Geloof – nie begrip nie! – word vereis wanneer God Homself aan ons openbaar!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2011-05-01
Teks: 
NGB 08
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – NGB artikel 8; lees

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

In die laaste maand of wat het ons onsself in artikel 2-7 besig gehou met die onderwerp van die Bybel, die Woord van die Here. Daarmee – en so het ek verlede week se preek afgesluit – het Guido de Bres ‘n stewige fondament gelê waarop hy die res van die leer van die kerk kan uitwerk. En tog begin die NGB nie met hierdie fondament van die leer van die Skrif nie; nee, die NGB begin met God: “Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar ‘n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem” – miskien onthou u nog hierdie eerste woorde van artikel 1. En nou, nadat Guido de Bres die leer van die Skrif in die daaropvolgende artikels bespreek het, tel hy in artikel 8 die draad van daardie eerste artikel weer op. Weer leer hy vir ons iets oor God. En in die lig van die Skrif, waaroor dit sopas gegaan het (art. 2-7), kan hy nou selfs nog helderder oor God praat as in artikel 1. Artikel 8 begin dan ook: “Ons glo volgens hierdie waarheid en hierdie Woord van God (dit verwys terug na artikel 2-7) in ‘n enige God, een enige Wese (hoor u die taal van artikel 1?), in wie drie Persone is, naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees.” A ha, dit is die nuwe wat artikel 8 nou in die lig van die Skrif na vore bring. Die God van artikel 1 – so leer die Woord van die Here ons (artikel 2-7) – is die Drie-enige God (artikel 8).

 

En dit is waaroor dit sal gaan in die preek vanoggend. Nou, wanneer ‘n predikant sy preek voorberei, dan soek hy altyd na die toepassing van ‘n Skrifgedeelte of ‘n onderwerp vir die gemeente – wat kan die gemeente, wat kan individuele lidmate, nou hiermee gaan doen? Maar met ‘n onderwerp soos vanoggend s’n is dit moeilik – daar is nie ‘n spesifieke toepassing nie. ‘n Mens kan nie regtig iets hieruit haal, sodat jy môre ‘n beter man vir jou vrou kan wees, of ‘n beter ma vir jou kinders, of ‘n beter boer of ‘n beter werker by die kantoor nie. En dit is goed om hierdie praktiese toepassing te kry, sodat jy kan weet hoe om die regte dinge te doen. Maar dikwels is dit nie die hoofprobleem in ons christelike lewe nie, want die meeste van ons weet wat ons behoort te doen. Ons hoofprobleem is dikwels die gebrek aan eer en lof aan die Here, ons gebrek aan opregte vreugde in die Here, ons gebrek om werklik met die Here te lewe, die doodsheid wat saamkom wanneer jy die regte ding doen, maar sonder God. En daarom is die beste toepassing soms om eenvoudig van aangesig tot aangesig te kom met die heerlikheid van die Here, sodat Hy ons van binne-uit kan verander, eerder as om te hoor wat ons wel en nie mag doen nie. En dit is wat ons vandag wil doen…

Tema: Geloof – nie begrip nie! – word vereis wanneer God Homself aan ons openbaar!

  1. Hy is een Wese
  2. Hy is drie Persone

 

1. Gemeente, daar is net een God: “ons glo in ‘n enige God, een enige Wese…”. O ja, daar is baie afgode, baie tuisgemaakte gode. En ja, die tydsgees wil ons laat gló dat daar baie gode is. Godsdiensgelykheid, daardie heilige koei wat in ons grondwet verskans is, skep die indruk asof al die gode-versinsels van mense op gelyke vlak staan met die God van die bybel. En dit is elke burger se reg om sy eie god te kies, en wee die een wat daardie reg van ander wil ontneem. En baie subtiel werk hierdie gedagtegoed deur in ons eie denke, in ons omgang met ander godsdienste. Onbewustelik groei daar by ons die gedagte dat ons ander moet respekteer in hulle godsdiens-keuse: hy kies om daardie god te dien, ons kies om hierdie God te dien. Sy keuse is ‘n ander keuse, maar nogtans gelykwaardig met my keuse… So begin ons dink, sonder dat ons goed daaroor nadink.

