Die voorbereiding van die tempelbou as onderdeel van God se heilsplan.

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-09-13
Teks: 
II Kronieke 2
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik
kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word voorbehou.

PRETORIA-MARANATA,
13 September 2015 AD, 10:15

Votum

Seën

Ps 72:2,5

Wet

Ps 119:6

Gebed

Skriflesing: 2 Kronieke 1:14-2:18

Ps 29:1-4

Teks: 2 Kronieke 2

Preek

Ps 146:6,8

Gebed

Kollekte

Ps 29:5

Seën

 

 

 

 

 


 

Preek: 2
Kronieke 2

 

Op die oomblik beleef ons bietjie
swakker ekonomiese tye.

Hoewel daar hier en daar nog
groot bouprojekte onderneem word, ons kan dink aan die reusagtige nuwe
kragstasies soos Medupe en Kusile wat gebou word, is groot besighede vir die
res huiwerig om groot nuwe projekte aan te pak.

Aan die ander kant word daar in
ons land, waar daar steeds ‘n woningnood is, op konstante basis nuwe huise
bygebou.

Mens hoef maar net ‘n besoek aan
Soshanguve te bring, om te sien hoe daardie stad met honderde, miskien wel duisende
huise per jaar uitbrei.

Deur die eeue was daar altyd al
tye van afbraak en verval, maar ook tye van opbou.

 

In die hoofstuk wat ons gelees
het, sien mens dit ook.

Ons het gelees hoe Israel onder
Salomo ‘n ekonomiese bloeiperiode beleef het.

En dat daar in sy tyd
astronomiese bouprojekte onderneem is.

Die tempel, en moenie vergeet Salomo
se eie paleis.

Verder was daar groot skure,
perdestalle vir Salomo se groot hoeveelheid pronkperde, en soortgelyke
projekte.

Bouprojekte wat twee dekades en
meer in beslag geneem het.

 

Ons kyk vandag na die eerste
bouprojek.

Meer spesifiek, die voorbereiding
van die tempelbou.

Ons gaan nie net hierna kyk omdat
ons in bouprojekte belangstel nie, omdat die bouwêreld ‘n omgewing is waar baie
van ons elke dag in rondbeweeg nie.

Dit is nie die rede hoekom
hierdie hoofstuk in die Bybel staan nie.

Ons gaan kyk hoe hierdie
projekte, hoe groot hulle ook was, ‘n klein bousteentjie gevorm het in God se
groot heilsplan.

Die pad wat Hy met die mensdom
gestap het, vanaf die sondeval, die moederbelofte, op pad na die groot
versoening op grond van Christus se offer aan die kruis op Golgota.

Onderdeel van hierdie pad van God
se heilsplan was naamlik ook hierdie gebeurtenisse.

 

Tema: Die
voorbereiding van die tempelbou as onderdeel van God se heilsplan.

 

 In die eerste plek moet ons ons geheue net
weer verfris.

As u vir ‘n oomblik terugdink aan
die preek oor 2 Kronieke 1, verlede week.

Ons het toe aandag geskenk aan
wie die boek Kronieke geskryf het.

Kronieke is waarskynlik geskryf
deur die bekende priester Esra, of een van sy tydgenote.

Dit is geskryf ten tye van of net
na die tweede tempelbou, na die terugkeer uit Babel uit die ballingskap.

Dit is daarom verstaanbaar dat
die skrywer soveel aandag bestee aan die bou van die eerste tempel.

Dit is in ooreenstemming met die
groot lyn deur Kronieke: belangstelling vir die geskiedenis van die huis van
Dawid en die geskiedenis van die tempel van Salomo.

 

Hierdie hoofstuk begin met die
bouvoorbereidings.

Aandag word bestee aan die enorme
hoeveelheid kontrakteurs, bouers en handarbeiders wat nodig was.

Daar word ook uitvoerig aandag
geskenk aan die materiale.

