Die Skrif openbaar

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-09-27
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 29
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik
kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word voorbehou.

PRETORIA-MARANATA,
27 September 2015 AD, 17:30

Voorsang: Sb 41:1,2,3,5,6

Votum

Seën

Ps 9:9,10

Gebed

Skriflesing: Handelinge 2:14-47

Ps 35:1,12

Teks: Nederlandse
Geloofsbelydenis artikel 29

Preek

Ps 100:2,3

Gebed

Geloofsbelydenis (Apostoliese)

Ps 33:6,7

Kollekte

Ps 75:4,6

Seën

-        
 

Preek:
Nederlandse Geloofsbelydenis art. 29

 

 

Hierdie artikel begin met ‘n
oproep.

Dit is ‘n taak wat elke nuwe
generasie moet uitvoer.

Geen generasie kan sê: my ouers
het dit reeds gedoen nie.

As jou ouers bepaalde keuses gemaak
het, wil dit nie sê hulle keuses is vandag nog korrek nie.

Die generasie van vandag word ook
opgeroep om, soos die NGB sê, met sorgvuldigheid en groot oplettendheid uit die
Woord van God te onderskei watter kerk vandag die ware kerk is.

Daar is naamlik baie sektes, wat
hulle ten onregte die naam kerk toeëien.

Aan die einde van die dag staan
of val dit dus nie by daardie woordjie kerk
nie.

Maar mens sal inhoudelik moet
gaan kyk.

Dit was selfs al so in die
geskiedenis dat ‘n kerk wat die ware kerk was, nie die naam ‘kerk’ gedra het
nie.

Ek verwys hier na die
kerkgeskiedenis van Frankryk.

Soos u moontlik weet, is die
Protestante in Frankryk, die Hugenote, geweldig vervolg deur die  Roomse kerk.

Na dekades-lange bloedige
vervolgings is aan die Hugenote ‘n sekere mate van godsdiensvryheid verleen,
met die Edik van Nantes in 1598.

Tog is hulle nie toegelaat om
hulle kerke ‘kerk’ te noem nie, of soos die Franse woord lui ‘église’ nie.

Net die Roomse kerk mog daardie
woord gebruik.

Die Protestante het hulle kerke
toe ‘tempel’ begin noem.

En tot op vandag is dit nog die
gebruik in Frankryk.

Dus nogmaals, mens kan nie net op
die woord ‘kerk’ afgaan nie, mens sal die kenmerke van ‘n kerk inhoudelik moet
toets, waarby dit soms selfs die geval kan wees dat die ware kerk nie eens die
naam ‘kerk’ dra nie.

 

Die NGB gebruik die woord kerk hier in praktiese sin, nie om ‘n
leerstellige onderskeid te maak nie.

In die tyd van die Reformasie is
daar ook byvoorbeeld oor die Joodse kerk of die Mohammedaanse kerk gepraat.

Dit is in praktiese sin, dit wil
nie sê hulle is ‘n vergadering van mense wat deur Christus verlos word nie.

 

Die woord kerk kom ook nie in die Bybel voor nie.

Die woord het eers later in
gebruik gekom, afgelei van die Griekse woord kuriakè, wat beteken: dit behoort aan die Here.

 

Die Skrif
openbaar aan ons:

1                  
Die onderskeid tussen die ware en
die valse kerk

2                  
Die onderskeid tussen die ware
gelowige en die huigelaar

 

1         Die onderskeid tussen die ware en die
valse kerk

Die NGB noem vervolgens drie
hoofaspekte wat mens behoort te gebruik om te toets of ‘n kerk waar of vals is.

Want dit is uit en uit
Skriftuurlik, dat onderskeid aangebring word tussen ware en valse kerk.

Die Skrif waarsku ons juis, om
nie elke profeet vir ‘n profeet van die HERE aan te sien nie en om nie elke
lering as ‘n boodskap uit God se Woord aan te neem nie, maar om alle dinge te
beproef.

Mattheüs 7:15 “pas op vir die
valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe
is.”

