Die doop van Jesus bied u alles

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2015-08-09
Teks: 
Handelinge 18 : 24-19 : 7
Preek Inhoud: 

Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word
voorbehou.

PRETORIA-MARANATA, 9 Augustus 2015 AD, 10:15 (doop)

Voorsang: Sb 31:1-3

Votum

Seën

Ps
147:1

Wet

Ps
147:2

Gebed

Doopsformulier

Bediening
doop: Leanel Bouwmeester

Dankgebed

Skriflesing:
Handelinge 18:1-23

Ps
99:2,3

Teks:
Handelinge 18:24-19:7

Preek

Sb
38:1,2,3

Gebed

Kollekte

Ps
128:3,4

Seën

 

 

 

Preek:
Handelinge 18:24-19:7

 

 

Johannes die Doper was die
grootste profeet van die ou verbond.

Geweldig baie mense het hom
gevolg en is deur hom gedoop.

Tog weet ons eintlik baie min oor
hierdie man.

Dit het te make met sy hooftaak.

Hy was naamlik die wegbereider
vir die Messias.

Soos hy self gesê het:

Die Here Jesus, moet groter word,
en hy minder, kleiner.

Jesus moes op die voorgrond tree.

Maar eers was Johannes op die
voorgrond, veral by die Jode.

Hy het ‘n massale volksoploop
teweeggebring.

Tienduisende mense is deur hom
gedoop.

‘n Paar jaar gelede het ek ‘n
berig gelees van ‘n argeoloog wat naby Jerusalem opgrawings gedoen het in ’n
grot, en na aanleiding van wat hy daar gevind het, kon hy skynbaar vasstel dat
Johannes die Doper ook in daardie grot, waarin daar ‘n waterbron was, gedoop
het.

Of dit werklik so was, kan mens
moeilik net met argeologiese inligting vasstel.

Ons weet uit die Bybel dat in elk
geval by die Jordaanrivier gedoop het.

En ons weet inderdaad dat
geweldig baie mense het hom as ‘n profeet, ‘n groot godsdienstige leier, beskou
het.

Hy was ‘n fenomeen.

En hy het – soos u weet – skielik
aan die einde van sy lewe gekom.

Soos dit dikwels gebeur by
volkshelde, as hulle onverwags te sterwe kom, rys hulle ster net nog vinniger,
en begin daar soms mites rondom so ‘n figuur ontstaan.

Kortom, Johannes was ‘n groot en
gerespekteerde profeet.

Selfs onder die Jode in die
buiteland.

Byvoorbeeld in die Egiptiese stad
Alexandrië, waar daar in daardie tyd baie Jode gewoon het.

Een van hulle was Apollos, oor
wie ons in ons teks vir vanoggend gelees het.

 

Tema: Die
doop van Jesus bied u alles

1 Die doop
van Jesus vergeleke by die doop van Johannes

2 Die rykdom
van die doop van Jesus

 

1 Die doop
van Jesus vergeleke by die doop van Johannes

Apollos was ‘n geleerde man.

Hy het die boeke van die Ou
Testament beter geken as meeste ander Jode.

Hy was iemand wat ‘n aantal jare
gelede gedoop is deur Johannes, of moontlik deur een van Johannes se dissipels.

Die prediking van Johannes die
Doper het daaruit bestaan dat hy die mense op die koms van die Messias gewys
het.

Apollos het belangrike werk
gedoen, veral in die diskussies met die Jode.

In die stad Efese, in Klein-Asië
(hedendaagse Turkye), het daar in daardie tyd ook baie Jode gewoon.

Vanuit die boeke van die Jode,
die Ou Testament, was Apollos onophoudelik besig om sy volksgenote te oortuig,
dat Jesus die langverwagte Messias was.

 

Tog was daar bepaalde leemtes in
Apollos se prediking.

U moet onthou dat daar in daardie
tyd nog nie die moderne kommunikasiemiddele bestaan het nie.

Daar was nie telefoon, ook nie
internet, facebook, of whatsapp nie.

‘n Sentrale webwerf vir die
Christelike geloof, waarop elke belangstellende die jongste nuus kon vind met
‘n enkele ‘kliek’, of jy nou in Tokyo in die ooste of in San Fransisco in die
Weste van die wêreld is, dit het toe nog nie bestaan nie.

