Sondag 16 : Die waarde van Christus se vernedering in die dood en die hel

Predikant: 
Ander
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2013-11-24
Teks: 
Romeine 6 : 1-14 en Rom 12 : 1-2
Preek Inhoud: 

AS u die preek
wil gebruik kontak asb ds PG Boon.

Kopiereg voorbehou

PRETORIA-MARANATA.

 

Liturgie:

 

Votum

Seën

S: Ps 89:1

Gebed

Skriflesing: Romeine 6:1-14; Romeine 12:1-2

S: Ps 36:1

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 16

Preek

S: Ps 36:2,3

Gebed

Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

S: Ps 89:13,17

Seën

 

 

Preek

 

Net soos baie ander dinge is ook die woordjie ‘ellende’ aan inflasie
onderhewig.

Ek bedoel: mense gebruik die woordjie vir steeds minder erge dinge.

As jy koffie op jou klere mors, is dit ellendig.

As jy ‘n pap band kry: wat ‘n ellende!

Maar die gemiddelde Afrikaanssprekende, as hy die woordjie ‘ellende’ elke
dag in die mond neem, weet hy dan nog wel wat die Bybelse betekenis van hierdie
woord is?

Dat jou diepste ellende die feit is dat jy as mens slaaf is van sonde, dood
en duiwel?

Baie mense het nie ‘n flou benul van die feit dat hulle slawe is nie.

Mense het gewoond geraak aan hulle bestaan soos dit is, sonder dat hulle
van beter weet.

 

Die diepste ellende van ‘n mens is dat hy ‘n slaaf is.

Elke mens – hoe lank hy ook leef – is oppad na sy sterfdag.

Volgens die Bybel is ons voorland die ewige dood.

Ewig dood beteken nie net dat jy net weg is nie, dat niks van jou oorbly
nie.

Die Bybel openbaar dat dit ewige lyding in die hel is.

En die allergrootste ellende van mense is dat hulle oënskynlik nie van
hulle voorland bewus is nie.

 

Ons mag onsself gelukkig prys dat God ons oë oop gemaak het vir ons diepste
ellende.

Ons mag bewus daarvan wees dat ellende nie net klein dingetjies is nie – ‘n
pap band, ‘n stukkende wasmasjien, dat ellende selfs nie net is die feit dat
sommige mense ongeneeslik siek is nie, en dat daar oorloë en hongersnode is
nie, maar dat die werklike ellende van die mens nóg erger is.

Ons mag onsself gelukkig prys dat ons hiervan op die hoogte is, en meer
nog, dat ons ook hierteen gewapen word.

Dit het ons nie aan onsself te danke nie.

Dit is ons Here Jesus Christus, wat ons oë oopgemaak het vir ons
slawebestaan.

Sy koms na die aarde, en wat Hy hier gedoen het, dit het ons oë oopgemaak.

 

Tema: Die
waarde van Christus se vernedering in die dood en die hel

1.     Hierdie heilsfeite was helaas broodnodig

2.     Hierdie heilsfeite vernuwe ons
toekomsperspektief

 

1.     Hierdie heilsfeite was helaas broodnodig

Ja, inderdaad, dit wás nodig.

Die ellende van die mens was so erg, dat Jesus dit moes deurmaak.

Dit is weer so ‘n tipies menselik houding:

Dat jy die diepte van jou ellende onderskat.

Soos ‘n misdadiger wat nie besef hoeveel skade hy aangerig het, daardie dag
toe hy iemand se lewe geneem het nie.

So ‘n houding het ‘n mens as hy voor God se aangesig kom.

Van nature beskou ons dit as ‘n bietjie oordrewe dat God so ver moes gaan.

Was dit regtig nodig dat sy eie Seun moes sterf,

tot in die hel verneder word?

Is dit nie ‘n bietjie oordrewe nie?

Vir my was dit nie nodig nie, redeneer ons dalk.

Net soos Petrus destyds:

O nee Here, dit is regtig nie nodig dat U moet sterwe nie.

U hoef net op die troon in Jerusalem plaas te neem en u koninkryk sal begin.

As mense het ons die neiging om skuld te onderskat.

Dit is baie algemeen menslik.

Dit is onderdeel van ons diepste ellende.

Maar die Skrif maak ons oë oop.

Die Kategismus verduidelik dit soos volg:

Waarom moes Christus Hom tot in die dood verneder?

Was dit wel nodig?