En Mattheüs 24:5 “baie sal onder
my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.”

En Johannes 10:1 “Voorwaar,
voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar
van ‘n ander kant af inklim, hy is ‘n dief en ‘n rower.”

En Paulus waarsku in Handelinge
20:29 “Want ek weet dit, dat na my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en
die kudde nie sal spaar nie.”

En ons lees in 2 Petrus 2:1 “Maar
daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse
leraars sal wees wat verderflike kettery heimlik sal invoer ...”

Dit is dus uit en uit
Skriftuurlik om onderskeid te maak tussen waar en vals.

Wie hierdie onderskeid nie wil of
nie durf te maak nie, is nie in lyn met die Skrif nie.

Die Skrif help ons juis om
hierdie onderskeid te kan maak.

 

‘n Kerk is ‘n ware kerk wanneer
dit die evangelie suiwer preek.

‘n Kerk is ook ware kerk wanneer
dit die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het.

‘n Kerk is ook ware kerk wanneer
dit die kerklike tug gebruik om die sondes te straf.

Hierdie drie dinge word genoem om
gelowiges te help om te onderskei tussen waar en vals.

Hierdie drie dinge is nie
eksklusief nie, daar sal moontlik meer dinge genoem kan word.

Waaroor dit gaan, is wat die NGB
saamvat in die volgende sin:

Kortom, wanneer almal hulle
ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is,
verwerp, en Jesus Christus as die enigste Hoof erken.

 

In die gedeelte wat ons gelees
het, word ook ‘n paar wesenlike elemente genoem van die kerk van Christus.

Vers 42: “hulle het volhard in
die leer van die apostels” – dit stem ooreen met wat die NGB noem die suiwer
prediking van die Evangelie.

Verder het die eerste bekeerlinge
van Pinksterdag volhard in die “gemeenskap en in die breking van die brood.”

Wat die NGB noem die “suiwer
bediening van die sakramente soos Christus dit ingestel het”, stem ooreen met
wat in hierdie Bybelvers genoem word die “breking van die brood”.

Verder lê hierdie vers ook klem
op die feit dat die gelowiges mekaar opgesoek het.

Wat artikel 28 gesê het, beskryf
goed die situasie wat daar toe, kort na Jesus se hemelvaart ook geheers het,
naamlik:

niemand mag, wat sy stand en
status ook al is, hom in selftevredenheid van hierdie vergadering afsydig hou
nie, inteendeel, almal is verplig om daarby aan te sluit en daarmee te verenig.

Ook toe was daar baie mense wat
weens sosiale druk nie by hierdie groepie Christene wou aansluit nie.

Het iemand soos Nikodemus ooit
aangesluit?

Ons ken hom uit die Evangelie van
Johannes, hy was ‘n owerste van die Jode, ‘n man van stand en status.

Aanvanklik wou hy net in die nag
na Jesus kom, vanweë die groepsdruk.

Maar in Johannes 19 lees ons dat
hy na Jesus se kruisiging ‘n mengsel van mirre en alewee van omtrent honderd
pond gebring het en gehelp het om Hom te begrawe (Joh 19:39).

Dit lyk of hy die moeilike
beslissing geneem het om by die ware kerk aan te sluit.

Eintlik is dit nie so moeilik nie,
as mens maar net op Christus en sy Evangelie fokus.

En dan was daar iemand soos
Gamaliël, waarvan ons in Handelinge lees.

Hy was ‘n Fariseër, by die hele
volk hoog in aansien, sê Handelinge 5:34.

Wat het van Gamaliël geword?

Hy wat Paulus se leermeester was,
mens kan aanneem dat hy God se Woord soos geen ander geken het nie.

Maar het hy ooit al sy stand en
status onder die Jode opgegee om die waarheid te erken?

Dan noem Handelinge 2 ook as ‘n
kenmerk van die ware kerk dat dit volhard in die gebed.

‘n Ware kerk is ‘n biddende kerk.