Apollos was waarskynlik goed op
die hoogte met die lewe van Christus.

Met sy sterwe en miskien ook sy
opstanding.

Maar wat daarna gebeur het, veral
alles rondom Pinkster, daaroor het hy nog nie inligting gehad nie.

Ons lees dan in vers 26 dat
Aquila en Priscilla, ‘n egpaar wat medewerkers van Paulus was, Apollos apart
geneem het en hom die een en ander vertel het.

Soos daar staan:

Hulle het hom die weg van God
noukeuriger uitgelê.

Die weg van God, daarmee word
bedoel: dit wat God in die onlangse verlede alles gedoen het.

Apollos het noodsaaklike
byskoling ontvang, omdat God ondertussen belangrike nuwe ontwikkelinge laat
plaasvind het in die heilsgeskiedenis.

Ons lees dat Apollos vervolgens
uitgestuur is na Korinthe.

Dit is in Griekeland aan die
oorkant van die see.

Hy is uitgestuur om ook daar die
Evangelie te preek en om bystand te verleen in die groot debatte met die
sinagoge.

Mens kan moeilik onderskat hoe ‘n
belangrike rol mense soos Apollos gespeel het.

Want hulle het ‘n maklike ingang
by die Jode gehad.

Die Jode was baie minder vyandig
teenoor hulle as teenoor die apostels.

Die volgelinge van Johannes die
Doper kon op baie simpatie reken onder die Jode.

Johannes was naamlik vir hulle ‘n
groot profeet.

Soos ons uit die Evangelie van
Mattheüs weet, was ook die owerpriesters en ouderlinge van die volk skrikkerig
vir al sy volgelinge.

Toe Jesus ‘n keer vir hulle gevra
het of Johannes se doop uit die hemel of uit mense was, het hulle onder mekaar
beraadslaag: “as ons sê: Uit mense – dan moet ons oppas vir die menigte, want
almal hou Johannes vir ‘n profeet.” (Mattheüs 21:26)

Al hierdie volgelinge van
Johannes die Doper het nog vir baie jare onmisbare werk verrig, met name onder
die Jode in die Diaspora, om hulle harte gereed te maak vir die Evangelie, wat
die apostels soos Paulus kom bring het.

Soos Johannes die Doper die
voorloper vir Christus was, so was sy volgelinge dikwels die voorlopers vir die
koms van die evangelie wat die apostels gebring het.

 

So het Paulus ook in Efese
aangekom, nadat Apollos daar al gearbei het.

Paulus was op hierdie oomblik al
besig met sy derde sendingsreis.

Vanaf Antiochië in Syrië het hy
‘n lang reis gemaak deur die binnelande van Klein-Asië, heeltemal van oos na
wes, en het nou dus weer in Efese aangekom, aan die weskus van Turkye, waar hy
‘n paar jaar gelede ook al was, alhoewel toe net vir ‘n baie kort verblyf.

Hierdie keer egter bly hy langer
in Efese, twee jare.

Daar was op hierdie stadium al ‘n
soort Christelike gemeente in Efese.

Ons lees in vers 27 oor “die
broeders”, ‘n aanduiding vir die gemeentelede.

Paulus arbei dus vir twee jaar in
hulle midde.

En tydens hierdie periode ontmoet
hy dan ‘n aantal leerlinge – dissipels – waarmee eintlik dieselfde aan die hand
was as met Apollos.

Dit was ongeveer twaalf manne.

Hulle was dus ook mense wat die
doop van Johannes ontvang het.

Maar vervolgens is hulle – om
verder onbekende redes – nie op datum gebring met die verdere verloop van God
se heilsdade nie.

Want wat daar in Jerusalem op
Pinksterdag gebeur het, daarvan het hulle duidelik nog nie gehoor nie.

Ons lees dat Paulus, wat skynbaar
al meer dikwels met sulke mense in aanraking gekom het – mense soos Apollos –
dat Paulus aan hulle die vraag gevra het:

Het julle wel die heilige Gees
ontvang toe julle gelowig geword het?

