Gebed is ‘n offer van die dankbare Christen

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2013-03-24
Teks: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 45
Verwysing: 
HK 45-2
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – HK, Sondag 45; lees Psalm 143

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

‘Bid is soos ‘n asemtog vir die siel’ – dit is ‘n uitdrukking wat u moontlik al gehoor het. En miskien dink u dat dit ‘n baie mooi uitdrukking is. Bid is soos asemhaling vir die siel – dit klink baie mooi, maar verlaag ons daarmee nie die waarde van gebed nie? Want wat is goedkoper as ‘n asemtog, en wat is duurder as die gebed? Was is makliker as ‘n asemtog, wat doen ons meer natuurlik – sonder enige nadenke – as om asem te haal, maar wat is moeiliker as gebed? Wat is meer gewoon as ‘n asemtog? Maar ‘n asemtog mag dalk gewoon wees, die gebed is besonder spesiaal voor die Here.

As jy gebed ‘n asemtog vir die siel wil noem, dan kan dit slegs geld vir eendag in die hemel, want daar sal alles vanself kom – net soos om asem te haal. Maar hier op aarde, in die strydende kerk, is elke gebed ‘n oorwinning oor die sonde en die menslike hoogmoed! Elke gebed is ‘n swaar stryd, ‘n bewustelike daad om aan God ‘n offer te bring. Ja, gebed is ‘n offerande. Ons kan baie poëties praat van gebed as asemhaling vir die siel, maar vir die Bybel beteken gebed om ‘n offer te bring, ‘n offer wat tot voor die troon van God gebring word (Ps. 141). En om ‘n offer te bring, kos inspanning, dit kom nie vanself nie. Gebed is een ding wat God sy bemindes nie in die slaap gee nie (Ps. 127:2). Nee, gebed kom slegs deur bewustelike oorgawe. Om te bid – dit moet ons leer, dit kom nie vanself nie! Gebed is nie asemhaling nie, maar deur Gees en Woord gedryf, moet ons aan God ons offers bring. Gebed is nie ‘n asemtog vir die siel nie, maar dit is om my sondige aard te kruisig, dood te maak en te begrawe. Eers dan leer ons bid! Dit bring ons by die tema vir die preek…

Tema: die gebed is ‘n offer van die dankbare Christen…

  1. Die noodsaaklikheid daarvan (v/a 116)
  2. Die eienskappe daarvan (v/a 117)
  3. Die inhoud daarvan (v/a 118)

 

1. ‘Gebed is ‘n asemtog vir die siel’ – natuurlik is dit ‘n uitdrukking, broers en susters, wat ons op ‘n goeie manier kan verstaan, maar die gevare daaraan verbonde is te groot om dit algemeen te gebruik. Want so maklik kan ons begin dink dat gebed ‘n soort natuurlike lewensuiting is, net soos asemhaling en baie ander natuurlike lewensuitinge. Byvoorbeeld, wanneer jy op die hond se poot trap, dan tjank hy van pyn – dit is sy natuurlike reaksie. Wanneer jy rustig in die natuur gaan sit en luister, dan hoor jy die voëltjies sing – dit is hulle natuurlike lewensuitinge. En so het alle geskape wesens ‘n natuurlike uitlaatklep vir hulle gevoelens. Ook die mens het dit. Maar so maklik word vervolgens aanvaar dat gebed die natuurlike uitlaatklep vir die religieuse siel is. Daar sou dan, so word geredeneer, in die mens ‘n soort innerlike gevoelslewe wees wat tot uiting moet kom, en dit kom tot uiting in gebed. Gebed word op dié manier ‘n verlengstuk van die mens self, ‘n natuurlike uiting van die godsdienstige mens.

Maar ons moet goed oplet, gemeente, want as ons dít sê, dan is gebed nie meer ‘n offerande, soos wat die Bybel daaroor praat en soos wat ons in Psalm 141 saam gesing het nie. Want om te offer is nie om ‘n verlengstuk van jouself tot uiting te bring nie, om te offer is nie ‘n natuurlike lewensuiting nie. Nee, om te offer is juis teennatuurlik, om te offer is om iets weg te gee – óf om iets uit jou besit weg te gee (soos wat die Israeliet ‘n skaap of ‘n duif uit sy besit as offer moes weggee), of meer nog: om iets van jousélf weg te gee. Om te offer kom nie natuurlik nie, en daarom gebed ook nie!

