Preek Openbaring by Nagmaal

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-10-18
Teks: 
Openbaring 21 : 4-5
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word voorbehou.

PRETORIA-MARANATA, 18 Oktober
2015 AD, 10:15 (nagmaal)

Voorsang: Sb 46:1-5

Votum

Seën

Ps 71:12,13

1e deel Nagmaalsformulier (lees tien gebooie saam met
die deel uit die selfondersoek)

Ps 119:17,18

2e deel Nagmaalsformulier

sing Onse Vader

sing Geloofsbelydenis

1e tafel: Skriflesing: Openbaring 21:1-8; 1e deel van
die preek; Sb 35:1

2e tafel: Skriflesing (teks): Openbaring 21:4-5; 2e
deel van die preek; Sb 35:2,3

3e tafel: Lofverheffing; Ps 68:3,8

Dankgebed & voorbede

Kollekte

Ps 68:10,13

Seën

 

 

Preek: Openbaring 21:4-5

 

1e deel:

Openbaring 21
begin met die woorde: “ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien”.

Nuut kan mens ook
vertaal met: vernuwe.

Hierdie aarde, God
se skepping, is nie iets wat in die toekoms gaan verdwyn nie.

Dit sal nie net
weggegooi word soos ‘n ou stuk vuilgoed nie.

Hierdie aarde is
God se kosbare besit.

Dit is wel
gehawend en toegetakel deur die mense.

Maar God sal nie
sy eie werk sommer vernietig nie.

Hy sal sy
gehawende skepping herskep, vernuwe.

Dat hierdie
vernuwingsproses ingrypend sal wees, is wel so.

Dit word elders in
die Bybel vergelyk met die smelt van silwer of goud.

Ons lees in
Maleagi 3 oor die dag wanneer die Engel van die verbond gaan kom om sy volk te
reinig:

Maar wie kan die dag van sy
koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn? Want Hy sal wees soos die vuur
van die smelter en soos die loog van die wassers. En Hy sal sit: 'n
smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle
louter soos goud en soos silwer, sodat hulle aan die HERE in geregtigheid 'n
offer sal bring. (Maleagi 3:2-3)

 

Wanneer hierdie
edelmetale gesmelt word, deur ‘n baie warm vuur, verander hulle van vorm, hulle
word ‘n vloeistof.

In die proses
begin alle vuiligheid en alles wat nie goud of silwer is nie, geskei word van
die edelmetale.

Alle vuiligheid
begin bo te dryf, waardeur mens dit kan afskep.

Die vernuwing van
die aarde gaan ‘n ingrypende proses wees.

Maar daardeur sorg
die HERE dat sy lof en aanbidding weer oor die aarde sal klink.

Dink aan die eerste
hoofstuk van die Bybel, Genesis 1, toe God gesê het, nadat Hy alles geskape
het: en dit was baie goed!

Hierdie woorde
klink nou ook weer.

Die aarde word nie
vernietig nie, maar in sy ou glorie herstel.

Hierdie aarde word
nie weggegooi of afgeskaf nie, maar vernuwe.

En selfs nog meer
as dit.

Aan die een kan
sal ons die aarde nie meer herken, vergeleke by hoe dit nou is nie.

Want die aarde sal
van alle ellende bevry wees.

Maar tog sal ons
wel weer die wonderskone werk van God se hande herken.

Die produk van sy
Skeppershand, wat ons nou ook om ons heen sien.

Maar dan sal dit
nog veel mooier en glansender wees.

Hoe mooi sal die
wêreld nie wees op daardie dag nie!

Ons sal God
herken, die Skepper en Herskepper.

Die Alfa en die
Omega.

God het nie
vergeefs geskep nie.

Hy voltooi sy
werk.

Hy suiwer sy
skepping.

 

Elkeen van ons is
ook ‘n onderdeel van God se skepping.

Ons lewe, ons
liggaam, ons karakter.

Ons is ook werk
van God se hande.

En as ons oor die
toekoms van hierdie skepping praat, is dit goed om te besef dat ons nie net oor
iets geesteliks praat nie.

Die boodskap van
die Bybel is baie duidelik op hierdie punt.

Daar is nie net ‘n
toekoms vir die siel nie, maar ook vir ons liggaam.

Christus het
liggaamlik uit die graf opgestaan, met ‘n herskape liggaam.

En dieselfde
belowe Hy aan elkeen wat in Hom glo.

Op die jongste dag
sal almal wat in geloof in Hom ontslaap het, uit die graf opstaan, met ‘n
vernuude liggaam.

Wanneer die
basuine sal klink.

Dit word ‘n
herskepping, net so groot en wonderlik as die eerste skepping.

Ja God herstel wat
Hy so mooi geskape het.

Hy bevry sy
kinders van die vernietigende invloed van sonde, opstand, siekte en dood.

 

Dit is God se
belofte in ons teks, woorde wat ons so dierbaar is.

Die dood sal nie
meer daar wees nie.

Hy sal al die trane
van hulle oë afvee.

Ons het trane in
die oë as ‘n geliefde deur die dood van ons af weggeneem word.

Dit is ‘n verdriet
wat ons met ons saamdra.

Die verdriet bly,
ook al was dit al jare gelede.

Die gemis bly.

Die dood is
finaal, dit bring finale skeiding in hierdie lewe.

Maar ons sien uit
na die oomblik waarvan ons teks praat:

as God alle trane vergoed gaan afvee.

As daar geen rede
meer gaan wees om te huil nie.

As woorde soos
verdriet en gemis nie langer gebruik gaan word nie, as sulke woorde uit die woordeboeke
sal verdwyn.

Die dag as die
dood nie meer sal wees nie, nog rou, geklaag of moeite.

Want die eerste
dinge het verbygegaan.