Waarop hierdie twaalf manne toe
geantwoord het:

Ons het selfs nie eers gehoor,
dat daar ‘n Heilige Gees is nie.

 

Hierdie opmerking moet ons in die
konteks verstaan.

Uiteraard het hierdie manne van
die Heilige Gees geweet.

Want ook in die Ou Testament lees
ons baie oor die Gees van God, die Heilige Gees.

En uiteraard het Johannes die
Doper ook die Heilige Gees geken.

Het hy nie met sy eie oë gesien
hoe die Gees van God soos ‘n duif op Jesus neergedaal het nie, die dag toe Hy
gedoop is? (Matth 3:16)

Maar die gebeurtenis van die
uitstorting van die Heilige Gees, op Pinksterdag, en ook die opdrag van Jesus
aan sy apostels net voor sy hemelvaart: doop die mense in die naam van die
Vader, die Seun én die Heilige Gees;

dit was nog vir hierdie 12 manne
onbekend.

Vandaar dat Paulus na sy eerste
vraag aan hulle dadelik nog deurgevra het:

“Met watter doop is julle dan
gedoop?” (Hand 19:3)

Waarop hulle geantwoord het: “Met
die doop van Johannes.”

 

Nou is dit die vraag wanneer
hierdie mense die doop van Johannes ontvang het.

U moet onthou, in daardie tyd het
daar meer Jode buite Israel gewoon as in die land self.

Trouens, vandag is dit nog steeds
die geval.

Hierdie Jode in die Diaspora het
die tradisie gehad om een of soms meerdere kere in hulle lewe na Jerusalem te
reis.

Dit was vir hulle ‘n soort
pelgrimsreis.

Om daar in Jerusalem die Paasfees
te vier, en die Pinksterfees, vyftig dae later.

Ons weet uit meerdere bronne dat
die bevolking van die stad Jerusalem rondom die feesdae meer as verdubbel het.

Buitelandese pelgrims het orals
hulle tente opgeslaan rondom die stad, of in die herberge gebly.

Dit was honderdduisende mense,
sommige bronne praat oor meer as miljoen.

Nou is dit heel moontlik dat
hierdie groep manne, Jode woonagtig in Efese, ook ‘n keer hierdie reis na
Jerusalem gemaak het.

Om ‘n keer in hulle lewe die
feeste by te woon, en self by die tempel ‘n offer te bring.

En tydens hulle verblyf in die
beloofde land het hulle toe in aanraking gekom met Johannes die Doper, en met
sy prediking.

Dat hy die mense opgeroep het om
hulle te bekeer.

En dat hy die mense, wat hulle
bekeer het, gedoop het.

So het hulle dan aanhangers,
volgelinge van Johannes die Doper geword.

Maar eenmaal weer terug in hulle
eie land – Efese en omstreke – het die gewone lewe weer verder gegaan, en is
hulle nie ingelig oor wat daar alles in Jerusalem gebeur het na die dood van
Johannes die Doper nie.

 

Wat hierdie manne alles wel en
wat hulle nie geweet het nie, is nie duidelik nie.

Feit is dat hulle in elk geval
nie op die hoogte was met wat daar sedert die hemelvaart van Christus gebeur
het nie.

Hulle is destyds deur Johannes
gedoop.

Maar van die doop van Jesus,
naamlik die doop in die naam van die Drieënige God – Vader, Seun en Heilige
Gees – Mattheüs 28:19 – daarvan het hulle nog niks geweet nie.

 

En dit mog Paulus toe aan hulle
verduidelik.

Waarna hulle gedoop is, met die
doop van Jesus.

Vers 5: “En toe hulle dit hoor,
is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus.”

Toe Paulus hulle die hande opgelê
het (vers 6) – hiermee word waarskynlik die doophandeling bedoel of ‘n seënende
gebaar – het die Heilige Gees op hulle gekom, en hulle het in tale gespreek en
geprofeteer.

Lukas, die skrywer van
Handelinge, bedoel hier dieselfde as waaroor hy in hoofstuk 2 geskryf het: wat
daar op die Pinksterdag gebeur het.

Dat die apostels in allerlei buitelandse
tale begin praat en die Evangelie begin verkondig het.