En ook die internasionale handel
om die geskikte materiale in die hande te kry.

Salomo het met Huram (in die boek
konings word sy naam as Hiram – met ‘n i – gespel), maar dit gaan oor dieselfde
persoon.

Salomo het met Huram ‘n
handelskontrak gesluit.

Huram was koning van Tirus.

Die land Tirus was ‘n baie
bosryke gebied.

Waar die land Kanaän nie soveel
hout gehad het nie, het die noorderbure dit in oorvloed gehad.

Die diplomatieke betrekkinge
tussen Israel en Tirus was in die tyd van Dawid baie voorspoedig gewees.

Hierop bou Salomo nou voort, deur
die vrymoedigheid te neem om ‘n uitgebreide handelskontrak met sy noorderbure
te sluit.

 

Salomo deel aan Huram die
presiese rede mee, naamlik die beplande tempelbou.

Die tempelgebou was naamlik nodig
om die tempeldiens na behore te kon verrig.

Hierdie diens was – soos Salomo
dit verwoord – ‘n ewige verpligting op Israel.

Op sig kon Huram hierdie rede
goed verstaan.

In sy land was daar ook tempels,
al was dit dan vir ander gode.

Maar dit wat Salomo daarna gesê
het, was wel heel uitsonderlik vir sy tyd.

Salomo het, hoewel hy besig was
om ‘n astronomiese groot bouwerk aan te pak, by voorbaat al erken dat dit nog
steeds veels te klein vir  God sou wees.

By voorbaat het hy al erken dat
sy groot tempel onvoldoende sou wees, om die God wat in die hemel woon, te kan
huisves.

Tog het hy dit as sy plig gesien
om ‘n huis vir die HERE te bou.

Nie om Hom daarin vas te vang
nie.

Maar, soos daar staan, ‘n huis
vir die Naam van die HERE.

Hierdie uitdrukking moet mens
soos volg verstaan:

Salomo wou ‘n vaste plek bou waar
die volk die HERE kon ontmoet, en waar Hy in sy volk se midde sou wees.

‘n Plek waar sy Naam, en sy stem,
sy Woord, sentraal sou staan.

Dus nie om die HERE daarin vas te
vang nie, om Hom te kon manipuleer nie.

Salomo was hierin gehoorsaam aan
God se Woord.

Dink aan wat God sy volk beveel
het, al weer eeue gelede, in Deuteronomium.

Deuteronomium 12:5-6: Elkeen mag
nie op sy eie plekkie die HERE dien op sy eie manier nie, maar “die plek wat
die HERE julle God uit al julle stamme sal uitkies om sy Naam daar te verstig
om daar te woon, moet julle opsoek en daarheen moet jy kom, en daarheen moet
julle jul brandoffers bring en julle slagoffers en julle tiendes en die
offergawe van julle hand”.

Geen eiewillige erediens nie,
maar God dien soos Hy dit self bepaal het.

En so het koning Salomo dit nou
as sy taak gesien om op hierdie plek ‘n passende tempel te bou.

Om sodoende vir die toekoms
voorsiening te tref, dat God se volk steeds na Jerusalem kon kom, om hier die
HERE in sy tempel te ontmoet.

‘n Passende huis, om die heilige
handelinge te verrig en die heilige tye na te kom, soos in God se wet bepaal.

‘n Altyddurende verpligting op
Israel.

Salomo het dus voorsienings
getref vir die voortgang van die erediens in die toekoms.

 

En vir hierdie doel het hy ook
oor die grense gekyk.

Daar was baie hout nodig.

Daarvoor was hy aangewese op sy
noorderbure.

In Tirus was die bebosde
Libanonberg wat verskillende soorte hout opgelewer het:

Seder, sipres en sandelhout.

En die mense wat daar in die
Libanonberge gewoon het, het geweet hoe om die bome te kap en die hout te
bewerk.

 

Salomo het ook mense met die
nodige kundigheid uit die buiteland laat oorkom.