En in die antwoord word die Skrif dan nagespreek – want eerlik, ons sou
self nie hierdie antwoord gegee het nie:

Omdat weens die geregtigheid en waarheid van God nie anders vir ons sondes
betaal kon word as deur die dood van die Seun van God nie.

DIT KON NIE ANDERS NIE.

Laat hierdie besef maar goed tot ons deurdring.

DIT KON NIE ANDERS NIE.

Dis nie dat God hier – spreekwoordelik – met ‘n geweer op ‘n muggie skiet
nie.

Nee, hier word die diepte van ons ellende sigbaar.

DIT KON NIE ANDERS NIE.

 

En dan dink ons terug aan die begin van die geskiedenis.

Toe God in die paradys gesê het (Genesis 2:17):

“maar van die boom van kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet
nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe”

Ook ten aansien van hierdie teks kom baie maklik by ons die gedagte op: was
dit nou nodig?

‘n Appeltjie van die boom pluk?

Moes hulle daarvoor só swaar gestraf geword het?

Ook hier verhinder ons slawerny – nie feit dat ons nie beter weet nie – ons
om na te dink oor die werklike bedoeling van God met hierdie uitspraak.

Tot op vandag het ons die neiging om met die duiwel saam te praat.

Wat, vermom as ‘n slang, destyds al vir die mense gesê het:

‘wat is dit nou? ‘n appeltjie van die boom pluk?’

Is sulke reëltjies nie bietje oorbodig nie?

Maar danksy Christus, die tweede Adam, kry ons weer oog vir die juiste
bedoeling van die proefgebod in die paradys.

Dit het nie oor ‘n appeltjie gegaan nie.

Dit het gegaan oor die keuse: gehoorsaamheid aan God of opstand teen God.

Die boom in die paradys het die grens gemarkeer.

En meestal is ‘n grens maar ‘n dun streep, of ‘n heining.

Maar simbolies skei ‘n grens twee wêrelde.

Wie ‘n grens oorgaan, moet rekening hou met die konsekwensies.

 

Maar goed, wat begin het met die pluk van die vrug – die oorskry van die
deur God bepaalde grens – dit het uitgeloop op die verdrywing van die mens uit
die paradys,

dit het uitgeloop op die ewige verlorenheid wat die mens in die gesig
gestaar het.

Weg van voor God se aangesig.

Maar – danksy God se genade – het dit ook uitgeloop op die dood van
Christus.

Daar is dus ‘n direkte verband tussen die sondeval, die ellende van die
mens, en die dood van Christus.

Laat ons dit in nederigheid bely.

Pleks van jou af te vra – was dit wel nodig dat Jesus so moes ly en sterf –
laat ons dit skuldbewus erken.

Dit WAS nodig.

 

Dit beseffende, dat dit nodig was, kan ons dan ook nou vervolgens kyk na
die WAARDE van sy dood, noudat ons besef hoe diep ons ellende is en hoe nodig
dit was.

In die Bybel lees ons baie pragtige gedeeltes oor die WAARDE van sy dood.

Dit klink dalk raar, dat die dood van iemand vir jou ‘n waarde het.

Tog is dit so.

En die Skrif bedoel dit dan nie in die sin van: die een se dood is die
ander se brood, nie.

Maar die Skrif maak ons oë oop vir die feit dat Christus se sterwe
PLAASVERVANGEND was.

Dit is ‘n baie belangrike begrip.

As jy verstaan wat met PLAASVERVANGEND bedoel word, kan jy onmoontlik Jesus
se dood as onnodig beskryf.

Dit sou van die grootste hoogmoed getuig, van absolute afwesigheid van
sondebesef,

as ‘n mensekind Christus se dood onnodig sou noem, of sinloos, of wat ook
al.

Ons mag die Bybel dankbaar naspreek, as God se Woord praat oor die WAARDE
van sy dood.

 

In verband hiermee vra ek met name u aandag vir Romeine 6.

Ons het dit saam gelees.

Uit hierdie gedeelte spreek die besef dat Christus se dood juridiese
gevolge vir ons het.

Laat ek dit met ‘n voorbeeld probeer verduidelik.

Mense het gewoonlik ‘n testament.

Daarin staan beskryf wie wat kry, mog byvoorbeeld ouers te sterwe kom.

‘n Testament lê gereed êrens in ‘n laai, maar dit het nog geen betekenis
solank die ouers nog lewe nie.

Kom hulle te sterwe, dan word die testament van krag.

Op ‘n soortgelyke wyse het die dood van Christus juridiese gevolge vir ons.

