Die Heilige Gees dwing respek af vir die kerk

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-06-21
Teks: 
Handelinge 5 : 13
Preek Inhoud: 

Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word
voorbehou.

PRETORIA-MARANATA,
21 Junie 2015 AD, 10:15 (nagmaal)

Voorsang: Sb 21:1-3

Votum

Seën

Ps 96:3,4

Wet

Ps 96:8

Gebed

Skriflesing: Handelinge 4:32-5:16

Ps 68:16

Teks: Handelinge 5:13

Preek

Ps 79:6

Nagmaalsformulier

Sing van Onse Vader

Geloofsbelydenis (Apostoliese)

Ps 79:9

1e tafel: Skriflesing: 1 Kor
12:12-18; Sb 21:4

2e tafel: Skriflesing: 1 Kor
12:19-27; Sb 21:5

3e tafel: Danksegging en Dankgebed,
Sb 21:6

Kollekte

Ps 68:2

Seën

 

 

 

 

 

Preek:
Handelinge 5:13

 

 

Vanaf die eerste Pinksterdag, toe
drieduisend mense gedoop is, het die kerk bly groei.

Nie op alle plekke ewe vinnig
nie.

Soms meer in die een wêrelddeel
as in die ander.

Soms meer in die diepte as in die
breedte, of juis andersom.

Maar die Heilige Gees wat
uitgestort is het aangehou, en die resultaat is vir almal sigbaar.

Mense, ook in die 21e eeu, wat
tot geloof kom, wat hulle laat doop, wat belydenis aflê.

Kerke wat wêreldwyd gestig word.

 

Tema: Die
Heilige Gees dwing respek af vir die kerk

 

Danksy Pinkster, danksy die
Heilige Gees wat aan die werk is, bestaan die kerk.

Die Heilige Gees werk op
verskillende maniere.

Ons moet nie aan die
charismatiese stereotipering dink van wat die effek van die Heilige Gees is
nie.

Die effek van die Gees se werk is
nie net dat mense hulle hande in die lug swaai nie, en mense wat in sogenaamde
tongetaal praat, wat totaal iets anders is as die praat in tale waarvan ons in
die Bybel lees.

Die effek van sy werk is veel
omvattender, veel dieper.

In ons teks vind ons ook ‘n
voorbeeld van die Gees se werk.

Die groei van die kerk in
Jerusalem was nie net ‘n suksesstorie nie.

‘n Kerk wat ‘n suksesstorie is,
sommige gemeentes bemark hulleself as ‘n suksesverhaal, met die gevolg dat mense
net as gevolg daarvan by hulle aansluit.

Mense wil graag deel van ‘n
suksesverhaal wees.

Sonder dat daar op die inhoud
gefokus word.

Sonder dat daar werklik bekering
en toewyding plaasvind, deur dik en dun.

‘n Kerk wat ‘n suksesstorie wil
wees, verloor sy fokus op Christus en die Waarheid.

Mense sluit aan bloot omdat dit
modieus en eietyds is.

En ja, aan die begin het dit
inderdaad gelyk of die gemeente in Jerusalem ‘n suksesverhaal sou word.

Mens sou dink dat die apostels
bly en trots daarop was.

Tog was dit nie werklik die geval
nie.

Want as iets ‘n suksesverhaal
word, en mense sluit bloot om daardie rede daarby aan, dan sluit hulle om die
verkeerde rede aan.

Sê nou maar dit sou ineens
modieus word om by die VGK aan te sluit, en in ‘n kort tyd sou baie mense hulle
aansluit, gewoon omdat almal dit doen.

Dan is daar ‘n goeie kans dat na
verloop van tyd sommiges tog weer sal besluit om pad te gee.

Omdat daar aan die begin nie
primêr op die inhoud gefokus is nie, maar omdat hulle saamgekom het met die
trend.

In Handelinge 5 sien ons dat die
apostels die feit dat die kerk ineens ‘n suksesverhaal geword het, nie begin
koester het nie.

Dit het in die eerste plek bly
gaan oor die inhoud.

Die verkondiging van die
Evangelie, in sy hele breedte en diepte.

Die toepassing van die Woord in
leer en lewe.

Om trou te wees aan die verhoogde
Heiland en sy Woord.

En mog daar mense gewees het wat
hulle met verkeerde motiewe by die kerk gevoeg het, na die episode waaroor
Handelinge 5 handel, was dit beslis nie meer die geval nie.

Soos daar in ons teks staan: “En
daar was niemand van die ander wat dit gewaag het om hom by hulle te voeg nie”.

Nie dat niemand meer aangesluit
het nie.

Vers 14 sê: “en daar is meer en
meer gelowiges in die Here bygevoeg”.

Maar voortaan was dit dus met
suiwer motiewe.

Geloof en toewyding aan die Here
Jesus Christus.

‘n Keuse wat uitgewerk word in
alledaagse gehoorsaamheid aan die verhoogde Heiland.

Die kerk het bly groei.

Nie as ‘n suksesverhaal nie, maar
as liggaam van Christus.

Groei in die breedte en in die
diepte.

Die Heilige Gees het die mense in
die waarheid gelei.

