Geloof is nooit ‘n lui gedagte nie!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2010-10-09
Teks: 
NGB 24
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – NGB, artikel 24; lees Titus 2:11-3:11

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

In artikel 22 het ons bely dat geloof soos ‘n leë hand is waarmee ons Jesus Christus en sy geregtigheid aangryp en dit onsself toeëien. Vir ons regverdiging is ons dus voor God soos bedelaars wat niks het om te bied nie, maar wat net met leë hande kan ontvang. Maar nou, in artikel 24, bely ons dat geloof tegelykertyd ook ‘n werksame hand is wat goeie werke doen. Aan die een kant is geloof die leë hand waarmee ons niks kan verdien nie, maar aan die ander kant is geloof ook die werkende hand wat deur die Here uit genade beloon word.

En die rede vir hierdie laaste, gemeente, die rede hoekom geloof ook die werksame hand is, is omdat geloof nooit ‘n lui gedagte is nie. Dit is hoe Luther dit verwoord het – ‘n pragtige uitspraak, nie waar nie? Geloof is nooit ‘n lui gedagte nie! Geloof, wat Jesus Christus en sy verdienste met ‘n leë bedelaarshand aangryp, bly nooit maar net op die oppervlakte van my lewe dryf, soos wat ‘n gans bo-op die water dryf nie. Nee, geloof deurtrek my hele mens-wees. Geloof is eerder soos water wat deur vuur warm gemaak word – die water bly water, maar dit is nou nie meer koud nie; nee, dit het warm geword. Net so bly ook die gelowige mens ‘n egte mens, maar deur die geloof is hy tog ‘n ander mens, ‘n nuwe mens! En daarna wil ons vanmiddag saam kyk. Die tema vir die preek is:  

Tema: Geloof is nooit ‘n lui gedagte nie!

1.      Die geloof maak my nuut

2.      Daardeur kom ek in beweging

3.      Sonder om daarmee iets te verdien

 

1. Gemeente, Guido de Bres praat reg aan die begin van artikel 24 van ‘n wedergeboorte – een van daardie moeilike begrippe in die woordeskat van die geloof. En dit is interessant hoe hy daaroor praat. Dikwels beteken wedergeboorte vir ons daardie eerste lewendmaking deur die Gees van God, met die gevolg dat ons begin glo. Dus, in ons gedagte is dit dikwels: eers wedergeboorte, dan geloof. Dit is ongeveer hoe die Dordtse Leerreëls in hfst. 3/4, par. 12 ook daaroor praat; ons lees daar: “Dit is ‘n volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike, verborge en onbeskryflike daad van God… Die gevolg is dat almal in wie se harte God op hierdie wonderlike wyse werk, sekerlik, onfeilbaar en kragdadig weergebore word en daadwerklik glo.” Wedergeboorte is in hierdie geval die wortel, die oorsprong, waaruit geloof voortkom. Heeltemal reg! Dit is inderdaad hoe die Skrif meestal oor die wedergeboorte praat.

Maar artikel 24 praat op ‘n ander manier oor die wedergeboorte. In artikel 24 lei die wedergeboorte nie tot geloof nie, maar is dit eerder andersom: die geloof lei in hierdie geval tot wedergeboorte. Hier is geloof die wortel vir die wedergeboorte. Dit is ‘n ander manier van praat oor die wedergeboorte as waaraan ons gewoond is. Geen krisis nie, maar dan moet iemand wel vir ons verduidelik wat in hierdie konteks met ‘wedergeboorte’ bedoel word. En dit is presies wat artikel 24 vervolgens doen. Luister maar: “die geloof laat die mens weergebore word”, en dan word as verduideliking toegevoeg: en maak hom tot ‘n nuwe mens, laat hom ‘n nuwe lewe lei.” Dus, die betekenis van ‘wedergeboorte’ in hierdie konteks is: ‘vernuwing’. Geloof bring so ‘n ingrypende verandering in my lewe, dat artikel 24 kan sê dat ek ‘n nuwe mens word en ‘n nuwe lewe begin lei. Geloof maak my nuut!

