Sondag 48 : Medestryders bid vir die koms van die koninkryk

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2013-04-28
Teks: 
Matthéüs 6 : 19-34 en 1 Kor 15 : 20-28
Preek Inhoud: 

As mens Sondag 48 so lees, is die terme wat gebruik word nogal opvallend.

Dit laat mens eintlik aan oorlog dink.

Ek dink aan bv. die volgende woorde:

Regeer, onderwerp, bewaar, vermeerder, vernietig, heerskappy, bose planne...

As daar een ding vir ’n oorlog waar is, is dit dat as jy wil wen, moet jy planne maak.

Voordat die Amerikaners Irak binnegeval het, het hulle maande lank beplan.

Dieselfde geld vir die historiese D-day.

Die geallieerde magte wat op daardie dag begin het om Europe te bevry van die Nazi’s se regime.

Eintlik is veel eerder begin.

Ten minste vir ’n jaar is daar planne beraam.

En toe die duisende soldate een vroeë donker oggend losgelaat word op die strande van Frankryk,

toe het hulle nie net voortgestorm en geveg soos hulle wou nie.

Hulle moes stiptelik volgens ’n vooraf ingestudeerde plan optree.

En toe hulle eers aan land was, met al hulle tenks, ammunisie en voorraad,

het hulle nie net sommer in ’n rigting beweeg nie.

Vooraf was die roete reeds bepaal – eers na hierdie stad, dan daardie, dan die hoofstad Parys,

en so aan.

En as hulle minder weerstand teengekom het as verwag,

mog hulle nie net met hulle Jeeps aanhou voortjaag nie.

Hulle moes hulle aan die voorafbepaalde plan hou.

Daar was naamlik ’n reële kans dat die voorhoede afgesny sou kon word van die agterhoede.

Wat sou beteken dat daar vir hulle nie meer aanvoerlyne sou wees van nuwe ammunisie, kos, medisyne, ens. nie.

Dis hoekom die geallieerdes dit so belangrik gevind het om eers ’n stad soos Antwerpen in te neem.

Om ‘n hawestad in beheer te hê op die Europese vasteland, sodat hulle nuwe voorraad vanuit Engeland kon aanvoer.

Want inderdaad, die offensief het tonne en tonne wapens, voedsel, medisyne nodig gehad.

Daarsonder sou ’n suksesvolle begin gou doodgeloop het.

Strategiese oorlogsvoering.

Vir ’n groot deel word die oorwinning besleg op die tekentafel.

 

Soos ek gesê het, vind ons in Sondag 48 woorde wat mens aan oorlog laat dink – strategiese taal.

En, voor jy dink dit gaan oor ’n oorlog êrens ver weg, nee, lees mens die woordjie ons.

Dit is dus ’n oorlog, waarin ons – soos ons hier in die kerk bymekaar is – betrokke is.

 

Tema: Medestryders bid vir die koms van die koninkryk

Christus het vooral sy strategie bepaal.

In Sondag 48 word dit uiteengesit in 7 stappe.

 

-          Stap 1: Regeer ons so deur u Woord en u Gees dat ons hoe langer hoe meer ons aan U onderwerp

Hierdie eerste stap gaan nie soseer oor die oorlog nie.

Eerder oor die mense wat die oorlog moet voer.

In hierdie verband is daar ’n baie interessante teks uit Deuteronomium 20 wat ek graag met julle wil deel.

In hierdie hoofstuk vind ons ’n aantal oorlogswette.

Onder andere die volgende een in vers 8: “Wie is die man wat bevrees en week van hart is? Hy kan teruggaan huis toe, dat die hart van sy broers nie smelt soos sy hart nie.”

Voordat die leër sou kontak maak met die vyand, moes die generaal doodseker maak,

dat daar nie twyfelaars in sy geledere is nie.

Niks is so gevaarlik in ’n gevegsituasie as twyfellaars in eie geledere nie.

Hulle fokus nie, hulle is in gedagte en luister nie na bevele nie.

Hulle stel nie net hulle eie lewe in gevaar nie, ook die ander s’n.

Twyfelaars, verraaiers, of dalk net simpelweg bangbroeke.

Mens kan nie ’n oorlog wen as jou soldate nie oortuig is hulle stryd is noodsaaklik nie.

’n Weermag kan nie uittrek as sy eie agterban dink die oorlog is oorbodig nie.

Dit is dus die eerste stap.