Want die Bybel praat oor die PLAASVERVANGENDE sterwe van Christus.

Dus sê Paulus:

Christus het gesterwe, sy testament het van krag geword.

In sy testament staan: jy erf dat jy bevry word van die sonde.

Jy erf dat jou voorland nie meer is dat jy sal doodgaan en ewig verlore sal
wees nie.

Jy erf dat jou voorland is om die ewige lewe saam met Christus te beërf.

Kom ons sit dit op ‘n rytjie:

Jy erf dat jy reeds nou al juridies vry van die sonde is.

Dit het gebeur die oomblik toe Jesus gesterf het – plaasvervangend – en
hieraan kry jy deel elke keer as jy in sy naam vergewing vra.

Jy hoef jou sondes en gebreke nie lewenslank saam te dra as ‘n swaar juk
nie.

Elke keer as jy struikel, bely jy jou sonde en vra vergewing in sy naam, en
dan kan jy die sonde agter jou laat.

Juridies gaan jy dus as ‘n bevryde mens deur die lewe.

Dis jou erfenis, danksy Christus se dood.

 

Juridies ja, maar in werklikheid is ons natuurlik nog nie vry van die
sonde, in die sin dat ons nou al volmaak sou wees nie.

Ons struikel nog dikwels op die pad na die ewige lewe.

Dis hoekom ons ook weer volgende week nagmaal wil vier.

Om ons te bly herinner hoe nodig ons Christus se betaling in ons plek het.

Om ons nederig te hou.

Om ons dankbaar te hou.

Dat ons fokus reg bly.

In die hele wêreldgeskiedenis is die spilpunt die kruis van ons Heiland.

Ook jou lewe vandag in die 21e eeu maak slegs sin as dit gerig is op sy kruis.

Sy kruis, wat Hy moes dra, die las van die kruis wat Hom laat buk het,

Sy kruis rig ons weer op, as ons struikel.

Die nagmaal laat jou besef:

Jy is juridies vry ja, maar in werklikheid nog vas aan die sonde.

Juridies vry, maar in werklikheid nog gebonde.

Maar dit gaan verander by jou afsterwe.

As jy deur die poort van die dood die volmaakte lewe betree,

dan laat jy die sonde letterlik agter jou.

Dit is die deel van die erfenis wat jou nog te wagte staan.

Mens sou dit ‘n tweestappeplan kon noem, hoe Jesus ons verlos, hoe Hy ons
laat erf.

Stap 1 is dat jy in hierdie lewe juridies al vry is van die sonde.

Stap 2 is dat jy met jou afsterwe ook werklik die sonde afsterwe.

Dit Kategismus verwoord dit soos volg:

Ons dood is geen betaling vir ons sondes nie (want juridies is die betaling
al lankal in orde),

maar alleen ‘n afsterwing van die sondes en ‘n deurgang tot die ewige lewe.

 

En dit bring ons by die tweede punt van die preek.

 

 (Tema: Die waarde van Christus se
vernedering in die dood en die hel

1.    
Hierdie heilsfeite was helaas broodnodig)

 

2.     Hierdie heilsfeite vernuwe ons
toekomsperspektief

Gemeente, ek wys u vervolgens op nog ‘n dimensie van die waarde van
Christus se dood.

Tot dusver het ek steeds in die konstaterende sin gepraat.

Ons mog dankbaar konstateer, aanhoor, wat Christus vir ons gedoen het.

Maar nou volg iets in die aanmoedigende sin.

Jy gaan opgeroep word tot iets.

Jy kry ‘n bevel.

Daarmee eindig Paulus in die gedeelte wat ons gelees het:

“6:12 Laat die
sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede
gehoorsaam sou wees nie. 
6:13 En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van
ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit
die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die
diens van God.”

Dit feit dat jy nou al juridies
los is van die sonde, lê in die sin ‘n verpligting op jou lewe dat jy ook al
vanaf vandag jou inspan om ook werklik
los te kom van die sonde.

Die feit dat jy juridies al vry is, juridies aan Christus behoot, dit kan
nie anders of dat dit ‘n uitwerking op jou lewensstyl het nie.

Hierdie oproep klink in Romeine 12:1-2:

“12:1 Ek vermaan
julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n
lewende, heilige en aan God welgevallige offer, dit is julle redelike
godsdiens. 
12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur
die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en
welgevallige en volmaakte wil van God is.”

Paulus spoor ons aan op grond van die ontferminge van God.

