Die Evangelie arriveer op Cyprus, as voorbode vir baie lande wat sou volg

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-07-12
Teks: 
Handelinge 13 : 6-12
Preek Inhoud: 

Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word
voorbehou.

PRETORIA-MARANATA,
12 Julie 2015 AD, 10:15

Voorsang: Sb 26:1-5

Votum

Seën

Ps 31:1,2

Wet

Sb 26:10,11

Gebed

Skriflesing: Handelinge
12:24-13:12

Ps 53:1,4,5

Teks: Handelinge 13:6-12

Preek

Ps 31:3,4

Gebed

Kollekte

Ps 2:3,5,6

Seën

 

 

 

 

 

 

Preek: Handelinge
13:6-12

 

 

In Handelinge 13 en 14 lees ons
oor ‘n reis wat Paulus en Barnabas onderneem het.

Dit word meestal hulle eerste
sendingsreis genoem.

Hulle het uit Antiochië vertrek
en het na ongeveer vier jaar weer daar teruggekeer.

Hulle is naamlik deur Antiochië
uitgestuur.

Ons het dit gelees, vers 2-4, die
Heilige Gees het gesê: “Sonder nou Barnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor
Ek hulle geroep het. En toe hulle gevas en gebid het en hulle die hande opgelê
het, laat hulle hul gaan. So het hulle dan, deur die Heilige Gees uitgestuur,
afgegaan na Seleucië en daarvandaan weggevaaar na Ciprus.”

Toe hulle na vier jaar
teruggekeer het, het hulle verslag gedoen van hulle ervarings.

Aan die einde van hoofstuk 14 kan
ons lees: “en toe hulle daar kom [in Antiochië dus] en die gemeente saamgeroep
het, het hulle verslag gedoen van al die dinge wat God met hulle gedoen het, en
dat Hy ‘n deur van geloof vir die heidene geopen het.” (Hand 14:27)

Hierdie reis was dus ‘n afgeronde
geheel.

Dit was ook suksesvol.

Met die gevolg dat ons in die res
van Handelinge oor nog veel uitgebreider reise kan lees.

Dit het die manier geword waarop
Paulus die res van sy lewe sou deurbring,

naamlik om van die een plek na die
ander te reis, op elke plek meer of minder tyd deur te bring,

steeds die Evangelie te
verkondig,

met die mense in diskussie te
gaan,

die Ou Testament vir hulle te
verklaar in die lig van Jesus Christus.

Telkens met as beginpunt in elke
stad die sinagoge en die Joodse gemeenskap.

 

In hierdie preek staan ons stil
by die eerste land wat Paulus besoek het.

Die eiland Cyprus.

Op hierdie eiland moes Paulus en
Barnabas ongetwyfeld ongelooflik baie dinge beleef het.

Maar die skrywer Lukas het slegs
een episode gekies om te beskryf.

Nie sommer net iets nie, maar ‘n
episode wat handel oor die bekering van die regeringshoof van hierdie eiland.

 

Tema: Die
Evangelie arriveer op Cyprus, as voorbode vir baie lande wat sou volg

 

In die Romeinse Ryk is daar veral
per skip oor see gereis.

Die lande van die Romeinse Ryk was
gegroepeer rondom die Middellandse See.

Mense soos Paulus het telkens
geprobeer om op een van die baie vragskepe, wat die Middellandse See deurkruis
het, te reis.

Paulus en Barnabas het tydens
hulle eerste sendingsreis drie keer ‘n tog met ‘n skip afgelê, in totaal ‘n
afstand van ongeveer 1,100 km.

Oor land het hy egter te voet
gereis.

‘n Dagreis te voet, dan moet mens
aan ongeveer 25 km dink.

Soms meer, soms minder.

Afhangende van die afstand tussen
dorpe of herberge.

Op reis het die mense toe ‘n loshangende
kleed gedra, wat tot op die knieë of kuite gehang het.

Hulle het op sandale geloop.

Die kop was bedek met ‘n soort
sluier of kopdoek teen die son.

Kyk mens na hierdie eerste reis
van Paulus, het dit ongeveer 3-4 jaar geduur.

Nie dat Paulus konstant op die
pad was nie, dit blyk onder andere uit die teks vir vandag.

 

Paulus is op die reis vergesel
deur Barnabas.

Dit was die man wat hom
aanvanklik in Tarsus gaan soek het, en hom saamgevat het vir die werk in
Antiochië.

Miskien moet mens dit anders sê:

Barnabas is deur Paulus vergesel
op die reis.

Eers tydens hierdie reis – soos
mens kan agterkom in Lukas se beskrywing – het Paulus na vore begin kom as die
leier van die geselskap.

