Wees waaksaam, Christen-stryders!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2013-03-24
Teks: 
Openbaring 22:12-21
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Openbaring 22:12-21; lees Openb. 22:6-21, Ef. 5:8-16, 2 Petr. 1:19-21

 

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

Ons is aan die einde van die boek Openbaring… maar ons is terselfdertyd ook weer terug by die begin. Ons sien naamlik hoe Johannes in die laaste verse teruggryp op die inleiding tot die boek. Lees maar Openbaring 22:6: “… en die Here, die God van die heilige profete, het sy engel gestuur om sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur” – wel, daarmee is ons terug by hoofstuk 1:1: “Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het.” Openbaring is dus ‘n duidelike eenheid! En dit kan ook nie anders nie, want dit kom van God uit die hemel! Aanbid God hiervoor (sien die woorde van die engel aan die einde van vers 9) – want Hy waarborg die betroubaarheid en waaragtigheid van hierdie openbaring (eerste woorde van vers 6).

Maar, gemeente, sedert daardie openingsverse het die tyd ook weer voortgesnel. Wat tóé alreeds gou moes kom, is nou nóg nader. En Jesus draai nie doekies daaroor om nie – tot driemaal toe in die slotverse vind ons die woorde “Ek kom gou” (verse 7, 12 en 20). Jesus is haastig! Met die gevolg dat Johannes in vers 10 ook opgedra word om die woorde van die profesie van hierdie boek nie te verseël nie, want die tyd is naby. Van Daniël se profesie, wat baie ooreenkomste met Openbaring vertoon, lees ons dat dit wél verseël en geheim gehou moes word (Dan. 8:26, 12:4); Daniël se profesie word as’t ware tydelik in die kluis gebêre, want dit het gedui op ‘n verre toekoms. Maar van Johannes se boek geld: publiseer dit, maak dit bekend! Laat die boekrol oopbly, laat die gemeente dit afskryf, laat daaruit voorgelees en gepreek word. Laat dit mense tot ‘n keuse bring – vír of téén Jesus Christus? Want die tyd is min!

 

Nou, uit die voorafgaande preke het baie duidelik geblyk dat met die spoedige koms van Christus in die eerste plek gedui word op sy koms om te oordeel oor die sinagoge van die satan, oor Jerusalem en die tempel, oor die Jodendom wat in ongeloof hulle Messias afgewys het. Baie kort na sy hemelvaart alreeds het Jesus hierdie oordeel oor sy afvallige verbondsvolk voltrek. Openbaring is ‘n verbondsboek met seën én vervloeking! Maar, gemeente, daarin het Christus ook die patroon gegee van alle eeue wat sou volg, en het Hy ‘n monument opgerig van sy wederkoms wanneer Hy finaal gaan kom in genade en oordeel. Ja, vanaf die oordeel oor Jerusalem en die tempel in 70 nC tot by die finale oordeel in die wederkoms, is Jesus Christus voortdurend besig om tot sy volk te kom in genade en in oordeel.

Daarom kon ons in die prediking oor die boek Openbaring ook sonder moeite die lyn deurtrek na onsself, vandag. Ons kan dus nie sê dat, omdat die profesie van Openbaring sy uitwerking gevind het in die oordeel oor Jerusalem en die tempel, dat daarom die boek sy rakleeftyd bereik het nie. Nee, want dan verstaan ons nie die krag van die profesie nie. Die profesie – en u kan dit maar nagaan in die Ou Testament – vind naamlik altyd sy eerste vervulling in ‘n direkte, nabye gebeurtenis (in die geval van Openbaring is dit dan die verwoesting van stad en tempel), maar hierdie eerste-linie vervulling is tegelykertyd ook die teken en die waarborg van die vervulling deur alle eeue. En daarom, wanneer Jesus beklemtoon: “Ek kom gou”, dan was dit letterlik om te oordeel oor sy ontroue verbondsvolk en genade te bewys aan sy troue volgelinge in daardie tyd, maar dan moet die kerk vandag, ook al lewe ons tweeduisend jaar later, net so goed gereed wees! Die patroon is duidelik, ook vir ons vandag.