Christus wil jou lewe regeer.

Jy moet aan Hom onderwerp.

Jy moet net na Hom luister – sy Woord en Gees.

As Hy – die Opperaanvoerder – dit nodig vind dat daar gestry word, dan moet jy ook daarvan oortuig wees.

Laat u koninkryk kom. Dit is wat Hy wil hê jy moet bid.

En jy gaan dit net bid as jy werklik oortuig is dat dit absoluut noodsaaklik is.

Dat sy koninkryk vir jou en vir almal op aarde ’n beter lewe sal beteken.

As jy hierdie woorde in die Onse Vader slegs uit gewoonte bid,

sonder om daarby na te dink,

sonder om die implikasie daarvan te besef,

dan vorm jy ’n risiko,

dan mag jy dalk as ’n twyfelaar, of ’n bangbroek, of dalk nog erger, as ’n verraaier geklassifiseer word.

Ons sit vanaand hier saam in die kerk, gemeente, nie net uit gewoonte,

ons sit hier om instruksies te ontvang.

Die Oppergeneraal wil ons spreek.

Hy deel met u vanaand sy planne, sy strategie.

Hy verduidelik vir jou wat jy moet gaan doen die komende week, hoe jy moet lewe.

Dit is – in kort – gemeente, wat die Kategismus bedoel met die woorde:

Regeer ons deur u Woord en Gees.

Dit is waar die koms van die koninkryk begin:

Die soldate word opgelei, voorberei vir die stryd,

Hulle word in topkondisie gebring.

En daarmee is ons ook vanaand in hierdie erediens besig –

Sy Woord staan sentraal vanaand.

Hy regeer ons met sy Woord en Gees.

Dis die eerste stap in sy strategie.

Dat ons – lede van sy gemeente – die regte houding het.

Soos Jesus ons beveel in Matt 6: Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid.

En soos Ps 143 sê: Laat u goeie Gees my lei in ’n gelyk land.

 

-          Stap 2: Bewaar u kerk

Elkeen wat homself ’n bietjie in die kerkgeskiedenis verdiep, is verbaas dat die kerk nog steeds bestaan.

Hoe is dit moontlik dat ’n instelling wat sulke opofferings van mense vra,

wat so dikwels mense konfronteer met die skadukant van die lewe,

dat mense tog lid bly van soiets?

Dit is nie moeilik om deesdae mense te vind wat voorspel dat die kerk dit nie meer lank sal uithou nie.

Analiste wat voorspel dat die kerk sal aanhou krimp in die toekoms.

Ek het die laaste jare bietjie ondersoek gedoen na die sendinggeskiedenis in Suid-Afrika.

En wat my verbaas het was dat daar tweehonderd jaar gelede ook al analiste was wat dieselfde beweer het.

En om eerlik te wees, was daar nie in die tyd van die NT ook al sulke analiste nie?

Het Gamaliël nie al gesê: as die apostels se optrede uit mense is, sal dit vernietig word, maar as dit uit God is, kan julle dit nie vernietig nie?

Toe Gamaliël dit gesê het, het hyself waarskynlik verwag dat hierdie beweging nie lank sou uithou nie – net soos die bewegings van Theudas en van Judas die Galileër – waarna hy verwys het.

Maar tog, desnietteenstaande, die kerk is nog daar.

20 eeue later, in die 21e eeu.

Dit kan slegs aan God se bewaring toegeskryf word.

En dit gee ons ook vertroue vir die toekoms.

Dit gee ons die moed om te bid: Here, asseblief, BEWAAR U KERK.

Net soos U in die verlede gedoen het.

 

Eintlik kan mens die kerk al ’n stukkie koninkryk op aarde noem.

Dis soos die geallieerdes van destyds wat ’n strategiese stad ingeneem het.

Die stad is nou onder hulle beheer.

Vandaaruit kan hulle die omliggende gebied, en die volgende stede begin inneem, wat nog onder vyandelike bestuur is.

So staan die kerk direk onder bewind van die Oppergeneraal in die hemel.

Maar die kerk word nog omring deur vyandige gebied.

Juis daarom moet ons bid: bewaar u kerk.

Moenie dit wat u reeds verower het, toelaat dat dit weer prysgegee word aan die vyand nie.

Dit gaan hier natuurlik nie oor die kerkgebou nie.

As ’n bom die kerkgebou tref, is dit ’n finansiële terugslag.

Maar dit raak nie die wese van die kerk nie.