 

Hierteenoor noem die NGB dan ook
‘n aantal kenmerke tipies aan ‘n valse kerk:

-        
dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan
die Woord van God;

-        
dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie;

-        
dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel
het nie;

-        
dit vertrou meer op mense as op Christus;

-        
dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilige lewe, in
besonder hulle wat die waagmoed het om die valse kerk oor sy sondes, gierigheid
en afgodery te bestraf.

Hierdie lys van die kenmerke van
‘n valse kerk is nie volledig nie, maar dit help ons oppad.

Mens kan, op basis van die Woord,
nog dinge hieraan toevoeg.

Byvoorbeeld ‘n kerk wat glad nie
die tug bedien nie, en dus die sonde in haar midde toelaat.

Dink aan voorbeelde uit die
Bybel, hoe streng God vir sy volk gestraf het, nadat een persoon, Agan,
ongehoorsaam was toe Jerigo ingeval is, en van die buit vir homself geneem het
(Josua 7).

 

Dit gebeur dikwels, weens
historiese ontwikkelinge, dat ‘n kerk ‘n bepaalde aspek begin oorbeklemtoon.

Dit begin hulle identiteit te
vorm.

Die Sewende Dag Adventiste hamer geweldig
op die vierde gebod en die Oudtestamentiese toepassing daarvan.

Die Jehovagetuies hamer geweldig
op die feit dat Jesus net ‘n mens is en nie God nie.

Charimatiese kerke hamer geweldig
op die feit dat jy eers ‘n lewende Christen is, as jy oorgedoop is, of as jy in
tonge kan praat.

Dit is dikwels kenmerkend vir wat
‘n sekte is.

‘n Kerk word ‘n sekte as dit een
aspek uit die Woord oorbeklemtoon.

Daardie aspek is dikwels
verkeerd, daardie aspek kan soms selfs korrek wees.

Maar as alles van een leerstelling
afhanklik gemaak word, dan word die Evangelie, die breedte, wydte, lengte en
diepte van die Evangelie versmal.

Vir ‘n ware kerk lê die gevaar om
sekte te word, altyd op die loer.

‘n Gesonde kerk moet leer en leef
by die volle breedte van die rykdom van God se Woord.

 

Die NGB skryf dan ten slotte oor
die ware en valse kerk: hierdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar
onderskei word.

Aan hierdie sin sal ons beslis
nog bietjie meer aandag moet skenk.

Is dit wat Guido de Brès hier
opgeskryf het, iets wat net sy spesifieke situasie beskryf het, naamlik dat in
sy tyd en omstandighede dit maklik was om die ware en valse kerk te onderskei.

Of is dit hier as ‘n algemene
reël neergeskryf, dat dit altyd in alle omstandighede maklik is om waar en vals
te onderskei, net soos mens altyd in alle omstandighede kan sien of iets wit of
swart is, of iets groot of klein is, of iets lank of kort is.

Gemeente, soos ek al in die
vorige preek genoem het, het De Brès, toe hy hier oor die valse kerk geskryf
het, spesifiek aan die Roomse kerk gedink.

As hy verwys na die euwels
oftewel sondes, die gierigheid en afgodery van die valse kerk.

Verder het Guido de Brès, in lyn
met sy leermeester Johannes Calvyn, nie gedink dat net die Calviniste die ware kerk was nie.

Ook die Lutherane, al was daar
verskille wat die nagmaalsleer betref, en wat die kerkregering betref, is as
broeders in die geloof beskou.

Die verskille wat daar was, is as
oorbrugbaar beskou, en mense soos Calvyn het hom beywer vir eenheid tussen
Gereformeerdes en Lutherane.

Die Lutherane was ook redelik
sterk verteenwoordig in die Nederlande, die gebied waar De Brès vernaamlik
gewoon en werk het.

Met ware kerk het De Brès breed
verwys na die Protestante wat hulle van die Roomse kerk afgeskei het.

In daardie sin was die ware kerk
maklik onderskeibaar van die valse kerk.

