Jesus self is die gasheer van die nagmaal

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2013-04-14
Teks: 
Johannes 6:1-15
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – nagmaalsdiens: Johannes 6

 

  1. Joh. 6:1-15 – Jesus self is die gasheer van die nagmaal

 

Gemeente, wat gebeur hier aan die nagmaalstafel wat ons binne enkele oomblikke gaan vier? Herdenk ons aan die nagmaal die sterwe van iemand wat vir ons so baie beteken het en wat vir ons so ‘n geweldige voorbeeld is? Is die predikant die seremoniemeester van een of ander dodeherdenking? Jesus leer ons anders in Johannes 6:1-15.

Jesus en sy dissipels het met skuite na die noord-oostelike kant van die meer van Galilea vertrek. Maar die tekens en genesings wat Jesus gedoen het, bring mee dat hulle nie ongesiens kan vertrek nie. ‘n Groot skare volg hulle, ‘n skare wat aan die einde van die dag honger begin raak. Wat nou gemaak? En terwyl die dissipels sit en sommetjies maak wat brood hulle gaan kos en of hulle genoeg vir die skare sal kan voorsien, bewys Jesus dat Hy die Gasheer is wat vir sy tafelgenote sorg. Die skare is sy gaste, hulle staan onder sy sorg. En daarom laat die Here Jesus sy gaste vervolgens op die gras sit – dit was net voor die pasga, nog redelik vroeg in die jaar, en die grastapyt was dus nog groen en sag. Nadat elkeen ‘n sitplekkie gekry het, begin Jesus as hoof van hierdie denkbeeldige tafel die maaltyd met ‘n dankgebed, soos wat die joodse gebruik was. Hy dank God vir die voedsel. Terloops, hiermee leer Jesus ons dat wanneer ons ook al ‘n maaltyd nuttig, ons dit met gebed mag begin. Want God sorg nie net vir die geestelike lewe nie, maar ook vir die liggaamlike; ons daaglikse brood kom uit sy hand.

 

Nou, by die Jode het die tafelgebed gewoonlik met die volgende lofprysing gepaardgegaan: “Geprese is U, Here ons God, Koning van die wêreld, wat brood uit die aarde tevoorskyn laat kom.” Ons kan aanneem dat dit ook deel van Jesus se gebed was. Dis verstommend, nie waar nie? Jesus dank God in sy tafelgebed asof daar vir al die duisende mense wat Hom vol verwagting aankyk meer as genoeg is om te eet. En dan, deur ‘n wonder, vermeerder die brood in die hande van die Here Jesus, sodat sy dissipels onbeperk kan uitdeel, en daar aan die einde selfs oorbly. Met 5 brode en 2 vissies sorg die Here Jesus daarvoor dat daar vir al sy gaste genoeg is. In oorvloed deel Hy aan hulle uit, deur middel van die dissipels. Gratis en in oorvloed mag sy gaste van sy genade lewe.

Gemeente, die gratis uitdeel van brood was in daardie tyd ‘n vorstelik gebaar, die gebaar van ‘n koning wat sy onderdane versorg. Daarom is dit miskien nie so vreemd dat die skare net daarna Jesus wou neem en van Hom ‘n koning wou maak nie (verse 14-15). Maar Jesus wil nie toegee aan hulle aardse verwagting van die Messias nie. Ja, Hy is ‘n gebore Koning, maar sy koninkryk is nie van hierdie wêreld nie. Hy hoef nie deur entoesiastiese mense koning gemaak te word nie, want God self het Hom reeds as die gesalfde Koning van Israel verklaar. Maar die ware aard van sy Koningskap kom eers uit tydens sy lyde en sterwe. Ons het ‘n Koning wat vir sy onderdane deur die dood en die hel gegaan het. Maar Hy het nie dood gebly nie, nee, ons Koning lewe! Hy het opgestaan – Paasfees is ‘n werklikheid! En Hy regeer aan die regterhand van die Vader – die hemelvaart is ‘n werklikheid. En Hy voed ons met die brood uit die hemel – die nagmaal is ‘n werklikheid!