Met die bedoeling dat al die Jode
uit die Diaspora, wat op daardie oomblik in Jerusalem was – Parthers, Meders,
Elamiete – u ken moontlik die lysie uit Handelinge 2 – sodat al hierdie mense
die boodskap van die Evangelie in hulle eie taal te hore gekry het.

Hier, in ons teks, in Efese,
gebeur dus iets soortgelyks.

Tussen hakies, ons lees maar
liefs drie keer in Handelinge dat die Heilige Gees uitgestort is.

Die eerste keer in hoofstuk 2, op
Pinksterdag in Jerusalem.

Die tweede keer in Caesarea by
die Italiaanse hoofman Cornelius en sy huis.

En nou die derde keer hier in
Efese, op hierdie twaalf dissipels van Johannes die Doper.

En in al drie gevalle lees ons
ook dat hulle in tale begin praat en profeteer het.

Onder profeteer moet ons
verstaan: die goeie nuus, die Evangelie, vertel, God se groot dade, dat God
daarvoor geprys word, dat aan die mense vertel word watter ryke betekenis dit
het, wat die impak daarvan is, en dat die mense opgeroep word om die boodskap
aan te neem, om hulle tot Christus te bekeer.

So het dit dus ook hier in Efese
gebeur.

God die Heilige Gees het hierdie
12 manne uitgekies, om in sy diens uit te trek, en om die Evangelie in
Klein-Asië te gaan verkondig aan al die mense, in hule eie tale waarin hulle
gewoond was om te praat.

Miskien was dit mede danksy
hierdie 12 broeders dat daar in so ‘n kort tyd bloeiende gemeentes aan die
weskus van Klein-Asië ontstaan het.

‘n Paar jaar later, as die
apostel Johannes sy Openbaring skryf vanaf die eiland Patmos – ‘n  eiland wat geleë is voor die weskus van
Klein-Asië – adresseer hy die boek aan maar liefs sewe gevestigde kerke in
Efese en omstreke.

U ken moontlik hierdie gemeentes.

Ten eerste Efese (Openb 2).

Ten tweede Smirna, 50 km noord
van Efese (vandag bekend as Izmir).

Ten derde Pergamum, nog ‘n 50 km
na die noorde.

Vierdens Thiatire, 100 km
noordoos van Efese.

Dan Sardis (Openb 3), 50 km
noordoos van Efese, tussen Efese en Thiatire.

Dan sesdens Filadelfia, 100km oos
van Efese,

En die sewende gemeente Laodicea,
150 km oos van Efese.

Vanuit Efese is die Evangelie dus
versprei in die wye omgewing.

Daar het bloeiende gemeentes tot
stand gekom.

En presies dit was die bedoeling
van die Heilige Gees.

Dat die Evangelie, sonder om
vertraag te word deur taalgrense, so vinnig moontlik kon versprei.

Hulle het die goeie boodskap
verkondig, nie net in Grieks – die Engels van daardie tyd – nie, maar in die
mense se eie tale.

En soos dit vandag is, was dit
vroeër ook.

Jy raak iemand in sy hart, as jy
tot hom praat in sy eie taal.

So het die Heilige Gees met
hierdie talewonder brûe gebou tussen mense.

Hy het mense saamgebring rondom
dieselfde boodskap, rondom Jesus Christus, gekruisig, maar ook opgestaan,
opgevaar na die hemel!

Sy Naam het in vele tale geklink.

En so het dit gebly, tot vandag
toe, selfs nog veel meer.

 

(Tema: Die doop van Jesus bied u
alles

1 Die doop van Jesus vergeleke by
die doop van Johannes)

 

2 Die rykdom
van die doop van Jesus

Gemeente, ons het tot dusver die
teks vers vir vers gevolg.

Ek het in hierdie preek probeer
om die omstandighede te skets van die mense wat ons in die teks ontmoet.

Apollos, Aquila en Priscilla,
Paulus, die twaalf dissipels van Johannes die Doper.

Miskien dat u nou wonder.

Is dit wel nodig dat ons so in
detail ingaan op wat hier staan, die historiese agtergrond, en wat hier bedoel
word?

Gemeente, my antwoord op hierdie
vraag is baie bewus: ja.

Dit is nodig.

