Openb 1 : 5b-8 Gewas in sy bloed, sien ons uit na sy wederkoms

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2013-10-20
Teks: 
Openbaring 1 : 1-8
Preek Inhoud: 

Ons teks volg direk op die pragtige seëngroet wat Christus aan die sewe gemeentes deur die apostel Johannes gegee het.

Ook ons mog vanoggend hierdie seëngroet aan die begin van die diens ook ontvang.

Ons teks is ’n lofuiting in reaksie op hierdie ryke seën.

Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed ... sy die heerlikheid en krag tot in alle ewigheid.

En direk daarna roep ons teks ons op om vooruit te kyk na die toekoms:

Kyk, Hy kom met die wolke, want Hy, Christus, is die Alfa en die Omega.

Tema: Gewas in sy bloed, sien ons uit na sy wederkoms

Inderdaad, ons vier nagmaal, omdat ons verwag dat die Here gaan terugkom.

Nou is sy wederkoms is in die eerste plek iets om bang voor te wees.

Die presiese datum van sy terugkoms is onbekend.

Dit kan enige tyd wees.

Jesus Christus sal terugkeer na die aarde as ’n regter.

Ons bely dit elke Sondag met die Apostoliese Geloofsbelydenis:

Hy sal kom om te oordeel die lewende en die dode.”

Sy koms sal groot onsteltenis op aarde veroorsaak.

Soos ons teks sê:

“en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf.”

 

Hoekom sal die dag vreesaanjaend wees?

Wel, omdat die lewende God sy oordeel sal bekend maak oor die hele mensdom.

Oor alle nasies, en oor alle inidividue.

Almal wat hulle lewe geniet het, maar nie op hulle Skepper ag geslaan het nie.

Sy regmatige aanspraak op hulle lewens ontken het.

 

Die dag van sy oordeel sal in besonder angswekkend wees vir hulle wat in die bevoorregte posisie was om God se Woord te geken het.

Mense wat, nadat hulle dit ontvang het, tog gekies het om die Evangelie te los vir wat dit is.

En besluit het om hulle sondige lewens voort te sit.

Vir hulle sal die dag van die ewige oordeel des te meer angswekkend wees.

En dit geld ook vir hulle wat voorgegee het dat hulle die Here dien, maar wat in die tussentyd God se heilige Woord verdraai het met hulle eie idees.

Al hierdie mense sal op die dag van Jesus se wederkoms hulle regmatige oordeel ontvang.

Hulle sal gevonnis word deur Christus,

en daarna sal hulle in die vure van die hel gegooi word.

Inderdaad, so te hore, sal dit ’n vreesaanjaende dag wees, as die Here terugkom.

Die mensdom, wat maar soos ’n druppel water is in die hand van die lewende God, behoort Hom te vrees.

 

Die Nederlandse Geloofsbelydenis, art. 37, vat die Bybel soos volg hieroor saam:

Ten laaste glo ons, volgens die Woord van God, dat wanneer die tyd deur die Here bepaal, gekom het – wat aan alle skepsele onbekend is ... ons Here Jesus Christus uit die hemel sal kom, liggaamlik en sigbaar, soos Hy opgevaar het, met grote heerlikheid en majesteit, om Hom aan te kondig as Regter oor lewende en dode ...

En dan sal persoonlik voor hierdie groot Regter verskyn alle mense, manne sowel as vroue en kinders, wat van die begin van die wêreld af tot die einde toe bestaan het, gedagvaar deur die stem van die aartsengel en deur die geklank van die basuin van God ...

Dan sal die boeke, dit wil sê, die gewetens, geopen en die dode geoordeel word volgens wat hulle in hierdie wêreld gedoen het, goed of kwaad.

Ja, die mens sal rekenskap moet gee van elke ydele woord wat hulle gepraat het ...

En dan sal die verborgenhede en geveinsdhede van die mense in die openbaar voor almal ontdek word.

En daarom is die gedagte aan hierdie oordeel met reg ontsettend en skrikwekkend vir die oortreders en goddelose.

Tot sover die Nederlandse Geloofsbelydenis.

 

Nou hoekom vier ons nagmaal?

Soos ek gesê het, ons doen dit omdat ons die dag van oordeel verwag.

Want dit wat ons doen as ons nagmaal vier, dit beskerm ons teen die sware oordeel van daardie dag.

As ons van die brood eet, wat Christus se liggaam simboliseer,

as ons van die wyn drink, wat Christus se bloed simboliseer,

dan nuttig ons – op ’n geestelike wyse – dit wat die Here Jesus vir ons gedoen het.