 

En dit impliseer natuurlik dat ek voorheen oud was; die nuwe staan hier teenoor die oue. En daarom roep Paulus die Efesiërs in hoofstuk 4:22-24 ook op “dat [h]ulle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê… en dat hulle vernuwe moet word in die gees van hulle gemoed en hulle met die nuwe mens moet beklee…” Oud staan teenoor nuut; die vorige lewenswandel was oud, die huidige lewenswandel is nuut! Ook in Titus 3:3 beskryf Paulus vir ons hierdie ‘vorige lewenswandel’; hy sê: “ons was ook vroeër (let op: vroeër!) onverstandig, ongehoorsaam, op ‘n dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in boosheid en afguns gelewe.” Ja, vroeër het ons ook so gelewe, in ons vorige lewenswandel, in die tyd toe ons nog oud was. Verouderd.

Maar dis nou verby! Want, sê Paulus vervolgens in Titus 3:4, toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het … het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees. ‘n Nuwe periode het dus aangebreek in die lewens van die gelowiges daar op die eiland Kreta (onthou: dit is waarheen Paulus hierdie brief gestuur het – kyk maar na Tit. 1:5). God het in sy goedertierenheid en liefde aan hierdie mense verskyn, God het in Jesus Christus aan hulle verskyn. So het Hy die Redder geword van elkeen wat in Hom glo. En op elkeen wat in Jesus Christus glo, het Hy vervolgens ryklik die Heilige Gees uitgestort tot wedergeboorte en vernuwing (verse 5b en 6). Sien u, broers en susters, hier vind ons dieselfde volgorde as wat ons in artikel 24 gelees het: op die geloof in Jesus Christus, volg daar ‘n wedergeboorte. En wat behels daardie wedergeboorte? Dit behels ‘n vernuwing – dit is die woord wat Paulus in Titus 3:5 direk ná ‘wedergeboorte’ plaas. ‘n Vernuwing van die lewe en die lewenswandel. Weg van die oue, weg van die vroeëre lewenswandel.

 

Die geloof in die reddende werk van Jesus Christus uit genade alleen – dit laat my weergebore word, in dié betekenis dat dit van my ‘n nuwe mens maak! En onthou nou, broers en susters: hierdie vernuwing is nie maar net ‘n moontlikheid nie, dit is nie maar net ‘n opsie nie. Dit is nie so dat die vernuwing by sommige ware gelowiges gebeur en by ander nie. Nee, dit is wat sekerlik gebeur in die lewens van elkeen wat waarlik glo. ‘n Ware gelowige word per definisie ‘n nuwe mens – dit is nie ‘n vraag nie, dit is ‘n onwrikbare sekerheid. Onwrikbaar vanweë die werk van Jesus Christus en sy Gees! Jesus Christus het ook my vernuwing met sy bloed verdien! Hoe op aarde is dit dan moontlik dat ‘n goeie boom nie goeie vrugte kan dra nie? Hoe is dit moontlik dat die mens wat deur ‘n ware geloof in Christus gewortel is, nie gesonde vrugte sal voortbring nie? ‘n Goeie boom kan mos nie slegte vrugte dra nie – so iets bestaan nie! So ook is dit totaal onmoontlik dat ‘n ware gelowige in sy lewe nie vernuwe word nie. Vernuwing is deel van die geloof, en ek hoop jy kan daarvan getuig…