Opvallend dat met die bou van die
tabernakel destyds net mense uit eie geledere gebruik is, dink aan mense soos
Besaleël en Oholiab.

Dit was tydens die woestynreis,
toe God se volk in afsondering verkeer het.

Nou is die volk gevestig in die
beloofde land en kyk koning Salomo oor die grense.

Selfs heidene mag saambou aan die
glorie van God se huis.

 

Salomo sluit ‘n kontrak.

Dit was in feite ruilhandel.

In ruil vir die hout het Israel
landbouprodukte aangebied.

In vers 11 lees ons dat Huram
antwoord met ‘n amptelike brief.

Opvallend in hierdie brief is dat
hy ook bely dat die God van Israel die God is wat hemel en aarde gemaak het.

Het hy dit regtig bedoel, of was
dit net ‘n beleefdheidsvorm?

Diplomatieke beleefdheid?

As mense geld kan verdien, dan
debateer hulle nie oor beginsels nie...?

Dan hou jy jou mening op die
agtergrond...

Feit is dat die stede in Tirus en
Sidon afhanklik was van die graan uit die suide.

Dit was vir eeue die geval, selfs
1000 jaar later, in die Nuwe Testament, lees mens dat Tirus nog steeds afhanklik
was van die landbouprodukte uit Kanaän.

In Handelinge 12:20 staan dat
Herodes, wat toe oor Israel geregeer het, nie op goeie voet was met die Tiriërs
en Sidoniërs nie.

Hierdie volke het egter Blastus,
die kamerheer van koning Herodes, soort van omgekoop en so probeer om die band
te herstel, omdat hulle vir hulle voedsel van Herodes se gebied afhanklik was.

Om terug te kom by Huram, hierdie
huldeblyk aan die God van Israel is waarskynlik nie ‘n geloofsbelydenis nie,
maar ‘n aan oneerlikheid grensende koopmansgees.

 

In sy brief bied Huram ook ‘n
egte vakman aan Salomo aan.

Huram Abi, wie se vakbekwaamheid
Salomo mog benut vir sy projek.

As mens dit so lees, tussen
hakies, merk mens dat baie dinge deur die eeue nie verander nie.

Ook vandag nog reis vakmanne,
handelaars, wetenskaplikes, na die buiteland, om hulle kennis en vaardighede
daar aan te bied.

En ook vandag nog kom mense uit
die buiteland om plaaslik by projekte betrokke te wees.

Hierdie Huram Abi was ‘n kenner
op die gebied van die bewerking van metale en allerhande soorte materiale.

‘n Groot vakman.

Hierdie Huram Abi was eintlik
half Joods en half Fenisies of Tiriër, soos ons in vers 14 kan lees.

 

In sy brief stem koning Huram in
met die voorstelde kontrak.

Salomo sou na sy land se
landbouprodukte uitvoer: koring, gars, olie (dink aan olywe) en wyn.

En hy sou hout lewer.

Oor die vervoer na Israel is daar
ook planne gemaak.

Dit sou oorsee gebeur.

Die Fenisiërs sou die hout tot by
die Israeliese hawe Jafo bring, dit is die hedendaagse Tel Aviv.

Die Fenisiërs was naamlik ervare
matrose.

Met wat hier genoem word vlotte,
sou dit gebeur.

En dit was vir Salomo se rekening
om die hout dan vanaf die kus, vanaf Jafo, na Jerusalem te vervoer.

Dit was ‘n afstand van – soos die
kraai vlieg – omtrent 50 km, maar in werklikheid ‘n stuk langer.

En dan was daar ook nog 700m
hoogteverskil.

‘n Hele karwei dus, om so ‘n
gewig aan hout te vervoer na die bergstad Jerusalem.

 

In hierdie hoofstuk lees ons ook
dat Salomo arbeidskragte gesoek het vir die projek.

Hy het veral die buitelanders wat
in sy land woonagtig was, vir die handearbeid gebruik.