By die begin van die reis was
hulle al vir in elk geval ‘n jaar mekaar se kollegas, omdat hulle saam in
Antiochië gearbei het.

Maar in vers 2 lees ons dat die
Heilige Gees aan die gemeente in Antiochië duidelik gemaak het dat hulle nie
vir altyd Paulus en Barnabas kon vashou nie.

Verder het daar ook ‘n sekere
Johannes, met die bynaam Markus, met hulle saamgereis.

Hy het egter slegs die eerste
deel van die reis saam met hulle afgelê – die gedeelte op die eiland Cyprus,
waarna hy teruggekeer het na Jerusalem.

 

Die feit dat die eerste reisdoel
die eiland Cyprus was, is nie verbasend nie.

Barnabas was naamlik self van
Cyprus afkomstig.

In daardie tyd het baie Jode op
hierdie eiland gewoon.

Ons lees dat die geselskap deur
die eiland getrek het.

Waarskynlik het hulle nie dwars
deur die binneland van Cyprus getrek nie, want die binneland van hierdie eiland
is baie bergagtig.

Waarskynlik het hulle al met die
suidkus langs getrek, waar die mense veral gewoon het.

‘n Reis van ongeveer 200 km.

Dit het te voet gegaan van dorpie
tot dorpie.

Ook op die vasteland van
Klein-Asië sou hulle later nog ‘n hele reis te voet aflê.

Eers in noordelike rigting vir
ongeveer 200 km, vervolgens in suidoostelike rigting na die stede Ikonium,
Listre en Derbe, nog ‘n 200 km.

En met dieselfde roete het hulle
oorland ook weer teruggeloop, om ten slotte vanaf Perge per skip terug te vaar
na Antiochië in Syrië.

In 4 jaar dus ‘n reis van 1,100
km oorseee, en ongeveer nog ‘n 1,000 km oor land.

 

Dit klink geweldig baie.

Maar dit is nie so baie as mens
hierdie afstande verdeel oor ‘n tydperk van vier jare nie.

As mens alles bymekaar optel, in
ag genome die snelheid waarmee hulle destyds gereis het, kan mens by benadering
sê dat hulle ongeveer ‘n 100 dae in daardie periode van 4 jaar op pad was,
hetsy te voet, of op ‘n skip.

Sê maar drie maande uit die 4
jaar.

Hoekom ek hierdie sommetjie
gemaak het, is om vir u duidelik te maak wat Paulus en Barnabas eintlik gedoen
het.

Ons noem dit wel ‘n sendingsreis.

Maar eintlik het dit dus nie oor
die reis gegaan nie.

90% van die tyd was hulle met
iets anders besig as om te reis.

Gereeld lees ons in Handelinge
dat Lukas die opmerking maak: in die en die stad het hulle geruime tyd vertoef.

En so was dit dus ook tydens die
eerste sendingsreis.

Lukas noem nie al die dorpe en
stede waar hulle verbly het nie.

Wat die eiland Cyprus betref noem
hy slegs Salamis en Pafos.

Ons mag aanneem dat dit slegs ‘n
seleksie is uit die dorpe waar hulle ook was.

Want tussen Salamis in die ooste
van die eiland en Pafos aan die weskus, lê daar nog veel meer dorpe, waar
Paulus-hulle ongetwyfeld deurgekom het.

En in al daardie plekke was daar
ook Joodse gemeenskappe woonagtig, wat daar ook hulle sinagoges gebou het.

En reken maar dat Paulus en
Barnabas op al daardie plekke enige tyd gebly het om die Evangelie te bring.

Om voor te gaan in die
verskillende sinagoges.

Lukas kies vir sy reisverslag
egter net hierdie twee: Salamis en Pafos.

Oor Salamis skryf hy ook maar
bitter weinig.

Slegs dat Paulus, met onder
andere Johannes as helper, die Woord van God in die sinagoges van die Jode
verkondig het.

Daar het dus waarskynlik ‘n
aansienlike Joodse gemeenskap gewoon, met meerdere sinagoges.

Maar vervolgens spring Lukas
direk na Pafos.

Oor wat daar in Pafos gebeur het,
vertel hy meer.

 

In Pafos is Paulus en Barnabas se
boodskap naamlik stewig aan die tand gevoel.

‘n Tweestryd tussen Paulus en ‘n
Joodse towenaar: Elimas, of Bar-Jesus.

Hierdie towenaar, of
toekomsvoorspeller, het in diens gestaan van die goerwerneur Sergius Paulus.

Hy was die hoof van die hele
eiland, aangestel deur die keiser.