En dan sê die Here: nee, daar bestaan net een God! Nie twee nie, nie drie nie, nie baie nie; net een! En dit is hierdie uniekheid, hierdie enigheid van God wat die kern vorm van sy aanklag teen Israel in Jesaja 43 en 44. Die Here gaan ‘n hofsaak aan met sy volk, ‘n emosionele hofsaak. ‘n Hofsaak waarin God ywer vir die hart van sy volk. En as bewysstuk A dien God in hoofstuk 44:9-20 ‘n dokument by die hof in wat die bestaan van die selfgemaakte gode diskrediteer, in twyfel trek. In hierdie dokument volg God die stappe wat nodig is om ‘n afgod te produseer. Bewysstuk A beweeg vanaf die eerste stap – om ‘n stuk hout in die helfte te kap, een helfte vir vuurmaakhout, die ander helfte om ‘n god uit te kerf – tot die finale stap waarin die kunstenaar voor die beeld neerval en bid: “Red my, want u is my god!” (vers 17) En teenoor hierdie verdoemende getuienis openbaar die Here dan Homself: “Ek is die Eerste en die Laaste, en buiten My is daar geen God nie” (44:6). En ook in vers 8: “Júlle is my getuies! Is daar ‘n God buiten My? Ja, daar is geen rotssteen nie; Ek ken geeneen nie.”

 

Dít is eenvoudig die feite wat die Here in hierdie hofsaak teenoor mekaar plaas: hoe belaglik is dit om ‘n stuk hout te vat waarvan jy die een helfte vir jou braaivleis gebruik en van die ander helfte vir jou ‘n god maak waarvan jou lewe afhang. En dan sê die Here: “Ek is die God wat nie deur mense gemaak word nie, Ek is nie die ander helfte van jou braaivleishout nie; nee, Ek het self alles geskape: Ek het jou geformeer… Meer nog: Ek delg jou oortredinge uit soos ‘n newel en jou sondes soos ‘n wolk” (verse 21-22). Met die gevolg dat God sy volk kan oproep: “Keer terug na My, want Ek het jou verlos.” En by hierdie openbaring van die enigste ware God breek die hofsaal in vers 23 uit in ‘n lofsang: “Jubel, o hemele, want die HERE het dit gedoen. Juig, dieptes van die aarde! Breek uit in gejubel, o berge, bosse en al die bome daarin! Want die HERE het Jakob verlos, en Hy sal Homself verheerlik aan Israel.”

Gemeente, om te bely dat God die enigste God is, is nie maar net ‘n stukkie teorie nie, dit is nie maar net iets waaroor godsdiensleiers met mekaar kan diskussieer nie. Nee, God is bereid om daaroor hof toe te gaan, want dit het te make met die wese van ons bestaan. Dit het te make met ons skepping: “So sê die HERE, jou Maker en jou Formeerder van die moederskoot af…” (vers 2). Dit het te make met ons voortbestaan: “Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond…” (vers 3). Dit het te make met ons verlossing: “Ek, Ek is dit wat jou oortredinge uitdelg om My ontwil, en aan jou sondes dink Ek nie” (43:25). Daar is net een God; Jahwe is die enigste God.

 

Maar, gemeente, wanneer ons sê dat God een is, dan bedoel ons natuurlik meer as net dat daar slegs een God is. Hierdie belydenis is nie maar net ‘n belydenis wat enige vorm van afgodery verwerplik maak nie. Wanneer ons sê dat God een is, dan sê ons nie net dat die afgode daarbuite glad nie bestaan nie, maar dan sê ons ook iets oor God self. Oor sy wese, oor wie Hy in Homself is: “Hoor Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE” (Deut. 6:4). Ons God, die Drie-enige God, is nie drie gode nie. Hy is nie ‘n spannetjie, bestaande uit drie spelers nie. Hy is nie soos ‘n pizza wat ons in drie dele kan opsny nie – ‘n derde deel die Vader, ‘n derde deel die Seun, en ‘n derde deel die Heilige Gees nie. Nee, God kan nie in stukke verdeel word nie. Die Vader is 100% God, die Seun is 100% God, die Heilige Gees is 100% God, en nogtans is daar nie drie gode nie, maar een God (dink maar aan die Geloofsbel. van Athanasius, waarna ons verlede week geluister het). Daar is geen deel van God wat nie tegelykertyd al drie Persone is nie. God is Vader, Seun en Heilige Gees, alles en elke oomblik tegelyk. Hulle déél nie dieselfde Godheid nie, hulle ís dieselfde Godheid. Hulle déél nie dieselfde Goddelike natuur nie, hulle ís dieselfde Goddelike natuur. Een God!

