Bekering bly vir elkeen dringend nodig

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2010-08-22
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 33
Preek Inhoud: 

Johannesburg
Lees: Jer 31:1-4;16-20; Mt 3:1-10; Hand 26:12-20
Sing: Ps 84:1,6; Ps 86:3,6; Ps 51:5,6; SB 14; SB 24:6,7.

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

"Bekeer jou", is 'n oproep wat ons herhaaldelik in die Bybel hoor. Vir wie geld dit? Is dit veral vir mense wat sonder geloof grootgeword het? Of is die oproep tot bekering ewe dringend vir mense wat binne die verbond van God grootgeword het?

Christus se apostels het die evangelie vir twee groepe mense verkondig: Vir die Jode wat naby was, maar wat in die verkeerde rigting gekyk het, en vir ongelowige heidene wat ver weg was. Deur God mog hulle leer om in die enige regte rigting te kyk. Paulus herinner die Christene daaraan hoe hulle hul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien (1 Thess. 1:9).

Dalk dink jy: Ek hoor by die eerste groep, want ek het in die verbond en in die kerk grootgeword. My ouers was gelowiges en ek volg hul voetspore na. Ek behoort dus by die volk wat naby is. Maar daarmee is nog nie alles gesê nie. Die Ou verbondsvolk was ook naby. Tog was 'n bekering, 'n omkering na God toe dikwels nodig. Om naby te wees, is uiteindelik nie genoeg nie. Jesus sê in Mt 8:12: "Maar die kinders van die koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis." As hulle wat naby was (kinders van die koninkryk) buitegesluit kan word, wat dan van ons? Ja, dit is verskriklik, maar dit kan deur koppige ongeloof gebeur.

Daarom verkondig ek vir julle: Bekering bly vir elkeen dringend nodig. Ons let op drieërlei:
1. Dis 'n opdrag
2. Dis 'n gawe
3. Dis 'n belewing

Vir sy eie dissipels, wat Hy uitgekies het, sê die Here Jesus: "Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander (of julle bekeer) en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie" (Mt 18:3). Die eenvoud van die geloof, soos kindertjies dit van God ontvang het, is en bly beslissend. Want eiewysheid of eiesinnigheid kan ons maklik in die pad staan, ook al lyk dit asof ons so naby is.

"Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom". Dis vir julle bekende woorde. Hierdie oproep kom telkens na ons toe vanuit die evangelie. Dis eers Joh die Doper wat so roep. Hy moet die volk van God wakker skud sodat hulle gereed is om die Messias te verwelkom. Later neem Jesus daardie oproep van sy voorloper oor: "Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom".

Maar as die koninkryk reeds naby is, dan is tog alles in orde, dan gaan die groot fees tog vir jou begin? Nie noodwendig nie. God se koninklike heerskappy is nie outomaties 'n seën vir elkeen wat by God se verbondsvolk behoort nie. Om Jesus te ontmoet is nog nie dieselfde as om in Hom te glo nie. Daartussen sit 'n groot stap. Jou ontmoeting van Jesus moet deur bekering gevolg word. 'n Bekering waartoe eers Joh en later Jesus self oproep. Deur bekering leer jy besef wie Jesus is en leer jy om te luister na wat Hy sê.

Gemeente, vir watter mense sê Jesus dit? Dit is geen heidene wat tot bekering moet kom nie. Dit is geen mense by wie 'n konkrete ernstige sonde aangewys word nie. Dis stuk vir stuk burgers van die volk Israel. Mense dus wat altyd reeds naby die Here, die Verbondsgod mog lewe. Hierdie mense moet hulle bekeer.

Trouens, die profete het dit reeds eeue lank uitgeroep hoor. Die mense moes terugkeer na God toe. Nou beteken dit: keer jou om en glo in Jesus Christus, die Verlosser. Keer so terug tot die Here, jou God. Want die eerste liefde vir God het getaan.

'n Mens kan verstaan dat hierdie oproep tot die Jode van Jesus se dae uitgegaan het. Hulle het die Here Jesus nog nie geken nie. Hulle moet nog die Here Jesus as hul Verlosser leer ken en aanvaar. Maar ons situasie vandag is tog anders? Ons het met die evangelie van Jesus Christus grootgeword. Ons staan tog nie neutraal teenoor die Here Jesus nie? Moet ons dan nog steeds die oproep tot bekering hoor?

