Sondag 17 : Die waarde van die opstanding van Christus

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2013-12-01
Teks: 
Kolossense 3 : 1-3 en 1 Petrus 1 : 1-12
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds PG
Boon.

Kopiereg voorbehou

PRETORIA-MARANATA, 1 Desember 2013.

Liturgie:

Votum

Seën

S: Ps 68:1

Gebed

Viering nagmaal

Aan tafel: Skriflesing: Kolossense 3:1-3; 1 Petrus
1:1-12; Sing: S: Ps 30:2, 3

Lofverheffing en Dankgebed

Teks: HK Sondag 17

Preek

Amenlied: Ps 68:9

Gebed

Geloofsbelydenis (Nicea)

S: Sb 27:3

Kollekte

Slotlied: Ps 118:12,14

 

 


 

Preek:

 

Ons luister vanaand na ’n gebeurtenis wat met reg die belangrikste
gebeurtenis in die wêreldgeskiedenis genoem kan word.

Die grootste nuus vir die hele mensdom,

Van Eskimo’s tot Zoeloe’s,

Van Afrikaners tot Jappaners,

vir mense vandag, vroeër en mense wat nog in die toekoms sal lewe.

Vanaand gaan ons kyk na die betekenis van hierdie gebeurtenis vir ons.

Ons doen dit aan die hand van Sondag 17, en wel met die volgende tema:

Die waarde
van die opstanding van Christus

Ons kyk na 3 punte, parallel met die struktuur van Sondag 17 – drie dinge
wat vir ons van waarde is:

1
Geregtigheid

2
Wedergeboorte

3 Heerlikheid

 

1
Geregtigheid

Vanoggend, ongeveer 1985 jare gelede, het ons Heiland die graf verlaat.

Op die eerste dag van die week het Hy die dood oorwin.

Dit was geweldig, maar wat sê dit vir jou en my?

As jy dit wil weet, moet jy weet wat die dood is.

Die dood is die straf op die sonde van hierdie wêreld.

Of anders gesê: die dood is die belonng op die sonde.

Of weer anders gesê: die dood is die onvermydelike uiteinde van die sonde.

Wie sondig, ontkom nie aan die dood nie.

Christus het nie aan die dood ontkom nie, hoewel Hy sonder sonde was.

Maar, drie dae later, gebeur daar iets.

Dit blyk dat die dood Hom nie kon vashou nie.

Die dood was nie die einde van sy lewe nie.

Jesus het die dood oorwin.

En dit het iets te beteken.

Die Kategismus sê:

Die waarde is dat Hy ons laat laat deel in die geregtigheid, wat Hy deur sy
dood vir ons verwerf het.

So staan dit ook in Romeine 4:

Jesus ons Here, wat oorgelewer is as gevolg van ons oortredinge en opgewek
is tot ons regverdiging.

In 1 Korinthiërs 15 staan dieselfde, net van die ander kant bekyk:

Sê nou maar dat Christus nie opgewek is nie, dan is jou geloof nutteloos,
dan is jy nog in jou sondes.

Jesus laat ons deel in sy geregtigheid, sê Sondag 17.

Wat beteken die woord regverdiging, of geregtigheid eintlik?

Kom ek probeer ’n definisie gee:

Volgens die Bybel is ’n regverdige persoon iemand wat met ’n gelowige hart
uit liefde vir die HERE sy gebooie bewaar.

Ek herhaal dit nog ’n keer:

’n Regverdige persoon is hy wat met ’n gelowige hart uit liefde vir die
HERE sy gebooie bewaar.

En dit nie om iets by God te verdien nie, maar uit dankbaarheid omdat God
’n verbond van genade met sy kinders gesluit het.

Ons Here Jesus was by uitstek so ’n regverdige iemand.

Hy het ’n keer gesê:

My spys en drank is om die wil te doen van Hom wat my gestuur het om sy
werk te volbring.

Christus was die Rerverdige by uitstek.

Dit was die fondament waarop sy middelaarskap gerus het.

Hy het nooit gesondig nie. As mens het Hy met ’n gelowige hart uit liefde
vir sy Vader die gebooie bewaar.