Die ware kerk het die band met
Rome deurgesny, dit was die Protestante.

Behalwe dan die Anapabtiste, teen
wie De Brès duidelik standpunt inneem in die NGB.

Die Anabaptiste of Wederdopers
was ook ‘n belangrike faktor in die gebied waar De Brès gewerk het.

Hulle het gesorg vir die
beeldestorm, wat De Brès ten sterkste afgekeur het.

En die rede hoekom hy die NGB
geskryf het, was om vir die owerhede duidelik te maak, dat die Gereformeerdes
nie so opstandig en ongehoorsaam aan die owerheid was soos die Wederdopers nie.

 

Ook moet mens onthou dat in die
eerste dekades van die Reformasie die Protestantse kerkverbande nog in die
proses was om gevorm te word.

Dit was nie iets wat oornag
gebeur het nie.

 

As ons nou na ons eie tyd kyk, en
die vraag vra: kan die ware en valse kerk vandag maklik uitgeken word?

Dan is dit duidelik dat ons
vandag in heel ander omstandighede verkeer as destyds toe die NGB geskryf is.

Ons verkeer in ‘n situasie waar
kerkverbande vaste vorme aangeneem het en dikwels al vir dekades of eeue
bestaan.

Ons verkeer in ‘n situasie waar plaaslike
gemeentes dikwels binne een kerkverband ver uitmekaar gegroei het.

 

Maar aan die ander kant is daar
ook nog baie dieselfde in ons tyd.

By die beoordeling van waar of
vals, is die kriteria wat ons in art. 29 vind, nog steeds net so aktueel as
toe.

Die kenmerke van ‘n ware kerk.

En die kenmerke wat so tipies is
aan ‘n valse kerk: naamlik

-        
dat die Woord van God op die agtergrond verdwyn en eie menings en
besluite op die voorgrond kom;

-        
dat die sakramente bedien word op ‘n manier wat nie meer strook
met wat ons in die Bybel vind nie;

-        
en dat hulle wat op grond van die Bybel die kerk se swakhede
uitwys, vervolg word.

Hierdie essensiële elemente is
iets van alle tye.

Soms is daar nuanseverskille.

Die Roomse kerk het hulle wat
haar gekritiseer het, dikwels tot die dood vervolg, soos met Guido de Brès
gebeur het.

Maar vervolging kan ook in ander
vorme plaasvind.

Hendrik de Cock, leier in die
Afskeiding, is vir ‘n tyd in die tronk opgesluit.

Klaas Schilder, leier in die
Vrymaking, is geskors en afgesit en so die mond gesnoer.

Die valse kerk beoefen ook ‘n
soort tug, nie om die sonde te straf nie, maar om die waarheid die mond te
snoer.

Aan die einde van die dag moet
mens vra: is daar in ‘n kerk die ruimte om die Evangelie in al sy diepte, wydte
en rykdom te bedien, en ook daarvolgens te lewe.

As dit nie die geval is nie,
begin ‘n kerk of kerkverband tekens van die valse kerk vertoon.

As hulle wat die Woord
Skrifgetrou wil bedien, as hulle wat Skrifgetrou wil lewe, geïgnoreer,
geïsoleer, gemarginaliseer, geviktimiseer, of selfs buitegesluit word.

 

So iets gebeur meestal nie oornag
nie.

Dit is ‘n proses wat soms jare
kan vat.

In so ‘n proses is daar soms
gebeurtenisse, wat as ykpunte kan dien.

Byvoorbeeld wanneer ‘n kerk, of
‘n sinode, toelaat dat dwaling ‘n wettige plek in die kerk kry langs die ware
leer.

As dit die geval raak, dan kan daarna
‘n periode volg waartydens die ware leer en hulle wat daarby wil bly, al hoe
meer na die kantlyn gedruk word.

In so ‘n proses, wat jare, soms
dekades duur, begin ‘n kerk al hoe meer die kenmerke van ‘n valse kerk te
vertoon.