Die kerk is u, die lede.

Julle moet bewaar word – by sy Woord.

Dit is daarom nodig dat jy jouself afvra: leef ek volgens sy Woord?

As buite die kerk mense leef soos hulle self wil, as dit gaan oor huwelik en kuisheid of juis nie huwelik en kuisheid nie, geldbesteding en selfsugtigheid, Sondagsheiliging of juis ontheiliging, lieg en bedrieg,

is jou lewe ’n slap aftreksel van daardie lewenstyl van die vyandelike gebied wat nog nie wil onderwerp aan Christus se koninkryk nie?

Of bewaar jy jou lewe rein en heilig, stel jy dit in diens van sy koninkryk, omdat jy aan sy kerk mag behoort?

So bid ons dus: bewaar u kerk – en as jy so bid – dan bid jy dus vir jouself – en vir die persoon wat nou langs jou daar in die bank sit.

 

-          Stap 3: Vermeerder u kerk.

Wie na die kerkgeskiedenis kyk, kry ook hier ’n duidelike antwoord.

Ondanks al die teenslae wat die kerk getref het, is Christus nog steeds besig om sy kerk te vermeerder.

Vanweë afval in die Westerse wêreld krimp die kerk daar, maar wêreldwyd sien mens ’n ander prentjie.

Die vyandelike gebied word al kleiner.

Die wat hulle teen Christus verhef, het nie ’n blywende stad op aarde nie.

Hulle nageslag verdwyn.

Ongeloof is onvrugbaar.

Maar, soos die Psalms sê, die nageslag van die gelowiges sal groot wees op aarde.

In hierdie konteks wil ek u ook oproep, gemeente, om spesifiek ook vir die sending te bid.

Vir hulle wat kerke plant, juis in vyandige gebied – om vir ’n oomblik nog hierdie beeld te gebruik.

Met vyandige gebied moet u goed verstaan wat ek bedoel.

Dis nie in die eerste plek gevaarlik in liggaamlike sin van die woord nie.

Eerder in geestelike opsig.

Sendelinge moet soms diep deur die modder loop – geestelik gesproke.

Daar is baie versoekings wat aan hulle knaag.

Bid asseblief dat hulle staan bly.

Hulle het nog nie altyd ’n kerkraad, of ’n groot groep toegewyde gelowiges om hulle heen nie.

U kan verstaan dat die duiwel so iemand graag sou wou laat struikel.

 

-          Stap 4: Vernietig die werke van die duiwel

En dit bring ons dan by die 4e stap: Vernietig die werke van die duiwel.

Ek dink ons bid veels te min hiervoor.

Ons is dalk hier te wêreldgelykvormig.

Tipies van de wêreld om ons heen deesdae is om te aan te neem die duiwel bestaan nie.

Die duiwel sou ’n middeleeuse spookbeeld wees.

Die hel sou al heeltemal ouderwets wees.

Ek dink ons sidder te min vir die hel.

Dink u soms daaraan dat daar ’n kans is dat jy in die hel gaan tereg kom?

Is dit ’n gedagte wat jou bangmaak?

Moderne sielkundiges sal verskriklik omgekrap wees met die vrae wat ek nou vra.

Tog vra ek hulle.

Want die Bybel vra hulle.

“Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.” (Matt 10:28)

Dit is die Here Jesus se eie woorde.

Dit is belangrik om elke dag te bid: Here, wil u asseblief keer dat die duiwel ’n voet in die deur kry.

Here, vernietig die werke van die duiwel.

Wil u my oë oopmaak vir sy gevaar.

Die duiwel se strategie is dikwels dat hy begin met iets wat mooi is.

Iets wat deur God geskape is, op sig niks mee verkeerd nie.

Dit kan alkohol wees, seksualiteit, geld, ’n stokperdjie –

maar hy maak jou so daaraan geheg dat dit jou begin beheers.

So werk die duiwel, hy begin met iets onskuldigs, maar sy strik is gespan,

en sy doel aan die einde is dodelik.

Sorg dat jy persoonlik ’n warm en toewyde verhouding met jou Heiland het.

Want dit maak dat jy sy gawes verantwoordelik kan gebruik, met die regte maat.

Dat jou gebruik nie ’n misbruik word nie.

Net Hy kan jou hierby help.

Ons lees in 1 Joh 3:8 “Vir die doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.”

Seun van God: Vernietig die werke van die duiwel, sorg dat hy nie ’n vat kry op my lewe nie.