Om as goewerneur so ‘n toekomsvoorspeller
in diens te hê, was in daardie tyd nie ongebruiklik nie.

Daar het ‘n soort haat-liefde
verhouding met die towenaars bestaan.

Aan die een kant het die mense
hierdie towenaars, toordokters, verpes, aan die ander kant het hulle die
behoefte gevoel om hulle te raadpleeg by die neem van moeilike beslissings.

In die geskiedenis van die
Romeinse Ryk is hulle soms met ‘n dekreet van die keiser of deur ‘n
senaatsbesluit verban.

Maar soms het dieselfde keiser
hulle na ‘n rukkie tog weer toegelaat.

So ‘n tipe magiër of
toekomsvoorspeller was Bar-Jesus dus ook.

En dat hy ook nog ‘n Jood was,
wat in diens was in ‘n Romeinse huis, hoef nie te verbaas nie.

Magie en toekomsvoorspelling was
interreligieuse verskynsels.

Die towenaars het elemente uit
verskillende godsdienste gemeng.

En die Jode was in die Romeinse
Ryk goed verteenwoordig.

En dit het ook vir Cyprus gegeld.

 

‘n Tweestryd dus tussen Paulus en
Elimas.

Dit het begin toe Elimas
geïrriteerd geraak het en Palulus-hulle begin teëstaan het.

Hy’t geprobeer dat die goewerneur
nie na hulle luister nie.

Soos ons teks sê: geprobeer om hom
afkerig te maak van die geloof.

Elimas het dus sy posisie aan die
hof gebruik om die goeie nuus skade te berokken.

Elimas het direkte ingang gehad
by die prokonsul, die maghebber van die eiland.

 

Hierdie prokonsul, Sergius
Paulus, word deur Lukas getipeer as ‘n verstandige man.

Lukas bedoel hiermee, gesien die
feit dat hy die goewerneur was, soiets soos:

Hy was ‘n nugter man, beheers,
waaksaam, nie impulsief nie.

Dit het ook geblyk uit die feit
dat hy homself wou vergewis van die inhoud van Paulus se prediking.

Nie oordeel voordat jy self na
iemand geluister het nie.

En toe Paulus dus die geleentheid
gekry het om die Evangelie te verkondig aan sy hof, en van Christus te getuig,
het hierdie Elimas waarskynlik ook onder sy gehoor gesit.

Maar toe Elimas die boodskap
hoor, het hy homself daarteen verset.

Elimas wou nie dat die goewerneur
‘n Christen word nie.

Daardeur sou hy naamlik sy
invloed as adviseur aan die hof verloor.

 

Lukas beskryf hoe Paulus vir
konfrontasie kies.

Nie omdat hy self in sy eer
aangetas voel nie, maar omdat die naam van sy Sender in geding is.

Jesus Christus, op sy hemelse
troon.

Hulle is gestuur om sy naam te
laat klink ook op hierdie eiland.

Maar as daar nou al vanaf die
begin die risiko van ‘n verbod op sending dreig, omdat Elimas die regering
foutief inlig, leuenagtige advies gee, dan kom Paulus in aksie.

Vervul met die Heilige Gees het
hy sy oë op Elimas gehou, hom skerp aangekyk, en geroep:

Kind van die duiwel, vol van ale
bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die
reguit weë van die Here te verdraai nie?

 

En dit het nie net by woorde
gebly nie.

Paulus, wat as apostel die
bevoegdheid gekry het om tekens en wonders te doen, maak nou daarvan gebruik.

Om sy woorde te bekragtig.

Hy sê vir Elimas: Jy sal blind wees
en die son ‘n tyd lank nie sien nie.

En onmiddellik het daar
donkerheid en duisternis op hom geval, hy het in die duister rondgetas, gesoek
vir iemand om hom by die hand te lei.

Wat ‘n afgang!

Niks geen heldersiendheid meer
nie.

Hierdie sogenaamde heldersiende
toekomsvoorspeller moet nou by die hand gelei word.

 

Hierdie bestraffing van Paulus –
terloops hier word Paulus vir die eerste keer deur Lukas Paulus genoem nie nie
meer Saulus nie (Saulus is sy Hebreeuse naam en Paulus die Grieks-Romeinse
vorm).

Net soos Jan in Afrikaans anders
klink in Engels, John.

Maar goed, Paulus het Elimas
bestraf.

Hierdie bestraffing kan mens goed
vergelyk met hoe Petrus vir Ananias en Saffira bestraf het.

‘n Konfrontasie, nie net tussen
persoonlikhede nie, maar tussen geeste.