Maar onthou een ding: dit gebeur nie alles op een slag nie. Die vernuwing (ons kan dit ook noem: die heiliging van ons lewens) is nie met een klap van die vinger afgehandel nie. Nêrens leer die Skrif ons ‘n vorm van perfeksionisme waar ek in hierdie lewe alreeds volmaak is nie. Nee, die Kategismus praat in antwoord 115 van die vernuwing as iets wat ‘meer en meer’ moet gebeur; daar staan: ons bid om die genade van die Heilige Gees sodat ons altyd meer en meer na die ewebeeld van God vernuwe mag word. Vernuwing is dus ‘n proses – nie ‘n proses van een, lang, oplopende kurwe nie. Nee, dit is ‘n proses van val en opstaan – waarskynlik ken jy dit óók vanuit die praktyk van jou eie lewe. Maar, sê v/a 114, ook al het die allerheiligstes nog maar ‘n geringe begin van hierdie vernuwing, nogtans begin hulle in alle erns om nie slegs volgens sommige nie, maar volgens al die gebooie van God te lewe. Die nuwe mens is ‘n heerlike Godsprojek-in-wording! Maar ook al is die nuwe mens, ook al is die gelowige ‘n mens-in-wording, ook al gaan dit met val en opstaan, ook al is dit dikwels drie treë vooruit en twee treë terug, nogtans is daar vernuwing, behoort daar vernuwing te wees. Deur die geloof! Daaroor behoort daar geen twyfel onder ons te wees nie.

Maar ons moet hierdie gedagte nog verder uitwerk: die geloof maak my nuut (dit was ons eerste gedagte), en daardeur kom ek in beweging (dit is ons tweede gedagte)…

 

2. Gemeente, net gou iets oor die struktuur van ons Skrifgedeelte – Titus 2:11-3:11. Ons het in die eerste punt veral op hoofstuk 3:3-7 gelet, en daar beskryf Paulus vir ons die redding en die vernuwing van die gelowiges. Maar nou is dit belangrik om te besef: hierdie verse is nie die kern van Paulus se betoog nie. Nee, waaroor dit in die eerste plek in hoofstuk 2:11 tot 3:11 gaan, is Paulus se oproep tot ‘n christelike lewenstyl. Ja, verse 3-7 is sy begronding / sy motivering vir daardie oproep: ‘n christelike lewenstyl is moontlik, wánt julle is wedergebore, julle is vernuwe! Maar waaroor dit eintlik vir Paulus gaan, is sy oproep tot ‘n konkrete, christelike lewenstyl aan die gelowiges daar op die eiland Kreta. Of meer spesifiek nog: dit gaan hier oor Paulus se oproep tot goeie werke. Kyk maar hoe dikwels die oproep tot goeie werke in hierdie gedeelte herhaal word – hoofstuk 2:14: “ywerig in goeie werke”, hoofstuk 3:1: “bereid tot elke goeie werk”, hoofstuk 3:8: “sodat die wat in God glo, sorg kan dra om goeie werke voor te staan”, en dan ook nog in hoofstuk 3:14: “ons mense moet ook leer om vir die noodsaaklike behoeftes goeie werke voor te staan…”

 

Hierdie laaste twee aanhalings (hoofstuk 3:8 en 14) kan eintlik nog beter vertaal word as wat dit in ons vertaling gedoen is: daar staan in die Grieks nie net dat christene goeie werke moet ‘voorstaan’ nie, maar dit staan selfs nog sterker, naamlik dat hulle ‘vooraan moet staan’ in die doen van goeie werke. Christene moet dus voor in die ry wees wanneer dit kom by die doen van goeie werke. Maar… is dit nie bietjie voorbarig nie? Ons hou mos nie van mense wat altyd voor in die ry staan nie. Maar in hierdie geval is dit ‘n goddelike opdrag, gemeente: Christene móét voor in die ry staan om goeie werke te doen!

Want dit is mos húlle wat deur die geloof wedergebore is, vernuwe is! Dit is húlle wat deur die geloof die ou mens afgelê en hulleself met die nuwe mens beklee het. Wie anders moet ons aan die voorpunt van die goeie-werke-ry verwag as die christen? Hoe is dit moontlik dat die ongelowige óns voorgaan in goeie werke? Hoe is dit moontlik dat my ongelowige buurman, moreel-gesproke, ‘n beter lewe lei as ek? En hoe is dit moontlik dat die nuwe mens – die gelowige, ek – aan die einde van die goeie-werke-ry staan? Hoe is dit moontlik? Dit is nie moontlik nie! “Daarom, só sê artikel 24, is daar geen sprake van dat hierdie geloof die mens vir ‘n vroom en heilige lewe onverskillig sou maak nie… dit is onmoontlik dat hierdie heilige geloof niks in die mens tot stand sou bring nie; ons praat mos nie van ‘n dooie geloof nie, maar van wat die Skrif noem ‘n geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan, wat die mens beweeg om hom voortdurend te oefen in die werke wat God in sy Woord beveel het.”