 

-          Stap 5: Vernietig ook alle heerskappy wat hom teen U verhef

Vernietig ook alle heerskappy wat hom teen U verhef.

Dit is die volgende stap, die 5e, vir die koms van die koninkryk.

Dit het uiteraard begin met satan se opstand teen sy Skepper, lank gelede.

Sedertdien probeer hy soveel moontlik aan sy kant te kry.

“hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af.” (1 Joh 3:8)

Dink aan Adam en Eva, die sondeval.

Satan het hulle omgepraat.

Hulle het geval, in sonde.

Deur die eeue volg satan dieselfde taktiek.

In elke nuwe generasie behaal hy sukses.

Die teenstelling tussen lig en duisternis steek in elke nuwe generasie weer die kop op.

As jou ouers of oupa en ouma in ’n vorige generasie reg gekies het,

beteken dit nie outomaties jy is nou ook reg nie.

Self moet jy ook persoonlik die keuse maak.

Is jy bereid om jou lewe onder die gesag van God se Woord te plaas?

Al probeer die duiwel en sy trawante jou wys maak dis ouderwets, of wat ook al?

Laat ons op hierdie punt vir mekaar bid.

Om ons heen is daar heerskappye wat hulle teen Christus verhef,

soms baie openlik, soms meer subtiel.

Ons kan dink aan ander godsdienste – ons kan dink aan Islam, of die voorvaderverering.

Of die moderne godsdiens van die ateïsme.

Dit is heerskappye wat hulle teen Christus verhef.

Baie openlik.

Hulle is gevaarlik, aan die een kant, maar omdat hulle so openlik is, is hulle ook maklik herkenbaar.

Christene kan makliker ’n front teen hulle vorm.

Lastiger is die meer subtiele metodes.

Dinge waar op eerste gesig nie iets mee fout is nie, maar tog gaan daar ’n werking van uit wat jou geloofslewe kan afbreek.

Ek sit laas êrens in ’n wagkamer, en voor my op die tafel lê ’n stapel Huisgenote.

Soos ek deur die goed blaai en na die prentjies kyk, en van die artikels deurscan,

bekruip ’n soort gevoel my: is al hierdie goed wel opbouend vir my geloofslewe?

Geld, roem, skinder, seks, celebrities met hulle suksesse en skandes.

Ja, maar daar word mos ook soms gelowige goed gesê in die Huisgenoot?

Gemeente begryp u wat ek bedoel met: subtiel.

’n Goeie manier om satan se subtiele aanvalle te vermy, is om bewus te fokus op die positiewe,

op die diens aan die Here.

Lees jou Bybel, lees goeie boeke, lees goeie tydskrifte, kyk goeie films,

wees betrokke by die kerk en by goeie inisiatiewe.

Dan het jy nie meer tyd vir die Huisgenoot en die televisie ens nie.

Dan kry jy hoe langer hoe meer ook ’n weersin in dinge wat nie eksplisiet in diens staan van God se koninkryk nie, of wat heeltyd op die randjie wil balanseer.

 

Oor satan se subtiele strategie gespraat, die volgende stap het ook alles daarmee te make.

 

-          Stap 6: Vernietig alle bose planne wat teen u heilige Woord bedink word

Dis miskien wel die mees pynlike om oor te praat.

Want hier gaan dit oor hoe die satan dit regkry om tot binne in die kerk te infiltreer,

nie net aan die rand nie, maar tot in die hart.

Dat die Woord van die Bevelhebber, Christus, nie meer helder klink nie.

Nie verniet het die skrywers van die Heidelbergse Kategismus hierdie sinnetjie toegevoeg nie.

Toe die Heidelbergse Kategismus geskryf is, in die 16e eeu,

het die kerk naamlik hiermee te make gehad.

Bose planne teen die heilige Woord.

Laat ek twee voorbeelde noem.

Aan die een kant het die pous en kardinale in die Roomse kerk gesê:

Dis beter as die Bybel nie in die volkstaal vertaal word nie, dit moet Latyn bly.

Want vir die gewone mense is dit te moeilik.

Die priesters en biskoppe sal die Woord vir die gewone mense verduidelik.

Die pous het dieselfde gesag gekry as die Bybel.

Wat hy uitspreek, is onfeilbaar.

Kerklede mog nie – met ’n beroep op die Bybel – hom bekritiseer nie.