By die Roomse kerk was dit ook
so.

Deur al die jare van die
Middeleeue het die kerk al hoe meer weggegly in dwaling, en die kerkleiding in
Rome het hoe langer hoe meer die wat trou wou bly, begin viktimiseer en
vervolg.

Dit was al by Johan Hus die
geval, wat in 1415 op die brandstapel gesterf het.

Tog het dit nog ‘n eeu geduur
voordat die Reformasie kragtig deurgebreek het in baie lande.

 

As ons na ons eie tyd kyk, sien
ons dat baie Protestantse kerke al vir eeue in ‘n proses van agteruitgang is,
sekularisasie, en van tyd tot tyd ook duidelike tekens van ‘n valse kerk begin
vertoon.

Binne verskillende Protestantse
kerkverbande sien mens egter ook herlewings, bepaalde groepe wat terugkeer tot
die waarheid van God se Woord.

Hierdie groepe vra hulleself
dikwels die vraag of hulle moet aanbly in daardie kerkverband waarvan hulle
histories deel uitmaak, of dat hulle moet afskei.

Ek dink dat hier ‘n belangrike
taak in die hede is vir hulle wat Christus en sy Woord waarlik liefhet.

Hulle is versprei oor
verskillende historiese kerkverbande, wat dikwels liberaal en vrysinnig geraak
het.

Laat hulle wat trou wil bly aan
God se Woord, mekaar opsoek, daardie geloofsverband wat werklik saakmaak, weer
vorm gee, pleks van altyd lojaal te bly aan historiese verbande.

Hier lê vir gelowiges vandag ‘n
groot taak.

En laat ons versigtig wees om in
hierdie proses middelmatige sake tot struikelblokke na eenheid op te werp.

 

Plaaslik hier in die Moot het
daar gesprekke plaasgevind met drie Dopperkerke.

Op grond van die kenmerke vir ‘n
ware en ‘n valse kerk, soos hier in artikel 29 staan, is die  dankbare gevolgtrekking gemaak dat ook hulle
ware kerke is.

Maar daar is die kwessie van historiese
kerkverbande wat ons tans van mekaar skei.

As ‘n kerkverband ‘n belemmering
begin vorm om die eenheid uit te leef met hulle wat waarlik jou geloofsgenote
is, is daar natuurlik iets nie pluis met daardie kerkverband nie.

 

Om saam te vat, ook vir ons tyd
geld, aan die een kant, dat dit nie moeilik is om hierdie twee kerke, waar en
vals, te onderskei nie.

Maar ook vir ons tyd geld, net
soos in Guido de Brès se tyd, dat hulle wat die HERE opreg wil dien volgens sy
Woord, soms vir historiese redes nie kerkverbandelik een is nie, maar tog een
behoort te wees.

 

2       Die onderskeid tussen die ware gelowige en die huigelaar

Daar is nog ‘n tweede deel van
artikel 29, wat net soveel aandag verdien as die eerste.

En dit is naamlik die kenmerke
van ‘n ware gelowige.

Hoe kan daar ‘n ware kerk wees as
dit nie bestaan uit ware gelowiges nie?

Die NGB noem die kenmerke:

-        
‘n ware gelowige het die enigste Verlosser Jesus Christus
aangeneem

-        
‘n ware gelowige vlug vir die sonde

-        
‘n ware gelowige jaag die geregtigheid na

-        
‘n ware gelowige het die ware God lief

-        
‘n ware gelowige wyk nie na regs of links af nie

-        
‘n ware gelowige kruisig sy sondige natuur met sy werke.

Ook hier gaan dit nie eksklusief
net oor hierdie kenmerke nie, al is hierdies onmisbaar.

En dit is vir ons belangrik om by
hierdie kenmerke te begin.

In die hoofstuk wat ons gelees
het, Handelinge 2, sien ons ook hierdie volgorde.

In die eerste plek het die
apostels die mense opgeroep om hulle te bekeer.