Sewentigduisend van hulle het hy
aangestel as lasdraers.

Tagtigduisend as klipkappers in
die berge.

En oor hulle het hy
drieduisendseshonderd opsigters aangestel.

 

Wie was al hierdie vreemdelinge?

Dit was nie vreemdelinge in die
sin van asielsoekers nie.

Dit was mense wat al vir eeue ook
in Israel gewoon het.

Afstammelinge van die ou
Kanaäniete.

Toe God die land aan Israel gegee
het, het Hy destyds opdrag gegee om hierdie volke met die banvloek te tref.

God het toe Israel gebruik om sy
straf oor die goddeloosheid van hierdie volke te bring.

Israel was egter ongehoorsaam, en
het hierdie volke nie met die banvloek getref nie.

In die tyd van koning Dawid, toe
hy van die twaalf stamme uiteindelik ‘n politieke eenheid gemaak het – onthou
in die Rigtertyd het elke stam net vir homself geleef – in die tyd van koning
Dawid was hierdie Kanaäniete nog steeds daar.

En dus ook in die tyd van Salomo.

Dikwels lees ons oor hierdie
mense in die Bybel was die ‘vreemdelinge wat in julle poorte woon’.

Hierdie mense, afstammelinge van
die ou Kanaäniete, het ‘n lastige status in Israel gehad.

En of Salomo korrek opgetree het,
om hulle as goedkoop arbeid te gebruik, dit is nog maar die vraag.

Dit is ook nie die bedoeling van
hierdie hoofstuk, om Salomo aan ons as ‘n etiese voorbeeld voor te hou nie.

Soos ons weet, Salomo se lewe was
lank nie altyd onbesproke nie.

Dit is nie die fokus van hierdie
hoofstuk, om al hierdie details te noem om Salomo op te hemel nie.

 

Hoekom word al hierdie inligting
dan wel hier in Kronieke vermeld?

Ek het aan die begin van die
preek genoem dat die boek Kronieke eers geskryf is na die ballingskap, ten tye
van die tweede tempelbou.

In Kronieke vind mens baie aandag
vir die suidelike ryk, Juda, omdat dit mense uit hierdie ryk was wat
teruggekeer het uit die ballingskap.

Daar is baie aandag vir die
tempel en die bou daarvan, en die voorbereiding op die bou soos in hoofstuk 2.

As ons na die parallele
geskiedskrywing in Konings kyk, sien mens dat daar hier en daar verskillende
fokuspunte is.

Tog word dieselfde geskiedenis
beskryf.

Oor die algemeen fokus Kronieke
veral op die geskiedenis van Jerusalem en die tempel.

En die skrywer, moontlik Esra,
het aspekte in sy boek opgeneem wat van belang en interessant was vir die mense
van sy tyd.

Wanneer sommige dinge in Kronieke
uitgelaat word, wat ons wel in Konings vind, is dit nie verkeerd nie.

Dit het te make met die doel van
sy boek.

Ook gaan hy daarvan uit dat sy
lesers heelwat dinge alreeds weet, wat hy nie hoef te herhaal nie.

Dit gaan naamlik oor die
teruggekeerde ballinge se eie vaderlandse geskiedenis.

Ook is dit so dat die skrywer van
Kronieke telkens verwys na die bronne wat hy gebruik het.

Sien byvoorbeeld aan die einde
van 1 Kronieke.

 

‘n Vergelykbare situasie het ons
met die vier Evangelies.

Die laaste Evangeliebeskrywing,
Johannes, gaan daarvan uit dat sy lesers al op die hoogte was van die
lewensgeskiedenis van Jesus op aarde.

Johannes fokus slegs op bepaalde
aspekte.

So beskryf hy nie eens die
instelling van die nagmaal nie.

Nou kan mens nie hieruit aflei
dat die nagmaal volgens Johannes nie deur Jesus ingestel is nie, inteendeel.