Broer, suster, wanneer jy in die Christelike kerk grootgeword het, staan jy inderdaad nie blanko teenoor die Here nie. Jy het immers allerlei kennis oor Hom opgedoen. By die huis, in die kerk, op die bybelstudie-vereniging en katkisasie. Jy weet baie oor Christus. Kennis wat jy in jou kop dra, en as dit goed is, ook in jou hart. Tog is jy daarmee nog nie vry van verkeerde dinge nie. Dinge wat twyfel in jou hart saai, dinge wat jou aandag van die Here aflei, alles wat verkeerd is en tog 'n voedingsbodem in jou hart vind. Daar is die natuurlike neiging om die kwade in jou op te neem en oor te neem. Sodat jy tog weer in die verkeerde rigting kyk en leef. Daarom bly die oproep "bekeer jou" ook vir jou wat in die kerk grootgeword het, hoognodig. Jy mag dalk naby wees. Jy kom van minder ver weg as die persoon wat in 'n heidense omgewing groot geword het. Maar die Heilige Gees moet ook jou trek, jou bly trek, sodat jy nie ver wegdryf nie. Hy moet die suigkrag van die bose by jou neutraliseer, jou voortdurend daarvan bevry.

Gemeente, dis opvallend dat die Bybel die bekering nooit as iets passief voorstel nie. Passief, asof jy net moet wag totdat dit jou oorkom. Nee, bekering word geteken as ons verantwoordelikheid en daad. Jy moet jou bekeer. Ek moet my bekeer. Daarmee word die menslike kant van die geestelike verandering benadruk. Die goddelike kant daarvan word aangedui met die woord wedergeboorte. Die bekering is 'n vrywillige daad waardeur ek my van die sonde tot God keer. Hierdie twee aspekte word in die Dordtse Leerreëls hoofstuk 3&4 art 12 duidelik by mekaar gebring wanneer daar aan die slot van daardie art bely word: "Dan word die wil, wat nou (deur die wedergeboorte) vernuwe is, nie alleen deur God gedryf en beweeg nie, maar omdat dit deur God beweeg word, werk dit ook self. Daarom word tereg gesê dat die mens, deur die genade wat hy ontvang het, glo en hom bekeer." Dis dus die mens wat glo en hom bekeer. Bekeer jou, is 'n oproep wat tot ons mense kom en waarop jy as mens moet reageer. Bekering bly die mens se verantwoordelikheid.

Wat verder in die Bybel opval, is dat die uitdrukking "bekeerde mense" nie voorkom nie, asof jou bekering op 'n sekere oomblik klaar, voltooi sou wees: jy is bekeerd. Om te bekeer is om jou om te keer, terug te keer. Terug na God toe. So dikwels as dit nodig is. Hier is geen ruimte vir gearriveerdheid nie. Bekering gebeur nie eensklaps nie. Dis 'n lewenslange groei proses. Dink aan die uitdrukking van die Kat: die sonde hoe langer hoe meer haat en daarvan wegvlug.

Die Bybelse woord "bekering" sluit ook die gedagte van skuld in. Jesus se oproep "Bekeer julle" kan ook vertaal word met "boete doen". Boete doen, dit is berou wys, jou sondes erken en betreur. Want eers het jy jou van die Here afgekeer, van sy weë afgebuig. Wanneer jy jou bekeer, keer jy jou af van die afgode en tot die Here. Daarby hoort berou: trane van spyt oor die verdriet wat jy God aangedoen het.

Om jou te bekeer is dus 'n bevel: jy moet dit doen. Tog kan ons dit nie werklik self doen nie. Bekering is ook 'n gawe. Dis die tweede gedagte.

Die Bybel benadruk voortdurend die onmag van die mens. Ons moet ons bekeer, maar ons kan dit eintlik nie. Luister maar na 'n teks wat ons uit Jer 31 gelees het. Vers 18b: "Bekeer my, dan sal ek my bekeer, want U is die Here my God." God moet my eers tot Hom keer, my hart weer op Hom rig. Dan, eers dan kan ek my tot Hom bekeer. Hierdie woorde lyk vreemd, selfs teenstrydig. As jy jou tog werklik wil bekeer, waarom doen jy dit dan nie? Is dit nie slap om te sê: Here, U moet dit vir my maar reël nie?

Let op die agtergrond van hierdie smeekbede. Israel het die verpletterende hand van God in die ballingskap gevoel. Die Israeliete het die skade van hul dwaalweg aan die lywe ondervind. Hulle staan nou voor hul eie bankrotskap, magteloosheid. Vanuit die onmag bid hulle tot die Here. Dit is 'n erkenning van onmag. Dit gaan in die smeekbede voorop: Here, gee asseblief die krag tot bekering. Dis nie vreemd of teenstrydig nie. Want God moet ons inderdaad die genade en krag gee om ons te kan bekeer.