“Bekeer julle, en laat elkeen van
julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes...”
(Hand 2:38)

En daarna het dit gebeur dat die
wat hulle bekeer het, ook toegevoeg is (vers 41) en lid geword het van die
gemeente van Christus.

Hierdie is nie net ‘n
kronologiese volgorde nie, dit is ook ‘n logiese volgorde.

‘n Gemeente van Christus, ‘n ware
kerk, kan nie bestaan as daar nie bekeerdes is nie.

‘n Ware kerk bestaan uit ware
gelowiges.

 

Dit is belangrik dat ons altyd
hierdie verbinding bly lê.

Ook as ons oor die kenmerke van
die ware kerk praat.

Veels te maklik praat ons oor die
ware en die valse kerk, sonder dat ons die kenmerke vir ‘n ware gelowige aan
die orde stel.

Dit is eensydig en ook gevaarlik
om te praat oor die ware kerk, sonder om  aandag te skenk aan die noodsaaklike kenmerke
vir die lidmate van daardie kerk.

En so kom ook tot ons die oproep
vandag, net soos deur Petrus tot die Jode destyds:

Beywer julle om ware gelowiges te
wees.

Vertoon die kenmerke van ’n ware
gelowige.

Is die Here Jesus Christus groot
in jou lewe?

Is Hy jou enigste Verlosser?

Word jou lewe daardeur gekenmerk
dat jy vlug vir die sonde?

Jy weet self waarskynlik die
beste wat vir jou die moeilikste sondes is om van ontslae te raak.

Maak jy konkrete planne in jou
lewe om die invloed van daardie sonde uit te skakel, die omstandighede te vermy
wat jou tot hierdie sonde verlei?

Word jou lewe daardeur gekenmerk
dat jy besig is om jou sondige natuur met sy werke te kruisig?

Kan die mense wat naby jou is
daardie stryd in jou lewe sien?

En verder: is die liefde vir God
in jou lewe sigaar?

Kan ander dit raaksien?

Word jou lewe daardeur gekenmerk
dat jy nie na regs of links afwyk nie?

Is jy beginselvas?

Op jou werk?

In jou gesin?

In jou familie?

Op die pad?

In die winkel?

Wat maak jy as jou beginselfs ‘n
prys begin kos?

 

Artikel 29 wys ook op die
realiteit dat daar huigelaars in die ware kerk is.

Dit is nog ‘n aspek waaraan
hierdie artikel aandag skenk.

En dit is die feit dat daar in
die kerk ook huigelaars is.

Hulle is met die goeies vermeng,
maar tog behoort hulle nie aan die kerk nie, al is hulle uiterlik daaraan
verbonde.

Nie almal wat lid is van die
kerk, wat in die kerkhandboekie staan, sal salig word nie.

Huigelaars, of hipokriete, kan
nie altyd van ware gelowiges onderskei word nie.

Die onkruid groei op saam met die
koring.

Eers met verloop van tyd raak die
onderskeid duideliker.

Broer, suster, laat ons goed
besin oor hierdie kenmerke van ‘n ware gelowige.

Wees eerlik met jouself, wees
eerlik met jou Heiland.

Sodat jy nie deur Hom as ‘n huigelaar
of hipokriet ontmasker sal word nie.

 

Die kenmerke vir ‘n ware gelowige
- as ons so deur hulle gaan, een vir een, maak dit ons verleë, nederig.

Voldoen ek wel daaraan?

Ook hier geld, net soos by die
ware kerk:

Om ‘n ware gelowige te wees, is
‘n werkwoord.

Laat mens versigtig te wees om
dit as ‘n stieker op jouself te plak.

Laat mens dit eerder probeer
uitleef, dat ander dit raaksien.

En met die besef, alles is
genade.

Die goeie werke wat ek wel gedoen
kry, die veldslae wat ek teen die sonde wen, is die Gees sy werk in my lewe.

Dis alles net genade, as ons
gered mag word uit hierdie verkeerde geslag, om die woorde van die apostel
Petrus te gebruik.

 

Amen.

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)