Luk 11 : 28 Salig is elkeen wat die Woord hoor, dit op waarde skat, en dit bewaar

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2013-10-06
Teks: 
Lukas 11 : 14-28
Preek Inhoud: 

Tema: Salig is elkeen wat die Woord hoor, dit op waarde skat, en dit bewaar

Die Skrifgedeeltes wat ons vanaand gelees het, het die afgelope jare in my sendingswerk ‘n belangrike rol gespeel.

Dit gaan oor geeste, bose geeste, onreine geeste, demone, die duiwel.

’n Bose gees wat uit die huis uitgedryf word, maar wat na ’n rukkie weer terugkom,

sewe keer sterker, en sewe keer slegter,

om opnuut die huis oor te neem.

Vir baie mense in Suid-Afrika is sulke bose geeste ’n daaglikse werklikheid.

As jy jouself nie beskerm nie, gebeur dit wat die Evangelie beskryf.

Daarom beskerm mense op allerlei maniere en met allerlei rituele hulleself en hulle huis hierteen.

Vir die sangoma’s is dit ’n welkome bron van inkomste.

Vir ’n gemiddelde huis kos dit’n paar duisend rand per jaar.

Die toordokter drup byvoorbeeld kerswas in elke kamer van die huis,

spreek bepaalde rituele uit, wat die huis dan weer veilig maak vir die komende jaar.

Ook vir die kerke is dit ’n belangrike taak.

Mense wat kerklid is, verwag dat hulle dominee een keer per jaar in hulle huis kom bid,

by voorkeur ’n gebed in elke kamer van die huis,

ook ’n gebed in die motorkar.

Dit gee die mense gemoedsrus.

Die dominee gee dan ook instruksies hoe die mense self moet bid, sodat hulle gebede effektief is teen die bose geeste.

Soos die een vrou wat die opdrag gekry het om elke aand ook agter haar yskas te bid.

Uit elke hoekie moet die bose geeste verdryf word.

Mense het dan ook dikwels vir my gevra, as ek by hulle op besoek was, om vir hulle te bid.

Want die gebed van ’n moruti het meer krag teen bose geeste, teen bad luck.

Hulle het vir my gevra, as hulle besig was met die kursus vir nuwe lede, hoe hulle moet bid.

Wat is die reëls van die kerk, wat is die metodes van ons kerk om mense te beskerm?

Want in die kultuur is daar almal gewoontes en tradisies, alles bedoel om die mense te beskerm.

Baie jong kinders dra byvoorbeeld ’n armbandjie, of iets om hulle nek, wat hulle teen die evil spirits beskerm.

Veral jong babatjies is baie kwesbaar.

Die tradisie skryf voor dat ’n babatjie verkieslik die eerste ses maande nie die huis moet verlaat nie.

Want op straat, in die winkels, en ook in die kerk, is daar baie ander mense.

En dit is nou eenmaal so dat daar ook mense is wat – kom ons noem dit maar so – beheks is,

wat bose geeste in hulle ronddra.

So ’n bose gees kan baie maklik by ’n babatjie binnedring.

Die tradisie vertel dat dit met ’n baba se fontanel te make het – daardie sagte plekkie om sy kop wat nog nie toegegroei het nie.

Sommige bose geeste is soos ’n slangetjie, wat maklik daar kan binnedring.

Dit is dan ook die rede dat selfs baie kerkmense moeite daarmee het om hulle baba binne die eerste ses maande te laat doop.

Die risiko sou te groot wees vir die baba, om blootgestel te word aan ’n kerk vol ander mense.

 

Nou om die mense te lei op die pad van geloof en bekering, en om hulle te help om van al hierdie bygelowige gedagtes bevry te word,

het ek dikwels van hierdie woord van Jesus gebruik gemaak.

Dit is die Here Jesus wat jou bevry van bose geeste.

Hy dryf hulle uit.

Hy maak jou lewe, waar die bose geeste tot dusver huisgehou het, aan kant.