Broer, suster, seun, dogter, jou bekering staan nie op sy eie nie, kan nooit op sy eie staan nie. Dit staan altyd in die konteks van God se verlossingswerk, ja, dit is gegrond op daardie verlossingswerk en is selfs deel van die verlossingswerk. Jou bekering vind sy oorsprong by God. Hy neem daartoe die inisiatief. Hy roep jou deur sy Woord en Gees. Hy gee vir jou sy beloftes, sy bevele, maar ook sy waarskuwings. Sy woorde is lewenskragtig. Die woorde het die krag om jou in beweging te sit, om jou te motiveer en om jou in staat te stel om positief daarop te reageer. God trek jou met sy liefde na Hom toe. Hy oortuig jou van jou sondes en van sy goeie wil. Hy verlig jou duister verstand. Hy maak jou geslote hart oop en versag jou harde hart. Hy maak jou wil wat dood was, lewend; wat sleg was, goed; wat onwillig was, gewillig en wat ongehoorsaam was, gehoorsaam. So kan jy deur God se genade en Gees daadwerklik gaan glo en jou bekeer (vgl DL III/IV, art. 11,12).

Kyk hoe God in Jer 31 sy volk trek, roep en lok. Hulle het Hom verskriklik beledig. Hulle het alles verbeur. Hul ballingskap was verdiende straf. Maar die Here gee genade en laat hulle terugkeer uit ballingskap. Soos die vader van die gelykenis van die verlore seun, staan die Here op die uitkyk, ja, trek Hy sy verlore kinders terug na die Vaderhuis. Luister maar na verse 3 en 4: "Die Here het aan my verskyn uit die verte: Ja, Ek het jou liefgehad met 'n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid. Ek sal jou weer bou, en jy sal gebou word, o jonkvrou van Israel! Jy sal jou weer versier met jou tamboeryne en uittrek in die koordans van die spelers." Deur sy liefde verander God hul ellende en verdriet in vreugde.

Die Here bring hulle tot berou en bekering. In vers 18 lees ons dat die Here Efraim sy volk hoor weeklaag. God hoor die boetelied van sy kerk. Hulle besef hul sondes. Vers 19 verwoord dit so: "Want nadat ek tot inkeer gekom het, het ek berou gehad; en nadat ek tot insig gekom het, het ek op die heup geslaan; ek het beskaamd gestaan, ja ook in die skande gekom, omdat ek die smaad van my jeug dra." En dan sê die Here in vers 20: Israel, luister, jy is tog vir My 'n dierbare seun, my troetelkind. "Want so dikwels as Ek teen hom spreek, dink Ek nog altyd aan hom; daarom is my ingewande oor hom in beroering; Ek sal my sekerlik oor hom ontferm, spreek die Here."

God self lê die woorde op die lippe van sy volk. Hulle erken nou God se straf as regverdig en hulle bely hul sondes. Voorheen het hulle hul soos wilde kalwers gedra. Maar hulle het hulle deur die tugtiging van die Here laat tem. Hulle harde hart is gebreek. Hulle het op hul knieë gegaan.

En nou besef hulle watter radikale ommekeer in hul lewe nodig is. Hulle besef ook hul eie swakheid en onmag. Daarom smeek hulle: Here, bekeer my, dan sal ek my bekeer. Hulle besef dat hulle God se hulp nodig het om tot bekering te kom. So is alles feitelik God se werk: die vergewing, maar ook die bekering; die verlossing en die heiligmaking. Die reformasie van die kerk en die vernuwing van jou persoonlike lewe: dis alles 'n gawe van God.

Brs en srs, julle ken almal wel die verhaal van Paulus se bekering. Ook al was hy 'n kind van God se ou verbondsvolk, het hy hom met krag teen Jesus verset. Hy het die Christene vervolg. Totdat die Here hom op die knieë gedwing het. Dit was nou 'n kragdadige bekering. Die meeste van ons sal dit nie so beleef nie en hoef dit nie te beleef nie. Hierdie geskiedenis onderstreep egter wel die waarheid die woorde uit Jeremia: bekeer my, dan sal ek my bekeer. Dis duidelik dat goddelike krag daarvoor nodig was. Bekering is 'n gawe van God.

Hierdie geskiedenis van Paulus laat egter ook duidelik sien dat bekering ook 'n opdrag is. Paulus laat vir ons weet dat Ananias vir hom opgedra het: "En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep" (Hand 22:16). Nadat Christus in Paulus se lewe ingegryp het, moet Paulus self in aksie kom. Hy moet vrywillig die doop ondergaan en sy sondes laat afwas. Laat maar sien dat jy jou kop buig vanweë jou verlede. Hy sal die Naam van die Here wat in die doop oor hom uitgeroep word, moet vasgryp. Ananias praat met geen woord oor Paulus se spektakulêre bekering nie. Net: buig jou hoof, Saulus. Laat jou doop onder erkenning van jou skuld. Roep die Naam van die Here aan.