 

En dit is daarom nie verniet nie, dat die Kategismus in vraag 116 kan vra waarom die gebed vir die Christene nodig is, en waarom vervolgens antwoord 116 kan sê dat God dit van ons eis. Gebed is nodig, en God eis dit van ons! God maak die gebed noodsááklik, want Hy wil die gawe van sy Gees nie gee as ek nie daarvoor bíd nie! Wanneer ek egter sou beweer dat gebed ‘n natuurlike uitlaatklep vir my godsdienstige siel is, dan kan gebed ook nie meer geëis word nie, want dan behoort dit mos natuurlik te kom. En dan word ten slotte álles gebed – dan bid die orrelis wanneer hy orrel speel, en dan bid die bloemiste wanneer sy besig is om blomme te rangskik, en dan bid die voëls en die honde ook. Dit is die godsdiens van die natuurlike gevoel, van die natuurlike lewensuiting.

Maar die Kategismus praat ‘n ander taal. Reeds in vraag 116 hoor ons ‘n ander taal: waarom is die gebed vir die Christene nodig? Die hond vra nie hoekom hy tjank wanneer ek op sy poot trap nie, want dit kom natuurlik. Gebed, daarenteen, kom nie natuurlik nie, dit sit nie in my nie! Ek moet saam met Jesus Christus gekruisig, gedood en begrawe word as ek ooit reg wil leer bid. En in plaas van die natuurlike uiting van ‘n natuurlike godsdienstige siel, bely ons dat ons glad nie so godsdienstig is nie. Ons is van nature eerder geneig om God te haat. En daarom is die vraag waarom gebed vir die Christene nodig is, nie so vreemd nie. Inteendeel, dit is ‘n noodsaaklike en ‘n belangrike vraag aan mense vir wie gebed teennatuurlik is. Ons moet leer hoekom ons die teennatuurlike moet doen!

 

Dus, die vraag is: waarom is gebed vir die Christene nodig? Wel, antwoord 116 gee vir ons twee redes: een rede wat betrekking het op myself (ek kan nie ‘n mens van God wees sonder gebed nie), en ‘n tweede rede wat betrekking het op God (God kan nie ‘n God van mense wees sonder my gebed nie).

Wat die eerste rede betref, sê die Kategismus in die eerste deel van antwoord 116: “omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is.” Gebed is dus die belangrikste vorm waarin ek my dankbaarheid teenoor God bewys. Maar hoekom is juis die gebed die belangrikste deel van die dankbaarheid? Hoekom nie, byvoorbeeld, my goeie werke nie? Wel, gemeente, omdat gebed God se grootste geskenk aan ons is vir die intieme omgang met Homself! Ja, God wil weer die omgang hê wat Hy met Adam en Eva in die paradys gehad het, Hy wil weer die ware gemeenskap en kommunikasie herstel – en daarvoor gee Hy gebed as geskenk. En wie ‘n geskenk kry en dit eenkant gooi sonder om dit te gebruik, getuig van groot ondankbaarheid. Maar wie gebruik maak van daardie geskenk, hy bewys sy dankbaarheid! Wie bid, is nie maar net besig met sy eie goeie werke nie, maar hy maak gebruik van God se geskenk van kommunikasie met Hom, van omgang met Hom – dit is dankbaarheid, broers en susters. As ek tot God bid, dan maak ek gebruik van sy Vaderskap, dan vertrou ek aan Hom toe wat ek aan geen mens durf toevertrou nie. En só kan ek weer die mens wees wat Hy vir my bedoel het om te wees.

 

Maar, gemeente, die gebed is nie net nodig vir my weg na God toe nie, maar ook vir God se weg na my toe. Want daar staan vervolgens in antwoord 116 dat “God sy genade en Heilige Gees alleen aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank.” Natuurlik beteken dit nie dat God gee oor die blote feit dat ek daarvoor bid nie; ek kan met my gebed nie iets lostorring by God nie, ek kan met my gebed nie iets uit God se hand forseer nie. Ek kan God met my gebed nie verander nie. Dit is slegs deur sy welbehae dat Hy sy hand open sodat ek van sy genadegawes mag geniet. Nooit deel ek in God se genadegawes as gevolg van my gebed nie, maar – let wel! – ook nooit sonder my gebed nie. My gebed maak niks los by God nie, en tog maak dit ook alles los, sodat die een geskenk oor die ander tuimel na my toe. Gebed is onmisbaar vir die deel-kry aan God se genade-geskenke.