Vandag verloor ons dikwels hierdie verwondering oor die enigheid van God. Op een of ander manier is dit vir ons makliker om te dink aan die drie, en om in die drieheid te glo. Dit is waarskynlik meer tasbaar en grypbaar vir ons: Vader, Seun en Heilige Gees. Maar tot ons eie nadeel vergeet ons soms van die eenheid, die enigheid van God. Lees maar wat sê Guido de Bres hieroor in die laaste reëls van artikel 8: “Die Vader was nooit sonder sy Seun of sy Heilige Gees nie, want al drie is van gelyke ewigheid in een en dieselfde Wese. Daar is nie ‘n eerste of ‘n laaste nie, want al drie is een in waarheid, mag, goedheid en barmhartigheid.” En hierdie spreek Guido de Bres die Skrif na. Jesus sê immers in Johannes 10:30: “Ek en die Vader is een.” En in Johannes 17:21 leer Hy: “… dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U.” En in Filippense 2:6 sê Paulus dat die Seun aan God gelyk is, dus van dieselfde wese is. Die volheid van die Godheid woon tegelyk in die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Hulle het dieselfde heiligheid, dieselfde krag, dieselfde liefde, dieselfde waarheid, dieselfde genade. Daar is nie drie heilige, kragtige, liefdevolle, genadige wesens nie; nee, daar is net een heilige, kragtige, liefdevolle, genadige wese. Daardie een wese is Jahwe. Jy kan Hom nie verdeel, of in stukke sny nie. Alles in die skepping kan verdeel word, maar nie God nie. Vader, Seun en Heilige Gees is een!

 

Broers en susters, dit is goed dat God die enigste en die enige God is. As dít tot ons harte deurdring, dan weet ons dat óns God die enigste God is, en dan beteken dit dat ons God alle mag het, en dat Hy alle beheer het, en dat in Hom alle genade en liefde en vertroosting is. Daar is nie ‘n ander god daarbuite wat iets daarvan besit nie; God hoef al hierdie volmaakte eienskappe nie met ander gode te deel nie. En luister dan in daardie lig na wat Jesaja sê in hoofstuk 43:1-3 en plaas jou geloof in hierdie belofte: “Maar nou, so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere – hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur die vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie. Want Ek is die HERE, jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland.” En die Here sê ook in hoofstuk 44:8: “Wees nie verskrik nie, en moenie bewe nie! … Is daar ‘n God buiten My? Ja, daar is geen rotssteen nie; Ek ken geeneen nie.”

Gemeente, dit is baie praktiese troos vir die week wat voorlê. Onthou hierdie verse. Wat ook al oor jou pad kom, watter spanning jy ook al ken, deur watter water of vuur jy ook al moet gaan, deur watter doodsvallei jy ook al moet gaan, God sê: Moenie vrees nie, jy is myne. Ek sal met jou wees, want Ek is die enigste rots, daar is geen ander nie. Ek is die enigste God, daar bestaan geen ander gode buiten My nie. En weet jy wat: jy is myne! Vind rus in hierdie heerlike belofte, broer en susters, wat ook al jou beproewings mag wees. Laat die eenheid en die enigheid van God jou troos verskaf van dag tot dag. Daar is voorwaar net een God, en in Hom het ek alles wat ek nodig het.

In die tweede plek let ons op die drie Persone.

 

2. As ons nou na die drie Persone kyk, moenie vergeet wat ons sopas oor die eenheid van God gesê het nie – een God, in drie Persone. Kom ons kyk weer na artikel 8: “ons glo … in ‘n enige God, een enige Wese (dit is waarna ons tot dusver gekyk het), in wie drie Persone is, naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees, wat in werklikheid en in waarheid en van ewigheid af onderskeie is volgens die eienskappe wat hulle nie met mekaar deel nie.” In die eenheid van die Godheid is daar dus drie onderskeie Persone. Nie drie dele van God nie, want aldrie is eweveel God, maar drie Persone. Wat is ‘n Persoon? Wel, ‘n persoon is ‘n lewende, intelligente (oftewel: denkende) en onafhanklike wese. In daardie opsig is die Vader en die Seun en die Heilige Gees onderskeie Persone. Die Vader is lewend, die Seun is lewend, die Heilige Gees is lewend. Die Vader is intelligent, die Seun is intelligent, die Heilige Gees is intelligent. Die Vader is onafhanklik, die Seun is onafhanklik, die Heilige Gees is onafhanklik. Elkeen is ‘n lewende, intelligente en onafhanklike Persoon.