Ja die Heilige Gees teenoor die
duiwel, op ‘n deurslaggewende oomblik vir die voortgang van die Evangelie.

Elimas verteenwoordig hier ‘n mag
groter as hyself.

Ons hoor hier die ego van die
woorde van die duiwel self, wat destyds vir die Here Jesus gesê het:

Alle koninkryke van die aarde
behoort aan my.

Buig voor my, en dan sal ek hulle
vir jou gee...

Ja onder andere deur Elimas het
die duiwel ook invloed gehad hier aan die goewerneur se hof op Cyprus.

Maar met die prediking van die
Evangelie word daar nou ‘n einde hieraan gemaak.

Hierdeur word die bose magte
openbaar gemaak, ontmasker en aan die kaak gestel.

En Sergius Paulus, goewerneur van
die eiland, het presies gesien wat daar gebeur het.

Dit het hom geweldig aangegryp.

Hy was verslae, skryf Lukas.

Hy was verslae oor die leer van
die Here en het geglo.

 

Gemeente, die eiland Cyprus
beroem hulle tot die dag van vandag op die feit dat hulle die eerste land in
die wêreld was met ‘n Christelike regering.

‘n Christelike staatshoof.

En hulle is reg.

Met die bekering van Sergius
Paulus het Cyprus die eerste land geword met ‘n Christen aan die top.

Deesdae het baie mense die
opvatting dat dit die beste is vir ‘n land as godsdiens en politiek geskei
word.

‘n President of koning wat
openlik daarvoor uitkom dat hy ‘n Christen is, pleit dit voor hom of teen hom?

Is dit nie beter as geloof en
godsdiens beperk word tot die private lewe nie?

Die feit dat Sergius Paulus ‘n
Christen geword het, was dit goed vir 
Cyprus of nie?

 

Nou is dit opvallend dat hierdie
soort diskussies ook al in die Romeinse 
Ryk voorgekom het.

In die eerste eeue was die
Christelike geloof nog nie so bekend nie.

Daar het ook baie misverstande
oor die Christene bestaan.

Die deursnee Romeinse burger het
gedink dat hulle ‘n sekte êrens uit die Ooste is.

‘n Afsplitsing van die Jode, wat
op sig al bekend gestaan het as ‘n baie opstandige en moeilike volk.

As die Christene daarvan ‘n
afsplitsing was, dan sou hulle waarskynlik nog veel moeiliker wees.

So ‘n persepsie het daar oor die
Christene geheers.

 

Maar wat is nou so verrassend?

Mens kan dit lees in die
geskrifte uit daardie tyd.

Dat gaandeweg hoe meer die mense
met die Christene in aanraking gekom het, al hierdie persepsies ontkrag is.

Neem byvoorbeeld die volgende
gesprek, tussen twee Romeine, waar die een vir die ander sê:

Weet jy wat my vandag so verbaas
het?

My kollega Publius, wat ek leer
ken het as ‘n baie aangename persoon,

heel gewoon, vriendelik,
hardwerkend, betroubaar, niks besonders verder.

Wat skets my verbasing, dat ek
vandag gehoor het dat hy ‘n Christen is.

Hoe kan dit nou?

Ek kon my ore nie glo nie.

Ja, sê die ander persoon toe.

Dieselfde ervaring het ek verlede
week gehad.

Ek het gehoor dat my vrou se
sussie nou al vir ‘n jaar lank Christen is.

Terwyl ek juis begin dink het dat
sy as persoon al hoe aangenamer begin raak het.

Hoe kan dit nou?

 

Hierdie soort gesprekke
illustreer hoe die bevolking van die Romeinse Ryk begin ontdooi het.

Persepsies teen die Christelike
geloof is ontkrag.

En deur informele kontakte het
hulle agtergekom hoeveel goeds die boodskap van Christus inhou.

Alle praatjies en verdagmakery,
wat mens soos Elimas oor die Christene versprei het, ja waaragter die duiwel self
gesit het, al hierdie negatiewe persepsies het onwaar geblyk, sodra mense
persoonlik met Christene in aanraking begin kom het.

 

Die goewerneur, Sergius Paulus,
bekend as ‘n wyse en besadigde politieke leier, het tot geloof gekom.

Nie omdat hy ineens in die
vangnet gekom het van ‘n sektariese groepering nie.

Nie omdat hy skielik deurgeslaan
het in ‘n soort religieuse fanatisme nie.

Eintlik presies die omgekeerde.

As nugtere leier het hy gewoon
ingesien dat die boodskap wat Paulus bring, baie aanneemlik was, en ook baie
goed vir sy land en sy bevolking.