Tema: Wees waaksaam, Christen-stryders!

  1. Staan vroeg op
  2. Doen jou werk
  3. Bly by die handleiding

 

1. Christus noem Homself in ons Skrifgedeelte met baie verskillende name: Hy noem Homself onder andere die Alfa en die Omega – in terme van ons alfabet sal dit die a en die z wees; Hy noem Homself verder ook die begin en die einde, die eerste en die laaste, en in vers 16 ook nog die wortel en die geslag van Dawid. En dan is daar aan die einde van vers 16 ‘n benaming wat spesifiek betrekking het op die haastige koms van Christus, en daarom ook spesifiek betrekking het op die tema van hierdie preek. Christus noem Homself daar “die blink môrester”.

Nou, gemeente, die môrester is in ons sonnestelsel dieselfde as die planeet Venus, maar ons ken dit in die omgangstaal eenvoudig as die môrester – daardie besonder blink ster wat voor dagbreek hoog bo die oosterkim in die hemelruim te sien is. Om die môrester te kan sien, moet jy egter vroeg opstaan. As dit dan ‘n helder nag is, sien jy ontelbare sterre, die hemelruim is vol daarvan. Maar hoog in die ooste is daar een ster wat die aandag trek: die môrester, wat helderder blink as al die ander sterre. En as jy lank genoeg wag terwyl jy hierdie ster bewonder, dan begin geleidelik die eerste tekens van die nuwe dag verskyn; die donker lug begin verkleur en geleidelik begin jy die rooi en oranje en geel van die nuwe dag waarneem. Die duisende sterre verdof, maar daar is een ster wat vir lank daarna nog helder skyn: die môrester. Die môrester is as’t ware die wagter van die nuwe dag, die aankondiger dat ‘n nuwe dag oppad is. En nou sê Jesus van Homself: Ek is die blink môrester. Jesus is dus die voorteken van die nuwe dag, Hy is die bewys dat die nuwe dag oppad is.

 

O ja, gemeente, daar was al voorheen ‘n ander môrester! Of miskien moet ons dit anders stel: daar was voorheen al iemand wat graag ‘n môrester wou wees, wat homself as ‘n môrester voorgedoen het – ons lees daarvan in Jesaja 14:10-15 [lees]. In hierdie profesie van Jesaja gaan dit oor die val van die koning van Babel, en dan word sy val vergelyk met die val van die môrester uit die hemel.

Maar op ‘n dieper vlak gaan dit hier oor meer as net die koning van Babel; dit gaan hier ook oor die satan. Die satan het homself, meer nog as die koning van Babel, as ‘n môrester gesien. Maar hy het uit die hemel neergeval, soos wat Jesus dit ook beskryf in Lukas 10:18: “Ek het die Satan soos ‘n bliksem uit die hemel sien val.” En soos wat Jesaja die koning van Babel as ‘n oorweldiger van die nasies beskryf, so weet ons dat die Satan by uitstek die een is wat deur verleiding die nasies oorweldig (lees maar Openb. 12:9).

 

Die satan het homself dus baie hoog geag – ‘n môrester; hy het hoë aspirasies gehad. Maar God het hom neergewerp. Want hy is geen egte môrester nie; die lig wat hy uitstraal, is in werklikheid ‘n skynlig, ‘n skynlig waarmee hy die nasies verlei. Tot vandag toe doen die satan homself nog steeds voor as ‘n engel van die lig, maar in wese is hy een en al duisternis. Hy hou van die duisternis, hy wil nie hê dat dit dag word nie, want dan kom sy bose werke aan die lig. En met sy skynlig verlei hy mense om saam met hom deel van die duisternis te wees. Die satan is heer en meester van ‘n wêreld wat in duisternis lewe, ‘n wêreld wat ronddwaal in duisternis en wat weghardloop vir die lig. En dit is ook waarin ons deel, gemeente, as ons die werke van die satan doen, as ons die sonde doen – dan doen ons werke van duisternis, werke wat nie pas by die lig nie. Dan is ons deel van hierdie duister wêreld, dan volg ons die vals lig van die gevalle môrester.