Die Heilige Gees leer mense om te
buig voor Christus, wat die Waarheid is.

 

So dwing die kerk respek af in
die samelewing.

Dit is ook die werk van die
Heilige Gees.

Vir Ananias en Saffira het dit
uiteindelik oor hulle eie eer gegaan.

Dit het veroorsaak dat hulle ‘n
leuen vertel het.

Hierdeur het hulle die Heilige
Gees teengewerk.

In vers 3 sê Petrus dat hulle
teen die Heilige Gees gelieg het.

En in vers 9 staan dat hulle die
Heilige Gees versoek het.

Die werk van die Gees is juis om
die kerk by die Waarheid, by Christus, te bewaar.

Hierdie werk het hulle
geblokkeer, met alle risikos vir die reputasie van die kerk.

Die straf wat Ananias en Saffira
hiervoor gekry het, was nie mild nie.

Hierdeur het die Heilige Gees
duidelik laat blyk dat die suiwerheid van die kerk onopgeefbaar is.

Wie sonde gedoog, belemmer die
groei van die kerk.

Die groei sowel in die breedte en
in die diepte.

 

Mens kan daarvan uitgaan dat
hierdie insident die groeikurwe van die kerk in Jerusalem laat afplat het.

Wat getalle betref.

Maar nie wat betref diepgang nie.

Respek vir die waarheid, wat
Christus is.

Van die ander het niemand meer
gewaag om hulle aan te sluit nie.

Duidelik is dat die Gees van
Pinkster nie geduld het dat mense met bymotiewe by die kerk aansluit nie.

Christus roep alle mense na Hom
toe, om by sy kerk aan te sluit, op voorwaarde van opregte geloof en bekering.

Na hierdie insident met Ananias
en Saffira het die kerk in aansien gestyg.

Die kerk het weer respek
afgedwing.

Ook dit is ‘n vrug van die werk
van die Heilige Gees.

 

Gemeente, suiwerheid in leer en
lewe is onontbeerlik vir die kerk.

‘n Kerk wat sonde toelaat,
verloor sy bestaansreg.

Die Heilige Gees lyf sondige
mense by die kerk in.

Ons is almal sondig.

Maar Hy vereis wel opregte geloof
en bekering.

Dat jy opregte berou toon, dat jy
breek met die sonde.

Die tugbediening, dit is ook ‘n
vrug van die PinksterGees.

Ook hierdeur waarborg die Gees
die groei van die kerk, sowel in die breedte en in die diepte.

‘n Kerk waar die tug in onbruik raak,
verwater.

Dwing geen respek meer af nie.

Die Heilige Gees bewaar ons by
die Waarheid, dit is by Christus.

Dat ons liggaam van Christus bly.

Dit dwing respek af.

Christus dwing respek af, vanaf
sy hemelse troon.

En daarom dwing sy liggaam op
aarde, wat sy glans vertoon, ook respek af.

 

Geliefde in die Here, dwing jou
lewe ook respek af by ander?

En dwing ons gemeente respek af
in die omgewing?

Laat ons trou bly aan Christus en
sy Woord.

Laat ons die eenheid bewaar, en
nastreef met almal wat opreg is in leer en lewe.

Dan blokkeer ons nie die werk van
die Gees, soos Ananias en Saffira, nie.

Maar dan is ons medewerkers van
God die Heilige Gees.

Instrumente in sy hand.

Een in die waarheid.

Een in Christus, wat die Waarheid
is.

 

Ons mag die eenheid vandag sigbaar
maak, deur saam nagmaal te vier.

As elkeen van ons met die regte
houding aan tafel gaan, al ons sondes bely het, dan ontheilig ons nie die tafel
nie, maar dan is dit ‘n sigbare teken van die eenheid in Christus.

Dat ons saam sy liggaam is.

 

Ons het vanoggend ook gelees,
behalwe vir Ananias en Saffira, oor iemand anders, wat lid was van die kerk in
Jerusalem.

Dit was Joses Barnabas.

Hy het ‘n stuk grond verkoop en
die geld aan die apostels beskikbaar gestel.

Ons mag in sy voetspore volg, en
lojaal wees aan ons gemeente, wat Christus se gemeente is.

Ons mag ons gawes skenk.

By gawes moet ons nie net aan
geld dink nie, dink ook aan tyd.

Dat jy jouself gee, jou talente,
jou tyd, vir die opbou van die gemeente.

En ja, diegene onder ons wat dalk
meerdere stukke grond het, soos Joses waarskynlik gehad het, hy was ‘n ryk
Leviet, sulke persone kan ook vandag dieselfde doen as Joses destyds gedoen
het.

Nie om eie eer te behaal nie,
maar om die gemeente te dien, en die voortgang van die Evangelie.

Christus het elkeen van ons
geseën met rykdom, of dit nou geld is, of talente, of tyd en toewyding, en
dikwels het ons selfs meer as een van hierdie gawes ontvang.

Daar is niemand wat geen gawe
ontvang het om met die gemeente te deel nie.

Laat dit die vrug van hierdie nagmaal
wees, dat elkeen van ons weer met nuwe liefde en ywer lidmate van hierdie
gemeente sal wees.

 

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)