Dit noem die Kategismus dus: ’n bose plan teen u heilige Woord.

Want dan is die Bybel nie meer die einde van alle teenspraak nie, maar dis die mening van die pous, of van die kerk.

Nog ’n bose plan was die denkwyse wat die hervormers teengekom het by die wederdopers.

Hulle het beweer dat die Heilige Gees vir jou ook direkte boodskappe van God kon gee, buite die Bybel om.

As jy werklik bekeer is, staan jy in direkte kontak met die Gees.

Tereg is ook dit onderken as ’n aanval teen God se Woord.

Die heilige Gees kan jy nie loskoppel van die heilige Woord nie.

Hierdie waarheid bring ons direk terug in die 21e eeu.

Hoe kan dit dat daar so baie christen Afrikaners is, wat egskei, wat hertrou,

en hulle sal jou vertel dat die Gees aan hulle duidelik gemaak het dat God verstaan?

Ook DIT is ’n bose plan teen die heilige Woord, waarin iets anders staan.

En dus praat God, praat die heilige Gees ook anders.

Gemeente, ek kan u maar net oproep: gaan voort om self u Bybel te lees.

As jy jou Bybel lees, spreek die Heilige Gees direk tot jou.

Moenie afhanklik raak van teoloë nie, dat hulle vir jou moet bepaal wat in die Bybel staan.

Dan word die teoloë die nuwe pous wat uitmaak hoe jy die Bybel moet interpreteer.

Lees jou Bybel, bid elke dag, kom self tot die gevolgtrekking wat God se wil is.

 

Ons kom nou by die laaste stap. Nr. 7.

 

-          Stap 7: Totdat die volkomheid van u ryk kom

Hierdie laaste stap gaan oor die oorwinning.

Elke goeie atleet of sportman sal vir jou sê:

Jy kan net wen as jy vooraf besluit het om te wen.

Jou ingesteldheid, mindset, moet van die begin af reg wees.

As jy ’n oorlog begin sonder om hieroor te besin, dan gaan jy heel moontlik verloor.

Met hierdie laaste stap kry Christus ons ingesteldheid reg.

Totdat die volkomenheid van u ryk kom.

Dis nie: ons sal nog maar moet sien of dit kom nie.

Nee: totdat dit kom.

DIT GAAN KOM.

U SAL alles in almal wees.

Dis wonderlik om so die stryd in te gaan, as ’n grondsoldaat, met die besef:

my generaal het sy planne gemaak, sy planne is so onwrikbaar,

ek weet ons gaan wen.

Ek is lus om te gaan stry.

Hierdie versekerdheid lees ons bv. in Rom 16:20.

Daar wys Paulus die gemeente in Rome ook hierop, aan die einde van sy brief.

“En die God van vrede sal die Satan spoedig onder julle voete verbrysel.”

Satan het nie ’n plek in God se vrede nie.

God se vrede behels oorlog teen satan.

Maar die oorlog sal nie altyd duur nie.

Ons sien uit, met reikhalsende verlange, na die tyd dat U alles sal wees in almal.

U sal alles wees in almal.

Hierdie sinsnede kom uit 1 Kor 15, dieselfde hoofstuk as waaroor die preek vanoggend gegaan het.

Christus het die dood oorwin, as oppergeneraal het Hy die vyand verslaan.

En sy sukses lê Hy nou aan die voete van Hom wat oor alles is.

Vers 28: wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.

Ons sien uit na daardie oomblik. Dit is werklik. Dit kom.

Wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heeerskappy en alle gesag en mag vernietig het (vers 24).

 

As medestryders bid ons vir die koms van die koninkryk.

Sewe stappe is daar – Christus se strategiese plan.

Dis mooi hoe die Kategismus dit in Sondag 48 verhelder.

En as jy hierdie week weer die Onse Vader gaan bid, Laat u koninkryk kom...

Dink aan hierdie sewe stappe, reflekteer daaroor hoe hulle in jou lewe hande en voete kry.

Amen

Liturgie: 

Aand
(Sb 28:1-4)
Votum
Seën
S: Ps 97:1
Gebed
Skriflesing: Mattheüs 6:19-34
S: Sb 17:1,5
Skriflesing: 1 Korinthiërs 15:20-28
S: Sb 17:6
HK Sondag 48
Preek
S: Ps 143:8,10
Gebed
Geloofsbelydenis: sing
Kollekte
S: Ps 97:1,6
Seën