Daarmee word
bedoel: die dinge wat deel uitmaak van hierdie wêreld.

Naamlik die
gebrokenheid, die dood, sonde, oorlog, haat, nyd, konflik, siekte, dinge wat
hoort by hierdie ou wêreld.

Dinge wat nie
deurgang sal vind na die nuwe wêreld nie.

Ja die dood sal
nie meer wees nie.

Dit wat die meeste
verdriet op hierdie aarde bring.

Die mens se groot
vyand.

Die vyand waaraan
hy homself oorgelewer het vanaf die sondeval.

Deur die keuse van
die mens teen God en sy gebod.

Teen God se goeie
wil.

Hierdie vyand –
die dood – aan wie se slawerny die mens nie meer kan ontkom nie, want wie is
daar wat nie sal sterf nie?

Hierdie vyand sal
dan – God sy dank! – op die vlug slaan.

Die dood sal nie
meer wees nie.

Nog rou, geklaag
of moeite.

Kyk, Ek maak alle
dinge nuut.

Die Ek is Hy wat op die troon sit.

Hy is die
boumeester van die nuwe aarde.

Die nuwe aarde wat
duursaam sal wees.

Nie meer onderhewig
aan die slytasie en aftakeling van hierdie bedeling nie.

 

2e deel:

En dan sê God baie
pertinent:

Skryf, want
hierdie woorde is getrou en waaragtig!

Dit is asof die
HERE ‘n eed aflê.

Hy staan waarborg
vir hierdie belofte.

Hy verbind sy eie
Naam daaraan.

Hy sê: ek is die
Alfa en die Omega.

Alfa is die eerste
letter van die Griekse alfabet, Omega die laaste.

Ons sou vandag sê:
Hy is daar van a tot z.

Hy staan aan die
begin en einde van elke mens se lewe.

Hy staan ook aan
die begin en einde van die wêreldgeskiedenis.

Hierdie woorde is
getrou en waaragtig.

 

Geliefdes, hier
aan die nagmaalstafel kan ons mekaar oproep om God te vertrou.

Glo in dit wat die
Bybel beloof.

Laat God se
beloftes jou lewe beïnvloed.

God se beloftes
gee jou juis krag om verder te leef, te midde van verdriet, maar tog positief.

God se beloftes
laat jou die goeie koers kies in jou lewe.

Ons lewe koers nie
af op dit wat die wêreld belangrik vind nie, maar alles wat ons is en het staan
in diens van Christus se koninkryk.

Geloof in God se
beloftes gee ons moed om verder te gaan.

Aan die apostel
Johannes is opdrag gegee: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en
betroubaar.

God sweer by
Homself, dat sy beloftes waar is, ja en amen.

Ons mag glo dat
eendag die basuine sal klink.

Hierdie geloof word
gebou op die eed wat Hy by Homself geneem nie.

Ons geliefdes, en
ons, sal nie vir ewig in die graf lê nie.

Daar sal ‘n
herskepping wees.

Wie leef met God
se Woord, voel die kragte van die herskepping al in hierdie lewe.

Soos ons in die
Kategismus bely:

Ek voel nou al die
begin van die ewige vreugde in my hart.

Ek proe nou al
iets van wat geen geen oog gesien, geen oor gehoor en wat die hart van geen
mens self sou kon uitdink nie. (Sondag 22)

Ja ek ervaar dat
Christus se Gees in my woon en werk.

Deur sy krag soek
ons wat daarbo is, waar Christus is aan die regterhand van God, en nie wat op
die aarde is nie. (Sondag 18)

 

Nogmaals, om nie
te soek wat op die aarde is, beteken nie dat die aarde nie belangrik is nie.

Die aarde, God se
skepping sal herskep word.

Maar daarmee word
bedoel dat ons ons lewenskoers bepaal deur op te kyk na Christus, wat op die
troon aan die regterhand van God sit.

Ons lewenskoers
word nie bepaal deur mense wat op aarde lewe, wat lewe asof God nie bestaan
nie.

Ons lewenskoers
word ook nie bepaal deur die satan wat op die aarde soos ‘n brullende leeu te
kere gaan, omdat hy nie meer in die hemel mag kom nie.

 

Soos die
nagmaalsformulier sê, Christus het ons gebied om die nagmaal te vier totdat Hy
kom.

Vandag se viering
het ook as doel om ons fokus in die lewe weer suiwer te kry.

Ons hef ons harte
op na die hemel, soos daar staan.

Ons vestig ons
aandag op Hom.

Deur sy Gees en
Woord lei Hy ons lewe, van dag tot dag.

En vir die toekoms
sien ons met groot verlange uit na sy verskyning in heerlikheid, na die
bruilofsmaal van die Lam, wanneer Hy die wyn saam met ons sal drink in die
koninkryk van sy Vader.

Laat ons daarom
bly wees, ons vreugde wys en aan Hom die eer gee.

Ja, inderdaad, nou
al, nie eers dan nie.

Ons word opgeroep
om nou al bly te wees, ons vreugde te wys!

Nou al, te midde
van alle gemors wat daar op aarde is, nie in die laaste plek hier in ons eie
land nie, nie in die laaste plek in ons eie lewens nie.

Maar nogtans, laat
ons bly wees!

In Christus is
daar hoop vir die toekoms.

Ongetwyfeld gaan
daardie dag kom, dat ook ons mag agterom kyk, en met sug van verligting mag
konstateer: die eerste dinge het verbygegaan.

Ongetwyfeld, want
God beloof met ‘n eed dat dit so sal wees.

Ongetwyfel gaan
daardie dag kom, waarop ons dankbaar sal kan konstateer: Hy, ons Heiland op die
troon, het alle dinge nuut gemaak.

 

Amen

 

                                                                          

Liturgie: 

(kyk in preek)