Gemeente, by die nagmaal het ons nie te make met ‘n dooie Christus nie. Ons nagmaal is geen dode-herdenking nie. Ek deel nie vir jou brood en wyn uit, om jou te laat terugdink aan ons liewe Jesus in die graf nie. Nee, aan die nagmaalstafel het ons te make met die lewende en verhoogde Christus. Hy is ons Koning, wat self as Gasheer ons voed met gratis voedsel vir ons siele. Dit is nie die predikant wat die brood en die wyn uitdeel nie; nee, Christus is die Gasheer aan hierdie tafel. Dít is die krag van sy opstanding, dat Hy self ons hongerige en dorstige siele met sy gekruisigde liggaam en uitgestorte bloed tot die ewige lewe voed en verkwik. Dít is ewe seker as die brood wat voor ons oë gebreek word en die beker wat aan elkeen gegee word en ons tot sy gedagtenis daarvan eet en daaruit drink. Soos die bedienaar van die Woord die brood breek en die beker uitdeel, so seker mag jy weet en glo dat Christus eiehandig en persoonlik jou laat proe en ervaar wat Hy vir jou gedoen het. Soos Hy duisende mense met 5 brode en 2 vissies gevoed het, so voed Hy miljoene christene deur alle plekke en tye – Hy voed hulle (nie slegs vir vandag nie, maar vir ewig) met sy liggaam en bloed. En ons mag seker wees dat Hy altyd die Gasheer aan hierdie tafel sal wees.

Ons lees verder aan die formulier…

 

  1. Johannes 6:16-24 – Jesus sorg vir die behoue aankoms

Johannes laat in verse 16-24 ‘n tussenstukkie volg waardeur die wonderlike maaltyd (verse 1-15) met die onderwys in die sinagoge van Kapernaum vanaf vers 26, met mekaar verbind word. Hierdie tussenstuk is ‘n reisbeskrywing – ons reis vanaf die oorkant van die see van Galilea na die sinagoge van Kapernaum, vanaf die fisies brood na die brood van die lewe. En daarom vervul hierdie reisbeskrywing ‘n belangrike skakelfunksie. Dit vertel vir ons hoe eers die dissipels, gevolg deur Jesus, en later ook die skare, die oortog oor die water van die meer van Galilea gemaak het; daar ontmoet hulle mekaar weer in die sinagoge van Kapernaum, waar Jesus die geleentheid kry om Homself aan te bied as die hemelse brood, waarvan almal behoort te lewe. Maar voordat ons daarby uitkom, eers iets oor die oortog, en dit in die lig van wat ons sopas in die formulier gelees het, naamlik dat Christus ons gebied het om die nagmaal te vier totdat Hy kom.

Dit wil voorkom asof die dissipels ‘n afspraak met Jesus gehad het dat hulle alleen die oortog sou maak, en dat Hy Hom later by hulle sou voeg. Miskien dat Jesus nog wou bid. En so begin die dissipels dan in die donker met hulle oortog. Maar ‘n sterk stormwind maak hulle reis baie moeilik. En vir ‘n oomblik lyk dit asof die dissipels heeltemal op hulleself aangewese is. Toe hulle omtrent vyf of ses kilometer van die kus af was, sien hulle skielik ‘n gedaante op die water wandel. Die dissipels was vreesbevange; Mattheus en Markus vertel dat die dissipels gemeen het dat hulle hier met ‘n spook te make gehad het. Maar Jesus stel hulle gerus met die woorde: “Dit is Ek, moenie vrees nie” (vers 20). In hierdie woorde lê daar vir die dissipels soveel rus, dat hulle hul vertroue herwin en kalm raak. Maar gemeente, let op, hierdie woorde is rusgewend vir die gelowiges, maar hierdie selfde woorde boesem ook ongelooflike vrees in by die goddeloses. Wanneer die soldate en die dienaars van die owerpriesters en die Fariseërs in Johannes 18 kom om Jesus gevange te neem, dan vra Hy vir hulle: “Wie soek julle?” “Jesus, die Nasarener”, is die antwoord. En wanneer Jesus dan dieselfde woorde gebruik: “Dit is Ek”, dan val hulle almal agteruit op die grond. Die goddeloses kan nie in die teenwoordigheid van Christus kom, sonder om volledig daardeur oorweldig te word nie. Maar vir die dissipels gee hierdie woorde die rus wat hulle nodig het om die reis te voltooi.

 

Uit die griekse werkwoordvorme kan ons aflei dat die Here Jesus, terwyl Hy op die water gewandel het, nie dadelik na die boot toe gekom het nie, hy het ook geen aanstaltes gemaak om dadelik aan boord te gaan nie, maar het in die omgewing van die boot gebly. Hiermee word die Here Jesus se bedoeling vir ons toegelig: Hy wou die dissipels in hulle skuitjie begelei; feilloos vind Hy die pad tussen die golwe deur. Uit Job 9:8 weet ons dat dit ‘n goddelike eienskap is om op die golwe van die see te kan loop. Dus, God self begelei hier sy dissipels, “Ek is dit” wat julle veilig by jul bestemming sal aanbring. Daarom hoef die dissipels oor die afloop van die reis nie te vrees nie, die Here sorg.