Nie net omdat ons as
Gereformeerde Christene daarvoor bekend staan dat ons die Bybel goed ken, dat
ons daaraan gewoond is om na preke te luister wat baie aandag aan eksegese
spandeer nie.

Dit is nie net ons tradisie wat
maak dat ons dit doen nie, dit is regtig nodig.

Want oor hierdie Bybelgedeelte, oor
ons teks, bestaan daar deesdae baie misverstand.

In Charismatiese kerke,
Pinkstergemeentes, hoe mens hulle ook wil noem, word hierdie Bybelgedeelte
naamlik heel anders uitgelê.

Die sogenaamde Charismatiese
teologie baseer naamlik een van hulle belangrike leerstellings op hierdie
Bybelgedeelte.

En dan praat ek oor wat hulle
noem die doop met die Heilige Gees.

Die doop met die Gees, wat ‘n
lewende Christen behoort te ontvang, nog bo-op die gewone doop, as ‘n ekstra.

Hulle redeneer: jy is nie ‘n
lewende Christen as jy nie die doop met die Heilige Gees ontvang het nie.

As jy die gewone doop ontvang het
– dan verwys hulle na die doop in die Naam van God Drieënig toe jy ‘n kind was
– as jy dit ontvang het, dan het jy nog nie genoeg nie.

Jy moet ook nog ‘n tweede keer
gedoop word.

Wedergedoop, opnuut gedoop.

En wel met hierdie doop: die doop
met die Heilige Gees.

Eers as jy hierdie doop gekry
het, het jy regtig die Heilige Gees ontvang.

Dan kan jy ook profeteer, in
tonge praat, ensovoorts.

 

Verstaan u, gemeente, in beginsel
sê die Charismatiese gemeentes dus vir ons:

Julle is nog tweederangse
Christene.

Julle is nog nie egte gelowiges
nie.

Julle moet eers hierdie doop ontvang.

Die doop met die Heilige Gees.

 

Wat antwoord ‘n mens nou daarop?

Dit kan onverwags gebeur dat
iemand dit vir jou sê - ‘n familielid, of ‘n kollega, ‘n vriend of vriendin.

Dalk is jy op kampus, op vakansie
of op ‘n reis, jy ontmoet iemand wat uit die Pinkstergemeente is, en daardie
persoon sê vir jou:

Jy moet nog ‘n keer gedoop word.

Jy kort nog die doop met die
Heilige Gees.

Wat antwoord jy dan?

 

Gemeente, nie vir niks het ons so
in detail na die teks gekyk nie.

Want die dinge wat charismatiese
gelowiges sê oor hierdie teks, en wat hulle daaruit aflei oor ‘n doop met die
Heilige Gees, dit blyk by nader insien nie moontlik te wees, as mens die teks
korrek, in sy historiese konteks, uitlê nie.

Die woorde van ons teks word dan
heeltemal a-histories – los van hulle historiese konteks – gelees.

En so kan dit gebeur dat iets in
die teks ingelees word, wat glad nie eers daar staan nie.

 

As jy vinnig en oppervlakkig die
teks lees, en jy doen nie die moeite om dit met ander Bybelgedeeltes te
vergelyk nie, en nie rekening te hou met hoe die geskiedenis verloop het nie,
dan kan mens dit daarin lees en meen dat dit waar is.

Maar dit noem mens inlegkunde.

Dit is nie eksegese nie.

En dit is presies wat die geval
is met die sogenaamde vuurdoop met die Heilige Gees of hoe dit ook genoem word.

By nader insien sê die teks
eintlik iets totaal anders.

 

Gemeente, ek het in hierdie
preek, vanuit die teks, probeer verduidelik, dat ons hier nie met ‘n tweede
doop te make het, wat bo op die normale doop wat ons ken, en wat in ons kerk
bedien word aan sowel volwassenes as kinders, dat daar bo op nog ‘n Geestesdoop
moet kom nie.

Nee, dit is juis andersom.

Die nuwe doop, waarvan ons in ons
teks lees, wat die twaalf dissipels van Paulus ontvang het, dit was ons doop, die vir ons so gewone doop wat
ons ken.