God het sy geregtigheid gesien en goedgebeur.

Hoe weet ons dit?

Dit het geblyk uit die feit dat God Christus uit die dood opgewek het.

Deur sy lewe, lyde en sterwe, het Christus as Middelaar vir ons
geregtigheid gebring.

Ons is nie volmaak regverdig, soos Christus dit is nie.

Maar wel is ons danksy Christus volmaak regverdig in God se oë.

Christus het vir ons gedoen wat ons self nie kan waarmaak nie.

Danksy Hom het ons in God se oë ’n positiewe saldo.

Elkeen wat tot God nader met die naam van Jesus Christus op die lippe, kan
op vergewing reken.

Dit is geweldig.

En dit is die eerst  punt: die feit
dat God Jesus uit die dood opgewek het, was ’n bewys dat God sy geregtigheid
aanvaar het.

Die geregtigheid van Christus wat Hy aan die kruis verdien het.

Sy geregtigheid wat Hy, nou na sy opstanding, begin uitdeel het.

Sy regverdigheid, die feit dat Hy betaal het, ook vir jou en my.

Halleluja!

Ons kom nou by die 2e punt:

(Die waarde van die opstanding van Christus

1 Geregtigheid

2 Wedergeboorte

3 Heerlikheid)

2 Wedergeboorte

Wie van u het op die oomblik ’n erge finansiële skuld?

Wie van u het al ooit ’n erge finansiële skuld gehad?

Ek dink dat u sal kan beaam dat as jy in die skuld is, dit moeilik is om
van die lewe te geniet.

Nou is dit die geval met die skuld wat ons voor God het.

As die skuld nie vereffen is nie, kan jy moeilik van die lewe geniet.

Maar die oomblik as jy hoor dat jou skuld gedelg is, dan is dit asof jy ’n
nuwe mens word.

Dan val daar ’n las van jou af.

Jy kry weer perspektief op ’n gelukkige lewe.

Dan hoef jy nie skuldig te voel by alles wat jy koop nie.

Daar is nuwe hoop.

Die sonde het nou nie meer die laaste woord in jou lewe nie.

En die straf op die sonde – die dood – het ook nie meer die laaste woord
nie.

Dit beteken dat jy ‘n ander kan begin lewe.

Rojaal, sonder sorge.

En dit danksy die opstanding van Christus.

Kortom, ons noem dit: jy word wedergebore.

Die Kategismus omskryf dit soos volg:

Jy word danksy Christus se opstanding opgewek tot ’n nuwe lewe.

Verstaan jy dit?

Hoe jy dus nou al, in hierdie lewe, begin met ’n nuwe lewe?

Danksy die krag van Jesus, meer spesifiek die krag van sy Gees, wat ook in
jou woon, danksy die Gees in jou het jy die krag en die moed om nee te sê en te
breek met die sonde.

En om ja te sê vir ’n lewe met Christus.

In Kolossense 3 word dit raak beskryf:

“As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar
Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is,
nie wat op die aarde is nie.”

Dit wil sê: staan positief in die lewe.

Streef na die dinge wat daarbo is – dit beteken – dinge wat ewigheidswaarde
het, nie tydelike dinge, nie die dinge wat deel is van ’n sondige wêreld nie.

Gemeente, dit alles klink baie mooi.

Maar wat beteken dit konkreet, noudat Christus uit die dood opgestaan het?

Dit beteken bevryding.

Geen slaaf meer van die sonde nie.

Daardie reële moontlikheid het jy nou.

Sou ek dan nog vriend wou bly met die sonde?

Die sonde waarvoor my Heiland so gruwelik moes sterwe?

Danksy sy opstanding is dit moontlik om goed te lewe.

Om goeie verhoudings te handhaaf met ander mense.

Danksy sy opstanding is dit moontlik om rusies uit te praat, om versoening
te soek.

Om die goeie naam van ander mense te eer.

Danksy sy opstanding is ek nou wedergebore.

Ek is in staat om te geniet van vriendskap, van uitgaan,

maar om terselfdertyd te wag met dit wat volgens God se Woord net in die
huwelik hoort.