En dan is dit opmerklik dat Johannes die verhaal as’t ware hier kort knip: die dissipel het Jesus aan boord geneem, en dan kom die reis byna abrup tot ‘n einde: “en dadelik het die skuit by die land aangekom waar hulle na toe gegaan het.” Dit is asof die dissipels die storm vergeet deur Jesus se teenwoordigheid, en ongemerk vaar hulle die hawe binne. Gemeente, is dit nie ‘n ongelooflike troos nie? Ons Gasheer, wat ons laat deel in sy gekruisigde liggaam en uitgestorte bloed, Hy bly by ons. As ek nou weg is, en u gaan as gemeente nagmaal vier, dan moet daar elke keer ‘n predikant gereël word om die nagmaal te kom bedien – daardie persoon kom dan, bedien die nagmaal, en gaan wees weg. Maar so is Jesus nie! Hy bly by sy kerk, en sy teenwoordigheid verseker die uitkoms van die reis waarop ons onsself bevind. Nêrens word aan die kerk ‘n rustige reis belowe nie, maar wel ‘n veilige aankoms. Laat ons daarom die nagmaal vier totdat Hy kom, want telkens wanneer ons die nagmaal vier, telkens wanneer ons die brood en die wyn uit die hand van die Gasheer ontvang, dan verseker Hy ons sigbaar en tasbaar dat die reis deur alle storms heen koers hou na die veilige hawe. Dit is ook die slagspreuk van hierdie gemeente: Ecclesia Christi fluctuat non mergitur (“hoe hoog die branders ook mag slaan, die kerk van Christus sal nooit vergaan”). En dit is ‘n geloofsuitspraak – ons glo nie in spoke nie, maar ons glo in die immer-aanwesige Koning-Gasheer, Jesus Christus. Totdat Hy kom… is Hy by ons. Klink vreemd, of hoe? En tog is dit die realiteit. Hierdie gemeente is nie alleen nie!

En dan lees ons verder in die formulier: ons geniet aan die tafel ‘n voorsmaak van die oorvloedige vreugde wat Hy ons belowe het… [lees verder uit formulier]

 

  1. Johannes 6:25-29 – Jesus, die brood van die lewe (sing ps. 107:17&18)

Ons het nou die oortog gemaak vanaf die oorkant van die see van Galilea na die sinagoge in Kapernaum. En daar laat Johannes ons saamluister na Jesus se sogenaamde broodrede of -toespraak. Ná die wonder van die vorige dag soek die skare Jesus weer op. Hulle sien nog nie werklik in dat dít wat die Here Jesus gedoen het, na iets veel groters verwys nie. Hulle sien dus nie die tekenkarakter van hierdie wonder nie. Hulle klou nog vas aan die sigbare wonder – brood en vis. Hoewel fisies weer terug in Kapernaum, is hulle in die gees nog by die brood en die vis van gister.

Maar met sy toespraak wil Jesus die skare se aandag aftrek van die verganklike dinge en dit rig op die ewige lewe. Want so maklik is dit om Jesus te sien as ons aardse brood, so maklik kan ons God beskou as die Een wat slegs vir ons aardse lewe sorg dra. Die welvaartsteologie steek baie subtiel ook by ons sy kop uit. Maar, gemeente, ons moet leer om verder te kyk, na Jesus Christus wat die brood van die lewe is. En daarom moet ons nie in die eerste plek ywer en werk vir dié spys wat vergaan nie, maar vir die spys wat bly tot in die ewige lewe, en wat die Seun van die mens aan ons sal gee (vers 27a). Hy kán dit gee, want Hy is God self. Vers 27b sê dit, maar in ons vertaling het dit effens verlore gegaan. Ons moet hierdie sin eerder soos volg vertaal: “want op Hom het die Vader sy seël gedruk [dubbelpunt]: ‘God’”. Die Vader, God self, het op die Seun die waarmerk geplaas dat Hy God is, en daarom by magte is om aan mense die ewige lewe uit te deel.

In vers 28 sien ons dat die mense dan wil weet wat hulle moet doen. Daar staan letterlik: “Wat moet ons doen om die werk van God te werk?” Maar Jesus se antwoord draai die hele saak op sy kop; in feite antwoord Hy nie direk hulle vraag nie. Want dis nie die skare of ons wat moet werk nie. Nee, “dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.” Geloof, dit is wat God vra, en dan, ja ons verstaan dit nie, dan word hierdie geloof ook nog gewerk deur God self.