So is dit ook met die skrywer van
Kronieke.

Hy skryf net oor bepaalde
gebeurtenisse uit die geskiedenis, wat vir die fokus van sy werk nuttig en
belangrik was.

En die fokus van Kronieke is,
soos ek genoem het, die aandag vir hoe God sy heilshistoriese plan uitvoer.

Hoe Hy die koningshuis van Dawid
daarvoor gebruik het.

Dit is die hooflyn.

Hoofstuk twee pas ook hierin.

Soos die tema van die preek sê:

Die voorbereiding van die
tempelbou as onderdeel van God se heilsplan.

Die Kronis volg God se voetspore
in die geskiedenis.

Dit is nie sy doel om die
koningshuis van Dawid op te hemel nie.

Dit koningshuis van Dawid was nie
onbesproke nie.

Helaas nie.

Dit het heel mooi begin.

Hoewel Dawid sondig was, het hy
wel uit vergewing geleef.

Maar as mens Kronieke in een keer
deurlees, sien mens ‘n dalende lyn.

Dit is treurig, hoe weinig daar
van die huis van Dawid oorgebly het.

Maar tog het God voortgegaan.

Selfs na die ballingskap.

Sy heilsplan het nie met die
ballingskap op ‘n doodloopspoor beland nie.

Daar was ‘n terugkeer.

En die eerste hoorders van
Kronieke mog weer aan ‘n nuwe tempel bou.

Hoe groot is God, dat Hy ondanks
die afval van mense, tog in genade voortgaan.

 

Hierdie geskiedenis staan dus nie
in die Bybel om Salomo as die perfekte koning voor te stel nie.

Hierdie geskiedenis is opgeteken
in die Bybel, omdat dit ‘n bousteentjie is in God se heilsplan.

Daarvoor maak God gebruik van
sondige mense.

Sien as voorbeeld hoofstuk
7:11-22.

Daar bevestig God sy verbond met
Salomo.

Sy verbond wat ‘n belofte van
groot seën inhou in die geval van gehoorsaamheid en trou.

Maar ook ‘n belofte, beter gesê
‘n bedreiging, van straf, as Salomo ontrou sou wees.

Daar staan: “Maar as julle
afkerig word en my insettinge en my gebooie wat Ek julle voorgehou het, verlaat
en ander gode gaan dien en julle voor hulle neerbuig, dan sal Ek hulle uitruk
uit my land wat Ek aan hulle gegee het, en hierdie huis wat Ek vir my Naam
geheilig het, sal Ek van my aangesig wegwerp en daarvan ‘n spreekwoord en ‘n
spotlied maak onder al die volke.” (2 Kronieke 7:19-20)

Hoe mooi en indrukwekkend die
tempel uiteindelik ook sou word, dis nie in die eerste plek waaroor dit gegaan
het nie.

 

Kronieke is ‘n boek wat net soos
die ander Bybelboeke handel oor God se grootheid, en mense se swakhede.

Maar dat God tog, ondanks hulle
swakhede, mense in diens neem.

Dat swak en sondige mense, as
hulle maar net gehoorsaam is, tog tot veel in staat is.

Dit geld ook vir Salomo.

Hy het eers die tempel gebou, en
eers daarna sy eie paleis.

Laat ons eerlik wees, hoeveel
staatsliede was daar in die verlede, en is daar in die hede, wat dieselfde sou
doen?

Wat hulle eie residensie op die
tweede plek sal plaas?

Niemand doen soiets uit homself
nie.

Maar in geloofsgehoorsaamheid
gebeur dinge wat anders nie sou gebeur het nie.

En so het God vir Salomo gebruik
in sy heilsplan.

In geloof het Salomo begin, toe
hy pas op die troon plaasgeneem het, met die tempelbou.

 

Wat beteken hierdie hoofstuk
vandag nog vir ons?

As ons hierdie vraag vra, kyk ons
nie in die eerste plek na Salomo, hoe ontsettend wys hy ook was nie.