Danksy sy opstanding weet ek dat ek in staat is om lewenslank aan my
huweliksmaat trou te bly.

Omdat God my help, omdat dieselfde Gees wat Christus uit die dood opgewek
het, ook in my werk.

En my die wil en vermoë gee om my huwelik gesond te hou.

Ek is nou ook in staat om nie doodslag te pleeg nie, op watter wyse ook,
moord, of deur iemand te haat, of deur aborsie, of genadedood, of deur my eie liggaam
nie goed op te pas nie, omdat ek bv. ongekontroleerd drink, of eet, of rook, of
omdat ek myself roekeloos gedra.

Ek besef nou dat ek nie ’n lewe – myne of iemand anders s’n – in gevaar mag
bring nie, omdat Christus opgestaan het.

Omdat daar danksy sy opstanding vir alle lewens ’n toekoms is.

Ook gaan ek meer bewus met my tyd om.

Ek leef immers vir die opgestane Here.

Uit my tydsbesteding blyk, danksy die Heilige Gees, dat die opgestane
Christus my lewe regeer.

Nie my werk, of die TV, of my stokperdjies, of my vriende, of die dinge wat
ek wil koop nie, maar Christus bestuur my lewe.

Uit my tydsbesteding blyk dat ek met vreugde my taak doen, op my werk,
tuis, in die kerk.

Dat ek ook tyd inruim vir ander, kanslose mense, siekes, bejaardes,
verdrietiges.

En dit alles omdat Christus opgestaan het.

Danksy sy opstanding word ek opgewek tot ’n nuwe soort lewe.

My lewe begin anders lyk, wat ek volg Jesus.

My lewe is diensbaar aan Hom.

My lewe ontleen sy identiteit aan Hom.

My lewe is kosbaar in sy oë.

Ek lewe elke dag met die vraag op my lippe:

Here, wat wil U hê moet ek doen?

Gemeente, verstaan u,

wat die verskil is tussen ’n lewe oppad na die dood,

en ’n lewe wat gestempel is deur die opgestande Christus?

Sien u die verskil?

Dit is wat die Kategismus bedoel as daar staan:

Deur sy krag word ons opgewek tot ’n nuwe lewe.

Die besef dat my lewe kosbaar is, sinvol, oppad na ’n geweldige
eindbestemming, dit vloei deur my are.

Dit maak van my ’n ander mens.

’n Wedergebore mens.

Ons kom nou by die 3e punt.

(Die waarde van die opstanding van Christus

1 Geregtigheid

2 Wedergeboorte

3 Heerlikheid)

3
Heerlikheid

Wedergebore: dit beteken dat jy in hierdie lewe al ’n nuwe lewe kry.

Maar daar is nog meer.

Want die Kategismus sê in die derde plek:

Die opstanding van Christus is vir ons ’n onderpand, ’n betroubare
waarborg, van ons opstanding in heerlikheid.

’n Ander woord wat die Bybel in hierdie verband gebruik is: eersteling.

Christus is die eersteling van die opstanding uit die dood.

Hierdie uitdrukking is ontleen aan die Pinksterfees in die Ou Testament.

Tydens hierdie fees het God se volk die allereerste produkte van die oes na
die tempel gebring.

Hiermee het hulle erkenning gegee aan God se seën.

Die eerste produkte was ’n simbool dat daar nog meer sou kom.

Dat hulle God vertrou dat Hy nog meer oes sal gee.

Die eerstelinge het hulle nie vir hulleself gehou nie, maar aan God
geskenk.

’n Bewys van vertroue.

Dat God die res van die seisoen ook sal sorg.

Nou was Christus die eersteling.

Die eerste persoon wat uit die dood opgestaan het met ’n verheerlikte
liggaam.

Hy was nie die eerste mens wat uit die dood teruggekom het nie.

Dink aan Lasarus, of die dogtertjie van Jaïrus.

Maar hulle het nie met ’n verheerlikte liggaam uit die dood teruggekom nie.

Hulle het later weer gesterf.