Want daar is slegs een manier hoe om veilig te wees op die komende dag van oordeel.

Dit is as die regter, die Here Jesus Christus, wat alle sondige mense na die hel sal veroordeel,

wanneer Hy positief oor jou is,

wanneer Hy jou goedgesind is.

Die mense wat Hy sy vriende noem, sal Hy nie veroordeel nie, maar Hy sal hulle red.

Dit is mos die rede hoekom die Vader sy Seun in die wêreld gestuur het.

Die Evangelie vertel ons dat Jesus gely het, gekruisig is, gesterf het, opgestaan het.

Hiermee het Hy dit moontlik gemaak om versoening te doen vir die sondes van sy vriende.

Die Evangelie roep ons op:

As jy opreg glo in die Here, en jou hele lewe aan Hom gee, en vir vergewing van al jou sondes vra, in sy Naam,

wanneer so iemand dan op die oordeelsdag verskyn,

sal hy nie vuil, met sondes bevlek, bevind word nie.

Maar hy sal skoongewas wees, so skoon as skoon kan wees.

En as die regter nie ’n greintjie vuiligheid, sondigheid in hom vind nie, sal hy nie veroordeel word nie,

maar hy sal vrygespreek word en uitgenooi word om deel te neem aan die altyddurende vreugde op die nuwe hemel en aarde.

 

Dus, om terug te kom na die hede, as ons nagmaal vier, berei jy jouself voor vir daardie finale, daardie vreesaanjaende dag.

Ons eet van die brood, ons drink van die wyn.

Met hierdie aksies, deur dit te doen, bly ons erken dat ons die verlossende werk van Christus nodig het.

Om ons vieslike lewens te red.

En boonop, as ons eet en drink, ervaar ons dat Christus gewillig is,

ervaar ons dat Hy sy vergewing aanbied,

ervaar ons Hy skoonmaak, wat vieslik was,

ervaar ons dat Hy ons regmaak om daardie dag van oordeel te kan deurstaan.

 

Eintlik is ons dus vandag besig met die sowel die verlede as die toekoms.

Ons dink aan die verlede – ons GEDENK dat Jesus gekruisig is, gesterf, opgestaan het, om te boet vir ons skuld voor God.

Maar ons dink ook aan die toekoms, ons VERWAG dit wat Jesus voorspel het.

In der waarheid, ons kan VERLANG na die toekoms.

Ons kan selfs VERLANG na die dag van oordeel.

Want omdat ons nou reeds gereinig is, weet ons dat ons veilig sal wees op daardie dag.

En daarom verlang ons na daardie dag.

Ons verlang dat alle onreg en boosheid, alle haat en opstand, alle siekte en dood, weggewas sal word van die oppervlakte van die aarde af.

Verlang jy nie ook hierna nie?

Kry jou eie sonde, en alle slegte dinge, alle smerigheid, alle oneerbiedigheid op die aarde jou nie soms ook onder nie?

Raak jy nie soms siek en sat vir hoe dit hier gaan nie?

Calvyn het ’n keer gesê: die diepte van jou geloof kan gemeet word aan hoe baie jy uitsien na sy wederkoms.

Hoe dieper jou geloof, hoe meer sien jy jou eie gebrekkigheid raak, hoe meer sien jy raak wat alles fout is in hierdie wêreld.

En dan verlang jy dat Hy tog mag terugkom, om orde op sake te stel.

 

Ek het nounet ’n gedeelte gelees uit die Nederlandse Geloofsbelydenis, art. 37.

Oor die skrikwekkende toekomsvooruitsig vir die wat die Here nie dien nie.

Maar art. 37 skryf ook oor die verlange van die gelowiges na hierdie dag.

Ek haal weer aan:

Maar die gedagte aan die oordeel is “baie begeerlik en troosvol vir die vromes en uitverkorenes; aangesien hulle volle verlossing dan voltooi sal word en hulle daar sal ontvang die vrug van al hulle sware arbeid en moeite.

Hulle onskuld sal deur almal erken word, en hulle sal die verskriklike wraak sien wat God sal oefen teen die goddelose wat hulle getiranniseer, verdruk en gekwel het in hierdie wêreld; terwyl die goddelose oorweldig sal word deur die getuienis van hul eie gewete. Hulle sal onsterflik word, maar so dat hulle gepynig sal word in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele berei is.