Maar as hulle uitgedryf is, moet jou huis – die huis van jou lewe – natuurlik nie leeg bly nie.

Dan gebeur wat ons gelees het, dat die bose gees weer sal terugkom, selfs nog meer.

In die plek van die bose geeste kom nou die Heilige Gees, die Gees van Christus, om jou huis te bewoon.

Jy word ’n tempel van die Heilige Gees.

En waar die Heilige Gees woon, daar bly die bose geeste uit die buurt.

Hulle hou afstand.

Hulle waag dit nie om binne te dring nie.

Want, die Heilige Gees is sterker.

En dit is die geweldige voorreg, die rykdom van ’n gelowige lewe.

Die Heilige Gees garandeer ’n stabiele lewe, wat nie die heeltyd besoedel en omvergegooi word deur bose geeste nie.

 

U sal verstaan dat hierdie boodskap baie aantreklike nuus is vir die mense.

En dus sal hulle direk vra: vertel vir my, hoe kan ek die Heilige Gees kry?

Watter metodes het julle in julle kerk om dit te laat werk?

En dit is dan wat ek mag verduidelik hoe ‘n mens die Heilige Gees kry, en hoe die Heilige Gees werk.

Elke bekeerling, en ook alle kinders van gelowige ouers, word gedoop.

Gedoop in die naam van die Vader, die Seun, en die Heilige Gees.

As jy dus werklik ernstig is oor die beskerming van jou babatjie teen die Bose,

neem jou kind dan so gou moontlik kerk toe, om gedoop te word,

om die teken en seël van die verbond te ontvang,

om ’n erfgenaam te word van al God se beloftes!

 

En verder mag ek vir die mense verduidelik dat die Heilige Gees deur die Woord werk.

Dus hoe bereik jy daardie toestand, dat die Heilige Gees baas is in jou huis, en dat die bose geeste nie durf om nader te kom nie?

Daardie geseënde toestand bereik jy as jy elke dag – jy en jou gesin – die Bybel oopmaak.

Daaruit lees, jou lewe laat verander, transformeer deur die Woord van God.

Hoe meer jy dit doen, hoe kragtiger werk die Gees, en hoe swakker word die mag van die duiwel en sy demone in jou lewe.

’n Bybelse lewensstyl beskerm jou teen al die bose geeste en demone, die demoon van drank, die demoon van dwelms, die demoon van jaloesie en wraak, die demoon van geldverkwisting, ensovoorts.

Die Woord transformeer jou lewe, sodat God se gawes nie afgode word nie, sodat jy God se gawes konstruktief pleks van destruktief kan gebruik, dink aan byvoorbeeld seksualiteit.

Ja ’n huis, en ’n stad waar God se Woord eerbiedig word, sal ’n plek wees waar verkragtings nie aan die orde van die dag is nie.

Is dit nie iets begeerliks vir die townships in ons land nie?

Is dit nie iets begeerlikse vir ons hele land nie, wat ondertussen al bekend begin staan as die verkragtingshoofstad van die wêreld nie?

 

Nou is dink ek die meeste van u, gemeentelede in Pretoria-Maranata, in die buitengewoon bevoorregte posisie dat u in u eie lewe waarskynlik weinig nadink oor bose geeste.

Vir sommige van ons is dit selfs ’n vraag of hulle ooit bestaan...

Dalk kan ons dit dank aan die eeuelange kerstenende werking wat die Woord van God gehad het op ons kultuur.

Aan die feit dat u dalk in ’n Christelike gesin opgegroei het, waar huisgodsdiens ’n daaglikse gewoonte was,

waar die Heilige Gees u lewe van jongs af getransformeer het met die Woord van God.

Sodanig dat u nou omtrent u nie meer kan indink hoe dit moet wees vir al die baie mense, veral swartmense om u heen in hierdie land, hoe dit moet wees vir hulle wat nog daagliks in vrees vir die bose geeste moet lewe.

Wat ’n rykdom. Wat ’n rykdom!

Dit wat jy as gewoon ervaar, dalk selfs boring, wat ’n rykdom.

