Die panorama van Christus se lewe op aarde bied ons lewe perspektief

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-10-11
Teks: 
Openbaring 12 : 5
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word voorbehou.

PRETORIA-MARANATA, 11 Oktober
2015 AD, 10:15

Voorsang: Sb
43:1,2,5,6

Votum

Seën

Ps 45:1,2

Wet

Ps 86:6,7

Gebed

Doopsformulier

Doopsbediening:
Linelle Jacomien Bijker

Ps 105:5

Dankgebed

Skriflesing:
Openbaring 12

Ps 55:3,7,8

Teks:
Openbaring 12:5

Preek

Sb 29:1,8,9

Gebed

Kollekte

Ps 128:1-3

Seën

 


 

Preek: Openbaring 12:5

 

Soms, as
daar ‘n groot ramp plaasvind, dink mense dat die jongste dag aangebreek het.

Dinge soos ‘n
aardbewing of ‘n tsunami.

Ook vir
mense wat ‘n geliefde na die graf dra, voel dit asof die aarde stilstaan.

En daarna is
dit ekstra opvallend en eintlik pynlik om agter te kom dat die lewe tog
aangaan.

 

Dit is hoe
ons as mense is.

Ons het ‘n
beperkte horison.

Aan die een
kant is dit ook maar goed, dat God ons so geskape het.

Soos die
spreekwoord sê: elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.

Wie sou
vandag nog met ‘n geruste hart kon lewe, as hy al geweet het watter ellende en
verdriet daar nie in die toekoms op hom wag nie.

Maar aan die
ander kant is die feit dat ons ‘n beperkte tydshorison het, ook moeilik.

Ons kry nie
‘n geheeloorsig nie.

God se
planne, sy bedoelings met gebeurtenisse, bly dikwels vir ons onduidelik.

Ons het baie
waarom-vrae waarmee ons agterbly.

 

In die teks
van vanoggend kry ons egter wel ‘n ongelooflike perspektief te sien.

Dit is net
asof die Here sy kinders hier saamvat en op ‘n baie hoë berg laat staan.

Van daaraf
kry mens ‘n wydse panorama te sien.

Van daar bo
af sien mens ineens die verbande.

 

Om ‘n
voorbeeld te noem, as jy ry van een dorp na ‘n ander, vat jy die pad wat van
die een dorp na die ander lei.

As jy met
die pad begin, sien jy egter nog nie die volgende dorp nie.

Jy moet
vertrou op die bordjies, wat die rigting aandui en die afstand.

As jy die
pad volg, dalk met baie draaie, en op en af, kom jy uiteindelik in die volgende
dorp aan.

Maar in een
oogopslag kan jy nie die verbinding tussen die twee dorpe sien nie.

Wanneer jy
egter op ‘n hoë berg staan, kan jy in een oogopslag beide dorpe sien, en jy
sien ook die pad wat kronkel van die een na die ander.

Van bo-af kan
jy ook sien hoekom daar so baie draaie is, bv. omdat daar ‘n koppie in die pad
is, of dalk ‘n dam.

Vanaf ‘n hoë
berg sien mens ‘n wydse perspektief, en word dinge duidelik, wat anders
onduidelik, onverklaarbaar, sou gebly het.

 

Nou neem die
Heilige Gees ons in hierdie hoofstuk saam, nie op ‘n hoë berg nie, maar tot in
die hemel!

Ons mag in
hierdie hoofstuk vir ‘n oomblik met God se oë na die wêreld kyk.

Ons kry ‘n
hemelse perspektief op dit wat op aarde gebeur.

En as ons so
vanuit die hemel afkyk op alles wat op aarde gebeur, sien ons ineens lyne,
verbande wat ons nie sou gesien het, as ons midde-in alles gestaan het nie.

 

Tema: Die panorama van Christus
se lewe op aarde bied ons lewe perspektief.

 

Kom ons loop
eers vinnig deur die hoofstuk.

Ons maak
hier ‘n voëlvlug deur die geskiedenis.

Die rooi
draad is die stryd tussen goed en kwaad, die stryd tussen God en satan.

Die hoofstuk
begin met ‘n vrou.

Die boek
Openbaring is ‘n boek wat vol simbole is.

Dit maak dit
soms moeilik om te verstaan, as mens dit vir die eerste keer lees.