 

En daarom is dit so belangrik, broers en susters, om te sien dat God vir ons die ware môrester gegee het – geen skyn nie – nee, die egte voorteken dat die dag oppad is: Jesus Christus. Deur sy koms op hierdie aarde, sy geboorte in Betlehem, deur sy werk aan die kruis, deur sy oorwinning oor die duisternis, is Hy ons môrester. Daar pryk Hy aan die hemel as die duidelike bewys dat die dag aan die kom is, dat die lig oppad is om finaal die duisternis te verdryf. Jy kan Hom sien! Maar… dan moet jy wakker wees! Dan moet jy vroeg opstaan, terwyl dit nog donker is, om teen die donker hemelruim die bewys te kan sien: die dag kom beslis. 

En, gemeente, dit is presies waartoe Paulus sy lesers in Efesiërs 5 aanspoor. Hy waarsku die broers en susters daar in Efese om nie meer in die duisternis te wandel nie, maar om soos kinders van die lig te wandel en die bose werke van die duisternis te bestraf. En om soos kinders van die lig te kan wandel, rig Paulus vervolgens ook sy oproep in vers 14: “Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.” Wie slaap, leef nog in die duisternis; wie slaap, word onverhoeds betrap, omdat die dag aanbreek sonder dat hy dit agterkom; wie slaap, is nie gereed vir die dag nie. En, gemeente, dit is wat ons doen as ons in ons sondes volhard, as ons onsself nie wil bekeer van ons verkeerde weë nie, as ons nie soos kinders van die Here lewe nie – dan slaap ons, dan is ons nie wakker om te sien dat die môrester ‘n nuwe dag aankondig nie, en dan is ons ook nie gereed wanneer daardie dag aanbreek nie.

Ontwaak daarom – nie eers wanneer die dag al daar is nie – nee, dan is dit te laat… Ontwaak nou! Moenie uitstel nie! Ook al voel dit vir jou asof dit nou nog donker is – en u weet hoe dit gaan: jy word in die nag wakker, sien dat dit nog donker is, draai om en slaap heerlik verder. Maar in die lewe van die geloof kan ons dit nie bekostig nie – ons kan nie ons oë oopmaak, sien dat dit nog donker is en dan lustig verder sondig nie; ons kan nie dink dat daar nog genoeg tyd is om te bekeer nie, ons mag nie weer wegsluimer in ‘n lewe van sonde nie. Want Christus is elke oomblik aan die kom, dit is aktueel! Daarom moet ons nou opstaan! Ontwaak, staan op, kyk na die hemelruim, sien daar die blink môrester – en verheug u self, want die dag is amper hier!

 

Gemeente, wees daarom wakker gelowiges, en Christus, ons môrester, sal oor jou skyn. Hy is die lig wat vir ons die weg aanwys in hierdie donker wêreld, terwyl dit nog nag is. Wandel nougeset in hierdie lig – soos Paulus oproep in Ef. 5:15-16 – nie as onwyse nie, maar as wyse. En koop die tyd uit – maak maksimaal gebruik van die tyd wat God gee, benut elke lewensmoment ten volle voordat die dag aanbreek.

Dit is waaroor dit vervolgens gaan: doen jou werk!

 

2. Christus belowe dus dat Hy gou kom, dat Hy aan die kom is. Hoe reageer die kerk hierop? Hoe reageer elke gelowige hierop, u en ek? Ons lees in Openbaring 22:17: “En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom!…” Dit wil voorkom asof die Gees en die bruid – dit is die kerk – in hierdie vers reageer op Christus se belofte dat Hy aan die kom is. Christus sê dus: “Kyk, Ek kom gou”, en dan reageer / antwoord die Gees en die kerk daarop met: “Kom!” Maar dit is nie waaroor dit hier gaan nie, broers en susters. Die kerk, gelei deur die Gees, reageer nie hier op Christus se aankondiging nie. Nee, Christus se belofte is aanleiding vir die kerk om haar stem by dié van Christus te voeg, en daarmee die wêreld aan te spreek. Die gelowiges weet dat Christus aan die kom is, hulle oog is immers gerig op die môrester, maar dan sien hulle ook die duisternis om hulle heen, hulle sien diegene wat in hierdie duisternis wandel, en tot húlle gaan die oproep uit: “Kom!”