’n Huis wat uitgevee is, aan kant gemaak, selfs mooigemaak, versier.

In so ’n huis, eintlik ’n paleis, ja ’n tempel, lewe jy.

Maar ons sien dit dikwels nie meer raak nie, dit het gewoon geword.

Die stabiliteit wat die Gees bied... dalk het dit selfs soms boring geword.

 

Geliefde gemeente, hierdie Skrifgedeelte het nie net ’n boodskap, iets om te leer vir die gemeentelede in die townships nie.

Ook vir ons is daar ’n belangrike boodskap.

En dan dink ek veral aan die gedeelte vanaf vers 24.

Soos ek hier staan, sien ek ’n gemeente voor my van mense wat welgekleed is,

die meeste lyk blakend gesond,

die manier hoe u uit u oë kyk, u blik, is oor die algemeen tiperend van gereformeerde mense,

met gereformeerd bedoel ek: jou lewe is gevorm, gereformeer volgens die Woord van die Here,

u blik is nie die van iemand wat angstig is nie, of van iemand wat geen toekomsverwagting het nie,

of soos hulle sê, blazé.

Oor die algemeen is u huis netjies uitgevee, ordelik, selfs versier, mooi gemaak.

Ek bedoel dan nie in die eerste plek u huis letterlik nie – maar die huis van u lewe.

Oor die algemeen mag ons ’n goeie lewe lei.

Natuurlik is daar uitdagings, natuurlik gebeur daar ook erge dinge in ons midde,

maar terselfdertyd is dit nie vergelykbaar met dié soort onvoorspelbare onstabiele haglike lewe van so baie ander mense hier in Afrika nie.

Ons is geseënd met ’n goeie stabiele middelklas – dalk eerder topklas – gereformeerde lewensstyl.

Bose geeste kry relatief min vatplek, want God regeer ons deur sy Gees en Woord.

 

Hoewel, gemeente, en dit moet ons net nie vergeet nie.

Dit wil nie sê die bose geeste bestaan nie meer nie.

Ons lees: die onreine gees, toe hy uitgedryf is, het rondgedwaal en orals probeer rus soek,

tot hy ’n nuwe plan, aanvalsplan, uitgedink het.

Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het.

Ek sal sewe ander geeste saamvat, nog slegter as ekself.

Ons sal weer probeer om daardie huis in beslag te neem.

Agt bose geeste wat saamstaan, dan sal ons seker die sterk man kan boei?

En toe toe die geeste by die huis aankom, wat vind hulle?

’n Pragtige huis. Uitgevee. Mooigemaak. Versier.

En, tot hulle verbasing – dit is die ontstellende – hulle vind die huis leeg!

Geen sprake van ’n sterk man nie.

Dit kan ons lees in Mattheus 12:44.

Ons het daardie gedeelte ook gelees.

Leeg, dit wil sê, die bewoner, die sterk man is nie daar nie.

Dis soos wanneer jy op vakansie sou gaan, en jy los jou huis se voordeur oop, die hek los jy oop,

enige slenteraar kan maar net binneloop,

en op jou sitkamerbank gaan sit, jou flatscreen aanskakel,

hy kan na jou kombuis loop, die koelkas oopmaak en ’n bier uithaal,

hy kan homself bedien, homself geniet, en niemand sal agterkom nie,

geen alarm, niks nie.

 

Nou bedoel ek met die sterkste man die Heilige Gees.

Hoe kan dit nou dat ’n huis so mooi netjies is, so mooi, maar die Heilige Gees is nie daar nie?

Wel, dit is presies wat Jesus vir die Joodse volk van sy tyd gesê het.

Jesus het hulle kwalik geneem:

Julle is die volk van God,

Eeue lank is julle geseën met God se nabyheid,

Eeuelank het julle geprofiteer van die stabiliteit van sy verbond.

Maar nou, nou het julle ’n slegte en owerspelige geslag geword.

Selfs die koningin van die Suide, die koningin van Skeba – nie ’n verbondskind nie – sal in die oordeel teen julle opstaan.