Gebed is my weg na God toe, maar dit is ook die weg van God se genade na my toe. En só ontmoet God en ek mekaar – wanneer ek Hom met dankbaarheid aanroep in my intieme gebede, en wanneer Hy my antwoord met sy genade en Heilige Gees. Dáárom is gebed nodig!

Ons let in die tweede plek op die eienskappe van ons gebede.

 

2. Dawid bid in Psalm 143:1: “o HERE, hoor my gebed, luister tog na my smekinge, verhoor my in u trou, in u geregtigheid.” Hoor, luister, verhoor – dit is Dawid se smeking tot die Here. Maar wanneer hoor en verhoor die Here ons gebede? Immers, sê Dawid in vers 2, niemand wat leef is voor u aangesig regverdig nie. Hoe kan die Here verhoor in geregtigheid (vers 1) wanneer niemand regverdig is nie (vers 2)? En dit bevestig weereens vir ons, broers en susters, dat ons nie kan praat van gebed as asemhaling van die siel nie. Want in my siel vind ek sowel die nuwe mens as die ou mens. As ek asemhaal, dan haal ook die ou mens saam asem, want niks is sonder sonde nie, niemand is regverdig nie. Hoe moet dus ‘n gebed wees wat God behaag en deur Hom verhoor word?

 

Ten eerste, sê die Kategismus, moet ons alleen die enige ware God, wat Hom in sy Woord geopenbaar het, van harte aanroep vir alles waarvoor Hy ons beveel het om te bid. Ons kan dus nie God aanroep soos wat ons dínk dat Hy is nie, maar ons moet Hom aanroep soos wat Hy werklik is! Soos wat Hy Homself bekend gemaak het – die enige ware God! Gebed hang af – nie van die siel wat asemhaal nie – maar van die regte kennis van God! Daarom is gebed en die diens van die Woord op mekaar aangewese, ek moet my gebede laat vorm deur die Woord, deur dit wat ek sopas uit die Woord gelees het. Dit is presies wat Dawid doen in Psalm 143; hy sê in vers 5: “Ek dink aan die dae uit die voortyd; ek peins oor al u dade; ek dink ná oor die werke van u hande.” Dawid is dus besig met die Woord, hoewel hy natuurlik nog nie ‘n Bybel gehad het soos wat ons vandag het nie. Hy bring God se groot werke, soos wat dit opgeteken is, in herinnering. Daarin leer Hy sy God ken, daarin sien hy hoe God in die verlede opgetree het. En dít vorm die aanleiding vir sy gebed, sodat hy direk ná vers 5 kan sê: “Ek brei my hande tot U uit; my siel dors na U soos ‘n uitgedorde land.” Dawid se gebed word nie gevorm vanuit sy godsdienste siel nie, maar vanuit die Woord van sy God.

En gemeente, dit is nou presies wat die Kategismus bedoel wanneer dit sê dat ons alleen die enige ware God, wat Hom in sy Woord geopenbaar het, van harte aanroep. Moenie dink dat u reg sal kan bid, wanneer u die God wat u aanroep, nie ken nie. Moenie dink dat u gebed God gaan behaag wanneer u te pas en te onpas goddelike name gebruik, maar die inhoud en betekenis daarvan nie verstaan nie. Broeders en susters, ons bid nie tot “Liewe Jesus” of tot ‘n Opperwese of tot ‘n Alwetende nie, maar baie spesifiek tot Hom wat Homself in sy Woord aan ons geopenbaar het.

En dáár lê miskien een van die grootste redes waarom ons soveel moeite het om te bid: want ons ken die Woord – en daardeur ons God – dikwels nie meer goed genoeg nie. Ons luister dikwels nie meer na die Woord nie, en daarom bid ons ook nie meer nie. Ja, dit is waar, ons mag bid, en die Here sal luister. Maar dit kan eers gebeur as ons gesê het: Spreek Here, want u kneg luister. Ons moet God eers aan die woord laat, ons moet Hom eers die kans gee om sy trou, sy liefde, sy grootheid, sy verlossing in Christus – eenvoudig: Homself – ten toon te stel. En dan, eers dan kan ons antwoord, eers dan kan ons bid! Want dan kry ons gebed inhoud, dan word dit baie spesifiek gerig tot die God van die Skrifte, dan bid ons bewustelik vir alles waarvoor Hy ons beveel het om te bid. Gemeente, ken daarom u God, en dan mag u bid: “Here, hoor!”