Christus was die eerste wat opgestaan het met ’n onverganklike,
verheerlikte liggaam.

En die feit dat dit gebeur het, dat Jesus eerste was, die eersteling, dit
is ’n bewys dat daar nog meer sal volg.

Dit is soos ’n boom in die winter.

As jy mooi kyk het die boom al knoppe.

’n Belofte vir die lente.

Uit daardie knoppe sal die blomme en blare kom.

So is die opstanding van Christus die bewys dat daar nog baie op koms is.

Die bewys dat ons ook sal opstaan met ’n verheerlikte liggaam.

’n Bewys – jy kan daaraan regte ontleen.

Gemeente, nou het ek tot dusver baie mooi dinge gesê in hierdie preek.

Dinge wat u waarskynlik alles kan beaam.

Maar tog sal daar iets aan hierdie preek skort, en sal ek nie ’n goeie
dominee wees, as ek dit hierby laat nie.

Volgens die formulier wat gelees is toe ek bevestig is, is dit nie net my
taak om aan u die mooi boodskap van die evangelie oor te dra nie.

Maar, staan daar, dit is ook my taak om alles te weerlê wat daarmee in
stryd is.

Inderdaad, ook in hierdie preek, ook by hierdie skitterende onderwerp van
Christus se opstanding, is daar ’n skadukant.

En dit is my taak om ook daaraan aandag te skenk.

Nie om negatief te wil wees nie.

Juis deur die skadukant aan die orde te stel, word dit wat in die sonlig is
nog veel helderder.

Sedert die vroegste Christelike gemeentes – dink aan die kerk in Korinthe
byvoorbeeld – tot op die dag van vandag is daar mense, ja ook mense wat
hulleself christene noem, wat die opstanding van Christus uit die dood ontken.

Sommiges doen dit glashard.

Ander gebruik ’n groot omhaal van woorde.

Maar as jy hulle op die man af vra, omseil hulle jou vraag en gee jou nie
’n reguit antwoord nie.

Dat Christus letterlik liggaamlik uit die dood opgestaan het – Thomas kon
sy vingers in die littekens van sy wonde steek – of dit werklik so is, dit word
bevraagteken.

Veral teoloë is goed hiermee.

Hulle gebruik vroom klinkende gesegdes.

Dis wel waar, maar dit het tog nie werklik gebeur nie.

Of, dit het gebeur in ’n dimensie wat ons nie begryp nie, wat nie ons s’n
is nie.

De dissipels het die verhaal so opgeskryf met goeie bedoelings, hulle wou
ongetwyfeld ’n goeie doel daarmee dien.

Dit moet ons stimuleer tot ’n beter lewe – Jesus se onbaatsugtige
voorbeeld.

Die feit dat Jesus so regverdig geleef het, maar so tragies aan die einde
van sy lewe gekom het, dit bewerk ’n skokreaksie, dit maak so ’n indruk, dit
inspireer ons om Hom na te volg, in ’n selfopofferende lewenswyse.

Danksy die sterwe van Jesus, danksy die verhaal van die dissipels oor sy
opstanding, danksy dit staan daar nou ’n nuwe lewe in ons op.

Gemeente, klink dit nie ook mooi nie?

As jy nie noukeurig geluister het nie, dan klink dit soos twee druppels
water op alles wat ek eerder in die preek gesê het.

Maar as jy noukeurig luister, dan val daar wel iets op.

Eerstens, tussen alle mooi woorde deur proe mens tog dat daar in hierdie
verhaal GEEN sekerheid oor die opstanding van Christus is nie.

Tweedens word die invloed van die goeie boodskap verklaar vanuit ’n
skokreaksie.

Maar dit is ’n verdraaing van die Evangelie.

En wat hieragter skuil is dat hulle – of dit nou teoloë is of watter ander
baie vroom mense ook al – die ‘bottomline’ is dat hulle nie in die 3e
punt glo wat die Kategismus verwoord nie:

Naamlik dat Christus werklik opgestaan het.

En dat sy opstanding ’n onderpand, ’n waarborg is van óns opstanding uit
die dood.