 

Dus, broers en susters, deur die geloof word ek weergebore / vernuwe, en daardeur kom ek in beweging om goeie werke te doen! Dit kan nie anders nie! Die Roomse kerk het die gereformeerdes daarvan beskuldig dat die leer van die verlossing deur geloof alleen mense laks en onverskillig maak. Mense wat uit geloof alleen die verlossing ontvang, verloor – volgens hulle – alle belangstelling om nog vroom en heilig te lewe: “Ons is mos reeds verlos! Hoekom sou ons nog goeie werke doen?” Maar dit is nie waar nie! Mense wat sola fide – deur die geloof alleen! – lewe, staan juis aan die voorpunt van alle goeie werke, sowel binne die kerk as buite die kerk.

Dit is juis hulle wat leer om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, en ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe (2:12). Dit is juis hulle wat onderdanig en gehoorsaam is aan owerhede en magte (3:1). Dit is juis hulle wat ophou om ander te belaster, wat hulle strydlustigheid verloor, wat vriendelik is en aan alle mense sagmoedigheid begin bewys (3:2). Dit is juis hulle wat leer om te doen wat goed en nuttig is vir ander mense (3:8). Hier vind ons op ‘n aantal baie konkrete punte wat die daaglikse vernuwing van ons lewe inhou: dit hou in dat ons nie meer die aanloklikhede van hierdie wêreld najaag nie, maar dat ons ‘n vroom lewe sal lei volgens die wil van God; dit hou in dat ons die regering van Suid-Afrika gehoorsaam, en dat ons verder ook gehoorsaamheid bewys aan ons ouers, onderwysers en die baas by die werk; dit hou in dat ons ons tong in toom sal hou en nie ander swart sal smeer of sal beskinder nie; dit hou in dat ons nie altyd aanvallend sal wees om met mense te stry nie, maar dat ons vriendelik sal wees teenoor almal en alle mense met sagtheid sal hanteer.

 

Broers en susters, dit is juis die mense wat vernuwe is, wat nou ook op ‘n nuwe manier begin lewe! Die vernuwing maak gelowiges nie passief nie, maar dit bring hulle eerder in beweging tot goeie werke. Laat dit ook óns in beweging bring. En as dit goed is, het jy jouself by die nagmaal juis ook op hierdie punt ondersoek: is ek van voorneme is om van nou met my hele lewe uit ware dankbaarheid God te dien en opreg voor Hom te wandel. Nie op ‘n angstige en paniekerige manier omdat ons dink dat ons iets tot ons verlossing moet bydra nie. Maar op ‘n rustige en ontspanne manier, uit ware dankbaarheid. Doen uit dankbaarheid eenvoudig wat jou hand vind om te doen. Gelowiges kan nie stil sit nie. By gelowiges is dit nie ‘n kwessie van: nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer nie. Gelowiges slaap nie maar verder in hulle sondes nie. Nee, gelowiges word deur die geloof in beweging gebring om die nuwe lewe te leef! Sigbaar en tasbaar!

Dus, die geloof maak my nuut (1ste punt), daardeur kom ek in beweging (2de punt), en dan ons laaste gedagte: sonder om daarmee iets te verdien.