Julle is deur die VerbondsGod geseën met ’n ongekende rykdom, nie in die laaste plek geestelike rykdom, dink aan die wysheid van Salomo waaroor die koningin van Skeba haar so verbaas het.

Maar wat het julle gedoen?

Julle het die Bron van al hierdie wysheid en rykdom, die Gewer daarvan, die het julle in die steek gelaat.

Die Heilige Gees, wie se tempel julle mog geword het, die het julle onbelangrik begin ag.

Die Heilige Gees wat julle huis beskerm teen die bose geeste.

Omring deur al die rykdomme van sy verbond, nog steeds profiterende daarvan, het julle begin lewe asof julle die Heilige Gees nie meer nodig het nie.

En op ’n goeie dag, toe die bose geeste terugkom na ’n lang swerftog, toe vind hulle hierdie pragtige huis leeg.

Die sterk man wat hulle verwag het om teen te kom, en om watter rede hulle al agt saam gekom het om hom te probeer oormeester, die vind hulle nie eens daar nie.

En Jesus sê dan: die laaste van daardie mens word erger as die eerste.

Wat Jesus met hierdie opmerking bedoel is baie ernstig.

Hy bedoel dat die toestand van die Jode voordat God met hulle ’n verbond gesluit het – sê maar toe ook hulle nog heidene was – dat daardie toestand minder erg was as die huidige toestand – bedoelende dat hulle nou die gawe van die Heilige Gees verwerp het.

Dat hulle lewe asof hulle die Gees nie nodig het nie.

Dat hulle geniet van alle rykdom en voorregte – ’n pragtig versierde huis – maar terselfdertyd ’n leë,  verlate tempel.

Die Here Jesus praat in hierdie verband oor sonde teen die Heilige Gees.

Mattheus 12:31: “Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie.”

 

Wat is sonde teen die Heilige Gees?

Wat is lastering teen die Gees?

Dit is wat die Here Jesus in hierdie gelykenis verduidelik.

Hy het die bose geeste uit daardie mens se lewe verban.

Hy het in plek daarvan daardie mens vervul met sy Heilige Gees.

Daardie mens is vervolgens geseën met ’n pragtige lewe, ryk, stabiel, sinvol.

Maar op ’n stadium het daardie mens gewoond begin raak aan die rykdom.

Die avonture van die sondige wêreld, die duiwel en sy bose ryk, het vir hom aanloklik begin word.

Hy’t begin dink dat hy al daardie rykdom, daardie bevoorregte posisie aan homself te danke het.

Hy’t begin lewe asof hy die Gees, die sterk man, nie meer nodig het nie.

Hy’t selfs begin ontken dat hy al hierdie voorregte te danke gehad het aan die God van die verbond.

Teen beter wete in, het hy die wonderdade van God in sy lewe begin ontken.

Dit is wat die Joodse volk in Jesus se dae gedoen het.

Hulle het Hom nie aanvaar nie, hulle het Hom selfs op een lyn gestel met Beëlsebul.

Dit is sonde teen die Heilige Gees.

Dit sal die mense nie vergewe word nie.

Die laaste van daardie mens word erger as die eerste.

 

Geliefde gemeente, laat hierdie u nie baie dink aan die moderne, en postmoderne Westerse samelewing nie?

En staan ons as gemeente nie met beide bene in hierdie samelewing nie?

Die westerse wêreld, Europa, en orals waarheen hulle uitgebrei het – Amerika, Australië, en ook hier in Suid-Afrika, het vir eeue die heilsame invloed van die Woord van God ondergaan.

Maar hoe lyk ons samelewing teenwoordig?

Aan die een kant ry ons nog heerlik op die golf van die welvaart, die stabiliteit, die regsekerheid wat die Evangelie gebring het.

’n Huis wat uitgevee is, opgeruim, mooigemaak, versier.

Maar aan die ander kant is hierdie huis leeg.

Die Gewer van al hierdie goeie gawes word nie meer gewaardeer, laat staan geëer nie.