Al die
simbole moet naamlik eers verklaar word.

Nou is die
eerste vraag: waarvoor staan die vrou simbool, waarmee hierdie hoofstuk begin?

Opvallend is
dat byna alle simbole, wat ons in Openbaring vind, deur die skrywer die apostel
Johannes ontleed is aan die Ou Testament.

As mens hier
lees oor ‘n vrou, in die konteks van die oorlog met die draak, dink mens
onwillekeurig aan Genesis 3, heeltemal aan die begin van die Bybel, waar dit
gaan oor die stryd tussen die vrou en die slang.

Genesis
3:15, die sogenaamde moederbelofte.

God sal
vyandskap stel tussen die vrou en die slang.

Die slang
sal die vrou in die hakskeen byt, maar die vrou sal die slang se kop vermorsel.

Hierdie
beeld vind ons nou terug in Openbaring 12.

Die vrou
staan hier simbool vir die kerk, oftewel God se volk, die gelowiges.

In Genesis
was die slang simbool vir die duiwel.

Hier in
Openbaring 12 is die draak simbool vir die duiwel.

 

Soos ek
genoem het, ons het hier te make met ‘n hemelse perspektief.

Ons sien al
die eeue van die wêreldgeskiedenis in een oogopslag.

In voëlvlug
skiet ons deur die tyd.

In vers 1-4
word die twee groot amgte, wat die hele Ou Testament sou beheers, en waarvan
ons al in Genesis kan lees, teenoor mekaar geplaas.

Die vrou,
oftewel die gelowiges, die volk van God, is magtig en stralend, omring deur die
son, maan en sterre.

 

Maar dan kom
die draak, ‘n groot rooi draak,  oftewel
die duiwel, en sy aanhang – die goddeloses, en met sy stert sleur hy ‘n derde
van die sterre mee die afgrond in.

In voëlvlug
vlieg ons deur die eeue van die Ou Testament.

Ons sien
Adam, Noag, Abraham, Moses, Dawid, Salomo, Jesaja, Daniël ensovoorts.

Vele eeue
van aan die een kant seën en geluk, maar aan die ander kant stryd, ellende en
uitsigloosheid.

Dit is soos
‘n pad, ‘n pad wat kronkel, maar tog is hierdie pad ook doelgerig. Dit lei
êrens heen, dit lei na ‘n groot oomblik, ‘n sentrale punt in die tyd.

Dit is
waarvan ons ook in Openbaring 12 lees: die vrou was swanger, en het uitgeroep
in haar weë en barensnood.

Maar die
draak het vlak voor die vrou gestaan, met die doel om die kind te verslind,
sodra dit gebore is.

En dan lees
ons: die vrou het ‘n seun gebaar.

Dit verwys
na die geboorte van die Here Jesus Christus.

 

Maar let nou
op hoe vinnig die voëlvlug verder gaan.

Oor hierdie
seun van die vrou, ons Here Jesus Christus, oor sy lewe word net dit gesê: dat
Hy die nasies met ‘n ystersepter sou regeer (verwysing na Ps 2:9).

Hierdie
opmerking dui nie op sy aardse tyd nie, maar gryp vooruit op wat Hy sou doen na
sy hemelvaart.

En dit is
die hemelvaart waarna in die volgende sin verwys word: die kind is weggeruk na
God en sy troon.

Meer as 30
jaar lewe van die Here Jesus op aarde, daaroor word niks gesê nie.

Vanuit die
hemelse perspektief sien ons net die groot lyn, waarheen alles lei.

Meer as 30
jaar van die Here Jesus se lewe op aarde, daaroor word slegs vermeld dat Hy
gebore is uit ‘n vrou, wat in staat van oorlog verkeer het met die draak, die
duiwel, wat gereed gestaan het om haar en die kind te verslind.

En dan word
genoem dat die kind weggevoer is na God en sy troon.

Wat daar
presies gedurende die 30 plus jare op aarde gebeur het, word nie vermeld nie,
slegs dat die effek daarvan was, dat hierdie kind verhoog is en ‘n plek as
heerser van God ontvang het op die hemelse troon, die hoogs denkbare posisie,
vanwaar hy met ‘n ystersepter al die nasies regeer.

 

Christus se
lewe op aarde: net die begin en die einde word genoem, meer nie.