Sien u, broers en susters, die feit dat die kerk weet dat Christus aan die kom is, maak haar nie passief nie, dit laat haar nie na binne keer om haar tassies te pak vir die reis na die hemelryk nie. Nee, die feit dat die kerk weet dat Christus oppad is, bring haar juis tot groot bewoënheid oor dié wat nog nie in sy lig deel nie. Die Gees laat die kerk getuienis aflê teenoor die omgewing waarin sy haar bevind, die Gees laat die kerk oopstaan na buite: Kom julle, kom deel saam met ons in die heil!

En dan is dit nie net die kerk wat dit moet doen nie, broers en susters. Johannes vervolg immers: “En laat hom wat hoor, sê: Kom!” Hom wat hoor – dit is elkeen aan wie hierdie boek voorgelees is in die verskillende gemeentes in Klein-Asië, dit is elkeen wat die evangelie hoor verkondig in die kerk oor die hele wêreld, dit is u en ek wat hier in die kerk sit. Almal saam en elkeen afsonderlik kry ons die opdrag om die oproep te laat hoor: Kom! Kom jy, my buurman wat nie die Here ken nie; kom jy, my huishulp of my tuinman wat dors na verlossing; kom jy, my kollega wat soveel lewenspyn ervaar. Kom, almal wat dors is, en drink van die water van die lewe, verniet!

 

Gemeente, die blink môrester waarop ons oog gerig is, maak ons nie blind vir die duisternis om ons heen nie. Inteendeel, dit bring juis die duisternis aan die lig, dit wys vir ons die diepte van die duisternis. En laat daardie duisternis ons asseblief aan die hart gaan; laat ons nie soos Jona sit en wag dat God se straf moet kom nie, maar laat ons getuienis aflê van die hoop wat in ons is, sodat ander ook in daardie hoop kan deel. U taak is nou! Vir u wat besef hoe naby Christus al gekom het, hoe naby die dag al is, vir u is daar nou werk om te doen. Van u moet daar die roep uitgaan na elkeen wat in duisternis lewe: Kom!

En gemeente, let daarop dat u getuienis nie aan krag wen wanneer dit nie ondersteun word deur ‘n lewe in gehoorsaamheid aan Christus se gebooie nie. Johannes roep in vers 14 daarom ook op om sy gebooie te doen, sodat ons reg kan hê op die boom van die lewe en in kan gaan deur die poorte in die stad. Ja, daar buite die stad, daar is die honde – en dan moet ons nie dink aan “die mens se beste vriend”, soos ons die hond vandag ken nie. Nee, die oosterse swerfhonde was aasvreters wat geminag is; hulle moes buite die stad bly. En buite die stad was ook die towenaars en hoereerders en moordenaars en afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen. Maar laat ons ons getuienis deur ‘n gehoorsame lewe ondersteun, sodat die getuienis van die Gees, wat Hy deur ons laat klink, geen skade hoef te lei nie.

Dus, staan vroeg op, doen jou werk in woord en daad, maar – en daarop let ons ten slotte - doen dit altyd aan die hand van die handleiding.

 

3. Aan die adres van “elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor” word ‘n ernstige waarskuwing gerig om hierdie boek ongeskonde te laat. Christus self waarsku hier teen die verdraaiing van die boodskap van hierdie boek, op watter manier ook al. Hierdie openbaring is immers die handleiding vir die gelowiges. Hierdie openbaring – wat vertel van die plae en ellende, maar ook van die Een wat dit alles regeer – is die handleiding vir die gelowiges wat nog in hierdie wêreld lewe, waardeur hulle steeds die perspektief behou.