Dit klink nogal abstrak.

Maar dit word konkreet as jy besef dat hy met die ontferminge bedoel die
feit dat God se Seun vir ons gesterf het.

Daarin het God se ontferming geblyk, dat Hy sy eie Seun ten offer aangebied
het.

Dus, Paulus spoor ons aan op grond van die sterwe van Christus.

As Christus vir jou gesterf het, as Hy jou lewe gekoop het, kan jy tog nie
lewe asof jy nie aan Christus behoort nie?

Dit is tog heeltemal teenstrydig?

Paulus roep ons op om nie aan hierdie wêreld gelykvormig te word nie.

Julle moet verander word deur die vernuwing van julle denke.

Ook dit is weer so ‘n abstrakte sin.

Maar wel met ‘n pragtige betekenis.

Jy mag naamlik positief DINK oor jou lewe en oor die toekoms.

Positiewe denke.

Dit is die vernuwing van jou denke.

 

Dit beteken nie dat jy jouself oorskat nie.

Dit beteken dat jy alles van Christus dink.

Dat jy besef dat in Christus jy in staat is tot dinge wat jy andersins
nooit sou kon doen nie.

Vernuwing van jou denke, dit is kortom dat jy die heilsfeite ‘n plek gee in
jou eie lewe.

Soos die Kategismus dit verwoord:

My ou mens is gekruisig, dood en begrawe saam met Jesus.

Ek sit nie meer vas aan slegte begeertes en morbiede gedagtes nie.

Ek kan my lewe aan Jesus toewy.

In tye van aanvegting kan ek vlug na Jesus.

Hy weet wat lyde is.

Hy weet wat helse kwelling en verskrikking is.

Hy weet wat dit is om deur God verlate te wees.

As jy dit alles ‘n plek gee in jou lewe, dan word jou lewe vernuwe.

 

Laat ek dit met ‘n voorbeeld verduidelik.

As jy as tienermeisie baie bewus is van jou uiterlik,

en jouself afvra of ooit iemand van jou sal hou ...

Sê nou maar jy sou vandag die boodskap kry dat oor vyf jaar jy sal begin
uitgaan met die ou van jou drome, die niceste ou wat jy nog ooit ontmoet het,
en dat jy met hom gaan trou.

Ek dink dat al jou somber buie oor jou uiterlik soos mis voor die son sal
verdwyn.

Dis soms jammer, dat mens die toekoms nie kan voorspel nie.

Maar wat sê ek, mens KAN, in sekere sin.

En dan praat ek oor die onderwerp van hierdie preek.

En wat Paulus noem: die vernuwing van jou denke.

In Christus is die toekoms nie duister nie.

Jy mag lewe met die besef dat die somberheid, of lyde van die tweenwoordige
tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat wag nie.

 

ALLES wat ek in hierdie lewe doen, doen ek met die besef dat ek oppad is na
die ewige vreugde.

Die mooiste kom nog.

Dit beteken ook dat ons in hierdie lewe nie hoef te lewe met die houding
asof alles nou moet gebeur nie.

Asof jy alles nou moet beleef en gesien het nie.

Ek sien laas ‘n stieker op ‘n Land Rover:

“One Life ... Live It”

Dis gelukkig nie waar nie.

Die mooiste kom nog.

Dit beteken dat ons nou in die hede ‘n lewe van diensbaarheid kan lei.

Ons mag onsself toewy aan die koms van God se volmaakte ryk.

Ons mag ons tyd gebruik om ander ook die pad te wys na God se volmaakte
ryk.

Ons sien in hierdie lewe selfs af van eie gemak, rykdom, welvaart, ter
wille van ander, omdat ons weet dat ‘n ongekende vreugde en rykdom op ons wag.

So bly die heilsfeite – Christus se dood, neerdaling na die hel, en
opstanding, nie net teorie nie, maar kry dit hande en voete in ons lewe.

Dit verander jou lewensuitkyk.

Dis die waarde van dit alles.

Die waarde van die offer en dood van Christus aan die kruis.

Die waarde van sy neerdaling na die hel.

Dit is feite wat helaas broodnodig was.

Maar dit is ook heilsfeite wat ons toekomsperspektief daadwerklik vernuwe.

Ons weet dat Christus met ons begin het.

En ons weet wat wag.

As ons volgende week nagmaal gaan vier, sien ons uit na die toekoms saam
met Christus, as Hy die wyn met ons nuut gaan drink op hierdie aarde.

Eternal Life ... Live It!

 

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)