Sy lewe is
gekenmerk deur skitterende oomblikke.

Dink aan al
die genesings wat Hy verrig het.

Dink aan sy
prediking.

Dink aan hoe
Hy met vyf brode en twee vissies meer as vyf duisend mense kon voed.

Sy lewe is
ook gekenmerk deur dieptepunte.

Dink aan sy
bittere lyde.

Toe Hy in
die nag voor sy kruisiging in die tuin van Getsemane was.

Toe Hy daar
angstig en wanhopig tot God gebid het.

Toe sy
sweetdruppels soos bloeddruppels geword het.

Toe was dit
net asof die tyd, die aarde, stilgestaan het.

En heeltemal
was dit die geval toe Hy gekruisig is.

Toe dit drie
ure lank pikdonker geword het in Jerusalem.

Toe Hy sy
lewe verloor het.

Toe sy
liggaam in die graf gelê is.

 

Vanuit die
hemel kyk ons af saam met Openbaring 12, in voëlvlug sien ons die tyd, die
wêreldgeskiedenis verbygaan.

Vanaf die
aarde beskou, vanuit die beperkte perspektief wat eie is aan ons as mense, sou
ons onsself op sulke oomblikke in ‘n diep dal bevind, vir ons gevoel sou dit
onmoontlik wees om daaruit te kom.

Dink aan die
nag in Getsemane.

Vir ons
besef sou die pad heeltemal doodloop met die kruisiging van Christus.

Vir ons
gevoel sou alles toe finaal opgehou het, soos dit met die dissipels die geval
was.

 

Maar wat ‘n
openbaring as ons dieselfde geskiedenis vanuit die hemelse perspektief te sien
kry!

Ten spyte
van die diep dale sien mens veral dat die pad nie doodloop nie, maar verder
gaan.

Selfs by
Christus se kruisiging gaan die pad verder.

Vanuit die
hemelse perspektief is dit veral goed sigbaar.

En wat dan
die meeste aandag trek, is die hemelvaart van Christus.

Dat Hy op
die troon plaasgeneem het.

Ja hier in
Openbaring 12 sien ons Christus se aardse lewe in voëlvlug.

Sy lyde en
sterwe word nie eens genoem nie.

Net sy
geboorte en sy hemelvaart.

Maar ons
sien wel hoe God verder gaan, die pad gaan verder.

 

Daaroor lees
ons ook in Openaring 12.

Die vrou,
dit wil sê die kerk, bly agter op aarde.

Ons lees oor
hoe daar oorlog uitbreek in die hemel.

Vir die
duiwel is daar nou geen plek meer nie.

Vergoed word
die toegang hom belet.

In hierdie
hoofstuk word daar gespot met die duiwel.

Hy word uit
die hemel op die aarde neergewerp.

Maar hier op
aarde probeer die draak nou die vrou aanval.

Hy kan
Christus nie meer bereik nie.

Maar nou
stort hy hom met al sy agressie op Christus se volgelinge.

Hy vervolg
die vrou, die gelowiges.

 

Beteken dit
dat dit nou gedaan is met die vrou?

Nee, want
vanuit die hemelse perspektief sien ons dat Christus sy kerk nie alleen laat
nie.

Ons lees
byvoorbeeld dat die aarde die vrou te hulp kom.

Hierdie kort
opmerking bevat ‘n diepe waarheid.

Die aarde,
die skepping, sug onder die tirannie van die draak.

Maar die
skepping kom die vrou te hulp, wetende dat die vrou, die kerk van Christus, die
draer is van ‘n nuwe toekoms, ‘n nuwe wêreld.

Die kerk is
‘n voorbode van die herskepping en vernuwing van alle dinge.

Die kerk van
Christus.

Die aarde
neem dit op vir die vrou.

Die aarde
het sy mond oopgemaak om te sorg dat die watervloed wat die draak uit sy bek
gespoeg het, nie by die vrou uitkom nie.

Dit het in
‘n skeur, ‘n krater in die aarde verdwyn.

 

Ook lees ons
dat aan die vrou twee vlerke gegee is.

Ons dink dan
aan wat Dawid ooit gesing het in Psalm 55: “Ag, had ek maar vlerke soos ‘n
duif, dan sou ek wegvlieg” (vers 7)

Jesus
Christus gee aan die vrou die vlerke van die groot arend.