So kom ons by die derde gedagte: die bekering is ook 'n belewing.

Bekering raak jou hele persoon. Dit gooi jou heeltemal om. Dit kan jou nie koud en onveranderd laat nie. Juis nie. Want bekering wys juis op die verandering van jou gedagtes, houding en gedrag. Jy dink anders oor God, oor jouself, oor jou sondes en oor God se wil. Jy gaan anders optree. Jou lewe neem 'n ander rigting. Want jy kyk in 'n ander rigting. So raak jou bekering jou hele persoon, jou verstand, jou wil en jou gevoel. Jy ervaar iets.

Die Kat wys daarop dat die ware bekering o.a. die volgende behels: 'n hartlike berou daaroor dat jy God deur jou sondes vertoorn het en dat jy daarom ook hoe langer hoe meer die sonde haat en daarvan wegvlug; tewens 'n hartlike vreugde in God deur Christus en 'n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe. Dis dinge wat jy voel, wat jy beleef, wat jy begeer.

Hoe weet jy dat jou bekering diep genoeg is? Jy herken dit o.m. aan jou verdriet oor jou sondes. God soek 'n hartlike berou, dat jy werklik hartseer daaroor is. 'n Verslae gevoel oor die feit dat jy God met jou sondes verdriet gedoen het en sy naam oneer aangedoen het. Dawid laat ons in Ps 51 weet dat God 'n gebroke en verslae hart nie sal verag nie. Hierdie verdriet gaan nog verder. Want dalk het daar deur jou toedoen skade in jou lewe ontstaan. Of het jy ander mense skade aangedoen. Jy is hartseer daaroor. Wie werklik oor sy sondes treur, sal deur God vertroos word.

By bekering hoort ook dat daar haat by jou groei teen alles wat God seermaak. Soos 'n pasiënt wat 'n kwaadaardig geswel in hom haat. Hy voel die plek in sy liggaam en weet dat dit groei en skade doen. Die Here oortuig ons daarvan hoe skadelik die sonde is. So groei daar iets by jou wat daar van nature nie was nie: jy het 'n afsku van die sonde, van dit wat die lewe en die verhoudings versiek. 'n Weersin teen die sonde nie net van ander nie, maar ook van jouself. Dit raak nie net jou hart nie, maar ook jou doen en late. As jy die sonde haat wil jy ook daarvan wegvlug. Jy breek daarmee. Jy vermy ook daardie situasies, vriende of programme wat jou tot die sonde kan verlei. Jou weersin teen die sonde dring jou daartoe om alles te vermy wat jou moontlik sover kan bring om die Here te bedroef.

Daardie diepe verdriet oor en diepe afkeer van die sonde, gaan gepaard met 'n hartlike vreugde in God deur Christus. God het tog maar na jou toe bly kom met sy woorde van genade en vrede. God het ongelooflike geduld gewys om jou nie in jou sonde en ellende te los nie. Hy het jou met jou sondes gekonfronteer sonder om jou te haat. Hy het die weg van genade in Jesus Christus tog maar gegee. Jy mag Jesus Christus persoonlik leer ken, sy eiendom wees. Jy mag ervaar dat niks jou van God se liefde in Christus kan skei nie. Selfs nie jou mees verskriklike sonde nie. Jy mag weet dat daar geen veroordeling is vir die wat in Christus Jesus is nie. Sou jy nie met so 'n God van harte bly wees nie.

So groei daar ook die verlange om nou ook iets vir God te beteken. Nee, nie as 'n soort teenprestasie nie, asof jy nou iets terug moet doen. Dit sou buite die bereik van ons sondaars wees. Maar tog, 'n mens wat hom bekeer, mag iets vir God gaan beteken. Jy gaan daarna verlang om Hom te dien. Jy het Hom lief en jy wil die liefde vir Hom wys. Dis daarom jou hartlike begeerte om volgens sy wil in alle goeie werke te lewe.

Brs en srs, herken julle dit in jul lewe? Beleef julle dit ook so? Die hartlike berou, dat jy die sonde haat en daarvan wegvlug, die hartlike vreugde in God, die lus en liefde om volgens die wil van God te lewe? Ongelukkig sal die gevoelens nie altyd ewe sterk wees nie. Daardie gevoelens sal groei namate jou insig in God se werk groei. Daar sal ook tye wees waarin ander dinge jou belewing van God se liefde in die pad staan. Daarom: bekeer jou, bly jou bekeer. Dis nie 'n finished en klaar nie. Dis 'n aanhoudende proses van vernuwing. Daarom: Bly vlug na God toe en weg van die sonde weg. Bekering bly vir elkeen dringend nodig, in elke fase van jou lewe. Dis 'n opdrag, dis 'n gawe, dis ook 'n belewing.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)