeens sy volksgenote was? Omdat hulle deur hul sondes soveel ellende opgeroep
het?

Maar dis nie wat
die Hebreeuse woorde wil sê nie. Esegiël het die bitter uítwerking van God se
woorde ervaar. Hoe tereg en soet hulle ook was. 
Soos ons dit in Openb 10 ook van Johannes lees: ook hy moes ‘n boek
opeet wat soet in die mond was, maar bitter in die maag. Die Nuwe Afrikaan-se
Vertaling gee dit dan ook beter weer: hy was swaarmoedig en ont-steld.

 

Maar as hy die HERE
se woorde goed geproe het, was daar geen opstandig-heid nie. Geen woede teen sy
volks-genote nie. Hy wat Esegiël is, is mos een van hulle. Saam met hulle: ‘n
mensekind. Afstammeling van die eerste mens Adam. Besmet met die-selfde sonde
soos Adam.

En dan weet jy: God
se straf is heelte-mal verdien. En dit sal die ene genade wees as die HERE nog
‘n volk vir Hom laat oorbly.

 

‘n Prediker wat God
se woord geproe het, voel homself nie verhewe bo sy hoorders nie, maar een met
hulle. En hy is self die eerste wat sy kop vol skuldbesef en skaamte buig.

Hy besef: ons mense
benodig ‘n nuwe Adam.’n Beter Mens. ‘n Volmaakte Mens wat in ons plek God se
toorn kan stilmaak. Sodat die HERE in al sy god-delike majesteit weer by die
mense kan woon. In ‘n nuwe tempel.

 

En dan besef Hy nog
des te meer die wonder dat God ons nog altyd soek, ook met dreigende woorde, om
ons daarvan weer te deurdring. Om ons te leer die lewe by Hom alleen, in die
nuwe Mens wat Hy wou gee, te soek. Sodat ons deur Hom vir ewig van God se straf
gered word.

En dan proe, by
alle bitterheid, God se woord nog soeter. En kan hy met nog meer oortuiging
daardie woorde aan ander voorhou. Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)