 

Gemeente, kom ons gebruik ‘n voorbeeld: as ek nie baie tegnies is nie, en ek koop vir my ‘n nuwe rekenaar, dan het ek die handleiding nodig om dit alles inmekaar te sit en aan die gang te kry. Totdat dié ding nie volledig werk nie, is ek nog besig om die handleiding te lees en te bestudeer. Die rekenaarkundige het dit nie nodig nie, maar die leek wel! So is dit ook met die gelowige wat oppad is om Christus te ontmoet – terwyl ons nog oppad is, terwyl die reis nog voortduur en alles nog nie volmaak is nie, het ons die handleiding nodig. Ons kan nie sonder die handleiding klaarkom nie; ons is nie geloofsdeskundiges nie, ons is nie supergelowiges nie.

U en ek het nodig om die handleiding te lees om te weet waarheen ons oppad is, na Wie ons oppad is. Dit sou dom en gevaarlik wees om hierdie handleiding, wat God gegee het, te negeer en self ‘n weg deur die duisternis van hierdie wêreld te probeer soek. En dit is waarop Petrus ook aandring by sy lesers in sy tweede brief waaruit ons gelees het: “… ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn” – die handleiding, die Woord van die Here, is dus die lamp wat die weg vir ons aanwys – “totdat…” Totdat wanneer? Totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte. Petrus wys hier dus op ‘n spesifieke termyn wat tot ‘n einde kom wanneer dit dag geword het. Wanneer dit dag word, dus wanneer Christus terugkom na die aarde, eers dan word die profetiese woord oorbodig. Want op die nuwe hemel en aarde, sal ons almal van aangesig tot aangesig met Christus lewe. Wanneer die groot oggend aanbreek, dan gaan vir ons die groot Lig op. Eers dan kan ons die handleiding toemaak.

 

Maar tot daardie tyd, broers en susters, het ons die handleiding nog so bitter hard nodig. Ons kan nie sonder die Woord van die Here regkom nie. En gaan kyk maar hoe dit in u eie lewe gaan – hoe dikwels word ons perspektief vertroebel, hoe dikwels sien ons die dinge verkeerd, hoe dikwels verloor ons sig op waarheen ons oppad is. Nee, ons is nog te swak om self die pad te vind. Moet daarom ook nie swig voor die krete van verskillende sektariese groepe wat meen dat die Woord nie meer die belangrikste is nie; moenie gehoor gee aan diegene wat roem op ekstra openbarings nie; moenie toegee aan diegene wat meen dat dele van die Woord onbelangrik geword het nie – kyk dan maar net na wat Christus sê oor die strawwe wat bygevoeg sal word vir dié wat by die Woord iets byvoeg, kyk maar net na wat diegene ontneem sal word wat iets uit die Woord wegneem… Daar is geen heil daarin om sonder die handleiding oppad te wil gaan nie, gemeente.

 

Bly daarom by die Woord van die Here, ook in hierdie vakansietyd. Moenie dink dat jy vakansie kan hou sonder die handleiding nie. Moenie dink dat Christus tydens u vakansie minder haastig is om terug te kom nie. Hy is ook in hierdie tyd, en miskien juis in hierdie tyd, haastig oppad.

En slegs wanneer jy die handleiding lees, slegs wanneer jy met die Skrif besig bly, kan jy gelowig antwoord op die belofte van sy koms: Amen, ja kom, Here Jesus. Kom, want ek verlang na U; kom, want daar is soveel ellende; kom, want ek is so swak. Broers en susters, bly by die handleiding totdat die môrester opgaan in jou hart, bly by die handleiding op jou reis na die nuwe dag! Jy word ‘n goeie reis toegewens. Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal.

Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 108

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 75:1, 2 en 4

  • Voor die lesing van die wet, sing Ps. 32:2

Wetslesing

  • Sing Skr. 6:1, 6 en 7

Gebed

Lees:    Ef. 5:8-16

            2 Petr. 1:19-21

Sing Ps. 119:39

Teks: Openb. 22:6-21 (spesifiek vers 12-21)

Preek

Amenlied Ps. 146:6 en 8

Gebed

Kollekte

Slotsang Skr. 43:4-6

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)