Dus, die Drie-eenheid is nie een God met drie verskillende name, elke dag ‘n ander naam, nie. Hy is ook nie een God met drie verskillende maskers nie – die een dag dra Hy die Vader-masker, die volgende dag die Seun-masker en daarna die Gees-masker. Nee, een God in drie Persone. Die Vader is nie die Seun nie, en die Seun nie die Vader nie. Die Heilige Gees is ook nie die Vader en die Seun nie. Die drie Persone in die Drie-eeheid is nie vermeng met mekaar nie; inteendeel:  hierdie drie Persone praat met mekaar. Die Vader praat met die Seun, en die Seun praat met die Vader, en beide praat hulle met die Gees. Hierdie drie Persone het ‘n verhouding van liefde met mekaar. ‘n Ewige, harmonieuse verhouding waarin hulle gemeenskap beoefen as Vader, Seun en Heilige Gees.

 

Dit is baie beter as die god van die Moslems, Allah – die Moslems maak aanspraak op een god in een persoon, wat van ewigheid af niemand gehad het om mee gemeenskap te beoefen nie, niemand waarmee hy kon praat nie, niemand waarin hy homself kon verbly nie, ‘n baie eensame god…Maar die ware God was nooit alleen nie, want die drie Persone in die Drie-eenheid het ewige liefde en vreugde in mekaar. En daarom: die liefde wat ons vandag mag geniet, is die oorloop en refleksie van daardie liefde binne die Drie-eenheid; God laat ons deel in die liefde wat die Vader en die Seun en die Gees onder mekaar geniet. En jou doel in die lewe is om daardie liefde te reflekteer, daardie liefde te geniet, daardie liefde uit te leef. Dit is die wonder om ‘n Drie-enige God te dien – dit gee die basis vir ware liefde in die harte van sondige mense. Drie Persone, en tog een Wese. Ongelooflik!

 

Kom ons kyk nou in meer besonderhede na die drie afsonderlike Persone – Vader, Seun en Heilige Gees. En as ons na hulle afsonderlik kyk, onthou dan: dit is jou God! Artikel 8 beskryf die onderskeid soos volg: “Die Vader is die oorsaak, oorsprong en begin van alle sigbare en onsigbare dinge. Die Seun is die Woord, die Wysheid en die Beeld van die Vader. Die Heilige Gees is die ewige Krag en Mag wat van die Vader en die Seun uitgaan.”

Eerstens die Vader: Hy is die oorsaak, oorsprong en begin van alle sigbare en onsigbare dinge. Ons kan dus sê dat die Vader die Een is wat die leiding neem. Hy doen dit binne die Drie-eenheid, waar van die Vader gesê word dat Hy die Seun gegenereer het (ons sal weer daarby uitkom wanneer ons artikel 10 behandel), maar Hy doen dit ook in alle geskape lewe. Hy neem die leiding in die skepping. Kyk maar na Jesaja 43:1: “Maar nou, so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel…” Die Vader was die Een met die plan en die ontwerp die dag toe Hy jou gemaak het. Die Vader neem ook die leiding in die uitverkiesing. Kyk na Jesaja 44:1: “Maar luister nou, my kneg Jakob, en Israel wat Ek uitverkies het.” Die Vader was die Een wat die inisiatief geneem het in die opstel van die boek van die lewe. Die Vader neem ook die leiding in die verlossing; ons sien dit in Jesaja 43:5 en verder: “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; Ek sal jou geslag van die ooste af aanbring en jou versamel van die weste af. Ek sal sê aan die noorde: Gee! En aan die suide: Hou nie terug nie! Bring my seuns van ver, en my dogters van die einde van die aarde af, elkeen wat na my Naam genoem is en wat Ek geskape het tot my eer, wat Ek geformeer het, wat Ek ook gemaak het.” Wat ‘n pragtige gedeelte, oor God die Vader wat ons roep vanaf die vier hoeke van die aarde om sy seuns en dogters te wees; oor God die Vader wat ‘n pragtige bruid vir sy Seun, Jesus Christus, voorberei. Jy word deur Hom gekies, gekies om deur Hom bemin te word, gekies om ewige heerlikheid te geniet. Dit is God die Vader, die Een wat die leiding neem, die Man met die plan!