Alle moeite en inspanning van die skare sedert die vorige dag om by Jesus te bly, is vrugteloos as hulle Hom bly volg vanuit menslike verwagtings en nie vanuit opregte geloof nie. Hierdie menslike verwagtings blyk ook uit die volgende vraag van die skare: “Watter teken doen U dan…” Ja, want kyk dan na die teken wat Moses gedoen het: manna uit die hemel – dit is vir die skare as’t ware Moses se legitimasie. Jesus wys egter dat dit nie Moses is wat manna uit die hemel gegee het nie, God self het dit gegee. Verder was hierdie manna nie die ware brood uit die hemel nie, want die volk het dit geëet en steeds gesterwe. Ook die brood van die vorige dag wys na iets hoërs, iets beters.

Jesus wil geen herhaling bied van die mannawonder nie. Nee, Hy wil wys dat Hy die vervulling van hierdie wonder is. Die neerdaal van die manna in die woestyn (Num. 11:9) en die wonder van die vermeerdering van die brode die vorige dag, word deur Jesus in verband gebring met ‘n Persoon, met Homself. Die manna kon geen ewige lewe skenk nie, die garsbrode van gister is al verteer, maar Jesus IS die brood waardeur ons selfs die dood oorleef. Gemeente, laat dít ons troos wanneer ons nou die nagmaal gaan vier: ons geliefdes wat in geloof gesterf het, LEWE! Want hulle het voedsel gekry waarvan ‘n mens nie dood kán gaan nie. En ook óns sal tot in ewigheid lewe deur Jesus Christus.

Die opmerking van die skare in vers 34 wys dat hulle wel hierdie brood wou hê, maar nog nie verstaan het waaroor dit gaan nie. Hulle erken Jesus wel as die Een wat die brood gee, maar nog nie as die Een wat die brood is nie. Hulle verstaan nog nie dat hulle nie slegs van Jesus moet ontvang nie, maar dat hulle Hom self moet ontvang.

Gemeente, laat ons daarom waak, soos die formulier sê, om nie ons oë te rig op die sigbare tekens van brood en wyn nie. Laat ons nie vasgevang raak in die tekens nie, maar laat ons ons harte ophef na die hemel. Laat ons Hom aanneem wanneer ons die brood eet en van die wyn drink. Nee, ons glo nie dat brood en wyn in vlees en bloed verander nie (dis Rooms, om te sê dat daardie stukkie brood Jesus se vlees is, en die wyn sy bloed), maar ons bely wel dat wie in geloof eet en drink, werklik Christus ontvang. Christus, ons Gasheer, gee Homself. En Hy gee Homself telkens maar weer sigbaar en tasbaar, ter wille van ons swak geloof. Telkens as ons nagmaal vier, dan kom gee Christus Homself as die ware hemelse brood totdat Hy kom.

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie

 

  • VOORPSALM Ps. 132:5, 8, 9 en 10

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen

Sing Ps. 145:1, 9, 10 en 11

Gebed

Skriflesing Johannes 6

  • Nagmaalsformulier
    • Sing ná wetslesing – Ps. 99:3-5
    • “En Ek voed en verkwik…” – lees Joh. 6:1-15
    • “Christus het ons beveel om die nagmaal te vier totdat Hy kom” – lees Joh. 6:16-24
    • “… nie net ons oë rig op die sigbare tekens van brood en wyn nie,… as wat ons die brood en drank tot sy gedagtenis ontvang” – lees Joh. 6:25-29
  • Terwyl die tafel in gereedheid gebring word, sing ons saam uit Ps. 107:1
    • Eerste tafel: lees Johannes 6:35-40; sing Ps. 107:2 (i.v.m. Christus wat die Gasheer is en voorsien in ons behoeftes)
    • Tweede tafel: lees Johannes 6:41-51; sing Ps. 107:14 & 15 (i.v.m. Christus wat ons deur die onrustige reis in ‘n veilige hawe bring)
    • Derde tafel: lees Johannes 6:52-59; sing Ps. 107:17 & 18 (i.v.m. God wat brood gee, en dan spesifiek die brood van die lewe).

Voltooi formulier & dankgebed

Kollekte

Slotsang: Ps. 23 (2e beryming, wysie in die boek)

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God ons Vader, en die gemeenskap van die Heilige Gees, is met ons almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)