Heel letterlik, opstaan uit die dood.

Want juis omdat ons WEET dat dit ons te wagte staan, juis daarom verander
ons lewe vandag.

Ons lewe verander nie as gevolg van ’n skokreaksie, of as gevolg van ’n
reaksie van verontwaardiging of simpatie of medelyde nie.

Helaas is daar dus verdeeldheid onder christene op hierdie punt.

Die verdeeldheid was daar al vanaf die dae van die Nuwe Testament – dink
aan die Korinthiërs.

Die verdeeldheid bestaan omdat die feitlikheid van Christus se opstanding
ontken word.

En omdat daar ook getwyfel word aan die werklikheid van óns opstanding uit
die dood in die toekoms.

En as jy daaraan twyfel, dan kry jy ’n heel ander evangelie.

Om eerlik te wees, jy hou nie ’n evanglie oor nie.

Want evangelie, dit woord op sig verwys al na die goeie nuus dat die dood
oorwin is.

Paulus is in hierdie opsig baie nugter in sy brief aan die Korinthiërs.

As dit so is, dat Christus nie uit die dood opgewek is nie, hoekom is ons dan
christene?

Laat ons dan eet en drink, want môre sterf ons.

Dan kan ons net so wel soos diere begin lewe, dit maak alles niks saak nie.

Die graf en ontbinding wag op ons almal.

Helaas dus verdeeldheid onder christene op hierdie punt,

al probeer die dwaalleraars met oordrewe vroom woorde en baie vroom stemintonasie
dit verdoesel.

Een doel van Kategismusprediking is onder andere dit:

Om wat nie dieselfde is nie, en wat nie by mekaar hoort nie, om dit ook
duidelik te onderskei.

Wie die opstanding ontken, het ’n totaal ander geloof.

So iemand kan homself nog sier met die naam christen, maar inhoudelik staan
mens ver uit mekaar.

Wat sou dit mooi gewees het as dit anders was.

As daar nie sulke verdeeldheid tussen christene was nie.

Hieruit blyk slegs dat die duiwel nog baie aktief is.

Ons kan verlang na eenheid en vrede.

Maar dit is iets wat eers werklik sal realiseer op die nuwe aarde.

In hierdie lewe mag ons nie wegvlug vir ons taak, naamlik om dit wat nie
evangelie is nie, ook met soveel woorde en publiekelik aan die kaak te stel.

Dit is ’n taak waarvoor ons nie mag moeg word nie, al verlang ons ook hoe
baie na rus en vrede.

Nou wil ek nie beweer dat alle christene in ander kerke die feitlikheid van
Christus se opstanding ontken nie.

Maar ons moet ook nugter wees.

Dit is nie toevallig dat daar kerklike geskeidenheid bestaan nie.

’n Deel daarvan is dalk te wyte aan die hardkoppigheid van mense.

Maar heelas is dit wel so dat die grootste deel van die kerklike
verdeeldheid in die geskiedenis ontstaan het omdat die evangelie op die spel
gestaan het.

En dit is ook die vernaamste rede wat die felbegeerte eenwording tussen
kerke teenhou.

Ons dink aan die Heiland se woorde: “baie is geroep, maar min uitverkies”
(Matth 20:16).

Daar is maar een evangelie.

Die onveralste goeie nuus oor die opstanding.

Christus se opstanding in die verlede.

Ons opstanding in die toekoms.

Soos die Kategismus sê:

Die opstanding van Christus is vir ons ’n waarborg van ons opstanding in
heerlikheid.

Paulus skryf aan die Romeine:

As die Gees van God, wat Jesus uit die dood opgewek het, in u woon, dan sal
Hy, wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle sterflike liggaam lewend
maak deur sy Gees, wat nou al in julle woon.

Geliefde gemeente, dit is die goeie opstandingsnuus van Goeie Vrydag en
Paasfees, dit herdenk ons met die nagmaal,

En dit verbind ons met ieder en elk wat vashou aan hierdie onvervalste
evangelie,

oor die hele wêreld,

van Eskimo tot Zoeloe, van Afrikaner tot Japanees.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)