 

Die tweede Persoon in die Drie-eenheid is die Seun. Die Seun is die Woord – in die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God (Joh. 1). Wat beteken dit dat die Seun die Woord van God is? Dit beteken dat alles wat die Vader doen, dit doen Hy deur sy Seun. Toe God in Genesis 1 die hemel en die aarde geskape het, het Hy dit al sprekende gedoen: “En God het gesê: laat daar lig wees, en dit was so.” Nou, daardie Woord wat die Vader gespreek het, is die Seun van God. As ons praat, is dit maar net klankgolwe wat heen weer bons, maar wanneer God spreek, dan is sy Woord ‘n Persoon, die Seun van God. Dit is ‘n geheimenis wat ons verstand te bowe gaan.

Die Seun word verder die Beeld van God genoem. Luister na Kolossense 1:15: “Hy is die Beeld van die onsienlike God…” – dit beteken dat alles wat die Vader is, dit is die Seun ook. Hebreërs 1:3 praat van die Seun as die afskynsel van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese. As God die Vader heerlikheid is, dan is die Seun die skynsel van daardie heerlikheid. As God die Vader die son in die lug is, dan is die Seun die helderheid en die uitstraling van die son, wat nie van die son geskei kan word nie.

En dit het soveel betekenis vir ons, want hierdie Seun van God het nie in die hemel gebly nie; nee, Hy het mens geword. Die Woord het vlees geword (Joh. 1:14)! Gód het vlees geword en onder ons kom woon! Meer nog: Hy het ook gesterf aan die kruis; as mens het Hy gesterf. Daar sien jy die liefde van God in al sy heerlikheid, soos wat dit ook in Jesaja 43:1 beskryf word: “Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos”. Dit is die werk van die Seun.

 

En dan die Gees – Hy is die ewige Krag en Mag wat van die Vader en die Seun uitgaan. Van ewigheid af gaan die Gees van die Vader en die Seun uit, net soos wat asem uit ons liggame uitgaan. Die Vader en die Seun asem die Gees – natuurlik nie fisies nie, maar dit is die beeld wat in die Bybel gebruik word. In Psalm 33:6 lees ons: “Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër.” In Johannes 20:22 word gesê dat Jesus op sy dissipels geblaas het, en gesê het: ontvang die Heilige Gees. En op die Pinksterdag is daar ‘n sterk wind wanneer die Gees neerdaal – dit is die asem van God. Wanneer ons asemhaal is dit maar net lug, maar wanneer God asemhaal, dan is dit ‘n Persoon, die Gees. En daardie Gees word die Krag en Mag genoem. Om maar weer die beeld van die son te gebruik: as God die Vader die son in die lug is, en die Seun die heerlikheid en uitstraling daarvan, dan is die Gees die krag van die warmte en die lig van die son. Hy gee effektiwiteit en uitwerking aan die werk van die Vader en die Seun. Kyk maar na Jesaja 44:3: “Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond; Ek sal my Gees op jou kroos giet en my seën op jou nakomelinge. En hulle sal uitspruit tussen die gras in, soos wilgerbome by waterlope.” Dit is wat die Gees doen – Hy laat ons groei en vrug dra in ons liefde vir die Here. Hy kom pas die verlossingswerk van Christus in ons lewens toe en sorg dat dit effek het. Daarvoor het Hy as ware God alle Mag en Krag!

 

Dit is hoe die Drie-eenheid werk: die Vader kies ons in sy liefde, die Seun verlos ons, en die Heilige Gees pas dit toe in ons daaglikse lewe. Dit is nie net hoe die Drie-eenheid werk nie, dit is Wie Hy is! Ons kon in Jesaja 43 en 44 lees op watter wonderlike wyse hierdie God Homself in al drie Persone aan ons gee. Kom ons gee onsself nou ook aan Hom. En roep dan saam met Jesaja 44:5: “Ek behoort aan die HERE.” Ek behoort aan die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees. Ek verstaan dit nie heeltemal nie – nee, natuurlik nie, anders was jy God. Maar Ek glo in Hom! Want só het Hy Homself aan my geopenbaar!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 33:2-5

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 93:1 en 4

Wetslesing + samevatting uit Mt. 22:34-40

Sing Ps. 18:1, 11 en 12

Gebed

Lees:    Jesaja 43:1-3, 22-28

            Jesaja 44:1-23

Teks: NGB, art. 8

Skr. 27:1 en 4

Preek

Sing voor gebed: Ps. 43:3 en 4

Gebed

Kollekte

Slotsang Skr. 35

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)