Tog het hy ‘n sondige mens gebly,
maklik verleibaar deur slegte vroue.

Maar wat ons wel leer uit die
hoofstuk is dat die lyn van die geloof verder gaan.

Die geloof in God en in sy
toekoms.

Salomo het die tempel gebou, uiteindelik
nie om God daarin vas te vang nie.

Hy het dit self bely: daarvoor is
God te groot.

Hy het die tempel vir die
offerdiens gebou.

Vir die publieke erediens van God
se volk.

Sodat daardeur die volk altyd
bewus sou bly van hulle sondige aard.

Van hulle afhanklikheid van God.

En dat hulle êrens in die toekoms
Iemand sou bly verwag, wat die skuld daadwerklik sou betaal.

So sou die tempel net ‘n beeld,
net ‘n voorafskaduwing wees, van wat nog moes kom.

 

Dit is wat ons, gemeente, kan
leer uit hierdie hoofstuk.

Dit kan ons toepas op ons lewe.

God bly altyd dieselfde.

Hy is betroubaar.

Hy het geduld met nietige sondige
mense.

Hy wil dat ons Hom vertrou.

Want wie op Hom vertrou, is in
staat tot groot dinge.

Salomo se lewe kan ons nie as
voorbeeld neem nie.

Wie die vergrootglas oor sy lewe
plaas, vind sonder moeite tekortkominge en gebreke.

Maar waaroor dit wel gaan is dat
God Salomo ingespan het vir sy werk.

Hierdie koning mog saamwerk aan
God se koninkryk.

Aan die voortgang van sy
heilsplan.

En God het selfs die heidense
koning Huram van Tirus ingespan.

En ook al die hout van die
Libanonbos, wat ook aan Hom as Skepper behoort het.

God het die omstandighede so
gelei dat Huram bereid was om hout te lewer.

 

En as ons ons weer verplaas in
die skoene van die eerste lesers van Kronieke, die mense wat onlangs uit die
ballingskap teruggekeer het, dan kan jy jouself voorstel dat daardie mense met
groot belangstelling na hierdie boek geluister het.

Omdat hulle self ook besig was
met die tempelbou.

En, dit is nog belangriker, juis
hierdie boek Kronieke, hierdie geskiedskrywing, het hulle gehelp om hulle
arbeid, hulle tempelbou, alhoewel dit maar ‘n armsalige tempel sou word
vergeleke by die een van Salomo, en alhoewel hulle maar ‘n klein groepie mense
was, om met hulle arbeid in geloof voort te gaan.

Om hulle tempelbou te sien as
werk in God se koninkryk.

God maak gebruik van swak mense.

Ook die tweede tempelbou mog ‘n
bousteentjie word in God se heilsplan.

God se heilsplan wat sy
hoogtepunt sou bereik ‘n paar honderd jaar later.

Die geboorte van die Messias in
Betlehem.

Die kruis op Golgota.

Die voorhangsel van daardie
tweede tempel wat in twee geskeur het.

En op die derde dag die
opstanding uit die graf van ons Here Jesus Christus.

 

So was die voorbereiding van die
tempelbou ‘n bousteentjie in God se groot heilsplan.

Sy kerk, wat Hy vergader van die
begin van die wêreld af tot die einde toe, is nog ‘n veel groter bouwerk.

Salomo se tempelbou was net ‘n
klein bousteentjie in Christus se kerkbouprojek.

En vandag is ons gemeente ook ‘n
bousteentjie in daar groot kerkbouprojek van ons Here Jesus Christus.

Dit is belangrik om bewus te bly
van hierdie groot konteks waarin ons lewe, waarin ons gemeente is.

Dit is ‘n projek wat die eeue
oorspan.

En vandag, in hierdie generasie,
word u en ek opgeroep om gehoorsaam en trou te wees, en hoewel ons in onsself
swak is, deur God se genade tog ons bousteentjie by te dra.

 

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)