 

3. Die Nederlandse Geloofsbelydenis se waardering van die goeie werke in artikel 24, beweeg op ‘n interessante manier van die een uiterste na die ander uiterste. Eers word daar gesê dat die goeie werke goed en vir God welgevallig is. Máár tog, so word vervolg, geld hierdie werke nie vir ons regverdiging nie. Tóg, so beweeg die NGB weer na die ander uiterste, wil ons nie ontken dat God die goeie werke beloon nie. Máár, ten slotte, maak ons die goeie werke glad nie die grond van ons saligheid nie. Tot vier keer toe word daar beurtelings meer en minder waarderend oor die goeie werke gepraat. En dit is verstaanbaar, broers en susters. Dit is nie omdat die Guido de Bres elke keer anders oor die goeie werke dink nie. Dit is nie omdat hy op twee gedagtes hink en nie tot ‘n besluit kan kom nie, maar dit is omdat hy ons geloofsbootjie op die regte koers wil hou.

Die van u wat al by “The Heads” (die koppe) in Knysna was, sal weet hoe gevaarlik dit is om vanaf die oop see, deur die rotskoppe, tot in die veilige Knysna-meer te vaar. Hoeveel skepe het nie al deur die eeue daar ‘n seegraf gevind nie? As jy daar wil invaar, moet jy baie versigtig tussen die twee rotswande deurvaar, wat weerskante van die smal opening staan. Jy moet altwee rotse goed dophou, en mooi tussen hulle deurvaar. Nou, Guido de Bres wil ook hê dat ons geloofsbootjie veilig tussen die rotse, wat gevaarlik aan weerskante lok, moet deurvaar. Aan die een kant is daar die rots van die verdienstelikheid van ons goeie werke, aan die ander kant is daar die rots van ‘n lui en goedkoop geloofslewe. So maklik loop ons geloofslewe skipbreuk op een van hierdie rotse: daar is diegene wat meen dat die geloof geen werke nodig het nie, want “ek glo mos?!” – hulle loop skipbreuk op die rots van die goedkoop geloofslewe; geloof sonder werke loop uiteindelik dood op daardie rots. Maar aan die ander kant is daar ook diegene wat meen dat die werke onmisbaar is vir my saligheid, dit is diegene wat onbewustelik tog iets wil bydra – hulle loop weer skipbreuk op die ander rots, die rots van die verdienstelikheid van ons goeie werke. Dit is hulle wat, volgens artikel 24, altyd in twyfel verkeer, heen en weer geslinger sonder enige sekerheid. Nou, tussen hierdie twee rotse moet ek met my geloofsbootjie deurvaar. Die roete na die veiligheid bely dat goeie werke inderdaad die onmisbare vrugte van die nuwe mens is, maar dat dit nooit die fondament onder ons heil mag wees nie.  

 

En, gemeente, ons moet altyd altwee vashou. Ons moet dieselfde beweging maak as Guido de Bres. Ja, ons moet mekaar oproep tot goeie werke, dit is reg dat ons dit by mekaar wil sien. En nogtans moet ons mekaar die hele tyd herinner aan Paulus se woorde in Titus 3:5: “nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered…” Leer om met twee woorde te praat: ja én nee. Ja, goeie werke is onmisbaar; nee, dit lewer geen bydrae tot my saligheid nie. En slegs op hierdie roete sal ons die gevaarlike rotse vermy, en veilig die eindpunt bereik. Daar sal God ons goeie werke beloon. Ja, wonderlik nie waar nie? Ons doen nie goeie werke om iets daarmee te verdien nie. En die goeie werke wát ons doen, is nie eens ons s’n nie – dis Christus se werke in ons. En nogtans wil God dit beloon! Daarom, my geliefde broeders en susters, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie (1 Kor. 15:58).

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Ps. 34:1, 2, 5 en 6

 

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 149:1 en 2 (op alternatiewe melodie in die boekie)

  • Kort nagmaalsformulier
  • Terwyl tafel gereed gemaak word, sing Geloofsbelydenis
  • Voltooi formulier aan tafel
  • Sing Ps. 149:3 en 4 (weer alternatiewe melodie)

Lees:    Titus 2:11-3:11

Teks: NGB, art. 24

Preek

Amenlied Ps. 50:1, 7 en 11

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 99:2, 4 en 5

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)