 

Vervolgens sê die Kategismus: “Ten tweede moet ons ons nood en ellende reg en grondig ken, sodat ons ons voor sy majesteit kan verootmoedig.” Dit gaan natuurlik altyd hand aan hand: kennis van God en kennis van myself. En Dawid ken homself: “Gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie” (vers 2). Dawid besef dat hy nie werd is om voor God te nader nie, dat daar niks in sy godsdienstige siel is wat verhoring regverdig nie. En tog bid hy!

Gemeente, hierdie ootmoed behoort eie te wees aan elke christelike gebed: “Ons moet ons nood en ellende reg en grondig ken sodat ons ons voor sy majesteit kan verootmoedig.” En dan gaan dit nie oor die nood en ellende om ons heen nie, want dan het hierdie gemeente min ootmoed nodig – ons ken immers nie werklik nood en ellende nie, ons het dit oor die algemeen baie goed. Dit gaan ook nie oor die nood en ellende van die wêreld nie – hoewel ons van hierdie nood en ellende daagliks in die koerante lees, is dit nog redelik maklik om op ‘n afstand daarvan te bly staan. Nee gemeente, ons grootste nood en ellende lê nie buite ons nie, maar binne-in ons! Dit is dáárdie nood en ellende wat die kloof tussen God en ons veroorsaak het, dit is dáárdie nood en ellende wat ons wurg sodat ons nie kan bid nie. Dit is die nood en ellende van ons sonde! Die sonde waardeur die omgang met God versteur word en die verbond vertrap word. Maar in ware berou en skuldbelydenis mag ons nogtans voor die Here kom. Ootmoed bring vergifnis, dit maak die verstopte kommunikasiekanale tussen God en ons weer oop. Ken daarom uself, en bid: “Here, vergeef!”

 

En ten derde – só sê die Kategismus in antwoord 117 – het ons hierdie vaste grond dat Hy ons gebed, hoewel ons dit nie verdien nie, tog ter wille van die Here Christus sekerlik wil verhoor, soos Hy dit vir ons in sy Woord beloof het.” Dawid se smeking in vers 7 van Psalm 143 (“Verhoor my tog gou, HERE…”) is daarom geen onseker smeking nie, Dawid wonder nie of die Here hom sal verhoor nie. Nee, hy vertrou op sy God (vers 8), Hy weet dat die Here sal hoor! Dit is die vrymoedigheid waarmee ons kan bid, broers en susters: daar is nie iets in onsself wat ons hierdie vrymoedigheid gee nie, maar God se trou in Christus Jesus. In Christus blyk dat God betroubaar is in wat Hy sê, in Christus kom al God se beloftes tot vervulling. Ons mag daarom weet dat God sy woord hou; Christus is die bevestiging van al God se beloftes. In Hom is sy beloftes vas en seker.

En gemeente, daarom kan ons bid, daarom kan ons met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan en ons hart voor die Here uitstort. En hoeveel leef daar nie in ons harte nie. U ken die hartseer, die skuldgevoelens, die moeites, die sorge wat in u eie hart leef. Gemeente, gaan daarom na die Here, stort u hart voor Hom uit, beroep u op sy beloftes. Sê vir Hom: “Here, U het dit belowe, ek het so nodig dat U dit waar maak in my lewe. Ek het so nodig dat U vir my ‘n Trooster is, soos wat U belowe het, want ek het soveel hartseer; ek het nodig dat u vir my ‘n vergewende God is soos wat u Woord sê dat U is, want hierdie verborge sondes vreet my op van binne; ek het nodig om al my sorge en moeites by U te kan laat soos wat u Woord sê dat ons dit kan doen, want ek kan dit nie self dra nie.” Dít is die stewige grond waarop ons staan wanneer ons bid – die beloftes van die Here! En uiteindelik is hierdie beloftes niks anders nie as Jesus Christus – Hy gee vaste gebedsgrond onder my voete. En daarom bid ek altyd in sy Naam!