En die eerste doop wat daardie
twaalf dissipels ontvang het, dit was destyds die doop van Johannes die Doper,
‘n doop wat nog nie ‘n doop was in die naam van die Drieënige God nie.

Daardie doop van Johannes was
onvoldoende.

Hulle moes ‘n nuwe doop ontvang –
die doop van Jesus waarvan ons in Mattheüs 28:19 kan lees: Doop hulle in die
Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

En dit is die doop wat ons ook
ken.

 

Die gevolgtrekking is dus: wie
gedoop is in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees, het ALLES
ontvang.

Daar hoef niks aan toegevoeg word
nie.

Geen oordoop nie.

Die doop van Jesus bied u alles –
soos ons tema sê.

Die feit dat die dissipels van
Johannes oorgedoop is, kan nie toegepas word dat ons vandag ook oorgedoop moet
word nie.

Dit is ‘n oppervlakkige en
onkorrekte toepassing.

 

En die feit dat die twaalf
dissipels toe in tale begin praat het, die taalwonder, dit is deur God geskenk
juis vir daardie tyd, toe die kerk nog in sy kinderskoene gestaan het,

toe die Evangelie so vinnig
moontlik versprei moes word.

En net vir die rekord: hierdie
spreek in tale was volstrek iets anders as die tongetaal wat mens deesdae in charismatiese
kringe vind.

 

Waaroor ons teks praat, dit was
‘n wonder, ‘n talewonder.

Die charismatiese tongetaal is
nie ‘n wonder nie.

Dit is iets wat in verskillende godsdienste
voorkom, ook onder Moslims, Hindoes ensovoorts.

Maar hierdie talewonder waaroor
ons teks praat, waarvan ons drie keer lees in Handelinge, is dit dan nie iets
wat ook nog in ons tyd kan gebeur nie?

Hierdie vraag moet ons vir die
Here vra.

Hy besluit.

Of Hy dit ook vir vandag of dalk
vir die toekoms weer noodsaaklik ag.

‘n Mens kan nie ‘n wonder afdwing
nie.

Dit was toe ook al so.

Mense wat toe in daardie tyd na
Jesus of sy apostels gekom het, net om ‘n wonder te siene te kry, hulle het
niks gekry nie.

 

Die kerkvader Augustinus, wat
rond 400 nC geleef het – ook in sy tyd het hierdie talewonder nie meer
voorgekom nie – hy maak die treffende opmerking:

Die spreek in tale van Pinkster
het oorgegaan in die werklikheid van die veelheid van tale in die eenheid van
die kerk.

En daarvan is ons, gemeente, die
lewende bewys.

Vandag word hier in die kerk die
Evangelie in Afrikaans bedien.

10 km na die ooste word die
Evangelie in Sotho bedien in Mamelodi.

40 km na die Noordweste preek ‘n
sendeling dalk vandag in Zulu.

In alle lande en tale word
Christus se naam vandag gepyrs.

God sy dank vir hierdie wonder.

En ons bede is dat Hy sal
voortgaan om die wonder van geloof en bekering in nuwe geslagte te bewerk.

Vanoggend mog ‘n babatjie die
doop ontvang.

Die doop van Jesus, dit is die
doop in die Naam van God Drieënig – Vader, Seun en Heilige Gees – hierdie doop
bied haar alles.

Nie dat dit ‘n ‘ticket to heaven’
is nie.

As u goed na die doopformulier
geluister het, sou u gehoor het dat dit allermins die geval is.

Maar al God se beloftes en
seëninge is vandag ook aan haar, as verbondskind, gegee.

Die volle rykdom van Jesus se
doop.

En soos wat sy gaan opgroei, sal
haar ouers en haar onderwysers, haar dominee en ampsdraers, haar leer om
daardie beloftes te gebruik, om hulle nie eenkant te laat lê nie, om hulle nie
te verag of gering te skat nie.

Die doop van Jesus bied haar
alles.

Sy is opgeneem in die
genadeverbond.

En soos sy opgroei, sal sy moet
leer om haar eie verantwoordelikheid meer te meer te begin nakom as
selfstandige en later volwasse en aanspreeklike deelgenoot van die verbond.

So sal sy die rykdom van die doop
ook haar eie maak.

 

Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)