Sy bestaan word selfs ontken.

Die omgekeerde word selfs beweer.

In die sekulêre Weste hoor ons nie meer dat God se Woord vir die samelewing goed is nie,

nee ons hoor nou dat geloof en godsdiens, ook die christelike godsdiens,

’n potensieel destabiliserende faktor is vir die samelewing.

Dit is nie goed dat op staatskole die week met Skriflesing en gebed geopen word nie.

Laat staan in die raadsale van die politiek.

Die Bybel kan gevaarlik wees, in ’n multi-godsdienstige samelewing.

Gemeente, dink vir ’n oomblik na: klink dit nie baie soos die situasie waarmee Jesus te make gekry het nie?

Die godslastering van die Fariseërs nie?

Terwyl Jesus iets goeds doen, maak die Fariseërs hom uit as iemand wat gevaarlik is.

Die skare is verwonderd, hulle sien hoe ’n stom man wat deur ’n bose gees geteister is, tot rus kom en selfs weer kan praat.

Die skare begin hulleself hardop afvra: is Hy nie miskien die seun van Dawid nie?

Is Hy nie miskien die beloofde Messias nie?

Maar die Fariseërs, die teoloë van daardie tyd, se harte is boos, hulle wil nie die wonder sien nie, hulle oë is verblind.

Hulle sê selfs die omgekeerde.

Nie die Seun van Dawid is Hy nie, o nee: Hy sou deur Beëlsebul die bose geeste uitdryf!

Dus, Jesus sou ook ’n gevaarlike iemand wees, nie die langverwagte Messias nie, maar een wat by die volk weggehou moet word.

Ander Fariseërs, lees ons, het van Hom ’n teken uit die hemel begeer.

Nota bene, minute na ’n wonderteken, vra hulle nog ’n teken uit die hemel.

Dit soos mense wat vandag ontken dat God bestaan, terwyl hulle omring word deur die pragtigste see van blomme nou in die lentetyd.

 

Inderdaad, presies so gebeur dit vandag, en dit – net soos by die Fariseërs die geval was – in lande wat vir eeue gevorm is deur die Evangelie, wat nog elke dag profiteer van hulle christelike tradisie.

Ja, ’n samelewing waarin die komende koninkryk in baie opsigte sigbaar geword het.

Maar as die afval dan kom, is dit des te erger.

Jesus, oftel die Woord – want Jesus is die Woord – word getipeer as gevaarlik.

Skoolkinders moet nie te veel blootstelling daaraan kry nie.

Dit moet uit die raadsale van die politiek geweer word.

Sonde teen die Heilige Gees is dit.

Wanneer iemand iets wat ooglopend goed is, sleg noem.

 

Gemeente, laat ons onsself op hierdie punt ondersoek,

dat ons wel in die wêreld is, maar nie van die wêreld nie.

As baie mense om jou heen, ook in die straat waar jy woon,

lewe sonder dat hulle kerk toe gaan, sonder om daagliks Bybel te lees, te bid, die Here te dien,

maar terselfdertyd profiteer hulle wel nog van hulle christelike verlede,

is hulle lewe soos ’n tikkende tydbom.

Een of ander tyd sal die bose geeste terugkom.

En dan nie net een nie, saam met sewe ander wat nog veel slegter, perverser is.

Sien ons nie dat dit al in ons samelewing begin gebeur nie?

Kom ons ondersoek onsself. Staan ons wel, of is ons dalk ook naby aan val?

Ons mag ’n soutende sout wees,

as ons elke dag die Heilige Gees in ons lewe laat werk, deur die Woord.

 

En dit bring ons by Jesus se woorde: “Salig is hulle wat die woord van God hoor en dit bewaar.”

Ek wil hierdie teks vanaand graag toepas sowel op u as gemeente, as op myself.

Vir beide van ons – die gemeente aan die een kant en die bedienaar aan die ander kant –

is die saligspreking in ons teks van toepassing.