 

Gemeente, dit is die eienskappe van die gebed: kennis van God, kennis van myself, en kennis van my Verlosser. En daardie kennis kom nie natuurlik nie, ons word nie daarmee gebore nie – daarin groei ons deur met die Skrif om te gaan, en dit word aan ons gegee deur die werking van die Heilige Gees. Vra die Here om dit aan jou te gee, sodat jy gebedsoffers kan bring wat voor God welgevallig is.

Ons let ten slotte kortliks op die inhoud van ons gebede.

 

3. Want wat is dan die inhoud van ons gebede? Wel, die inhoud van ons gebede is ons nood – dit wat ons nodig het, dit waarin ons behoeftig is: “Wat het God ons beveel om van Hom te bid? Alle geestelike en liggaamlike behoeftes…” Maar wat het ek dan nodig? Waarin is ek behoeftig? Hoe weet ek wat ek nodig het? Wat mag ek van God vra? Ek dink miskien dat ek nog baie jare se lewe nodig het om in die bediening te kan staan, maar as die Here besluit dat Hy my met iemand anders wil vervang, dan het ek nie baie jare nodig nie. Jy dink miskien dat jy ‘n verhoging in salaris nodig het, maar wie weet, dalk wil God jou op hierdie salaris onderhou. Iemand anders dink miskien dat hy genesing van siekte nodig het, maar dalk wil God hom juis deur hierdie siekte afhanklik maak.

Hoe weet ons presies wat ons nodig het? Net die Skrif kan ons dit leer, gemeente! Christus moet vir ons bekend maak wat ons nood is. Weereens blyk hierin duidelik dat gebed nie die asemhaling van die siel is nie. Dit kom nie natuurlik nie! Nee, Christus moes my kom leer waarvoor om te bid – alle geestelike en liggaamlike behoeftes sê antwoord 118. Geestelik en liggaamlik – in my gebed mag dus my hele mens-wees aan die orde kom, want God wil nie net met my gees omgaan nie, Hy wil met my as méns omgaan! My volle mens-wees, maar dan ook nét dit wat volgens die wil van God is. En daarom, wanneer ons gebid het en alle geestelike en liggaamlike behoeftes voor God se troon gebring het, dan spreek ons altyd Jesus Christus ná wanneer Hy sê: laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!

 

Om alles te kroon, gemeente, het Christus ook nog vir ons ‘n formulier kom gee waarvolgens ons kan bid, ‘n vorm-gebed (die Onse Vader). Ja, die Onse Vader is die volmaakte gebed. Daarin leer ons die volle inhoud van ons gebede. Maar, let wel, ons kan die Onse Vader natuurlik nie vanaf ‘n afstand bewonder as die volmaakte gebed nie. Ons kan nie afstandelik daaroor praat as die gebed wat Christus ons geleer het nie. Die Onse Vader is geen besonder argiefstuk nie. Nee, ek moet dit nou ook werklik sélf gaan bid en my eie maak! Christus sê vir ons: so en so moet julle bid: “Onse Vader wat in die hemel is…” Maar nou moet ek ook werklik met my hele hart en siel op dié manier gaan bid. God wil nie met ‘n formulier omgang hê nie, Hy wil met my omgang hê. Ons gebede mag nooit formuliere word nie.

Maar wie op hierdie manier, met hart en siel, die Here se eie woorde in sy mond neem, mag glo en vertrou dat God hom ook die regte woorde sal gee. Ek mag weet dat God sélf die inhoud van my gebede verskaf. Ook in my eie, unieke situasie – met my probleme, met my vrae, my vreugdes en worstelinge. Pragtig, nie waar nie? Ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar ons kry gebedshulp van die Heilige Gees sodat ons gebede die regte inhoud kry. Ons gebede kom nie vanself nie, dit is geen asemhaling vir die siel nie, maar deur die Gees kry ons wel suurstof vir gebede wat God behaag.

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • Voorpsalm Ps. 81:1, 9, 11 en 12

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Skr. 14

Lees: Psalm 143

  • Sing in voorbereiding op gebed Ps. 141:2

Gebed

  • Sing ná gebed: Ps. 143:1, 5, 6 en 9

Teks: HK, Sondag 45

Preek

Amenlied Ps. 123:1

Gebed (Onse Vader)

Belydenis van geloof (staande en singende)

Kollekte

Slotsang Ps. 27:3, 4 en 6

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)