‘n Waardevolle aanwins vir ‘n
goewerneur, wat nugterheid, waaksaamheid, beheersdheid, goeie leierskap
belangrik geag het.

Inderdaad, vandag is Cyprus nog
steeds trots daarop, dat hulle die eerste land was met ‘n Christelike
staatshoof, en hulle is reg.

 

Dit wil nie sê Christelike leiers
kan nie foute maak nie.

Ongelukkig wel.

Maar dit gaan in die eerste plek
nie oor die persoon nie.

Mense is altyd feilbaar.

Mense maak foute, of jy Christen
is of nie.

Maar Christene se lewenshouding
is dat hulle wil leer uit hulle foute.

Christene leef met die besef dat Christus
regeer, en dat ‘n staatshoof aan Hom onderdanig moet wees, teenoor Hom
verantwoording skuldig is.

 

Christus het ‘n boodskap vir elke
mens, vir elke staatshoof.

En dit het Paulus en Barnabas
vrymoedigheid gegee om te getuig.

Hulle het getuig op Cyprus en in
al die ander lande waar hulle gekom het.

Hulle het nie ‘n vreemde
godsdiens gebring, ‘n soort eksotiese oosterse boodskap nie.

Inteendeel, op elke plek waar
hulle gekom het, ook te Pafos aan die hof van Sergius Paulus, het hulle die
mense, Jood of Cyprioot, Griek of Romein, geplaas voor die aangesig van hulle
Skepper, wat na sy afgedwaalde skepsele op soek is.

Die Skepper, die enige lewende
God, wat sorg vir heel die aarde en sy bewoners.

Die aardbewoners gaan Hom aan die
hart.

Hy bly hulle opsoek.

Paulus het nie met ‘n snaakse
verhaal gekom nie.

Hy het die mense teruggelei na
hulle oorsprong, waar ieder en elk van afkomstig was.

Sien jou Skepper, erken jou
Skepper, eer jou Skepper!

 

En so gaan die Evangelieprediking
vandag nog steeds verder.

Net soos Paulus en Barnabas aan
die hof van Sergius Paulus gedoen het,

ook so word Jesus Christus
vanoggend aan u voorgehou.

Hy is daar, Hy regeer.

Hy wil dat jy Hom ken en erken as
die Heer van jou lewe.

Hy wil dat jy voor Hom buig.

Hy wil dat jy die liefde van Hom
wat jou geskep het, nie afwys nie.

Hy wil ook jou red, jou ewige
behoud gaan Hom aan die hart.

Hy wil dat jy Hom gehoorsaam.

Dit sal jou rustig maak.

Dit sal die angs verjaag.

Dit sal jou nugter, beheers en
stabiel maag.

Of, soos die Bybel sê, jy gaan
steeds meer die ewebeeld van Christus vertoon.

Soos Hy was, soos God die mens
bedoel het om te wees by sy skepping.

Iemand wat aangenaam is om te
ken.

Iemand wat ‘n plesier is in die
omgang.

Iemand wat ‘n verskil maak in die
kerk, in die samelewing, in die politiek, waar ook al.

Gewoon omdat jy weer mens is soos
God jou bedoel het.

Omdat jy weet dat jy geliefd is
deur jou Skepper.

Omdat jy weet dat jy verlos is
van sonde en dood.

Ja gewortel in die ewige liefde
van God, is jy in staat om ook aan ander liefde te bewys.

God se gesalfde te wees.

‘n Verskil ten goede te maak in
die posisie waar jy geplaas is.

Cyprus mog profiteer van ‘n
goewerneur wat voortaan ‘n verskil ten goede sou maak, omdat hy die waarheid
liefgehad het.

In ons teks het die Evangelie op
Cyprus aangekom.

Daarna sou baie meer lande volg.

Christus het dit so gelei dat die
Evangelie ook in Suid-Afrika aangekom het.

Ons bede is dat baie lande, ook
vandag in die 21e eeu, mag profiteer, vooruit mag gaan, omdat hulle ‘n wyse
Godvresende staatshoof het.

Ons bede tot God is indringend
dat Hy dit ook vir ons land wil skenk.

En laat ons self nie net op die
politiek wag nie.

Laat ons self ‘n verskil ten goede
maak, juis omdat ons vanuit die Evangelie leef.

Omdat ons leef met die besef dat
Christus regeer op die hemelse troon.

Dat Hy alles sien.

Dat ons teenoor Hom
verantwoording sal moet aflê.

Daardie besef, daardie vrees vir
die verhoogde Christus, maak elke mens nederig, beskeie, wys, ‘n liefde vir die
waarheid en afsku van die leuen.

So behoort elkeen van ons ‘n
soutende sout te wees.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)