Salig is die gemeente as hulle die Woord bewaar – u luister daarna, dit is nie waardeloos vir u nie, maar u skat dit op sy waarde, u sluit dit in u hart, u leef daagliks daarmee, sodat dit u lewe kan transformeer.

Maar ook: salig is die predikant, as hy nie sy eie mening, sy eie woord vanaf die kansel bring nie, maar slegs die Woord van God, en ook heel die Woord van God, in sy volle breedte, skerpte, rykdom, sy implikasie vir elke aspek van ons lewe.

God sy Woord skat hy op waarde.

Dit voer die botoon in sy preke, kategese, pastorale werk, in alles.

Dit is die geestelike voedsel wat u as gemeente nodig het,

nie die predikant se eie mening nie, nie die nuus en stories wat u in elk geval in die koerant kan lees,

nie die jongste teologiese konstruksies en aanpassings aan die wêreld nie.

Maar God se Woord, gelouter sewe maal,

gans volmaak soos Hy,

en van al wat smet is, vry. (Ps 18:14 ber.)

 

Vandag mog ek bevestig word as bedienaar van die Woord hier in Pretoria-Maranata.

Hierdie formulering is bewus gekies.

Bedienaar van die Woord.

Dit is nie: ek is bevestig is as bedienaar van Maranata nie.

Nee, dit is: bevestig as bedienaar van die Woord in Maranata.

Dit wil sê: My werkgewer is God, nie die gemeente nie.

Hy het my gestuur en ek moet sy Woord in julle midde bedien.

Ek moes vanoggend op die volgende vrae antwoord:

Is u daarvan oortuig dat God self u deur sy gemeente tot hierdie heilige diens geroep het?

En: erken u die geskrifte van die Ou en Nuwe Testament as die enige Woord van God en die volkome leer van die verlossing is en verwerp u alles wat daarmee in stryd is?

Gemeente, ons kry saam ’n wonderlike belofte:

“Salig is hulle wat die woord van God hoor en dit bewaar.”

En geliefdes, ons sal die komende jare mekaar nodig hê, ons sal mekaar by God se Woord moet bewaar.

Ek u, en u my.

Ons sien teenswoordig in die Westerse wêreld hoe predikante, en ook hoe gemeentes amper soos dominosteentjies, die een na die ander omval, swig voor die druk van die wêreld.

Verwêreldliking, aanpassing by die vereistes wat die samelewing stel,

met uiteindelik so baie kerke wat hulle deure moet sluit.

Wat sal ons lot wees in die toekoms?

Wel, deur die eeue het die saligspreking van ons Heiland gegeld:

SALIG is hulle wat die Woord van God hoor.

SALIG is jy as jy sy Woord op waarde skat.

SALIG is jy as jy dit bewaar.

Ook vir die tyd waarin ons leef, staan hierdie belofte.

Daarom nooi ek u van harte uit: kom ons stap die pad saam, al die jare wat voorlê,

hoeveel weet ons nie, wat die Here ons aan mekaar wil verbind,

kom ons staan saam in diens van die Here,

tot sy eer, tot ons eie saligheid, en tot ’n lig vir die wêreld.

Amen.

 

 

Liturgie: 

Votum
Seën
S: Ps 18:14 (Gods weg is gans volmaak soos Hy, sy woord van al wat smet is vry, soos goud, gelouter sewel maal.) Ivm ons teks vanaad: Salig is hulle wat die woord van God en dit bewaar.
Gebed
Skriflesing: Mattheüs 12:22-45
S: Ps 51:5 (bede om God se Heilige Gees, wat ons teen die sonde beskerm en teen alle bose geeste)
Skriflesing: Lukas 11:14-28
Teks: Lukas 11:28
Preek
S: Ps 104:17-21 (hoe die Heilige Gees lewe, lig en lof opwek in die skepping, en in ons)
Gebed
Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
S: Sb 14:1,2 (die pragtige Pinksterbelofte van God uit Esegiël: ‘k Gee my Heil’ge Gees aan julle, wat die krag verleen en trou om te wandel in my weë...)
Seën