Daarenteë sal die gelowiges en uitverkorerenes met heerlikheid en eer gekroon word.

Die Seun van God sal hulle naam bely voor God sy Vader en sy uitverkore engele; alle trane sal van hulle oë afgevee word.

Hulle saak, wat teenswoordig deur baie regters en owerhede as ketters en goddeloos veroordeel word, sal erken word as die saak van die Seun van God, en as ’n genadige vergelding sal die Here hulle in besit stel van so ’n heerlikheid as wat die hart van ‘n mens nooit sou kan bedink nie.

Daarom verwag ons die groot dag met ’n groot verlange om ten volle te geniet die beloftes van God in Jesus Christus, ons Here.”

 

Gemeente, broer, suster, sien jy uit na sy wederkoms?

Hoe diep is jou geloof?

Ervaar jy ook die geestelike stryd op aarde?

Stry jy teen jou ou mens, teen jou eie vuiligheid?

Stry jy teen hulle wat Christus en sy Woord nie eerbiedig nie?

 

Kom ons verlang om Hom te ontmoet.

Soos ons teks sê: ons is nou al reeds so bevoorreg om te ervaar dat Hy ons liefhet en ons sondes afwas.

Maar dan sal ons ervaar dat Hy ons ook blywend sal vrymaak van ons sondes.

Eers dan sal ons werklik ons skoene kan volstaan in die amp waarin Hy ons aangestel het.

Soos die teks sê: konings en priesters.

Ons is dit nou al, maar hoe gebrekkig soms...

 

Ja jy is dit al.

Jy is al ’n priester.

Die taak van ’n priester in die Ou Testament was byvoorbeeld om die tempel skoon te maak.

En ook om die volk van God te reinig.

Die priesters moes dit doen deur voortdurend vir die volk te bid.

Dink aan Ps 134: dag en nag het die priesters hulle hande opgehef na die heiligdom.

Opgehewe hande – die gebedshouding.

Ook het die priesters die versoening en vergifnis gesimboliseer deur offers te bring.

 

Nou is dit vandag jou taak, as ’n Christen priester – dit is jou taak om jou persoonlike lewe skoon te maak, te reinig, deur daaglikse gebed vir vergewing, en deur inspanning om ’n beter lewe te lei.

En dit is ook jou taak om die wêreld om jou heen te reinig, om dit waarmee jy in aanraking kom te heilig vir die Here.

Heilig beteken: toe te wy aan die Here.

Wat ’n pragtige taak – dink jou ’n bietjie in – dink klink amper soos ’n towerstaffie –

as ’n Christen priester, as ’n geheiligde mens, alles wat jy aanraak, dit mag ook heilig word.

Jou familie, jou bure, jou straat, jou werk, jou omgewing, mense, diere, natuur, alles waarmee jy in aanraking kom, sal ervaar: hierdie mens is ’n Christen priester. Hy/sy het iets in homself/ in haarself, wat maak dat alles waarmee hy / sy in aanraking kom, daarby baat vind. Wat ’n lieflike taak, vir jou, vir ons, as Christen priesters.

Ons mag voorbodes wees van die herskepping wat op koms is.

 

Om af te sluit wil ek vir jou vra:

Verstaan jy nou hoekom ons nagmaal vier?

Dit berei jou voor op die dag van oordeel.

En dit beskerm jou teen die dag van oordeel.

Dit laat jou selfs verlang na die dag van oordeel.

En dit gee jou die energie om daarna te streef dat alles aan God toegewy word,

in jou persoonlike lewe, en in die wêreld rondom jou.

En dit totdat die dag aanbreek, vroeg of laat, maar kom sal Hy kom.

Want Hy is die Alfa en die Omega.

Hy is, Hy was, Hy kom.

Gewas in sy bloed, sien ons uit na sy wederkoms.

Aan Hom kom toe die heerlikheid en die krag vir altyd en altyd.

Amen.

Liturgie: 

Votum
Seën: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geest wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde! Amen.
S: Ps 116:1
Wet
S: Sb 46:2,3
Gebed
Viering nagmaal (formulier lees)
1e tafel: Skriflesing: Openbaring 1:1-5a; s: Ps 9:1,3
2e tafel: Teks: Openbaring 1:5b-8; s: Ps 9:5,6
3e tafel: Lees: Lofverheffing & Dankgebed; s: Ps 9:7
Preek
S: Sb 39:1,3,4
Gebed
Kollekte
S: Ps 9:8
Seën