Hy leer sy
kerk om te vlieg.

Christus,
wat op die troon sit, gee aan sy gemeente vleuels.

Dit het
natuurlik te make met die hemelse perspektief wat ons hier in Openbaring 12
kry.

Ons leer as
kerk, met die vlerke wat Christus ons gegee het, om op die styg bo die beperkte
aardse horison, ons leer om alle dinge te sien in die groot verband van God se
raadsplan met die wêreldgeskiedenis.

En daaruit
kan ons troos put, en energie kry en perspektief en moed om veder te gaan, om
vol te hou, ook as dit moeilik gaan.

 

Om terug te
kom by ons teks.

In een
enkele vers word heel Jesus se aardse lewe beskryf, in voëlvlug.

Ons sien
waar dit begin het, en waar dit na toe gelei het.

Al die skerp
draaie, diep dale in sy lewensweg, het ‘n doel gehad, het êrens heen gelei,
naamlik na die troon wat Hy bestyg het, as Heerser oor hemel en aarde.

 

As bejaarde
mense terugkyk op hulle lewe, kan hulle in ‘n paar sinne die pad beskryf wat
hulle gestap het, hoe die Here hulle lewensweg gelei het.

Al bly dit ‘n
beperkte perspektief.

Maar neem
nou iemand soos Linelle Bijker.

Oor die
begin van haar lewe kan ons nou al iets sê.

Ook oor
vandag, wat ‘n groot dag in haar lewe is, omdat sy gedoop is.

Maar die
res, die toekoms, dit is nog vir ons onbekend.

Ons horison
is beperk, omdat ons mense is.

 

En dit is
soms moeilik vir ons.

Ek het aan
die begin genoem dat soms, as daar ‘n groot ramp plaasvind, mense dink dat die
aarde vergaan.

Mense wat ‘n
geliefde na die graf moet dra, voel asof die pad heeltemaal doodloop.

Asof ons in
‘n diep dal tereg gekom het, waaruit ons nooit meer sal opkom nie.

Maar juis in
hierdie opsig bied Openbaring aan ons ‘n groot troos.

Christus
leer sy kerk om te vlieg.

Nie dat jy
alles wat nog met jou in die toekoms gaan gebeur, te sien sal kry nie.

Maar die
Heilige Gees bied ons wel ‘n perspektief.

In groot
lyne word die verloop van die wêreldgeskiedenis vir ons in Openbaring 12 beskryf.

Die doel is om
ons te bemoedig.

Ons mag as
gelowiges, as kerk van Christus, opstyg uit die betreklikheid, die
verganklikheid, die ellende van hierdie wêreld.

Ons mag
perspektief kry te midde van alle verdriet en ellende.

Hiermee word
nie bedoel dat Christene die werklikheid ontvlug nie.

Sommige
mense ontvlug die werklikheid, bv. met dwelms.

Maar ‘n
gelowige staan met albei voete in die werklikheid.

Aan die
ander kant gee Christus jou vlerke om op te styg, perspektief om dinge in hulle
konteks te sien.

Dink aan ons
Heiland in Getsemane.

Te midde van
die bitter ellende, stuur God ‘n engel om Hom te troos.

Hy is nie
weggeneem uit die werklikheid nie, maar God help Hom om perspektief te behou.

 

So kry ons
ook van Christus perspektief, as dit soms voel of ons op ‘n doodloopspoor
beland het.

Jy word as’t
ware saamgeneem op ‘n hoë berg.

Van daaraf
kan jy sien waar alles na toe lei.

En dus weet
ek, skryf die apostel Paulus, dat die ellende wat ek nou meemaak, nie opweeg
teen die heerlikheid wat geopenbaar sal word nie.

Of soos hy
skryf in Romeine 8:

Te midde van
alle aardse gebrokenheid en lyde is ons meer as oorwinnaars deur Hom, wat ons
liefgehad het.

Want ek is
versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige
of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei
van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie. (vers
38-39)

 

Die panorama
van Christus se lewe op aarde bied ons lewe die perspektief wat ons so nodig
het.

Uit sy lewe het
geblyk dat God ons liefhet, dat Hy toewerk na ‘n herskepping van alle dinge.

En almal wat
aan Hom behoort, ook Linelle wat vandag gedoop is, is deel hiervan.

 

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)